A. Kwessies in die omgewing
1. Ekonomie
1.1 Operasie Vulindlela Fase II
1.1.1 Op 7 Mei 2025 het President Cyril Ramaphosa die tweede fase van Operasie Vulindlela (OV Fase II) van stapel gestuur. Dit is die regering se hervormingsprogram wat daarop gemik is om inklusiewe ekonomiese groei aan te dryf en werksgeleenthehede te skep.
1.1.2 Die OV Fase II sal toesien dat die hervormings wat in die 6de Administrasie ten opsigte van energie, water, logistiek, en telekommunikasie begin is, voltooi word. Nuwe fokus-areas in die plaaslike regeringstelsel sal ook bekendgestel word om die lewering van basiese dienste en ruimtelike beplanning te verbeter.
1.2 Die regering se besigheidsvennote
1.2.1 Die Kabinet het die uitkomste van die vorderingsoorsigvergadering van die regering se inisiatiewe vir besigheidsvennote verwelkom. Die vennootskappe fokus daarop om die implementering van sleutel hervormings en prioriteitsinisiatiewe wat daarop gemik is om ekonomiese groei en werkskepping aan te dryf, te ondersteun.
1.2.2 Die vordering wat gemaak is behels ontwikkeling van die nasionale wieleraamwerk, die verbetering van Transnet se prestasie en die elektroniese reismagtiging-visum.
1.2.3 ’n Prioriteitsaksieplan vir die daaropvolgende stappe is aanvaar. Gesamentlike spanne sal vordering monitor en knelpunte elke ses weke oplos.
1.3 Versoek vir kommentaar oor die Transformasiefonds
1.3.1 Die kabinet het kennis geneem van die belangstelling in die Transformasiefonds en moedig Suid-Afrikaners aan om aktief aan die konsultasieproses deel te neem soos aangekondig deur die Departement van Handel en Nywerheid en Mededinging (DTIC).
1.3.2 Die implementering van die Transformasiefonds sal ons grondwetlike verbintenis tot ekonomiese herstel en transformasie bevorder as deel van die omkeer van die die apartheidsera se ongebalanseerde beleid.
1.3.3 Kommentaar kan na die DTIC se webblad gestuur word by www.dtic.gov.za.
1.4 Kwartaallikse ondersoek na die arbeidsmag
1.4.1 Die Kabinet het kennis geneem van Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) se ondersoek na die arbeidsmag, wat aandui dat werkloosheid van 31.9% in die laaste kwartaaal van verlede jaar tot 32.9% in die eerste kwartaal van 2025 gestyg het.
1.4.2 In vyf van 10 nywerhede wat deur Stats SA gevolg is, het werksgeleenthede toegeem, veral in vervoer en finansies, terwyl die grootste verlies aan werksgeleenthede in die handel en konstruksiesektore aangedui is.
1.4.3 Die Kabinet bly daartoe verbind om ekonomiese groei te bevorder wat werksgeleenthede skep.
1.5 Suid-Afrika: ’n trotse nasie
1.5.1 Suid-Afrika is deur die 2024 Wanderlust Reader Travel Awards benoem as die 7de mees begeerlike land om wêreldwyd te besoek. Die land het ook goue status in die wild- en natuurkategorie behaal.
1.5.2 Hierbenewens is Suid-Afrika ook in Remitly se Big 5 Persoonlikheidstoets as die wêreld se vriendelikste nasie aangewys, wat die warmte en gasvryheid van Suid-Afrikaners beklemtoon, terwyl die Stad Kaapstad as die 5de gewildste stad op die wêreldwye ranglys aangewys is.
2. Internasionaal
2.1 Werkbesoek aan die Ivoorkus
2.1.1 Die Kabinet het die President se werkbesoek aan die Ivoorkus verwelkom. Dit het saamgval met die 12de Africa CEO Forum op 12 en 13 Mei 2025 om bestaande bilaterale verhoudinge tussen die twee lande te konsolideer. President Ramaphosa het ’n bilaterale vergadering met Sy Eksellensie mnr Alassane Ouattara, President van die Republiek van die Ivoorkus gehou om sake van onderlinge belang te bespreek. Albei het hulle daartoe verbind om bilaterale bande te versterk en die handel tussen die twee lande te bevorder.
2.2 G-20
2.2.1 Suid-Afrika bied steeds 'n reeks hoëvlak G20-groepvergaderings aan ter voorbereiding vir die G20-beraad in November 2025 onder die tema: "Solidariteit, Gelykheid en Volhoubaarheid." Die volgende vergaderings is gedurende Mei gehou:
2.2.1.1 Die G20 se Konferensie oor Finansiële Insluiting en Vrouebemagtiging van 6 tot 9 Mei 2025 in Noord-Wes was daarop gemik om toekomstige G20-beleid te beïnvloed deur 'n riglynraamwerk vir die hoofstroom van vroue se prioriteite te vestig, en om te verseker dat die finansiële bemagtiging van vroue sentraal bly in globale institusionele en ekonomiese hervormings.
2.2.1.2 Die tweede G20 se Kultuurwerkgroepsessie, wat op 5 en 6 Mei 2025 in Gauteng gehou is, het die ontwikkeling van globale kultuurbeleid met verreikende sosiale en ekonomiese implikasies bespreek. Dit het daarop gefokus om die prioriteite van Agenda 2063, die VN se Volhoubare Ontwikkelingsteikens en die beskerming van erfenis as ’n mensereg te belyn.
2.2.1.3 Die derde vergadering van die Gesondheidswerksgroep, wat virtueel op 8 en 9 Mei 2025 gehou is, het gefokus op gesondheidsorgwerkers, wat die fondament vir gesondheidstelsels en van universele gesondheidsdekking, gesondheidsveiligheid, gelykheid en inklusiewe groei is.
2.2.1.4 Die tweede vergadering van die Toerismewerkgroep, wat van 11 tot 13 Mei 2025 in KwaZulu-Natal gehou is, het besin oor die G20-toerismeprioriteite om volhoubare toerismegroei en die ontwikkeling van 'n G20-toerisme-aksieplan te bevorder.
2.2.1.5 Die Tweede Taakspan 1 se vergadering oor inklusiewe ekonomiese groei, industrialisasie, indiensneming, en verminderde ongelykheid is virtueel van 14 tot 15 Mei 2025 gehou.
2.3 VSA vlugtelinge-evaluering
2.3.1 Die besluit van die Verenigde State om vlugtelingstatus aan 'n groep Afrikaner Suid-Afrikaners te verleen, is verkeerd ingelig, aangesien hulle nie aan die definisie van vlugtelinge voldoen soos uiteengesit in die 1951 Vlugtelingkonvensie en sy 1967 Protokol nie.
2.3.2 Die Kabinet het verder beklemtoon dat die bewerings van diskriminasie ongegrond is en nie aan die drempel van vervolging wat vereis word ingevolge die binnelandse en internasionale vlugtelingreg voldoen nie.
2.3.3 Boonop ondersteun die Suid-Afrikaanse Polisiediens se statistieke oor plaasverwante misdade nie bewerings van geweldsmisdaad of volksmoord wat op boere in die algemeen of enige rassegroep gemik is nie.
2.3.4 Die Kabinet weerlê die narratief deur die regering van die Verenigde State van Amerika en bly oop vir konstruktiewe betrokkenheid om 'n beter en gemeenskaplike begrip oor hierdie sake te deel.
2.4 Onttrekking van SANW uit die oostelike DRK
2.4.1 Die Kabinet is op die hoogte gebring van die gefaseerde onttrekking van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) uit die oostelike Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), na die beëindiging van die mandaat van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se missie in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Die besluit volg op uitgebreide diplomatieke verbintenisse en AU/SADC/EAC-inisiatiewe om 'n onderhandelde skikking tussen Kongolese aan te moedig.
2.4.2 Die Kabinet prys die toewyding van die SANW-lede wat met eer, trots en dapperheid gedien het ter bevordering van die AU-agenda wat daarop gemik is om die gewere onder baie uitdagende omstandighede stil te maak.
3. Bestuur
3.1 Die Suid-Afrikaanse Regering se Digitale Transformasiepadkaart
3.1.1 Die Kabinet het die bekendstelling van die Suid-Afrikaanse Regering se Digitale Transformasiepadkaart verwelkom. Dit is deel van die regering se planne om dienslewering te verbeter en ekonomiese groei te bevorder deur beleggings in digitale innovasie.
3.1.2 Die padkaart, wat deel is van OV Fase II, stel 'n gefokusde pad uiteen om die lewering van regeringsdienste te moderniseer deur belegging in digitale openbare infrastruktuur.
4. Geregtigheid, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit
4.1 Regterlike Kommissie van Ondersoek om WVK-sake te ondersoek
4.1.1 Die Kabinet verwelkom die stigting van 'n regterlike kommissie van ondersoek om vas te stel of pogings aangewend is om die ondersoek of vervolging van misdade uit die apartheidsera wat deur die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK) na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys is, te voorkom. Die stigting van die Kommissie van Ondersoek is die uitkoms van skikkingsbesprekings in 'n hofaansoek wat deur families van slagoffers van misdade uit die apartheidsera ingedien is.
4.1.2 Deur hierdie kommissie is President Ramaphosa vasbeslote dat die ware feite na vore sal kom en dat die saak finaal afgehandel kan word.
4.2 Misdaad
4.2.1 Die Kabinet prys voortgesette SAPD-operasies wat daarop gemik was om GGGV-verwante misdade te voorkom en te bestry. Dit het daartoe gelei dat 224 verdagtes vir verkragting sowel as vyf verdagtes vir poging tot verkragting in hegtenis geneem is. Onder diegene wat van 5 tot 11 Mei 2025 op aanklagte van verkragting in hegtenis geneem is, is 'n SAPD-opleier, 'n Inkosi van KwaZulu-Natal en 'n 15-jarige seun in Mpumalanga.
4.2.2 Hierbenewens is 148 verdagtes in hegtenis geneem vir poging tot moord, 256 verdagtes is in hegtenis geneem vir dwelmhandel, 2 841 verdagtes is in hegtenis geneem vir die besit van dwelms en 86 gekaapte en gesteelde voertuie is teruggevind. Verder is 74 plofstoftoestelle wat meestal in onwettige mynbou- en kontant-in-transitorooftogte gebruik is, deur die Noordwes-polisie in beslag geneem. Die SAPD voer ook steeds meer intensiewe operasies uit om onwettige vuurwapens te konfiskeer en gemeenskappe se veiligheid te verseker. Die SAPD lê elke week beslag op nie minder nie as 100 onwettige vuurwapens regoor die land.
4.3 Stryd teen GGGV
4.3.1 Die Kabinet het kennis geneem van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se besluit om teen die vryspreking van Timothy Omotoso en sy twee medebeskuldigdes in die Oos-Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof in Gqeberha te appelleer.
4.3.2 Die Kabinet het 'n 90-dae intensiewe program teen Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord (GGGV) deur die JCPS-kluster goedgekeur. Dit is 'n korttermyn-tusenkoms wat daarop gemik is om die implementering van die Nasionale Strategiese Plan oor GGGV 'n hupstoot te gee. Die plan identifiseer 19 fokusareas en spesifieke tasbare, lewerbare doelwitte wat in die 90 dae uitgevoer moet word met die doel om die opwaartse neiging van GGGV in die land te stuit en om te keer.
4.3.3 Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (NatJoint) het 'n prioriteitskomitee gestig wat uit agt spesifieke werkstrome bestaan. Die prioriteitskomitee het ses dringende en treffende tussenkomste geïdentifiseer wat binne die 90 dae geïmplementeer moet word. Dit sluit in:
(a) Voorkoming: fokus op opvoeding en bewustheid vir gedragsverandering vir alle Suid-Afrikaners.
(b) Afdwinging van die wet, sorg en ondersteuning wat moet verseker dat die strafregstelsel versterk word sodat oortreders aanspreeklik gehou word.
(c) Regstelling van die Wetlike en Regulatoriese Raamwerk sodat ons beter uitkomste in die stelsel kan behaal.
