Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 29 April 2015

1. Onlangse aanvalle op buitelanders

1.1. Die Kabinet verwelkom die vrede en kalmte wat begin heers in gemeenskappe wat deur die onlangse aanvalle op buitelandse burgers geraak is. Die Kabinet prys die departemente wat deur die Nasionale Gesamentlike Operasiesentrum gewerk het om die dade van geweld in KwaZulu-Natal en Gauteng te beëindig.

1.2. Die Kabinet prys die provinsiale en munisipale leiers in die gebiede wat geraak is vir die rol wat hulle gespeel het om die geweld te verlig en die leiding wat hulle geneem het om buitelandse burgers in gemeenskappe te herintegreer.

1.3. Gedurende die afgelope week het President Jacob Zuma belanghebbersvergaderings met verteenwoordigers van die sakesektor, godsdienstige groepe, arbeid, die burgerlike samelewing en buitelandse burgers belê om oplossings te vind. Die gesprekke was opbouend en het bygedra om die proses te versnel. Alle deelnemers het hierdie aanvalle eenparig veroordeel en het hulle daartoe verbind om met die Regering saam te werk in die soeke na 'n blywende oplossing.

1.4. Die Inter-ministeriële Komitee vir Migrasie wat onlangs aangestel is, werk daaraan om  blywende oplossings te vind vir kwessies wat deur gemeenskappe en buitelandse burgers geopper is.

2.  Balangrike kabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet is ingelig oor die vordering wat gemaak is met die Regering se Nasionale Vaste-eiendomregister. ‘n Afdeling vir registrasiedienste van vaste eiendom is met ingang van 1 April 2015 gestig. Die afdeling sal binne die Handelsentiteit vir die Bestuur van Eiendomme bestuur word en sal toesig hou oor die Staat se vaste eiendom. Dit sal dien as 'n enkele bewaarplek vir vaste eiendom, en sal 'n struktuur bied vir toesig, regulering en monitering van die Staat se vaste-eiendomregister.

2.2. Die Kabinet keur die vrystelling van die Konsepbeleid oor Tradisionele Inisiasie-praktyke vir openbare kommentaar goed. Die beleid is gemik op die beskerming, bevordering en regulering van inisiasie deur voorstelle te maak vir aanvaarbare norme en standaarde en voorsiening te maak vir strukture op nasionale en provinsiale vlak. Dit sal verseker dat inisiasies in 'n beheerde omgewing plaasvind.

Dit vorm deel van stappe deur die Regering om toepaslike, aanvaarbare tradisionele praktyke te bevorder en om 'n aanvaarbare vlak van aanspreeklikheid waarvolgens inisiasie reeds jare lank volhou is, te herstel.

2.3. Die Kabinet keur die Inter-regering Menslike Nedersettingsprogram vir die Nelson Mandela-baai Munisipaliteit goed, wat deur die Agentkskap vir Behuisingsontwikkeling as 'n implementeringsagent gebruik sal word.

2.4. Die Kabinet keur goed dat die Internasionale Federasie van Biblioteek-verenigings en -instellings se Jaarlikse Wêreld Biblioteek-inligtingskongres in Kaapstad gehou word van 15 tot 21 Augustus 2015 onder die tema "Dinamiese Biblioteke: Toegang, Ontwikkeling en Transformasie".

2.5. Die Kabinet keur die tertafellegging van die Protokol vir die Uitskakeling van Onwettige Handel op Tabakprodukte goed.
Dit is in ooreenstemming met die Wêreldgesondheidsorganisasie se Raamwerk-konvensie oor Tabakbeheer wat Suid-Afrika in April 2005 bekragtig het. Die protokol sal lande help om wêreldwyd op te tree teen onwettige handel in tabakprodukte, veral lande wat die protokol onderteken het.

3. Die Kabinet se standpunt oor huidige kwessies

3.1. Die Kabinet betuig sy meegevoel met die naasbestaandes van mense wat die afgelope tyd in openbare vervoer-ongelukke gesterf het; dit sluit in 'n botsing tussen twee busse in Johannesburg verlede week en 'n treinbotsing vandeesweek by Denver-stasie, suid van Johannesburg. Die Kabinet is vol vertroue dat ondersoeke deur die betrokke departemente sal vasstel wat die botsings veroorsaak het om te verhoed dat soortgelyke ongelukke weer plaasvind.

3.2. Die Kabinet betuig saam met President Zuma sy meegevoel met die naasbestaandes en vriende, asook die hele sokkergemeenskap ná die afsterwe van die voormalige Bafana Bafana sokkerlegende John "Shoes" Moshoeu wat op Maandag 27 April 2015 begrawe is. Hy sal altyd onthou word as 'n uiters talentvolle sokkerspeler wat 'n deurslaggewende rol gespeel het in Suid-Afrika se oorwinning by die Afrika-beker van Nasies in 1996.

3.3. Die Kabinet betuig saam met President Zuma sy meegevoel met die regering en die mense van die Federale Demokratiese Republiek van Nepal, ná die massiewe aardbewing wat die land op Saterdag 25 April 2015 getref en duisende lewens geëis het. Die Kabinet prys die Suid-Afrikaanse nie-regeringsorganisasies wat humanitêre hulp na Nepal gestuur het.

3.4. Die Kabinet het sy innige meegevoel uitgespreek teenoor die naasbestaandes van Brigadier-generaal Bita, wat op die ouderdom van 75 in Tanzanië gesterf het. Brig-genl Bita was die Uitvoerende Sekretaris van die Vryheidskomitee van die destydse Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE). In Suid-Afrika is hy vereer met die Orde van die Metgeselle van OR Tambo in goud, die hoogste eer aan buitelandse burgers.

