Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 9 Oktober 2024

A.  Sake in die omgewing

1.  Ekonomie
1.1.  Suid-Afrika: ʼn Beleggingsbestemming van keuse
1.1.1.  Die Kabinet het besin oor die positiewe beleggersgemoedstemming voortspruitend uit President Cyril Ramaphosa and Adjunkpresident Paul Mashatile se werksbesoek aan onderskeidelik New York in die VSA en London in die Verenigde Koninkryk (VK). 
1.1.2.  Die President se program, aangrensend tot die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering (UNGA), het verskeie geleenthede – onder meer sy toespraak aan die New Yorkse aandelebeurs, wat volgens markkapitalisasie die grootste aandelebeurs ter wêreld is – ingesluit om Suid-Afrika as ʼn beleggingsbestemming van keuse te bevorder. 
1.1.3.  Die Adjunkpresident se beleggingsveldtog na die VK en Ierland het ook ʼn toespraak aan die Londense aandelebeurs (LSE) ingesluit oor die behoefte om hul beleggingsvoetspoor in Suid-Afrika uit te brei. Die LSE was vanaf 2023 die Europese aandelebeurs met die hoogste waarde. 
1.1.4.  President Ramaphosa en Adjunkpresident Mashatile, sowel as die afvaardiging wat hulle vergesel het, het die regering van nasionale eenheid se prioriteite bespreek. Hulle het die topprioriteit, naamlik om inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping te bewerkstellig, beklemtoon, asook die gepaardgaande inisiatiewe wat geneem word om hierdie prioriteite te bereik. Daarbenewens het hulle die werk bespreek wat deur die program van strukturele hervormings gedoen word word om gunstige toestande vir belegging te skep. Hierdie program word deur Operasie Vulindlela gekoördineer, wat deur die Presidensie en die Nasionale Tesourie gedryf word.

1.2.  Regerings-besigheidvennootskap: fase 2
1.2.1.  Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van fase 2 van die samewerking tussen die regering en die sakesektor wat daarop gemik is om prioriteitsingrypings in uitgesoekte fokusareas te implementeer. Dit is daarop gemik om inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping in die land te versnel deur middel van meer beleggings en vinniger implementering van hervorming, om sodoende ook nasionale gemoedstemming te verbeter. 
1.2.2.  Meer as 130 hoof-uitvoerende beamptes (HUB’s) van groot Suid-Afrikaanse besighede het hulpbronne gemobiliseer, insluitend kundigheid om die elektrisiteitsbeurtkragkrisis, wat tans iets van die verlede is, aan te pak en die implementering van die logistieke en vragpadkaart, visum-hervorming en die stryd teen misdaad en korrupsie tydens fase 1 te ondersteun.

1.3.  Visum-hervormings gepubliseer 
1.3.1.  Die Kabinet verwelkom Suid-Afrika se nuwe visumregime as ʼn belangrike stap om internasionale vaardighede en beleggings te lok, toerisme te laat groei en werk te skep.
1.3.2.  Die minister van binnelandse sake, dr. Leon Schreiber, het die hervormings, wat nog ʼn sukses onder leiding van Operasie Vulindlela is, in die Staatskoerant gepubliseer.

1.4.  Afdwing van arbeidswette
1.4.1.  Die Kabinet het hul waardering uitgespreek vir die verskerpte gesamentlike inspeksiepogings onder leiding van die departement van indiensneming en arbeid (DEL), wat daarop gerig is om te verseker dat werkgewers aan werwingsvereistes voldoen. 
1.4.2.  Sedert die aanvang van die sewende administrasie is DEL-boetes ter waarde van meer as R10 miljoen uitgereik aan werkgewers in die gasvryheidsbedryf wat nie arbeidswetgewing nakom nie deur voort te gaan om ongedokumenteerde immigrante in diens te neem. Hierdie inspeksies is soortgelyk aan dié wat in die vragmotorbedryf gedoen word om te verseker dat werkgewers die bepalings van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 1997 (Wet 75 van 1997) nakom.
1.4.3.  Die inspeksies het ook gevalle van nie-nakoming van arbeidswette aan die lig gebring, insluitend onderbetaling van lone, onwettige aftrekkings en onvoldoende gesondheids- en veiligheidsmaatreëls by die werkplek.

