Nasionale Landswapen

Die rol van ‘n Landswapen

‘n Landswapen, of Staatsembleem, is die hoogste visuele simbool van die Staat.

Die Landswapen is ook ‘n sentrale deel van die Groot Seël wat tradisioneel as die hoogste embleem van die Staat geag word. Onvoorwaardelike magtiging word aan elke dokument gegee wat die Groot Seël dra, want dit beteken dat die dokument goedgekeur is deur die President van Suid-Afrika.

Die nuwe Landswapen vervang die een wat Suid-Afrika sedert 17 September 1910 gebruik het. Die verandering weerspieël die Regering se doelwit om die demokratiese veranderinge en ‘n nuwe patriotisme in Suid-Afrika te beklemtoon.

Die ontwerp van die nuwe Landswapen

Die Landswapen bestaan uit ‘n reeks elemente wat ingedeel is in twee bepaalde sirkels wat bo-op mekaar geplaas is.

Die onderste sirkel verteenwoordig die elemente van fondasie

Die eerste element is die leuse in ‘n groen halfsirkel. Twee simmetries geplaasde olifantstande wat opwaarts wys voltooi die halfsirkel. Binne die sirkel, gevorm deur die tande, is twee simmetriese koringare wat weer ‘n sentraal geplaasde goue skild omraam.

Die vorm van die skild verwys na die drom, en bevat twee mensfigure uit Khoisan rotskuns. Die figure wys na mekaar in begroeting en eenheid.

Bo die skild is ‘n spies en knopkierie, gekruis in ‘n enkele eenheid. Hierdie elemente is in harmonie gerangskik om fokus te gee aan die skild en vervul die onderste sirkel van fondasie.

Die sirkel van opkoms

Net bo die sirkel van fondasie is die visuele middelpunt van die Landswapen, ‘n protea. Die kroonblare vorm ‘n driehoekige patroon wat herinner aan die kunsvlyt van Afrika.

Die sekretarisvoël is bo die protea geplaas en die blom vorm die bors van die voël. Die sekretarisvoël staan met uitgestrekte vlerke in ‘n koninklike en opstaande gebaar. Die duidelike kopvere van die sekretarisvoël bekroon ‘n sterk en waaksame kop. Die opkomende son bo die horison is tussen die vlerke van die sekretarisvoël geplaas en voltooi die sirkel van opkoms.

Die kombinasie van die boonste en onderste sirkels kruis om ‘n ongebroke, oneindige baan te vorm en die harmonie tussen die basiese elemente lei tot ‘n dinamiese, elegante en unieke ontwerp. Nogtans behou dit duidelik die stabiliteit, stemmigheid en dringendheid wat ‘n Landswapen vereis.

Die simbole gebruik in die nuwe Landswapen

Die sirkel van fondasie

  • Die Leuse
    Die leuse, !ke e: /xarra //ke, is geskryf in die Khoisan taal van die /Xam mense en beteken letterlik diverse mense verenig. Dit spreek elke individuele poging aan om die eenheid tussen denke en aksie in te span. Op ‘n kollektiewe skaal, vra dit die nasie om te verenig in ‘n gesamentlike gevoel van samehorigheid en nasionale trots - eenheid in verskeidenheid.
     
  • Die koringare
    Dis ‘n embleem van vrugbaarheid en simboliseer ook die idee van ontkieming, groei en die ontwikkeling van enige potensiaal. Dit hou verband met die voeding van die mense en dui dus op die landbou aspekte van die grond.
     
  • Olifantstande
    Olifante simboliseer wysheid, krag, matigheid en ewigheid.
     
  • Die skild
    Dit funksioneer as beide ‘n medium vir die weerspieëling van identiteit en van geestelike verweer. Dit bevat ook die primêre simbool van ons nasie.
     
  • Die mensfigure
    Die figure is afkomstig van beelde van die Lintonrots, ‘n wêreldberoemde voorbeeld van Suid-Afrikaanse rotskuns, en word nou gehuisves en tentoongestel in die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad. Die Khoisan, die oudste bekende inwoners van ons land, getuig van ons gesamentlike menslikheid en herkoms as Suid Afrikaners. Die figure wys na mekaar in begroeting en simboliseer eenheid. Dit verteenwoordig ook die begin van die individu se transformasie na ‘n groter gevoel van samehorigheid aan die nasie en, by verlenging, gesamentlike mensdom.
     
  • Die spies en knopkierie
    Dit is beide simbole van verdeding en gesag en verteenwoordig ook die magtige bene van die sekretarisvoël. Die spies en knopkierie is neergelê en dit simboliseer vrede.

Die sirkel van opkoms

  • Die proteaDie protea is ‘n embleem van die skoonheid van ons land en die ontblomming van ons potensiaal as ‘n nasie op soek na die Afrika Renaissance. Die protea simboliseer die holistiese integrasie van kragte wat groei vanaf die grond en versorg word van bo. Die mees gewilde kleure van Afrika word aan die protea toegewys - groen, goud, rooi en swart.
     
  • Die sekretarisvoël
    Die sekretarisvoël word voorgestel in vlug, die natuurlike gevolg van groei en spoed. Dit is die ekwivalent van die leeu op die grond. Die magtige voël se bene, wat as die spies en knopkierie voorgestel word, bevoordeel dit in sy jag vir slange en simboliseer die beskerming van die nasie teen sy vyande. Dit is ‘n boodskapper van die hemele en weerspieël grasie op aarde. In hierdie sin, is dit ‘n simbool van goddelike statigheid. Die uitgestrekte vlerke is ‘n simbool van die opkoms van ons nasie, en bied ons terselfdertyd beskerming. Dit word voorgestel in goud wat dit duidelik assosieer met die son en die hoogste mag.
     
  • Die opkomende son
    Dis ‘n embleem van helderheid, prag en die hoogste beginsel van die aard van energie. Dit simboliseer die belofte van hergeboorte, die aktiewe vermoëns van oorweging, kennis, goeie oordeel en wilskrag. Dit is die simbool van die bron van lewe, van lig en die heelheid van mensdom.

    Die volledige struktuur van die Landswapen kombineer die onderste en boonste sirkels in ‘n simbool van oneindigheid. Die pad wat die onderste deel van die band, deur die lyne van die olifantstande, verbind met die boonste horison vanwaar die son opkom, vorm die kosmiese eier waarbinne die sekretarisvoël opstaan. In die simboliese sin impliseer dit die hergeboorte van die gees van ons groot en dapper nasie.

Die ontwerpsproses

Die voormalige Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie het idees vir die nuwe Landswapen van die publiek gevra. ‘n Opdrag, gebaseer op die idees wat ontvang was, tesame met insette van die Kabinet, is opgestel. Die Government Communication and Information System het daarna Design South Africa – ‘n sambreelliggaam wat ontwerpsagentskappe landswyd verteenwoordig – genader om tien van die beste ontwerpers in te lig omtrent die opdrag. Drie ontwerpers was gekies om hulle konsepte aan die Kabinet voor te lê. Mnr Iaan Bekker se ontwerp is gekies vir die nuwe Landswapen. Hy is ‘n direkteur by die FCB Groep en het verskeie korporatiewe identiteite vir publieke en privaat-sektor organisasies ontwerp.

Die nuwe Landswapen versterk Batho Pele

Batho Pele is ‘n Sesotho frase wat ‘Mense Eerste’ beteken. Dit verbind die Staatsdiens om al die mense van Suid-Afrika te dien. Die Batho Pele waardes en beginsels ondersteun die Landswapen. Op 1 Oktober 1997, het die Staatsdiens met ‘n Batho Pele-veldtog begin wat gemik is op die verbetering van dienslewering aan die publiek. Veranderinge sal aangebring moet word om van hierdie nuwe benadering ‘n sukses te maak. Staatsdiens stelsels, prosedures, houdings en gedrag moet kliënte – die publiek – beter bedien.

Batho Pele is ‘n verbintenis aan waardes en beginsels:

  • Gereelde konsultasie
  • Bepaling van diensstandaarde
  • Verhoogde toegang tot dienste
  • Hoër vlakke van hoflikheid
  • Voorsiening van meer en beter inligting oor dienste
  • Verhoogde ontvanklikheid en deursigtigheid
  • Regstelling van foute en probleme
  • Die beste moontlike waarde vir geld.

Batho Pele elimineer duur interne sisteme wat nie ontwerp was om die behoeftes van die mense eerste te stel nie. Dit verseker ook dat die Staatsdiens se finansiële beplanning in lyn is met die publiek se behoeftes en prioriteite.

Die meerderheid van die verbeteringe wat die publiek wil sien kos niks: dinge soos ‘n glimlag, die respekvolle behandeling van kliënte, eerlikheid met die weergee van inligting en verskoning vra as dinge verkeerd loop. Hierdie dinge is nie ‘n kwessie van ekstra hulpbronne nie – dis ‘n kwessie van die aanneem van hoër standaarde.

Om dienslewering te verbeter moet alles wat ons doen in lyn gebring word met ‘klantediens’ beginsels. Die implementasie van Batho Pele  is nie ‘n eenmalige taak nie. Dis ‘n aaneenlopende, dinamiese proses wat vir baie jare sal aangaan en voortdurend momentum sal optel.

Ons moet saam werk, as die Regering en die publiek, om die beginsels van Batho Pele ‘n werklikheid te maak vir ‘n nasie aan die werk vir ‘n beter lewe.

Compiled by: Government Communication and Information System (GCIS), April 2000

 

Share this page