4. Toekomstige gebeure

4.1. President Zuma sal die 70ste herdenking van die oorwinning van die Groot Patriotiese Oorlog (Tweede Wêreldoorlog) op die Rooiplein in Moskou op 9 Mei 2015 bywoon. Hy sal ook 'n bilaterale vergadering met die Russiese president, Vladimir Poetin, bywoon.
Hierdie besoek sal voortbou op ons huidige bilaterale verhoudinge met die Russiese Federasie om verdere samewerking op verskeie gebiede te bevorder.

4.2. In die gees van Werkersdag môre (1 Mei 2015), doen die Kabinet 'n beroep op alle werkers om te verenig, Suid-Afrika se ekonomie te bou, en 'n bydrae te lewer tot die vasteland en die wêreld.
Die Regering het sedert 1994 werkers se regte bevorder, wat daartoe gelei het dat werkers voordeel trek uit die skep van progressiewe arbeidspraktyke en maatskaplike beskermingsvoordele.

4.3. Nasionale departemente sal hul begrotingsredes tussen 5 en 21 Mei 2015 aan die Parlement voorlê om hul prioriteitsaktiwiteite vir die huidige finansiële jaar uit te lig.

Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om die begrotingsredes op verskeie mediaplatforms te volg om ’n beter begrip te kry van ministers se uiteensettingsplanne vir die Regering se Program van Aksie.

4.4. Die Departement van Toerisme en Suid-Afrikaanse Toerisme sal INDABA 2015 van 9 tot 11 Mei 2015 by die Inkosi Albert Luthuli Internasionale Konferensiesentrum in Durban aanbied.

Dié Pan-Afrikaanse geleentheid is 'n deurslaggewende platform vir die bevordering van ons toerismeprodukte op die internasionale mark. Dit ondersteun ook die strategiese visie van die Nasionale Toerismesektorstrategie om die aantal internasionale besoekers tot 15 miljoen in 2020 te laat toeneem en dus 225 000 nuwe werkgeleenthede te skep.

4.5. Die Kabinet verwelkom die 5de Gender-beraad van Afrika, die eerste wat op die vasteland van Afrika gehou word. Die beraad, wat by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum gehou word, is 'n platform vir groepe en organisasies op alle vlakke van wetenskaplike navorsing om geslagskwessies van gemeenskaplike belang te bespreek. Die beraad, aangebied deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, versterk Afrika se navorsingsagenda sodat wetenskap, tegnologie, infrastruktuur, kapitaal, vaardighede en data die ontwikkeling van die vasteland beter kan ondersteun.

4.6. Die Departement van Water en Sanitasie sal Sanitasie- en Higiëneweek van 11 tot 15 Mei 2015 vier onder die tema "Alles gaan nie net oor spoel nie" (It’s not all about flushing).

Dié fokusweek, wat die eerste keer in 2004 by die Global WASH-forum in Dakar, Senegal bekendgestel is, is daarop gemik om bewustheid oor die belangrikheid van sanitasie te kweek en om beste praktyke vir sanitasie te bevorder.

Sedert 1994 het die Regering beduidende vordering gemaak in die voorsiening van toegang tot water en sanitasie. Sedert September 2013 het die Departement van Water en Sanitasie die gebruik van 14 386 emmertoilette landwyd beëindig. Die Regering bly daartoe verbind om die agterstand van die emmerstelsel in ons gemeenskappe geheel en al uit te roei.

5. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die betrokke klaring.

5.1 Precious Matsotso - Hernude vyf-jaar-kontrak vir Direkteur-Generaal: Departement van Gesondheid.
5.2 Mnr Thabane Zulu - Uitgebreide 12-maande hernubare kontrak: Direkteur-generaal: Menslike Nedersettings.

5.3 Nie-uitvoerende lede van die Suid-Afrikaanse Toerismeraad:
a) Mnr Vincent Zwelibanzi Mntambo (heraanstelling);
b) Mnr Graham Ian Wood (heraanstelling);
c) Dr. Ayanda Ntsaluba (heraanstelling);
d) Me Charlotte Mary Chichi Machichana Maponya;
e) Mnr Oregan Percival Mark Hoskins;
f) Dr Tanya Ethel Abrahamse;
g) Dr Iraj Abedian;
h) Me Monhla Wilma Hlahla;
i) Me Michelle Julie Constant;
j) Me Judy Valerie Nwokedi;
k) Mnr Aloysius Thebeetsile Ikalafeng (heraanstelling);
l) Mnr Colin Geoffrey Bell;
m) Me Amor Malan;
n) Me Mmaditonki Setwaba

Suid-Afrikaanse Raad vir Natuurwetenskaplike Beroepe:
a) Dr Gerda Botha (heraanstelling);
b) Dr Stephanus Esias Terblanche;
c) Prof K A Nephawe;
d) Mnr Neale Lance Baartjes;
e) Prof George Johannes Bredenkamp;
f)  Prof Robin Michael Crewe;
g) Prof Brian Kevin Reilly (heraanstelling);
h) Dr Juanita van Heerden;
i) Dr Jacqueline Suzanne Galpin;
j) Dr Roelof Coetzer;
k) Dr Irvy Gledhill;
l) Mnr Khangwelo Desmond Musetsho;
m) Dr Monde Mayekiso;
n) Mnr Fhatuwani Leonard Ramagwede;
o) Dr Phethiwe Matutu;
p) Dr Philia Rixongile Vukea;
q) Prof Mairam Gulumian;
r) Mnr Poobalan Troy Govender;
s) Dr Wendy Ngoma;
t) Me Thulisile Njapa Mashanda; en
u) Me Matuloe Pertunia Masemola.

Navrae: 
Me Phumla Williams (Waarnemende Kabinetwoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore