Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Dinsdag, 22 Julie en Woensdag, 17 September 2025

A.    Kwessies in die omgewing

1.    Ekonomie
1.1.    Ekonomiese groei
1.1.1.  Die Kabinet verwelkom die nuutste BBP-syfers, wat toon dat die ekonomie met 0.8% gegroei het in die tweede kwartaal van 2025, ʼn verbetering op die 0.1% groei in die eerste kwartaal. 
1.1.2.  Die 0.8%-groei in die BBP weerspieël ʼn breedgebaseerde herstel regoor alle sektore. Agt bedrywe het groei getoon in die tweede kwartaal, met sleutelsektore soos vervaardiging, mynwese en handel wat terugkeer na groei-grondgebied. Stygende huishoudelike verbruik weerspieël ook ʼn verhoging in besteebare inkomste, wat bevestig is deur verbeterde vermelde inflasiesyfers.
1.1.3.    Die Kabinet verwelkom ook Fitch se besluit om Suid-Afrika se langtermyn plaaslike en buitelandse skuldgradering te bevestig en die stabiele uitkyk te behou.
1.1.4.  Die graderings word gesteun deur ʼn gunstige staatskuldstruktuur wat meestal in die plaaslike geldeenheid gedenomineer is, met lang vervaldatums en sterk instellings, en ʼn geloofwaardige monetêre beleidsraamwerk. Volgens Fitch het die vordering wat gemaak is in die tweede fase van die regering se Operasie Vulindlela – gefokus op die herstel van netwerkinfrastruktuur (elektrisiteit, logistieke en water) – ʼn verligting gebring aan beurtkrag en die afname in vragvervoer, wat op sy beurt bygedra het tot Fitch se voorspelling van ʼn beskeie toename in die groei van egte BBP. 
1.1.5.  Die tekens van bekragtiging deur Fitch het gesorg vir voortgesette beleggingsvertroue in die land se fiskale bestuur en institusionele bekwaamheid.

1.2.    Presidensiële jeugindiensnemingsinisiatief 
1.2.1    Die Kabinet verwelkom die nuutste kwartaallikse vorderingsverslag van die presidensiële jeugindiensnemingsingryping vir April tot Junie 2025, wat betekenisvolle vordering toon in die skep van bane waar jong Suid-Afrikaners ʼn inkomste kan verdien. 
1.2.2    Meer as 5.64 miljoen jongmense het hul geregistreer op die nasionale baanbestuurnetwerk (NPMN), wat die teiken van vyf miljoen jongmense oorskry het. Meer as 1.91 miljoen jongmense het toegang gekry tot tydelike verdienste-geleenthede, wat toon dat die regering se volgehoue pogings om werkloosheid onder die jeug te takel, traksie kry.
1.2.3    Slegs in hierdie kwartaal het jongmense, danksy die NPMN, tot meer as 234 000 geleenthede toegang verkry. Dit sluit in werkservaring, vaardigheidsontwikkelingsprogramme en inkomste-genererende geleenthede wat jongmense toerus om die arbeidsmark  te betree. Die Kabinet spreek hul waardering uit aan alle vennote vir hul voortgesette bydraes en bevestig die regering se verbintenis om jeugwerkloosheid te takel deur innoverende en skaalbare ingrypings.
    
