Minister Gugile Nkwinti: Groepering vir die Ekonomiese Sektor, Werkskepping en die Ontwikkeling van Infrastruktuur mediaverklaring

Ministers en Adjunkministers                         
Direkteurs-Generaal
Lede van die Media
Dames en Here

Goeiemôre en welkom by die mediaverklaring van die groepering vir die ekonomiese sektor, werkskepping en die ontwikkeling van infrastruktuur.

Suid-Afrika het die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) en Visie 2030 aanvaar om 'n beter lewe vir al sy burgers in 'n inklusiewe samelewing te skep. Daar is reeds meer as 'n jaar gelede begin met die implementering van die NOP; ons is sterk op pad om ekonomiese groei te bespoedig en die drieledige uitdaging van werkloosheid, armoede en ongelykheid die hoof te bied.

U sal onthou dat President Jacob Zuma in sy Staatsrede op 11 Februarie die Negepuntplan aangekondig het om groei aan te wakker en werksgeleenthede te skep. President Zuma het verder ook op 11 Augustus 2015 in sy halfjaarlikse terugvoer oor die Staatsrede aan die media 'n vorderingsverslag oor die Negepuntplan voorgelê.

Die Negepuntplan, waarvan die prioriteitsingrypings die vernaamste fokuspunt van die ekonomiese kluster is, is ontwerp om ekonomiese groei te versnel en werksgeleenthede te skep deur onder meer die transformasie van die ekonomie en groter investering. Die drie soorte ingrypings – dryfkragte vir werkskepping, instaatstellers en kostebesnoeiende ingrypings – is ontwerp om saam te werk om die ekonomie te laat groei.

'n Sleutelprioriteit van die Negepuntplan oor sektore heen is om sterker en meer blywende vennootskappe met die privaat sektor te bou.

Hierdie mediaverklaring brei verder uit op die President se vorderingsverslag deur meer breedvoerige inligting te verskaf en die geleentheid te bied vir gesprekvoering oor die implementering van die nege prioriteitsingrypings.

EKONOMIESE KONTEKS

Die internasionale ekonomie kry steeds sterk die wind van voor. Die internasionale ekonomie het in 2014 met 3,4% gegroei. Suid-Afrika se vernaamste handelsvennote het uiteenlopende ekonomiese groei ervaar. Die Europese Unie het met slegs 0,9% gegroei, terwyl Japan met 0,1% gekrimp het. Afrika suid van die Sahara het egter met 5% gegroei en die Verenigde State het ook met 'n stewige 2,4% gegroei. Sjina se ekonomie groei steeds stadiger, maar handhaaf 'n steeds indrukwekkende gemiddeld van 7,4%. Kommoditeitspryse van ystererts, platinum en olie is steeds ver onder hul hoogtepunte van 2008. Die aansienlike daling in die internasionale olieprys het voordele vir Suid-Afrika meegebring, maar sal groei verlaag in olieproduserende Afrika-lande, wat sleutelbestemmings vir Suid-Afrika se vervaardigde uitvoere is.

In die geheel beskou is die wêreldwye vooruitsig nog baie onseker, met projeksies van bruto binnelandse produkte wat deur die Internasionale Monetêre Fonds afwaarts aangepas word. Suid-Afrika kan nie net op internasionale groei staatmaak om as katalisator vir binnelandse groei te dien nie. Die onseker internasionale ekonomiese vooruitsig het 'n dempende uitwerking op sakeaktiwiteite en verbruikersvertroue in die binnelandse ekonomie gehad.

Suid-Afrika staar steeds makro-ekonomiese beperkings in die gesig. Die Regering is egter versigtig optimisties dat die ekonomie sy groeifase sal hervat  grootliks danksy 'n aansienlik meer positiewe vooruitsig ten opsigte van elektrisiteitsvoorsiening en intensiewe pogings deur die Regering om beleggingsvlakke te verhoog.

