Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag 18 September 2024

A.    Kwessies in die omgewing

1.    Ekonomie

1.1    Positiewe ekonomiese aanwysers
1.1.1    Die Kabinet verwelkom die positiewe ekonomiese aanwysers soos aangedui deur Statistieke Suid-Afrika (StatsSA). 
1.1.2    Op 23 September 2024 het StatsSA ʼn 0.4% verhoging in die bruto binnelandse produk (BBP) in die tweede kwartaal van 2024 bekendgemaak. Hierdie verhoging is deur die verbetering van 1.7% groei jaar-na-jaar in die vervaardigingsektor beïnvloed. 
1.1.3    Die verbeterings in die vervaardigingsektor is deur vyf (5) van die tien (10) afdelings van die vervaardigingbedryf aangedryf, naamlik voedsel en drank, basiese staal en yster, nie-ysterhoudende metaalprodukte, metaalprodukte en masjinerie. 
1.1.4    Die herlewing van die vervaardigingsektor is ʼn noodsaaklike suksesfaktor in die herindustrialisering van Suid-Afrika se nywerheidsektor.  
1.1.5    Hierbenewens het die verbruikersprysindeks – die algehele koers van prysstyging in ʼn ekonomie – vir alle stedelike areas aangedui dat die jaarlikse inflasie vir Augustus 2024 4% was, ʼn afname van 4.6% in Julie 2024. Die jaarlikse inflasiekoers van goedere was 4.4%, ʼn afname van 4.6% in Julie 2024. Soortgelyke jaarlikse inflasiekoerse vir dienste was 4.5%, ʼn afname van 4.7% in Julie 2024. Sedert Maart 2024 was daar ʼn konsekwente verbetering in die verbruikersprysindeks.

1.2    Die herlewing van maatskappye in staatsbesit
1.2.1    Die Kabinet verwelkom die bestendige vordering wat gemaak word met die herlewing van die ondernemings in staatsbesit (SOK's); verbeterings in SOK-prestasie sal positief bydra tot Suid-Afrika se industrialiseringsveldtog. 
1.2.2    In dié opsig is dit merkwaardig dat Denel ʼn wins van R390 miljoen voor rente en belasting vir die 2023/24 finansiële jaar getoon het, met onreëlmatige uitgawes wat met 98% afgeneem het. PRASA maak goeie vordering om passasierstreine weer op dreef te kry, met 31 van die 40 spoorgange wat weer in werking is. Eskom se herstelplan lewer steeds positiewe uitslae, met beurtkrag wat vir meer as 175 dae opgeskort is, tot en met 18 September 2024.

2.    Stryd teen misdaad en korrupsie

2.1    Operasie Shanela
2.1.1    Die Kabinet verwelkom die vordering wat Operasie Shanela in die stryd teen misdaad gemaak het. Tussen 2 en 8 September 2024 het wetstoepassingsagentskappe 13 691 verdagtes vir ernstige misdaad soos moord, verkragting, die besit van onwettige vuurwapens en sakeroof in hegtenis geneem. Sedert Operasie Shanela in Mei 2023 van stapel gestuur is, het die inisiatief tot die inhegtenisname van 850 375 verdagtes en beslaglegging op 824 onwettige vuurwapens asook meer as 17 282 rondtes ammunisie gelei. Hierbenewens is daar in die afgelope twee maande op dwelms ter waarde van meer as R13 miljoen by OR Tambo Internasionale Lughawe beslag gelê, koper ter waarde van meer as R20 miljoen is in ʼn skrootwerf naby Durban opgespoor en een verdagte is in hegtenis geneem. 
2.1.2    Deur middel van gekoördineerde, multidissiplinêre en intelligensiegeleide inisiatiewe, fokus wetstoepassingsagentskappe daarop om afpersingsindikate regoor die land aan te keer en uit te roei. In die afgelope twee weke is 14 afpersers in verskeie provinsies in hegtenis geneem.

