Verklaring oor die Kabinetvergardering van 19 November 2014

Implementering van die belangrikste Regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van Operasie Phakisa 2: Die Program vir die Verbetering van Ideale Klinieke, Realisering en Instandhouding. Dit volg op Operation Phakisa 1 wat gefokus het op die ontsluiting van die ekonomiese potensiaal van Suid-Afrika se oseane. Operasie Phakisa 2 poog om die gehalte van sorg in 3 500 primêre gesondheidsorggeriewe te verbeter, bestaande uit staatsklinieke en gemeenskapsgesondheidsentrums. Die verwagte uitkomste behels die transformasie van bestaande klinieke en gemeenskapsgesondheidsentrums in sentrums van uitnemendheid, vir gebruik deur alle Suid-Afrikaners, danksy verbeterde gehalte van dienste.

1.2. Die Kabinet wens die wenners van die Batho Pele-uitnemendheidstoekennings, wat op 14 November 2014 uitgedeel is, geluk. Hierdie toekennings vestig professionaliteit en erken uitnemendheid in die Staatsdiens.

1.3. Die Kabinet neem kennis dat die Minister van Sport en Ontspanning, mnr. Fikile Mbalula die 2014 Suid-Afrikaanse Sport-toekennings op 30 November 2014 by die Sandton Konferensiesentrum sal aanbied. Die Kabinet moedig sportgeesdriftiges aan om deel van die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings wees deur vir die Sportster van die Jaar te stem. Inligting is beskikbaar op www.sasportsawards.com.

1.4. Die Kabinet wens ons nasionale sportspanne Bafana Bafana, die Springbokke en die Proteas geluk met hul prestasies die afgelope naweek en dat hulle die land trots gemaak het. Die benoeming van mnr. AB de Villiers as die Internasionale Krieketraad se Eendagspeler van die Jaar nadat hy 7 000 eendaglopies behaal het, is prysenswaardig.

1.5. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die A Re Yeng-snelbusdiens in Tshwane, wat op Maandag, 17 November 2014 begin het.

Die A Re Yeng, soos ander snelbusdienste oor die land, maak deel uit van ’n strategiese openbarevervoernetwerk wat die lewens van pendelaars sal verbeter deur hulle vinnige, veilige, bekostigbare en gerieflike stedelike mobiliteit te gee. Die bou van hierdie dienste is deel van die Regering se infrastruktuurprogram, wat wêreldklas-infrastruktuur in Suid-Afrika gaan ontwikkel en werkgeleenthede gaan skep.  

2. Sleutelkabinetsbesluite

2.1 Die Kabinet het die implementering van 'n omvattende program goedgekeur om nakoming van bestaande beleid oor plaaslike verkryging te verseker. Dit sluit in beleidshersiening om die Wet op die Raamwerk vir Voorkeurverkrygingsbeleid te verbeter, die uitbreiding van die program vir mededingende verskafferontwikkeling aan alle strategiese maatskappye in staatsbesit, asook die bevordering van departementele regulasies (veral die mynbou-handves) om plaaslike verkryging te verseker. Dit is 'n kragtige hulpmiddel vir industrialisering wat mededingendheid van die nywerheidsektor sal verbeter. Dit sal op sy beurt die ontwikkeling van nuwe nasionale industriële en tegnologiese vermoëns verbeter, uitvoere verhoog en groter swart ekonomiese bemagtiging bewerkstellig.

2.2 Die Kabinet is in kennis gestel van die Beraad vir Presidensiële Plaaslike Regering, en het die Program vir die Terugkeer na Basiese Beginsels vir Plaaslike Regering goedgekeur, wat geskoei is op die bou van 'n responsiewe, deernisvolle en verantwoordelike plaaslikeregeringsektor. Die Program vir die Terugkeer na Basiese Beginsels sal fokus op beplanning en werksaamhede van alle munisipaliteite vir doeltreffende lewering van basiese munisipale dienste en gereelde kommunikasie met inwoners. Die doel is om van bedoeling tot aksie oor te gaan. Verbeterings in die prestasie van munisipaliteite sal die lewensomstandighede van alle Suid-Afrikaners wat afhanklik is van goed funksionerende munisipaliteite verbeter sodat hulle waardige lewens kan lei. Sedert 1994 is plaaslike regering 'n primêre bron vir dienslewering. Hoewel daar ongekende vooruitgang in die lewering van water, elektrisiteit, sanitasie en vullisverwydering op plaaslike vlak was, moet ons mense ons na mense luister waar dienslewering misluk. Dit vereis dat ons wegbeweeg van die ou diensleweringsbeleid wat van bo na onder strek, na 'n kultuur van Batho Pele en dien van gemeenskappe. ’n Stelsel van verslagdoening oor en verantwoording is noodsaaklik vir so ’n stelsel.