2.    Internasionale betrekkinge 
2.1    Die 80ste sitting van die Verenigde Nasies se algemene vergadering
2.1.1    Suid-Afrika sal deelneem aan die 80ste sitting van die Verenigde Nasies (VN) se algemene vergadering (UNGA 80) wat gehou word onder die tema: “Beter tesame: 80 jaar en langer vir vrede, ontwikkeling en menseregte”. UNGA 80 vind plaas van 23 tot 29 September 2025 in New York, VSA. President Cyril Ramaphosa sal die Suid-Afrikaanse afvaardiging lei.
2.1.2    Suid-Afrika sal hierdie platform gebruik as bevestiging van sy verbintenis tot globale multilateralisme, menseregte vir almal, volhoubare ontwikkeling as ʼn kollektiewe verantwoordelikheid en vreedsame konflikoplossings, veral met die oog op konflikte in die oostelike DRK, die Soedans en Palestina. Daarbenewens sal Suid-Afrika die UNGA 80 gebruik om Suid-Afrika se G20-presidensie-agenda te bevorder.
2.1.3    Die President sal bilaterale vergaderings met verskeie van sy eweknieë belê en met HUB’s van groot internasionale maatskappye vergader.
2.1.4    Ministers Tau en Lamola het vooruitgegaan om besprekings oor die SA-VSA handelsooreenkoms te voer, asook om spesiale vergaderings van die VN by te woon. 
2.1.5    Die ander ministers in die afvaardiging sal hul betrekkinge tydens die UNGA 80 aankondig.

3.    Geregtigheid, misdaadvoorkoming
3.1    Die Madlanga-kommissie
3.1.1    Die Kabinet verwelkom die aanvang van die verhore deur die geregtelike kommissie van ondersoek na kriminaliteit, politieke inmenging en korrupsie in die kriminele regstelsel – algemeen bekend as die Madlanga-kommissie.
3.1.2    Die Kabinet doen ʼn beroep op enigeen wat inligting besit wat van hulp kan wees vir die kommissie om dadelik in kontak te tree via madlangacommission@behonest.co.za of 0800 111 369.

3.2    Die Khampepe-kommissie
3.2.1    Die Kabinet verwelkom die aanvang van die Khampepe-kommissie vir sake rakende waarheid en versoening.
3.2.2    Die kommissie het reeds begin met vergaderings met klaers en verteenwoordigers van die regering.

4.    Staatsbestuur
4.1.    Nasionale uitvoerende vergadering met die Noord-Wes provinsiale uitvoerende raad
4.1.1.  Die Kabinet verwelkom die uitkomste van die vergadering tussen die nasionale uitvoerende raad en die provinsiale uitvoerende raad van die Noord-Wes. Hierdie is die sewende ontmoeting tussen nasionale en provinsiale uitvoerende rade gemik op die verstewiging van interregeringskoördinering en verbeterde dienslewering belyn met die prioriteite van die sewende Administrasie. 
4.1.2.  Hierdie vergadering het ʼn hernude verbintenis tot die verbetering van dienslewering onderstreep. Dit bevestig die noue samewerking regoor regeringsfere om kritiese infrastruktuur te lewer, byvoorbeeld die bou van paaie, verskaffing van waterinfrastruktuur en beskikbaarstelling van energie vir die vervulling van die provinsie se nywerheidsambisies.
4.1.3.  Die nasionale regering het hul daartoe verbind om nou saam te werk met die provinsiale regering om die oplossing van die uitdagings wat die munisipaliteite in die provinsie tans in die oë staar, te verseker.

B.    Kabinetsbesluite 
1.    Konseptuele ontwerp van die nasionale strategie vir entrepreneurskap 
1.1.    Die Kabinet het hul goedkeuring uitgespreek van die publikasie van die konseptuele ontwerp van die nasionale strategie vir entrepreneurskap (NSE) en die implementeringsplan vir publieke kommentaar. Hierdie strategie is daarop gemik om deelname deur jongmense en histories-benadeelde sakeondernemings in die ekonomie te bevorder deur entrepreneurskap aan te spoor en die volhoubaarheid van klein, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s) te verseker.

Daarbenewens lewer die NSE voorstelle om die kultuur van entrepreneurskap in Suid-Afrika te bevorder met die skep van ʼn omgewing wat entrepreneuriële aktiwiteite aanmoedig en bemoontlik, asook die skep van ʼn ondersteunende omgewing vir KMMO’s waarin hulle volhoubaar kan wees en floreer. Dit sal bereik word deur op vyf kritiese pilare van die strategie te fokus, naamlik i) Verbeter entrepreneurskaponderwys en vaardigheidsontwikkeling, ii) Fasiliteer die ruil van tegnologie en innovering, iii) Verbeter toegang tot finansies en markte, iv) Optimaliseer die sakereguleringsomgewing, en v) bevorder bewustheid en netwerkgeleenthede.