Die Regering neem ook met trots kennis van die Wêreld Ekonomiese Forum se Global Competitiveness Report, wat aandui dat Suid-Afrika sewe plekke gestyg het om nou die 49ste plek uit 140 lande in die wêreldmededingendheidsindeks te beklee.

In Augustus 2015 het  President Zuma die verslag oor die Status van Vroue in die Suid-Afrikaanse Ekonomie ontvang. Die verslag het die behoefte aan daadwerklike ingrypings vir die ekonomiese bevordering van vroue regoor die land geïdentifiseer, wat met die Negepuntplan en Operasie Phakisa se inisiatiewe begin.

Die verslag dien as 'n basislyn om sosio-ekonomiese bemagtiging van vroue en geslagsgelykheid asook hul menseregte te bevorder.

Die Regering het die benutting van privaatsektorbeleggings in die infrastruktuurbouprogram, die vervaardigingsektor en die Osaanekonomie  onder beskerming van die inisiatiewe van Operasie Phakisa as prioriteit gestel.

Operasie Phakisa is 'n innoverende en baanbrekerbenadering om gedetailleerde planne in konkrete resultate te omskep deur middel van toegewyde lewering en samewerking. Die Regering streef daarna om deur Operasie Phakisa prioriteitsprogramme beter, vinniger en meer doeltreffend te implementeer.

VORDERING MET DIE IMPLEMENTERING VAN DIE NEGEPUNTPLAN

Die Regering streef na betroubare energievoorsiening om energiesekerheid vir nou en in die toekoms te verseker; 'n instaatsteller vir ekonomiese groei.

  • Op 30 Augustus 2015 het President Zuma amptelik een van ses kragopwekkingseenhede by die Medupi-kragstasie in Lephalale, Limpopo geopen, wat ongeveer 800 megawatt (MW) tot die rooster toevoeg.
  • Medupi-kragstasie sal ná voltooiing 4 764 MW tot Eskom se rooster toevoeg   en sal die wêreld se grootste steenkool-aangedrewe kragstasie wees. Dit is ook die vierde droë verkoelde, basislas-stasie wat in 20 jaar deur Eskom gebou is, ná Kendal-, Majuba- en Matimba-kragstasies.
  • Die R2 miljard se Kouga-projek wat in die lewe geroep is, sal hernubare energie voorsien wat tot soveel as 50 000 huise van krag kan voorsien, bykomend tot die groot nuwe energiekapasiteit wat son- en windenergie tot die rooster toegevoeg het. Die elektrisiteit wat deur 37 projekte van die Program vir die Verkryging van. Hernubare Energie van Onafhanklike Kragprodusente (REIPPP) voorsien is, het ook bly styg en voorsien nou net meer as 1 500 MW aan die rooster. In 'n poging om die toename in die plaaslike inhoud van Gekonsentreerde Sonkrag (GSK-) aanlegte onder  die REIPPP te beïnvloed – as 'n eerste stap ter bereiking van hierdie doelwit – het die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT) 'n 100 kilowatt (kW) gekonsentreerde soneregieloodsfasiliteit bekendgestel met 'n unieke ontwerp wat kleiner, slimmer en modulêre heliostate (sonkragkollektors) gebruik om koste-uitdagings die hoof te bied.
  • Meer onlangs het ons werk voltooi aan die proses om die voorkeurbieërs vir die  Program vir die Verkryging van Hernubare Energie van Onafhanklike Kragprodusente vir Klein Projekte (1 – 5 MW) te keur, wat daarop gerig is om klein ontwikkelaars te help om ervaring in projekontwikkeling op te doen en die nodige befondsing vir soortgelyke projekte te verkry.
  • 21 284 huishoudings is onlangs aan roosterelektrisiteit gekoppel en nog 2 761 aan nie-roostertegnologie.
  • Die DWT finaliseer tans die bio-energie-atlas, wat die potensiële energie aandui wat deur middel van landbou-/bosbou-/saagmeule-oorskot-, asook organiese afval regoor die land opgewek kan word. Hierdie hulpmiddel vir besluitneming oor beleid en beleggings is gerig op die verbetering van energiesekerheid en hoër vlakke van energietoegang, en sal voor die einde van die finansiële jaar bekendgestel word. Die atlas verskaf 'n gevoel van die nabyheid van bio-energiebronne aan energie-infrastruktuur en gebiede wat beperkte toegang tot energie het. Dit gee ook 'n aanduiding van potensiële geleenthede vir werkskepping in die oes en omskepping van biomassa in energie.  
  • Konstruksie van die twee Geïntegreerde Energiesenstrums (GES'e) in Bosbokrand en Nkomazi in Mpumalanga is tans in die beplanningstadium en sal in Maart 2016 voltooi wees.
  • 'n IEC kan gemiddeld tot 30 permanente personeellede in diens neem, wat deur tydelike kapasiteit aangevul word. Al die mense wat tydelik en permanent gedurende die boutydperk in diens geneem word, sal die geleentheid gebied word om opgelei te word in vaardighede wat hulle sal toerus om werk in die breër arbeidsmark te kry.