2.3 Die Kabinet het die indiening van Suid-Afrika se Tweejaarlikse Vorderingsverslag oor die Vermindering van Uitlaatgasse, insluitend die Finale 2000-2010 Nasionale Kweekhuisgasinventaris, aan die Verenigde Nasies se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering (UNFCCC) goedgekeur. Dit bied ’n oorsig en ontleding van Suid-Afrika se KHG-vrystellingsprofiel en kernbestuurders van verandering in emissies. Dit beklemtoon ook die omvattende maatreëls om klimaatsverandering die hoof te bied as deel van die oorgang na 'n laekoolstofekonomie. Dit sluit in die definiëring van gewenste uitkomste vir die vermindering van uitlaatgasse, bevordering van innovering en belegging in hernubare energie, aanmoediging van energiedoeltreffendheid, die skepping van 'n nasionale stelsel vir kweekhuisgasdata-insameling en ander instrumente soos koolstofbelasting. Dit vorm ook deel van Suid-Afrika se internasionale verslagdoeningsverpligting onder die Verenigde Nasies se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering (UNFCCC).

2.4 Die Kabinet het die vestiging van 'n interdepartementele taakspan onder die Groepering vir Internasionale Samewerking, Handel en Veiligheid goedgekeur om toesig te hou oor die implementering van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) se Ooreenkoms vir die bevordering van Handel.

Suid-Afrika het onderneem om met ander Afrika-lande saam te werk om te verseker dat die implementering van die handelsooreenkoms nie vereis dat Afrika-lande verpligtinge aanvaar wat hulle nie kan nakom nie en hulle dan aan regsaanspreeklikheid blootstel nie. Suid-Afrika is verbind tot die multilaterale onderhandelinge onder die Doha-ronde, maar is daartoe verbind om ’n uitkoms te soek wat ons genoeg ruimte laat om beleid deur te voer wat nywerheidsontwikkeling en indiensneming bevorder – die hart van die doelwitte uiteengesit in die Nasionale Ontwikkelingsplan.

Suid-Afrika het die belangrikheid van volle multilaterale en inklusiewe benaderings ten opsigte van WHO-sake bekragtig as die beste manier om gebalanseerde, regverdige uitkomste vir alle lede te beding.

2.5 Die Kabinet is ingelig oor die Drieparty-vryehandelsooreenkoms (DVHO) van die Gemeenskaplike Mark van Oos- en Suider-Afrika, die Oos-Afrikaanse Gemeenskap en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en het Suid-Afrika se beleid oor DVHO bevestig. Die driepartyinisiatief is ’n kern-Afrikageleide projek wat daarop gemik is om die ekonomie van skaal te bevorder, om mededingendheid, diversifikasie, die bevordering van die plaaslike waardekettings, intraplaaslike handel en belegging, en oorgrensinfrastruktuur moontlik te maak.

Suid-Afrika onderhandel namens die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SADU) wat as een entiteit onderhandel. Die Driepartylande het ’n gekombineerde bruto binnelandse produk van VSA$1,2 biljoen en ’n gesamentlike bevolking van ongeveer 626 miljoen, wat net meer as die helfte van die totale bevolking en ekonomie van Afrika is. Streeksintegrasie om groter markte te skep vir versnelde en volhoubare groei in Afrika is 'n beslissende stap om die koloniale erfenis van klein, gefragmenteerde markte in Afrika te oorkom.

2.6 Die Kabinet is ingelig oor die voorstelle van die G20-Brisbane-spitsberaad vir ’n meer intensiewe, indringende en doeltreffende benadering tot die regulering van die finansiële sektor. Dit dra by tot voortgesette finansiële stabiliteit en veerkragtigheid van die internasionale en plaaslike finansiële stelsels. Na aanleiding van die 2008 wêreldwye finansiële krisis, het G20-leiers hulle verbind tot fundamentele hervorming van die internasionale finansiële stelsel. Hul doelwitte was om die onderliggende redes wat tot die krisis gelei het, te soek en veiliger, meer doeltreffende bronne van finansiering te skep om die behoeftes van die ekonomie te dien.