(d) Strenger en doeltreffender bestuur van data en inligting om doeltreffendheid in die geïntegreerde regstelsel te versterk.
(e) Kommunikasie, vennootskappe en gemeenskapsmobilisering om seker te maak dat die regering in sy geheel, sowel as die burgerlike samelewing en burgers saamwerk vir beter uitkomste teen die GGGV-plaag; en
(f) Die benutting van hulpbronne, finansieel sowel as menslik, om te verseker dat ons as 'n samelewing beter georganiseerd is om die GGGV-plaag te beveg.
B. Opdaterings aan die Kabinet
1. Voorsiening van skoon water aan Hammanskraal
1.1. Die Kabinet is op die hoogte gebring met vorderig ten opsigte van die voortgesette tussenkomste om die voorsiening van skoon drinkwater aan die gemeenskap van Hamanskraal te verseker.
1.2. Die Departement van Water en Sanitasie het Magalies Water in 2023 aangestel om 'n pakketaanleg op te rig om watervoorsieningsuitdagings in die Hammanskraal-gebied die hoof te bied.
1.3. Die pakketaanleg word in vier modules gebou; die eerste module is in November 2024 voltooi en het in sommige gebiede water begin voorsien. Die plan is om die oorblywende modules teen einde Augustus 2025 te voltooi, maar met verskeie datums vir voltooiing voor daardie datum.
2. Tussenkomstee om wateruitdagings in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit die hooof te bied
2.1. Die Kabinet het 'n vorderingsverslag ontvang oor die implementering van die Wet op Waterdienste Artikel 63-tussenkoms in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit. Probleme met rioolplundering in gemeenskappe in Emfuleni is al baie lank aan die orde van de dag.
2.2. Die Departement van Water en Sanitasie beplan om meer as R7 miljard in die volgende sewe jaar te bestee om Emfuleni se wateruitdagings die hoof te bied; dit sluit die opgraderings en opknapping van bestaande afvalwaterbehandelingswerke in.
2.3. Beduidende vordering is tot op hede gemaak, insluitend die oopmaak van geblokkeerde rioolpype, die vervanging van ingestorte rioolpype, die opknapping van pompstasies en bystand aan munisipaliteite met voertuie, vragmotors, rioolpompe en sekuriteit vir sy water- en sanitasie-infrastruktuur.
2.4. Hierdie werk het gelei tot 'n groot vermindering in rioolstorting in Emfuleni se gemeenskappe, asook 'n verbetering in die vlakke van afvalwater van die afvalwaterbehandelingswerke.
C. Kabinetsbesluite
1. Konsep Nasionale Polisiebeleid (NPB)
1.1. Die Kabinet het die konsep Nasionale Polisiebeleid goedgekeur, wat die regering se breë planne uiteensit om aandag te gee aan tekortkominge in die mandaat van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om misdaad te bestry. Die NPB sal uitdagings soos onvoldoende polisiestasies en kapasiteitsprobleme aanpak en verseker dat infrastruktuur gegrond is op behoorlike norme en standaarde.
1.2. Belangrike beleidsvoorstelle sluit in die skep van professionele en hoë-gehalte polisiëring, die verskaffing van doeltreffende polisiëringsdienslewering, die verbetering van legitimiteit en vertroue tussen gemeenskappe en die polisie, en die bou van 'n sterk en etiese leierskap-, bestuurs- en regeringstruktuur binne die SAPD.
2. Omvattende Burgerlugvaartbeleid
2.1. Die Kabinet het die konsep Omvattende Burgerlugvaartbeleid vir openbare kommentaar goedgekeur.
2.2. Die beleid bevorder die ontwikkeling van 'n doeltreffende en produktiewe lugvaartbedryf wat in 'n vinnig-veranderende globale omgewing kan meeding. Die beleid stel maatreëls voor om onder meer veiligheid en sekuriteit, lugnavigasiedienste, lughawe-infrastruktuur en die gehalte van lugvaartdienste te verbeter, terwyl dit bydra tot ekonomiese groei.
3. Kritieke Minerale Strategie vir Suid-Afrika
3.1. Die Kabinet het die Kritieke Minerale Strategie vir Suid-Afrika goedgekeur. Hierdie strategie is daarop gemik om die land se potensiaal in die globale mark van kritieke minerale te maksimaliseer, veral dié wat noodsaaklik is vir die land se regverdige energie-oorgangsplan en dié wat die land 'n vergelykende voordeel gee. Dit sluit in die platinumgroepmetale (PGM’s), litium, kobalt en seldsame aard-elemente, wat noodsaaklik is vir tegnologieë soos elektriese voertuie, hernubare energie en ander groen inisiatiewe.
3.2. Sleutelpilare van die strategie fokus op ontginning en veredeling; belegging; lokalisering; stroomlyning van regulasies, bevordering van innovasie in mynboutegnologieë; bou van werkers se vaardighede; verbetering van vervoer- en logistieke infrastruktuur, en die aansporing van belegging.
3.3. Die strategie erken verder die belangrikheid van samewerking met ander lande om die potensiaal van Suid-Afrika se kritieke mineraalsektor te ontwikkel.
D. Wetsontwerpe
1. Wysigingswetsontwerp op Algemene (Familie) Wette van 2025
1.1. Die Kabinet het die indiening van die Wysigingswetsontwerp op Algemene (Familie) Wette van 2025 aan die Parlement goedgekeur. Die wysigings is daarop gemik om die grondwetlikheid van familiewette te versterk en stel wysigings voor aan die Egskeidingswet, 1979 (Wet 70 van 1979), die Wet op Huweliksgoedere, 1984 (Wet 84 van 1984) en die Wet op Bemiddeling in Sekere Egskeidingsaangeleenthede, 1987 (Wet 24 van 1987).
1.2. Die Wetsontwerp poog om die grondwetlike regte van partye by huwelike buite gemeenskap van goedere te beskerm, en veral vroueregte, gelykheid, toegang tot howe en die regte van kinders.
2. Die Wetsontwerp op Uitlewering
2.1. Die Kabinet het die voorlegging van die Wetsontwerp op Uitlewering aan die Parlement vir verdere verwerking goedgekeur.
2.2. Die Wetsontwerp beoog om die huidige verouderde Wet op Uitlewering, 1962 (Wet 67 van 1962), te wysig
2.3. Die huidige Wet is nie in lyn met die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996 en moderne uitleweringspraktyke nie, en dit maak nie voorsiening vir alle prosedures wat internasionaal gevolg word nie.
2.4. Die Wetsontwerp beoog om die wetlike raamwerk te versterk om uitvoering te kan gee aan die uitlewering van mense wat beskuldig is of skuldig bevind word aan misdaad na en van Suid-Afrika, en buitelandse state en internasionale entiteite. Dit verduidelik die rol van landdroste in uitleweringsprosedures en maak voorsiening vir 'n voorlopige inhegtenisneming en die oorgawe van 'n persoon wat deur 'n internasionale entiteit gesoek word oor internasionale misdade soos volksmoord, oorlogsmisdade en misdaad teen die mensdom.
3. Wysigingswetsontwerp op Internasionale Samewerking in Kriminele Sake, 2025
3.1. Die Kabinet het die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op Internasionale Samewerking in Strafregtelike Sake aan die Parlement goedgekeur.
3.2. Die doel van die Wetsontwerp is om die Wet op Internasionale Samewerking in Strafregtelike Sake (Wet 75 van 1996) te wysig om die doeltreffendheid van internasionale regsamewerking in strafregtelike sake te verbeter.
3.3. Hierdie Wetsontwerp sal die prosesse en meganismes vir internasionale samewerking in strafregtelike sake, soos die insameling van bewysstukke en die uitvoering van vonnisse tussen Suid-Afrika en ander lande versterk. Die Wetsontwerp sal ook regskwessies aanspreek wat verband hou met die uitlewering van misdadigers, sowel as die konfiskering en oordrag van opbrengste van misdaad.
4. Wysigingswetsontwerp op Minerale Grondstowwe-ontwikkeling van 2025
4.1. Die Kabinet het die publikasie van die Wetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale Hulpbronne van 2025 vir openbare kommentaar goedgekeur.
4.2. Die Wetsontwerp is daarop gemik om beleggersvertroue te verhoog deur rompslomp te verwyder en regulatoriese sekerheid te bied om beleggings te lok en te behou.
4.3. Die Wetsontwerp is daarop gemik om belangrike regulatoriese gapings te ondersoek, lisensiëringsprosesse te stroomlyn, billike verspreiding van mynvoordele te verseker, en die bevordering van plaaslike verwerkings- en vervaardigingsbedrywe deur te verseker dat meer rou minerale in hoërwaardeprodukte binne Suid-Afrika omskep word.
4.4. Die wetsontwerp stel 'n lisensiëringstelsel vir vakman- en kleinskaalse mynboubedrywighede in, wat ekonomiese groei bevorder. Verder poog die wysigings om regulatoriese maatreëls te versterk wat onwettige aktiwiteite bestry terwyl duidelike verbodsbepalings en afdwingmeganismes met betrekking tot onwettige mynbou verseker word.
E. Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike sekerheidsklarings
1. Dr Mlungisi Bhekizizwe Gabriel Cele die Direkteur-Generaal (DG) by die Departement van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie.
2. Dr Sabelo Siyabonga Sandile Buthelezi as DG by die Department Gesondheid (verlenging van kontrak).
3. Mnr Takalani Lucky Ramaru as Adjunk Direkteur-Generaal: Burgerlike Toesig en Strategiese Vennootskappe by die Departement van Burgerlike Sekretariaat vir Polisiediens.
4. Mnr Patrick Dlamini as Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van die Openbare Beleggingskorporasie.
5. Mnr Mokgema Mongane as Uitvoerende Hoof van die Inkomati-Usuthu-opvanggebiedbestuursagentskap.
6. Mnr Ofentse Nthutang as die HUB van Magalies Water.
7. Aanstellings om vakatures van nie-uitvoerende direkteure in die Raad van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika te vul:
(a) Mnr Malemolla David Makhura; en
(b) Me Lynette Milne.
F. Gebeure
1. Komende Konferensies
1.1 Aanbied van die 27ste Internasionale Kriminele Polisie Organisasie (INTERPOL) Afrika Streekskonferensie
a) Die Kabinet het goedgekeur dat die SAPD die 27ste INTERPOL Afrika-streekskonferensie van 27 tot 29 Augustus 2025 aanbied.
b) INTERPOL het tans 196 lidlande en die aanbied van die Afrika-streekskonferensie sal Suid-Afrika help om nouer werksverhoudinge met ander wetstoepassingsagentskappe op die vasteland te smee.
c) Die aanbied van hierdie konferensie gee Suid-Afrika die geleentheid om met lande op die vasteland van Afrika te skakel oor kritieke kwessies rakende misdaad. Hierdie samewerking het die potensiaal om 'n ooreenkoms te bewerkstellig oor 'n streeksreaksie op toenemende bedreigings van transnasionale georganiseerde misdaad en terrorisme. Na verwagting sal ongeveer 550 senior wetstoepassingsbeamptes van 54 lande die geleentheid by woon, wat tot ekonomiese aktiwiteit sal bydra.
1.2 Aanbied van die 96ste INTERPOL Jaarlikse Algemene Vergadering (JAV) in Suid-Afrika
a) Die Kabinet het goedgekeur dat Suid-Afrika die INTERPOL JAV in 2028 en daarna aanbied.
b) Deur hierdie INTERPOL JAV aan te bied kry Suid-Afrika die geleentheid om sy leierskap nie net streeksgewys nie, maar ook internasionaal te laat geld. Verder sal die aanbieding van die JAV 'n belangrike stap wees in die versterking van Suid-Afrika se verbintenis tot streeks- en internasionale samewerking in die stryd teen misdaad.
c) Deur die JAV aan te bied bewys die land sy verbintenis om ’n verantwoordelike globale nasie te wees wat vasbeslote is om alle vorme van misdaad te beveg.
1.3 Stand van Gereedheid vir die Simposium oor Volhoubare Infrastruktuur-ontwikkeling in Suid-Afrika (SIDSSA) 2025
a) Die Kabinet is ingelig oor die verklaring van gereedheid vir die saamroep van die SIDSSA, 'n infrastruktuurbeleggingsberaad wat 'n breë spektrum van belanghebbendes bymekaarbring. Dit sluit in beleggers, finansiële instellings, beleidmakers en ander kritieke vennote om Suid-Afrika se infrastruktuurbelegging te dryf.
b) Die SIDSSA 2025 sal die vordering wat gemaak is met die implementering van die Nasionale Infrastruktuurplan 2050 soos deur die Kabinet goedgekeur, uitlig. Dit sal ook die die top 12 infrastruktuur-prioriteitsprojekte en 'n reeks ander strategiese infrastruktuurprojekte aankondig. Die SIDSSA sal van 25 tot 27 Mei 2025 plaasvind.
2. Konferensies wat aangebied is
2.1 Afrika Spoorwegkonferensie
2.1.1 Suid-Afrika het die 25ste Afrika-spoorwegkonferensie wat op 13 en 14 Mei 2025 in Johannesburg gehou is, suksesvol aangebied. Dit het meer as 5 000 afgevaardigdes van regoor die vasteland bymekaargebring, insluitend spoorwegoperateurs, regerings en beleggers in die sektor.
2.1.2 Die Kabinet verwelkom die verbintenisse om die vasteland se spoorwegsektor te verbeter. Spoorweë vorm die kern van doeltreffende en volhoubare vervoer vir mense sowel as goedere, en stimuleer ook ekonomiese groei deur die beweging van grondstowwe en produkte moontlik te maak.
2.2 Statebond se Streekskonferensie vir Hoofde van Teenkorrupsie-owerhede
2.2.1 Suid-Afrika het die Statebond se 15de Streekskonferensie van hoofde van teenkorrupsie-owerhede suksesvol aangebied in Kaapstad van 5 tot 9 Mei 2025. Die konferensie het hoofde van teenkorrupsie-agentskappe van regoor Afrika se Statebondslande bymekaargebring.
2.2.2 Suid-Afrika is verkies om die Vereniging van Hoofde van Teenkorrupsie-agentskappe in Statebond-Afrika vir die termyn 2025-2026 te lei. Die land se voorsitterskap is verweef met sy posisie as voorsitter van die G20-korrupsiewerkgroep.
3. Herdenkings
3.1 Afrika-maand
Suid-Afrika het by die res van die vasteland aangesluit om Afrika-maand in Mei 2025 te vier, met spesiale klem op Afrikadag op 25 Mei 2025. Dit bied 'n geleentheid om die ideaal van 'n verenigde Afrika te bevorder en samewerking tussen Afrikalande aan te moedig om ons mense se lewens te verbeter. Dit is in lyn met die ideale van die Afrika-Unie-Agenda 2063 wat daarop gerig is om die ekonomiese voorspoed van die Afrika-kontinent te bevorder.
3.2 Kinderbeskermingsmaand
a) Suid-Afrika vier Kinderbeskermingsmaand in Mei onder die tema: "Werk saam om geweld teen kinders te beëindig" as deel van die land se voortgesette 365-dae Kinderbeskermingsprogram van Aksie. Die maand se aktiwiteite sal lei tot Kinderbeskermingsweek van 29 Mei tot 5 Junie 2025.
b) Alle gemeenskappe, ouers, voogde en onderwysers word versoek om enige vorme van mishandeling, geweld en brutaliteit teen kinders by hul plaaslike polisiestasie aan te meld of 08600 10111 te skakel. Kinders word ook aangemoedig om Childline te kontak by 0800 055 555.
3.3 Internasionale Dag vir Seuns
a) Suid-Afrika sal Internasionale Dag vir Seuns op 16 Mei 2025 vier met die tema: "Seuns se Gesondheid en Welstand", wat die fisiese, emosionele, geestelike en sosiale aspekte van seuns se ontwikkeling beklemtoon.
b) Die Departement van Basiese Onderwys sal drie generasies mans bymekaarbring om betekenisvolle dialoog te skep onder die tema: "Die Legendes, die Jongmense en die Seuns". Hulle sal konkrete strategieë bespreek om seuns se welstand te ondersteun, terwyl hulpbronne vir volgehoue tussenkomste gemobiliseer sal word.
4. Boodskappe
1. Meegevoel
Die Kabinet het sy meegevoel oorgedra aan die naasbestaandes en vriende van:
- Konstabels Cebekhulu Linda (24), Boipelo Senoge (24), Keamogetswe Buys (30) wat op tragiese wyse hule lewens verloor het in die Hennopsrivier. Hul liggame is gevind saam met dié van Jan Mzwane, 'n terreinopsigter by die Lyttleton-polisiestasie en 'n persoon wat nog geïdentifiseer moet word. Ons betuig ook ons meegevoel aan die naasbestaandes van Jan Mzwane.
- Joernalis Aserie Ndlovu en sy lewensmaat, Zodwa Mdhluli, wat gevind is na 'n uitgebreide soektog sedert Februarie.
- Nege mense wat in Empangeni, KwaZulu-Natal, gesterf het na 'n botsing tussen 'n vragmotor en 'n passasierswa. 'n Spoedige herstel word die beseerdes toegewens.
- Elona Sombulula, 'n jong distrikshofaanklaer by die Ngcobo-landdroshof, wat in 2022 by die NVG aangesluit het deur die aspirant-aanklaerprogram. Hy het ook as streekshofaanklaer gedien ten tyde van sy ontydige dood.
2. Gelukwense
Die Kabinet het sy gelukwense en goeie wense oorgedraa aan:
- Die naelloopsensasie Akani Simbine wat die 100m in 9.98 sekondes in die Sjanghai-Keqiao Diamantliga in China gewen het. Simbine bly hierdie seisoen onoorwonne oor 100 meter.
- Akani Simbine het ook Suid-Afrika se seëvierende 4x100m-mansspan saam met Bayanda Walaza, Sinesipho Dambile en Bradley Nkoana aangevoer. Hulle is die eerste Afrika-span ooit wat goud by die Wêreld-aflosse in Guangzhou, China gewen het en het vanjaar die vinnigste tyd in die wêreld opgestel.
- Die Suid-Afrikaanse vroue 4x400m-aflosspan - Shirley Nekhubuni, Miranda Coetzee, Precious Molepo en Zeney Van Der Walt, wat brons gewen by die Wêreld-aflosse in Guangzhou, China en 'n nuwe nasionale rekord opgestel.
- Afrika 4x400m-mansaflosspan – Zakithi Nene, Udeme Okon, Lythe Pillay, en Mthi Mthimkhulu, wat goud gewen het by die Wêreld-aflosse in Guangzhou, China en die vinnigste tyd in die wêreld vanjaar opgestel het.
- Deur hierdie uitsonderlike prestasies het ons nasionale aflosspanne seker gemaak dat hulle vir die Wêreld-atletiekkampioenskappe in Tokio later vanjaar kwalifiseer.
- Die Blitsbokke, wat die HSBC Sewes Wêreld-kampioenskap in Los Angeles gewen het.
- Die Suid-Afrikaanse o.20-mans nasionale span het deurgedring na die halfeindronde van die o.20 Afrikabekertoernooi. Hulle het ook gekwalifiseer vir die o.20 Wêreldbeker wat in September vanjaar gehou word.
- Die filmmaker Murena Emmanuel Netshitangani, wat die gesogte Beste Afrika-filmtoekenning by die Wêreldfilmfees in Cannes, Frankryk gewen het vir sy film Lubunyu.
- Die Kabinet het saam met President Cyril Ramaphosa Kardinaal Robert Prevost gelukgewens met sy verkiesing as Pous Leo XIV, die 267ste Pous van die Katolieke Kerk.
- Bekende aktivis en prokureur Duma Nokwe dat hy postuum die titel “Silk” (Senior Raad) van President Cyril Ramaphosa ontvang het ter erkenning van sy werk en uitstaande bydrae tot ons nasie.
Navrae:
Me Nomonde Mnukwa – Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485