Vordering is gemaak met die herlewing van landbou, die agro-verwerkingswaardeketting en grondhervorming.

  • Die Landboubeleidsaksieplan is hersien om te verseker dat dit 'n dryfkrag vir werkskepping word, asook vir groei, indiensneming, landelike inkomste, belegging, uitsette, uitvoere en streeksontwikkeling in Afrika.
  • Werk aan die ontwikkeling van die 44 Agri-parke in al nege provinsies duur voort. Een Agri-park word binnekort in Noordwes geopen. Produksieplanne is ontwikkel en word regoor die land geïmplementeer om groter produksie in die gebiede wat die Agri-parke ondersteun te verseker. Die DWT onderneem tans 'n lewensvatbaarheidstudie oor agro-innoveringskerns wat die ontwikkeling en verspreiding van toepaslike tegnologieë vir implementering in Agri-parke ondersteun.
  • Altesaam 12 221 kleinhoewe-produsente is tussen April en Junie 2015 deur adviesdienste, opleiding, tegniese ondersteuning en infrastruktuur ondersteun. Daarbenewens word nog 36 plase ingevolge die Herkapitalisering-en-Ontwikkelingsprogram ondersteun.
  • Die DWT vestig tans 'n platform vir die kweek van koring om die ontwikkeling en kommersialisering van nuwe kweektegnologieë vir opkomende en kommersiële boere te ondersteun. Vyf nuwe kultivars sal teen 2020 geproduseer word om groter produktiwiteit en voedselsekerheid te bevorder. Die DWT ondersteun ook die Eucalyptus Genome Project, 'n plaaslike platform vir navorsing oor boomgenomika in Suid-Afrika. Hierdie projek fokus op die identifisering van gewenste eienskappe wat meer akkurate kweking bevorder en bespoedig. Die projek het die potensiaal om die mededingendheid van die bedryf te verhoog op grond van verbeterde fisiese en chemiese eienskappe van hout, asook beter weerstand teen siektes om die
    bosbou-, pulp-, en papierbedryf te ondersteun, en daardeur die ekonomie te laat groei en werksgeleenthede te skep.
  • Die Herindiensstellingstrategie vir die Wes-Kaapse bosbou-uittreegebiede is goedkeur vir die hertoewysing van ongeveer 22 000 hektaar (ha) staatsbosbougrond aan kommersiële bosboubedrywighede. Die voordele daarvan wissel van werkskepping, plaaslike ekonomiese ontwikkeling en toekomstige verbetering in die voorsiening van timmerhout.
  • Volgens die LHA-studie wat deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Onafhanklike Ontwikkelingskorporasie gelas is, sal die herindiensstelling van Wes-Kaapse plantasies 350 voltydse werkers vir die vyfjaartydperk in diens neem. Hierdie getal sal tot 1 500 styg wanneer die plantasies in volle produksie is.
  • In 'n poging op die mededingendheid van die landbousektor deur navorsing, ontwikkeling en innovering te verbeter, het die Regering – saam met die privaat sektor – meer as R100 miljoen in die implementering van innoveringsprogramme vir die varsprodukte-, akwakultuur-, wyn-, sitrus- en bosbousektor, belê.
  • Ten einde die hoeveelheid grond onder besproeiing te vermeerder, is nuwe lewe geblaas in altesaam 74,6 ha gedurende die eerste kwartaal van die huidige finansiële jaar, en vyf lisensies vir watergebruikmagtiging is aan voorheen benadeelde individue uitgereik, wat neerkom op 3,79 miljoen m3 volume water wat vir besproeiing gebruik sal word. Bykans 15 boere wat ’n tekort aan hulpbronne het, is ondersteun met toegang tot water vir produksie.
  • Teen 30 Junie 2015 het die Kommissie op Herstel van Grondregte (CRLR) reeds meer as 78 138 grondeise afgehandel, wat meer as 1,9 miljoen individue uit 385 691 gesinne bevoordeel het uit die toekenning van 3 231 787 ha grond wat teen 'n koste van R18,7 miljard verkry is. Die CRLR het tot dusver meer as R9,1 miljard aan begunstigdes betaal wat finansiële vergoeding vir die grond verkies het. 'n Bykomende R4,1 miljard is toegeken aan begunstigdes wat grond vir ontwikkelingsbystand gekies het.

