Toespraak deur President Cyril Ramaphosa by geleentheid van die Presidensiële Inhuldiging; 19 Junie 2024; Uniegebou, Tshwane
Majesteite, konings en koninginne,
Eksellensies, staats- en regeringshoofde,
Oudpresident Thabo Mbeki en mev. Mbeki,
Oudpresident Kgalema Motlanthe en mev. Motlanthe,
Alle voormalige staats- en regeringshoofde,
Uitgelese verteenwoordigers van onderskeie lande sowel as internasionale organisasies,
Spreker van die Nasionale Vergadering,
Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies,
Hoofregter van die Republiek,
Premiers, LUR'e en burgemeesters,
Parlementslede,
Leiers van politieke partye,
Godsdiens- en tradisionele leiers,
Ambassadeurs en hoë kommissarisse,
Veterane van ons vryheidstryd,
Uitgelese gaste, en
Mede-Suid-Afrikaners,
Ons vergader vandag onder hierdie uitgestrekte hoëveldhemel by die setel van ons regering, die Uniegebou, om voor alle Suid-Afrikaners en ons geëerde gaste van ons geliefde vasteland, asook dié uit die buiteland, 'n fundamentele ritueel van ons demokrasie te aanskou.
In ons skitterende diversiteit vergader ons om ons plegtige oortuiging dat hierdie land aan almal wat daarin woon behoort, soos dit byna sewentig jaar gelede in die Vryheidsmanifes verwoord is, te bevestig.
Ons vergader hier as mense wat uit dieselfde grond gebore is in die nege provinsies waaruit 'n eensgesinde Suid-Afrika bestaan; ons is vasbeslote dat ons die verdeeldheid van ons verlede deur ons dade sal herstel en die voortdurende ongelykhede en swaarkry, wat tans heers, sal oorkom.
Ons verklaar, sodat almal kennis neem, dat geen konflik of onenigheid ons sal laat afsien van ons strewe om 'n verenigde, vrye, regverdige, gelyke en voorspoedige nasie te bou nie.
Op hierdie dag bevestig ons die wil van ons land se mense deur 'n plegtige eed.
Ons bevestig ons onwrikbare getrouheid aan die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, wat op die blywende visie en waardes van die Vryheidsmanifes gegrond is.
As die leierskap van hierdie uiteenlopende nasie het ons 'n heilige plig om die mense van Suid-Afrika te verenig.
Ons bevestig dat die verantwoordelikheid om ons land in 'n nie-rassige en nie-seksistiese samelewing te omskep, deur ons geskiedenis op ons skouers geplaas is.
Ons bevestig ons vasberadenheid om 'n meer gelyke en sorgsame samelewing te bou.
Ons bevestig ons onwrikbare strewe om ’n progressiewe en inklusiewe ekonomie te bou, wat geleenthede en ’n lewensbestaan aan al ons mense sal bied.
Ons herverbind ons tot die taak van demokratiese vernuwing en sosiale en ekonomiese transformasie sodat niemand agtergelaat word nie.
Hiermee, terwyl ons 'n nuwe era in ons land se geskiedenis betree, is die veerkragtigheid van ons demokrasie weer getoets en het die mense duidelik verklaar dat hulle vrede en demokrasie bo gewelddadige, ondemokratiese en ongrondwetlike metodes kies.
In hul menigte, in talle uiteenlopende stemme, het die mense van Suid-Afrika by die stembus hul wense, hul bekommernisse en hul verwagtinge bekend gemaak.
Ons aanvaar en respekteer die uitslae van die verkiesing en ons beklemtoon weereens dat die mense gepraat het. Hulle begeerte sal sonder enige twyfel of vrae geskied.
Die kiesers van Suid-Afrika het aan geen enkele party die volle mandaat gegee om ons land alleen te regeer nie.
Hulle het ons opdrag gegee om deur samewerking aandag te gee aan hul lot en om hul strewes te realiseer.
Hulle het hul waardering uitgespreek oor die vordering wat op verskeie terreine van hul lewens oor die afgelope 30 jaar van demokrasie gemaak is.