Oor die afgelope vyf jaar het die G20 op die hantering van die skuld gefokus wat die krisis veroorsaak het, deur internasionale standaarde te verbeter meer doeltreffende finansiële instellings en meer kragte markte te skep. Die Brisbane-beraad het die eerste fase van finansiële hervorming afgesluit. Die Raad vir Finansiële Stabiliteit sal voortaan sy fokus aanpas om nuwe en voortdurend veranderende risiko's en kwesbaarhede te temper. Suid-Afrika sal steeds deelneem aan die Raad vir Finansiële Stabiliteit en gepaardgaande regulatoriese forums, wat 'n stelsel geskoei op wedersydse vertroue en samewerking sal bevorder. Dit is noodsaaklik vir 'n oop globale finansiële stelsel wat die G20 se doelwit van sterk, volhoubare en gebalanseerde groei kan bereik.

2.7. Die Kabinet het kennis geneem en die resolusies van die President se Koördineringsraad-vergadering (PKR) gehou op 18 Maart 2014 vir implementering. Kernbesluite sluit in:

(a) aanpassing en implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) om vordering deur die plaaslikeregeringsektor met die implementering van die NOP te weerspieël. Nasionale staatsdepartemente, die Nasionale Beplanningskommissie en die provinsies om seker te maak dat munisipale planne in lyn is met die NOP en ander nasionale planne; 

(b) die oorweging van kapasiteitbehoeftes van die drie vlakke van regering om munisipaliteite te help om hul mandaat uit te voer; 

(c) dringendheid in die bereiking van transformerende plaaslike regering en die oorweging van hindernisse wat verband hou met die bereiking van billike en doeltreffende munisipale bestuur, die oorkoming van uitdagings van ruimtelike patrone van dorpe en stede wat uit die apartheid-era dateer.

2.8. Die Kabinet is ingelig oor die voorbereidings vir die 2016 munisipale verkiesings en het 'n interministeriële en tegniese taakspan vir munisipale verkiesings goedgekeur. Die Kabinet het ook die voorlegging vir wysiging van die Wet op Plaaslike Regering: Wet op Munisipale Strukture, 1998 (Wet No. 117 van 1998) aan die Parlement goedgekeur. Dit sal die President (voorheen die Minister): Munisipale Strukture, 1998 (Wet 117 van 1998) in staat stel om ’n datum vir munisipale verkiesings aan te kondig. Die 2016 munisipale verkiesings sal die vierde verkiesings van ons demokrasie wees. Die gevorderde voorbereidings sal verseker dat die verkiesings is net so suksesvol soos die voriges sal wees.

3. Wetsontwerpe

3.1 Die Kabinet het die indiening van die Strafregwysigingswet (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede), 2014 aan die Parlement goedgekeur. Die Wetsontwerp behandel twee afsonderlike uitsprake van die Konstitusionele Hof met die wysiging van die toepaslike dele van die Strafregwysigingswet (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede), 2007, om die huidige grondwetlike ongeldigheid reg te stel. Die hoofdoel van Artikels 15 en 16 van die wet, naamlik om kwesbare kinders teen seksuele uitbuiting deur volwassenes te beskerm, bly onaangeraak.

Die voorgestelde wysiging van Artikels 50 en 51 van die wet het ten doel om uitvoering te gee aan die beginsel dat die beste belang van kinders vooropgestel word in alle aangeleenthede wat hulle raak.

3.2 Die Kabinet het die bekendstelling van die Wysigingswetsontwerp op Regsake, 2014, in die Parlement goedgekeur. Die wetsontwerp wysig talle wette, geadministreer deur die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, om aandag te gee aan praktiese en tegniese uitdagings, met die doel om doeltreffendheid en aanspreeklikheid te verbeter.

3.3 Die Kabinet keur die bekendstelling van die Wysigingswetsontwerp op Banke, 2014, in die Parlement goed. Die wysiging aan die Bankwet, 1990 (Wet 94 van 1990) verbeter kuratorskap van banke om die finansiële sektor veiliger te maak en deposante te beskerm. Ter ondersteuning van die bankstelsel, is dit noodsaaklik dat regulering en toesig op internasionale standaarde en beste praktyke gegrond is.

Die wetsontwerp beoog om die magte van die bankkurator van ’n bank onder kuratorskap uit te brei terwyl deur:

(a) 'n alternatief vir die herstel van 'n bank binne die bestaande korporatiewe entiteit te bied
(b) die oordrag van alle of dele van 'n bank se belange na 'n opvolgerentiteit te fasiliteer op grond van 'n oordrag ingevolge Artikel 54 van die Bankwet, en
(c) die kurator by te staan om bogenoemde stappe te implementeer.

