Verklaring oor die Kabinet-Lekgotla van Augustus 2016

Die Kabinet het sy Lekgotla van 16 tot 19 Augustus 2016 in die Sefako Makgatho Presidensiële Gastehuis in Pretoria gehou.

Die Augustus 2016-Kabinet-Lekgotla was die halfpadmerk van die Vyfde Administrasie se ampstermyn.

Die Kabinet-Lekgotla het Suid-Afrika geluk gewens met die vreedsame, vrye en regverdige plaaslike-regeringsverkiesing wat op 3 Augustus 2016 plaasgevind het.

Die Lekgotla is gehou in die lig van die voortslepende sub-optimale ekonomiese vooruitsigte weens verskeie interne en eksterne faktore, asook die voortslepende bedreiging van ons soewereine kredietgradering.

Die Lekgotla was 'n geleentheid vir die Kabinet om oor die implementering van die Regering se plan van aksie te besin en het belangrike lesse gebied vir die genuanseerde en doeltreffende implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan, wat die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk (MTSR) 2014-2019 onderskryf.

Daadwerklike besluite is geneem oor doelgerigte aksieplanne wat implementering van die MTSR 2014-2019 en die Negepuntplan verder sal voer. Hierdie planne vereis dat alle sektore, insluitend die Regering, die burgerlike samelewing, die sake- en arbeidsektore, skouer aan die wiel sit en saamwerk om Suid-Afrika op koers te hou vir volhoubare maatskaplike ontwikkeling en ekonomiese groei.

Doelgerigte planne vir die volgende finansiële jaar is in werking gestel, sodat die Regering sy Mediumtermyn-bestedingsraamwerk (MTBR) in pas kan bring met die Negepuntplan.

Die Kabinet-Lekgotla het op ses kernareas gefokus:

1. Eerstens is daar gesamentlik oor 'n internasionale en plaaslike makro-ekonomiese ontleding ooreengekom met verdere voorstelle vir ekonomiese en fiskale konsolidasie in die volgende jaar en daarna. Dit stel die Kabinet in staat om ekonomiese groei en fiskale besluite binne die konteks van die internasionale ekonomie te rig.

1.1. Die wêreldekonomie sal na verwagting verder herstel, maar tot 'n mindere mate as wat voorheen beraam is, aangesien Brittanje se uittrede uit die Europese Unie 'n ongunstige invloed op wêreldwye ekonomiese groei het. Afrika suid van die Sahara weerspieël uitdagende makro-ekonomiese toestande namate die vasteland se groot ekonomieë by laer kommoditeitspryse aanpas.
1.2. Ander risiko's sluit in moontlike kwesbaarheid in die Europese bankstelsel, finansiële stabiliteit in ontluikende markte, geopolitieke risiko's, klimaats- en gesondheidsrisiko's.

1.3. Die mediumtermynraamwerk handhaaf maatskaplike winste in 'n verswakkende ekonomiese omgewing. Die Regering bly daartoe verbind om sy mediumtermyn fiskale teikens te haal en sal verdere stappe doen na gelang van die omstandighede.

1.4. Die staat se toekomstige verpligtinge sal afhang van hervormings wat op doeltreffende bestuur gegrond is en met deelname deur die private sektor.

2. Tweedens het die Kabinet-Lekgotla ook oor die implementering van die Negepuntplan besin om die land se ekonomie te laat groei, soos deur President Jacob Zuma in sy Staatsrede in Februarie 2015 aangekondig.

2.1. Die klem was op die belangrikste programme en projekte om die implementering van die Negepuntplan in die volgende finansiële jaar te verdiep. Dit het gelei tot die aanvaarding van belangrike projekte met 'n hoë impak vir die volgende finansiële jaar en daarna wat gemik is op 'n beduidende positiewe invloed op die ekonomie deur kernhefbome te ontsluit.