Hulle het ook hul teleurstelling en afkeur onomwonde uitgespreek oor sommige van die gebiede waar ons hulle in die steek gelaat het.
Hulle wil 'n getransformeerde, progressiewe en inklusiewe ekonomie hê wat werk skep vir miljoene werksoekers en wat sakegeleenthede bied aan alle entrepreneurs in ons land – vroue en mans, jonk en oud.
Die mense het duidelik laat blyk wat hulle wil hê.
Hulle wil 'n Suid-Afrika hê waarin almal deur ons demokratiese Grondwet gekoester word en deur ons howe beskerm word.
Hulle het 'n land beskryf waarin almal kan uitstyg bo die omstandighede waarin hulle gebore is, waarin hulle gekoester word deur liefdevolle gesinne, bygestaan word deur 'n sorgsame staat en bemagtig word deur inisiatief, gewilligheid en harde werk.
Deur hul stemme uit te bring het hulle dit duidelik gemaak dat hulle die basiese benodighede vir 'n gemaklike, gelukkige, gesonde en veilige lewe wil hê.
Deur te stem het hulle laat blyk dat hulle genoeg kos wil hê om te eet; skoon water en bekostigbare elektrisiteit wat te alle tye beskikbaar is.
Hulle wil behoorlike huise hê wat bestand is teen wind, reën en koue.
Hulle wil paaie en straatligte hê wat in ’n werkende toestand is en goed onderhou word.
Die mense van Suid-Afrika het niks meer gevra as om behoorlik versorg te word wanneer hulle siek is nie, dat hulle kinders goed onderrig moet word, dat bejaardes versorg moet word en dat diegene wat nie werk het nie, werk sal kry.
Die mense van Suid-Afrika het gepraat oor die grond waarop hulle wil boer, oor die besighede wat hulle wil bedryf, oor die dinge en produkte wat hulle wil maak, oor die vaardighede wat hulle wil aanleer.
Hulle het gepraat van hul begeerte om veilig te wees in hul huise, op straat, in hul stede en dorpe, hul nedersettings en op hulle plase.
Die mense het daarop aangedring dat die diefstal van openbare fondse en staatskaping beëindig moet word.
Bowenal het die mense van Suid-Afrika beklemtoon dat hulle ongeduldig is met die politieke gekibbel en die eindelose blaamspel onder politici en politieke partye.
Hulle vra dat ons hul behoeftes en strewes eerste moet stel en dat almal moet saamwerk ter wille van ons land.
Vandag staan ek voor julle as jul nederige dienaar om te sê dat ons julle gehoor het.
As president van die Republiek sal ek met almal saamwerk om uit te reik en saam met elke politieke party en sektor te werk wat bereid is om ’n bydrae te maak om oplossings te vind vir die uitdagings wat ons land in die gesig staar in die oorgang na 'n nuwe dekade van vryheid.
Dertig jaar het verloop sedert ons ons rug op rasse-onderdrukkig gedraai het en 'n oop en demokratiese samelewing omarm het.
Ons het beduidende vordering gemaak met die bou van 'n nuwe samelewing wat op sterk demokratiese instellings en universele vryhede gegrond is.
Ons het 'n getransformeerde staatsdiens, 'n onafhanklike regbank, 'n mededingende kiesstelsel, 'n gesofistikeerde ekonomie, 'n dinamiese en vrye media en 'n robuuste burgerlike samelewing opgebou.
Tog, ondanks hierdie vordering, bly ons samelewing steeds ongelyk en hoogs gepolariseerd. Daar is toksiese verdeling en ontwikkelende sosiale fragmentasie wat maklik tot onstabiliteit kan lei.
Die lyne wat deur ons geskiedenis getrek is, tussen swart en wit, tussen man en vrou, tussen voorstede en informele nedersettings, tussen stedelik en landelik, tussen ryk en arm, bly geëts in ons landskap.
Op sekere plekke het hierdie lyne miskien vervaag, maar hulle het nie verdwyn nie.
Ons is burgers van een land en tog leef ons in verskillende wêrelde, geskei deur hoë mure en groot afstande.
Ons is verdeel tussen diegene wat werk het en diegene wat nie werk het nie; tussen diegene wat die middele het om 'n gemaklike lewe te skep en te geniet en diegene wat dit nie kan doen nie.
Vandag is dus geen gewone dag nie.
Dit is 'n oomblik van fundamentele gevolge in die lewe van ons nasie.
Dit is 'n oomblik waarin ons moet kies om óf saam vorentoe te beweeg óf die risiko te loop om alles wat ons reeds gebou het, te verloor.
In hierdie oomblik moet ons kies om vooruit te gaan; om die ongelykheid tussen Suid-Afrikaners uit te wis en 'n meer gelyke samelewing te bou; om die belofte van ons Grondwet en die visie van die Vryheidsmanifes in 'n werklikheid vir almal te omskep.
Hierdie oomblik verg buitengewone moed en leierskap.
Dit verg 'n gemeenskaplike poging om nasionale eenheid, vrede, stabiliteit, inklusiewe ekonomiese groei, nie-rassigheid en nie-seksisme te beskerm.
Deur die keuses wat hulle by die stembus gemaak het, het die mense van Suid-Afrika hul verwagting dat die leiers van ons land moet saamwerk, duidelik laat blyk.
Hulle het hul verteenwoordigers opdrag gegee om vyandigheid en onenigheid opsy te sit, om eie belange te laat vaar en om deur samewerking, slegs die waardes wat die land bevoordeel, na te streef.
As leiers, as politieke partye, word ons versoek om in vennootskap te werk aan 'n groeiende ekonomie, beter werksgeleenthede, veiliger gemeenskappe en 'n regering wat vir sy mense werk.
Van regoor die politieke spektrum het partye daardie oproep gehoor.
Met die verstandhouding dat geen party alleen kan regeer en alleen wette kan maak nie, het hierdie partye ingestem om in vennootskap te werk, om hul talente aan te wend tot voordeel van die land en die vooruitgang van sy mense.
Saam het hulle besluit om 'n regering van nasionale eenheid te vestig en 'n gemeenskaplike program van fundamentele en blywende verandering na te streef.
Die vorming van 'n regering van nasionale eenheid is 'n oomblik van diepgaande betekenis. Dit is die begin van 'n nuwe era.
Die leiers van hierdie land het 30 jaar gelede in 'n regering van nasionale eenheid bymekaargekom om 'n gemeenskaplike toekoms te bewerkstellig en 'n verenigde nasie te bou; daarom het die partye in die regering van nasionale eenheid van vandag ingestem om saam te werk om ons land se dringendste uitdagings die hoof te bied.
Die partye het 'n verklaring van voorneme aanvaar waardeur hulle hul daartoe verbind om vinnige, inklusiewe en volhoubare ekonomiese groei na te streef; om 'n meer regverdige samelewing te skep deur armoede aan te pak om die reg van werkers te beskerm; om die regering te stabiliseer en om staatskapasiteit te bou.
Die partye het hulle daartoe verbind om in Suid-Afrika se mense te belê deur gehalte-onderwys en -gesondheidsorg; om misdaad en korrupsie die hoof te bied; om sosiale samekoming te versterk en 'n verenigde nasie te bou; en om 'n buitelandse beleid te volg wat gegrond is op menseregte, solidariteit en vrede.
As Suid-Afrikaners moet elkeen van ons doen wat ons kan om hierdie strewe te bereik.
Ons sal alle partye, die burgerlike samelewing, arbeid, die sakesektor en ander groepe uitnooi na 'n nasionale dialoog oor die kritieke uitdagings wat die land in die gesig staar.
Ons sal, soos ons reeds op soveel belangrike oomblikke in ons geskiedenis gedoen het, probeer om 'n sosiale ooreenkoms te smee om die doelwitte van ons Nasionale Ontwikkelingsplan te verwesenlik.
Laat ons as individue, as gesinne, as gemeenskappe en verskillende groeperings van ons gesamentlike krag gebruik maak om ons droom vir 'n beter Suid-Afrikan te verwesenlik.
Net soos ons in ons diversiteit verenig is, is ons 'n volk met 'n diep en blywende geloof.
