Toespraak deur President Cyril Ramaphosa oor die Dade van Geweld en Vernietiging van Eiendom

My mede-Suid-Arikaners,

Ek praat vanaand met julle met ʼn swaar gemoed. 

In die afgelope paar dae en nagte het ons dade van openbare geweld aanskou soos selde tevore in die geskiedenis van ons demokrasie.

Eiendom is gevandaliseer en vernietig. 

Winkels is geplunder.

Wetsgehoorsame burgers is gedreig en geïntimideer.

Werkers is bang dat hulle nie sal kan terugkeer werk toe nie. 

Mense is dood. 

Op hierdie oomblik is daar talle families in ons land wat in rou gedompel is.

Ek praat van die families van Nkosikhona Chiza, Ndumiso Shezi, Khaya Mkhize, Zethembe Ndwandwe, Lindani Bhengu en Lindokuhle Gumede in Gauteng.

Ek praat van die families van Bhekani Ndlovu, Themba Mthembu, Aphiwe Gama en Cebo Dlamini in KwaZulu-Natal.

Alhoewel ons begrip het vir die koste van die skade aan eiendom, besighede en mense se lewensbestaan weens die geweld, is die lewensverlies wat gely is verreweg die grootste koste.

As ’n nasie hou ons hierdie families in ons gedagtes en ons gebede.

Baie Suid-Afrikaners is besig om die skade aan hul lewensbestaan en eiendom, aan hul winkels en besighede, aan hul veiligheid en sekuriteit te bereken. 

Baie meer Suid-Afrikaners is angstig en vreesbevange.

Dele van die land steier steeds weens dae en nagte van openbare geweld, vernietiging van eiendom en plundering soos daar selde tevore in die geskiedenis van ons demokrasie gesien is. 

Dit het die afgelope Saterdag begin met die afbrand van vragmotors by Mooirivier in KwaZulu-Natal en is gevolg deur die blokkering van paaie in die noordelike dele van die provinsie en die plundering van winkels in Ethekwini en Pietermaritzburg. 

In die afgelope twee dae het Gauteng deurgeloop onder die blokkering van paaie, plundering, skade aan eiendom en die uitbrand van vragmotors. 

Danksy die werk van ons wetstoepassingagentskappe is 166 verdagtes in KwaZulu-Natal en 323 verdagtes in Gauteng in verband met hierdie insidente in hegtenis geneem. 

Geweld duur egter voort in baie areas.

Sommige mense beskou hierdie dade as ʼn vorm van politieke protes. 

Hierdie geweld het moontlik gespruit uit die uitsprake en aktiwiteite van individue met ʼn politieke beweegrede, en was moontlik aanvanklik ʼn uitdrukking van frustrasie en woede. 

Aan die begin van die onluste kon daar moontlik sommige mense gewees het wat ten doel gehad het om geweld en wanorde te stook gebaseer op ʼn etniese grondslag. Ons weet dat die meerderheid van ons mense uit beginsel geweier het om op hierdie grondslag gemobiliseer te word.

Nietemin is dít wat tans voor ons afspeel blote opportunistiese misdadigheid, met groepe mense wat wetteloosheid en wanorde aanblaas bloot as dekmantel vir plundering en diefstal.

Daar is geen griewe, geen politieke beweegrede, wat die geweld en verwoesting wat ons in dele van KwaZulu-Natal en Gauteng gesien het, kan regverdig nie. 

Ons Grondwet waarborg die reg van elke persoon om te protesteer en te organiseer ter deelname aan vryheid van uitdrukking en assosiasie.

Ons Grondwet gee aan elke persoon ʼn gelyke reg tot beskerming voor die reg en plaas op elke persoon ʼn verantwoordelikheid om die regte van hul landgenote te handhaaf en te respekteer.

Ons Grondwet is die fondasie van die oppergesag van die reg in ons land.

Dit is die oppergesag van die reg wat ons beskerm teen die misbruik van mag, wat behoeftige en kwesbare persone beskerm, en wat ons samelewing in staat stel om te funksioneer en ons ekonomie om te kan groei.

Die slagoffers van die huidige geweld – werkers, vragmotorbestuurders, besigheidseienaars, ouers en families van die mense wat hul lewens verloor het – het niks verkeerd gedoen nie.
Alhoewel hierdie opportunistiese dade van plundering moontlik toegeskryf kan word aan swaarkry en armoede, is dit juis die behoeftige en gemarginaliseerde persone wat die swaarste ly onder hierdie verwoesting.

Winkels is geplunder en infrastruktuur is verwoes. 

Die beteken dat ons mense wat siek is, nie hul medikasie by apteke kan kry nie, dat voedsel nie die winkelrakke bereik nie en dat gesondheidswerkers nie kan gaan werk nie. 

Ons inentingsprogram is erg ontwrig net toe dit begin momentum optel het. Dit sal blywende gevolge hê op ons vermoëns om die vordering wat ons reeds in ons ekonomiese herstel begin sien het, te konsolideer. 

Hierdie ontwrigtings gaan tot verdere lewensverlies lei omdat die voorsieningskettings verantwoordelik vir die voorsiening van voedsel-, gesondheid- en produksiestelsels afgesny is.

Hierdie pad van geweld, plundering en wanorde lei slegs tot meer geweld en verwoesting.

Dit lei tot groter armoede, werkloosheid en die verlies van onskuldige lewens.

Dit is nie wie ons as ’n nasie is nie. 

Keer op keer het ons ʼn ander pad gekies, ’n pad van vrede en demokrasie. 

Ons het gesprekvoering en vreedsame protes gekies eerder as geweld en chaos.

Elkeen van ons, ongeag ons posisie of ons omstandighede, het ʼn belang daarby om die oppergesag van die reg te onderhou.

Dit is dus van die uiterste belang dat ons onverwyld kalmte en stabiliteit in alle dele van die land herstel. 

Dit is noodsaaklik dat ons enige verdere beserings of lewensverlies verhoed.

Dit is noodsaaklik dat ons eiendom beskerm en ons maatskaplike en ekonomiese infrastruktuur beveilig.

Daarom mobiliseer ons dus nou alle beskikbare hulpbronne en vermoëns om orde te herstel. 

As die opperbevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het ek vandag die ontplooiing van weermagpersoneel goedgekeur as ondersteuning vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens. 

Die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensie-struktuur – bekend as Natjoints – het ontplooiing in al die geraakte areas in KwaZulu-Natal and Gauteng versterk.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens is besig om maatreëls in plek te stel om alle operasionele lede wat tans op verlof of op rusdae is, te herroep om sodoende die teenwoordigheid van wetstoepassingsbeamptes op die grond te vergroot.

Die Natjoints word ondersteun deur die intelligensie-koördineringskomitee, wat bestaan uit die SAPD se misdaadintelligensie-eenheid, Verdedigingsintelligensie en Staatsveiligheid.

Benewens groter sigbaarheid en ʼn intelligensie-gedrewe teenwoordigheid by potensiële brandpunte, sal ons die vervolging van verdagtes wat moontlik betrokke was by dade van geweld, prioritiseer.

Die Nasionale Veiligheidsraad, waarvan ek as opperbevelvoerder die voorsitter is, sal tweemaal per dag byeenkom om al die maatreëls wat nodig is om stabiliteit te herstel, te koördineer.

Laat ek dit duidelik stel: Ons sal aksie neem om elke persoon in ons land te beskerm teen die bedreiging van geweld, intimidasie, diefstal en plundering.

Ons sal sonder huiwering enige oortreders wat hulself skuldig maak aan geweld, intimidasie, diefstal en plundering in hegtenis neem en met die volle mag van die gereg vervolg.

Ons sal kalmte en orde herstel sodat ons kan begin om ons land te herbou en ʼn beter lewe vir ons mense te skep.

Ten spyte van die verloop van tyd onthou ons nog die donker dae toe slinkse en onderduimse elemente die vlamme van geweld in ons gemeenskappe gestook en ons teen mekaar probeer draai het. Ons leef steeds met daardie herinneringe saam. 

Maar ons onthou ook dat, terwyl ons besig was om voor te berei vir die oorgang na demokrasie, ons as ʼn samelewing byeengekom het om die geweld wat in baie gemeenskappe gewoed het, te beëindig.

Ons het byeengekom – as godsdienstige leiers, tradisionele leiers, vakunies, sake-ondernemings, gemeenskaporganisasies, politieke partye, nieregeringsorganisasies (NGO’s) en ander – om vrede in ons nasie te bewerkstellig.

Nou is dit nodig dat ons weer eens byeenkom, dat elkeen van ons ons deel doen om kalmte te herstel in die areas wat deur geweld geraak is; vir elkeen van ons om op te staan vir die oppergesag van die reg en die vreedsame resolusie van konflik.

Vanmiddag het ministers en senior beamptes in die ekonomiese en sekuriteitsklusters samesprekings gevoer met Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa) om die situasie in oënskou te neem en gekoördineerde aksieplanne te ontwikkel. 

Ons het ooreengekom om saam te werk om die veiligheid van bestuurders, kassiere, pasiënte, kliënte en klante te verseker.

Ons het ooreengekom om inligting en hulpbronne te deel om te verseker dat ons sleutelverskaffingskettings herstel kan word.

