Toespraak deur President Cyril Ramaphosa oor onwettige migrasie en anti-buitelander protesaksies
Mede-Suid-Afrikaners,
Ek wil julle vanaand toespreek oor ʼn kwessie wat baie Suid-Afrikaners raak.
Gedurende die afgelope maande het Suid-Afrikaners van alle vlakke van die samelewing kommer uitgespreek oor migrasie en onwettige migrasie.
Hierdie kommer word gedeel in ons gemeenskappe, ons werksplekke, ons skole, ons klinieke en op sosiale media.
Baie Suid-Afrikaners vra moeilike, dog geldige vrae.
Hulle vra of ons grense veilig is.
Hulle is bekommerd oor hul werk.
Suid-Afrikaners lig hierdie kwessies uit omdat hulle bekommerd is oor die druk op openbare dienste.
Hulle is bekommerd oor veiligheid, sekuriteit en die oppergesag van die gereg.
Hierdie bekommernisse is werklik. Dit verdien om gehoor te word. Dit verdien om aangespreek te word.
Suid-Afrikaners vra of die regering die nodige stappe doen om dié uitdagings aan te pak.
Vanaand wil ek hierdie bekommernisse aanspreek.
Ek wil verduidelik wat die regering doen om dit te hanteer.
En ek wil die beginsels uiteensit wat ons moet lei terwyl ons hierdie uitdaging saam aanpak.
Ons moet eerlik wees oor die konteks waarbinne hierdie kwessies belig word.
Suid-Afrikaners ervaar aanhoudend hoë vlakke van werkloosheid, veral onder jongmense.
Te veel gesinne sukkel om kop bo water te hou.
Te veel gemeenskappe ervaar armoede en onvoldoende toegang tot geleenthede.
In sulke omstandighede kan frustrasie maklik gerig word op dié wat as mededingers vir werk en hulpbronne beskou word.
Tog moet ons besef dat onwettige immigrasie nie die oorsaak van al ons ekonomiese uitdagings is nie.
Die antwoord lê eerder in vinniger ekonomiese groei, groter beleggings, uitbreiding van die nywerheidsektor, ontwikkeling van infrastruktuur en die skep van miljoene nuwe werksgeleenthede.
Ons weet dat migrasie wêreldwyd ’n sensitiewe kwessie is en alle land raak.
Ons land – soos baie ander lande deur die geskiedenis – is die produk van migrasie.
Dit is die bron van ons diversiteit en dra by tot ons lewenskragtigheid.
As ’n demokrasie verwelkom ons besoekers na Suid-Afrika.
In ooreenstemming met ons internasionale verpligtinge en grondwetlike waardes, bied ons beskerming aan mense uit ander lande wat vlug vir oorlog, konflik, diskriminasie en geweld.
Soos enige ander land het ons wette wat bepaal wie die land mag betree, wat hulle hier mag doen en hoe lank hulle mag bly.
Die fundamentele beginsel waaroor daar breë ooreenstemming is, is dat elke persoon binne Suid-Afrika se landsgrense wettiglik hier moet wees.
Elke persoon wat in ons land werk, moet wettiglik kan werk.
Enige persoon wat ’n besigheid in Suid-Afrika bedryf, moet wettiglik gemagtig wees om dit te doen.
Die uitdaging waarmee ons gekonfronteer word, is dat sommige mense op onreëlmatige wyse ons land binnekom en sonder regstatus hier is.
Suid-Afrika het die reg om beleide en maatreëls in te stel om onwettige migrasie te voorkom.
Ons bly egter verbind tot die beskerming, bevordering en handhawing van die menseregte van alle mense binne ons grense, of hulle burgers of buitelanders is.
Ons is ook verbind tot ons internasionale verpligtinge.
Die verantwoordelikheid om immigrasiewetgewing toe te pas en te handhaaf berus uitsluitlik by die staat.
Daar was egter tekortkominge in die bestuur van migrasie.
Daar was ook swakhede in streng en gefokusde wetstoepassing.
Gevalle van korrupsie het voorgekom.
Verder is daar leemtes in ons stelsels wat openbare vertroue ondermyn het.
Suid-Afrikaners het die reg om beter as dit te verwag.
Ons aanvaar verantwoordelikheid hiervoor en tree reeds beslissend op om hierdie tekortkominge aan te spreek.
Suid-Afrikaners het die reg op ’n staat wat doeltreffend, professioneel is en in staat is om die wet konsekwent toe te pas.
Die regering sal daarom stappe doen om die verwagtinge van ons mense aan te spreek in die toepassing van ons immigrasiewetgewing en die bekamping van oortredings daarvan.
Ek moet dit duidelik stel dat slegs gemagtigde staatsamptenare die bevoegdheid het om wetstoepassingsaksies te doen, insluitend optrede teen oortredings van migrasiewetgewing.
Geen ander persoon mag byvoorbeeld iemand op straat stop en bewys van nasionaliteit eis nie.
Ons weet dat Suid-Afrikaners nie xenofobies is nie, en daar is geen plek vir xenofobie, rassisme, seksisme, afrofobie of enige ander vorm van onverdraagsaamheid in Suid-Afrika nie.
As gemeenskappe en as ’n samelewing moet ons nie toegee aan diegene wat ons probeer aanhits om ons teen mense te keer wat in ons midde woon, maar nie hier gebore is nie.
Ons sal nie toelaat dat groepe die geldige bekommernisse van Suid-Afrikaners misbruik om ons land deur wetteloosheid en geweld te destabiliseer nie.
Ons sal beslissend optree teen magte wat hierdie bekommernisse oor onwettige migrasie uitbuit vir politieke, persoonlike of kriminele gewin.
Ons sal nie mislei word of beïnvloed word deur sosialemediaveldtogte wat verkeerde inligting, fopnuus en leuens oor buitelanders versprei nie.
Ons moet ook waak teen gevalle waar anti-buitelander sentiment gepaardgaan met stam- of etniese beledigings, uitsprake of aanvalle teen ander Suid-Afrikaners.
Ons verwag van buitelanders om ons wette te gehoorsaam. Daarom moet ons almal ook die wet gehoorsaam.
Amper alle Suid-Afrikaners besef dat onwettige immigrasie ’n gewigtige uitdaging is.
Dat onwettige immigrasie, indien dit nie aangespreek word nie, ʼn risiko inhou vir Suid-Afrika se veiligheid, stabiliteit en ekonomiese vooruitgang.
Ons weet dat onwettige migrasie dienslewering beïnvloed en bykomende druk plaas op noodsaaklike dienste soos gesondheidsorg en onderwys.
Onwettige migrasieroetes oorvleuel meer en meer met georganiseerde misdaad.
Kriminele sindikate betrokke in onwettige handel, afpersing, onwettige mynbedryf, dwelms en geldwassery gebruik dikwels ongedokumenteerde migrasie vir werwing en verberging van goedere.
Amper alle Suid-Afrikaners erken dat onwettige immigrasie ’n ernstige uitdaging is.
Indien dit nie doeltreffend aangespreek word nie, hou dit risiko’s in vir Suid-Afrika se veiligheid, stabiliteit en ekonomiese groei.
Ons weet ook dat onwettige migrasie druk plaas op dienslewering en bykomende las skep op noodsaaklike dienste soos gesondheidsorg en onderwys.
Onwettige migrasieroetes oorvleuel toenemend met georganiseerde misdaad.
Kriminele sindikate wat betrokke is by handel, afpersing, onwettige mynbou, dwelmhandel en geldwassery maak dikwels gebruik van ongedokumenteerde migrasie vir werwing en die verskuiwing of verberging van goedere.
Ons weet verder dat onwettige immigrasie pogings om ordentlike werk vir ons mense te skep, ondermyn.
Daar is ondernemings wat ongedokumenteerde migrante in diens neem omdat hul status hulle weerloos maak en nie in staat stel om hul regte af te dwing nie.
Sommige werkgewers benut hierdie kwesbaarheid deur laer as minimum lone te betaal en langer werksure af te dwing sonder behoorlike vergoeding.
In verskeie gevalle is werksplekke blootgelê waar ongedokumenteerde werkers onder uiters swak omstandighede uitgebuit is.
Werkgewers wat bewustelik ongedokumenteerde werkers aanstel en hul weerloosheid uitbuit, oortree die wet.
Hulle ondermyn arbeidsstandaarde, billike mededinging en uiteindelik ook werksgeleenthede vir Suid-Afrikaners.
Sulke praktyke sal voortaan sterker wetstoepassing en strenger strawwe tot gevolg hê.
Baie gemeenskappe het hul kommer uitgespreek oor die aantal buitelanders wat spaza-winkels, kleinhandel- en ander informele besighede bedryf.
Hulle redeneer dat plaaslike inwoners in sekere gebiede uit ekonomiese deelname verdring word.
Hierdie bekommernisse kan nie geïgnoreer word nie.
Baie Suid-Afrikaners voel uitgesluit van geleenthede in hul eie gemeenskappe.
Die regering het ’n verantwoordelikheid om plaaslike ondernemings te ondersteun, regverdige mededinging te bevorder en ’n ekonomiese omgewing te skep waarin almal betekenisvol kan deelneem.
As land, gemeenskap en kontinent moet ons saamwerk – in ooreenstemming met ons Grondwet, wetgewing en internasionale verpligtinge – om onwettige immigrasie doeltreffend aan te spreek.
Dit moet egter sonder geweld, intimidasie, viktimisasie of xenofobie geskied.
Na aanleiding van aankondigings in die Staatsrede in Februarie, neem die regering verdere beslissende stappe om onwettige immigrasie aan te spreek.
Verlede week het die Kabinet ’n omvattende benadering tot migrasiebestuur aanvaar.
Hierdie benadering is ook deur die Presidensiële Koördineringsraad onderskryf, wat premiers en LUR’e, plaaslike regering en verteenwoordigers van tradisionele en Khoi-San-leierskap insluit.
Vanaand wil ek die belangrikste stappe wat ons gaan neem met u deel.
Ons doel as regering is duidelik:
’n Suid-Afrika waar elke persoon wat die land binnekom, dit wettig doen.
’n Suid-Afrika waar immigrasiewetgewing gerespekteer en konsekwent toegepas word.
’n Suid-Afrika waar besighede regverdig meeding.
’n Suid-Afrika waar gemeenskappe veilig voel en beskerm word.
En ’n Suid-Afrika wat getrou bly aan ons grondwetlike waardes en ons verbintenis tot menswaardigheid.
Ons gaan hierdie doelwit bereik deur onder meer die volgende maatreëls te implementeer:
Eerstens sal ons voortgaan om die oortreding van ons immigrasie-, arbeids- en ander wetgewing aan te spreek.
Tweedens sal ons voortgaan om mense te verhoed om op onwettige en onreëlmatige wyses ons land binne te kom.
Derdens sal ons voortgaan om korrupsie in ons immigrasiestelsel uit te roei.
Vierdens sal ons ons immigrasiewetgewing en -beleide verskerp.
En laastens sal ons voortgaan om met ander lande, insluitend ons susterslande, te skakel om ʼn breër wyse die migrasie uitdagings in ons streek en op ons kontinent aan te spreek.
Die eerste stap is gesamentlike optrede teen oortredings van bestaande immigrasie,- arbeids- en ander wetgewing
Die departement van binnelandse sake, die grensbestuursowerheid, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander wetstoepassingsagentskappe is besig om ongedokumenteerde buitelanders wat onwettig in Suid-Afrika woon, te identifiseer en te deporteer.
Gedurende die afgelope jaar alleen het die grensbestuurowerheid meer as 450 000 mense onderskep en gestuit wat probeer het om Suid-Afrika onwettig binne te kom.
Ons gaan spesiale howe instel om immigrasiesake te hanteer en die deportasie van ongedokumenteerde migrante te bespoedig.
Die SAPD, Buitelandse Sake en die departement van indiensneming en arbeid het die aantal inspeksies gemik op ondernemings wat ongedokumenteerde buitelanders in diens neem, verhoog.
As deel van die heropbou van arbeidswetstoepassingskapasiteit het die departement van indiensneming en arbeid die gefaseerde werwing van 10 000 inspekteurs vir hierdie finansiële jaar aangekondig.
Ons gaan die strawwe vir werkgewers wat immigrasiewetgewing oortree, insluitend moontlike tronkstraf, aansienlik verskerp.
Ons kan nie ’n situasie toelaat waar werkgewers, nadat hulle aangekla en skuldig bevind is aan die oortreding van die wet, bloot ’n boete betaal en dan voortgaan om buitelandse werkers onwettig aan te stel en uit te buit nie.
Om oortredings van immigrasie- en arbeidswetgewing in die vervoersektor aan te spreek, gaan ons ’n plan implementeer wat in samewerking met die logistieke en vragbedryf sowel as arbeidsorganisasies ontwikkel is.
Die tweede stap is om ons grense beter te beveilig.
Elke soewereine land het die verantwoordelikheid om te weet wie sy grondgebied betree, waarom hulle dit doen en hoe lank hulle toegelaat word om te bly.
Veilige grense is nie ’n teken van vyandigheid teenoor ander lande nie.
