Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 6 Mei 2026

A. Kwessies in die omgewing

1. Gesondheid

1.1. Suid-Afrika demonstreer steeds wêreldklas mediese en wetenskaplike kundigheid deur die hantering van die gevalle van die Hanta-virus

1.1.1. Die Kabinet het die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes geprys vir hul kundigheidsvlakke in die diagnose van die twee gevalle van die Hanta-virus binne 24 uur na die pasiënte se opname by ʼn hospitaal in Gauteng.

1.1.2. Die Kabinet is ingelig oor die omstandighede wat gelei het tot die opname van die pasiënte met die Hanta-virus, waar hulle voorheen op die MV Hondius-vaartuig was.

1.1.3. Die Kabinet het voorts ook die departement van gesondheid geprys vir die spoed en doeltreffendheid waarmee hulle kontaksporing gedoen het vir mense wat in fisiese kontak met die Hanta-virus-pasiënte was voordat die diagnose gemaak is.

1.1.4. Die Kabinet wil graag enige vrese verdryf oor nog ʼn uitbreek van die virus na aanleiding van hoë syfers rotte in sommige munispaliteite – wetenskaplikes het ons verseker dat die Hanta-virus nie in enige rotte in Suid-Afrika of op die Afrika-kontinent voorkom nie.

1.2. Die R1.5 miljard finansieringspakket vir Biovac om Suid-Afrika se entstofvervaardigingskapasiteit te verhoog

1.2.1. Die Kabinet verwelkom die R1.5 miljard finansieringspakket tussen Biovac en die European Investment Bank (EIB)-groep om Afrika se eerste eind-tot-eind, multi-entstofvervaardigingsaanleg te vestig.

1.2.2 Die aanleg, wat geskeduleer is om teen 2028 voltooi te wees, sal mondelingse cholera-inentings vervaardig en later uitbrei om inentings teen polio, longontsteking en breinvliesontsteking in te sluit. Sodra die aanleg ten volle operasioneel is, sal die aanleg ʼn produksiekapasiteit van tot 40 miljoen dosisse jaarliks hê, wat die veerkragtigheid en voorsieningskettingsekerheid van Afrika se gesondheidsorg noemenswaardig sal versterk.

1.2.3 Die projek sal na verwagting meer as 340 geskoolde werksgeleenthede en ongeveer 7 000 indirekte werksgeleenthede skep en terselfdertyd die oordrag van tegnologie, innovering en langtermyngesondheidsveerkragtighied regoor die kontinent bevorder.

1.3. Bek-en-klouseer

1.3.1. Die Kabinet verwelkom die vordering in die inentingsprogram, met 2.59 miljoen beeste wat tot hede teen bek-en-klouseer (BKS) ingeënt is.

1.3.2. Die Kabinet neem kennis van die aankoms van twee miljoen dosisse BKS-entstof vanuit Turkye as deel van die eerste deel van ʼn bestelling van ses miljoen dosisse. Die departement van landbou versprei die entstowwe volgens ʼn geteikende, wetenskapsgebaseerde toewysingsmodel wat ingelig word deur diere-risiko- en bevolkingsdata.

1.3.3. ʼn Verdere vyf miljoen dosisse is deur Onderstepoort se afdeling vir biologiese produkte vanuit Argentinië bestel.

2. Ekonomie

2.1. Die regering se ingryping om die hoë koste van brandstof tot ʼn minimum te beperk, duur voort

2.1.1. Die Kabinet gaan voort om in te gryp om die hoë koste van brandstof na aanleiding van die voortgesette oorlog teen Iran deur die VSA/Israel, wat ook die Golfstreek raak.

2.1.2. Die Kabinet het hul ondersteuning uitgespreek vir die R17.2 miljard brandstofheffingstoelae oor ʼn tydperk van drie maande, van April tot Junie 2026, soos aangekondig deur die minister van finansies. Die interministeriële taakspan gaan voort om ander ingrypings onder oë te neem om die impak van die globale brandstof- en kunsmistekort op Suid-Afrikaners tot ʼn minimum te beperk.