2.2    Herstel van wetstoepassingsbeamptes se integriteit
2.2.1    Danksy multidissiplinêre samewerking het wetstoepassingsagentskappe 14 verdagtes in Mpumalanga op aanklagte van bedrog en korrupsie in die uitreiking van onwettige leerlingrybewyse en rybewyse in hegtenis geneem. Elf verkeersbeamptes is ook in hegtenis geneem omdat hulle omkoopgelde van motoriste op die N1-hoofweg in Limpopo geëis het. 
2.2.2    Drie polisie-offisiere wat nienie aan diens was nie en ʼn landsburger, is in Durban, KZN in hegtenis geneem nadat hulle omkoopgeld ter waarde van R100 000 by ʼn sakeman geëis het in ruil vir die terugbesorging van gekonfiskeerde goedere. Daarna het nog vier polisie-offisiere hulself aan die SAPD oorgee oor dieselfde saak. 
2.2.3    Hierbenewens is agt verdagtes in Kaapstad in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by tenderbedrog en korrupsie ter waarde van R850 miljoen.

3.    Onderwys

3.1    Nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS)
3.1.1    Die Kabinet het ʼn beroep op alle kwalifiserende studente wat tersiêre onderwys betree of reeds deel daarvan is gedoen om aansoek te doen vir beurse en lenings by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) wanneer aanlynaansoeke vir die 2025 akademiese jaar op Vrydag, 20 September 2024 open. Om aansoek te doen, besoek my.nsfas.org.za.

3.2    Gewysigde Wetsontwerp op Basiese Onderwys (BELA-wet) 
3.2.1    Die Kabinet verwelkom die ondertekening van die BELA-wetgewing. President Cyril Ramaphosa se bekragtiging van hierdie wetgewing is ʼn merkwaardige stap in die proses van transformasie en die verbetering van ons basiese onderwystelsel. Hierdie mylpaalwetgewing vereis dat skoolbeheerliggame die taalbehoeftes van die groter gemeenskap in ag neem om inklusiwiteit in onderwys te verseker. 
3.2.2    As ʼn maatreël om vroeë kinderonderwys te verbeter, stel die BELA-wet graad R in as die nuwe verpligte intree-ouderdom tot formele onderwys. Dit hou ouers ook verantwoordbaar deur die versuim om te verseker dat hul kinders skool toe gaan te kriminaliseer.
3.2.3    Die Kabinet verwelkom verder die besluit van President Ramaphosa om 'n tydperk van 3 maande van betrokkenheid by 2 klousules rakende skooltoelating en taal toe te laat, as deel daarvan om nasionale samehorigheid te verseker.

4.    Gesondheid

4.1    MPOX-siekte 
4.1.1    Om die verspreiding van mpox te beperk, word almal in Suid-Afrika aangemoedig om nie-farmaseutiese maatreëls te volg. Dit sluit in die gereelde was van hande met seep en water of  ʼn alkoholgebaseerde handreiniger. 
4.1.2    Hoewel die risiko van wydverspreide mpox-oordrag in die land steeds laag is, is nog ʼn geval van mpox aangemeld, wat die aantal bevestigde gevalle in Suid-Afrika sedert die uitbreek in Mei 2024, op 25 te staan bring.

4.2    Uitbreek van bilharzia – Mopani-distrik in Limpopo
4.2.1    Die Kabinet is ingelig oor die uitbreek van bilharzia in die Groter Tzaneen Plaaslike Munisipaliteit in Mopani (Limpopo), waar 150 leerders positief vir bilharzia getoets het. 
4.2.2    ʼn Provinsiale taakmag is deur Limpopo se provinsiale regering tot stand gebring en pogings is onderweg om hierdie waterdraende siekte te beperk, aandag te gee aan die gevolge daarvan en watergehalte in gebiede wat geraak is, te toets.
4.2.3    Bilharzia word oorgedra deur kontak met besmette water. Die Kabinet moedig die publiek sterk aan om seker te maak dat kinders nie in water wat moontlik besmet is, swem of speel nie. 
4.2.4    Ouers en voogde moet kinders wat vermoedelik die siekte opgedoen het, dadelik na die naaste gesondheidsorgfasiliteit neem vir behandeling.