Suid-Afrika  bevorder veredeling van en waardetoevoeging tot ons minerale rykdom; 'n dryfkrag vir werkskepping in die ekonomie.

  • Operasie Phakisa in die mynboubedryf is ontwerp om belegging te ontsluit, die nasie se produktiewe kapasiteit te verhoog en deelname aan sleutel mineraalwaardekettings aan te moedig.
  • Planne bestaan reeds om werksgeleenthede te behou en alternatiewe vir die bedreiging van werksverliese in die mynbousektor te vind. Alle sleutelbelanghebbers het op 31 Augustus 2015 'n verklaring onderteken om werksgeleenthede te help red en die uitwerking van werksverliese op die bedryf te probeer verlig.
  • Die Departement van Handel en Nywerheid het bystand verleenaan 'n 100kW statiese brandstofsel wat deur platinum en natuurlike gas aangedryf word en by die Kamer van Mynwese se kantore in Johannesburg geïnstalleer is.
  • Gesprek word tans gevoer met die openbare en privaat sektor om markontwikkeling, die vroeë aanvaarding van tegnologie, en vervaardigingsaanlegte in Suid-Afrika te bevorder.
  • Die DWT het deur openbare-privaatvennootskappe die ingebruikneming van drie 5kW waterstof-brandstofseleenhede by drie skole in die Cofimvaba distrik in die Oos-Kaap gefasiliteer, asook een 5kW waterstof-brandstofseleenheid by 'n kliniek in Windsor East, Johannesburg, Gauteng. Benewens die toegang tot energie ter ondersteuning van onderwys- en gesondheidsdienste, lê die tegnologie ook die grondslag vir die groei van 'n nuwe industrie wat op Suid-Afrika se platinumhulpbron gegrond is.

Ons beweeg in die rigting van meer doeltreffende implementering van 'n hoë-impak nywerheidsbeleid-aksieplan (IPAP).