2.2. Die Kabinet het strategiese besluite geneem om te verseker dat die Nywerheidsbeleidaksieplan verder gevoer word. Dit sluit in:

  • Dat die Departement van Openbare Ondernemings en die Nasionale Tesourie die verkryging van lokomotiewe in 'n enkele instelling (Transnet) sal konsolideer om doeltreffendheid en nakoming van lokaliseringsvereistes te verseker.
  • Finalisering van die evaluering van finansiële aansporings vir die sakesektor om voorwaardes te versterk en beter waarde vir geld te verkry om inklusiewe groei te verbeter.
  • Ontwikkeling van handelstatistiekargitektuur deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank, die Nasionale Tesourie, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en Statistieke Suid-Afrika sal die onwettige vloei van geld identifiseer en daarop beslag lê.
  • Die bekendstelling van wetswysigings om die 30% wat opsygesit is ('n nuwe Wetsontwerp op Verkryging ontwikkel deur die Nasionale Tesourie) teen Maart 2017 te implementeer en die potensiaal van KMMO's en koöperasies, asook dié van townships en landelike ondernemings te ontsluit.
  • Die implementering van die nuwe Voorkeurverkrygingsregulasies teen die einde van Augustus 2016 as 'n tussentydse maatreël tot hierdie radikale ingryping.

2.3. Die Regering sal bly fokus op arbeidsintensiewe sektore, insluitend die behoefte aan meganismes vir groter invloed op werksgeleenthede, soos die gebruik van aansporingprogramme waaronder die klerasie-, tekstiel-, leer-en-skoeiselwaardeketting; landbouverwerking en sakeprosesdienste.

2.4. Die suksesvolle ingrypings in die Oseane-ekonomie sal projekte stimuleer om kus- en mariene toerisme uit te brei en sodoende meer werk skep.

2.5. Om die energie-uitdagings in die land die hoof te bied, gaan die Departement van Energie die Geïntegreerde Energieplan en Geïntegreerde Hulpbronplan vir Elektrisiteit teen die einde van 2016 voltooi om sekerheid oor elektrisiteitspryse en belegging in opwekkingsvermoë te verkry.

2.6. Die Interministeriële Komitee oor Belegging, onder voorsitterskap van President Jacob Zuma sal 40 prioriteitsbeleggingsprojekte in die Regering koördineer. Hierdie 40 projekte sluit in landbouverwerking en landbouparke, energie en infrastruktuur, vervaardiging en diensteprojekte. Hierdie projekte is gekies op grond van hul grootskaalse ekonomiese invloed wat verband hou met die Negepuntplan, dat hulle binne die volgende twee jaar in werking kan tree en verdere belegging en gemeenskapsvoordele kan bewerkstellig.

2.7. Die Departement van Handel en Nywerheid sal die strategie vir die ontplooiing van plaaslik ontwikkelde tegnologieë teen die einde van 2016 finaliseer. Daarbenewens sal die Departement van Wetenskap en Tegnologie en die Nasionale Tesourie bykomende fondse verkry om die Sektorinnoveringsfonds in stand te hou en uit te brei deur middel van die Ondersteuningspakket vir Ekonomiese Mededinging.

2.8. Waterbesparing en die vermindering van vermorsing bly 'n prioriteit. Teen September 2016 sal ooreenkomste met munisipaliteite met hoë vlakke van waterverliese gesluit wees om die plasing van agente te vergemaklik en 'n duidelike befondsingsmodel sal daarvoor opgetel word.

2.9. Die IKT-beleid sal gefinaliseer en goedgekeur word om die Suid-Afrikaanse Verbindingstrategie in skole, gesondheidsgeriewe en regeringskantore in werking te stel. 'n Aksiekomitee vir Breëband sal in die lewe geroep word om implementering te versnel.

3. Derdens het die Bestuurskomitee van die Presidensiële Koördinerende Kommissie vir Infrastruktuur (PICC) 'n hoëvlakverslag by die lekgotla voorgelê oor die implementering van die nasionale infrastruktuurontwikkelingsprogram asook daadwerklike planne vir die implementering van infrastruktuur in die volgende finansiële jaar en daarna. Die werk van die PICC is nou in lyn met dié van die Negepuntplan.

4. Vierdens is 'n opsomming van 'n vorderingsverslag oor die implementering van die mediumtermyn strategiese raamwerk (MTSR) 2014-2019 voorgelê, wat konsentreer op 'n hersiening van die belangrikste aspekte van die MTSR 2014-2019 om implementering in die volgende finansiële jaar te verbeter.

4.1. Hoewel erkenning gegee is aan die werk wat tot op datum aan die Negepuntplan verrig is, is erken dat versnelde implementering nodig is om ekonomiese groei te bevorder.