4. Kabinet se standpunt oor aktuele kwessies

4.1. Kabinet loof die samewerking tussen die Regering, die gemeenskap en die akademie ter bevordering van jeugonderwys en -bemagtiging, wat gelei het tot die bekendstelling van Thusanani Stigting deur President Jacob Zuma. Die jeuggeleide, niewinsgewende organisasie sal die gaping in opvoedkundige inligting tussen landelike hoërskoolleerders en hul stedelike eweknieë oorbrug, wat op sy beurt akademiese prestasie sal verbeter. Twee beurse, die Pixley ka Isaka Seme-beursfonds en die Johnstone Mfanafuthi Makhatini Internasionale beursfonds, sal binnekort gestig word.

4.2. Kabinet is ontroer deur die aankoms van die oorskot van die Suid-Afrikaners wat gesterf het ná die ineenstorting van ’n gebou in Lagos, Nigerië, op 12 September 2014.

Die Kabinet loof die pogings van betrokkenes by die repatriasieproses en waardeer die samewerking van amptenare in Nigerië in die bespoediging van die proses, gegewe sy kompleksiteit.
 

Die Regering ondersteun steeds die families wat deur die dood van hul geliefdes in Nigerië geraak word en hoop dat hulle berusting sal vind. Ons sal ons pogings verskerp om die oorskot van 11 Suid-Afrikaners wat nog in Nigerië geïdentifiseer moet word, so spoedig moontlik terug te bring. Die Kabinet spreek sy dank uit teenoor alle Suid-Afrikaners wat as ’n nasie verenig was in hierdie moeilike tyd.

Die Kabinet spreek sy meegevoel aan die familie van wyle Dennis Furhri uit, wat oorlede is tydens repatriasie van die oorskot van Suid-Afrikaners toe 'n kerk in Nigerië op 12 September 2014 ineengestort het. Suid-Afrika het ’n toegewyde staatsamptenaar verloor.

4.3. Die Kabinet verwelkom die aanstelling van die onafhanklike paneel om beweerde kriminele dade deur amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te ondersoek en dring daarop aan dat die publiek die paneel met hul ondersoek help.

Hierdie ontwikkelinge moenie afbreuk maak aan die bewese rekord van die SAID as ’n modelstaatsdepartement wat verseker dat die land die finansies kry wat hy nodig het om sy ekonomiese en maatskaplike verpligtinge na te kom nie. 

4.4. Die Kabinet verwelkom die vergadering tussen die raad van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, die Minister van Openbare Ondernemings, Lynne Brown, en die Minister van Finansies, Nhlanhla Nene. Die doel van die vergadering was om ’n plan vir die lugdiens op te stel wat bewese resultate sal lewer sodat die lugdiens weer goed en winsgewend bestuur word.

4.5. Die Kabinet beaam die Nasionale Tesourie se reaksie op Moody’s se besluit om Suid-Afrika se kredietgradering te hersien na "Baa2 / P-2" van "Baa1' / P-2", van stabiel na negatief. Dit kom in 'n tyd van stadige ekonomiese groei.

Die Kabinet beaam die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk vir reeds inisiatiewe vir groei, soos die groot projekte in die spoorweë, energie en hawens om belegging te bevorder. Oor die medium termyn sal ook gefokus word op die versnelling van strukturele veranderinge wat tans aan die gang is en waarvan die invloed ekonomiese groei sal ondersteun.

4.6. Die Kabinet was geskok en teleurgesteld oor die onlangse oproerige gedrag van sommige lede van die Nasionale Vergadering. Sulke optrede gaan teen die etos van ons stryd vir vryheid en doen afbreuk aan dit wat ons in ons 20 jaar van vryheid bereik het.

Die integriteit van die Parlement as 'n demokratiese instelling moet deur alle lede beskerm en bewaar word. Die oproerige gedrag erodeer aanspreeklikheid vir alle Suid-Afrikaners en doen afbreuk aan die rol van die Parlement om die waardes en beginsels in die Grondwet te handhaaf.

5. Komende gebeure

5.1. President Jacob Zuma sal op 20 November 2014 die Botswana-Suid-Afrikaanse binasionale kommissie (BNK) in Gaborone, Botswana, bywoon. Die BNK bly 'n belangrike platform om bilaterale betrekkinge en samewerking te bevorder.

5.2. President Zuma sal die Palestynse president Mahmoud Abbas van 26 tot 27 November 2014 in Tshwane ontvang. Die besoek sal voortbou op die sterk, broederlike betrekkinge tussen Suid-Afrika en Palestina, wat in die bevrydingstryd gevorm is. Die bilaterale ontmoeting sal fokus op die verhouding tussen Suid-Afrika en Palestina, die Midde-Ooste en hoe Suid-Afrika die Palestynse stryd vir vryheid en selfbeskikking kan ondersteun.