  • Tydens die halfjaarlikse terugvoer oor die Staatsrede aan die media het die President aangekondig dat vordering gemaak word met die implementering van die IPAP, wat een van die dryfkragte vir werkskepping in die ekonomie is.
  • Die Regering gaan voort om 'n omgewing te vestig wat bevorderlik en aantreklik is vir plaaslike en buitelandse beleggers. Dit word bereik deur middel van nywerheidsfinansiering, wat bystand aan ondernemings wat werksgeleenthede kan skep en volhou, insluit.
  • Die Regering het deur die Program vir die Groter Mededingendheid in die Vervaardigingsektor 161 ondernemings vir befondsing goedgekeur en belegging van R5,8 miljard bewerkstellig, waardeur 28 212 werksgeleenthede geskep is.
  • Die Motorvoertuig-aansporingskema het 13 ondernemings vir befondsing goedgekeur en beleggings van R1,5 miljard bewerkstellig.
  • Die Regering is verbind tot transformasie van die ekonomie om te verseker dat voorheen gemarginaliseerde groepe op 'n betekenisvolle wyse aan die ekonomie deelneem. Dit het gelei tot die opstel van die Beleidsraamwerk vir Swart Nyweraars, wat in Julie 2015 aan die ESEID-groepering en die Kabinetkomitee voorgelê is.
  • Beduidende vordering word gemaak om belegging na die Nywerheidsontwikkelingsones (IDZ's) te lok. In die Coega IDZ is byvoorbeeld 12 nuwe beleggers met 'n beleggingswaarde van meer as R8 miljard gekontrakteer, vyf beleggers met 'n beleggingswaarde van meer as R140 miljoen is in die Oos-Londen IDZ gekontrakteer, en die Richardsbaai IDZ het vyf nuwe beleggers met 'n beleggingswaarde van meer as R2,8 miljard gekontrakteer.

Die Regering doen sy deel om werkplekkonflik te temper

  • U is sekerlik daarvan bewus dat Adjunkpresident Cyril Ramaphosa die  koppelvlak tussen die sakesektor en georganiseerde arbeid lei met die oog op die normalisering van arbeidsverhoudinge.
  • Konsensus oor 'n werksdefinisie van 'n Nasionale Minimumloom is by die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad bereik.
  • Ander meganismes om werkplekkonflik te verminder sluit in 'n gedragskode vir stakings, uitsluitings en verpligte arbitrasie deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie.
  • Suid-Afrikaners is in die algemeen vredeliewende en wetsgehoorsame mense. Ons moet 'n einde bring aan alle misdadige en gewelddadige aktiwiteite gedurende nywerheidsoptrede en arbeidstakings.
  • Ek wil graag beklemtoon dat vreedsame onderhandelinge die beste manier is om geskille en probleme op te los.

Ontsluiting van die potensiaal van klein, medium en mikro-ondernemings (KMMO's), koöperasies, township- en landelike ondernemings as dryfkragte van werkskepping in die ekonomie.

  • 620 informele handelaars in al nege provinsies het opleiding ontvang deur middel van die Nasionale loodsprojek vir die opheffing van Informele Ondernemings, in vennootskap met die Sektorale Onderwys-en-opleidingsowerheid vir die Groothandel- en Kleinhandelsektor. Die opleiding het gefokus op entrepreneurskap, die bemarking van die onderneming, klantesorg, finansiële bestuur, aankoopvaardighede, nakoming van regulasies en verordeninge, higiëne en voedselsekuriteit, bevoorrading, en afsetpunte.
  • 489 ondernemings en koöperasies is deur die inisiatiewe vir landelike ontwikkeling, die omgewing en die toerismesektor ondersteun. 'n Varsproduktemark is in die uThungulu Distrikmunispaliteit in KwaZulu-Natal op die been gebring.
  • Ter bevordering van die ontwikkeling van 'n lewenskragtige bio-ekonomie-nywerheidsektor, ondersteun die Nywerheidsontwikkelingsentrum vir Biovervaardiging wat by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad tot stand gebring is, nou 17 klein- en medium- hoëvlaktegnologie-ondernemings.
  • Ter ondersteuning van die ontwikkeling van 'n mededingende mobiele innoveringsbedryf, is 'n mobiele oplossingslaboratorium (mLab Southern Africa) by die Innovation Hub gevestig, en ondersteun tans 11 klein en vyf medium mobiele innoveringsondernemings.
  • As deel van die Regering se strewe om toegang tot finansiering vir KMMO's en koöperasies te verseker, het die Departement van Kleinsakeontwikkeling se Program vir die Ontwikkeling van Swart Sakeverskaffers steun aan 376 ondernemings gebied, ten bedrae van meer as R95 miljoen. Dit het 10 399 werksgeleenthede onderhou.
  • Die Kleinsake-finansieringsagentskap (SEFA) het R344 miljoen aan 24 711 KMMO's uitbetaal. Dit het ook 5 305 ondernemings wat in besit van jong mense is, 22 296 in swart besit, 21 940 in besit van vroue, en 22 620 KMMO's en koöperasies in voorkeurprovinsies gefinansier. Dit is belangrik om daarop te let dat 43% van die toewysings in die prioriteitsektore was – soos konstruksie, inligting- en kommunikasietegnologie (IKT), mynbou, vervaardiging, landbou en toerisme – soos omskryf word in die Nuwe Groeipad en IPAP.
  • Dit is bemoedigend dat 98% van die ondersteuning aan informele ondernemings gebied word. Dit is in ooreenstemming met die Negepuntplan wat deur die President gedurende die 2015 Staatsrede aangekondig is. Let daarop dat die meeste van die SEFA-lenings nie deur enige vorm van kollateraal gerugsteun word nie.
  • Die Kleinsake-ontwikkelingsagentskap se netwerk van 48 inkubators ondersteun 2 236 kliënte. Altesaam 535 permanente werksgeleenthede is deur klein ondernemings in inkubasieprogramme geskep, hoofsaaklik in die landbou- en konstruksiesektor.

Vordering is ook in oorvleuelende gebiede geregistreer om die ekonomie te hervorm, 'n hupstoot te gee en te diversifiseer. Dit is ontwerp om die ander nege prioriteitsingrypings te ondersteun.

Telekommunikasie

  • Die Departement van Telekommunikasie en Posdienste het met die proses begin om breëbandverbindingsdienste in agt distrikte te voorsien waar die Nasionale Gesondheidsversekeringsprogram geloods word, met inbegrip van die aanstelling van 'n netwerkdiensverskaffer om die fasiliteite te verbind. Daarbenewens is die ontwikkeling van die verbindingsplan van skole in die agt uitgesoekte distrikte ook reeds aan die gang.
  • 380 skole is verbind deur Universele Diensverpligtings wat deur die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika opgelê is. Dit behels die klassifikasie van skole op grond van hul nabyheid aan bestaande netwerkinfrastruktuur. Altesaam 1 938 skole is met geriewe en rekenaarlokale toegerus, en 'n verdere 131 landelike gemeenskappe is van IKT-toerusting en -dienste voorsien. Die implementering van breëband- en IKT sal plaaslike ekonomiese ontwikkeling stimuleer en ekonomiese geleenthede vir die jeug verbeter.

Water en sanitasie

  • 27 200 huishoudings het onlangs toegang tot veilige drinkwater verkry. Twee waterprojekte wat deur die Streeksgrootmaat-infrastruktuurtoekenning befonds is, is in Masilonyana Plaaslike Munisipaliteit in die Vrystaat voltooi, en die oprigting van 15 grootmaatinfrastruktuurskemas is tans in verskillende fases van voltooiing.
  • Fase 1 van die Mokolo Crocodile Water Augmentation Project is voltooi en voorsien in al die korttermynwatervereistes in dfie Waterberg-gebied. Dit sal daartoe bydra om in die Medupi- en Matimba-kragstasies se watervereistes te voorsien.
  • 3 978 huishoudings het onlangs deur die Toekenning vir Landelike Huishouding-infrastruktuur toegang tot sanitasie verkry en 3 822 emmerstelsels in formeel gevestigde gebiede is deur behoorlike sanitasiegeriewe vervang.