1.5.  Tydelike werkgewer-werknemer-verligtingskema (TERS)
1.5.1.  Die Kabinet verwelkom die verhoging in die begroting vir die TERS in die huidige finansiële jaar van R400 miljoen tot R2,4 miljard. 
1.5.2.  Die verhoging is deel van die regering se proaktiewe reaksieplan om werksgeleenthede te help beskerm deur maatskappye by te staan wat hul weens moeilike ekonomiese toestande in finansiële nood bevind en sodoende afleggings tot die minimum te beperk.

2.  Stryd teen misdaad en korrupsie 
2.1.  Misdaad
2.1.1.  Die Kabinet het die moorde op 18 mense in Lusikisiki en ses gemeenskapspatrolleerders in Qumbu in die Oos-Kaap in massaskietvoorvalle ten sterkste veroordeel. 
2.1.2.  Die Kabinet verwelkom die vinnige ontplooiing van ʼn span gespesialiseerde wetstoepassers om hierdie skietvoorvalle te ondersoek. Hul werk het reeds vrugte afgewerp, met die hofverskyning van een verdagte wat direk verbind is met die moord op 18 mense in Lusikisiki.
2.1.3.  Die Kabinet verwelkom die suksesse van intelligensie-geleide operasies wat in die Verulam- en High-Flats-areas in KwaZulu-Natal uitgevoer is. In die Verulam-operasie het die polisie ʼn meesterbrein en een van die mees gesogte verdagtes in die meerderheid van transitorooftogte in KwaZulu-Natal gekonfronteer. Die verdagte is in ʼn skietgeveg dood nadat hy op die polisie losgebrand het. Voorts is ʼn verdere twee verdagtes in die moord op sewe mense in die High-Flats-voorval in ʼn skietgeveg met die polisie doodgeskiet.
2.1.4.  Die Kabinet is bemoedig deur die voortgesette sukses van Operasie Shanela. Die afgelope week is meer as 10 000 verdagtes in hegtenis geneem vir verskeie oortredings soos moord, verkragting, die besit van onwettige vuurwapens, rooftogte by besighede en dwelmmuile in besit van kokaïen by die land se hawens van binnekoms.
2.1.5.  Die Kabinet het verder ʼn gesamentlike operasie in Limpopo geprys wat gelei het tot die ontdekking van ʼn dwelmlaboratorium in Lebowakgomo, waar daar op dwelms ter waarde van ongeveer R4 miljoen beslag gelê is en drie verdagtes in hegtenis geneem is.

2.2.  Stryd teen korrupsie
2.2.1.  Die Kabinet verwelkom die inhegtenisneming van ses direkteure van ingenieursfirmas wat beskuldig word van tenderbedrog ten bedrae van R400 miljoen rakende swart ekonomiese bemagtiging by Eskom en Sasol.

2.3.  Geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV)
2.3.1.  Die mylpaalvonnis van die veroordeelde reeksverkragter Nkosinathi Phakathi tot 42 lewenslange tronkstraftermyne deur die Gautengse hooggeregshof, stuur ʼn sterk waarskuwing uit aan oortreders van GGGV dat ons nasie nie afgedreig sal word deur hul gruwelike dade nie. 
2.3.2.  Die Kabinet doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om enige oortreders van GGGV-misdade of enige vorm van geweld teen kwesbare persone – kinders, ouer persone of persone met ʼn gestremdheid – by ʼn plaaslike polisiestasie aan te meld of die tolvrye Stop Misdaad-nommer: 086 00 10111 te skakel.

3.  Provinsiale bestuur 
3.1.  Om die verbintenis na te kom wat tydens die President se begrotingstoespraak gemaak is om nou saam met provinsiale en plaaslike regerings te werk om diensleweringsuitdagings aan te pak, sal President Ramaphosa ʼn afvaardiging van kabinetslede lei om met premiers en lede van die provinsiale uitvoerende komitees in gesprek te tree.
3.2.  Die eerste besoek sal op Vrydag, 1 November 2024 in Limpopo plaasvind, gevolg deur ʼn besoek aan KwaZulu-Natal op Donderdag, 7 November 2024.

