President Jacob Zuma: Release of Marikana report

Vrystelling van die Verslag van die Geregtelike Kommissie van Ondersoek na die gebeure by die Marikana-myn in Rustenburg, deur President Jacob Zuma, Uniegebou, Pretoria

Mede-Suid-Afrikaners,

Op 26 Augustus 2012 het ek 'n kommissie van ondersoek aangestel om kwessies van openbare, nasionale en internasionale belang voortspruitend uit die tragiese voorvalle by die Lonmin-myn in Marikana, Rustenburg in die Noordwes-provinsie gedurende 11 tot 16 Augustus 2012 te ondersoek.

Ongeveer 44 mense het gesterf en talle is beseer.

Die voorsitter van die kommissie was afgetrede Regter Ian Farlam, bygestaan deur Senior Advokaat PD Hemraj en Senior Advokaat BR Tokota. Ek betuig graag my opregte dank en waardering teenoor hulle vir die professionele en doeltreffende wyse waarop hulle die kommissie se werksaamhede uitgevoer het.

Ek bedank ook die families van al die mense wat gesterf het, voor en op 16 Augustus 2012, vir hul samewerking met die kommissie ondanks hul pyn en die geweldige probleme wat hulle weens die tragiese verlies van hul geliefdes ervaar het.

Ons harte gaan ook uit na die families van diegene wat ná 16 Augustus 2012 gesterf het, wie se moorde buite die omvang van hierdie ondersoek val.

Ons bedank voorts ook die getuies, regspanne en beseerde werkers. Almal van hulle se deelname het bygedra tot die sukses van die kommissie.

Die kommissie het opdrag ontvang om ondersoek in te stel na en bevindings en aanbevelings te maak oor die optrede van Lonmin Plc, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Association of Mineworkers and Construction Union (AMCU), die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM), die Departement van Minerale Hulpbronne (DMR) en ander staatsdepartemente, asook individue en groepe. 

Die vernaamste bevindings en aanbevelings kan soos volg opgesom word: 

1. BEVINDINGS

BEVINDINGS TEEN LONMIN 

Die kommissie het bevind dat Lonmin nie sy bes gedoen het om die geskille wat tussen hom en sy werkers wat aan die onbeskermde staking enersyds, en tussen die stakers en daardie werkers wat nie aan die staking deelgeneem het nie andersyds, op te los nie.  

Die maatskappy het ook nie gepas gereageer op die bedreiging van en die uitbreek van geweld nie. 

Lonmin het ook versuim om voldoende veiligheidsmaatreëls en beskermingsmeganismes toe te pas om die veiligheid van sy werkers te verseker. 

Lonmin het voorts ook aangedring dat sy werknemers wat nie aan die staking deelgeneem het nie, werk toe moes gaan, ondanks die feit dat Lonmin geweet het hy nie in 'n posisie was om hulle teen aanvalle deur stakers te beskerm nie.

Die kommissie het ook Lonmin se implementering van ondernemings met betrekking tot maatskaplike en arbeidsplanne gekritiseer.

BEVINDINGS TEEN AMCU

Die kommissie het bevind dat beamptes van AMCU nie effektiewe beheer oor AMCU-lede en -ondersteuners uitgeoefen het om te verseker dat hul optrede wettig was en nie ander se lewens in  gevaar gestel het nie.  

Hulle het opruiende liedjies gesing en aanhitsende opmerkings gemaak, wat die reeds plofbare situasie vererger het. 

Die kommissie het ook opgemerk dat die President van AMCU, mnr Joseph Mathunjwa, voor die skietery sy bes gedoen het om die stakers te oortuig om hul wapens neer te lê en die koppie te verlaat. 

BEVINDINGS TEEN NUM 

Die Nasionale Unie van Mynwerkers het nie sy bes gedoen om die geskil tussen hom en die stakers op te los nie. 

NUM het die verkeerde raad aan rotsbooroperateurs gegee, naamlik  dat geen onderhandelings met Lonmin moontlik was tot aan die einde van die twee-jaarloonooreenkoms nie. 

Die vakbond het ook nie die inisiatief geneem om Lonmin te oortuig en te help om met die werkers te praat nie. 

NUM het ook versuim om effektiewe beheer oor sy lede uit te oefen deur nie te verseker dat hul optrede wettig was nie en nie ander se lewens in gevaar gestel het nie. 