2.1.3. Die Kabinet het die minister van minerale en petroleumhulpbronne, ondersteun deur die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, aangesê om ʼn SAOK-antwoord te formuleer en koördineer om die sekerheid van brandstof en kunsmis en die verskaffing daarvan in die streek te verseker.

3. Internasionale betrekkinge

3.1. Mylpaalprestasie onder fase 2 van die Lesotho-Hoogland-waterprojek – Senqu-brug

3.1.1. Die bekendstelling van die Senqu-brug in Mokhotlong in die Koninkryk van Lesotho verteenwoordig ʼn mylpaalprestasie onder fase 2 van die Lesotho-Hoogland-waterprojek. Die nuwe brug sal ononderbroke toegang tot Mokhotlong, die Sani-pas en die omliggende areas bied.

3.1.2. Die projek het noemenswaardig bygedra tot die opheffing van Lesotho se ekonomie, met Suid-Afrika wat honderde kilometers paaie gebou het om toegang tot afgeleë damme te verbeter en tantième betalings van nagenoeg R3,8 miljard jaarliks tot die land se fiskus sal bydra as deel van die Lesotho-Hoogland-waterprojek.

3.1.3. Die Lesotho-Hoogland-waterprojek verseker dat Gauteng toegang het tot grootmaat water via die Vaalrivierstelsel, terwyl Lesotho hidrokrag opwek en die voorsiening van drinkbare water, besproeïng, visserye en die bevordering van toerisme ondersteun.

3.2. Werksbesoek aan Spanje bevestig ʼn gewaardeerde vennoot

3.2.1. Die Kabinet verwelkom die suksesvolle werksbesoek aan Spanje deur President Cyril Ramaphosa, wat gelei het tot verbintenisse van meer as €2.1 miljard aan Suid-Afrika se regverdige energie-oorgang in die areas van groen waterstof, elektriese voertuie, hernubare energie en netwerkinfrastruktuur.

3.2.2. In 2025 het die totale handelswaarde tussen Suid-Afrika en Spanje ongeveer €2.8 miljard bereik, met uitvoere na Spanje wat gestyg het tot €1.3 miljard. Daarbenewens dryf meer as 150 Spaanse maatskappye tans handel in Suid-Afrika en ondersteun daardeur meer as 20 000 werke regoor sektore wat wissel van hernubare energie en infrastruktuur tot finansiële dienste, tegnologie en toerisme.

4. Veiligheid en sekuriteit

4.1 Immigrasie uitdagings

4.1.1 Die Kabinet veroordeel die virale verspreiding van valse videos en foto’s wat na bewering aanvalle teen buitelandse burgers in Suid-Afrika uitbeeld. Hierdie valse videos en foto’s is nie net vals nie, maar is ook daarop gemik om Suid-Afrika se goeie internasionale reputasie te ondermyn asook Suid-Afrika se strewe na ʼn beter Afrika-agenda te ondermyn.

4.1.2 Suid-Afrikaners is binne regte om protes aan te teken teen die toenemende uitdaging van onwettige immigrasie, maar die geweld wat in die verlede met sulke protesaksies gepaardgegaan het, is nie aanvaarbaar nie en wetgewingstoepassingsagentskappe sal met die opstokers van sulke geweld afreken.

4.1.3 Die Kabinet veroordeel die opportunistiese pogings om die opregte kommernisse van Suid-Afrikaners oor hoë werkloosheidsyfers en beperkte ekonomiese geleenthede te kaap deur Suid-Afrikaners te mobiliseer om die land te destabiliseer, insluitend die mobilisering van aanvalle op buitelandse burgers en stammobilisering.

