Staatsrede deur President Cyril Ramaphosa, 6 Februarie 2025, Kaapstadse Stadsaal
Speaker van die Nasionale Vergadering, me. Thoko Didiza,
Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), me. Refilwe Mshweni Tsipane,
Adjunkpresident Shipokosa Paulus Mashatile,
Hoofregter Mandisa Maya en regterpresidente,
Voormalige president Thabo Mbeki,
Voormalige president Kgalema Motlanthe,
Voormalige adjunkpresident David Mabuza,
Voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, me. Baleka Mbete,
Voormalige adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering, mnr. Lechesa Tsenoli,
Voormalige voorsitter van die NRP, mnr. Amos Masondo,
Burgemeester van die Stad Kaapstad, Geordin Hill-Lewis,
Dekaan van die diplomatieke korps, streeksdekane en hoofde van sendings,
Lede van die Parlement,
Mede-Suid-Afrikaners
Ons is hier bymekaar terwyl ons land treur oor die tragiese en verwoestende verlies van 14 Suid-Afrikaanse soldate wat deel was van ʼn sending wat geveg het vir vrede in die oostelike dele van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK).
Ons buig ons hoofde as ʼn huldeblyk aan:
• Stafsersant William Eddie Col
• Stafsersant Molahlehi Ishmael Molahlehi
• Stafsersant Shwahlane Theophilus Seepe
• Korporaal Matome Justice Malesa
• Korporaal Rinae Nemavhulani
• Onderbombardier Itumeleng Macdonald Moreo
• Onderkorporaal Tseke Moffat Molapo
• Onderkorporaal Metse Stansly Raswiswi
• Skutter Sebatane Richard Chokoe
• Skutter Derrick Maluleke
• Skutter Tshidiso Andries Mabele
• Skutter Calvin Louis Moagi
• Skutter Mokete Joseph Mobe
• Weerman Peter Jacobus Strydom
Hulle het saam met medesoldate van ander lande in Suider-Afrika gesterf ter verdediging van die basiese regte van die Kongolese mense om in vrede en veiligheid te leef.
Hulle het nie gesterf in die strewe na hulpbronne, grondgebied of mag nie.
Hulle het gesterf sodat die gewere op ons vasteland vir ewig stilgemaak kan word.
Ons salueer ons dapper soldate.
My mede-Suid-Afrikaners,
Hierdie staatsrede vind plaas terwyl ons 70 jaar vier sedert die aanvaarding van die Vryheidshandves by die Kongres van die Mense in Kliptown.
Die Vryheidshandves is die hoeksteen van ons demokrasie se Grondwet.
Dit omvat ʼn visie van ʼn verenigde, nie-rassige, nie-seksistiese, demokratiese en welvarende Suid-Afrika.
Dit omvat ʼn visie van ʼn land waarin die regering geskoei is op die wil van die mense, waar die grond gedeel word onder diegene wat dit bewerk, waar die mense deel in die land se rykdom en almal gelyk is voor die wet.
Dit is hierdie visie wat ons steeds lei terwyl ons daaraan werk om die nasie te bou waarna ons almal streef.
Dit is hierdie gees van die Kongres van die Mense wat ons inspireer terwyl ons voorberei vir ʼn nasionale dialoog waarin Suid-Afrikaners weereens gevra word om ʼn nuwe pad vir ons land uit te stippel.
Ons moet hierdie pad uitstippel in ʼn wêreld wat vinnig verander.
Dit is ʼn wêreld van beide interafhanklikheid en mededinging, van samewerking en konflik.
Dit is ʼn multipolêre wêreld waarin nuwe lande na vore kom om ʼn groter rol in globale aangeleenthede te speel.
Ons sien toenemende mededinging oor handel, tegnologie en invloed in globale instellings.
Daar is wêreldwyd basiese verskuiwings aan die gang wat elke aspek van mense se lewens beïnvloed – van die toenemende uitwerking van klimaatsverandering tot die vinnige vooruitgang in kunsmatige intelligensie (KI), geopolitiese spanning en gewelddadige konflikte.
In die lig van hierdie uitdagings sien ons die opkoms van nasionalisme en proteksionisme, die strewe na eng belange en die agteruitgang van gemeenskaplike sake.
Dit is die wêreld wat ons, as ʼn ontwikkelende ekonomie, nou moet navigeer.
Maar dit skrik ons nie af nie. Ons sal nie afgeskrik word nie.
Ons is ʼn veerkragtige volk. Ons sal nie afgeknou word nie.
Ons sal saamstaan as ʼn verenigde nasie.
Ons sal met een stem praat ter verdediging van ons nasionale belange, ons soewereiniteit en ons grondwetlike demokrasie.
Deur getrou te bly aan ons waardes, deur ons unieke sterkpunte en gawes te benut en deur gemeenskaplike doelwitte te smee, kan ons hierdie moeilike omstandighede tot ons voordeel omskep en ons land vorentoe dryf.
As Suid-Afrikaners staan ons vir vrede en geregtigheid, gelykheid en solidariteit. Ons staan vir nie-rassigheid en demokrasie, vir verdraagsaamheid en deernis. Ons staan vir gelyke regte vir vroue, vir persone met gestremdhede en vir lede van die LGBTQIA+-gemeenskap. Ons staan vir ons gedeelde menslikheid, nie vir die oorlewing van die sterkstes nie.
Kom ons praat dus vanaand oor die nasie wat ons wil hê en kom ons praat oor die werk wat ons moet doen – en die werk wat ons reeds doen – om daardie nasie te bou.
Ons wil ʼn nasie hê wat vereniging is in ons diversiteit.
Ondanks moeilike tye in ons verlede het ons saamgewerk om ʼn gesamentlike doelwit te bereik.
Deur middel van vennootskappe het ons vrede en demokrasie in ons land tot stand gebring.
Ons het ʼn oorwinning behaal oor apartheid – ʼn misdaad teen die mensdom, wat mense hul menseregte ontneem het, wat hulle hul land en lewensmiddele ontneem het en hulle van hul menswaardigheid gestroop het.
Deur middel van vennootskappe het ons ʼn verwoestende pandemie oorkom en ons land herbou ná die skade wat deur staatskaping aangerig is.
Saam het ons blywende instellings gebou wat ons demokrasie ondersteun, ons basiese regte beskerm en die welstand van alle Suid-Afrikaners bevorder.
Ons het betekenisvolle vennootskappe tussen die regering en die sakesektor, arbeid, die burgerlike samelewing en ander maatskaplike vennote gebou om groei en ontwikkeling te bevorder; dit staan as toonbeelde van samewerking vir die res van die wêreld.
Suid-Afrikaners gaan voort om ons land se uitdagings die hoof te bied en ʼn nasie te bou wat vir almal werk.
Gelei deur ons mense se keuse, soos aangedui in verlede jaar se verkiesing, het ons ʼn regering van nasionale eenheid gevorm om uitdrukking te gee aan ons kultuur van samewerking.
As politieke partye het ons ons verskille opsygesit en ooreengekom om saam te werk tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.
In die afgelope week het ons die mediumtermyn-ontwikkelingsplan aanvaar, wat ʼn duidelike en vooruitstrewende program vir die volgende vyf jaar uiteensit.
Die aksies wat in die mediumtermyn-ontwikkelingsplan vervat is, sal ons drie strategiese prioriteite bevorder:
Eerstens, om inklusiewe groei en werkskepping te bevorder.
Tweedens, om armoede te verminder en die hoë lewenskoste die hoof te bied.
Derdens, om ʼn bekwame, etiese ontwikkelingstaat te bou.
Ons dringendste taak is om die ekonomie te laat groei, werk te skep, armoede te verminder en alle Suid-Afrikaners se lewens te verbeter.
Om hierdie taak te onderneem, het ons ʼn regering nodig wat vír die mense werk.
Ons het ʼn staat nodig wat bevoeg en bekwaam is en deur ʼn professionele staatdiens ondersteun word.
Suid-Afrikaners wil ʼn staat hê wat alle mense met waardigheid, nederigheid en respek behandel.
ʼn Staat met leiers wat bereid is om ons mense met volkome toewyding te dien en staatsamptenare wat eties, vaardig en behoorlik gekwalifiseer is.
Om hierdie doelwitte te bereik, versterk ons die rol van die staatdienskommissie met die aanstelling van sleutelpersoneel wat die sake van ons staat bestuur, insluitend direkteurs-generaal (DG’s) adjunk-DG’s, hoof uitvoerende beamptes van staatsbeheerde entiteite (SOE’s), raadslede en ander senior posisies.
Ons sal ʼn werwingskema vir gegradueerdes instel sodat ons die beste en slimste kandidate na die staatsdiens kan lok.
ʼn Bekwame staat moet begin waar mense woon en werk.
In talle stede en dorpe regoor die land word paaie nie onderhou nie, water- en elektrisiteitsvoorsiening word dikwels onderbreek, vullis word nie verwyder nie en riool stroom in die strate af.
Dit is deels daaraan te wyte dat talle munisipaliteite nie oor die tegniese vaardighede en die nodige hulpbronne beskik om in die mense se behoeftes te voorsien nie.
Baie munisipaliteite het nie die inkomste wat hulle deur hierdie dienste verdien in die instandhouding van infrastruktuur herbelê nie.
Vanaf vanjaar sal ons saam met ons munisipaliteite werk om professioneel-bestuurde, omheinde nutsdienste vir water- en elektrisiteitsdienste te vestig en te verseker dat daar voldoende belegging en instandhouding is.
Talle van die uitdagings in munisipaliteite spruit uit die ontwerp van ons plaaslike regeringstelsel.
Ons sal derhalwe uitgebreide raadpleging onderneem om ʼn opgegradeerde Witskrif vir Plaaslike Regering saam te stel en ʼn moderne pasgemaakte plaaslike regeringstelsel te ontwikkel.
Ons sal die befondsingsmodel vir munisipaliteite hersien aangesien baie van hulle nie ʼn lewensvatbare en volhoubare inkomstebasis het nie.
Ons sal steeds met tradisionele leiers saamwerk wanneer plaaslike ontwikkelingsprogramme geïmplementeer word.
Ons sal ons ondersteuning uitbrei na munisipaliteite wat hulp benodig, gegrond op die lesse van die presidensiële eThekwini-werkgroep.
Ons sien reeds vooruitgang in eThekwini namate ons die distriksontwikkelingsmodel implementeer, wat alle sleutelrolspelers in die regering, die sakesektor, arbeid en gemeenskapsgebaseerde organisasies in staat stel om saam te werk.
Terwyl ons daaraan werk om die staatsdiens te hervorm en die bevoegdheid van die staat op te bou, sal ons tegnologie inspan om die wyse waarop die regering werk, te transformeer.
Ons sal in digitale openbare infrastruktuur belê om Suid-Afrikaners toegang te gee tot regeringsdienste – enige tyd, enige plek – deur ʼn herbekendstelling van die gov.za-platform.
Die implementering van ʼn digitale identiteitstelsel sal die kern van hierdie transformering wees.
Hierdie maatreëls sal die verhouding tussen die mense en die regering transformeer; dit sal een regering skep wat aan almal toeganklik is deur ʼn digitale platform.
Ons wil ʼn nasie skep met ʼn florerende ekonomie wat tot almal se voordeel strek.
Om hierdie gunstige siklus van belegging, groei en werksgeleenthede te skep, moet ons die land se ekonomiese groei tot meer as 3% laat styg.
Om hoër vlakke van ekonomiese groei te bereik, onderneem ons massiewe belegging in nuwe infrastruktuur, terwyl ons die bestaande infrastruktuur opgradeer en onderhou.
Ons ontwikkel innoverende maniere om infrastruktuur te befonds.
Ons betrek plaaslike en internasionale finansiële instansies en befondsers om infrastruktuur ter waarde van R100 miljard te befonds.
ʼn Projekvoorbereiding-bodvenster is van stapel gestuur om beleggingsgereedheid te versnel.
Dit sluit hersiende regulasies vir openbare-privaatvennootskappe in, wat kundigheid en fondse vanuit die private sektor sal ontsluit.
Die regering sal meer as R940 miljard oor die volgende drie jaar aan infrastruktuur bestee.
Dit sluit R375 miljard se uitgawes aan staatsondernemings in.
Hierdie befondsing sal aangewend word om ons paaie en brûe op te gradeer, damme en waterweë te bou, hawens en lughawens te moderniseer en die ekonomie te versterk.
Twaalf saamgesmelte finansieringsprojekte ter waarde van nagenoeg R38 miljard is in die afgelope jaar deur die infrastruktuurfonds goedgekeur.
Dit sluit projekte in soos water en sanitasie, studenteverblyf, vervoer, gesondheid en energie.
Konstruksie van die Mtentu-brug gaan voort.
Hierdie brug sal oor die rivier tussen Port Edward and Lusikisiki strek en sal die hoogste brug in Afrika wees.
Die Polihlali-dam sal 490 miljoen kubieke meter water per jaar vanaf die Lesotho-hooglande tot die Vaalrivierstelsel bydra, wat watertoevoer na verskeie provinsies in die toekoms sal verseker.
Deur samewerking met internasionale vennote word klein hawens opgeknap en ekonomiese geleenthede vir kusgemeenskappe ontsluit.
Ons is vinnig besig om hindernisse tot betekenisvolle en vinniger groei te uit die weg te ruim.
Die ekonomiese hervormings wat ons deur Operasie Vulindlela implementeer, het ʼn nuwe gevoel van optimisme en sekerheid in ons ekonomie geskep.
Ons het vooruitgang gemaak met die herbou en herstrukturering van verskeie netwerknywerhede.
Ons sien positiewe uitslae met die verbeterde funksionering van ons netwerknywerhede, asook die beleggingsgeleenthede wat na vore kom; beleggers gryp die geleentheid aan en dit lei na werkskepping.
Deur middel van samewerking met die sakesektor, arbeid en ander maatskaplike vennote, moet die werk nou voltooi word.
Ons sal vanjaar met ʼn tweede golf van hervormings begin om vinniger, meer inklusiewe groei te ontketen.
Ons onmiddellike fokus is om Eskom, Transnet en ander staatsondernemings wat noodsaaklik vir ons ekonomie is, in staat te stel om optimaal te funksioneer.
Ons herposisioneer hierdie entiteite om wêreldklas-infrastruktuur te voorsien en terselfdertyd so ook mededinging in bedrywighede te bemoontlik, hetsy in elektrisiteitsopwekking, vragspoor of haweterminale.
Ons gaan voort met die basiese hervorming van ons staatsondernemings om te verseker dat hulle hul maatskaplike en ekonomiese mandate kan nakom. Dit sluit werk in wat aan die gang is om ʼn nuwe model in plek te stel om bestuur en toesig oor openbare entiteite te versterk.
Ons sal openbare eienaarskap van strategiese infrastruktuur tot openbare voordeel verseker, terwyl ons innoverende wyses vind om privaatbeleggings te lok om dienste te verbeter en te verseker dat openbare inkomste op die verskaffing van openbare dienste gefokus kan word.
Ons is besig met ʼn proses om ʼn toegewyde hervormingseenheid vir staatsondernemings te stig om hierdie werk te koördineer.
Die maatreëls wat ons in werking gestel het deur die energie-aksieplan het die erns en die intensiteit van beurtkrag verminder, wat gelei het tot 300 dae sonder beurtkrag sedert Maart 2024.
Alhoewel die terugkeer van beurtkrag vir twee dae verlede week ons daaraan herinner het dat ons energievoorsiening steeds beperk is, is ons steeds op ʼn positiewe trajek.
Ons moet nou die risiko van beurtkrag vir eens en altyd opsy sit deur die hervorming van ons energiestelsel te voltooi om langtermyn-energiesekerheid te verseker.
Die Wysigingswet op Elektrisiteitsregulering, wat op 1 Januarie in werking getree het, is die begin van ʼn nuwe era.
Vanjaar sal ons die boustene van ʼn mededingende elektrisiteitsmark in plek stel.
Met verloop van tyd sal dit verskeie elektrisiteitsopwekkingsentiteite in staat stel om na vore te kom en mee te ding.
Ons sal beleggings deur die private sektor in ons transmissienetwerk mobiliseer om meer hernubare energie aan die netwerk te koppel.
Namate ons ons energiestelsel hervorm, bou ons steeds suksesvolle multilaterale vennootskappe in die globale poging om die vernietigende uitwerking van klimaatsverandering te stuit.
Ons Just Energy-oorgang kry momentum.
Meer as 13 miljard Amerikaanse dollars is deur die internasionale gemeenskap belowe en aansienlike private kapitaal word plaaslike belê.
Ons is vasbeslote om ons verpligtinge na te kom rakende die vermindering van koolstofuitlatings en sal dit doen teen ʼn tempo en skaal wat ons land kan bekostig.
Ons laat ons haweterminale en spoorkorridors herleef deur middel van die vraglogistieke padkaart en gebruik privaatkapitaal om dit tot wêreldstandaarde te herstel.
Transnet se werkverrigting het gestabiliseer en verbeter geleidelik.
Ons het in Desember 2024 ʼn netwerkverklaring vrygestel wat vir die eerste keer private spooroperateurs in staat stel om toegang tot die vragspoorstelsel te kry.
Oop toegang tot die spoornetwerk sal maatskappye wat treine bedryf, in staat stel om die volume goedere wat per spoor vervoer word, te verhoog; terwyl ons netwerkinfrastruktuur in staatsbesit bly.
Dit sal verseker dat Suid-Afrikaanse minerale, voertuie en landbouprodukte internasionale markte bereik, dat werksgeleenthede geskep word en dat broodnodige inkomste vir ons fiskus verdien word.
Nuwe hyskrane en ander hawetoerusting word in gebruik geneem om die laai en aflaai van vrag te bespoedig en wagtye vir skepe in ons hawens te verminder.
Terwyl ons voortgaan met die hervormingsagenda, is ʼn dringende prioriteit om veilige en betroubare watervoorsiening regoor die land te verseker.
Baie mense in ons stede, dorpe en nedersettings ervaar al hoe meer gereelde watertekorte as gevolg van mislukte waterinfrastruktuur.
Dit is onmoontlik om sonder water te leef en dit is onmoontlik vir die ekonomie om sonder water te groei.
Ons neem dus ʼn reeks beslissende aksies om die waterkrisis op te los, om ons mense in staat te stel om toegang tot water te hê daar waar hulle woon, hetsy in townships of landelike gebiede.
Ons belê beduidende bedrae in die uitbreiding van ons waterbronne. Met ons besoeke aan verskeie plekke regoor die land het ons geluister hoe bejaardes kla oor die gebrek aan water. Hulle het aan ons vertel hoe skaars water in hul omgewings is. Hulle het die regering gevra om vir hulle water te bring. Ja, ons sal dit alles doen. Water sal jou bereik waar jy woon. Jy sal dit kry.
Tot op hede het die infrastruktuurfonds R23 miljard vir sewe groot projekte vir waterinfrastruktuur verseker.
Ons het vertragings in groot waterinfrastruktuurprojekte soos fase 2 van die Lesotho-hooglande-waterprojek en die uMkhomazi-dam beëindig.
Werk is op dreef om voor te berei vir die bou van die Ntabelanga-dam aan die uMzimvubu-rivier om bykomende water vir huishoudelike gebruik en vir besproeiing in die Oos-Kaap te voorsien.
Binne die volgende jaar sal ons die stigting van die nasionale agentskap vir waterhulpbroninfrastruktuur voltooi om ʼn heelwat groter belegging in waterprojekte te ontsluit.
Deur die Wysigingswetsontwerp op Waterdienste sal ons ʼn lisensiëringstelsel vir waterdiensverskaffers instel en lisensies ontneem waar verskaffers nie aan die standaarde vir gehalte drinkwater voldoen nie.
As deel van ons hervormingsagenda, sal ons voortgaan om ons visumstelsel te verbeter om dit makliker te maak vir geskoolde mense om in ons land te belê en toerisme te laat groei.
Ons sal vanjaar ʼn elektroniese reismagtigingstelsel bekendstel om ʼn veilige, ten volle digitale visum-aansoekproses moontlik te maak.
Hierdie stelsel sal KI en outomatisering gebruik om die moontlikheid van korrupsie te verminder en vinnige omkeertye vir toeristevisums moontlik te maak.
Ons het meer as 90% van die agterstand van meer as 300 000 visum-aansoeke uit die weg geruim.
Hierdie veranderings stuur ʼn sterk boodskap uit dat Suid-Afrika oop is vir besigheid en toerisme.
Ons wil hê dat voorspoed en geleenthede deur almal in ons nasie gedeel word.
Ons ekonomie is vir baie dekades teruggehou deur die uitsluiting van die grootste meerderheid Suid-Afrikaners.
Swart Suid-Afrikaners is van grond, kapitaal, vaardighede en geleenthede ontneem.
Ons ekonomie was uitgehonger van die potensiaal van sy mense en daarom moet ons ons ekonomie transformeer en dit meer inklusief maak.
Ons fokus dus daarop om swart mense, vroue en persone met gestremdhede te bemagtig; hulle was doelbewus uitgesluit van die geleenthede om ʼn sleutelrol in die ekonomie van hul eie land te speel.
Ons sal oor die volgende vyf jaar ʼn transformasiefonds ter waarde van R20 miljard per jaar stig om ondernemings in swart besit en kleinsake-ondernemings te finansier.
Ons sal die regulasies van die Wet op Openbare Verkryging bespoedig om te verseker dat besighede wat deur vroue, die jeug en persone met gestremdhede besit word, billike geleenthede in regeringskontrakte ontvang.
Ons sal voortgaan om opleiding aan vroue-entrepreneurs te voorsien om hulle in staat te stel om vir staatstenders mee te ding.
In November verlede jaar het ons die nasionale vaardigheidsfonds se program vir persone met gestremdhede van stapel gestuur.
In sy eerste fase sal hierdie transformerende inisiatief meer as 10 000 persone met gestremdhede bemagtig deur pasgemaakte opleidingsprogramme, toelaes en gespesialiseerde hulpmiddels.
Ons moet hierdie deel van die werk as die besigheidsektor, die regering, arbeid en die burgerlike samelewing onderneem om persone met gestremdhede in staat te stel om ʼn belangrike rol in ons land se ekonomie te speel.
By wyse van hierdie programme herstel ons nie net ʼn ernstige historiese onreg nie, ons ontketen die potensiaal van ons ekonomie vir volgehoue groei.
Ons wil ʼn land hê waar daar werk vir almal is, waar elke mens ʼn behoorlike bestaan kan verdien en elkeen sy potensiaal kan verwesenlik.
ʼn Land waar werkers se regte beskerm word, werksomstandighede verbeter en waar vroue en mans gelyke betaling ontvang vir werk van gelyke waarde.
Ons moet seker maak dat ekonomiese groei vir almal werk skep, veral vir jongmense.
Die sukses van die presidensiële indiensnemingstimulus wys hoe openbare indiensnemingsprogramme betekenisvolle werk kan skep wat wyer voordele skep en bydra tot volhoubare indiensneming.
Die indiensnemingstimulus het bykans 2.2 miljoen geleenthede vir indiensneming en lewensbestaan geskep deur innoverende modelle wat werk van hoë gehalte aan deelnemers verskaf.
Die maatskaplike indiensnemingsfonds het vanjaar meer as 80 000 werksgeleenthede geskep.
Dit het meer as 12 000 deelnemers ondersteun om entrepreneursaktiwiteite te bedryf.
Jongmense het die afgelope jaar 235 000 werksgeleenthede ontvang deur die nasionale padbestuursnetwerk, wat deur die SAYouth.mobi-plaform ondersteun word.
Ons moet voortbou op hierdie innoverende programme om voortdurend werk vir die jeug op ʼn nog groter skaal te skep.
Om werk te skep moet ons ons unieke sterkpunte en ons ongetapte potensiaal benut om nywerhede vir die toekoms te bou – groen vervaardiging, hernubare energie, elektriese voertuie en die digitale ekonomie.
Vanjaar sal ons ʼn gemoderniseerde en omvattende nywerheidsbeleid finaliseer wat ekonomiese groei sal dryf.
Ons sal hierdie strewe verwesenlik deur op die geleenthede in lokalisering, diversifikasie, digitalisering en koolstofuitlatingvermindering te fokus.
Ons werk aan die volle implementering van die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied, wat die handelshindernisse op ons pad uit die weg sal ruim.
As die mees geïndustrialiseerde ekonomie in Afrika, posisioneer ons die land om in die middel van hierdie ontluikende en groeiende mark te staan.
Ons benut die son en die wind om ons land ʼn leier in hernubare energie en groen vervaardiging te maak.
Met ʼn oorvloed van goedkoop groen energie kan ons produkte vervaardig wat oral in die wêrled mededingend is en honderde duisende nuwe werksgeleenthede in die proses kan skep.
Ons maak volhoubare gebruik van die ryk oorvloed van die Suid-Arikaanse bodem.
Deur ons boere te ondersteun, ons logistieknetwerk en landelike voorsieningsketting te verbeter, en deur nuwe uitvoermarkte vir ons produkte oop te stel, kan ons die landbousektor beduidend uitbrei.
Ons wil hê dat Suid-Afrika leiding moet neem in die kommersiële vervaardiging van hemp en kannabis.
Ons blaas nuwe lewe in die mynbedryf, wat een van ons belangrikste en kosbaarste gawes is.
Ons is op dreef om vanjaar ʼn nuwe, moderne en deursigtige mynregtestelsel in plek te stel wat belegging in ontginning en produksie sal ontsluit.
Ons sal ʼn bemagtigende beleid en regulerende raamwerk vir kritieke minerale in plek stel.
Deur hierdie minerale in Suid-Afrika te bewerk, kan ons die buitengewone rykdom wat onder ons grond lê tot voordeel van ons mense benut.
Die diversiteit, energie en talente van die Suid-Afrikaanse mense is selfs meer waardevol as ons natuurlike hulpbronne.
Die dienstesektor, wat strek van finansiële dienste tot kleinhandel, gasvryheid, toerisme en die ontluikende kreatiewe bedryf, vorm nou die grootste deel van ons ekonomie.
Die toerismesektor groei vinnig, met nagenoeg nege miljoen toeriste wat die land verlede jaar besoek het.
Ons sal die toerismebedryf laat groei deur visumhervormings, deur die aantal vlugte na sleutelbestemmings te verhoog, en deur Suid-Afrika te bemark as die beste land in die wêreld vir besoekers.
Ons het ook sterk groei in digitale dienste en uitkontraktering van besigheidsprosesse ervaar, wat werk vir jongmense geskep het.
Om hierdie groei te ondersteun, belê ons in vaardigheidsontwikkeling vir die nywerhede van die toekoms.
Die Jobs Boost-fonds het baanbrekerwerk gedoen met ʼn nuwe model wat befondsing vir vaardighede wat in aanvraag is, aan die suksesvolle plasing en indiensneming van jongmense te koppel.
Ons brei ons ondersteuning vir klein en medium ondernemings en die informele ekonomie uit, wat miljoene werksgeleenthede en lewensbestaan regdeur die land onderhou.
Dit sluit in die vaartbelyning van befondsing vir klein ondernemings, die ontsluiting van waagkapitaal vir hoëgroei-ondernemings en die ontwikkeling van ʼn regulerende omgewing wat die bedryf van informele ondernemings bemoontlik eerder as om dit te beperk.
Om ʼn innoverende ekonomie te bou, sal die departement van wetenskap, tegnologie en innovering ʼn innoveringsfonds stig om waagkapitaal te verskaf aan tegnologie-beginners wat uit ons hoëronderwysinstellings voortspruit.
Ons doen ʼn beroep op die sakesektor om die SAYouth.mobi-platform, waarop sowat 4.5 miljoen jongmense geregistreer is, te gebruik vir werwing en nuwe aanstellings.
Ons doen verder ʼn beroep op die sakesektor om die inisiatief vir jeugindiensneming te ondersteun en om geleenthede vir die opdoen van ervaring in die werksplek oor die komende jaar te verskerp.
Ons wil ʼn nasie hê waar niemand honger ly nie.
Vir 30 jaar, sedert die dagbreek van demokrasie, het ons saamgewerk om armoede te verminder.
Vandag bestee ons ongeveer 60% van ons nasionale begroting op maatskaplike toelaes, gesondheid, onderrig, maatskaplike beskerming, gemeenskapsontwikkeling en openbare indiensnemingsprogramme.
Meer as 28 miljoen werklose en kwesbare mense ontvang maatskaplike toelaes.
Meer as 10,5 miljoen leerders gaan na openbare skole waar hulle nie skoolgeld hoef te betaal nie.
Verlede jaar het meer as 900 000 studente uit behoeftige werkersklasagtergronde befondsing ontvang om by universiteite en kolleges te studeer.
Deur middel van hierdie programme verlig ons die ergste gevolge van armoede.
Ons voorsien die middele waardeur Suid-Afrikaners bo die armoede wat van een geslag na die volgende oorgedra is, kan uitstyg.
Maar ons moet nog baie meer doen as ons armoede wil beëindig.
Ons moet baie meer doen om te verseker dat veral vroue nie meer ʼn hopelose stryd in die gesig staar om hul kinders te voed en te klee nie.
Hoewel die regering baie belê in die ondersteuning van behoeftige en werklose mense, is hierdie programme gefragmenteerd en soms moeilik toeganklik.
Ons bou dus ʼn geïntegreerde ondersteuningstelsel vir behoeftige en werklose mense.
Ons versterk bestaande programme wat wissel van werksoekondersteuning tot openbare indiensneming en ons maak seker dat sulke programme bydra om vir mense ʼn uitweg uit armoede te bied.
Eerder as om te verwag dat behoeftiges verskeie regeringsagentskappe afsonderlik moet nader, moet ʼn landsburger na een sentrale plek kan gaan om al die ondersteuning te ontvang wat hulle benodig.
Ter beskerming van die vordering wat ons sedert 1994 gemaak het om kinderregte te bevorder, sal ons binnekort die nasionale strategie vir die versnelling van die aksie vir kinders aanvaar, wat op sleutelprioriteite soos armoedeverligting, kinderbeskerming en wanvoeding sal fokus.
Die toelaag vir maatskaplike noodverligting is ʼn noodsaaklike meganisme om uiterse armoede te verlig.
Ons sal hierdie toelaag gebruik as basis vir die bekendstelling van ʼn volhoubare vorm van inkomstebystand vir werklose mense.
Beslissend in ons pogings om armoede te beëindig en ons ekonomie te ontwikkel, is dat ons behoorlike en gehalte onderwys aan elke jong Suid-Afrikaner moet bied.
Ons is baie trots op die matriekklas van 2024, wat die hoogste slaagsyfer in die land se geskiedenis behaal het.
Sewe-en-tagtig persent van die leerders wat matriek geskryf het, het geslaag.
Vir die eerste keer in die land se geskiedenis het amper die helfte van hierdie leerders geslaag met universiteitstoelating.
Niks kan ons trots op die harde werk van hierdie leerders en die bestendige ondersteuning van hul onderwysers, ouers en die breër gemeenskap verminder nie.
Ons onmiddellike fokus is om toegang tot vroeë kinderontwikkeling (VKO) vir elke kind uit te brei.
Dit sal bereik word deur bestaande VKO-sentrums te registreer en te formaliseer en te verseker dat hulle die fasiliteite, opleiding en materiale het wat hulle benodig om vroeë leer van gehalte te verskaf.
Ons fokus daarop om te verseker dat elke kind in die grondslagfase kan lees en die betekenis van wat hulle lees kan verstaan; dit sal hulle help om sukses te behaal in latere jare.
Om dít te bereik, begin ons met die implementering van moedertaalgebaseerde onderrig op ʼn tweetalige basis om geletterdheid- en syfervaardigheidsuitkomste te verbeter. Lesplanne, leesboeke en ander bewese ingrypings word ook in plek gestel.
Die Funza Lushaka-beursskema sal steeds voorkeur gee aan studente wat ʼn onderwysloopbaan in die grondslagfase wil volg.
Verlede jaar het ons die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette onderteken, wat deurslaggewend is om te verseker dat onderwys toeganklik en inklusief vir alle Suid-Arikaners is.
Vanjaar sal die minister van basiese onderwys ʼn nasionale beleid, norms, standaarde en regulasies bekendstel om alle vennote in basiese onderwys te bemagtig om die implementering van die Wet te ondersteun.
Om te verseker dat die ekonomie die nodige vaardighede het, verhoog ons die produksie van ambagsmanne deur tegniese en beroepsonderwys en opleidingskolleges.
Dit is deel van die verskuiwing wat ons onderneem na onderwys en die ontwikkeling van vaardighede, wat formele leer met werksopleiding kombineer.
Op grond van die modelle wat in ander lande suksesvol was, doen ons ʼn beroep op die private sektor om werkervaringsgeleenthede aan jongmense te bied terwyl hulle besig is met hul studies. Ons implementeer fase 1 van die omvattende model vir studentebefondsing vir hoër onderwys, wat spesifiek op die behoeftes van die “verlore middelgroep” gemik is.
Dit sal sowat 10 000 studente in hul eerste studiejaar ondersteun.
Ons wil ʼn nasie hê waar daar gehalte gesondheidsorg vir almal is.
Ons sal vanjaar voortgaan met die voorbereidingswerk vir die vestiging van die nasionale gesondheidsversekering (NGV).
Dit sluit in die ontwikkeling van die eerste fase van ʼn enkele elektroniese gesondheidsrekord, voorbereidingswerk vir die stigting van ministeriële advieskomitees vir gesondheidstegnologieë, en ʼn akkreditasieraamwerk vir diensverskaffers in die gesondheidsektor.
Die NGV sal ongelykhede in gesondheidsorg verminder deur te verseker dat almal regverdige behandeling kry.
Die NGV sal baie lewens red deur ʼn pakket van dienste beskikbaar te stel wat byvoorbeeld die volgende insluit: sorg aan moeders en pasgebore babas en dienste vir mense met MIV en vigs en tuberkulose (TB), asook mense wat aan nie-oordraagbare siektes soos hartkwale, kanker en diabetes ly.
Ons dringendste prioriteit is om die gesondheidstelsel te versterk en die gehalte van versorging te verbeter.
ʼn Belangrike deel hiervan is die modernisering, verbetering en instandhouding van bestaande gesondheidsfasiliteite en die bou van nuwe hospitale en klinieke.
Verskeie hospitale is in aanbou of word opgeknap. Dit sluit in die Limpopo sentrale hospitaal en die Siloam-distrikshospitaal in Limpopo, die Dihlabeng-streekshospitaal in die Vrystaat, die Bambisana-distrikshospitaal en die Zithulele-distrikshospitaal in die Oos-Kaap, en die Bophelong psigiatriese hospitaal in Noordwes.
Ander projekte is in verskeie fases van beplanning en ontwikkeling. Dit sluit in die vervanging van drie ou bestaande sentrale hospitale, drie nuwe sentrale hospitale, vyf nuwe distrikshospitale, vyf gemeenskapsgesondheidsentrums en ʼn nuwe psigiatriese hospitaal.
Om pasiënte se ervarings te verbeter, lê ons meer klem op die verkorting van wagtye en op netheid en personeel se houdings in openbare fasiliteite.
Ons is bemoedig deur die beduidende vordering wat die land gemaak het om HIV en vigs as ʼn bedreiging vir ons openbare gesondheid tot niet te bring.
Teen die einde van Maart 2024 was 96% van persone wat met HIV en vigs leef, bewus van hul status; 79% van hulle was op antiretrovirale behandeling; en 94% van die persone wat op antiretrovirale behandeling was, was viraal onderdruk.
Om te verseker dat ons ons teiken van 95-95-95 bereik, sal ons vanjaar ʼn massiewe veldtog van stapel stuur om ʼn bykomende 1.1 miljoen mense te identifiseer wat nie tans op behandeling is nie.
Ons is bekommerd oor die potensiële impak van die Amerikaanse regering se besluit om van hul befondsing vir MIV- en TB-programme in Afrika-lande vir 90 dae op te skort. Hierdie befondsing is verantwoordelik vir ongeveer 17% van ons land se MIV-besteding. Ons kon oor die jare befondsing uit ons fiskus vir ons MIV- en TB-programme voorsien. Ons kyk nou na verskeie ingrypings om die onmiddellike behoeftes aan te spreek en die voortsetting van noodsaaklike dienste te verseker.
Om ongelykheid aan te pak, moet ons apartheid se ruimtelike beplanning ongedaan maak synde dit letsels op ons stede gelaat het, soos om baie mense te dwing om ver van werksgebiede en -geleenthede te woon.
Sedert 1994 het ons miljoene behuisingsgeleenthede gelewer wat veiligheid en waardigheid aan behoeftige huishoudings bied, maar die praktyk om behuisingsontwikkelings aan die rand van stedelike sentrums te bou, het ongelykheid en stedelik verspreiding voorgesit.
In die toekoms gaan ons meer behuising in die middestad en nader aan werk- en sakegeleenthede bou.
Ons herontwerp ons behuisingsubsidies en rig meer befondsing aan programme wat mense in staat stel om ʼn huis in ʼn gebied van hul keuse te koop of te huur.
Ons sal meer onderbenutte staatseiendomme beskikbaar stel vir die ontwikkeling van bekostigbare behuising.
Ons werk saam met provinsies en metro’s om geboue wat in stadskerns gekaap is, terug te eis en om hulle te herbenut vir openbare gebruik.
Ons sal 300 000 diensstaanplekke aan kwalifiserende begunstigdes verskaf om behuisingsontwikkeling in weldeurdagte, gekoppelde gemeenskappe langs belangrike ontwikkelingskorridors moontlik te maak.
Ons sal die agterstand van titelaktes vir gesubsidieerde behuising uit die weg ruim om huise in huishoudelike bates te omskep.
Ons sal grondgebruik asook bou- en ander regulasies hersien om laekoste-eiendomsontwikkeling, insluitend agterplaasbehuising, moontlik te maak.
Dit verteenwoordig ʼn basiese heroorweging van hoe die staat behuising op skaal lewer terwyl ons ons stede in enjins van groei en geleenthede verander.
Om ons stede vir hul inwoners te laat werk, sal ons die oorblywende passasierspoorkorridors en -stasies tot volle diens herstel. Meer as 80% van hierdie spoorkorridors is reeds weer in diens.
Die passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) het meer as 200 moderne, inlandsvervaardigde treine op sy netwerk bekendgestel om ʼn laekoste-opsie vir openbare vervoer te bied.
Oor die volgende vyf jaar sal ons Prasa se seinstelsel herstel sodat ons al ons nuwe treine op dreef kan kry en pendelaars verseker kan wees dat hulle veilig, bekostigbaar en betyds by die werk sal kom.
Ons wil ʼn nasie hê waar almal veilig is.
Die polisie werk steeds saam met ander wetstoepassingagentskappe om georganiseerde misdaadsindikate ui te wis asook finansiële en geweldsmisdade te bekamp.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het ʼn vennootskap met metropolitaanse munisipaliteite aangegaan en werk saam met gemeenskappe om misdaad te beveg in die prioriteitsprovinsies waar misdaadsyfers besonder hoog is.
Ons verskerp Operasie Shanela, wat suksesvol was om verdagtes in hegtenis te neem, vuurwapens terug te kry en beslag te lê op gesteelde voertuie.
Ons moet die plaag van vuurwapengeweld wat ons samelewing al dekades lank teister, met mening aanpak.
Ek het die minister van polisie en die nasionale kommissaris van polisie gevra om die vermindering van vuurwapenverwante misdaad en geweld te prioritiseer; dit sluit in die voorkoming van die herleiding van vuurwapens na die onwettige mark en die terugwin van onwettige vuurwapens wat in omloop is.
Ons weet uit internasionale syfers asook uit eie ervaring dat dit die doeltreffendste manier is om algehele geweldsmisdaad te verminder.
Die speurdiens, wat noodsaaklik is om misdaadsake op te los, sal deur middel van interne werwingsprosesse met 4 000 personeellede uigebrei word.
Ons werk daaraan om toesig-, analise- en slim polisiëringsoplossings vir moderne wetstoepassing te implementeer.
Ons het die waarde van tegnologie in die bekamping van misdaad regstreeks ervaar.
Deur KI in hul bedrogrisiko-opsporing- en verifikasiewerk te gebruik, het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens die verlies van meer as R95 miljard se ontoelaatbare terugbetalings voorkom, R20 miljard se inkomste verhaal en ʼn onwettige tabak- en goudskema tot niet gebring.
Ons gaan voort om regdeur die samelewing te werk om die geweld wat teen vroue gepleeg word, te beëindig.
Ons het die Wet op die Nasionale Raad vir Geslagsgebaseerde Geweld en Vrouemoord aangekondig en sodoende ʼn nasionale struktuur in plek gestel om toesig te hou oor ʼn gekoördineerde reaksie om hierdie krisis aan te spreek. Ons sal seker maak dat die raad ten volle funksioneer en oor behoorlike hulpbronne beskik.
Ons versterk steeds ondersteuning aan slagoffers van geslagsgebaseerde geweld (GGG).
Daar is nou 65 Thuthuzela-sorgsentrums regoor die land.
Uit 52 distrikte in die land het ons 44 GGG-skuilings.
Alle polisiestasies in die land het slagoffervriendelike dienste. Nog 16 howe vir seksuele misdaad sal gedurende die volgende finansiële jaar gevestig word.
Ons will ʼn nasie hê wat vry is van korrupsie.
Verlede jaar het ons die ondersoekdirektoraat teen korrupsie gestig as ʼn permanente entiteit in die Nasionale Vervolgingsgesag; hierdie direktoraat is toegewy aan die ondersoek en vervolging van hoëvlak korrupsiesake.
Ons sal verseker dat die direktoraat van alle nodige hulpbronne voorsien word en toegang het tot die inligting wat nodig is om staatskapingsake te vervolg en diegene wat verantwoordelik is tot verantwoording te roep.
Ons is besig om ʼn wêreldklas digitale laboratorium te vestig om die ondersoek na komplekse korrupsie en finansiële misdaad te ondersteun met die jongste gereedskap en kundigheid.
Ons maak bestendige vordering met die implementering van die staatskapingskommissie se aanbevelings, wat die ondertekening van verskeie wetgewende hervormings insluit.
Die Spesiale Ondersoekeenheid en die Nasionale Vervolgingsgesag se eenheid vir verbeuring van bates berig dat meer as R10 miljard verhaal is in sake wat verband hou met staatskaping.
Die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling sal vanjaar verslag doen oor die hersiening van die teenkorrupsie-struktuur deur die nasionale adviesraad vir teenkorrupsie. Dit sal na verwagting wetgewing stroomlyn, die duplisering van mandate uitwis en groter samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe bevorder.
Ons sal die raamwerk vir die beskerming van fluitjieblasers finaliseer en die Wetsontwerp op die Beskerming van Fluitjieblasers gedurende hierdie finansiële jaar in die Parlement bekendstel.
Ons sal vanjaar Suid-Afrika se stelsel om geldwassery en terreurfinansiering bekamp met verdere verbeterings aan wetgewing en stelsels.
Om ons verwydering van die internasionale finansiële aksietaakmag (oftewel FATF) se gryslys te verseker, het ons beduidende vordering gemaak in die hantering van die swakhede wat in ons wetstoepassingstelsel uitgewys is, met 16 uit 22 aksie-items wat ten volle die hoof gebied is.
Ons wil ʼn nasie hê wat in vrede met die wêreld leef.
Deur middel van ons internasionale verhoudings bevorder ons steeds Suid-Afrikaners se welstand terwyl ons daarna streef om die mensdom se oorhoofse welstand te bevorder.
Ons werk daaraan om ons handelsverhoudinge regoor die wêreld te verstewig en om ons sterk en diverse wêreldwye bondgenootskappe te benut om ons ekonomie meer veerkragtig te maak.
Die belangrikste aspekte van ons buitelandse beleid is steeds die bevordering van menseregte, vrede, vriendskap en die versterking van billike handels- en beleggingsbande met ander lande.
Dit is die beginsels wat ons presidensie van die G20 vanjaar sal lei.
Die tema wat ons gekies het, is “Solidariteit, Gelykheid en Volhoubare Ontwikkeling”, wat die behoefte aan samewerking en vennootskap tussen wêreldlande beklemtoon.
Die G20 word vir die eerste keer in sy geskiedenis op die vasteland van Afrika aangebied nadat die Afrika-unie (AU) as ʼn lid toegelaat is.
Dit bied ʼn geleentheid om Afrika en die res van die globale Suide se behoeftes met groter beslistheid op die internasionale ontwikkelingsagenda te plaas.
Ons G20-presidensie is ʼn waardevolle geleentheid vir Suid-Afrika om pogings tot wêreldwye ekonomiese groei en volhoubare ontwikkeling te bevorder.
Afrika bly die middelpunt van ons buitelandse beleid.
Ons versterk steeds ons pogings om die AU te versterk en vrede, ontwikkeling en ekonomiese integrasie op die vasteland te ondersteun.
Ons weet dat ons toekomstige welvaart onlosmaaklik verbind is met die welvaart van die vasteland van Afrika.
Vir Afrika om te floreer, moet ons die gewere op die vasteland stilmaak.
Sedert die koms van demokrasie het ons ʼn sleutelrol gespeel om stabiliteit te herstel in lande soos die Ivoorkus, Burundi, Suid-Soedan en Lesotho.
Meer onlangs was ons deel van die Suider-Afrika Ontwikkelingsgemeenskap se vredesmissie in Mosambiek, wat tot relatiewe kalmte en stabiliteit in die Cabo Delgado-provinsie gelei het.
Die teenwoordigheid van Suid-Afrikaanse vredesmagte in die oostelike dele van die DRK is ʼn bewys van ons volgehoue verbintenis tot die vreedsame oplossing van een van die wêreld se hardnekkigste konflikte, wat reeds miljoene lewens gekos het en miljoene mense ontwortel het.
Ons doen ʼn beroep op alle partye om die huidige diplomatieke pogings te aanvaar en ʼn vreedsame oplossing te vind, insluitend om die Luanda-proses te eerbiedig.
Ons sal die gesamentlike beraad tussen die Suider-Afrika Ontwikkelingsgemeenskap en die Oos-Afrikaanse Gemeenskap bywoon wat hierdie naweek in Tanzanië plaasvind. Ons sal ons beroep vir ʼn skietstilstand en ʼn hervatting van samesprekings herhaal om sodoende ʼn regverdige en blywende oplossing te vind.
Ons het nog altyd geglo dat die vryheid wat ons behaal het – en die internasionale solidariteit waarby ons gebaat het – ʼn plig op ons skouers lê om dienoorkomstig die stryd te ondersteun van diegene wat steeds kolonialisme en onderdrukking ervaar.
Suid-Afrika staan steeds in solidariteit met die mense van Palestina wat dekades van onwettige besetting verduur het en nou onbeskryflike lyding ervaar.
Suid-Afrika het in ooreenstemming met sy verpligtinge ingevolge die Volksmoordkonvensie opgetree deur verrigtinge teen Israel by die Internasionale Regshof in te stel.
Ons is ten volle verbind tot die artikels van die Handves van die Verenigde Nasies (VN), insluitend die beginsel dat alle lede hul internasionale geskille op vreedsame wyse besleg.
Ons ondersteun die beginsels van respek vir die integriteit van alle state en volke se grondgebied en soewereiniteit .
Ons neem steeds deel aan verskeie vredesprosesse wat daarop gerig is om regverdige en blywende vrede in die Oekraïne tot stand te bring.
Suid-Afrikaanse afgevaardigdes het ʼn deurslaggewende rol gespeel in die ontwikkeling van ʼn onderhandelingsraamwerk vir regverdige vrede in die Oekraïne, gegrond op die VN-handves en internasionale reg.
Suid-Afrika gaan steeds voort om sy agenda vir samewerking en multilateralisme te bevorder deur lidmaatskap van die VN, AU, die Nie-belynde Beweging en die BRICS-groep van lande.
Terwyl die mensdom ongekende uitdagings in die gesig staar, is ons vasbeslote dat ʼn hervormde en verteenwoordigende VN die middelpunt van globale sake moet wees.
Ons sal voortgaan om voorspraak te maak vir die hervorming van die VN se Veiligheidsraad tot ʼn meer inklusiewe, meer doeltreffende liggaam wat vrede en veiligheid kan verseker.
Die werk wat ons doen en waarvoor ons staan, moet aan verskeie sleutelspelers verduidelik word, veral aan ons handelsvennote en die verskillende lande en leiers met wie ons op die wêreldverhoog omgaan.
Met die oog op die verduideliking van die vele standpunte wat ons ingeneem het, en veral die doelwitte wat ons tydens ons presidentskap van die G20 wil bereik, het ek besluit om ʼn afvaardiging van regerings- en ander leiers na verskeie hoofstede op ons vasteland en regoor die wêreld te stuur.
Hierdie afvaardigings sal met verskeie sleutelrolspelers in gesprek tree oor ʼn verskeidenheid sake wat Suid-Afrika se belange raak.
Mede Suid-Afrikaners,
Al hierdie dinge waaroor ons praat is moontlik.
As Suid-Afrikaners ken ons die krag van samewerking, van wat moontlik is as mense uit verskillende agtergronde, rasse, kulture, tale, etniese groepe en gelowe saamstaan agter ʼn gedeelde doelwit.
Die vorming van die regering van nasionale eenheid bied aan ons ʼn geleentheid om weereens te wys wat ons kan bereik deur saam te werk.
Ek doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners, verenig in ons diversiteit, om saam te staan met die doel om ʼn visie vir ons land vir die volgende 30 jaar te definieer.
Die nasionale dialoog moet ʼn plek wees waar almal ʼn stem het.
Dit moet ʼn plek wees waar oplossings gevind kan word wat werklik ʼn wesenlike verskil in mense se lewens maak.
Die nasionale dialoog moet herbevestig dat elkeen van ons ʼn rol het om te speel in die bou van die nasie wat ons wil hê.
Alhoewel ons oor baie kwessies verskil, stem ons oor een ding saam, naamlik dat ons ʼn beter Suid-Afrika moet bou en die welstand van ons mense moet verbeter.
En nou, terwyl ons ʼn nuwe era in die wêreld en in ons eie land betree, kom ons praat oor die empatie en deernis wat ons vir mekaar het.
Kom ons praat oor hoe trots ons op ons land is en op alles wat ons bereik het.
Kom ons praat oor die vasberadenheid waarmee ons ons vryheid behaal het en wat ons nou na ʼn beter toekoms lei.
Met ons vasberadenheid sal ons saamwerk om hierdie ʼn era van groei, vooruitgang en transformasie te maak.
Ons sal saamwerk om ʼn nasie te bou wat vir almal werk.
Ek dank u.