4.3    Uitbreek van bek-en-klouseer in die Sarah Baartman-distrik, Oos-Kaap
4.3.1    Die Kabinet doen ʼn beroep op alle veeboere om die beweging van diere te beperk nadat bek-en-klouseer in die Kouga en Koukamma munisipaliteite in die Sarah Baartman-distrik in die Oos-Kaap uitgebreek het.
4.3.2    Die bewegings van diere in en uit die gebied wat geraak is, word deurlopend gemonitor om die verspreiding van die siekte na plekke wat onaangeraak is, in terme van die siekte-bestuursarea, te voorkom. 
4.3.3    Die Kabinet herinner Suid-Afrikaners daaraan dat wanneer vee van een plek na ʼn ander vervoer word, ʼn vervoerpermit, wat deur ʼn plaaslike staatsveearts uitgereik is, verkry moet word.

5.    Bestuur van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE)

5.1    Die Kabinet verwelkom President Ramaphosa se besluit om ʼn verrekeningsmeganisme op regeringsvlak in plek te stel om aandags te gee aan kwessies wat partye in die RNE as fundamentele verskille en uiteenlopende sienings beskou.

B.    Kabinetsbesluite

1.    Publikasie van die konsepbeleid vir die uitfasering van die noodnommers 10177, 10111 en 107 vir openbare oorlegpleging 
1.1    Die Kabinet het die publikasie van die konsepbeleid vir die uitfasering van die noodnommers 10177, 10111 en 107 vir openbare oorlegpleging goedgekeur.
1.2    Die Kabinet het kennis geneem van die maatreëls wat in plek gestel is vir Suid-Afrika se oorgang na ʼn enkele noodnommer met die kortkode 112. Dit sal verseker dat mense onder druk en in noodsituasies nie ʼn magdom nommers hoef te probeer onthou wanneer hulle dringend nooddienste moet skakel of dat hul oproepe verkeerdelik deurgeskakel word nie. 

2.    Witskrif oor die Ontwikkeling en Bevordering van Toerisme in Suid-Afrika
2.1    Die Kabinet het die Witskrif oor die Ontwikkeling en Bevordering van Toerisme in Suid-Afrika vir openbare oorlegpleging goedgekeur. 
2.2    In 2023 het die Kabinet die publikasie van die Groenskrif oor die Ontwikkeling van Toersime in Suid-Afrika goedgekeur en kommentaar en voorstelle van alle betrokke partye is daarvolgens in die beleid opgeneem. Die witskrif bevat nou ʼn ooreengekome beleidsraamwerk en riglyne vir die ontwikkeling en bevordering van toerisme in Suid-Afrika. 
2.3    Die beleid sal entrepreneurskap in die toerisme-sektor bevorder en ʼn groter bydrae tot werkskepping deur die sektor bewerkstellig. Beleidsvoorstelle fokus ook op die belyning van die toerismebeleid met die huidige regeringsbeleidsraamwerke en die verbetering van die sektor se veerkragtigheid en vermoë om op krisissituasies te reageer. 

3.    Befondsingsbeleid vir klein, medium en mikro-ondernemings (KMMO’s) en koöperasies
3.1    Die Kabinet het die finale befondsingsbeleid vir KMMO’s en koöperasies vir implementering goedgekeur. Die beleid is daarop gemik om struikelblokke wat KMMO’s en koöperasies verhoed om finanssiële steun te verkry, uit die weg te ruim. Hierdie ingrypings sal ook die soomlose oorgang van informele na formele ondernemings en van klein na medium ondernemings bewerkstellig.
3.2    Die beleid tref voorsorg vir die skep van ʼn befondsingsomgewing vir teikengroepe soos die jeug, vroue en mense met gestremdhede. Die beleid vorm ook deel van ander ingrypings om kleinsakeondernemings te ondersteun, insluitend die nasionale geïntegreerde kleinsake-ontwikkelingsraamwerk wat in 2022 deur die Kabinet goedgekeur is.
3.3    Die regering het steun vir KMMO’s en koöperasies geprioritiseer omdat hierdie besighede die meeste werkskepping verskaf en die meeste geleenthede bied vir mense om geld te verdien en ʼn bestaan te voer. 
3.4    Die implementering van die strategie sal die kredietgaping in die KMMO-ekostelsel elimineer en ekonomiese groei, wat die staat se prioriteit is, bewerkstellig.

4.    Nasionale astro-toerisme: Strategie en implementeringsplan 2023-2033
4.1    Die Kabinet het die publikasie van die nasionale astro-toerisme strategie en implementeringsplan vir openbare oorlegpleging goedgekeur.
4.2    Die strategie is daarop gemik om Suid-Afrika as ʼn wêreldklas astro-toerismebestemming te vestig, wat ekonomiese ontwikkeling en werkskepping in die toerisme-sektor ʼn hupstoot sal gee. Suid-Afrika is die eerste Afrika-land wat ʼn nasionale astro-toerisme strategie ontwikkel; hierdie stap bevorder die diversifikasie van die land se toerisme-aantreklikheid. 
4.3    Die strategie fokus op verskeie pilare, naamlik infrastruktuurontwikkeling, die optimalisering van astronomie-toerismestrome, openbare-privaat-vennootskappe, inklusiewe toerisme en transformasie.
4.4    Suid-Afrika spog met verskeie unieke voordele wat die land die ideale bestemming vir astro-toerisme maak. Dit sluit in ’n onbesoedelde naghemele en gunstige weertoestande.
4.5    Die Departement van Toerisme, in samewerking met die Departement van Wetenskap en Innovering, sal die strategie vir nasionale astro-toerisme bekendstel tydens die Nasionale Toerismedag-vieringe op 27 September 2024 in die Noord-Kaap, waar die SKA-projek (Square Kilometer Array) geleë is.

5.    Omkeerplan vir munisipale bestuur en dienslewering
5.1    Die Kabinet het die voorsitter, lede en uitgebreide verwysingsraamwerk van die interministeriële komitee (IMK) vir die implementering van inisiatiewe om onderprestasie deur plaaslike regerings die hoof te bied, ontvang en goedgekeur. 
5.2    Die oorhoofse doel van die IMK is om toesig te hou oor die implementering van verskeie aktiwiteite om plaaslike regerings se onderprestering die hoof te bied met verskeie ingrypings op die volgende spesifieke gebiede:
i.    Professionalisering van plaaslike regerings
ii.    Verantwoordbaarheid, oorsig en bestuur van gevolge
iii.    Bestuur, politieke stabiliteit en administrasie
iv.    Finansiële bestuur en verbeterede oudituitkomste
iv.    Dienslewering en onderhoud van infrastruktuur
v.    Plaaslike ekonomiese ontwikkeling en ruimtelike beplanning, en
vii.    Inter- en intra-regeringsverhoudings.
5.3    Die IMK sal ingrypings in die munisipaliteite met die grootste nood prioritiseer.
5.4    Die Kabinet het voorts ook aangedui dat staatsdepartemente en openbare entiteite dringend hul skuld aan munisipaliteite moet delg. Nasionale Tesourie het die verantwoordelikheid om te verseker dat dit wel gedoen word. 

6.    Uitstaande munisipale skuld aan waterrade 
6.1    Die Kabinet het ʼn inligtingsessie gehou oor die toenemende en onvolhoubare munisipale skuld aan waterrade, wat nou die volhoubaarheid van die Vaal Sentrale Waterraad en Magalies Water bedreig. Teen einde Julie 2024 was daar R9.9 miljard aan die Vaal Sentrale Waterraad en R930 miljoen aan Magalies Water verskuldig, wat moontlik tot bankrotskap vir die twee rade kan lei. 
6.2    Gelde verskuldig aan waterrade het die potensiaal om die watervoorsiening aan selfs die munisapliteite wat wel hul waterrekeninge betaal, te bedreig.
6.3    Die Kabinet het goedgekeur dat ʼn IMK saamgestel word om aandag te gee aan munisipale omkeer. Die IMK sal ook ingrypings prioritiseer om terugbetaling van munisipale skuld aan waterrade, veral dié wat bankrotskap in die gesig staar, te hanteer. 

C.    Wetsontwerp

1.    Wetsontwerp op Tradisionele en Khoi-San-leierskap van 2024
1.1    Die Kabinet het die voorlegging van die Wetsontwerp op Tradisionele en Khoi-Sanleierskap van 2024 aan die Parlement goedgekeur. Die wetsontwerp is ‘n reaksie op die Grondwethof se uitspraak wat die Wet op Tradisionele en Khoi-San-leierskap, 2019 (Wet 3 van 2019) ongeldig verklaar het weens onvoldoende openbare deelname deur die Parlement. 
1.2    Die wetsontwerp bied ’n geleentheid aan die Parlement om die Grondwethof se bevel te gehoorsaam. Die Wet op Tradisionele en Khoi-Sanleierskap, 2019 het die Wet of Tradisionele Leierskap en Regeringsraamwerk, 2003 (Wet 41 van 2003) vervang. 