Ons bid vir ons nasie, dat ons gees opgehef sal word en dat ons lot herstel sal word.
Ons moet hierdie edele missie met deursettingsvermoë aanpak.
Ons moet dapper wees en ons moet moedig wees.
Hierdie is 'n nuwe gety wat vooruitgang, transformasie en diep, fundamentele verandering inlei.
Ons kyk met optimisme en hoop na hierdie stygende gety.
Ons moet elke poging om ons te verdeel of ons aandag af te lei, om twyfel of sinisme te saai, of om ons teen mekaar te laat draai, verwerp.
Diegene wat in ons pad wil staan, diegene wat spanning wil aanblaas, sal nie slaag nie, want Suid-Afrikaners is vasberade.
Diegene wat ons instellings wil ondermyn, sal misluk, want demokrasie leef in die harte van ons mense en word nooit ontwrig nie.
Niks sal ons aandag daarvan aflei om ons mense te dien en hul belange te bevorder nie.
Dit is nou die tyd om vooruit te gaan. Saam sal ons meer en beter doen.
Dit is nou die tyd om al ons vermoëns saam te snoer en al ons energie te rig om die oproep van Suid-Afrika se mense te beantwoord.
Ons durf nie talm nie, ons durf nie rus nie, totdat ons werk geskep het vir diegene wat dit nodig het; totdat daar genoeg kos op elke tafel is; totdat elke persoon in elke dorp, stad, nedersetting en plaas die basiese dienste ontvang wat hulle nodig het om 'n behoorlike lewe te lei.
Ons durf nie rus voordat die vroue van Suid-Afrika vry is van die sosiale, kulturele en ekonomiese beperkings wat hul vordering belemmer nie.
Ons kan nie rus totdat misdadigers van ons strate af is en dwelms uit ons gemeenskappe is nie; totdat mans nie meer geweld teen vroue en kinders pleeg nie; totdat diegene wat van ons mense steel, tot verantwoording geroep word nie.
Ons durf nie rus terwyl ons gemeenskappe deur vloede, brande en droogte geteister word nie. Saam sal ons die bedreiging van versnelde aardverwarming aanpak.
Ons sal ons verantwoordelikheid aanvaar om op klimaatsverandering te reageer op 'n ambisieuse, regverdige en inklusiewe manier.
Ons doen dit ter wille van hierdie geslag en almal wat sal volg.
Ons sal 'n regering bou wat bekwaam en eerlik is.
Ons sal saamwerk om multilateralisme te bevorder vir 'n regverdiger, gelyker en meer sorgsame wêreld, gegrond op solidariteit en universele menseregte.
Ons sal hande vat met ons broers en susters regoor ons geliefde vasteland, Afrika, om vrede te bewerkstellig, stabiliteit te bereik en ontwikkeling te bevorder.
Deur die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied, deur die bou van paaie, en spoorlyne, fabrieke en kragstasies, betree Afrika 'n nuwe era van produktiwiteit en handel.
Ek verbind my vandag plegtig daartoe om 'n president vir alle Suid-Afrikaners te wees; om ons Grondwet te verdedig en ons demokrasie te beskerm; om saam met elkeen te werk wat die droom van 'n beter lewe vir almal deel; om te sorg vir die armes en kwesbares en om almal wat in nood is te ondersteun; om te sorg dat ons land sterker, veerkragtiger, meer gelyk en verenig is.
Dit is die droom wat die digter Sandile Dikeni in sy werk 'Love Poem for my country' beskryf:
My country is for health and wealth
See the blue of the sea
And beneath the jewels of fish
Deep under the bowels of soil
Hear the golden voice of a miner’s praise for my country
My country is for unity
Feel the millions
See their passion
Their hands are joined together
And there is hope in their eyes.
Op hierdie dag word ons hande saamgesnoer. Ons is verenig. Ons is vol hoop.
Mag God Suid-Afrika seën en sy mense beskerm.
God bless Africa.
Nkosi Sikelel' iAfrika.
Morena boloka setjhaba sa heso.
Mudzimu fhatutshedza Afurika.
Hosi katekisa Afrika.
Ek dank u.