Persverklaring deur die Minister van Gesondheid, Dr Zwelini Mkhize, oor die bevindings van die navorsingstudies rakende die doeltreffendheid van entstowwe

Mede-landsburgers,

Op Maandag, 08 Februarie 2021, het ek, die minister van gesondheid, Dr Zwelini Mkhize, die ministeriële advieskomitee oor entstowwe onder voorsitterskap van die eerbare adjunkpresident, mnr David Mabuza, ingelig oor die doeltreffendheid van die AstraZeneca-entstof teen die 501Y.V2 variant van die korononavirus, wat tans in Suid-Afrika woed. Gevolglik is ’n verdere inligtingsessie met die Nasionale Koronavirus-bevelraad gehou, waartydens die ministeriële advieskomitee se verslag oor inenting ter tafel gelê is.

Die Suid-Afrikaanse regering is daartoe verbonde om te verseker dat ons altyd die beste opsies en benaderings volg om ons bevolking teen infeksies, insluitend KOVID-19, te beskerm. Suid-Afrika het gevestigde maatreëls in plek om die veilige gebruik van alle nuwe gesondheidsprodukte te verseker en ons is tevrede dat ons navorsingstelsel nie net doeltreffende gehaltebeheer uitoefen nie, maar ook ’n leiersrol te speel in die wêreldwye navorsing oor en studies van die koronavirus.

Suid-Afrikaanse wetenskaplikes en navorsers het in 2020 reeds begin met studies oor die doeltreffendheid van verskeie entstowwe. Hulle het teen die einde van 2020 en aan die begin van 2021 veral op die impak van entstowwe teen die 501Y.V2 variant gefokus. Die uitslae van hierdie studies was eers teen Vrydag, 05 Februarie 2021 beskikbaar en is op Sondag, 07 Februarie 2021 aan die publiek bekendgemaak. Danksy hierdie werk, waarin die staat direk belê het, is daar vasgestel dat die AstraZeneca-entstof nie ligte tot matige siekte weens die 501Y.V2 variant verhoed nie. Hierdie tydige bevinding het verseker dat alle moontlike maatreëls steeds gevolg kan word om die mees doeltreffende entstof in ons inentingstrategie te gebruik.

Alle entstowwe is ontwikkel gebaseer op die oorspronklike SARS-COV-2 variant wat aanvanklik regoor die wêreld gewoed het. Die staat se pogings om inentings te bekom, het die ontdekking van die 501Y.V2 variant en ander variante voorafgegaan. Terwyl ons gewag het vir die uitslae oor die doeltreffendheid van die verskillende entstowwe, kon Suid-Afrika nie die aflewering van die betrokke inentings vertraag nie, synde dit sou beteken dat ons land noodgewonge agter in die spreekwoordelike tou vir inentings sou staan weens die wêreldwye tekort aan voorraad.

Daar is kommer in die openbare sfeer oor die vervaldatums van die AstraZeneca-inentings wat ontvang is (naamlik 30 April 2021). Die inentings het nie verval nie. Bowendien – indien die departement van gesondheid, soos oorspronklik beplan is, sou voortgaan met die uitrol van die AstraZeneca-inentings – sou al die dosisse reeds toegedien wees teen die vervaldatum. Daarbenewens is die April-vervaldatum nie per toeval ontdek nie, maar weens die implementering van ons gehaltebeheer en -versekeringsmaatreëls.

Gegewe die uitslae van die doeltreffendheidstoetse, gaan die departement van gesondheid voortgaan met die beplande Fase 1-inenting met die Johnson & Johnson-entstof in plaas van die AstraZeneca-entstof. Die Johnson & Johnson-entstof se doeltreffendheid teen die 501Y.V2 variant is beproef en die nodige goedkeuringsprosesse vir gebruik in Suid-Afrika is onderweg. Die uitrol van die inentingsproses sal voortgaan in die gedaante van ’n implementeringstudie in vennootskap met die Mediese Navorsingsraad en die nasionale departement van gesondheid se landswye inentingspersele. Hierdie proses sal waardevolle inligting inwin oor die pandemie in die na-inentingsgemeenskap en dus die vroeë identifisering van deurbraakinfeksies moontlik maak, sou dit onder ingeënte gesondheidswerkers uitbreek.

Daarbenewens het ons land ook vanaf Pfizer entstofdosisse vir die uitrol van Fase 1 ontvang. Ons wetenskaplikes evalueer ook ander kandidate en ons is verder in gesprekvoering met vervaardigers. Evaluering en gesprekvoering met die Sputnik-V-kandidaat is in ’n gevorderde stadium. Gesprekvoering met Sinopharm duur ook voort, met ’n aanbod vanaf Sjina wat tans oorweeg word. ’n Nie-openbaarmakingsooreenkoms is geteken en die bekragtigingsproses deur SAHPRA is onderweg. Ons gesprekvoering met Moderna duur voort en ons sal verdere aankondigings maak, soos altyd, wanneer die tyd geleë is.

Daarteenoor gaan ons wetenskaplikes voortgaan met beraadslaging oor die gebruik van die AstraZeneca-entstof in Suid-Afrika, en aan die hand van hul aanbevelings sal die inentings verruil word voor die vervaldatum. Deur ongebruikte inentings voor die vervaldatum te verruil, sal die departement van gesondheid verseker dat die AstraZeneca-inentings wat verkry is nie ’n onnodige en vermorste uitgawe was nie.

Intussen herinner ons graag ons mede-landgenote daaraan dat die belangrikste ding wat ons almal kan doen om KOVID-19-infeksies te vermy totdat ons land kudde-immuniteit bereik, is om vol te hou met die gesondheidsmaatreëls van handontsmetting met seep of 70%-alkoholgebaseerde handontsmetmiddel, die dra van maskers in die openbaar en om ’n sosiale afstand van minstens 1.5 meter te handhaaf.

Uitgereik deur: Die Department van Gesondheid
MLO: Dr Lwazi Manzi
Cell: 082 678 8979

Share this page

Similar categories to explore