D.    Die Kabinet word op die hoogte van sake gebring
Uitkomste van die staatsbesoek aan die Volksrepubliek Sjina en deelname aan die forum vir Sjina-Afrika samewerking (FOCAC)
1.1    Die Kabinet is ingelig oor die uitkomste van die onlangse suksesvolle staatsbesoek aan die Volksrepubliek Sjina en die FOCAC-vergadering te Beijing in Sjina van 2 tot 6 September 2024. Die Kabinet neem kennis van die volgende sleuteluitkomste vir Suid-Afrika:
1.1.1    ʼn Ooreenkoms om die handelstruktuur te verander na meer togevoegde-waarde vervaardigingsgoedere, in besonder ʼn ooreenkoms om ʼn lys uit te ruil van 100 toegevoegde-waarde produkte vanuit Suid-Afrika wat deur Sjina vir invoere oorweeg sal word.
1.1.2    Hierbenewens het Suid-Afrika Sjina se samewerking in drie waardekettings verseker. Dit behels vermindering van koolstoofinhoud, digitalisering, vervoer en logistieke. Hierdie samewerking sal die weg baan vir die bevordering van beleggings in elektriese voertuie, die vervaardiging van batterye en die berging van hernubare energie, asook beleggings in spesiale ekonomiese sones en nywerheidsontwikkelingsones. 
1.1.3    Sleutelbeleggers van Sjina in beide Shenzhen en Beijing het belangstelling getoon om óf hul huidige beleggings uit te brei óf in nuwe konstruksieprojekte in Suid-Afrika te belê.
1.1.4    Memoranda van verstandhouding (MoU’s) is tydens die staatsbesoek onderteken. Hierdie MoU’s is gemik op die bevordering van samewerking tussen Sjina en Suid-Afrika.
1.1.5    Die MoU’s sluit die baanbreker MoU vir bek-en-klouseer in wat die beperkings op die uitvoer van beesvleis beperk tot spesifieke streke wat deur bek-en-klouseer geraak is en nie die hele land nie. Werk aan hierdie MoU is reeds tydens die 6e adminsitrasie onderneem.

1.    Vorderingsverslag oor die repatriasie van die oorskot van vryheidsvegters vanaf Zambië en Zimbabwe
2.1    Die Kabinet is ingelig oor die jongste reëlings om die sterflike oorskot van Suid-Afrika se vryheidsvegters wat in Zimbabwe en Zambië begrawe is, te repatrieer. Onder die oorskot wat na Suid-Afrika gerepatrieer sal word, is dié van prominente vryheidsvegters adv. Duma Nokwe, Mama Florence Mophosho en Basil February. 
2.2    Repatriasie van die oorskot vanaf Zambië en Zimbabwe is deel van die Weerstand- en Bevrydingserfenisroete-projek (RLHR). Die RLHR is ʼn nasionale nagedagtenisprojek, wat op die herdenking, viering, opvoeding, bevordering, bewaring en bou van ʼn blywende getuigskrif van Suid-Afrika se pad na vryheid gemik is.
2.3    ʼn Tuiskomseremonie sal op 27 September 2024 by die Waterkloof-lugmagbasis gehou word, wanneer die oorskot in Suid-Afrika land. 

2.    Versnelling van die implementering van grondhervorming
3.1    Die Kabinet het die vorderingsverslag oor die versnelling van die implementering van grondhervorming in die land ontvang en oorweeg. Die versnelling van die grondhervormingsprogram gee uiting aan die aanbevelings van die Presidensiële Adviespaneel vir Grondhervorming, wat in 2019 hul verslag en aanbevelings aan die Kabinet gelewer het. 
3.2    Verskeie programme vir die versnelling van grondhervorming word steeds geïmplementeer en die vordering daarmee is as volg aan die Kabinet oorgedra:
i.    Volgens die Wet op Transformasie van Sekere Landelike Gebiede, 1998 (Wet 94 van 1998), is altesaam 630 000 hektaar oorgedra.
ii.    Sowat 659 602 hektaar landbou-staatsgrond is vrygestel en toegewys.
iii.    Teen 31 Maart 2024 is sowat 83 205 grondeise afgehandel.
iv.    Sowat 2 895 935 hektaar grond is teen ʼn koste van R26.4 miljard aangeskaf.
vi.    Finansiële vergoeding van R26 miljard is aan begunstigdes toegeken.
vii.    Sowat 2 376 976 huishoudings is deur die vergoedingsprogram bevoordeel.
viii.    Die Kommisssie vir die Herstel van Gondregte beplan om 339 grondeise in die 2024/25 finansiële jaar af te handel. 