Ons is besig om reëlings te tref sodat regeringsleiers en openbare verteenwoordigers as deel van hul pligte met leiers in verskeie gemeenskappe sal vergader om stabiliteit te bevorder.

As deel van ons voortgesette gesprekvoering met sleutelsektore in die samelewing, sal ek met leiers van politieke partye vergader om die huidige situasie te bespreek. 

Daar is ʼn beroep op ons almal – waar ook al ons is – om kalm te bly, selfbeheersing te toon en enige pogings om geweld aan te hits, paniek te saai of verdeeldheid te stook, te weerstaan. 

Of ons nou leiers van politieke partye, taxi-verenigings, handelsorganisasies of vakbondunies is – ons moet alles binne ons vermoëns doen om die situasie te kalmeer.

Ons moet ons daarvan weerhou om opruiende en aanhitsende boodskappe op sosiale media te plaas en versprei, en gerugte en valse berigte te versprei wat verdere paniek kan saai. 

Niemand mag die reg in eie hande neem nie. 

Ons moet eerder die voorbeeld volg van die individue en gemeenskappe wat saam met die polisie werk om plundering te verhoed, asook daardie lede van die publiek wat wenke en inligting oor gevalle van misdaad aan die polisie deurgee.

Ek spreek graag my dank uit teenoor alle operasionele lede en bevelvoerders van die SAPD en ander agentskappe vir hul reaksie op die geweldpleging en uitlokking; wat gehelp het om bloedvergieting te voorkom en die verlies van te lewens beperk. 

Ons wens ʼn spoedige herstel toe aan die vier SAPD-lede wat tydens die geweld beseer is: konstabel Sangweni, wat geskiet en beseer is in Alexandra; sy twee kollegas, sersant Maraheni en luitenant-kolonel Nefolovhodwe, wat met bakstene getref is; en konstabel Seloane, wat geskiet en beseer is in Daveyton.

Mede-Suid-Afrikaners,

Hierdie geweld en vernietiging vind plaas te midde van ʼn verwoestende pandemie.

Die gevaar bestaan dat hierdie gebeure kan lei tot ʼn selfs groter styging in infeksies, wat nog meer lewens in gevaar sal stel en nog meer druk op ons gesondheidsfasiliteite en -personeel sal plaas.  

Die gevaar bestaan dat ons inentingsplan ontwrig kan word in sommige areas, juis wanneer dit nodig is dat ons dit aansienlik moet uitbrei.  

Ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie.

Ons sal nie toelaat dat dit gebeur nie.

Dit wat nou gebeur, het die waarheid uitgelig van dit wat ons reeds geweet het: dat die werkloosheidsyfer, armoede en ongelykheid in ons samelewing nie volhoubaar is nie. 

Ons kan nie blywende en bestendige vrede verwag as ons nie werksgeleenthede skep om ʼn regverdige en gelyke samelewing te bou waarin alle Suid-Afrikaners vrylik en op gelyke voet kan deelneem nie.

Dus moet ons onsself nie net tot vrede verbind nie, maar ook tot beter ekonomiese geleenthede vir almal.

Ons is besig om te verrys vanuit ʼn lang tydperk van onsekerheid en stagnasie.  

Ons het die gevolge van korrupsie en die erosie van die staat gesien; die vreesaanjaende gevolge van die magsmisbruik en pligsversaking. 

Ons het begin met ʼn proses van genesing, heropbou en hernuwing.

Ons land is op ʼn pad wat lei na vooruitgang en herstel.

Ons kan nie toelaat dat ʼn handvol mense onder ons hierdie gesamentlike poging bedreig nie. 

Ons sal ons konstitusionele demokrasie verdedig sodat ons dít wat ons sover behaal het, die vordering wat ons gemaak het, kan konsolideer.

Ons sal geweld en wetteloosheid verwerp sodat ons vorentoe kan beweeg. 

Kom ek sê dit weer: Ons is besig om op te bou, nie af te breek nie. 

As Suid-Afrikaners sal ons nie afgeskrik word van die taak wat op ons wag nie. 

Soos baie kere vantevore staan ons voor ʼn oomblik wat groot uitdagings asook groot belofte inhou.

Kom ons kies die pad van vrede en hernuwing.

Kom ons staan vas en kom nóg sterker aan die ander kant uit.

Saam kan ons diegene oorwin wat ons land wil destabiliseer en dít wat ons sover behaal het, die vordering wat ons gemaak het, wil vernietig.

Ons sal as een nasie verenig staan teen geweld; eenstemmig verbind tot vrede en tot die oppergesag van die reg. 

Ek dank u.
 

Share this page

Similar categories to explore