4.  Maatskaplike beskerming 
4.1.  Nadelige weersomstandighede 
4.1.1.  Die Kabinet het Suid-Afrikaners aangemoedig om waaksaam te bly en om gehoor te gee aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens se weerwaarskuwings. Die land ervaar steeds gure weerstoestande wat wissel van ongewone sneeuval, oorstromings, reënstorms, skadelike rukwinde en hittegolwe weens die gevolge van klimaatsverandering. Die weerwaarskuwings word oor alle mediaplatforms gekommunikeer, insluitend gemeenskapsradiostasies.
4.1.2.  Die Kabinet sal binnekort ʼn hersiene geïntegreerde rampbestuur- en reaksiestrategie ontvang wat rampverligting en -reaksie sal dek, insluitend befondsing vir rampherstel.

4.2.  Eerste Suid-Afrikaanse nasionale stedelike forum oor die globale habitat en stedelike agenda
4.2.1.  Die departemente van menslike nedersettings asook samewerkende regering en tradisionele sake, die Suid-Afrikaanse netwerk van stede en die VN se menslike nedersettingsprogram (VN-Habitat) het die eerste Suid-Afrikaanse nasionale stedelike forum oor globale habitat en stedelike agenda, sowel as die Suid-Afrikaanse stedelike beleid, aangebied. Die forum, wat drie dae geduur het, het belangrike maatskaplike vennote byeengebring om uitdagings en geleenthede wat vinnige verstedeliking in Suid-Afrika meebring, te bespreek.
4.2.2.  Die forum het beklemtoon dat dit strategies noodsaaklik is om die vinnige pas van verstedeliking te bestuur in die konteks van reaksies op ander megatendense soos klimaatsverandering, gevorderde mobiliteit en tegnologie.

4.3.  Repatriasie van die oorskot van Suid-Afrika se vryheidsvegters 
4.3.1.  Die Kabinet verwelkom die terugkoms van die oorskot van ons vryheidsvegters wat in Zimbabwe en Zambië begrawe is terwyl hulle in ballingskap was. Die terugkeer van hul oorskot na ʼn vrye en demokratiese Suid-Afrika is ʼn verwesenliking van die aanhef van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1996, wat ons aansê om die verdeeldheid van die verlede te genees en ʼn samelewing te vestig wat gegrond is op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en fundamentele menseregte.
4.3.2.  Hierdie inisiatief is deel van die Exile Repatriation-projek, wat daarop gemik is om die land en gesinne in staat te stel om die herinneringe aan diegene wat vir vryheid en geregtigheid geveg het, te eer. Dit is ook ʼn geleentheid vir die regering om die nalatenskap van diegene wat hul lewens vir die land se vryheid opgeoffer het, in ere te herstel.
4.3.3.  Suid-Afrika bly verskuldig aan die internasionale solidariteit van al die lande wat skuiling, ondersteuning en laaste rusplekke aan ons vryheidsvegters verskaf het.

4.4.  Sport
4.4.1.  Die Kabinet doen ʼn beroep op Suid-Afrikaners om hul steun te wys vir Mamelodi Sundowns en Bafana Bafana-doelwagter, Ronwen Williams, wat as een van die 10 beste doelwagters ter wêreld by die Ballon d’Or-toekennings vir die Yachine-trofee genomineer is, deur hul stemme uit te bring by https://www.lequipe.fr/en/special/selection/ballon-dor-2024/section/the….
4.4.2.  Williams is die eerste Suid-Afrikaanse speler wat genomineer is vir die Yachine-trofee by die Ballon d’Or-toekennings. Die 68ste toekenningseremonie vind op 28 Oktober 2024 plaas. Tot dan kan ons vir Williams in beide Engels en Frans stem.

5.  Internasionale sake
5.1.  UNGA-resolusie oor Israel/Palestina
5.1.1.  Die Kabinet verwelkom die VN se historiese resolusie wat Israel se besetting van Oos-Jerusalem, die Wesoewer en Gasa onwettig verklaar het en opdrag gegee het vir die volledige onttrekking van Israeliese setlaars en soldate.
5.1.2.  Hierdie resolusie is nie net betekenisvol vir Suid-Afrika se regsaak by die internasionale geregshof nie, maar ontwikkelde lande soos Spanje, België en Japan het ook by die meerderheid lande van die globale Suide aangesluit om die resolusie te ondersteun.

5.2.  Werksbesoek aan die Koninkryk van Lesotho 
5.2.1.  Die Kabinet het kennis geneem van President Ramaphosa se werksbesoek aan die Koninkryk van Lesotho op Vrydag, 4 Oktober 2024, op uitnodiging van Sy Majesteit Koning Letsie III. President Ramaphosa het Lesotho se 58ste Onafhanklikheidsdag en die tweehonderdjaarherdenking van die stigting van die Basoeto-nasie bygewoon; hy het die Basoeto-nasie se ryk erfenis tydens die vieringe geprys.

5.3.  Voortslepende konflik in Soedan
5.3.1.  Die Kabinet het kennis geneem van die toenemende konflik in Soedan en ʼn beroep op alle Soedanese gedoen om die riglyne van die AU en die interregeringsowerheid vir ontwikkeling na te kom om die konflik te beëindig. Suid-Afrika is gereed om sy kundigheid en samewerking aan te bied om partye, rolspelers en ander toepaslike belanghebbendes by te staan om blywende vrede in Soedan te bewerkstellig.

B.  Opdaterings aan die Kabinet

1.  Verslag oor die voltooiing van leefstyloudits deur lede van die senior bestuursdiens (SBD) 
1.1.  Die Kabinet is ingelig oor die vordering met die voltooiing van e-openbaarmakings deur lede van die SBD en het die vordering wat volle nakoming deur 147 uit ʼn somtotaal van 160 nasionale en provinsiale departemente ingesluit het, geprys. Die Kabinet het ook kennis geneem van ondersoeke wat gedoen word met betrekking tot lede wat nie aan die vereistes voldoen nie.
1.2.  Die Kabinet het die departement van staatsdiens en administrasie versoek om te oorweeg om die e-openbaarmakingstelsel na munisipaliteite uit te brei.

2.  Verslag oor die vestiging van ʼn sentrale register vir dissipline regoor die drie regeringsfere 
2.1.  Die Kabinet het die jongste inligting oor vordering met die vestiging van ʼn sentrale register vir dissipline regoor die drie regeringsfere heen ontvang. Die Kabinet ondersteun voorts ʼn voorstel om die sentrale register vir dissipline met die regering se PERSAL-stelsel en die plaaslike regering se betaalstaatstelsels te koppel, om sodoende insig te verkry in die werwing van geïmpliseerde, bedankte of afgedankte amptenare.

C.  Kabinetsbesluite

Wetsontwerpe 
1.  Konsepwetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Nasionale Petroleummaatskappy (SANPM) 
1.1.  Die Kabinet het die voorlegging van die SANPM-wetsontwerp van 2024 aan die Parlement goedgekeur. Die wetsontwerp maak voorsiening vir die stigting van ʼn staatsbeheerde maatskappy, wat uitvoering gee aan die Kabinet se besluit van 10 Junie 2020 om PetroSA, die Suid-Afrikaanse gasontwikkelingsmaatskappy (iGas) en die strategiese brandstoffondsvereniging saam te smelt. 
1.2.  Plaaslike raffineringskapasiteit in Suid-Afrika is meerendeels in die besit van internasionale oliemaatskappye (IOK’s). Dit hou ʼn risiko in vir die sekuriteit van vloeibare brandstowwe deurdat die IOK’s besig is om hul raffinaderye te sluit. Die voorgestelde wetsontwerp posisioneer die SANPM as die nasionale kampvegter wat olie- en gaseksplorasieregte en aandele sal besit by wyse van regte wat in privaat besit is, deur middel van die staatsondersteuningsmetode.

2.  Konsepwetsontwerp op petroleumprodukte van 2024 
2.1.  Die Kabinet het die publikasie van die konsepwetsontwerp op petroleumprodukte vir openbare kommentaar goedgekeur. Die doel van die wetsontwerp is om die veiligheid van petroleumprodukte en die ordelike ontwikkeling van die petroleumproduktesektor te verseker. Dit sluit die bekendstelling van moderne, skoner produkte en hernubare komponente in, wat die energiemengsel sal verbeter. 
2.2.  Die wetsontwerp sal bydra tot die regering se prioriteite oor ekonomiese transformasie en werkskepping in die bestuur van die Suid-Afrikaanse petroleumproduktesektor en aandag te gee aan verskeie bekommernisse wat geopper is met betrekking tot die administrasie van die Wet op Petroleumprodukte, 1977 (Wet 120 van 1977).

3.  Konsepwysigingswetsontwerp op myngesondheid en -veiligheid 
3.1.  Die Kabinet het die voorlegging van die konsepwysigingswetsontwerp op myngesondheid en -veiligheid aan die Parlement goedgekeur. 
3.2.  Die konsepwetsontwerp het ten doel om die Wet op Myngesondheid en -Veiligheid, 1996 (Wet 29 van 1996) te wysig deur administratiewe prosesse te stroomlyn, afdwingingsbepalings te versterk, oortredings en strawwe strenger te behandel en om sekere definisies te wysig. 
3.3.  Die konsepwetsontwerp sal onder meer waarborg dat gesondheid- en veiligheidstandaarde doeltreffend in myne geïmplementeer, afgedwing en verbeter word en sodoende sterftes, beserings en beroepsiektes verminder.

D.  Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike sekuriteitsklaring.

1.  Mnr. Nkululeko Lwazi Mahlangu as adjunkdirekteur-generaal: bestuur, risiko en nakoming in die departement van openbare werke en infrastruktuur. 
2.  Aanstelling van lede tot die raad van die Limpopo-Olifants-opvangsagentskap: 
(a)  Adv. Thato Goodness Moeeng (voorsitter);
(b)  Mnr. Nandha Govender (adjunk-voorsitter);
(c)  Mnr. Francois Joubert;
(d)  Me. Phathutshedzo Mudzanani;
(e)  Dr. Vhahangwele Bologo Akwinekomi;
(f)  Mnr. Nkhangweni Lawrence Rambau;
(g)  Mnr. Dikgole Timothy Seroka;
(h)  Adv. Reinette Mary Rosey; en 
(i)  Adv. Elanie Broekman.

E.  Toekomstige gebeure

1.  Vervoermaand
1.1.  Die 19e herdenking van Vervoermaand in Oktober word vanjaar onder die tema “Doen meer saam” gevier. Die aktiwiteite is daarop gerig om openbare infrastruktuur en voortgesette verbeterings in openbare dienste deur samewerking met alle belanghebbendes ten toon te stel. 
1.2.  Sedert die stigting van die Transnet “War Room ” is beduidende vordering ten opsigte van vragvervoer gemaak, insluitend die verbetering van vragspoor- en hawebedrywighede.
1.3.  Belangrike padbouprojekte sal ook beklemtoon word, insluitend die N2/N3-opgraderings in KwaZulu-Natal en die opgraderings aan doe Moloto-pad, wat Gauteng, Mpumalanga en Limpopo verbind.
1.4.  Die passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) het ook aansienlike vordering gemaak met die heropening van prioriteitslyne, insluitend die Germiston-Katlehong-Kwesine-lyn, wat tans in die toetsfase is, en Kaapstad se sentrale lyn, wat na verwagting teen die einde van die finansiële jaar voltooi sal word.

2.  Maatskaplike Ontwikkelingsmaand

2.1.  Oktober is ook Maatskaplike Ontwikkelingsmaand en die regering poog om bewustheid van die departement van maatskaplike ontwikkeling se portefeulje van dienste te skep.
2.2.  Deur die loop van die maand sal gemeenskapsbesoeke aan verskeie wyke regoor die land onderneem word om gemeenskappe aan maatskaplike dienste en opheffingsprogramme te koppel en gemeenskapsdialoog-, mobiliserings- en voorspraakprogramme te vestig om die lewensgehalte van gemeenskappe wat geraak word, te verbeter.

3.  Jaarlikse nasionale mondelinge geskiedeniskonferensie 
3.1.  Suid-Afrika bied die 2024 jaarlikse nasionale mondelinge geskiedeniskonferensie van 7 tot 11 Oktober 2024 in Ulundi, KwaZulu-Natal aan.
3.2.    By vanjaar se konferensie sal spesiale aandag gegee word aan dié aspekte van die nasie se geheue wat nie in die nasionale en provinsiale argief aangeteken en bewaar word nie.

4.  Geestesgesondheid-bewustheidsmaand 
4.1.  Oktober is Geestesgesondheid-bewustheidsmaand, wat daarop gemik is om die publiek op te voed oor geestesgesondheid en hulle aan te moedig om na hul geestesgesondheid om te sien. Ons moedig Suid-Afrikaners dus aan om hulp en ondersteuning te kry, indien nodig, en om diegene wat aan geestesongesteldhede ly, te respekteer.

5.  Brasilië, Rusland, Indië, Sjina en Suid-Afrika (BRICS) –spitsberaad 
5.1.  President Ramaphosa sal van 22 tot 24 Oktober die 2024 BRICS-spitsberaad in Kazan, Rusland bywoon.
5.2.  Tydens die 16de spitsberaad, onder die tema: “Versterk Multilaterisme vir Regverdige Globale Ontwikkeling en Sekuriteit”, sal kwessies oor handel, globale politieke aangeleenthede en die bevordering van samewerking tussen lidlande bespreek word.

6.  Mediavryheidsdag
6.1.  Op Saterdag, 19 Oktober 2024 vier Suid-Afrika Mediavryheidsdag wat die gebeure van 19 Oktober 1977 (Swart Woensdag) herdenk, waartydens 19 organisasies van die swart bewustheidsbeweging en twee koerante verban is. ʼn Demokratiese Suid-Afrika het beduidende vordering gemaak om mediavryheid en vryheid van uitdrukking te bevorder. Die reg op vryheid van spraak is verskans in Suid-Afrika se Grondwet.

7.  Distriksontwikkelingsmodel (DDM) presidensiële imbizo
7.1.  President Ramaphosa sal op Vrydag, 8 November 2024 ʼn DDM presidensiële imbizo in Umgababa in die eThekwini metropolitaanse munisipaliteit in KwaZulu-Natal lei.
7.2.  Die Kabinet doen ʼn beroep op inwoners van Umgababa en omliggende gebiede om by die imbizo aan te sluit en hul openbare verteenwoordigers te betrek by oplossings vir uitdagings in hul gemeenskappe, en om maniere te vind om dienslewering te verbeter

8.  Nasionale seniorsertifikaat (NSS) -eksamens 
8.1.  Die Kabinet wens die klas van 2024 sterkte toe met die aanvang van hul matriekeksamen op 21 Oktober 2024 en doen ʼn beroep op ouers en voogde om leerders gedurende hierdie kritieke tydperk in hul akademiese reis te ondersteun. 
8.2.  Die NSS bly van onskatbare waarde en bied talle opwindende opsies vir ons jongmense.

G.  Boodskappe

1.  Gelukwense
Die Kabinet dra hul gelukwense oor aan:
•  Die Suid-Afrikaanse regspan by die internasionale geregshof met die toekenning van die 4e Steve Biko/Frantz Fanon-prys vir Sielkundige Bevryding. Die toekenning is vir hul werk om die konvensie oor die voorkoming en straf van die misdaad van volksmoord in Gasa te handhaaf. Die lede van die span is: John Dugard SC; Adila Hassim SC; Tembeka Ngcukaitobi SC; Blinne Ní Ghrálaigh KC, Max du Plessis SC, Vaughan Lowe KC, Tshidiso Ramogale, Sarah Pudifin-Jones en Lerato Zikalala.
•  Professors Salim Abdool Karim en Quarraisha Abdool, vir die gesogte Lasker-toekenning vir staatsdiens ter erkenning van hul baanbrekende lewensreddende MIV-navorsing.
•  Relebogile Maloma, ʼn dapper graad 3-leerder wat chemoterapie ondergaan en haar onderwyseres, me. Nqobile Mbatha, wat gesamentlik die minister se spesiale #MyTeacher-toekenning ontvang het vir hul inspirerende storie. Ondanks haar stryd teen kanker het Relebogile met me. Mbatha se onwrikbare ondersteuning daarin geslaag om tred te hou met haar skoolwerk terwyl sy in die hospitaal was. Me. Mbatha het verseker dat Relebogile nie agter raak nie, wat haar gehelp het om met haar lesse en klasmaats in verbinding te bly. Deur hierdie buitengewone poging het Relebogile nie net tred gehou nie, maar ook uitgeblink en in die top 10 van haar klas geëindig – alles vanuit haar hospitaalbed. Hul verhaal is ʼn kragtige bewys van die transformerende impak van deernisvolle en toegewyde onderrig, en die veerkragtigheid van die menslike gees.
•  Me. Melisa Carol du Plessis (uitnemendheid in graad R-onderrig); 
•  Me. Bonisiwe Happiness Maphumulo (uitnemendheid in laerskoolonderrig); 
•  Me. Nthabiseng Mavis Mateba (uitnemendheid in die onderrig van Lewensvaardighede, grade 1-6);
•  Me. Koliwe Doris Mbatha (uitnemendheid in laerskoolleierskap);
•  Mnr. Thapelo Jacob Mthimkhulu (uitnemendheid in sekondêre skool onderrig);
•  Me. Rose Martha De Jonker (uitnemendheid in sekondêre skool leierskap); 
•  Mnr. Tiisetso Daniel Chaka (uitnemendheid in met spesiale behoeftesonderrrig); 
•  Mnr. Mbongiseni Cyril Dlamini (uitnemendheid in spesiale behoeftesleierskap); 
•  Mnr. Itumeleng Esau Jr Komane (uitnemendheid in Tegnologie-verbeterde-onderrig en leer); 
•  Mnr. Maserole Mojela (uitnemendheid in die onderrig van Natuurwetenskappe); 
•  Me. Motlatso Lucia Maake (uitnemendheid in die onderrig van Fisiese Wetenskappe); 
•  Mnr. Ethon Alexander (uitnemendheid in Wiskunde-onderrig, (AOO); 
•  Mnr. Sithembiso Eugene Mahlalela (uitnemendheid in Wiskunde-onderrig – VOO); 
•  Mnr. Derek Swart (Kader Asmal Lifetime Achievement-toekenning); en
•  Me. Ntombozuko Mkizwana (nasionale beste onderwyser-toekenning). 
•  Die Springbokke, ons nasionale rugbyspan, met hul dawerende oorwinning teen Argentinië en hul prestasie as die 2024-rugbykampioene. 
•  Suid-Afrika se onder-20 mans nasionale sokkerspan, algemeen bekend as Amajita, vir hul prestasie as die ‘Total Energies’ CAF O-20 Afrikabeker-kampioene, en omdat hulle vir die 2025 O-20 Afrikabeker-kompetisie gekwalifiseer het. 
•  Motorsport Suid-Afrika, vir die versekering van ʼn nuwe Wêreld Rally-Raid-kampioenskap (W2RC)-byeenkoms, wat nou ook in 2025 in Suid-Afrika sal plaasvind.
•  Zoalize Jansen van Rensburg, met haar bekroning as Mej. Wêreld Suid-Afrika 2024. Zoalize is 18 jaar oud en sal die land by die 72ste Mej. Wêreld-kompetisie in Februarie 2025 verteenwoordig.
•  Die wenners in die verskillende kategorieë van die eerste SAIGR Suid-Afrikaner in Australië-toekennings. Manana Johnson het die HUB-toekennning ontvang vir haar verpersoonliking van uiteenlopende eienskappe op die gebiede van gemeenskapsbou, Ubuntu, sosiale impak en jeugbetrokkenheid.