3.    Lesotho Hoogland-tonnel gesluit vir beplande instandhouding
4.1    Die Kabinet is ingelig dat die Lesotho Hoogland-waterprojek se tonnel van 1 Oktober 2024 tot 31 Maart 2025 vir beplande instandhouding gesluit sal wees.
4.2    Die beplande instandhoudingswerk is noodsaaklik om die infrastruktuur vir ʼn verdere 20 tot 30 jaar te beskerm. Indien hierdie instandhouding nie uitgevoer word nie, hou dit ʼn risiko in vir die lewering van water aan die geïntegreerde Vaalrivierstelsel (IVRS), wat die water wat aan Rand Water verskaf word, aan hul kliënte asook al die munisipaliteite in Gauteng lewer.
4.3    ʼn Deeglike analise is deur die Departement van Water en Sanitasie (DWS) onderneem om die risiko aan die dienslewering van die IVRS te bepaal. Die analise het bevestig dat die impak van die sluiting van die tonnel op die oorhoofse IVRS minimaal sal wees, aangesien meeste damme in die IVRS tans vol is.
4.4    Die Kabinet het kennis geneem dat bestaande ontwrigtings in watertoevoer in Gauteng en in sommige Vrystaatse munispaliteite nie verwant is aan die sluiting van die tonnel nie. Die Kabinet het ook kennis geneem dat die DWS munisipaliteite steun om met belanghebbendes in gesprek te voer oor die sluiting van die Lesotho-hooglandtonnel. 
4.5    Die Kabinet het verder ook kennis geneem dat hoë bevolkingsgroei, gebrek aan instandhouding van infrastruktuur, gebrek aan afdwinging van verordeninge, asook vertragings in die implementering van fase 2 van die Lesotho Hoogland-waterprojek geweldig bygedra het tot die huidige waterontwrigtings in Gauteng. Die voltooiing van die Lesotho Hoogland-waterprojek sal egter verligting bring indien dit aangevul word met watervraagbestuuringrypings, die gebruik van nuwe waterbesparingstegnologieë en behoorlike instandhouding van die infrastruktuur. 
4.6    Die Kabinet het kennis geneem dat die DWS sedert Februarie 2022 gereedheidsvergaderings met die Vrystaatse munisipaliteite het, wat water vanuit die Liebenbergsvleirivier ontvang om enige risiko’s van diensonderbrekings tydens die tonnelinstandhouding te verminder. Vertragings deur die munisiplaiteite om hul infrastruktuur op te gradeer of op te knap bly egter steeds ʼn uitdaging. Die Kabinet neem kennis dat die DWS die situasie sal monitor en, waar nodig, sal ingryp om hierdie munisipaliteite te steun. 

4.    Waterbeperkings in Gauteng
5.1    Die Kabinet is ingelig oor die implementering van vlak 1 waterbeperkings in Gauteng. Hierdie beperkings is nodig omdat Rand Water hul maksimumwateruitset vanaf die IVRS bereik het. 
5.2    Die aanvraag na water in Gauteng neem steeds toe weens die hoë bevolkingsgroei; ʼn verhoging in nie-inkomstegenererende waterlewering in munisipale stelsels, insluitend onwettige en ongefaktureer wateraansluitings; en gebrek aan instandhouding wat lei tot groot waterlekkasies, wat tans ʼn gemiddeld van 33% in Gautengse munisipaliteite beloop.
5.3    Die spitstydaanvraag vir water vanaf Rand Water se munisipale kliënte is na aan en soms meer as die beskikbare toevoer vanuit behandelingsaanlegte en bergingsreservoirs.
5.4    Om strenger beperkings te vermy, moet Gautengse munisipaliteite die herstel van waterlekke in hul waterverspreidingstelsels prioritiseer en beperkings op die gebruik van water afdwing. 
5.5    Die DWS, Rand Water en Gautengse munisipaliteite is in vennootskap met die Wêreldbank se 2020 waterhulpbronnegroep om ’n massabewustheid- en kommunikasieveldtog oor die spaarsamige gebruik van water van stapel te stuur, in samewerking met die burgerlike samelewing en sakeleiers. 