4.2. 'n Aksieplan om groter besteding aan munisipale instandhouding van infrastruktuur te verseker en om behoorlike finansiële batebestuur af te dwing sal ontwikkel en geïmplementeer word om die lewensduur en gehalte van ons infrastruktuurbates uit te brei.

4.3. Die Kabinet het besluit om 'n nasionale proses van stapel te stuur om ’n maatskaplike ooreenkoms tussen arbeid, die sakesektor en die Regering te bewerkstellig om ekonomiese groei te stimuleer en werkverliese te verminder.

5. Vyfdens, benewens die MTBR se aanpassing by die Negpuntplan, het die Nasionale Tesourie en die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering ook hul aanbevelings voorgelê oor werk wat in die afgelope jaar gedoen is om die nasionale begroting by die Nasionale Ontwikkelingsplan asook die mediumtermyn strategiese raamwerk (MTSR) 2014-2019 aan te pas.

5.1. Die Regering het 'n stel prioriteite vir die 2017/18 begroting geïdentifiseer wat fokus op die besteding aan infrastruktuurinstandhouding, die bevordering van ondersteuning vir vaardigheidsontwikkeling en die handhawing van daadwerklike besteding aan die armes.

5.2. Werk aan die identifisering van doeltreffendhede en besparing oor die res van die MTBR sal voortgaan.

6. Ten sesde het die Lekgotla ook besin oor vordering en die volgende stappe tot die hervorming van maatskappye in staatsbesit sedert die Kabinet-Lekgotla van Februarie 2015. Dit is in die lig van die belangrike rol wat maatskappye in staatsbesit speel in die radikale sosio-ekonomiese transformasie soos uiteengesit in die Vyfde Administrasie se plan.

6.1. Die implementering van die stabiliseringsprogram het met gemengde welslae gevorder. Versterking van leierskap om die omkeerstrategieë uit te voer, is noodsaaklik.

6.2. Eskom is grootliks gestabiliseer met verbetering in beide operasionele en finansiële prestasie.

6.3. Die Interministeriële Komitee sal bly toesig hou oor 13 ander spesifieke ingrypings by maatskappye in staatsbesit.

6.4. Die Lekgotla het die finalisering van die Model van Eienaarskap van Aandeelhouding geprioritiseer, wat die wetgewende raamwerk vir hervorming van maatskappye in staatsbesit teen November 2016 sal toelig.

6.5. Daar sal ook begin word met die skepping van die Presidensiële Koördinerende Raad van Maatskappye in Staatsbesit wat President Zuma oor strategiese besluite en intervensies sal inlig om maatskappye in staatsbesit te skep wat 'n transformerende rol in 'n ontwikkelingstaat sal speel.

Die besluite en planne van die Kabinet-Lekgotla sal die implementering van die Regering se program van aksie versterk en vertroue skep dat Suid-Afrika op koers is met volhoubare maatskaplike ontwikkeling en ekonomiese groei.

7. Spesiale Amptelike Begrafnis

7.1  Die Kabinet spreek sy meegevoel uit oor die afsterwe van die voormalige Minister van Sport en Ontspanning, ds Arnold Makhenkesi Stofile. As 'n veteraan politieke aktivis, was hy betrokke by alle regeringsfere, op verskeie provinsiale, nasionale en internasionale strukture.

7.2 President Jacob Zuma het verklaar dat ds Stofile 'n spesiale staatsbegrafnis sal kry ingevolge Kategorie 2 van die Beleid oor Begrafnisse vir Staats- en Provinsiale amptenare. Om hulde aan hierdie groot leier van ons land te bring, is die amptelike roudiens vir wyle ds Stofile vandag om 11:00 by die Abbotsford Christensentrum in Oos-Londen gehou. President Zuma het beveel dat alle landsvlae in Suid-Afrika op die dag van die begrafnis halfstok sal hang.

7.3  Wyle ds Stofile sal op Donderdag 25 Augustus 2016 by die Universiteit van Fort Hare in Alice, Oos-Kaap, waar hy kanselier was, ter ruste gelê word. President Zuma sal die huldeblyk lewer.

Ons betuig ons innige meegevoel aan sy familie en vriende in hierdie hartseer en moeilike tyd.

Lala Ngoxolo Tat’uStofile.

Navrae:
Donald Liphoko
Skakel: 082 901 0766

Share this page

Similar categories to explore