2.  Medelye
Die Kabinet het hul meegevoel betuig met die regering en mense van die Demokratiese Republiek van die Kongo ná ʼn boottragedie op Saterdag, 5 Oktober 2024, wat verskeie lewens geëis het.

Die Kabinet het hul meegevoel oorgedra aan die naasbestaandes en vriende van : 
•  Pastoor Ray McCauley, stigter van die Rhema Bybelkerk en voormalige medevoorsitter van die nasionale intergeloofsraad van Suid-Afrika.
•  Voormalige regter Willem Heath, wat van 1997 tot 2001 voorsitter van die Heath-kommissie van ondersoek na korrupsie, bedrog en wanadministrasie in die Oos-Kaap gedien het, en ook van 1997 tot 2001 aan die hoof van die spesiale ondersoekeenheid was.
•  Gospel-ikoon Solomon Molokoane, algemeen bekend onder die verhoognaam ‘Solly Moholo’, wat ons inspireer, genees en vermaak het deur sy musiek. 
•  Siphiwe ‘General GTZ’ Sibisi, wat die laaste oorlewende lid van die Kwaito-groep Chiskop was; ʼn groep wat ʼn fundamentele rol gespeel het in die ontwikkeling van Kwaito-musiek in die land.

3.  Openbare aankondiging
a.  Die Kabinet doen ʼn beroep op almal in ons land om water spaarsamig te gebruik; Suid-Afrika is en bly ʼn waterskaars land en ons ervaar tans watertekorte. Ons doen veral ʼn beroep op die inwoners van Gauteng en KwaZulu-Natal, waar vlak 1 en vlak 2 waterbeperkings toegepas is, om by die voorgeskrewe beperkings te hou.
b.  Water is lewe; gebruik dit met verantwoordelikheid.

Uigereik deur: Die Regering se Kommunikasie en Inligtingsdiens (GCIS)
Navrae: Me. Nomonde Mnukwa – Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485
 

Share this page

Similar categories to explore