4.1.4 Die Kabinet beklemtoon weereens dat daar deurlopend daaraan gewerk word om die probleem van onwettige immigrasie aan te spreek, insluitend die versterking van grensbestuur deur die werk van die BMA, die versnelling van deportasies, die aanspreek van kriminaliteit in die émigré-gemeenskap en die beskerming van werksgeleenthede vir Suid-Afrikaners.

4.1.5 Rakende geleenthede vir Suid-Afrikaners, het die Kabinet die departement van indiensneming en arbeid aangesê om inspeksies van werksplekke te verskerp om nakoming van indiensnemingswetgewing te verseker regoor weerlose sektore soos onder meer die gasvryheidsektor, plase, vragmotorbestuurders en konstruksie.

4.1.6 Die Kabinet het voorts ook munisipaliteite aangesê om die toepassing van munisipale verordeninge te verseker, met prioritisering van handelsverordeninge. Suid-Afrikaners moet ook hul deel bring deur nie hul besigheidslisensies te onderverhuur nie.

4.1.7 Op beleidsvlak spreek die hersiene witskrif vir immigrasie die beperkinge in huidige immigrasiewetgewing aan deur bepalings soos die “eerste land van veiligheid”-beginsel, die skuif van vlugtelingontvangsentrums naaste aan die grens en klousules om die betrokke staatsdepartemente in staat te stel om sekere aambagte, beroepe en ondernemings slegs aan Suid-Afrikaners en vlugtelinge toe te wys.

A. Kabinetsbesluite

1. Hersiene witskrif op plaaslike regering 2026

1.1. Die Kabinet het die publikasie in die Staatskoerant van die hersiene witskrif op plaaslike regering vir openbare konsultering goedgekeur. Die hersiene witskrif op plaaslike regering is deel van die plaaslike regeringshervormings vir die herstel van plaaslike regerings om ʼn moderne, doelgeskikte en doeltreffende plaaslike regeringstelsel te skep wat daartoe in staat is om dienste volhoubaar te lewer.

1.2. Die hersiening van die witskrif is onderneem om te verseker dat die plaaslike regeringsbeleidsraamwerk reagerend bly tot huidige en veranderende ontwikkelings-, ekonomiese, ruimtelike en omgewingsrealiteite. Die prioriteitsfokusareas wat identifiseer is, is institusionele kultuur in munisipaliteite, politieke leierskap en verantwoordbaarheid, interregeringskoördinering, burgerlike betrokkenheid, finansiële en fiskale hervormings en tradisionele leierskap.

1.3. Die hersiene witskrif neem ʼn implementeringsbenadering in wat gefaseer en opeenvolgend is om ʼn samehangende en volhoubare oorgang in plaaslike regeringshervorming te verseker. Die konsepwitskrif neem in ag dat vorige hervormingspogings dikwels tydens die implementeringsfase gestruikel het, deels weens onvoldoende aandag aan volgordebepaling en oorgangsbestuur. As ʼn primêre hervormingsaksie stel die hersiene konsepwitskrif die vestiging van ʼn tydsgebonde plaaslike regeringsoorgangsbestuursliggaam voor.

2. Langtermynstrategie vir die evolusie van die verdedigingsmagte van die SANW

2.1. Die Kabinet het die langtermynstrategie en konsepbeplanning vir die evolusie van die verdedigingsmagte van die SANW asook die gepaardgaande strategiebeleidsdokumente goedgekeur.

2.2. Na dekades van beperkte befondsing, verouderende platforms en hulpbron-arm kapasiteitsbou het die SANW ʼn strategie vir die evolusie van hul verdedigingsmagte ontwikkel wat gestruktureer is volgens die mylpale uiteengesit in die “Reis na voortreflikheid”-plan.

2.3. Die strategie verbind die modernisering van verdedigingsmagte met nasionale ontwikkeling, streekstabiliteit en ekonomiese groei om ʼn nasionale verdedigingsmag te skep wat veerkragtig en toekomsgereed is en in staat is om beide plaaslike bedreigings (wat huidige uitdagings insluit) asook langtermynbedreigings die hoof te bied.

3. 70 jaar van vroue se stryd en bemagtiging: Indeks vir die sosio-ekonomiese bemagtiging van vroue

3.1. As deel van die verbintenis tot die betekenisvolle bemagtiging van vroue met die 70e viering van die Vrouemars van 1956, het die Kabinet die implementering van die indeks vir die sosio-ekonomiese bemagtiging van vroue goedgekeur as ʼn jaarlikse telkaart om die vordering in sosio-ekonomiese bemagtiging van vroue met die verloop van tyd te meet en dop te hou.

3.2. Die indeks spreek die afwesigheid van ʼn omvattende, gestandardiseerde maatstaf van vroue se sosio-ekonomiese bemagtiging en deelname aan besluitnemingstrukture in Suid-Afrika aan. In die maatskaplike sfeer sal die indeks fokus op gesondheid en onderwys; in die ekonomiese sfeer sal die indeks fokus op die arbeidsmark en hulpbronne; en in die besluitnemingsfeer sal die indeks fokus op besluitneming in die openbare sektor en in die private sektor.

3.3. Die basislyn van die indeks vir die sosio-ekonomiese bemagtiging van vroue dui op besluitneming in die openbare sektor as ʼn dimensie wat die hoogste punte behaal in terme van vroue-bemagtiging, terwyl die arbeidsmark en hulpbronne dimensie die laagste punte behaal. Die laagste aanwyserareas sluit in ondernemings onder vrouebesit, aandele van vroue-hoofuitvoerende beamptes van maatskappye wat op die JEB gelys is, toegang tot krediet en indiensneming in hoë-vaardigheidberoepe.

4. 70 jaar van vroue se stryd en bemagtiging: Sesde periodieke verslag oor die implementering van die konvensie vir die uitskakeling van alle vorme van diskriminasie teen vroue

4.1. Die Kabinet het Suid-Afrika se sesde periodieke verslag oor die konvensie vir die uitskakeling van alle vorme van diskriminasie teen vroue aanvaar.

4.2. Die verslag verskaf inligting oor die vordering wat deur Suid-Afrika gemaak is in die onderskraging van die grondwetlike, wetgewende beleid en institusionele raamwerk vir geslagsgelykheid, vroue-bemagtiging en noemenswaardige gelykheid. Hierdie vordering sluit in:

  • die implementering van die geslagsreaktiewe raamwerk vir beplanning, begroting, monitering, evaluering en ouditering,
  • die nasionale strategiese plan oor GGGV van 2019,
  • ekonomiese bemagtigingsinisiatiewe,
  • hoofstroming van geslagsgelykheid in die openbare sektor en verteenwoordiging van vroue in leierskap en besluitneming.

4.3 Ten spyte van noemenswaardige vordering, werk Suid-Afrika steeds aan hardnekkige strukturele en implementerinsuitdagings, insluitend hoë werkloosheid onder vroue, die plaag van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord, swak omskakeling van opvoedkundige winste tot arbeidsuitkomste en hoofstroming van geslagsgelykheid in die openbare sektor.

B. Opdaterings aan die Kabinet

1. Die herstel van plaaslike regering: Vorderingsverslag vir kwartaal 2 van die 2025/26 finansiële jaar oor die implementering van finansiële herstelplanne vir munisipaliteite onder nasionale ingryping

1.1 Die Kabinet is op datum gebring rakende die implementering van die finansiële herstelplanne vir die vier munisipaliteite wat onder nasionale ingryping geplaas is onder artikel 139(7) van die Grondwet, naamlik Lekwa, Enoch Mgijima en Ditsobotla plaaslike munisipaliteite, en die Mangaung-metropolitaanse munisipaliteit. Vordering in die implementering van die finansiële herstelplanne om ʼn omkeer in die finansiële en diensleweringsprestasie van hierdie munisipaliteite te verseker, was tot dusver somber, met die uitsondering van Ditsobotla.