Vervoer, spoor en paaie

  • Vervoerinfrastruktuur ondersteun al nege die ander prioriteitsingrypings en is 'n belangrike instaatstellende faktor vir ekonomiese groei.
  • Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika se program vir die deurlopende hernuwing van hul vloot is goed op dreef, en een van die treine wat in Brasilië vervaardig is, is gereed vir lewering op 30 November 2015.  
  • In 'n poging om provinsiale paaie te onderhou, is 19,24 km bevlak, 62 km herseël, 18 km met gruis bevlak, 821 km geskraap en 227 628 m² se slaggate herstel. Die provinsiale padnetwerk word deur die Provinsiale Toekenning vir Paaie-instandhouding (PRMG) befonds. 'n Lys van hierdie paaie verskyn in Tabel B5 van die Wet op die Verdeling van Inkomste: Provinsiale Paaie-infrastruktuurprojekte wat deur die PRMG befonds word.
  • Oprigting van drie brûe is in verskillende stadia van voltooiing in Mbombela, Bushbuckridge en Nkomazi in Mpumalanga (rekonstruksie van vloedbeskadigde brûe).
  • Die Hoëspoedbusvervoerstelsel is in verskeie stede in Suid-Afrika in werking gestel:
    • In Kaapstad vervoer MyCiTi gemiddeld 42 522 mense teen 'n doelwit van 50 000 per weeksdag.
    • Rea Vaya in Johannesburg vervoer gemiddeld 33 670 mense teen 'n doelwit van 40 000 per weeksdag.
    • In Pretoria vervoer A Re Yeng gemiddeld 3 000 mense teen 'n doelwit van 10 000 per weeksdag.
    • Go George vervoer gemiddeld 7 630 mense teen 'n doelwit van 10 000 per weeksdag in George.
  • Die konstruksie brei steeds die dekking van die stelsel in verskillende stede uit ooreenkomstig implementeringsvereistes en beskikbare befondsing.
  • Die Suid-Afrikaanse Nasionale Paaieagentskap Beperk het begin met voorlopige ontwerpe en ander voorbereidingswerk vir die opgradering van die Moloto-pad.
  • Die lewensvatbaarheidstudie vir die oprigting van die spoorfabriek in Ekurhuleni is goedgekeur. Hierdie fabriek sal 580 waens vervaardig en ongeveer 33 000 direkte en indirekte werksgeleenthede skep.
  • Die ontwikkeling van 'n kusvaartbeleid ter ondersteuning van die Oseaanekonomie-program van Operasie Phakisa is byna voltooi.
  • 'n Konsepraamwerk vir privaatsektordeelname vir die hawens- en spoorwegsektor is ontwikkel en word binnekort voltooi.

Die Negepuntplan-ingrypings is ontwerp om die ekonomie op 'n gefaseerde wyse op die lang termyn te stimuleer. Elke prioriteitsingryping werk nie in isolasie nie, maar vorm deel van 'n geïntegreerde nasionale poging. Dit is 'n nasionale poging wat op ekonomiese groei gerig is. Die ekonomiese bemagtiging van vroue is van deurslaggewende belang vir Suid-Afrika om werklike ekonomiese ontwikkeling en groei te verseker. Die Negepuntplan-ingrypings sal resultate oplewer oor verskillende tydperke op die onmiddellike, medium- en langtermyn.

Ons is vol vertroue dat hierdie prioriteitsingrypings sal help om Suid-Afrika se ekonomie te laat groei en die uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykheid die hoof te bied, mits ons almal saamwerk. Die ekonomie is ons almal se verantwoordelikheid.

Kom ons laat die land saam vorentoe beweeg.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore