Staatsrede deur President Cyril Ramaphosa

Donderdag 12 Februarie 2026, Kaapstad Stadsaal

Speaker van die Nasionale Vergadering, me. Thoko Didiza;
Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP), me. Refilwe Mtshweni-Tsipane; 
Voormalige President van Suid-Afrika, mnr. Kgalema Motlanthe;
Voormalige voorsitter van die NRVP, mnr. Amos Masondo; 
Voormalige voorsitter van die NRVP, dr. Naledi Pandor; 
Burgemeester van Kaapstad, raadsheer Geordin Hill-Lewis,
Voorsitter van die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoisan-leiers, Kgosi Thabo Seatlholo; Isithwalandwe Seaparankoe, me. Sophie de Bruyn;
President van Contralesa, Kgoshi Mathupa Mokoena;
Lede van die Parlement;
Premiers van ons provinsies; 
Mede-Suid-Afrikaners.

Sewentig jaar gelede het duisende vroue van all rasse na die Uniegebou in Pretoria opgemars – hul harte het soos een geklop met ʼn gedeelde doel.

Gewapen met buitengewone geslepenheid en vasberadenheid het hierdie vroue polisie-kontrolepunte en teistering trotseer.

Hulle het helder en duidelik gesê:

“Ons sal nie rus voor ons vir ons kinders hul fundamentele regte van vryheid, geregtigheid en veiligheid verseker het nie.”

Ons herroep die magtige beeld van Lilian Ngoyi, Helen Joseph, Sophie de Bruyn en Rahima Moosa wat armsvol petisies dra om aan die drumpel van ʼn eerste minister wie nie durf om hulle van aangesig tot aangesig te ontmoet nie te lê.

Elke petisie wat hulle oorhandig het, het die gesag van geregtigheid gehad; elkeen van die 100 000 handtekeninge wat hulle verkry het, het die smagting vir vryheid en gelykheid gehad. 

Vir 30 minute het die vroue net op die trappe van die amfiteater gestaan, in stilte – geen sang, geen woorde.

Die kragtige beeld van hierdie vroue wat in stilte staan, was ʼn toonbeeld van hul vasberadenheid en verbintenis tot verandering. 

Hul stilte was ʼn spieëlbeeld van die diepe emosionele pyn en frustrasie as gevolg van die sistemiese onderdrukking van apartheid. 

Hul stilte het die seer en woede van hul stryd vir geregtigheid en gelykheid weerspieël.

Hul stilte het lank genoeg geduur om die apartheidsamptenare wat hul dopgehou het, te ontstig.

In daardie stil oomblik het hullevir die wêreld gewys dat dit nie woedekrete is wat berge versit nie, maar die stilte van vasberadenheid. 

Na afloop van die stilte het die sing van ʼn nou-ewigbekende dreunsang - gesetel in ons geskiedenis as ʼn simbool van die kragtige rol van vroue in die stryd teen apartheid met mening begin:

“Wathint’ abafazi, wathint’ imbokodo. You strike a woman; you strike a rock”.

Daar word vertel dat die vroue se dreunsang teen die terrasse van die Uniegebou afgerol het en die setel van staatsmag omskep het in ʼn toneel van protes, waar dapperheid teen oppergesag te staan gekom het.

Vanaand is ons bevoorreg om in die teenwoordigheid te wees van me. Sophie de Bruyn, een van die leiers van daardie mars en ʼn staatmaker van ons stryd vir vryheid. 

Sy en baie ander vroue wat enorme opofferings gemaak het in ons stryd vir vryheid,  herinner ons daaraan dat vroue nog altyd aan die spits van verandering was; gereed om op te staan, hulle stemme te laat hoor en nooit terug te deins in die stryd vir geregtigheid nie. 

Om die herdenking van die vroueopstand te vier, vra ek u om op te staan met staande applous aan die vroue wat in 1956 na die Uniegebou opgemars het en ook 

aan al die vroue van ons land wat aanhou streef na die fundamentele regte van vryheid, geregtigheid en veiligheid. 

Die jong mense van Soweto het 50 jaar gelede, in dieselfde gees van teenstand, uit hul skoolbanke opgestaan en na die Orlando-stadion opgemars om die oplegging van Afrikaans as gedwonge leermedium en die gehate stelsel van Bantoe-onderrig teë te staan.

Hul dapperheid om teen ʼn wrede, onderdrukkende regime op te staan het wêreldwyd weerklink en opnuut die aandag op die struggle gevestig. 

Die vasberadenheid en opofferings van die 1976-jeug en van die geslagte jongmense wat sou volg, inspireer ons steeds.

Dertig jaar gelede in 1996, het die Grondwetlike Vergadering die woorde waarop ons demokrastiese nasie geskoei is aanvaar. 

Ons Grondwet weerspieël die gees van die vroue wat na die Uniegebou opgemars het, die jongmense van 1976 en talle ander Suid-Afrikaners in ons samelewing  wat vir ons vryheid geveg het. 

Ons Grondwet weerspieël Suid-Afrikaners se strewe na ʼn verenigde, vreedsame nasie; ʼn nasie wat bevry is van die bande van onderdrukking en ʼn verdeelde verlede. 

Dit is ʼn Grondwet wat ʼn beroep doen op ons almal om nie net die onregte van die verlede te besweer nie, maar om ook voortdurend die regte van alle Suid-Afrikaners op behuising, gesondheidsorg, voedsel, water, maatskaplike sekerheid, onderwys en ʼn beter en meer voorspoedige lewe vir almal te realiseer. 

Vandag moet ons hierdie strewe, hierdie begeerte verwesenlik in ʼn wêreld wat voortdurend en teen ʼn vinnige pas verander. ʼn Wêreld waarin kleingeestige eiebelang die gemeenskaplike belang vervang het; ʼn wêreld waarin handel gebruik word as ʼn dwangmiddel. 

ʼn Wêreld waarin die sterkes reg is en waarin die magtiges hul menings afdwing op die minderes. Om ons weg te baan in hierdie wêreld, moet ons bemoedig word deur ons nasie-vastheid. 

Die mag wat ons uitoefen moet uit ons waardes spruit; die waardes van waardigheid en gelykheid, van nie-rassisme en nie-seksisme, van diversiteit en van elke persoon se inherente waarde. 

Dit spruit uit ons mense se verdraagsaamheid, vrygewigheid, goedhartigheid en eensgesindheid.

Dit spruit uit ons onwrikbare verbintenis om die regte te handhaaf en die waardigheid te bevestig en te behou van diegene in ons samelewing wat vooroordeel en diskriminasie ervaar, insluitend mense met gestremdhede en lede van die LGBTQI+-gemeenskap. 

Ons krag lê in ons vasberadenheid en standvastigheid. Dit spruit uit ons kreatiwiteit en inspirasie. 

Ons krag lê in ons natuurlike rykdom – die minerale in ons gesteentes en die vrugbaarheid van ons grond, in die skoonheid van ons berge en kuslyn. 

Ons krag lê in ons instellings, wat kragtig en onafhanklik is, en in die gees van demokrasie en vryheid wat diep in elkeen van ons gesetel is. 

Ons forsheid en ons mag kom van mekaar. Dit spruit vanuit dít wat ons kan vermag wanneer ons saamwerk. 

Ons mag lê in ons respek vir mekaar, selfs wanneer ons oor verskeie kwessies van mekaar verskil. 

Ons krag spruit ook uit ons sportmanne en sportvroue wat die Suid-Afrikaanse vlag voortdurend op wêreldvlak hoog laat wapper en roem na die nasie bring. 

Wanneer ons na die stand van ons nasie kyk, kan ons sonder twyfel sê dat ons vandag sterker is as ʼn jaar gelede. 

Ons ekonomie groei weer en is besig om momentum te kry. 

Hoewel ons vier opeenvolgende kwartale van groei in ons bruto binnelandse produk ervaar het, besef ons dat dit vinniger moet groei om ons maatskaplike en ekonomiese uitdagings die hoof te bied. 

Ons het twee agtereenvolgende jare ʼn primêre begrotingsurplus behaal.

Ons kredietgradering het verbeter, ons rentekoers word verminder en inflasie is op die laagste vlak in 20 jaar. 

Die pad vorentoe is oop om ons nasionale skuld te stabiliseer. Die rand het versterk teen die dollar. Die Johannesburgse aandelebeurs, die grootste aandelebeurs op die vasteland van Afrika, het die afgelope jaar besonder goed presteer. 

Hierdie groei dui op breër ekonomiese herstel, beleggersvertroue en toenemende belangstelling in Suid-Afrikaanse aandele. 

Ons leningskostes het afgeneem.

Danksy Operasie Vulindlela het ons merkbare vordering gemaak met die versnelling van ekonomiese hervorming en om die weg te baan vir groter belegging en mededinging.

Ons het beurtkrag beëindig en ʼn meer dinamiese en veerkragtige energiestelsel gebou. 

Ons het vordering gemaak met die werksverrigting van ons hawens en spoorvraglyne en ons het die bestendigheid van die volume goedere wat ons in en uit die land vervoer, vergroot.

Ons het ons passasierspoorstelsel herstel en al hoe meer pendelaars kan nou na en van hul werk reis op plaaslikvervaardigde treine – wat hul reisuitgawes drasties verminder. 

Ons belê regoor ons land in paaie, brûe, spoorlyne, hawens, damme en wind- en sonplase.

Ons het meer as 2.5 miljoen geleenthede geskep deur die Presidensiële Indiensnemingstimulus, hoofsaaklik vir die jeug en vroue. 

Die Uitgebreide Openbare werke-program en die Gemeenskapswerksprogram bied deurlopend werksgeleenthede aan talle mense regdeur die land. 

Verlede jaar het ons die hoogste matriekslaagsyfer in ons geskiedenis gehad, met meer as twee derdes van alle universiteitsvrystellings vanuit skole in die mees-benadeelde gemeenskappe. 

Hoe meer die ekonomie groei, hoe vinniger neem die werkloosheidskoers af.

Deur ons maatskaplike beskermingskemas uit te brei by wyse van die maatskaplike noodverligtingstoelae het ons die aantal mense wat in voedselarmoede leef, verminder. 

Ons is besig om ons teenkorrupsiewetgewing te versterk. 

Ons land is van die gryslys van die Finansiële Aksietaakmag teen geldwassery en finansiering van terrorisme verwyder.

Die werk wat ons verrig het om sleutelinstellings te herbou na afloop van staatskaping, vorder goed. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is weereens ʼn wêreldklasbelastinggesag. 

Die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie maak vordering in die vervolging van hoëprofielsake. 

Die belangrikste is dat ons demokratiese stelsel besig is om bekwamer en sterker te word. 

Die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) het bewys dat dit vir Suid-Afrikaners moontlik is om van regoor die politieke spektrum byeen te kom om saam aan ʼn agenda vir groei en vooruitgang te werk. 

Verlede jaar was Suid-Afrika gasheer vir ʼn suksesvolle G20-spitsberaad, waartydens wêreldleiers van oraloor ons land se mag op globale vlak ervaar het. 

Vertroue in ons land is besig om onder beleggers, sakeondernemings en verbruikers te verbeter. 

Hierdie verbetering is te danke aan vasberade pogings regoor die regering en alle vlakke van die samelewing. Dit dien as bewys van wat vermag kan word wanneer ons doelgerig saam werk in samehorigheid.

Ons het nou ʼn unieke geleentheid om hierdie aanwinste in volgehoue groei te omskep. Maar ondanks hierdie vordering moet ons eerlik wees oor die uitdagings wat ons steeds in die gesig staar. Hoewel ons vordering maak, moet ons nie aanspraak maak op gemaklike oorwinnings nie. Ons is nog baie ver van waar ons moet wees. 

Té veel mense se daaglikse lewensbestaan is steeds ʼn opdraande stryd. Werk is skaars en geleenthede buite bereik. Suid-Afrikaners is bekommerd oor geweldsmisdaad en korrupsie. 

Hulle is besorg oor die stand van plaaslike regerings en die onvermoë om basiese dienste te lewer in groot dele van die land. 

Bowenal is hulle desperaat vir werk en ʼn inkomste om vir hul gesinne te sorg. 

Ons kan slegs sterk wees wanneer ons gelyk is, wanneer die vordering wat ons gemaak het deur alle Suid-Afrikaners gedeel word. 

Die Grondwet doen ʼn beroep op ons om heelhartig te streef na ʼn samelewing waarin elke Suid-Afrikaner ʼn regverdige kans het om ʼn beter lewe vir hulself te skep; waarin elke kind behoorlike onderrig ontvang en die geleentheid kry om te werk en te gedy. 

ʼn Samelewing waarin ons ons openbare ruimtes terugneem en mekaar in die straat groet as gelykes. Waarin die regering vir die mense werk en die korruptes die gevolge van hul dade dra. 

Hierdie Staatsrede beklemtoon die aksies wat ons geneem het sedert die begin van verlede jaar en die stappe wat ons gaan doen om die strategiese prioriteite van die Regering van Nasionale Eenheid te bevorder.

Hierdie prioriteite is as volg:

  • Eerstens, om inklusiewe groei en werkskepping te bevorder.
  • Tweedens, om armoede te verminder en hoë lewenskoste die stryd aan te sê. 
  • Derdens, om ʼn bekwame, etiese ontwikkelingstaat te bou. 

Vanaand beklemtoon ons die werk wat ons moet doen om saam sterker gemeenskappe en ʼn sterker nasie te bou. 

Ons beklemtoon die werk wat ons saam moet verrig om ʼn Suid-Afrika te bou wat meer voorspoedig, inklusief, vreedsaam, verenig en uiteindelik meer gelyk is. 

ʼn Sterker Suid-Afrika moet veilig en beskermd wees. 

Die koste van misdaad word gemeet aan lewensverlies en toekomsvooruitsigte wat kortgeknip word. Dit word ook ervaar in die gevoel van vrees wat ons samelewing deurdrenk en in die huiwering van ondernemings om in ons land te belê. 

Kinders hier in die Wes-Kaap beland in die spervuur van bendegeweld. In Kagiso en Gauteng word mense uit hul huise verjaag deur onwettige mynwerkers. Vroue word deur hul lewensmaats in hul tuistes aangerand of vermoor. Boupersele word as gevolg van misdaad gesluit. 

Dit móét en sál verander. 

Georganiseerde misdaad is nou die mees direkte bedreiging vir ons demokrasie, ons samelewing en ons ekonomiese ontwikkeling. 

Ons primêre fokus vanjaar is om die stryd teen georganiseerde misdaad en kriminele sindikate te verskerp met die gebruik van tegnologie, intelligensie en geïntegreerde wetstoepassing. 

Ons sal georganiseerde misdaad aanpak deur intelligensie op nasionale vlak te konsolideer, prioriteitsindikate te identifiseer en om uitgelese, multidissiplinêre ingrypingsplanne gefokus op die ontbloting en ontmanteling van kriminele netwerke te ontplooi. 

Om ons stryd teen bendegeweld te ondersteun, ontplooi ek die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) om die polisie te ondersteun, soos wat ons met onwettige mynbedrywighede gedoen het. 

Ek het die Minister van Polisie en die SANW opdrag gegee op ʼn taktiese plan te ontwikkel waarvolgens ons veiligheidsmagte binne die volgende paar dae in die Wes-Kaap en Gauteng ontplooi sal word om bendemisdaad en onwettige mynboubedrywighede aan te pak.

Soos die Grondwet vereis, sal ek die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) inlig oor die tydstelling en liggings waar ons soldate ontplooi sal word, sowel as die koste daarvan.

Ons moet daadwerklik optree om van bendegeweld in ons land ontslae te raak.

Terselfdertyd is ons besig om ʼn geïntegreerde strategie te implementeer om die grondoorsake van misdaad die hoof te bied deur gekoördineerde ingrypings regdeur die land  – van straatligte tot toegang tot maatskaplike dienste. 

Ons gaan ook vuurwapenmisdaad aanpak deur wetgewing en regulasies rakende lisensiëring, die  besit van en handel in vuurwapens en ammunisie te stroomlyn. Ons sal ook die toepassing van huidige vuurwapenwetgewing verskerp. 

Ons gaan vanjaar meer veiligheidsmagte ontplooi deur die werwing van 5 500 bykomende polisiebeamptes, saam met die 20 000 nuwe beamptes wat ons in vorige staatsredes aangekondig het. 

Ons sal verder ook die bedreiging vir Suid-Afrikaanse bedryfsektore deur die insypeling van onwettige en vervalste goedere aanpak.

Ons gaan ʼn nasionale plan van stapel stuur om sluikhandel en die onwettige ekonomie te ontwrig; hierdie plan sal staatsagentskappe van sleutelbelang en ander belanghebbendes, insluitend die private sektor, byeenbring. 

Deur die doeltreffende gebruik van data-analise en kunsmatige intelligensie sal ons hoë-risiko sektore soos tabak, brandstof, alkohol en ander sluikhandelgoedere teiken. 

Die verhore van die Madlanga-kommissie van ondersoek het ernstige bedrog in die Suid-Afrikaanse SAPD en sommige metropolisiedepartemente deur magsmisbruik ontbloot.

Ons kan dit gladnie verdra nie. Die oppergesag van die reg is afhanklik van ʼn polisiediens wat eties en reaktief is, en gegrond is in die gemeenskappe wat hulle dien.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ʼn taakmag tot stand gebring wat sal verseker dat die ondersoeke wat uit die Madlanga-kommissie spruit, spoedig en sonder inmenging afgehandel word.

Die Staatsveiligheidsagentskap sal die seniorbestuur van die SAPD en departemente van die metropolisie hersien. Die hersieningsproses sal lewenstyloudits insluit. 

Soos ons voorheen suksesvol gedoen het met kommissies, sal ons die aanbevelings van die Madlanga-kommissie gebruik om vêrreikende veranderinge te maak. 

Ons is vasberade om te verseker dat die kommissie se bevindinge en aanbevelings die grondslag sal vorm van die fundamentele hervorming van ons strafregstelsel. 

Ons is vol vertroue dat hierdie veranderings suksesvol sal wees aangesien die oorgrote meerderheid van polisiebeamptes daartoe verbind is om wetgewing streng te toe te pas en die mense van Suid-Afrika getrou te dien. 

Ons sal die sukses van Operasie Vulindlela as ’n voorbeeld gebruik om ekonomiese hervorming te bevorder, deur ʼn soortgelyke benadering tot die vestiging van ʼn kragtige nuwe strafreghervormingsinisiatief. 

Hierdie inisiatief sal korte mette maak van georganiseerde misdaad, korrupsie en onwettige vuurwapenhandel deur gebruik te maak van ʼn toegewyde span in die Presidensie om te verseker dat hervorming regdeur die stelsel geïmplementeer word. 

Ons gaan ook die stryd teen korrupsie verskerp deur instansies soos die Spesiale Ondersoekeenheid, die Nasionale Vervolgingsgesag en die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaad (die Valke) te versterk. 

Ons sal die regering se benadering tot die aanbevelings van die Nasionale Teenkorrupsie-Adviesraad rakende die stigting van ʼn permanente, onafhanklike, oorkoepelende teenkorrupsieliggaam finaliseer.

Ons kan nie aanvaar dat diegene wat korrupsie openbaarmaak, geviktimiseer en geteiken word nie. 

Die Wetsontwerp op die Beskerming van Fluitjieblasers sal aan die Parlement voorgelê word. Hierdie wetsontwerp sal onder meer vergelding onwettig verklaar en psigososiale, regs- en finansiële steun aan fluitjieblasers verskaf. 

Daar sal ʼn spesiale fokus op die herstrukturering van ons verkrygingstelsel wees, met die doel om korrupsie uit te roei. 

Die Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika (OGSA) het bekend gemaak dat die meerderheid van korrupsiegevalle in die verkrygingstelsel begin. Ons kan nie toelaat dat hierdie kanker voortgaan nie en ons moet dus streng daarteen optree. 

Maatreëls sal die gebruik van tegnologie en die finalisering van die nuwe Wet op Openbare Verkryging teen middel-2026 insluit. 

Ons kan nie die stryd teen georganiseerde misdaad voer deur versigtig op te tree nie. Ons moet daadwerklik optree sonder verdraagsaamheid of versuim en die volle mag van die gereg loslaat.

Laat hierdie boodskap duidelik wees: geen dade van korrupsie en kriminaliteit sal ongestraf bly nie. 

Benewens misdaad, is water nou vir baie mense in Suid-Afrika die belangrikste kwessie – van groot stede soos Johannesburg tot kleiner dorpe soos Knysna en landelike gebiede soos Giyani. 

Ons het almal die uiterste moedeloosheid van ons mense deur betogings in verskeie dele van Gauteng gesien. Hierdie protesoptrede word aangevuur deur frustrasie oor onvoldoende en onbetroubare basiese dienste soos watervoorsiening. 

Ek het die Minister van Water en Sanitasie en haar adjunkte asook die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake opdrag gegee om aandag te skenk aan die watertekortprobleem en om met gemeenskappe daaroor te skakel. 

Hulle is tans daar, besig om aan mense te verduidelik presies hoe die regering van plan is om onmiddellik aandag te gee aan die uitdagings wat ons mense ervaar.

Hulle het my in kennis gestel dat die waterpype wat beskadig is, herstel word en dat reservoirs besig is om weer vol te word. 

Swak beplanning en onvoldoende onderhoud van waterstelsels deur talle munisipaliteite is die hoofoorsaak van die probleme wat ons tans ervaar en die rede hoekom krane dikwels droogloop. 

Daar is nie ’n kitsoplossing vir hierdie uitdaging, wat in sistemiese mislukkings en baie jare van verwaarloosde infrastruktuur gegrond is nie.

Om watersekerheid oor die langtermyn te waarborg, bou ons tans nuwe damme, terwyl bestaande infrastruktuur opgegradeer word. 

Ons het meer as R156 miljard aan openbare befondsing vir water- en sanitasie-infrastruktuur oor die volgende drie jaar toegewys. 

Konstruksie van die Lesotho-hooglandwaterprojek en ander grootskaalse projekte soos die Ntabelanga-dam, wat deel van die Mzimvubu-waterprojek in die Oos-Kaap is, vorder goed en ons is in die laaste fases om ʼn nasionale agentskap vir waterhulpbroninfrastruktuur te stig om befondsing vir die land se waterinfrastruktuur doeltreffend te bestuur en te mobiliseer. 

Die werklike uitdaging is egter nie in die beskikbaarheid van water nie, maar om te verseker dat water die mense se krane bereik. 

Die Wysigingswetsontwerp op Waterdienste sal ons in staat stel om waterdiensverskaffers verantwoordbaar te hou vir hul dienslewering en hul lisensies terug te trek indien hulle hul pligte versuim.

Indien ʼn munisipaliteit nie gewillig of in staat is om dienste aan inwoners te lewer nie, moet dit deur ʼn ander struktuur wat wel daartoe in staat is, gelewer word.

Hierdie hervormings sal die basiese oorsaak van die waterkrisis die hoof bied.

In die korttermyn moet ons die onmiddellike krisis waar wateronderbrekings tans ervaar word die hoof bied. 

Drie jaar gelede, toe ons kragonderbrekings ervaar het, het ons die Nasionale Energiekrisiskomitee gestig om ʼn gefokusde nasionale reaksie te bewerkstellig. 

Ons het die krisis, wat as ʼn onoorkombare uitdaging beskou is, die hoof gebied deur ʼn duidelike plan te formuleer en uit te voer. 

Met dieselfde benadering gaan ons nou ons reaksie tot die waterkrisis tot ʼn nasionale waterkrisiskomitee verhef, waarvan ek aan die stuur sal wees. 

Hierdie struktuur sal alle bestaande pogings om die waterkrisis op te los, in een koördinerende liggaam saamvat. 

Dit sal tegniese kenners en hulpbronne van die nasionale regering na munisipaliteite wat wateruitdagings ervaar, ontplooi. 

Dit sal verseker dat vinnige en doeltreffende stappe gedoen word om die probleem op te los.

Om die uitdagings doeltreffend aan te pak, sal ons nie huiwer om die gesag wat in die Grondwet en in die Wet op Waterdienste van 1977 vervat is, toe pas om waar nodig by munisipaliteite in te gryp nie. 

Ons sal diegene wat nie hul verantwoordelikheid om water aan ons mense te verskaf, nagekom het nie, verantwoordbaar hou.

Die regering het reeds kriminele klagte teen 56 munisipaliteite wat hul pligte versuim het, gelê. Ons sal nou voortgaan om klagtes in te dien teen munisipale bestuurders in hul persoonlike hoedanigheid waar hulle die Nasionale Waterwet van 1998 oortree het. 

Die kritieke probleem is dat verskeie metro’s, stede en dorpe hul waterinkomste vir ander doeleindes aanwend en nie genoeg daarvan in die opgradering en onderhoud van waterinfrastruktuur belê nie. 

Om hierdie uitdaging die hoof te bied ooreenkomstig die verbintenis wat ons verlede jaar gemaak het, het ons ʼn nuwe R54-miljard dryfveer vir metro’s bekendgestel om hul water-, sanitasie- en elektrisiteitsdienste te hervorm. 

Dit sal sorg dat inkomste vanuit waterverbruik direk in die herstel van waterpype, reservoirs en pompstasies terugbelê word. 

Wateronderbrekings is ʼn simptoom van ʼn plaaslike regeringstelsel wat nie werk nie. 

ʼn Vêrreikende opknappingsprogram is nou onderweg om die grondoorsake van disfunksie en wanbestuur in verskeie munisipaliteite aan te pak. 

Plaaslike regerings word op verskeie plekke swak bestuur deur patronaatskap in plaas van tegniese kapasiteit, kennis en meriete. 

In haar mees onlangse verslag oor plaaslike regerings, het die Ouditeur-generaal van Suid-Afrika (OGSA) gemeld dat plaaslike regerings gekenmerk word deur onvoldoende verantwoordbaarheid, mislukte dienslewering, swak finansiële en algemene bestuur, swak institusionele kapasiteit en wydverspreide onstabiliteit. 

Sy het gesê dat dit ons gesamentlike optrede verg om die verval van plaaslike regerings te stuit en dit is wat nou gedoen word.

Deur alles wat ons uit ons ervaring oor die laaste 30 jaar geleer het, sal ons in die komende maande ʼn gewysigde Witskrif oor Plaaslike Regering finaliseer. 

Dit sal oplossings bied vir die funksionering van ʼn doeltreffende plaaslike regeringstelsel. Die witskrif sal die wyse waarop plaaslike regerings werk, herbeplan.

Die huidige stelsel is te ingewikkeld en gefragmenteerd en verwag van selfs klein en swak munisipaliteite om ʼn magdom verantwoordelikhede te aanvaar. 

Ons sal fundamentele veranderinge voorstel wat erkenning gee aan die realiteit dat sommige munisipaliteite meer funksies as ander kan vervul en dat ons ʼn gedifferensieerde benadering tot munisipale magte en verantwoordelikhede nodig het. 

Ons sal ook meer gestruktureerde samewerking tussen munisipaliteite en tradisionele en Khoi-San leierskapinstellings voorstel om skakeling met die gemeenskap en gedeelde probleemoplossing te bewerkstellig. 

Ons wil verseker dat senior amptenare in plaaslike regerings oor die nodige kwalifikasies beskik en aangestel word by wyse van ʼn onafhanklike proses, vry van politieke inmenging. 

Waar munisipaliteite misluk, sal ons die vermoëns van die nasionale regering versterk om betyds in te gryp en regstellende maatreëls in plek te stel om die belange van ons mense beter te dien.

Dit mag dalk moeilik wees om hierdie veranderinge te implementeer, maar dit moet gedoen word. 

Terwyl hierdie fundamentele hervormings onderweg is, sal ons voortgaan om geteikende ondersteuning te bied om die lewering van basiese dienste te verbeter by wyse van die presidensiële werksgroepe vir eThekwini en Johannesburg.

Hoewel ons vordering gemaak het in die stabilisering van eThekwini, wat tot die terugkeer van beleggersvertroue gelei het, is daar baie meer wat in Johannesburg gedoen moet word om die ineenstorting van infrastruktuur, finansiële wanbestuur en water- en kragonderbrekings die hoof te bied. 

Daar is baie toegewyde mense met vaardighede en ervaring wat in plaaslike regerings werk. Dit is egter ons verantwoordelikheid om munisipaliteite te herskep, te herorganiseer en beter toe te rus met hulpbronne om hulle in staat te stel om hul werk doeltreffend te verrig. 

Ons land is toenemend weerloos teenoor uiterste weerstoestande. 

Net ʼn paar weke gelede het katastrofiese vloede in Limpopo en Mpumalanga tot die verlies van minstens 45 lewens en grootskaalse vernietiging van huise, skole, klinieke en ander infrastruktuur gelei. 

Die klassifisering van die vloede tot nasionale ramp het die nasionale en provinsiale regerings in staat gestel om die toewysing van fondse te prioritiseer om die dringendste behoeftes van die mense wat deur die vloede geraak is aan te pak. 

Mede-Suid-Afrikaners

ʼn Sterker Suid-Afrika is onderhewig aan ʼn groeiende ekonomie. 

Vir meer as 15 jaar het ons ekonomie min gegroei. 

Al ons huidige ingrypings word gedryf deur die behoefte aan vinnige en inklusiewe ekonomiese groei om nie net meer werk te skep nie, maar ook beter gehalte werk.

Ter ondersteuning van die mediumtermyn ontwikkelingsplan (MTOP), het die Kabinet ʼn omvattende implementeringsplan goedgekeur om groei en insluiting aan te spoor. 

Deur hierdie plan werk ons daaraan om groei te bevorder deur gunstige omstandighede te skep vir belegging deur ʼn duidelike en standvastige makro-ekonomiese raamwerk te onderhou; ʼn bevorderlike regulerende raamwerk te skep wat groei steun en mededingendheid bewerkstellig; en deur ʼn gefokusde en toekomsgerigte bedryfsbeleid. 

Hierdie plan is geskoei op belegging, veral in infrastruktuur, asook arbeidsintesiewe groeisektore wat die potensiaal het vir toekomstige groei. 

Dit sluit die digitale en groen ekonomie in, wat vir jongmense werksgeleenthede sal bied. 

Infrastruktuur is soveel meer as net ʼn belegging in bakstene, sement, pleister en staal. Dit is ʼn belegging in werkskepping, produktiwiteit en groei. 

Vaste beleggings het jare lank afgeneem. Ons is nou besig om dit te verander. 

Die regering het oor ʼn tydperk van drie jaar meer as R1 triljoen aan openbare belegging toegeken vir die bou en instandhouding van infrastruktuur. 

Dit is die grootste toewysing van sy soort in ons land se geskiedenis. Dit gaan transformerend wees. 

Deur die infrastruktuurfonds en nuwe regulasies vir openbare-private vennootskappe, gebruik ons innoverende befondsingsmodelle wat risiko verminder en beleggers lok om projekte in energie, water, vervoer en digitale infrastruktuur te bespoedig. 

Ons het ons eerste ooit infrastruktuurverband, waarvan daar reeds meer as dubbel oorgeteken is, bekendgestel as aansporing vir die befondsing om infrastruktuur te verbeter. 

Dispute rakende die implementering van tenders vertraag dikwels die implementering van noodsaaklike infrastruktuur. 

Om onnodige vertragings in kritiese projekte te verhoed, gaan ons gespesialiseerde howe vir handelsake vestig met aangewese regters en aangewese hofrolle om vinniger uitkomste te verseker in hofsake rakende die ekonomie en ontwikkeling . 

Ons gaan vanjaar begin werk aan die stigting van ʼn professionele staatseiendomsmaatskappy om die 88 000 geboue en vyf miljoen hektaar grond wat deur die staat besit word, te transformeer tot groei- en ontwikkelingsenjins wat professioneel bestuur word. 

As deel van Operasie Vulindlela werk ons daaraan om die struktuur van ons ekonomie te transformeer, om ons infrastruktuur te herstel en ons elektrisiteit-, water- en logistieke sektore meer mededingend en doeltreffend te maak. 

Met beurtkrag wat nou iets van die verlede is, moet ons die land se energiestelsel transformeer om energieseksekerheid oor die lang termyn te verseker. 

Vir dekades lank het ons ekonomie gegroei danksy bekostigbare elektrisiteit. 

Maar toe het staatskaping, wanbestuur, onvoldoende onderhoud en opgeblaasde mega-projekte die koste van elektrisiteit aan besighede en ons landsburgers die hoogte laat inskiet.

Nou, met die vêrreikende veranderinge aan die sektor en met ons voldoende son- en windhulpbronne, sal ons in staat wees om ʼn afname in die koste van elektrisiteit te bewerkstellig. 

Regulatoriese veranderinge het ʼn reuse en ontwikkelende pyplyn vir belegging in hernubare energie meegebring. 

Teen 2030 sal meer as 40% van ons energievoorraad deur goedkoop, skoon en hernubare energiebronne opgewek word. 

Ons is besig om ʼn gelyke speelveld vir mededinging te vestig sodat ons nooit weer op ʼn enkele verskaffer hoef staat te maak om in ons energiebehoeftes te voorsien nie. 

Ons is besig om Eskom te herstruktureer en ʼn geheel en al onafhanklike transmissie-entiteit in staatsbesit tot stand te bring. 

Hierdie entiteit sal eienaarskap kry van en beheer neem oor transmissiebates en sal verantwoordelik wees vir handeldryf in die elektrisiteitsmark. 

Gegewe die noodsaaklikheid om die breër transformasie van die elektrisiteitsektor te herstruktureer, het ek ʼn toegewyde taakspan onder leiding van die Nasionale Energiekrisiskomitee byeengebring om dringend aandag te gee aan die verskillende kwessies rondom die herstruktureringsproses, insluitend die opstel van duidelike tydsraamwerke vir die gefasseerde implementering daarvan. Die komitee moet binne drie maande aan my terugrapporteer. 

Hierbenewens gaan ons vanjaar afskop met die eerste rondte van onafhanklike transmissieprojekte om private belegging in ons nasionale netwerk te bewerkstellig. 

Ons sal in elke provinsie werk om die oorlading van transformators, onwettige aansluitings en die mislukking van toerusting aan te pak met die doel om ladingsvermindering teen die einde van volgende jaar tot ʼn einde te bring. 

Ons is verbind tot die pad wat ons aangedurf het om ons energiestelsel te moderniseer. Ons het begin om die werkverrigting van ons spoorwegstelsel en hawens om te keer sodat ons besighede se produkte na wêreldmarkte vervoer kan word. 

Ons het private spoorwegoperateurs in staat gestel om toegang tot ons netwerk te kry, wat verskillende spoorwegmaatskappye sal toelaat om mee te ding en vragvolumes van pad- na spoorvervoer te skuif. 

Ons gaan later vanjaar ʼn reuse openbare-private vennootskap in ons hawe-terminale en spoorgange van stapel stuur deur ʼn konsessiemodel wat openbare eienaarskap behou en terselfdertyd private belegging en kundigheid mobiliseer. 

In Desember 2025 het ons ʼn vennootskap gesluit met ʼn internasionale hawe-operateur om Durban se Pier 2-vraghouerterminaalpunt, die grootste in ons land, te bestuur. 

Hierdie vennootskap sal tot nuwe belegging in toerusting en infrastruktuur by die hawe lei en dit sal gevolglik terugkeer na die wêreldklasstandaard wat voorheen gehandhaaf is. 

Ons gaan voort met die voorbereiding vir ’n hoëspoedspoorstelsel in Suid-Afrika, wat roetes soos Johannesburg na Musina en Ethekwini na Johannesburg sal insluit.

Sowat 30 maatskappye het reeds hul bereidwilligheid om deel van die hoëspoedspoorgange te vorm aangedui toe ons verlede jaar 'n versoek om inligting gerig het. 

Ons is besig om ʼn versoek vir voorstelle voor te berei, wat ʼn nuwe era vir langafstandspoorreise in Suid-Afrika sal inlui. 

Ons is vasberade om mededingend te wees in ʼn snelveranderende globale ekonomie. 

Ons nywerheidsbeleid is gefokus op gebiede waar ons ʼn mededingende voordeel het, waar ons werksgeleenthede kan skep en waar ons uitvoere kan verhoog. 

Ons handelsbeleid is daarop gemik om volhoubare ontwikkeling en groei te bevorder en ons internasionale vennootskappe sterker te maak. 

In ʼn wêreld waarin lande daarna streef om hul voorsieningskettings te diversifiseer, het ons die geleentheid om ons uitvoere wêreldwyd te verhoog. 

Ons het ʼn diverse ekonomie, hoë-gehalte vervaardigingsfasiliteite en sterk regulatoriese raamwerke. 

Ons is besig om ons kapasiteit vir handelsonderhandelinge en ons missies oorsee uit te brei om ekonomiese diplomasie aan te spoor. 

Te midde van die onrus in die globale ekonomie, ondersteun ons ons gevestigde nywerhede en bedryfsektore ondanks uitdagende omstandighede. 

Ons het begin om weer ons ferrochroombedryf op die been te bring en indiensneming in ons staal-, outomotiewe en ander sektore, wat goeie-gehalte werk aan honderde duisende Suid-Afrikaners verskaf, te beskerm.

Ons werk hand-aan-hand met besighede en werkers om skuiwergate in ons tariefstrukture toe te stop en bykomende maatreëls te ontwikkel om ons vervaardigingsbasis te beskerm en vergroot.

Terwyl ons werksgeleenthede in kwesbare bedryfsektore beskerm, bly ons gefokus op sektore wat toekomstige ekonomiese groei sal aanspoor. 

Ons weet dat ons miljoene goeie-gehalte werksgeleenthede in Suid-Afrika kan skep in sektore soos landbou, mynwese, dienste en die groen ekonomie. 

In hierdie sektore kan ons meer as net mededingend wees. Ons kan die beste in die wêreld wees. Ons landbousektor is besig om vinnig uit te brei. 

Ons is reeds die tweede grootste uitvoerder van sitrusvrugte ter wêreld. 

Ons is besig om tans nuwe markte vir ons uitvoere te bewerkstellig, van sitrus en avokado’s tot mielies, vee, druiwe en wyn. 

Deur die staat se gemengde finansieringskema, in samewerking met die Landbank en handelsbanke, het ons R7.8 miljard in innoverende befondsing aan swart produseerders beskikbaar gestel. 

Ons sal 10 000 nuwe voorligtingsbeamptes ontplooi om ondersteuning aan boere te bied en landbouproduktiwiteit te verbeter. Dit sal lei tot talle geleenthede vir indiensneming van jongmense in die landbousektor. 

Waar die res van ons landbousektor gedy, staar beesboerdery vandag een van die ergste 

uitbrake van bek-en-klouseer in ons land se geskiedenis in die gesig.

Hierdie siekte beskadig ons ekonomie; dit lei tot uitvoerverbod, handelsbeperkinge en die vernietiging van kuddes. 

Ons het besluit om die nasionale kudde van 14 miljoen beeste in te ent, wat beteken dat 28 miljoen inentings oor die volgende 12 maande toegedien moet word. 

Die staat sal die aankoop van die inentings sentraal fasiliteer om te verseker dat ons die regte entstowwe vir die betrokke stam van die virus in Suid-Afrika bekom. 

Ons sal ook baie nou met die private sektor saamewerk om die inenting doeltreffend te bestuur en, ons sal bo alles, verseker dat kommersiële, private en gemeenskapsboere onmiddellike toegang tot die inentings verkry. 

Ek het ʼn taakmag byeengebring bestaande uit boereverenigings en kenners, in samewerking met die Minister van Landbou en sy departement, wat maandeliks aan my verslag sal doen oor die vordering wat ons maak om hierdie pandemie die hoof te bied. 

Ons het bek-en-klouseer tot nasionale ramp verklaar en sal alle moontlike vermoëns binne die staat mobiliseer om hierdie krisis die hoof te bied. 

Ons dienstesektor, insluitend digitale tegnologie tot finansiële dienste, is besig om te groei. 

Ons finansiële instellings is van die beste ter wêreld en hulle kan met die beste in Afrika en regoor die wêreld meeding.

Ons lok groot belegging in digitale infrastruktuur, met 55 datasentrums wat reeds gebou is en beleggings van meer as R50 miljard wat oor die volgende drie jaar verwag word. 

Toerisme is ʼn noodsaaklike dryfveer vir ekonomiese groei, met elke 13 internasionale toeriste wat een werksgeleentheid onderhou.

Ons toerismesektor het verlede jaar geskiedenis gemaak met die aankondiging dat 10.5 miljoen toeriste die land besoek het. 

Ons moet nou unieke kulturele, geskiedkundige en natuurlike besienswaardighede bevorder wat ons land se identiteit weerspieël.

Dit kan tradisionele feeste, plaaslike kuns en handwerk, geskiedkundige plekke en natuurlike landskappe regoor die land en veral in landelike gebiede insluit.

Met die versterking van ons strafregstelsel, maak ons dit veiliger vir toeriste om die land te besoek. 

In die komende jaar sal ons die Elektroniese Reismagtigingstelsel (ETA) uitbrei na alle lande wat ʼn visum vereis; dit sal sorg dat toeriste-aansoeke binne 24 uur digitaal verwerk kan word. 

Die heel grootste geleentheid lê in groen groei. Ons is besig om ons ekonomie te swaai om ʼn voorste verskaffer te word van produkte waarop die wêreld in die komende dekades gaan staatmaak.

Ons is besig om steun vir die vervaardiging van groen produkte aan wêreldmarkte uit te brei, van bemestingstowwe tot stralerbrandstof, van chemikalieë tot staal.

Vanaf Maart vanjaar sal ons ʼn 150% belastingaftrekking vir belegging in nuwe energie-voertuie bekendstel en terselfdertyd die plaaslike vervaardiging van batterye ondersteun. 

Internasionale beleggingsbeloftes vir die Beleggingsplan vir ʼn Regverdige Energie-oorgang staan tans op nagenoeg R250 miljard. Die plan sal ʼn grootskaalse belegging in vervaardiging, infrastruktuur en vaardighede finansier. 

Suid-Afrika het van die wêreld se grootste reserwes van kritiese minerale.

Ons ysterreserwes is gewaardeer teen meer as R40 triljoen, wat van mynwese ʼn nuwe en groeiende nywerheid maak. 

Na baie jare van dalende belegging in eksplorasie, gaan ons fondse toeken aan geologiese kartering en eksplorasie om ons kritiese mineraalreserwes in te span. 

In hierdie week het die Nywerheidsontwikkelingskorporasie befondsing van meer R300 miljoen vir die Frontier Rare Earths Zandkopsdrift-projek in die Noord-Kaap toegeken. 

Dit het die potensiaal om een van die wêreld se grootste en laagste-koste nuwe produsente van minerale wat nodig is vir slimfone, lithium-batterye en ander produkte te word . 

Vertroue in die toekoms van Suid-Afrika se mynwese was ooglopend tydens die Mynwese-indaba wat hierdie week in Kaapstad gehou is. 

Nuwe goud-, koper-, skaars aardmetale-, platinum en steenkoolmyne word geopen. 

By die G20-leiersberaad in November verlede jaar het die G20-lande ons voorlegging om plaaslike mineraalveredeling van kritiese minerale uit te brei en die uitvoer van klaargoedere ondersteun.

In die loop van die eerste vyf Suid-Afrikaanse beleggingskonferensies was ons in staat om R1.5 triljoen in beleggingsbeloftes te verkry. 

Tot op hede het meer as R600 miljard in projekte ingevloei. Nuwe fabrieke, myne en ander fasiliteite word jaar na jaar oopgemaak.

Ons het onsself nou die teiken voorgelê om R2 triljoen in nuwe beleggings oor die volgende vyf jaar in te samel. 

Ons sien dus daarna uit om die 6e Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie op 31 Maart 2026 as gasheer aan te bied. 

