Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 13 Mei 2015

1. Belangrike kwessies in die omgewing

1.1. Op 24 Mei 2015, sal President Jacob Zuma die viering van Afrika-dag by die Mamelodi-kampus van die Universiteit van Pretoria lei onder die tema: "Ons is Afrika - maak die deure oop vir leer en kultuur van die Kaap tot in Kaïro".

In die gees van Afrika-dag, moedig die Kabinet alle Suid-Afrikaners, maar veral die jeug aan, om saam te werk om hul betrokkenheid by ons landsake te versterk. 

Afrika-maand is 'n platform om eenheid onder Afrika-lande en ons mede-Afrikabroers en -susters wat in Suid-Afrika woon te bevorder. Die eenheid van die vasteland word aangedryf deur programme van die Afrika-unie om sy visie te bereik soos verwoord is in sy Agenda 2063. Die vasteland, gelei deur sy burgers, streef na 'n geïntegreerde, voorspoedige en vreedsame Afrika.

Afrika-dag bied ook 'n geleentheid vir Suid-Afrikaners om opnuut aansluiting te vind en hul opnuut daartoe te verbind om al die Regering se tussenkomste vir die skep van 'n beter Afrika en 'n beter wêreld te ondersteun.

Die Afrika-maand tema, "Ons is Afrika", is 'n verklaring van trots wat inklusiwiteit van alle rolspelers en belanghebbendes bevorder. Dit is ook 'n oproep tot aksie vir individue en groepe uit alle agtergronde en alle vlakke van die samelewing om by die  beweging vir verandering aan te sluit.

1.2. Die Kabinet verwelkom Operasie Fiela\Reclaim 2015, 'n multi-dissiplinêre aksie deur verskeie staatsinstellings om streng nakoming van die verskillende wette en regulasies wat ons samelewing reguleer te verseker.

Hierdie operasie is daarop gemik om kwessies van misdadigheid soos onwettige wapens, dwelmopslagplekke, prostitusie-ringe en ander onwettige aktiwiteite te hanteer.

Die Kabinet benadruk dat hierdie aksie nie op buitelandse burgers gemik is nie, maar om die kriminaliteit binne ons land te ontmasker deur 'n reeks gesprekke met gemeenskappe te voer. Om dié rede verwerp die Kabinet die bewerings ten sterkste dat hierdie aksie op buitelandse burgers gemik is.

As 'n land wat trots is om die beste en liberaalste grondwet in die wêreld te hê, beklee ons 'n prominente plek oor menseregtevraagstukke en kan ons as sodanig nie 'n inisiatief wat die menseregte van enige individue of groepe sal skend, goedkeur nie.

Die Kabinet is tevrede met die vordering wat tot dusever deur Operasie Fiela gemaak is. Sedert sy ontstaan is talle oortreders in hegtenis geneem tydens verskeie klopjagte op probleempunte. Die Kabinet verwelkom die reaksie van lede van die gemeenskap wat in vennootskap met wetstoepassers werk om seker te maak dat almal veilig is en ook veilig voel in ons land.

Hierdie operasie, wat die stryd teen misdaad verskerp, help ook om 'n veiliger Suid-Afrika te bevorder en te skep.

Die Inter-ministeriële Komitee oor Migrasie sal die media hierdie naweek inlig oor vordering wat met hul werksaamhede gemaak is, insluitend Operasie Fiela.

2. Implementering van belangrike regeringsprogramme

2.1. Die Kabinet verwelkom die begrotingsredes van verskeie departemente en is tevrede met die uitgebreide verslae wat deur ministers voorgelê is oor die vordering wat hulle gemaak het om mense se lewens te verbeter. Hulle het tydens die inligtingsessies verder uitgebrei oor die planne van hul onderskeie departemente vir die huidige finansiële jaar.