Elke soewereine nasie het die verantwoordelikheid om te weet wie hul grondgebied betree, hoekom hulle die grondgebied betree en hoe lank hulle toegelaat word om in die grondgebied te bly.
Veilige grense is nie ’n teken van vyandigheid teenoor ander lande nie.
Dit is ’n fundamentele vereiste vir ’n soewereine en welbeheerde staat.
Gevolglik stel ons verdere maatreëls in om ons grense te beveilig.
Ons sal dus voortgaan om te belê in moderne tegnologie, infrastruktuur en personeel om te verseker dat ons grense veilig is, terwyl wettige handel, reis en ekonomiese aktiwiteite steeds doeltreffend gefasiliteer word.
Ons gaan ’n gefaseerde hervestiging van vlugtelingontvangsentrums nader aan grensposte onderneem, met die Tshwane-sentrum wat vanjaar die eerste stap in hierdie proses sal wees.
Baie ander lande plaas ook vlugtelingontvangsentrums naby die punte waar mense die land binnekom om asiel of beskerming te soek.
Die hervestiging van hierdie sentrums nader aan ons grense het ten doel om te verseker dat asielaansoeke meer doeltreffend, veiliger en regverdiger verwerk word.
Dit sal die regering in staat stel om beskermingsbehoeftes reeds by die toegangspunt te bepaal en te verseker dat diegene wat werklik beskerming benodig, so vinnig moontlik bystand ontvang.
Ons derde stap is om die immigrasiestelsel verder te versterk deur korrupsie uit te roei en voorpunttegnologie te ontplooi.
Ons gaan voort met strenger optrede teen korrupsie en ondoeltreffendheid in die departement van binnelandse sake.
Ons moet erken dat onwettige immigrasie dikwels deur korrupsie moontlik gemaak word.
Amptenare wat dokumente verkoop, onwettige toegang fasiliteer of hul openbare amp vir persoonlike gewin misbruik, skend die vertroue van Suid-Afrika se mense.
Ons sal hierdie sake meedoënloos vervolg.
Die verantwoordelikes sal afdanking, strafregtelike vervolging en die volle gevolge van die wet in die gesig staar.
Ons gaan ʼn intelligente bevolkingsregister in plek stel wat biometriese data van elke persoon in die land bevat, wat die grondslag sal vorm vir ’n digitale ID-stelsel.
Terselfdertyd sal ons geleidelik die groen ID-boekies staak wat identiteitsdiefstal deur ongedokumenteerde immigrante en kriminele sindikate moontlik maak.
Die departement van binnelandse sake sal ’n datum vasstel waarna die groen ID-boekies nie meer geldig sal wees nie.
Ons sal die misbruik van die verkeersregistrasienommerstelsel beëindig. Hierdie stelsel, wat buitelanders nodig het om voertuie te koop of te registreer, word tans ook as ’n vorm van identifikasie gebruik.
Die departement van vervoer sal binne die volgende drie maande nuwe regulasies bekendstel om dit in lyn te bring met Suid-Afrika se identifikasiewetgewing.
Die vierde stap is om die leemtes in ons wetgewing en beleide aan te spreek.
Die wetgewing wat immigrasie in Suid-Afrika reguleer, is gefragmenteerd en dikwels teenstrydig. Dit skep wetlike skuiwergate wat deur ongedokumenteerde migrante misbruik word.
Ons spreek hierdie leemtes tans aan.
Die regering het die Nasionale Arbeidsmigrasiebeleid gefinaliseer, wat maksimum kwotas vir die indiensneming van gedokumenteerde buitelanders voorstel, asook sterker optrede teen werkgewers wat ongedokumenteerde werkers in diens neem.
Die Wetsontwerp op Indiensnemingsdienste is deur die Kabinet goedgekeur vir voorlegging aan die Parlement. Dit bemagtig die minister om kwotas vir die indiensneming van buitelanders in enige ekonomiese sektor of beroepskategorie te stel.
Die departement van kleinsakeontwikkeling, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsagentskap, sal die proses finaliseer om te verseker dat klein en informele besighede behoorlik geregistreer is. Dit sluit ook ondersteuning in vir Suid-Afrikaanse informele ondernemings deur die spaza-winkelondersteuningsfonds.
Die laaste stap is om, in oorleg met ander lande in ons streek en regoor die kontinent, die breër uitdaging van migrasie gesamentlik aan te spreek.
Ons moet die faktore wat migrasie op ons kontinent en elders dryf, aanpak.