E.    Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.
•    Kaptein Rufus Lekala as die hoofuitvoerende beampte (HUB) van die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsgesag vir vyf jaar.
•    Mnr. Luvuyo Xola Ntoyi as die HUB van die Vaal Sentrale Waterraad vir vyf jaar. 
•    Mnr. Gift Zowa as die HUB van Broadband Infraco vir vyf jaar. 

F.    Toekomstige gebeure
1.    Erfenisdag
1.1    Adjunkpresident Mashatile sal op Dinsdag, 24 September 2024 die hoofrede lewer by die land se amptelike Erfenisdagvieringe by die Meqheleng-stadion in Ficksburg in die Vrystaat. Dit word herdenk onder die tema: ‘Vier die lewens van ons helde en heldinne wat vir ons vryheid gesterf het’ (“Celebrating the lives of our heroes and heroines who laid down their lives for our freedom.”)
1.2    Met die herdenking van Erfenisdag bring ons hulde aan die helde en heldinne wat hul lewens opgeoffer het in die stryd om ons nasie te bevry, veral die vryheidsvegters wat deur die apartheidsregering tot ballingskap gedwing is en in die buiteland gesterf het.
1.3    ʼn Tuiskoms-seremonie sal op 27 September 2024 gehou word wanneer die sterflike oorskot van verskeie struggle-helde vanuit Zambië en Zimbabwe aan Suid-Afrika terugbesorg word as deel van ons ballingskaprepatriasieprojek. 
1.4    As deel van die vieringe tydens Erfenismaand sal die regering ʼn fees van inheemse spele tussen 24 en 29 September 2024 in die Vrystaat aanbied om inheemse spele, musiek, dans, kookkuns en handwerk ten toon te stel.

2.    Staatsdiensmaand (PSM)
2.1     Met die herdenking van Staatsdiensmaand sal die regering vandeesweek op die werkers fokus wat ons land met trots en onderskeiding in die frontlinie dien. Tydens hierdie week sal ons ook ons land se Thusong-dienssentrums vereer, wat toegang tot inligting en dienste aan die samelewing bewerkstellig.

3.    Doofheid-bewustheidweek
3.1    Suid-Afrika sal Internasionale Doofheid-bewustheidsweek van 23 tot 29 September 2024 saam met die internasionale gemeenskap vier.  Vanjaar se tema is: ‘Teken in vir Gebaretaalregte’ (“Sign up for Sign Language Rights”).

4.    Brasilië, Rusland, Indië, Sjina and Suid-Afrika (BRICS) spitsberaad
4.1    Ter voorbereiding van die komende 2024 BRICS-spitsberaad in Rusland, wat van 22 tot 24 Oktober 2024 plaasvind, woon Suid-Afrika tans verskeie voorbereidingsvergaderings by om ons insette in die bespreking van sleutelkwessies te versker en om die gedeelde belange van die groep te bevorder.

5.    Internasionale konferensie oor die teorie en praktyk van elektroniese bestuur
5.1    Die Departement van Openbare Diens en Administrasie, in samewerking met die Universiteit van die Witwatersrand se Bestuurskool, sal die 17e internasionale konferensie oor die teorie en praktyk van elektroniese bestuur aanbied van 1 tot 4 Oktober 2024 met die tema: Vertroue en Etiese Regeringsbestuur vir die Wêreld wat ons wil hê (“Trust and Ethical Governance for the World We Want.”)

G.    Boodskappe

1.    Gelukwense
Die Kabinet wens die volgende spanne geluk: 
•    Die Suid-Afrikaanse paralimpiese span met hul uitstekende prestasie by die 2024 Paralimpiese Spele in Parys, Frankryk waar hulle ses medaljes verower het.
•    Simoné Kruger, wat ’n goue medalje in die F38-diskusgooi by die Paralimpiese Spele verower het. 
•    Fietsryer Nicolas Pieter du Preez, wat ’n bronsmedalje in die H1-individuele tydren vir mans by die Paralimpiese Spele verower het.
•    Donald Ramphadi en Lucas Sithole, wat bronsmedaljes in die kwadrupleeg-rolstoeltennis dubbelspel by die Paralimpiese Spele verower het. 
•    Wêreldkampioene, ons Springbokspan, vir hul epiese dubbele seges oor Nieu-Seeland in die rugbykampioenskapsreeks. Die Springbokke bly onoorwonne in die rugby-kampioenskapsreeks en sal in hul volgende wedstryd teen Argentinië te staan kom. 
•    Die Suid-Afrikaanse musikant Tyla, wat geskiedenis gemaak het as die eerste Suid-Afrikaner wat ʼn MTV Video Musiek-toekenning wen.
•    Die Suid-Afrikaanse span wat by die World Skills-konferensie 2024 in Frankryk die room van ons nasie se talente en vaardighede ten toon gestel het. 
•    Die Kabinet wens die Douglas-keerwal in die Noord-Kaap geluk met sy benoeming as ʼn Wêrelderfenis-besproeiingstruktuur deur die Internasionale Kommissie vir Besproeiing en Dreinering. Dit is die eerste keer dat ʼn Suid-Afrikaanse besproeiingstruktuur hierdie toekenning ontvang. Die 130-jaar-oue keerwal word deur die DWS onderhou en vorm deel van die sentrale infrastruktuur van die Onder-Oranje Vaal-waterverbruikersorganisasie, wat water aan ongeveer 8 113 ha onder besproeiing voorsien. 
•    Die Kabinet en President Ramaphosa wens Sy Eksellensie President Abdelmadjid Tebboune geluk met sy herverkiesing as president van die Demokratiese Volksrepubliek Algerië. Die Kabinet sien daarna uit om bilaterale verhoudinge met die regering en die mense van Algerië te versterk. 

2.    Medelye
Die Kabinet betuig sy meegeveol met die naasbestaandes en vriende van: 
•    Mnr. Pravin Gordhan, wat in die voorste linie geveg het teen staatskaping en onvermoeid gewerk het om die grondreëls en beginsels van goeie bestuur te bevorder. Deur sy lang loopbaan in diens van die nasie het hy in verskeie ministeriële portefeuljes asook as Kommisaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gedien. Sy bydraes was van kritieke belang vir Suid-Afrika se ekonomiese ontwikkeling, waar hy gepleit het vir deursigtigheid, aanspreeklikheid en die uitroei van korrupsie. Hy was ʼn anti-Apartheidsaktivis wat sy lewe gewy het aan die bevryding van ons nasie. 
•    Me. Regina Brookes, die anti-Apartheidsaktivis wat die Wysigingswet op Immoraliteit in die 1950’s trotseer het en deur die apartheidsregering geteister is omdat sy as blanke vrou tussen swartmense gewoon het. In 1955 het sy versoek om as “gekleurde” herklassifiseer te word sodat sy wettig tussen swartmense kon woon. 
•    Die bekroonde skrywer, digter en aktivis, mnr. James Matthews,  ʼn geagte lid  van die Nasionale Orde van Ikamanga. Hy is in 2004 met die orde vereer vir sy uitstekende prestasies in letterkunde, sy bydrae tot joernalistiek en sy inspirerende verbintenis tot die stryd vir ʼn nie-rassige Suid-Afrika.
•    Kwaito-legende, mnr. Sandile Ngwenya, beter bekend as Mapaputsi, wat ʼn geweldige groot bydrae tot die evolusie van kwaito-musiek gelewer het.
•    Die akteurs Darlington Michaels, Sello Motloung en Paul Lückhoff, wat deur hul werk die plaaslike film- en vermaaklikheidsbedryf bevorder het.
•    Die legendariese komediant, mnr. Philani Mabanga, beter bekend as ‘Mfundisi Ntshebe’, wat ons laat skater en vermaak het met sy fiktiewe komiese musiek.

Navrae: 
Me. Nomonde Mnukwa – Waarnemende Kabinetswoordvoerder 
Selfoon: 083 653 7485

 

 

Share this page

Similar categories to explore