2.2. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die Moetapele-inisiatief deur die Departement van Binnelandse Sake by sy  Edenvale-kantoor op 12 Mei 2015. Hierdie inisiatief is daarop gemik om 'n paar van die kantore te omskep in modelkantore as groeiplekke vir beste praktyke. Dit sal die voorsiening van noodsaaklike dienste aan Suid-Afrikaners verbeter en meer doeltreffende toegang tot regeringsdienste verseker.

2.3. Die Kabinet verwelkom ook die eerste Suid-Afrikaanse Migrante-toekennings waardeur uitstaande migrante in Suid-Afrika en Suid-Afrikaners wat in ander Afrika-lande werk, vereer sal word. Die Kabinet doen 'n beroep op gemeenskappe om mense wat die gees van Ubuntu verpersoonlik en hulle toewy aan die ontwikkeling van die vasteland van Afrika te nomineer deur ’n e-pos te stuur aan samigrantawards@dha.gov.za

Nominasies sluit op 20 Mei 2015 en die wenners sal op Afrika-dag (25 Mei) aangekondig word. Een van die opwindendste kategorieë van hierdie toekennings is dié vir 'n Suid-Afrikaanse gemeenskap wat daarin slaag om buitelandse burgers binne die gemeenskap te integreer en om in vrede saam te leef.

2.4. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van mobiele grondeise-kantore regdeur die land om almal wat kwalifiseer in staat te stel om grondeise in te dien. Dit is bykomend tot die 14 bestaande indieningskantore in al die provinsies.

Hierdie proses is deel van 'n omvattende nasionale kommunikasie-uitreikprogram wat die Wysigingswet op die Herstel van Grondregte van 2014, soos deur President Zuma onderteken, in werking stel. Die Wysigingswet op die Herstel van Grondregte maak voorsiening vir restitusie of billike herstel aan persone en gemeenskappe wat ná 19 Junie 1913 van hul grondregte ontneem is.

Alle Suid-Afrikaners wat kwalifiseer en nie die aanvanklike sperdatum van 31 Desember 1998 vir die indien van grondeise gehaal het nie, het nou tot 30 Junie 2019 die geleentheid om dit te doen.

2.5. Die Kabinet verwelkom die samesprekings van die Minister van Minerale Hulpbronne met verteenwoordigers van die mynbedryf en belanghebbendes om die uitslag van die Mynbouhandves 2014 se Assesseringsverlsag te bespreek. Hierdie verslag meet die vordering van die nege belangrikste elemente van die Mynbouhandves.

Die mynbouhandves is ontwikkel om as dryfveer te dien vir die transformasie-agenda in die belangrikste deel van die land se ekonomie. Deur die elemente te meet, word gepoog om die wanbalanse van die verlede reg te stel deur die land se rykdom te deel met mense wat voorheen benadeel is, asook om die menslike hulpbronne en eienaarskap van die myne te ontwikkel. 

3. Belangrike kabinetsbesluite

3.1. Die Kabinet keur goed dat die 25ste Vergadering van die Internasionale Spoorwegveiligheidsraad van 4 tot 9 Oktober 2015 by die Sandton Internasionale Konvensiesentrum in Johannesburg gehou word. Hierdie internasionale forum bring spoorwegveiligheidskundiges van oor die hele wêreld byeen om inligting, ervaring, lesse en beste praktyke uit te ruil en spoorwegveiligheid te verbeter.

Die aanbied van hierdie geleentheid het die potensiaal om buitelandse beleggers te lok, wat die ekonomie kan versterk en openbare infrastruktuurbelegging kan versnel. Dit word verder aangevul deur Suid-Afrika se onlangse belegging in die passasier- en spoorvragsektore, met die doel om as aantrekkingskrag vir beleggings in die land te dien.

3.2. Die Kabinet keur goed dat die Afrikaanse Maritieme Vervoerhandves vir bekragtiging aan die Parlement voorgelê word. Dit is 'n internasionale ooreenkoms wat voorsiening maak vir die harmonisering van beleid om volhoubare groei en ontwikkeling van handelsvlote in Afrika te bevorder. Dit sal ook intra-Afrika handel aanmoedig om die ekonomiese en sosio-ekonomiese integrasie op die vasteland te fasiliteer.

3.3. Die Kabinet keur goed dat die Wysiging tot die Ooreenkoms van die Internasionale Telekommunikasie Satelliet-organisasie (ITSO) aan die Parlement voorgelê word vir bekragtiging. ITSO is 'n inter-regeringsorganisasie wat verseker dat Intelsat Bpk, 'n satelliet-operateur, openbare telekommunikasie dienste - insluitend stem, data en video - op 'n wêreldwye en nie-diskriminerende grondslag voorsien.

Die wysiging beskerm die langtermyn-lewensvatbaarheid van die gemeenskaplike erfenis van die partye en verseker die voortsetting van wêreldwye dekking en wêreldwye koppeling. Bekragtiging is ook deel van Suid-Afrika se internasionale prioriteit om by te dra tot 'n beter wêreld en tot die ontwikkeling van Afrika.

4. Die Kabint se standpunt oor huidige kwessies

4.1. Die Kabinet neem met leedwese kennis  van die afsterwe van  Seaparankwe, Dr Ruth Segomotsi Mompati en dra sy meegevoel aan haar familie en vriende oor. Dr Mompati het haar lewe gewy aan die stryd vir vryheid en was betrokke by verskeie inisiatiewe, insluitend die geskiedkundige Vrouemars in Augustus 1956.

In In 1954 het sy by die African National Congress (ANC) aangesluit en is tot die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC se Vroueliga verkies. In 1962 het sy in ballingskap gegaan waar sy militêre opleiding ondergaan het en as sekretaris en hoof van die afdeling vir vroue van die ANC in Tanzanië gedien het.

As die hoofverteenwoordiger van die ANC in die Verenigde Koninkryk was sy deel van die afvaardiging wat in 1990 samesprekings met die destydse Suid-Afrikaanse Regering by Groote Schuur gevoer het. In Augustus 1992 het sy  die Spesiale Komitee van die Verenigde Nasies (VN) in New York oor Apartheid en die rol van vroue toegespreek. Dié dag is deur die VN verklaar tot Internasionale Dag van Solidariteit met vroue in Suid-Afrika.

As 'n ware dienaar van die mense het sy 'n onuitwisbare rol in die ontwikkeling van ons land gespeel as 'n lid van die Parlement, Suid-Afrika se ambassadeur in Switserland van 1996 tot 2000, en as bugemeester van Vryburg (Naledi) in Noordwes.

Sy het haar lewe aan die bevryding van ons land gewy en 'n onwrikbare vasberadenheid getoon om haar mense te dien.

4.2. Die Kabinet neem met leedwese kennis van die afsterwe van Luitenant-generaal Bongani Isidore Mbatha en dra sy meegevoel aan sy familie en vriende oor.

General Mbatha het in 1978 by Umkhonto we Sizwe, die militêre vleuel van die ANC, aangesluit en het daarna verskeie poste beklee, insluitend die hoof van logistiek.

In 1994 is Generaal Mbatha by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) geïntegreer waar hy uitgebreide opleiding in verskeie dissiplines ontvang het.

Hy het deur die range in die SANW beweeg, en verskeie poste beklee totdat hy in 2014 tot luitenant-generaal verantwoordelik vir logistiek bevorder is; hy het die pos tot sy dood beklee.

5. Toekomstige gebeure

5.1. President Zuma sal die kroning van die Koning van die amaXhosa, Sy Majesteit Koning Mpendulo Calvin Sigcawu (Ah! Zwelonke) by Nqadu Great Place in Willowvale, Oos-Kaap op 15 Mei 2015 bywoon.

Die Kabinet wens Koning Sigcawu geluk met sy kroning en sien daarna uit om saam met die amaGcaleka-koninkryk te werk in die bou van ‘n geesdriftige, billike en volhoubare landelike gemeenskap.

5.2. Adjunk-president Cyril Ramaphosa sal die Alternatiewe Sanitasie-indaba wat op 15 Mei  2015 onder die tema: "Dit gaan nie alles oor spoel nie", bywoon. Die Indaba sal ook 'n geleentheid bied vir diensverskaffers van alternatiewe sanitasietegnologie om hul produkte ten toon te stel.

5.3. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid en die Nasionale Ontwikkelingsagentskap, sal Kinderbeskermingsweek by die Franklin-sportterrein in Kokstad, KwaZulu-Natal op 25 Mei 2015 van stapel stuur onder die tema: "Werk saam om kinders te beskerm". Die week word op 31 Mei 2015 in Gauteng afgesluit.

Hierdie bewustheidsveldtog is daarop gemik om alle sektore van die samelewing te mobiliseer om kinders te versorg en te beskerm. Dit het ook ten doel om volwassenes en kinders bewus te maak van die statutêre beskerming waarop kinders geregtig is onder die Grondwet, wetgewing, beleid en internasionale inisiatiewe.

Die Kabinet doen 'n beroep op ouers en voogde om altyd die veiligheid van hul kinders voorop te stel en seker te maak dat hulle versorg word deur verantwoordelike volwassenes. Ouers en voogde word aangemoedig om kinders te leer om bewus te wees van potensieel gevaarlike situasies, insluitend onaanvaarbare gedrag of optrede deur volwassenes. Dit is die verantwoordelikheid van ouers en voogde om te alle tye te weet waar hulle kinders is en om redelike voorsorgmaatreëls te tref om hul veiligheid en beskerming te verseker.

5.4. Die Minister van Telekommunikasie en Posdienste, Dr Siyabonga Cwele, sal op 17 Mei 2015 'n Imbizo by die Nelson Mandela Museum in Qunu, Oos-Kaap hou ter viering van Wêrelddag vir Telekommunikasie- en die Inligtingsgemeenskskap. Die geleentheid word aangebied om mense aan te moedig om tegnologie toenemend te gebruik om hul lewens te verbeter.

Die Minister sal uitstippel wat die Regering doen om tegnologie te gebruik om dienslewering aan alle Suid-Afrikaners, veral dié wat in landelike gebiede woon, te verbeter. Die Imbizo word gehou in vennootskap met die Oos-Kaapse Provinsiale Regering, tradisionele leiers en die Suid-Afrikaanse Kommunikasieforum. Op 17 Mei elke jaar word die ondertekening van die eerste Internasionale Telegraafkonvensie en die skep van die Internasionale Telekommunikasie-unie herdenk.

Die doel van hierdie geleentheid is om te help om bewustheid te kweek van die moontlikhede wat die gebruik van die Internet en ander inligting- en kommunikasietegnologieë vir samelewings en ekonomieë kan bied, en van maniere om die digitale gaping te oorbrug.

6. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die betrokke klarings.

6.1. Adv Motlatjo Josephine Ralefatane as Voorsitter van die Raad van .zaDNA.
6.2. Dr Thomas Kwadwo Gyedu-Ababio as Hoof Uitvoerende Beampte van Inkomati-Usuthu Opvanggebiedbestuursagentskap.
6.3. Dr GV Andrews as Hoof Operasionele Beampte: Departement van Gesondheid.
6.4. Mnr NM Ratshoma as Adjunk-direkteur-generaal van Ekonomiese Beleid: Nasionale Tesourie.
6.5. Mnr KG Sukdev as Hoof Uitvoerende Beampte van die Administrasie-agentskap vir Staatspensioene.
6.6. Mnr AD Mogajane as Adjunk-direkteur-generaal van Openbare Finansies: Nasionale Tesourie.

Navrae:
Me Phumla Williams (Waarnemende Kabinetswoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139
 

Share this page

Similar categories to explore