Hoe om ’n egskeiding te kry

Jy is net in die volgende gevalle op ’n egskeiding geregtig:

  • Indien jy aan die hof kan bewys dat jy en jou huweliksmaat nie meer kan saamwoon nie en daar geen moontlikheid is dat julle jul verskille kan oplos nie.
  • Indien een van die huweliksmaats geestesongesteld of voortdurend bewusteloos is.

Jy het nie jou man of vrou se toestemming nodig om ’n egskeiding te kry nie. Indien jou huweliksmaat nie bereid is om te skei nie, kan jy steeds sonder sy of haar toestemming ’n egskeidingsbevel kry.

In spesiale omstandighede kan jy jou huwelik nietig laat verklaar. ’n Nietigverklaring verskil van ’n egskeiding, omdat dit nie net die huwelik ontbind nie, maar dit ook van die rekords verwyder.

Geregtelike skeiding bestaan nie in Suid-Afrika nie, selfs al woon jy nie meer saam met jou huweliksmaat nie en jy is nie geskei nie. Ingevolge die reg is jy dan steeds getroud.

Jy kan óf in die Streekshof óf by die Landdroshof met jurisdiksie in die gebied waar jy woon ’n egskeiding verkry, of in die Hoë Hof.

Om die egskeidingsproses te begin, het jy ’n dagvaarding nodig. ’n Egskeidingsdagvaarding moet persoonlik deur die balju van die hof aan die verweerder oorhandig word.

Daar is twee soorte egskeidings, naamlik betwiste en onbetwiste egskeidings.

Die onbetwiste egskeiding is die beste en mees koste-effektiewe opsie vir al die betrokkenes. Dit kan binne vier weke afgehandel word. Indien ’n egskeiding betwis word kan dit tussen twee en drie jaar neem, maar die meeste betwiste egskeidings word geskik lank voordat dit voor die hof gebring word.

Siviele huwelike en gewoontereg-huwelike moet deur ’n hof ontbind word.

Let wel: ’n Verstek-egskeiding is soortgelyk aan ’n onbetwiste/onbestrede egskeiding. Dit word toegestaan wanneer jou huweliksmaat glad nie op die egskeiding reageer nie.

  • Jou huweliksmaat sal ’n dagvaarding ontvang met ’n datum waarteen hy/sy moet reageer.
  • Indien hy/sy nie reageer nie, kan jy by die Hoë Hof aansoek doen om dit op die rol te plaas.
  • Die hof sal namens jou besluit en die huwelik beëindig.

Doen-dit-self-egskeidings

Doen-dit-self-egskeidings word sonder ’n prokureur se hulp afgehandel, en is dus ’n heelwat goedkoper opsie. ’n Mens kan op een van twee maniere sonder ’n prokureur skei:

  • Jou plaaslike landdroshof kan jou van die nodige vorms voorsien en vir jou riglyne gee oor hoe om jou eie egskeiding sonder regsverteenwoordiging af te handel.

’n Doen-dit-self-egskeiding is ’n opsie wanneer:

  • jou egskeiding onbetwis is;
  • jou egskeiding nie ingewikkeld is nie;
  •  jy net ’n kort rukkie getroud was;
  • jy nie wesenlike bates het om te verdeel nie;
  • daar geen geskille rakende kinders is nie; en/of
  • jy bereid is om self al die admin te doen.

Vir meer inligting, kontak die  Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling.

 

Published Date

Share this page