LUG U MENING: Oproep om Openbare Voorleggings en Kommentaar

Die Gekose Komitee oor Handel en Nywerheid, Ekonomiese Ontwikkeling, Kleinsakeontwikkeling, Toerisme, Indiensneming en Arbeid nooi belanghebbendes en belangstellende partye uit om skriftelike voorleggings oor die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Kleinsake [B 16B – 2023] (art 76) in te dien.

Die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Kleinsake [B 16B – 2023] (art 76) het ten doel om:

•    die Nasionale Kleinsakewet, 1996, te wysig ten einde sekere omskrywings te wysig, te skrap, in te voeg en te vervang;
•    voorsiening te maak vir die verslag van die adviesliggaam
•    voorsiening te maak vir die stigting van die Agentskap vir Finansiële Ontwikkeling van Klein Ondernemings; 
•    voorsiening te maak vir die werksaamhede van die agentskap om die verskaffing van finansiële en nie-finansiële ondersteuningsdienste aan klein ondernemings te verseker;
•    die ontwikkeling van volhoubare en verantwoordelike koöperatiewe bankwese te bevorder; 
•    voorsiening te maak vir die instelling van die Kantoor van die Ombudsdiens vir Kleinsake; 
•    ’n billike handelsomgewing vir klein ondernemings moontlik te maak deur die voorsiening van bekostigbare en doeltreffende toegang tot geregtigheid; 
•    die Minister te bemagtig om sekere praktyke met betrekking tot klein ondernemings as onbillike handelspraktyke te verklaar; 
•    voorsiening te maak vir die oorgangsreëlings wat deur die stigting van die agentskap genoodsaak word; 
•    gevolglike en noodsaaklike wysigings aan die Wet op Koöperatiewe Banke, 2007, en aan die Wet op Koöperasies, 2005, in werking te stel; en
•    voorsiening te maak vir verwante aangeleenthede.

Belangstellende individue en belanghebbendes wat kommentaar wil lewer, word vriendelik versoek om skriftelike voorleggings aan die Komitee te stuur teen nie later nie as 12:00 op Vrydag, 16 Februarie 2024. Diegene wat voorleggings by openbare verhore wil maak, moet dit spesifiek versoek, maar daar moet kennis geneem word dat die toestaan van sodanige versoeke vir mondelinge indiening by die Komitee berus.

Afskrifte van die wetsontwerpe is beskikbaar by www.parliament.gov.za.

Alle korrespondensie moet gerig word aan mnr M Rayi, Voorsitter: GK oor Handel en Nywerheid, Ekonomiese Ontwikkeling, Kleinsakeontwikkeling, Toerisme, Indiensneming en Arbeid. Voorleggings moet na die volgende e-posadresse gestuur word: mkoff@parliament.gov.za en ndinizulu@parliament.gov.za.

Navrae kan gerig word aan me M Koff by 083 709 8527 of per e-pos by mkoff@parliament.gov.za of aan me N Dinizulu by 083 709 8393 of per e-pos by ndinizulu@parliament.gov.za

Share this page

Similar categories to explore