In algeheel is die strategie daarop gemik om formele ekonomiese deelname te verhoog, hoë werkloosheid onder die jeug aan te spreek deur jeugentrepreneurskap te bevorder en strategiese leiding te voorsien, asook ʼn padkaart wat die werk van ander departemente van sleutelbelang en strategiese vennote integreer.

Daarbenewens is die strategie ook daarop gemik om die ekostelsel vir entrepreneurskapsontwikkeling in die land te koördineer, insluitend aanbevelings vir entrepreneurskap om in die kurrikula van die departemente van basiese- en hoër onderwys opgeneem te word as ʼn lewensvatbare beroepskeuse.

C.    Wetsontwerpe
1.    Konsepwetsontwerp op die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad 
1.1.    Kabinet het die Konsepwetsontwerp op die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) goedgekeur. 
1.2.    Die konsepwetsontwerp herroep die NEDLAC-wet van 1994 en stel voor dat NEDLAC se institusionele reëlings belyn word met die veranderings in die grondregtelike regsorde wat sedert 1994 plaasgevind het. 
1.3.    Die konsepwetsontwerp maak ook voorseining vir die minister om regulasies, rakende toelatings en lidmaatskapdrempels, in te stel by wyse van ʼn proses wat konsultasie en openbare toelatings insluit, wat die stelsel meer deursigtig maak.

D.    Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike sekuriteitsklarings.

1.    Me. Udisha Chathuri as die voorsitter van die raad van ondersoek na patentereg. 
2.    Verlenging van die kontrak van die direkteur-generaal van die departement van basiese onderwys, mnr. Hubert Mathanzima Mweli, vir ʼn tydperk van vyf jaar.
3.    Vul van vakatures in die raad van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI):
•    Dr. Mamphaka Tau (voorsitter)
•    Prof. Edward Nesamvuni
•    Mnr. Eugene Vincent Jooste
•    Me. Shamala Naidoo
•    Me. Ayanda Ntanda 
•    Me. Eva Dorothy Khosa
•    Dr. Andrew Kirkwood Muir
•    Me. Gertrude Bulelwa Koyane
•    Adv. Candice Kirsty Slum

4.    Vul van vakatures in die Nasionale Parkeraad: 
•    Me. Beryl Ferguson (interim-voorsitter)
•    Mnr. Livhuwani Matsila
•    Me. Hulisani Mushiana
•    Dr. Sibongile Lynette Masuku
•    Me. Nozipho Rachel Nxele
•    Mnr. Mokgema Mongane
•    Adv. Catherine Warburton
•    Mnr. Thomas Ignatius Bouwer
•    Mnr. Raymond Maboe
•    Mnr. Ashley Latchu; en 
•    Me. Goitsemang Mathebula

E.     Toekomstige gebeure

1.    Eerbetoon aan ekspolitieke gevangenes
1.1    Die departement van sport, kuns en kultuur, in samewerking met die vereniging van ekspolitieke gevangenes en die Robbeneiland-museum, sal op 27 September 2025 gasheer speel vir ʼn reünie vir ekspolitieke gevangenes op Robbeneiland.
1.2    Die byeenkoms sal eer betoon aan meer as 1 700 politieke gevangenes wat op Robbeneiland en ander fasiliteite regoor die land aangehou is. Die reünie vorm deel van die bewaring van die geskiedenis van die vryheid-stryd en die herinnering daarvan dat die vryhede wat Suid-Afrikaners vandag onthou, nie sonder ʼn prys bekom is nie. Daar is mans en vroue wat hul vryheid opgeoffer het sodat Suid-Afrika vry mag wees. 
1.3    Die reünie sal ook veterane vanuit Namibië, Lesotho en Botswana insluit om die bande wat in die vryheid-stryd, wat in suidelike Afrika teen kolonisasie gesmee is, te beklemtoon.