5.3. Adjunkpresident Cyril Ramaphosa gaan die tweede Turkye-beraad in Malabo, Ekwatoriaal-Guinee op 21 November 2014 bywoon. Die doel van die beraad is om die vordering deur die Gesamentlike Implementeringsplan van die Afrika-Turkye-vennootskap 2010-2014 te bepaal. Die vennootskap dra by tot Afrika se ontwikkeling binne die doelwitte van die Afrika-unie se Agenda 2063.

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa sal op 1 Desember 2014, as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad (SANVR), Wêreldvigsdag in Virginia, Lejweleputswa, in die Vrystaat inlui onder die tema: "Sero stigma en diskriminasie". Suid-Afrika het groot vordering gemaak ter bereiking van die doelwitte van die Nasionale Strategiese Plan vir MIV en vigs, TB en SOI 2012 – 2016. Ongelukkig kortwiek stigma en diskriminasie steeds die suksesvolle implementering van hierdie strategie en maak dat minder mense van MIV-voorkomende dienste gebruik maak.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle gemeenskappe om diegene wat met MIV en vigs lewe te ondersteun, te versorg en te aanvaar. Suid-Afrikaners word aangemoedig om veilige seks te beoefen, om hulle minstens een keer per jaar vir MIV te laat toets sodat hulle ingeligte besluite oor voorkomende maatreëls, behandeling, sorg en ondersteuning kan neem, en vir mans en seuns om van besnydingsdienste gebruik te maak.

5.4. Die Departement van Omgewingsake gaan aan die 20ste sitting van die Konferensie van die Partye (KVP 20) en die 10de sessie van die Konferensie van Partye deelneem, wat dien as die vergadering van partye tot die Kyoto-protokol (CPM10), wat van 1 tot 12 Desember 2014 in Lima, Peru, gehou sal word. Die Lima Konferensie oor Klimaatverandering is noodsaaklik vir die suksesvolle afhandeling van die onderhandeling vir die 2015-ooreenkoms. Suid-Afrika se goedgekeurde standpunt by die onderhandelinge is in lyn met die land se nasionale belang en die Nasionale Ontwikkelingsplan.

5.5. Die Departement van Kuns en Kultuur en die Departement van Sport en Ontspanning sal op 22 November 2014 die tweede Nelson Mandela-sport-en-kultuurdag by die Uniegebou, Tshwane, aanbied, onder die tema: “Verenig: Een mens, een nasie, een viering”.

Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners aan om deel te neem aan die gemeenskaplike sport- en kultuuraktiwiteite aangesien dit sal help om Suid-Afrikaners te verenig. Dit is ook 'n geleentheid om die waardes van voormalige President Nelson Mandela te waardeer en oor maniere te besin waarop ons op sy nalatenskap kan voortbou.

5.6. Die Kabinet het kennis geneem van die herdenking van die 16 Dae van Aktivisme – die 16de herdenking van die veldtog – van 25 November tot 10 Desember. Vanjaar se tema is “Tel my in. Saam beweeg ons 'n niegewelddadige Suid-Afrika vorentoe”.[AL1]  Met die tema in gedagte wil die 2014-veldtog bewustheid kweek vir die beskerming van vroue en kinders. Die tema fokus ook meer op die mobilisering van mans as vennote in die veldtog teen die stryd.

6. Aanstellings

Die Kabinet het die volgende aanstellings gedoen:

6.1. Mnr Thobile Maxin Lamati as die direkteur-generaal van die Departement van Arbeid.

6.2. Me Nthabiseng Bernadette Makhatha as adjunk-direkteur-generaal: Metodologie en Standaarde by Statistieke Suid-Afrika.

6.3. Nie-uitvoerende lede van die raad van die Padverkeeroortredingsagentskap.

(a)   Me. Nomini Elizabeth Rapoo (heraanstelling en voorsitter)
(b)   Me. Nomusa Zethu Qunta
(c)   Prof. Tebogo Job Mokgoro
(d)   Mnr. Bryan Shuan Chaplog
(e)   Mnr. Benedictus Matinise; en
(f)     Adv. Xolisile Khanyile.

6.4. Mnr Lefadi Lucas Makibinyane as uitvoerende hoof van Amatola Water.

6.5. Direksie van die Suid-Afrikaanse Spesiale Risikoversekeringsvereniging (SASRIA) Beperk.

(a) Mnr. Mohamed Adam Samie (heraanstelling en voorsitter)
(b) Mnr. Ranti Mothapo (ondervoorsitter), en
(c) Mnr. Stephanus Hermanus Schoeman.

Navrae: Mnr Donald Liphoko

Skakel: 082 901 0766

 

Share this page

Similar categories to explore