Om ʼn meer inklusiewe ekonomie te bou, keer ons terug na diegene wat geleenthede skep. 

As elke klein- en medium-sakeondernemings in Suid-Afrika net een bykomende persoon in diens kan neem, kan ons drie miljoen nuwe werke skep. Baie van hierdie besighede, waarvan ʼn aantal deur vroue en jongmense besit word, kan egter nie befondsing kry om die onderneming te begin of te laat groei nie. Baie sukkel ook om markte vir hul goedere en dienste te kry. 

Byna alle klein- en medium-sakeondernemings moet verlief neem met ʼn magdom regulasies, verordeninge, lisensiëringsvereistes en burokratiese struikelblokke. 

Ons neem die openbare kommentaar oor die Konsepswetsontwerp vir Besigheidslisensies ernstig op en en sal seker maak dat die finale wetsontwerp dit makliker en nie moeiliker maak om ʼn klein onderneming in Suid-Afrika te begin en te bedryf nie.

Vanjaar sal ons meer as R2.5 miljard in befondsing lewer aan 180 000 klein- en medium-sakeondernemings en ʼn verdere R1 miljard uitreik as waarborge.

Ons sal natuurlik ook wil fokus op besighede onder leiding van vroue en jongmense om hul bemagtigting te bevorder.

Ons sal die regulasies van die Nasionale Kredietwet wysig om dit makliker te maak om toegang tot krediet teen ʼn laer koste te verkry. 

Die transformasie van ons ekonomie is noodsaaklik om volgehoue groei aan te dryf, ongelykheid te verminder en die onregte van die verlede uit te wis.

Ons is besig om ons Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging-raamwerk te hersien om dit te verfyn, herbelyn en versterk om te verseker dat dit groter transformasie en inklusiewe groei ondersteun. 

Al hierdie ondernemings, sal ʼn sterker ekonomie skep en die basiese komponente wat afgetakel was, herstel. 

Dit is ʼn saak van nasionale besorgdheid dat té veel Suid-Afrikaners werkloos bly en té veel jongmense sukkel om werk te kry. 

Daarom skep ons deurlopend werksgeleenthede en geleenthede om ʼn lewensbestaan te voer, by wyse van grootskaalse openbare en maatskaplike indiensnemingsprogramme terwyl ons die ekonomie herbou. 

In plekke soos Standerton in Mpumalanga skep die Presidensiële Stimulus werke wat saak maak, soos om stortingsterreine in parke te omskep en leë erwe in gemeenskapstuine.

Die SA Jeug-platform het vir die eerste keer toegang tot werk en leergeleenthede vir die aan miljoene jongmense verskaf. 

Die Jeugindiensnemingsdiens (YES), ʼn vennootskap tussen die sakewêreld en die regering, het aan meer as 200 000 jongmense in jaarlange geleenthede vir werkservaring gebied. 

Vanjaar gaan ons regulerende veranderinge instel wat dit makliker sal maak vir sakeondernemings om deel te neem aan die YES-program en werk te skep vir jongmense. 

In die komende jaar gaan ons ook ons openbare indiensnemingsprogramme uitbrei, insluitend die Uitgebreide Openbare Werke-program (EPWP), die Gemeenskapswerkprogram (CWP) en die Presidensiële Werkskeppingstimulus.

Ons sal seker maak dat hulle beter gekoördineer is om inkomstesteun, vaardigheidsontwikkeling en geleenthede vir langertermynindiensneming, veral aan jongmense en vroue, te verskaf. 

Om te verseker dat niemand agtergelaat word nie, gaan ons ʼn besluit implementeer om gelyke indiensnemingsteikens van persone met gestremdhede in die Staatsdiens te verhoog tot 7% teen 2030 en om ʼn 7% voorkeurverkrygingsteiken regoor alle staats- en openbare entiteite goed te keur. 

Bowenal vertrou ʼn sterk ekonomie op ʼn goedopgeleide, bekwame en vaardige bevolking. Ons fokus is nou daarop om die vorming van ʼn sterk grondslag vir leer in die vroeë lewensjare van kinders te verseker. 

Ons is besig om toegang tot vroeë kinderontwikkeling (VKO) te vergemaklik deur die Bana Pele-massaregistrasie van VKO-fasiliteite vir VKO-leerders. Deur graad R verpligtend te maak, maak ons seker dat kinders ’n goeie basis vir hul skoolopleiding het. 

Ons is ook besig om ons pogings om die basiese onderwysstelsel op te knap deur te fokus op vroeë kinderontwikkeling, geletterdheid en gesyferdheid, en moedertaalgebaseerde tweetalige onderrig. 

Ons wens die matriekklas van 2025 geluk met hul puik slaagsyfer van 88%. 

Dit is die hoogste slaagsyfer in ons geskiedenis, wat die toewyding van leerders sowel as die ingrypings wat ons gemaak het om leer en onderrig asook onderwys in skole te verbeter, weerspieël. 

Met die verwelkoming van verbeteringe in die matriekslaagsyfer, moet ons ook die hoë uitvalsyfer in die laaste paar jaar van skoolonderrig ondersoek. Meer leerders moet in staat gestel word om matriek te skryf en vakke soos wiskunde en wetenskap te kan kies, wat hulle in staat sal stel om verder te vorder. 

Om dit moontlik te maak vir die jeug van vandag om ons samelewing te transformeer en hul toekoms te verseker, is ons besig om die grondslag vir ʼn vaardigheidsrevolusie te lê. 

Ons onderneem tans ʼn fundamentele opknapping van die vaardigheidsontwikkelingstelsel om ʼn tweeledige opleidingsmodel te implementeer wat onderrig met praktiese beroepservaring integreer. 

Ons sal die aantal Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerhede verminder om bestuur te verbeter, deelname aan die sektor/bedryf te verskerp, die gehalte van opleiding te verhoog en vaardigheidsontwikkeling beter te belyn met die behoeftes van die ekonomie. 

Dit sluit in die verbetering van die gebruik van kolleges vir tegniese en beroepsonderwys en opleiding (TBOO/TVET) as die primêre plekke vir beroepsopleiding en ambagsontwikkeling. 

Om doeltreffende werkplekgebaseerde leer en onderrig te steun, sal ons die deel van die heffing op vaardigheidsontwikkeling wat aan werkgewers teruggegee word, terugskuif tot die oorspronklike persentasiesyfer van 40%. 

Ons gaan ook die nasionale vaardigheidsfonds transformeer na ʼn meer behendige uitkomsgedrewe instrument wat werklose jongmense kan ondersteun om toegang tot ervaring in die werksplek en indiensneming te bekom, terwyl dit voortbou op suksesvolle inisiatiewe soos die “Jobs Boost”-program. 

Hierdie hervormings sal verseker dat die verskeie opleidingsprogramme wat ons in die regering het, waarlik deure kan oopmaak na geleenthede en nie ʼn doodloopstraat is nie. 

Om die toenemende aantal jongmense wat matriek slaag te absorbeer, sal ons geleenthede vir jongmense om instellings van hoër onderwys te betree, uitbrei. 

Ek het die ministers van finansies en hoër onderwys opdrag gegee om ʼn voorlegging op te stel om meer universiteite en TVET-kolleges met gespesialiseerde fokusareas te bou. 

ʼn Onmiddellike probleem is die groot tekort aan studentebehuising by ons  hoër onderwysinstellings. Ek het die Minister van Hoër Onderwys opdrag gegee om hierdie uitdaging aan te pak en saam met finansiële instellings te werk om innoverende maniere waarin die regering studentebehuising kan voorsien te vind. 

ʼn Sterker Suid-Afrika is geskoei op sterk gemeenskappe en sterk gemeenskappe sorg vir hulle kinders. 

Meer as ʼn kwart van kinders onder die ouderdom van vyf jaar is onderontwikkel, wat hul risiko vir siektes groter maak en hul vermoë om te leer en te groei beïnvloed. Dit is verwoestend vir kinders en hul gesinne en het ʼn negatiewe uitwerking op ons samelewing as geheel. 

Vanjaar gaan ons dit ’n dringende prioriteit maak om teen 2030 ʼn einde te bring aan onderontwikkeling van kinders en om ondervoeding onder jong kinders aan te pak, soos uitgestippel in die Nasionale Strategie om Optrede vir Kinders te Versnel. 

Ons sal op die deurslaggewende eerste 1 000 dae van ʼn kind se lewe fokus. 

Gegrond op bestaande steun soos die kinderonderhoudstoelae, gaan ons geteikende ingrypings in plek stel om te verseker dat swanger vroue en kinders met ʼn lae geboortegewig die proteïne en voedingstowwe wat hulle nodig het, ontvang. 

Dit is ʼn reuse krisis wat ons aandag en hulpbronne vereis. Die Mediumtermyn Begrotingsbeleidsverklaring sal 'n duidelike fiskale toekenning vir die aksies wat ons gaan neem aandui. 

ʼn Faktor wat grootliks bydra tot onderontwikkeling in kinders is uitermatige alkoholgebruik deur swanger moeders, wat die baba se ontwikkeling tydens swangerskap kan beïnvloed. 

Alkoholmisbruik lei ook tot geweld, padongelukke en misdaad. 

Om hierdie die plaag die hoof te bied, doen ons ʼn beroep op provinsiale regerings om die regulering van alkohol te verskerp deur die digtheid van drankwinkels te beperk, handelsure te verminder en die verkoop van alkohol in groot houers te staak. 

As nasionale regering het ons maatreëls voorgestel om uitermatige alkoholgebruik in toom te hou, insluitend minimum-eenheidpryse of hoër aksynspligte en groter beperkings op die adverteer van alkohol, wat ons tans met belanghebbendes bespreek. 

Sedert die die Maatskaplike Noodverligtingstoelae tydens Covid-19 bekendgestel is, is miljoene mense uit die kake van voedseltekort gered. 

As ʼn transformasie-instrument om die lewens van die behoeftigste en mees weerlose mense in ons samelewing te verbeter, sal hierdie toelae voortgaan. 

Vanjaar gaan ons die toelae herontwerp om lewensbestaan, vaardigheidsontwikkeling, werksgeleenthede en produktiewe aktiwiteite meer doeltreffend te steun. 

Ons weet dat die meeste van die geld wat deur maatskaplike toelaes uitbetaal word, op voedsel en vervoer uigegee word. In ons stede en dorpe bly die meeste mense ver van hul werksplekke en plekke van dienslewering. 

Ons is besig om ons stede te herskep en die lewenskostes van werkende gesinne te verminder deur die uitbreiding van bekostigbare behuising en die hernuwing van pendelspoorweë. 

Ons is besig om ʼn nuwe behuisingsmodel bekend te stel waar mense subsidies ontvang vir eienaarskap en verhuring van wonings in gebiede wat beter by hulle behoeftes pas. 

Ons is besig om die skuif te maak van die bou van huise vir mense tot die ondersteuning van mense om hul eie huise te bou, te koop of te huur. 

Gister was die 60e herdenking van die verklaring van Distrik Ses as ʼn groepsgebied vir blankes.

ʼn Paar honderd meter vanwaar ons nou is, is meer as 60 000 inwoners gedwonge verskuif en hervestig in die Kaapse Vlaktes. 

Die vernietiging van Distrik Ses is ʼn pynlike herinnering aan ons gedeelde verantwoordelikheid om die onregte van die verlede reg te stel en dinamiese en samehorige gemeenskappe te bou. 

Die vergoedingseis wat in 1998 ingedien is, bevestig die wetlike reg van voormalige inwoners en hul nasate om huistoe te kom. Daardie terugkeer het hoftoesig, fyn beplanning en volgehoue openbare belegging vereis. 

Baie huise is voltooi en oorhandig aan geverifieerde eisers. Met R500 miljoen wat aan hierdie werk toegeken is, gaan ons voort met fase 4 van konstruksie. 

Die restourasie van Distrik Ses is ʼn doelwit waarna ons almal streef en ʼn verantwoordelikheid wat op ons almal se skouers rus. 

Ons werk daaraan om ʼn gesonde nasie te bou. 

As deel van die voorbereiding van die Nasionale Gesondheidsversekering, belê ons in gesondheidsorgfasiliteite, -personeel en -stelsels om toegang tot gehaltesorg te verbeter.

Ons sal noemenswaardige belegging in gesondheidsorginfrastruktuur onderneem en die konstruksie en hernuwing van akademiese hospitale prioritiseer. Tydens ʼn onlangse besoek aan die George Mukhari-hospitaal in Ga-Rankuwa, het ek eerstehands die nypende gevolge van onvoldoende gesondheidsorginfrastruktuur aanskou. 

Met George Mukhari-hospitaal as vertrekpunt gaan ons saam met verskeie openbare en private finansieringsinstellings werk om die bou en hernuwing van gesondheidsorgfasiliteite te finansier. 

As nasie is ons uiteindelik in staat om ons ʼn land sonder Vigs voor te stel.

Om ons programme te ondersteun om die menslike immuniteitgebrekvirus (MIV) te voorkom en uiteindelik uit te roei, gaan ons Lenacapavir – ʼn sesmaandelikse inspuiting wat as hoogs doeltreffend bewys is in die voorkoming van die oordrag van MIV – op groot skaal beskikbaar maak. 

Ons maak ook werk daarvan om ʼn einde aan servikale kanker in ons land te bring deur die samelewing te mobiliseer om te verseker dat elke jong meisie tussen die ouderdomme van nege en 15 die HPV-inenting ontvang. 

Verlede jaar het ons geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV) tot nasionale ramp verklaar. 

Deur middel van hierdie klassifikasie is ons in staat om ons reaksie beter te koördineer en pogings te rig op die doeltreffendste ingrypings.  

As deel van die nasionale plan teen GGGV sal ons alle sektore van die samelewing mobiliseer deur kommunikasie en sosiale mobilisering om skadelike optrede en praktyke die hoof te bied. 

Ons sal voortgaan om vroue se ekonomiese bemagtiging te bevorder deur opleiding, finansiële steun en voorkeurverkryging. 

Ons sal wetstoepassing verskerp deur middel van versnelde ondersoeke, verbeterde bestuur van hofsaake, die uitbreiding van howe vir seksuele oortredings en optrede teen herhalende oortreders. 

Ons sal ondersteuning wat op oorlewendes fokus, opgradeer om toegang tot skuilings, eenstopdienssenstrums en mobiele en landelike uitreike te verseker, asook die plasing van maatskaplike werkers in polisiestasies. 

Onwettige immigrante hou ʼn risiko in vir ons sekuriteit, stabiliteit en ekonomiese vooruitgang. 

Waar ons hierdie probleem aanpak, sal ons steeds seker maak dat die basiese menseregte van elke persoon in ons land gehandhaaf en beskerm word. 

Vanjaar gaan ons bykomende stappe neem om ons grense te beveilig. Befondsing om grenssekerheid te verskerp sal geprioritiseer word om infrastruktuur, tegnologie en mense te beskerm. 

Grensposte van sleutelbelang sal herontwikkel word deur middel van openbare-private vennootskappe en ons sal die Elektroniese Stelsel vir Reismagtiging (ETA) na alle internasionale lughawens, sowel as die besigste binnelandse intreepunte uitbrei.

Ons gebruik reeds hommeltuie en tegnologie met groter sukses teen ons grenslyne. 

Die SAPD, die departement van binnelandse sake asook arbeidsinspekteurs sal saamwerk om oortredings teen bestaande immigrasie-, arbeids- en ander wetgewing hok te slaan. 

Werkgewers wat buitelandse burgers sonder die vereiste visums aanstel, sal met die volle mag van die reg te doen kry. Om wetstoepassing te verskerp, sal ons vanjaar ʼn bykomende 10 000 arbeidsinspekteurs aanstel. 

Met hierdie ingrypings dring ons daarop aan dat ons landswette deur almal gehoorsaam moet word. 

Ons sal nie geweld en ander wetteloosheid teen buitelandse burgers duld nie. 

Geen buitelandse burgers sal onwettig verhoed word om toegang te verkry tot openbare fasiliteite, insluitend skole en gesondheidsorgfasiliteite.

Om ʼn sterker Suid-Afrika te bou, moet ons ʼn etiese en bekwame ontwikkelingstaat verseker. 

ʼn Bekwame staat verg toegewyde en eerlike staatsamptenare met toepaslike vaardighede en ʼn diepgaande dienskultuur.

In die afgelope jaar het ons noemenswaardige nuwe wetgewing ingestel om die Staatsdiens meer beroepsgerig te maak. 

Die Wysigingswetsontwerp op die Staatsdiens sal sleutelaanstellings beskerm teen politieke inmenging en verseker dat bekwame en gekwalifiseerde mense in seniorposte aangestel word, gegrond op hul gepastheid vir die pos. 

Lewenstyloudits is verpligtend gemaak vir senior staatsamptenare en verlede jaar is nakoming van 93% regoor ons staatsdepartemente bereik. 

Ons het ʼn sentrale register geskep vir dissiplinêre sake regoor alle regeringsfere. Dit sal verhoed dat mense wat dissiplinêre optrede in die gesig staar of reeds ervaar het, nie êrens anders in die Staatsdiens aangestel mag word nie. 

Ons gaan voort om deurlopend die bestuur en prestasie van ondernemings in staatsbesit (OSB’s) soos Eskom, Transnet, Denel, Prasa en verskeie ander, te verbeter. 

Dit sluit die implementering van duidelike standaarde vir aanstellings in om te verseker dat die leiers van hierdie entiteite oor die toepaslike kwalifikasies en ervaring beskik. 

Ons sal voortgaan om in fases te werk met ʼn gesentraliseerde model as mikpunt vir die bestuur van ons OSB-portefeulje sodat ons standaarde kan stel, bestuur kan verbeter en finansiële volhoubaarheid kan verseker om sodoende hierdie OSB’s se mandaat te vervul.

Dit sluit die finalisering van die Wetsontwerp op Nasionale Staatsondernemings in, wat met hierdie benadering strook. 

Ons sal digitale transformasie inspan as ʼn dryfveer vir groei, insluiting en doeltreffende dienslewering. 

Vanjaar gaan die Departement van Binnelandse Sake ʼn digitale identiteitsdokument bekendstel om die veilige gebruik van alle digitale dienste vir alle Suid-Afrikaners te verseker. 

Ons sal bestuurslisensies, matrieksertifikate en dienste digitaliseer by die Meesterskantoor. 

Landsburgers sal in staat gestel word om polisieverklarings aanlyn in te vul en voortaan sal geskiktheid vir toelaes van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) van ʼn afstand af getoets kan word. 

Al hierdie dienste sal beskikbaar gestel word op die MyMzansi-platform.

Elke Suid-Afrikaner sal binnekort toegang hê tot verskeie dienste wat hulle nodig het sonder om ʼn staatskantoor te besoek of fisies vorms in te vul. 

Vanjaar alleen sal honderde meer banktakke nuwe SmartID- en paspoortdienste lewer. Dit sal toustaan en wagtye drasties verminder. 

Ons sal ook saam met die burgerlike samelewing werk om te verseker dat ons landsburgers se beskerming en regte tydens hierdie digitale revolusie beveilig word. 

ʼn Sterk Suid-Afrika verg vrede en vooruitgang regdeur die vasteland van Afrika. Om die waardes wat in ons Grondwet uiteengesit is en ons nasionale belang te bevorder, streef ons na ʼn wêreld wat volhoubaar, regverdig en inklusief is. 

In ʼn wêreld wat al hoe meer onbestendig word, put Suid-Afrika krag uit die beginsels wat ons G20-presidentskap omskryf het en die grondslag van ons buitelandse beleid vorm, naamlik solidariteit, gelykheid en volhoubaarheid.  

As deel van ons rol in die Afrika-unie (AU) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), bevorder ons streeksintegrasie, vrede en stabiliteit. 

Ons maak gebruik van ons internasionale betrekkinge om plaaslike prioriteite te steun, insluitend vervaardiging, waarde-toevoeging en meer uitvoere. 

Ons dra by tot die implementering van die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied om handel tussen Afrika-lande uit te brei, as dryfveer vir industrialisasie en vir werkskepping. 

Suid-Afrikaanse ondernemings, insluitend ons banke, boerderye en vervaardigers, sal voorste verskaffers wees vir ʼn Afrika-mark van 1.4 miljard mense, van wie die werkende ouderdomsgroep in die volgende 25 jaar sal verdubbel. 

Ons bou verhoudinge van wedersydse voordeel met alle lande in terme van gelykheid en respek. 

In ʼn wêreld waar magtige nasies dikwels hul oorheersing en invloed op minder-magtige lande afdwing, is ons land se verbintenis tot soewereiniteit en selfbeskikking heilig, onskendbaar, onaantasbaar. Dit is nie onderhandelbaar nie.

Ons sal vasstaan in ons soewereiniteit, ons nasionale belange en waardes en ons sal die regte van ons mense bevorder.

Ons stel dit duidelik dat ons sal voortgaan om die regte en soewereiniteit van ander lande te respekteer, maar ons sê ook duidelik dat ons nie deur enige ander land afgeknou sal word nie. 

Ons sal sterk bande smee met eensgesinde lande vir groter gedeelde veerkragtigheid te midde van globale ontwrigtings. 

Ons sal bou op ons G20-presidentskap, wat eenstemmig as suksesvol bestempel is, en voortgaan om die prioriteite van die globale Suide te bevorder. 

Dit sluit in inklusiewe groei, skuldverligting, klimaatsmaatreëls, hervorming van globale bestuursinstellings en veredeling van minerale by die bron. 

 In aansluiting by die werk van die G20 se buitengewone komitee vir globale ongelykheid, werk ons saam met ons internasionale vennote om die internasionale paneel vir ongelykheid bekend te stel. 

Dit is ʼn belangrike steunpilaar van die globale poging om ongelykheid te verminder, binne én tussen lande. Ons sal voortgaan om multilateralisme voor te staan en humanitêre diplomasie te versterk.

Ons maak dit duidelik dat Suid-Afrika ʼn helder en bestendige stem vir internasionale reg, geregtigheid en menseregte bly. 

Suid-Afrika sal steeds pogings aanwend om konflik te voorkom en vrede te bewaar deur die Verenigde Nasies (VN), die AU en die SAOG te steun. Ons is trots op Suid-Afrikaanse soldate se deelname aan die pogings om vrede op die Afrika-kontinent te bewaar sedert die koms van demokrasie.

Ons het die VN versoek om ons toe te laat om ons troepe vanuit die VN-missie in die Demokratiese Republiek die Kongo te onttrek, met die oog daarop om ons weermag te konsolideer. 

Ons kan ons nie as vry beskou terwyl die mense van Palestina, Kuba, Soedan, Wes-Sahara en elders onder besetting, onderdrukking en oorlog ly nie. 

Mede-Suid-Afrikaners

Ons nasie het ʼn keerpunt bereik.

Ons laat ʼn era van agteruitgang agter en betree ʼn era van vooruitgang en groei. 

Ons het beduidende vordering gemaak om die gevolge van staatskaping, die Covid-19-pandemie, openbare onluste in 2021 en die onlangse vloede te oorkom. 

Ons wend ons tot hoop en die realiteit van ʼn beter toekoms vir almal. 

Die vordering wat ons gemaak het in die afgelope vyf jaar gee ons hoop en aanmoediging. Dit wys wat ons kan vermag wanneer ons saamwerk. Nou is nie die tyd om op ons louere te rus nie. 

Nou is die tyd vir elke Suid-Afrikaner om deel te wees van pogings om ons land vooruit te laat gaan. 

Verlede jaar het ons met ʼn nuwe hoofstuk in ons demokrasie begin deur die bekendstelling van ʼn Nasionale Dialoog by ʼn konferensie wat alle Suid-Afrikaners van regoor die land en vanuit alle vlakke van die samelewing byeengebring het. 

Vanjaar sal die Nasionale Dialoog regoor die land uitbrei en elke gemeenskap, elke skool, elke universiteit en elke vlak van ons samelewing bereik. 

Onder leiding van ’n groep bekwame persone, insluitend vooraanstaande en hoogs aangeskrewe Suid-Afrikaners gelei deur ʼn inklusiewe dagbestuur, sal hierdie openbare dialoog aan landsburgers die geleentheid gee om hul kommer uit te spreek en hul aspirasies en toekomsplanne te deel. 

 Hierdie openbare dialoog sal lei tot ʼn Nasionale Konferensie waar al die gesprekke vervat sal word om die aksies te omlyn wat ons sal moet neem om ʼn beter Suid-Afrika te bou. Die gesprekke sal die formulering van ʼn oorkoepelende nasionale ooreenkoms lei en ook vorm gee aan die volgende fase van ons Nasionale Ontwikkelingsplan ná 2030. 

Met die bou van hierdie nasionale konsensus moet ons nie net voortbou op die gedeelde waardes in ons Grondwet nie, maar ook op die verenigende mag van sport en die ryke diversiteit van ons kultuur. 

Waar ons diegende vereer wat groot hoogtes in globale prestasie bereik het, moet ons ook ons waardering uitspreek oor die wyses waarop sport en kultuuraktiwiteite ʼn samehangende samelewing bou. 

As ons die gees van die vroue van 1956, die jeug van 1976 en die Grondwet van Suid-Afrika wat in 1996 onderteken is inspan, sal 2026 ʼn jaar van transformerende verandering wees. 

Dit moet ʼn jaar wees wat Suid-Afrika sterker maak. Ons moet ons plaaslike regerings herstel. Ons moet misdaad en korrupsie die stryd aansê en ons geloof in die strafregstelsel herstel. Ons moet werkgeleenthede en ʼn lewensbestaan vir elke Suid-Afrikaner skep en ʼn staat skep wat vir die mense werk. 

Bowenal moet ons seker maak dat die stygende gety elke Suid-Afrikaner lig. 

Soos wat die ekonomie groei, moet dit elkeen wat vir dekades op die kantlyn geleef het, in die kudde bring. 

Ons stryd teen misdaad moet voelbaar wees in die townships en informele nedersettings, asook in die voorstede.

Ons skole en hospitale behoort nie enige onderskei te tref tussen die mense wat oor hulle drumpels stap nie. 

Op díé manier kan ons ʼn sterker, meer veerkragtige en gelyke samelewing bou – een wat kop en skouers bo die wêreldnasies troon. 

Ons het inderdaad die draaipunt bereik. Nou moet ons na vore kyk en met spoed die toekoms betree. 

Ek dank u.

Issued by
More from

Share this page

Similar categories to explore