2.    Gemeenskapsuitreikprogram vir geregtigheid, misdaad-voorkoming en sekuriteit 
2.1    Die geregtigheid, misdaadvoorkoming en sekuriteit-trosgroep speel gasheer vir ʼn gemeenskapsuitreikprogram op 18 September 2025 by die 2010 Mthatha-stadion in Mthatha in die Oos-Kaap, as deel van die geïntegreerde misdaad- en geweldsvoorkomingstrategie. 
2.2    Die uitreik beoog om sterker vennootskappe te smee en blywende, gemeenskapsgedrewe oplossings te bevorder vir veiliger en meer veerkragtige gemeenskappe, met ʼn spesifieke fokus op Mthatha, wat as ʼn misdaad-brandpunt geïdentifiseer is.

3.    Voorbereidingsvergaderings vir die G20-leiers se spitsberaad 
3.1    Die volgende voorbereidingsvergaderings vir die G20-spitsberaad het in die afgelope paar weke plaasgevind:
3.1.1    Die derde toerisme-werksgroep se vergadering het op 11 September 2025 plaasgevind in Mpumalanga, waar insette en aflewerbares gekonsolideer is ter voorbereiding van die G20-toerisme-ministers se vergadering op 12 September 2025.
3.1.2    Die G20-toerisme-ministers se vergadering op 12 September 2025 in Mpumalanga het die toerisme-ministers byeengebring om die aksieplan wat gereed staan om die ontwikkeling van volhoubare toerisme onder die G20-lidlande aan te dryf, te finaliseer.
3.1.3    Die vergadering vir die derde globale vennootskap vir finansiële insluiting het op 11 en 12 September in die Wes-Kaap plaasgevind om praktiese, innoverende en ingeslote oplossings te ontwikkel om te verseker dat groei almal insluit en niemand agterlaat nie. 
3.1.4    Die stede Johannesburg en Tshwane het saam gasheer gespeel vir die stedelike 20 (U20) burgemeesterspitsberaad van 12 tot 14 September 2025, te Johannesburg. Hierdie vergadering het burgemeesters van G20-stede byeengebring om saam dringende, stedelike uitdagings aan te spreek en terselfdertyd te verseker dat die prioriteite van die stede uitgelig word in die G20-agenda.
3.1.5    Die globale forum vir die finansies van klein- en medium sakeondernemings, wat van 15 tot 17 September 2025 in Gauteng plaasgevind het, het 1 200 deelnemers van meer as 60 lande en 240 finansiële instellings gelok. As amptelike bygebeurtenis van die G20 Suid-Afrikaanse presidentskap het die forum innoverende finansieringsmeganismes ondersoek, insluitend gemengde finansiële strukture en waarborgprogramme wat kapitaal wat voorheen ontoegangbaar was vir plaaslike sakeondernemings, kan ontsluit.

E.    Boodskappe
1.    Beroep vir aansoeke
a.    Studente in die hoëronderwyssektor en matrikulante word genooi om aansoek te doen vir steun vanaf die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) vir die 2026 akademiese jaar. Aansoeke open op Maandag, 15 September 2025 en sluit op Saterdag, 15 November 2025.
b.    Ouers, onderwysers, bure en gemeenskappe word gevra om leerders te ondersteun met aansoeke vir NSFAS-steun.

2.    Medelye
Die Kabinet spreek hul medelye uit met die vriende en familie van: 

  • Die mense en regering van Qatar met die lewensverlies na aanleiding van die onuitgelokte aanval deur die Israeliese verdedigingsmagte op burgerlike gebou in ʼn residensiële buurt in Doha.
  • Voormalige Springbokheelagter, Bevin Fortuin, wie twee toetse vir die Springbokke gespeel het, teen Ierland in Dublin in 2006 en teen Australië in Sydney in 2007.
  • Voormalige Springbokflank, Jan Boland Coetzee, wie tussen 1974 en 1976 vir die Springbokke gespeel het. Hy was ook ʼn bekroonde wynmaker in die Stellenbosch-streek, waar hy die Vriesenhof-wingerde in ʼn wêreldklas-wynlandgoed omskep het.
  • Vier dansers van die bekroonde maskandi-kunstenaar Sibonelo Hlongwane se groep, wat in ʼn motorongeluk gesterf het oppad terug na Johannesburg na afloop van ʼn opvoering in Bergville.

3.    Gelukwensings
Die Kabinet het gelukgewense en voorspoed oorgedra aan:

  • Die Springbokke, vir hul rekordoorwinning van 43-10 teen Nieu-Seeland om sodoende die Freedom-trofee te behou tydens die Castle Lager-rugbykampioenskappe.
  • Alan Hatherly, wie die bergfietswêreldkampioenskappe in Valais, Switserland gewen het en sodoende die titel vir die tweede agtereenvolgende keer verower het.
  • Retief Goosen, wie die Sanford International met twee houe gewen het by die Minnehaha-buiteklub in Sioux Falls, Suid-Dakota. Die oorwinning het aan Retief sy vierde loopbaanoorwinning in die PGA-toerkampioene-kompetisie besorg het.
  • Span Suid-Afrika, wat geskiedenis gemaak het by die 2025 Wêreldatletiekkampioenskappe in Tokio deur vir die eerste keer twee naellopers in die finaal van die 100m vir mans gehad het, met Gift Leotlela wat vyfde geëindig het in 9.95s en Akani Simbine in die sewende plek in 10.04s.
  • Suid-Afrikaanse sangeres Tyla Laura Seethal, beter bekend en bemind as Tyla, wie die Best Afrobeats-toekenning by die 2025 MTV- videomusiektoekennings gewen het met haar treffer “Push 2 Start”.
  • Onalerona Tsiane en Mosa Letsoela, bekend as die Tee Sisters, wie die land verteenwoordig het by die 2025 wêreldkampioenskappe vir tienerentrepreneurskap, waar hulle twee toekennings ontvang het vir die bevordering van die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwit (SDG) 1, naamlik “Beëindig armoede in alle vorms, orals” en SDG 10, “Verminderde ongelykhede”.
  • Die Suid-Afrikaanse nasionale komitee vir besproeïng en dreinering, met prof. Sylvester Mpandeli as voorsitter, wat vier toekennings ontvang het by die wêrelderfenis-besproeiingstruktuur-toekennings tydens die vierde wêreldbesproeïngsforum. Hierdie toekennings het plaasgevind op 7 September te Kuala Lumpur, Maleisië. Prof. Mpandeli is ʼn alumnus van die Universiteit van Venda en ook ʼn adjunkprofessor by die universiteit.
  • Wenners in die onderskeie kategorieë by die toekenningsgeleentheid van die 2025 Suid-Afrikaanse vroue in wetenskap (SAWISA):
    o    Professors Brenda Morrow, Lucy Moleleki en Alison September in die natuurwetenskap en ingenieurswese kategorie.
    o    Professors Jill Hanass-Hancock, Sarojini Nadar en Shanaaz Mathews in die sosiale en geesteswetenskappe kategorie. 
    o    Professors Carolyn McKinney en Zilungile Mkhize-Kwitshana vir hul sukses in die bevordering van openbare betrokkenheid met navorsing.
  • Professor Jill Farrant, wie die toekenning vir lewenslange prestasie ontvang het vir haar baanbrekerwerk in droogte-bestande oeste by die nasionale navorsingstigting (NRF) se toekennings.
  • Professor Liza Korsten, wie die toekenning vir lewenslange prestasie ontvang het by die nasionale wetenskap en tegnologie-forum (NSTF) se South32-toekennings, vir haar werk in plantgesondheid en voedselveiligheid.

Uitgereik deur: Regeringskommunikasie- en inligtingstelsel (GCIS)
Navrae: Me. Nomonde Mnukwa – waarnemende regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485

Share this page

Similar categories to explore