Die vakbond het nie-stakende werkers aangemoedig en gehelp om na die skagte te gaan in omstandighede waar daar 'n werklike gevaar was dat hulle deur die gewapende stakers doodgemaak of beseer sou word.

BEVINDINGS TEEN INDIVIDUELE STAKERS

Individuele stakers en los groepe stakers het 'n situasie van konflik en konfrontasie bevorder wat, direk en indirek, gelei het tot die dood van Lonmin se sekuriteitswagte en nie-stakende werkers, en wat die lewens van die nie-stakende werkers wat nie beseer is nie in gevaar gestel het. 

BEVINDINGS MET BETREKKING TOT MNR CYRIL RAMAPHOSA

Die Raad vir Gewonde en Beseerde Persone het beweer dat mnr Cyril Ramaphosa die oorsaak van die Marikana-slagting was en dat hy vir die dood van 34 mynwerkers aanspreeklik gehou moet word. 

Die kommissie het bevind dat daar nie gesê kan word dat mnr Ramaphosa die oorsaak van die slagting was nie, en dat die beskuldigings teen hom totaal ongegrond  is.

BEVINDINGS MET BETREKKING TOT MINISTER NATHI MTHWETHWA

Die Raad vir Gewonde en Beseerde Persone het beweer dat mnr Mthethwa die oorsaak van die Marikana-slagting was en dat hy vir die dood van 34 mynwerkers aanspreeklik gehou moet word.

Die kommissie het bevind dat die uitvoerende bestuur geen rol gespeel het in die polisie se besluit om die taktiese opsie op 16 Augustus 2012 te implementeer indien die stakers nie hul wapens sou neerlê nie, wat tot die dood van die 34 persone gelei het.

BEVINDINGS MET BETREKKING TOT MINISTER SHABANGU

Die Raad vir Gewonde en Beseerde Persone het aangevoer dat Minister Shabangu vervolg moet word op aanklagte van korrupsie en meineed. 

Geen bevindings is teen Minister Shabangu gemaak nie.

BEVINDINGS TEEN DIE POLISIE

Met betrekking tot die tragiese voorval op 16 Augustus 2012 het die kommissie bevind dat die polisie 'n operasionele plan opgestel het, wat bepaal het dat 'n betreklike klein groepie stakers wat vroeg die oggend by die koppie sou wees, afgesper moet word. 

Die strategie het bepaal dat die stakers met doringdraad afgesper moes word en 'n uitgang dan aan hulle voorsien sou word waardeur hulle sou moes beweeg om hul wapens te oorhandig. 

Hierdie fase kon slegs vroegoggend uitgevoer word terwyl 'n betreklike klein aantal stakers teenwoordig was. Die polisie het ook pogings aangewend om met die stakers te onderhandel.

Die afsperplan is vervang deur die taktiese opsie, wat in verskeie opsigte gebrekkig was. 

Die taktiese opsie is teen ongeveer 15:40 daardie dag in werking gestel, en het tot die dood van stakers by toneel 1 en toneel 2 gelei.

Die kommissie het bevind dat die polisie-operasie nie op 16 Augustus uitgevoer moes word nie weens die gebreke in die plan. 

Die kommissie het bevind dat dit onmoontlik sou gewees het om die stakers op die middag van 16 Augustus sonder aansienlike bloedvergieting te ontwapen en uiteen te laat gaan.

Die polisie moes tot die volgende dag gewag het om eerder die oorspronklike afsperplan, wat wesenlik risikovry was, uit te voer.

Die kommissie het ook bevind dat die besluit dat die stakers op 16 Augustus met geweld deur die polisie van die koppie verwyder sou word indien hulle nie vrywillig hul wapens neerlê nie, nie deur die taktiese bevelvoerders op grondvlak geneem is nie. 

In plaas daarvan is die besluit deur Luitenant-Generaal Mbombo, die Noordwes Polisiekommissaris geneem en bekragtig deur die SAPD-leierskap tydens 'n buitengewone sitting van die Nasionale Bestuursforum.

Die kommissie het bevind dat die operasie gestaak moes gewees het ná die skietery by toneel 1 en dat daar ook 'n totale gebrek aan bevel en beheer by toneel 2 was. 

Die kommissie het ook tydens die ondersoek die optrede van die polisiebestuur bevraagteken.

Die polisieleierskap het aanvanklik nie die feit aan die kommissie openbaar dat die oorspronklike plan nie op die eerste datum uitgevoer kon word nie en gevolglik laat vaar is nie.

Daarbenewens het die polisieleierskap nie die kommissie ingelig dat die besluit om met die taktiese opsie voort te gaan indien die stakers nie vrywillig hul wapens neerlê en uit mekaar gaan nie, by die Nasionale Bestuursforum op 15 Augustus geneem is nie. In plaas daarvan het hulle die kommissie meegedeel dat hierdie besluit op 16 Augustus geneem is, en eers nadat die situasie vererger het.

Die kommissie het ook sy ernstige kommer uitgespreek oor die feit dat daar 'n vertraging van ongeveer 'n uur was om mediese bystand aan die stakers te verleen, en beweer dat minstens een staker kon oorleef het indien hy betyds behandel is. 

2. AANBEVELINGS

Die kommissie beveel aan dat Lonmin se versuim om die behuisingsverpligtinge ingevolge die maatskaplike en arbeidsplanne na te kom, onder die aandag van die Departement van Minerale Hulpbronne gebring moet word, wat stappe moet doen om die nakoming van hierdie verpligtinge deur Lonmin af te dwing.

Die kommissie beveel aan dat 'n paneel van deskundiges aangestel word, bestaande uit:

  • Senior beamptes van die SAPD se regsafdeling;
  • Senior beamptes met omvattende ervaring in openbareorde-polisiëring;

en

  • Onafhanklike deskundiges op die terrein van openbareorde-polisiëring, sowel plaaslik as internasionaal, met ervaring in die hantering van skares gewapen met skerp voorwerpe en vuurwapens, soos tans algemeen in die Suid-Afrikaanse konteks voorkom. 

Hierdie paneel moet onder meer die volgende doen:

  • Hersien en wysig alle voorskrifte wat op openbareorde-polisiëring betrekking het.
  • Ondersoek die wêreld se beste beskibare praktyke en maatreëls wat aangewend kan word, sonder om wapens te gebruik wat in staat is om outomaties te vuur, in gevalle waar openbareorde-polisiëringsmetodes onvoldoende is.

In situasies van openbareorde-polisiëring moet operasionele besluite deur 'n beampte in oorhoofse bevel en met onlangse en toepaslike opleiding, vaardighede en ervaring in openbareorde-polisiëring geneem word. 

Alle radio-kommunikasie moet opgeneem word en die opnames moet bewaar word. 

Planne vir operasies deur openbareorde-polisiëring moet die kommunikasiemetode wat SAPD-lede sal gebruik om met mekaar te kommunikeer, identifiseer.

'n Protokol moet ontwikkel en geïmplementeer word vir kommunikasie in groot operasies, insluitend alternatiewe meganismes, waar die beskikbare radiostelsel van so 'n aard is dat dit nie 'n toereikende kommunikasiemetode sal wees nie.

Die SAPD moet die toereikendheid van die opleiding van die lede wat gespesialiseerde toerusting soos waterkanonne en videotoerusting gebruik, hersien.

Alle SAPD-helikopters moet met funksionele videokameras toegerus word. 

In operasies waar daar 'n groot waarskynlikheid bestaan dat geweld gebruik sal word, moet die plan die verskaffing van toereikende en spoedige noodhulp aan beseerdes insluit.

Die kommissie beklemtoon ook dat alle polisiebeamptes in basiese noodhulp opgelei moet word.

Daar moet 'n duidelike protokol bestaan wat bepaal dat SAPD-lede met noodhulpopleiding wat eerste by die toneel van 'n voorval opdaag waar noodhulp vereis word,  noodhulp moet verleen.

Spesialisvuurwapenoffisiere moet bykomende opleiding in die basiese noodhulpvaardigheid om vuurwapenwonde te versorg, ontvang.

Die kommissie sê voorts dat die aanbevelings deur die Nasionale Beplanningskommissie vir die demilitarisering en professionalisering van die SAPD as 'n prioriteit geïmplementeer moet word. 

Met betrekking tot aanspreeklikheid, waar 'n polisie-operasie en die gevolge daarvan omstrede was en verdere ondersoek verg, moet die  Minister en die Nasionale Kommissaris omsigtig te werk gaan wanneer hulle openbare verklarings maak of lede van die SAPD toespreek. Hulle moet niks sê wat daartoe sal lei dat geledere gesluit word of dat lede wat van onvanpaste optrede bewus is, ontmoedig word om dit wat hulle weet te openbaar nie.

Die staande bevele moet duideliker wees in sy vereiste vir 'n volledige ouditspoor en toereikende rekordhouding van polisie-operasies.

Die SAPD en sy lede moet aanvaar dat hulle 'n plig het tot openbare aanspreeklikheid en om die waarheid te praat, omdat hulle geweld namens alle Suid-Afrikaners uitoefen, sê die kommissie.

Die voorsiening van personeel en hulpmiddels aan die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) moet hersien word om te verseker dat dit in staat is om sy funksies doeltreffend uit te voer.

VERWYSING VIR VERDERE ONDERSOEK INGEVOLGE ARTIKEL 24(1) VAN DIE NVV-WET

Die kommissie beveel 'n volledige ondersoek aan, onder leiding van die Direkteur van Openbare Vervolging in Noordwes, met die doel om strafregtelike aanspreeklikheid aan die kant van alle lede van die SAPD wat by die voorvalle by toneel 1 en 2 betrokke was, te bepaal.   

Vir doeleindes van die ondersoek moet 'n span aangestel word onder leiding van 'n senior staatsadvokaat, saam met onafhanklike deskundiges in die rekonstruksie van misdaadtonele, deskundige ballistiese en forensiese patoloë en senior ondersoekbeamptes van die OPOD, asook enige ander deskundiges soos nodig. 

VERWYSING VIR VERVOLGING

Die kommissie beveel ook aan dat al die moorde en aanrandings wat tussen 11 en 15 Augustus 2012 plaasgevind het, vir verdere ondersoek verwys moet word om te bepaal of daar 'n basis vir vervolging is.

Die kommissie verklaar dat die huidige neiging in Suid-Afrika om skerp voorwerpe en vuurwapens te dra asook die gepaardgaande geweld – selfs in diensleweringsprotesoptrede – die streng afdwinging van die wette wat sodanige optrede verbied, noodsaak.

Die kommissie het daarop gewys dat daar baie duidelik op video's en foto's gesien kan word dat die Lonmin-werkers in besit van gevaarlike wapens was by die openbare byeenkomste of in openbare plekke. 

Die kommissie vereis dus 'n verdere ondersoek na die oortredings ingevolge die Wet op die Reëling van Byeenkomste en die Wet op Gevaarlike Wapens. 

STAPPE WAT DEUR DIE PRESIDENT GEDOEN GAAN WORD

Die betrokke ministers sal die kommissie se verslag bestudeer en my adviseer oor die implementering van die aanbevelings.

Die kommissie het ook aanbeveel dat ondersoek ingestel word na die geskiktheid van die Nasionale Polisiekommissaris asook die Noordwes Provinsiale Polisiekommissaris om hul ampe te beklee, ingevolge artikel 9 van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Ek het aan die Nasionale Kommissaris geskryf om haar in te lig oor die aanbevelings wat op haar betrekking het.

Die Minister van Polisie sal die Noordwes Polisiekommissaris inlig oor die kwessies wat haar raak. 

Verdere inligting oor hierdie sake sal mettertyd bekend gemaak word.

Mede-Suid-Afrikaners,

Ek het hoogtepunte uitgelig uit 'n verslag wat altesaam meer as 600 bladsye lank is. 

Ek het opdrag gegee dat die volledige verslag in die Staatskoerant, asook op Die Presidensie- en die GCIS-webtuiste gepubliseer word om openbare toegang tot die inhoud daarvan moontlik te maak.

Landgenote,

Die Marikana-voorval was 'n afskuwelike tragedie wat nie tuishoort in ons demokrasie nie, waar landsburgers die reg het om te protesteer en waar werkers die reg het om aan vreedsame stakings deel te neem en op 'n vreedsame manier met hul werkgewers oor werksomstandighede te onderhandel.

Broodwinners is op gewelddadige wyse uit hul gesinne weggeruk, wat onnoembare pyn en leiding vir hul gesinne en familielede veroorsaak.

Alle Suid-Afrikaners was geskok. Die wêreld was ook geskok, omdat niemand verwag het dat so iets in 'n vrye en demokratiese Suid-Afrika sou gebeur nie. 

As 'n nasie moet ons uit hierdie pynlike episode leer. Ons moet dit gebruik om 'n meer eensgesinde, vredeliewende en samehorige gemeenskap te bou.

Geweld het geen plek in ons demokrasie wat ons met soveel harde werk bereik en opgebou het nie.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore