Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 18 Februarie 2015

1. Implementering van die belangrikste Regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet verwelkom president Jacob Zuma se staatsrede waarin Suid-Afrikaners die geleentheid gegun word om na die Regering se program van aksie te luister. Die Regering doen 'n beroep op alle belanghebbendes oor die hele land om saam te werk aan die nege-puntplan om groei en werk te skep. Om te verseker dat Suid-Afrikaners die regering se program van aksie beter verstaan, is kommunikasie-inisiatiewe ná afloop van die staatsrede in die lewe geroep om besonderhede oor die aankondiging deur die president uiteen te sit. Dit sluit in die inligtingsessies oor ministeriële groeperings wat van 15 tot 24 Februarie 2015 gehou is.

Daarbenewens sal die 2015/16-begrotingsrede op 25 Februarie 2015 die toekenning van hulpbronne aan verskillende Regeringsprogramme uitlig soos deur die president aangekondig.

Die Kabinet veroordeel die oproerige en onparlementêre gedrag van sommige Parlementslede tydens die opening van die Parlement.

Dit is teleurstellend dat hierdie verkose openbare verteenwoordigers besluit het om die opofferings wat gemaak en stryd wat gevoer is om ons swaarverdiende demokrasie te verwesenlik, te ontsier.

1.2 Die Kabinet is ingelig oor die vordering wat met die oseane-ekonomie ingevolge Operasie Phakisa gemaak is. Die beplanningsfase het in Durban in Julie en Augustus 2014 plaasgevind en het tot die totstandkoming van duidelik uiteengesette drieledige planne gelei om die oseane-ekonomie te laat groei.  Die operasie het nou 'n implementeringsfase bereik, wat die monitering en projekbestuur van die projek behels. Leweringseenhede is in die lewe geroep, en moniterings- en eskalasiemeganismes is in plek gestel.

’n Inligtingsessie is ook oor 'n tweede Operasie Phakisa gehou. Dit word gelei deur die Departement van Gesondheid en is gerig op die oprigting en instandhouding van ideale klinieke. Dit is op 18 November 2014 deur die president aangekondig.

1.3 Die Kabinet keur die Nasionale Raamwerkstrategie oor Adolessente- en Reproduktiewe Gesondheid en Regte goed. Die strategie fokus op die bevordering van gesondheidsuitkomste waarvan seksuele en reproduktiewe gesondheid van jongmense sentraal staan. Die strategie sal verder beter koördinering, sinergie en belyning met die program van die Regering, die burgerlike samelewing en ontwikkelingsvennote, wat reeds met die seksuele en reproduktiewe gesondheid van tieners werk, verseker. Die interministeriële komitee oor bevolkingsbeleid sal toesig hou oor die implementering, monitering en evaluering van hierdie strategie.

1.4 Die Kabinet keur die publikasie van die konsepbeleid oor vroeë kinderontwikkeling in die Staatskoerant goed. Dit maak deel uit van die Suid-Afrikaanse Geïntegreerde Program van Aksie vir Vroeë Kinderontwikkeling vir 2013 tot 2016, wat die Kabinet op 18 September 2013 goedgekeur het. Die beleid bied 'n raamwerk vir die Regering se aanspreeklikheid om 'n omvattende pakket van gehaltedienste van vroeë kinderontwikkeling te bied, wat oral beskikbaar sal wees in genoegsame hoeveelhede en naby genoeg sal wees sodat alle kinders gelyke geleenthede kan kry om van die dienste gebruik te maak.

Die beleid stel ook ’n aantal nuwe dienste bekend om gapings in die omvang van beskikbare dienste te vul, veral wat betref die eerste 1 000 dae van 'n kind se lewe.

Die Kabinet het ook die vestiging van 'n interministeriële komitee (IMC) aangekondig wat 'n samehangende en gekoördineerde benadering sal verseker. Dit sal onder voorsitterskap van die minister van maatskaplike ontwikkeling geskied.

1.5 Die Kabinet keur die vrystelling van die konsepverslag goed oor die Verenigde Nasies se eerste periodieke verslag van die land oor die Regte van Persone met Gestremdhede, vir openbare kommentaar vir 'n tydperk van 20 dae. Die verslag dek die tydperk April 2012 tot Maart 2013.

1.6 Die Kabinet keur dit goed dat Suid-Afrika deelneem aan die Internasionale Kaartjaar in 2015 en 2016 deur geleenthede op nasionale vlak te reël om kaartbewustheid en -geletterdheid in Suid-Afrika te verhoog.  Kaarte help om probleme en moontlikhede te verstaan, soos die voorsiening van behuising, die bewaring van natuurlike hulpbronne, risikobestuur en die fasilitering van tydige en omvattende vervoerinfrastruktuur. Begrip van geo-ruimtelike inligting help met die beplanning en besluitneming van ontwikkeling in Suid-Afrika.

2. Sleutelkabinetsbesluite

2.1 Die Kabinet keur die Voorskrif oor die implementering van bevoegdheidsassesserings vir lede van die Senior Bestuursdiens (SBD), uitgereik ingevolge Hoofstuk 4, deel II (d) en Hoofstuk 4, deel VI van die Staatsdiensregulasies, 2001, goed.

Die gewysigde voorskrif bevorder die onafhanklike identifisering van SBD-lede se ontwikkelingsgapings, voer die gebruik van tegniese oefeninge in en gee leiding oor hoe departemente die bevoegdheidsassesseringresultate kan gebruik in oorleg met alle ander prosesse van werwing en keuring.

2.2 Die Kabinet keur die aanbieding van die Nasionale Imbizo-Fokusweek vanaf 7 tot 12 April 2015 goed onder die tema "Saam beweeg ons Suid-Afrika vorentoe".

Tydens die week sal profiele van huishoudings opgestel word deur deur-tot-deur-besoeke. Daar sal ook rondleidings of projekbesoeke wees asook gesprekke met belanghebbers en die gemeenskap, asook samewerking met die sakesektor en gemeenskapsmedia. Die week bied skoolhoofde ’n kans om direk met Suid-Afrikaners kontak te maak, na die kwessies van gemeenskappe te luister en prakties die vordering van regeringsprogramme te monitor.

3 Wetsontwerpe

3.1 Die Kabinet keur die publikasie van die Konsepwet op die Beskerming, Bevordering, Ontwikkeling en Bestuur van Inheemse Kennisstelsels in die Staatskoerant asook 'n openbare konsultasieproses goed. Die primêre doel van die wetsontwerp is om die beskerming van inheemse kennis en die herstel en erkenning van inheemse kennis, wat verband hou met en besit word deur inheemse en plaaslike gemeenskappe in Suid-Afrika, te fasiliteer.  Dit fasiliteer die regstelling van regte en voordele waarvan inheemse en plaaslike gemeenskappe ontneem is.

3.2  Die Kabinet keur die Wysigingswetsontwerp op die Beheer van Vuurwapens, 2015 vir publikasie in die Staatskoerant vir openbare kommentaar goed. Die wetsontwerp wysig die Wet op die Beheer van Vuurwapens, 2000, en kom in reaksie op die visie van die Nasionale Ontwikkelingsplan om die statutêre en regulatoriese raamwerk wat vuurwapens beheer, te verbeter. Beheer van vuurwapens is 'n belangrike aspek van die Regering se benadering tot die bekamping van misdaad.

4 Kabinet se standpunt oor aktuele kwessies

4.1 Die Kabinet doen ’n beroep op gemeenskappe en georganiseerde strukture om met die Regering saam te werk, onder die leierskap van die Ministerie van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, om die uitdagings rakende Malamulele in Limpopo die hoof te bied.  Kabinet veroordeel die ontwrigting van onderrig deur sommige groepe as 'n manier om hul griewe te opper. Dit beroof kinders van hul reg op onderwys en die reg om vir hul graad 12 aanvullende eksamen te registreer. Die vestiging van 'n munisipaliteit in Malamulele moet ingevolge die wet geskied soos deur die Afbakeningsraad bepaal.

4.2 Die Kabinet veroordeel die aanvalle op buitelandse burgers as ’n misdaad en benadruk dat wetstoepassingsagentskappe nie sal huiwer om op te tree teen diegene wat sodanige geweld aanblaas nie. Geen mate van ekonomiese swaarkry en ontevredenheid kan sodanige misdadige gedrag regverdig nie. Suid-Afrika is 'n ondertekenaar van die Genève-potokol op vlugtelinge en is daartoe verbind om alle vreemdelinge in die land te beskerm. As ondertekenaar van die protokol, en as 'n land wat menseregte koester, sal ons die basiese regte van elke mens binne ons grense beskerm, insluitend buitelandse burgers.

4.3 Die Kabinet keur die tertafellegging goed van die verdrag oor die BRICS-kontingent-reserwereëling en ooreenkoms oor die nuwe ontwikkelingsbank. Die Kontingentreserwe-reëling kom in reaksie op korttermyndruk op die betalingsbalans. Dit sal ook as voorsorgmaatreël dien om te help om BRICS-lande te help om probleme met likiditeit op  kort termyn die hoof te bied, onderlinge ondersteuning te bied en die internasionale finansiële veiligheidsnet te verbeter.

4.4 Die Kabinet neem kennis van die oordraging van die voorsitterskap van die Suid-Afrikaanse komponent van die BRICS-sakeraad van mnr Patrice Motsepe na mnr. Brian Molefe. Mnr Mostepe was die eerste voorsitter van die Suid-Afrikaanse komponent en die BRICS-sakeraad. Tydens sy ampstermyn het mnr Motsepe daarin geslaag om hierdie belangrike liggaam as 'n integrale deel van die BRICS-samestelling te vestig en het met onderskeiding as voorsitter gedien. Die Kabinet bedank mnr. Motsepe vir sy diens en wens mnr. Molefe alle sterkte terwyl hy hierdie belangrike taak oorneem.

4.5 Die Kabinet loof die Nasionale Krieketspan vir hul prestasie tydens die Krieketwêreldbeker en wens hulle sterkte toe met hulle toernooi in Australië en Nieu-Seeland.

4.6 Die Kabinet wens die fluitspeler Wouter Kellerman geluk met die Grammy-toekenning vir die beste New Age-album wat hy onlangs ontvang het. Vir sy album Winds of Samsara het mnr Kellerman met die Indiese komponis Ricky Kej saamgewerk, wat vir hulle die Grammy besorg het.

4.7 Die Kabinet spreek sy dank uit aan alle kragverbruikers dat hulle gereageer het op die beroep om minder krag te gebruik. Die proses om die uitdagings van kragvoorsiening die hoof te bied, geniet tans die hoogste prioriteit. Die strategiekomitee, oftewel war room, wat adjunkpresident Cyril Ramaphosa in Desember 2014 gestig het, gaan die implementering van die vyfpuntplan versnel om die kragvoorsieningsituasie om te keer.

4.8 Die Kabinet sluit hom by president Zuma aan en spreek sy meegevoel uit aan die familie en vriende van die Afrikaanse literêre reus professor André P Brink. Hy sal onthou word as een van die belangrikste Afrikaanse skrywers wat sy literêre talent gebruik het om hom teen apartheid uit te spreek.

5 Komende gebeure

5.1 Die Kabinet benadruk die beroep deur president Jacob Zuma op alle partye in Lesotho om só op te tree dat hulle 'n klimaat skep wat bevorderlik vir verkiesings wat vreedsaam, deursigtig, geloofwaardig, vry en regverdig is, en die wil van die mense weerspieël.

Die Kabinet spreek ook sy vertroue uit in die voortgesette fasilitering van die SAOG-waarnemingsending na Lesotho onder leiding van adjunkpresident Ramaphosa.  As deel van die SAOG-troika-staatshoofde gaan Suid-Afrika die leiding neem en deel wees van die SAOG-verkiesingswaarnemingsending na die Koninkryk van Lesotho vir die verkiesing op 28 Februarie 2015.

5.2 Die opperbevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, President Jacob Zuma, sal op 21 Februarie 2015, in Potchefstroom, Noordwes, die belangrikste diensdoende beampte by die gewapendemagtedag-vieringe wees met die tema: "'n Professionele en Bekwame Weermag vir die Mense van Suid-Afrika".  Gewapendemagtedag word jaarliks gevier ter ere van die manne en vroue in uniform wat die nasie hier en in die buiteland onbaatsugtig dien.

5.3 Die Kabinet moedig alle werkgewers aan wat voldoen aan die Wet op Diensbillikheid om in te skryf vir die Diensbillikheidstoekennings 2015 voor die sluitingsdatum van 13 Maart 2015. Die geleentheid word aangebied deur die Kommissie vir Gelyke Indiensneming en verleen erkenning aan werkgewers wat strategieë in werking gestel het wat billike indiensneming en diversiteit verseker en alle onbillike, diskriminerende praktyke uitroei.

5.4 Die minister van toerisme, Derek Hanekom, sal die openingsrede by Meetings Africa lewer, wat by Sandton Konferensiesentrum vanaf 23 tot 25 Februarie 2015 sal plaasvind met die tema: "Saam bevorder ons Afrika". Dit is die hoofhandelskou van die Suid-Afrika se Nasionale Konferensieburo en bring uitstallers en voornemende internasionale kliënte bymekaar.

5.5 Die Kabinet keur Suid-Afrika se aanbieding van die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) goed. Dit sal van 3 tot 5 Junie 2015 by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS) plaasvind. Die tema is: "Toe en Nou: Nuwe denke oor die toekoms van Afrika”. WEF-Afrika is ’n streeksfokusde ekonomiese forum wat die geleentheid vir plaaslike en streeksondernemings en beleggers bied om moontlike vennootskappe met regerings te ondersoek.

Die WEF-Afrika sal Suid-Afrika 'n bykomende geleentheid gee om aktief betrokke te raak en Afrika-leiers, internasionale en plaaslike besighede aanspoor om in die streek te belê en groei in Suid-Afrika en die streek te integreer.

6 Aanstellings

Die Kabinet keur die volgende aanstellings goed onderhewig aan verifikasie van kwalifikasies en die uitklarings.

6.1 Uitbreiding van die kontrak vir drie jaar van dr Mphathi Filemon Mjwara as direkteur-generaal: Departement van Wetenskap en Tegnologie.

6.2 Mnr Pule Godfrey Selepe as die direkteur-generaal van die Departement van Vervoer.

6.3 Ambassadeur Nonceba Nancy Losi-Tutu as adjunkdirekteur-generaal: Protokol DIRCO

6.4 Raad vir Finansiële Verslagdoeningstandaarde:
a) Mnr Suresh Kana (Voorsitter, heraanstelling)
b) Me Christine Ramon (heraanstelling)
c) Mnr Johan Brink (heraanstelling)
d) Mnr Garth Coppin (heraanstelling)
e) Mnr Bruce Mackenzie (heraanstelling)
f) Mnr Khaya Dludla (heraanstelling)
g) Mnr Dumisani Manana (heraanstelling)
h) Me Dawn Earp (heraanstelling)
i) Me Naidene Ford-Hoon (heraanstelling)
j) Me Kim Bromfield (heraanstelling)
k) Adv Rory Wayne Voller
l) Me Matshepo Faith More
m) Me Anuradha Sing, en
n) Me Tania Wimberley.

6.5 Mnr Coceko Bambihlelo Johan Pakade as uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust.

Navrae:  Waarnemende kabinetwoordvoerder Phumla Williams op 083 501 0139.

Share this page

Similar categories to explore