President Jacob Zuma: Verklaring oor die geweld in Kwazulu-Natal wat teen buitelandse landsburgers gemik is

Verklaring deur President Jacob Zuma in die Nasionale Vergadering oor die geweld in Kwazulu-Natal wat teen buitelandse landsburgers gerig is

Agbare Speaker,
Agbare Adjunkspeaker,
Agbare Adjunkpresident
Agbare Lede,
Mede-Suid-Afrikaners,

Die afgelope week het ons skokkende en onaanvaarbare voorvalle van geweld teen buitelandse landsburgers gesien in sommige dele van KwaZulu-Natal, wat nou ook na dele van Gauteng uitgebrei het. Soortgelyke voorvalle het in Januarie in Soweto plaasgevind.

Geen mate van frustrasie of woede kan ooit die aanvalle op buitelanders en die plundering van hul winkels regverdig nie.

Ons veroordeel die geweld in die sterkste moontlike terme. Die aanvalle skend al die waardes wat Suid-Afrika beliggaam, veral die respek vir menselewens, menseregte, menswaardigheid en Ubuntu.

Ons land staan sterk teen alle onverdraagsaamhede soos rassisme, xenofobie, homofobie en seksisme.

Ons betuig ons meegevoel teenoor die families van almal wat hul lewens verloor het en wens die beseerdes 'n spoedige herstel toe.

Ons doen 'n dringende oproep om kalmte, 'n beëindiging van die geweld en selfbeheersing. Misdadige elemente moet nie toegelaat word om voordeel te trek uit ons landsburgers se kwelvrae om chaos en verwoesting te saai nie.

Enige probleme of bekommernisse wat Suid-Afrikaners ervaar, moet op 'n vreedsame manier, deur gesprekvoering, opgelos word.

Die polisie het opdrag ontvang om onvermoeid te werk om sowel buitelanders as Suid-Afrikaanse burgers te beskerm en plunderaars en diegene wat hulle aan gewelddadige handelinge skuldig maak, te arresteer.

Ons noop gemeenskappe om die polisie te help deur inligting te verstrek oor die voorvalle wat in Gauteng en KwaZulu-Natal voorgekom het, sodat die oortreders voor die gereg gebring kan word.

Ons bedank godsdiensleiers, nieregeringsorganisasies en ander belanghebbers wat humanitêre hulp aan die ontwortelde mense verleen.

Ofskoon ons die aanvalle ten sterkste veroordeel, is ons bewus van, en staan ons simpatiek teenoor, sommige van die kwessies wat deur die geaffekteerde Suid-Afrikaners geopper is.

Ons herbeklemtoon ons siening dat Suid-Afrikaners in die algemeen nie xenofobies is nie. Indien hulle xenofobies was, sou ons nie so 'n groot aantal buitelandse burgers gehad het wat suksesvol in gemeenskappe regoor ons land, in dorpe, stede en nedersettings geïntegreer is nie.
Daar is bepaalde sosio-ekonomiese kwessies geopper, wat aandag geniet.

Dit sluit in klagtes oor onwettige en ongedokumenteerde immigrante in die land, die toename in die aantal winkels of klein sakeondernemings wat deur buitelanders oorgeneem is, en oor persepsies dat buitelandse burgers hulle aan misdaag skuldig maak.

Ons wil dit beklemtoon dat, alhoewel sommige buitelandse burgers wel al vir verskeie misdade gearresteer is, dit misleidend en verkeerd is om alle buitelandse burgers in hierdie land as misdadigers te brandmerk.

Boonop is nie alle buitelanders  wat in ons land woonagtig is, onwettig hier nie. 

Talle is wettig in die land en lewer 'n bydrae tot die land se ekonomie en maatskaplike ontwikkeling. Baie dra vaardighede by wat skaars is, wat ons help om die ekonomie te ontwikkel en is baie welkom om in ons land te woon.

Ander het as vlugtelinge na Suid-Afrika gekom, om te ontkom aan konflik of oorloë in hul lande van oorsprong, net soos baie Suid-Afrikaners in die een of ander stadium ook ons land verlaat het om in ander lande op die vasteland, en elders, te gaan bly.

Ons is met gulheid, waardigheid en respek deur ons broers en susters op die res van die vasteland behandel. Ons sal nooit daardie gasvryheid en eensgesindheid vergeet nie.

Die ondersteuning van die frontlinie-state in Suider-Afrika en dié van die Organisasie vir Afrika-eenheid was van deurslaggewende belang vir die bereiking van die vryheid en demokrasie wat ons vandag geniet.

In hierdie verband sal die regering voortgaan om sy rol te vervul en ons verantwoordelikhede en verpligtinge as lede van die Afrika-Unie en die Verenigde Nasies na te kom.

Steun sal aan vlugtelinge en asielsoekers verleen word ooreenkomstig volkereg en internasionale protokolle, met die ondersteuning van die Verenigde Nasies se Hoëkommissaris vir Vlugtelinge.

Ons doen 'n beroep op ons mense om vlugtelinge en asielsoekers te beskerm.

Gedurende die naweek het ek die Ministers van Polisie, Staatsekuriteit en Binnelandse Sake ontplooi om met die KwaZulu-Natalse provinsiale regering saam te werk om die geweld onder bedwang te bring en die situasie te normaliseer. Hulle het hulle goed van hul taak gekwyt, maar die probleem vereis 'n veel meer omvattende en volhoubare langtermyn-ingryping.