Suid-Afrika kan nie hierdie migrasie-uitdagings alleen oplos nie.
Migrasie is ʼn kontinentale en globale verskynsel.
Suid-Afrika se toekoms is onlosmakend deel van die toekoms van die Afrika-kontinent.
Migrasiedruk kan nie deur vervolgingsmaatreëls alleen aangespreek word nie.
Dit vereis vrede waar daar konflik is, ekonomiese groei waar daar stagnasie is en geleenthede waar daar armoede is.
As Suid-Afrika sal ons voortgaan om in samewerking met ons susterslande ʼn Afrika te bou waar mense beweeg uit eie keuse en nie uit desperaatheid nie.
Deur die SAOG, die Afrika-unie en ons bilaterale verhoudings met ander lande sal ons volhoubare oplossings tot hierdie uitdaging bly nastreef.
As deel van hierdie pogings gaan ek afgevaardigdes na ’n aantal susterslande stuur om die maatreëls wat ons vanaand aankondig, uiteen te sit.
Die Kabinet sal voortgaan om aandag te gee aan hierdie saak en gereeld die vordering van die implementering van hierdie maatreëls hersien.
Die interministeriële komitee vir migrasie sal die regering se optrede regoor departemente en regeringsfere koördineer.
NATJOINTS en provinsiale NATJOINTS-strukture is aangesê om koördinering tussen wetstoepassings-, intelligensie en sekuriteitsagentkappe te versterk om doetreffende implementering te verseker.
Waar ons werk om die probleem van onwettige immigrasie aan te spreek, is ons vasberade dat ons nie sal toelaat dat enigeen hierdie probleem uitbuit om ons land te destabiliseer nie.
Ons wetstoepassingsagentkappe en sekuriteitsdienste – in samewerking met ander staatsentiteite en sleutelbelanghebbendes – is gereed om op te tree om openbare veiligheid te beskerm, wet en orde te handhaaf en kritiese infrastruktuur te beveilig.
Die onlangse wysigings aan ons immigrasiewetgewing en regulasies sal ons in staat stel om toeriste, hoogs geskoolde internasionale talent en beleggings deur wettige kanale te lok.
Ons moet ook in gedagte hou dat baie Suid-Afrikaners na ander lande reis om te studeer, te werk en waardevolle ervaring op te doen.
Baie keer keer hulle terug met nuwe vaardighede en kundigheid, ’n breër wêreldbeskouing en ’n sterker vermoë om hul eie lewens én dié van hul gemeenskappe te verbeter.
Migrasie is ’n wêreldwye werklikheid, en ons moet bereid wees om dit sinvol te bestuur en te benut.
Suid-Afrika is ’n beter land danksy migrasie, en ons kan selfs sterker en meer welvarend word.
Dit vereis egter dat ons wetgewing robuust is en doeltreffend toegepas word.
Dit beteken ook dat ons onwettige immigrasie moet aanspreek en die maatskaplike, ekonomiese en veiligheidsuitdagings wat daarmee gepaardgaan, moet hanteer.
Ons moet waak daarteen om teen buitelanders, of teen onsself, te draai.
Ons moet die Grondwet respekteer, basiese menseregte vir alle mense handhaaf en konsekwent die landswette gehoorsaam.
Ons verwerp die idee dat onwettige immigrasie bloot geduld moet word.
Ons kan terselfdertyd ons grense beveilig en menswaardigheid beskerm.
Ons kan terselfdertyd ons wette toepas en ons Grondwet handhaaf.
Ons kan terselfdertyd gemeenskappe beveilig en die waardes van Ubuntu, wat ons as ’n nasie definieer, bewaar.
Soos baie ander uitdagings wat ons reeds die hoof gebied het, kan ons ook hierdie uitdaging oorkom.
Suid-Afrika het al groter uitdagings as hierdie suksesvol aangepak.
Ons het verdeeldheid oorkom. Ons het konflik oorkom. Ons het ongeregtigheid oorkom.
Ons sal ook hierdie uitdaging oorkom.
Laat ons dit nie doen deur vrees, woede, haat of geweld nie, maar deur eenheid, vasberadenheid en respek vir die oppergesag van die reg.
Laat ons ’n Suid-Afrika bou wat veilig, wetsgehoorsaam, deernisvol en voorspoedig is.
’n Suid-Afrika waarin geleenthede uitbrei, menswaardigheid beskerm word en die belofte van demokrasie vir almal vervul word.
Ek dank u.