Ek het gevolglik die hele Groepering vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit toegewys om hierdie kwessie intensief aan te pak, tesame met die Ministers van Maatskaplike Ontwikkeling, Handel en Nywerheid en Kleinsakeontwikkeling.

Die sekuriteitsgroepering en ekonomiese departemente het reeds ná die Soweto-voorvalle in Januarie aan die saak begin werk.

Ek het hulle nou beveel om vinniger te werk en met geaffekteerde gemeenskappe, organisasies wat buitelandse burgers verteenwoordig, sakeondernemings, nieregeringsorganisasies en ander belanghebbers in gesprek te tree om die vraagstukke aan albei kante aan te pak.

Die oogmerk is om toekomstige voorvalle te vermy deur verhoudings te verbeter en vreedsame naasbestaan tussen Suid-Afrikaanse burgers en ons broers en susters binne die vasteland, asook ander buitelandse burgers, te bevorder.

Ons sal ook 'n beroep doen op die samewerking en ondersteuning van die geaffekteerde buitelandse sendings wat in Suid-Afrika gebaseer is. Die  Minister van Binnelandse Sake het verlede week met die Afrika Hoof van Sendings in hierdie verband vergader.

Die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sal ook hierdie kwessies bevorder in haar gesprekke met die Afrika Hoof van Missies asook môre, 17 April.

Ons versoek ons parlementslede om ook in hul kiesafdelings met ons saam te werk om betrekkinge te verbeter en vreedsame naasbestaan tussen ons mense en buitelandse landsburgers te bevorder.

Maatreëls word ook geïmplementeer om beheermaatreëls te versterk en immigrasie na ons land beter te reguleer.

In hierdie verband maak die regering vordering met die instelling van die Agentskap vir Grensbestuur, wat die grensomgewings en alle hawes van binnekoms sal bestuur. 

Die Departement van Binnelandse Sake se kapasiteit word verbeter om dit in staat te stel om migrasie-kwessies beter te kan hanteer, veral by grensposte.

In hierdie verband sal die SANDF driehonderd-en-vyftig soldate na Binnelandse Sake oorplaas om as immigrasiebeamptes by grensposte te werk.

Daarbenewens het die SANDF ook militêre personeel langs die grenslyne in sewe provinsies ontplooi om grensmisdaadaktiwiteite en onwettige grenskruisings te voorkom. 

Mede-Suid-Afrikaners,

Ons doen 'n dringende beroep op u almal om kalmte en selfbeheersing aan die dag te lê.

Ons versoek ook diegene van u wat sosiale media gebruik dringend om u daarvan te weerhou om die vlamme van geweld op Facebook, twitter en ander platforms aan te blaas.
Ons deel almal die verantwoordelikheid om sosiale kohesie, vreedsame naasbestaan en goeie menseverhoudings in die land te bevorder.

Buitelandse landsburgers help ons om 'n kosmopolitiese atmosfeer te kweek, en ons verwelkom hul teenwoordigheid. Ons wil ook graag 'n styging in toerismesyfers uit Afrika-lande sien, en die talle sakegeleenthede deel ter bevordering van volhoubare ekonomiese groei op die vasteland.
Die komende Afrika-maandfeesviering in Mei bied aan ons die geleentheid om ons Afrika-identiteit en goeie betrekkinge met ons broers en susters uit die vasteland verder te bevorder.

Ons sien uit na die viering van Afrika-dag in elke provinsie op 25 Mei 2015.
Landgenote, ons versoek almal nederig om te kalmeer.
Xenofobiese aanvalle word ten sterkste ontmoedig in ons land.
Gedurende ons vryheidstryd het ons hulp en bystand van soveel verskillende lande ontvang. Die mense van daardie lande het ons nooit weggejaag of swak behandel nie.

Ons het klagtes ontvang dat sommige buitelanders nie oor die nodige permitte beskik om in Suid-Afrika te mag wees nie.

Daarbenewens kla ons medelandsburgers ook oor die misdadige aktiwiteite waaraan sommige buitelanders hulle skuldig maak, en beskuldig hulle ook daarvan dat hulle Suid-Afrikaners van sake- en werksgeleenthede ontsê.

Die regering luister na al hierdie griewe en sal dit beslis uitsorteer. Maar ons herbeklemtoon ons posisie dat dit geensins 'n verskoning is om die geweld te legitimeer nie. Ons ontmoedig hierdie tipe geweld in al sy vorme.

Ons as regering doen die nodige stappe om sekuriteit en toegangsbeheer op al ons landsgrense te verbeter om te verseker dat geen buitelandse burger onwettig ons land binnekom nie. Ons het amptenare van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag op ons grense ontplooi om die Departement van Binnelandse Sake te help om hierdie kwessie op te los.

Agbare Lede,

Kom ons werk saam om ondersteuning te bied aan alle buitelandse burgers wat deur hierdie geweld geraak is.

Die Vryheidsmanifes sê dat daar vrede en vriendskap sal wees. Ons verantwoordelikheid is om hierdie nalatenskap van vreedsame naasbestaan aan te moedig en te bevorder.

Ons herbevestig ook ons verantwoordelikheid om 'n bydrae tot 'n beter Afrika en 'n beter wêreld te lewer.

Kom ons werk saam om ons land 'n beter plek te maak, vir almal wat hier woon.

Ek dank u.

Share this page

Similar categories to explore