1.2 Die Kabinet neem daarvan kennis dat die finansiële herstelplanne in die ander drie munisipaliteite gestagneer het in fase 1, wat binne 12 maande van die goedkeuring van die finansiële herstelplanne voltooi moes wees. Die vernaamste bekommernisse is die nie-implementering van aktiwiteite met finansiële impak, marginale verbetering in finansiële aanwysers en kengetalle, en ondoeltreffende kontroles op bestedingsaanwysers wat lei tot marginale verbetering in dienslewering.

1.3 Die Kabinet het die retensie van die vier munisipaliteite onder nasionale ingryping onder artikel 139(7) van die Grondwet, saamgelees met artikel 139(5)(a) van die Grondwet, goedgekeur. Die Kabinet het dit goedgekeur dat maatreëls ontwikkel word en in plek gestel word om munisipaliteite in finansiële nood te dwing om verspreidingsagentskapooreenkomste aan te gaan met entiteite soos Eskom om die verspreiding van elektrisiteit en die invordering van inkomste oor te neem.

2. Aanwysing van die voorgestelde Fetakgomo Tubatse spesiale ekonomiese sone in die Limpopo-provinsie

2.1 Die Kabinet is ingelig en op datum gebring oor, en ondersteun dan ook die voorneme van die minister van handel, nywerheid en mededinging om die voorgestelde Fetakgomo Tubatse spesiale ekonomiese sone (FTSEZ) as sulks aan te wys. Hierdie sone is in die Sekhukhune-distrik in Limpopo.

2.2 Die FTSEZ is ʼn strategiese komponent van die Limpopo-ontwikkelingsplan wat ten doel het om industrialisasie te bevorder, ekonomiese groei te stimuleer en werkskepping aan te spoor deur beleggings in mynwese, mineraalver deling, energie, landbou en die outomotiewe sektor. Die FTSEZ sal in drie fases implementeer word.

3. Potensiële geleenthede vir Suid-Afrika via die Afrika kontinentale vryehandelsgebied

3.1 Die Kabinet is ingelig oor die potensiële ekonomiese geleenthede vir Suid-Afrika in die res van die kontinent by wyse van die Afrika kontinentale vryehandelsgebied (AfCFTA). Die AfCFTA sal een van die wêreld se grootste enkele markte wees, met meer as 1.3 miljard mense en ʼn gekombineerde BBP van meer as US$3.4 triljoen.

3.2 Die omvattende AfCFTA-ooreenkoms bied strategiese geleenthede om ekonomiese potensiaal te ontsluit, uitvoermarkte uit te brei, nywerheidswaardekettings te verdiep, belegging te bevorder en volhoubare groei aan te dryf.

3.3 Sedert Suid-Afrika se bekendstelling van handel onder die AfCFTA voorkeurterme van Januarie 2024 tot Februarie 2026, het handel toegeneem tot R2.6 miljard, wat ʼn diverse reeks produkte soos myntoerusting, toebehore, voedselitems, kledingstukke, plastiek en elektriese masjinerie insluit.

4. Skoon watervoorsiening aan Hammanskraal

4.1 Die Kabinet het ʼn vorderingsverslag oor die Hammanskraal-skoonwaterprojek ontvang, wat gelei word deur Magalies Water, onder die vaandel van die departement van water en sanitasie en die Stad van Tshwane. Met die voltooïng van die projek sal drinkbare water verskaf word aan ongeveer 47 550 huishoudings, met ʼn beraamde 180 679 inwoners.

4.2 Die Kabinet neem kennis daarvan dat al vier modules van die deel van die projek, wat deur onder Magalies Water gelewer word, opgerig en getoets is wat die stelsel in staat sal stel om tot 50 ML behandelde water per dag te lewer.

4.3 Die minister van water en sanitasie sal later in die week die projek inspekteer en oorsig verseker oor die uitstaande werk van die Stad van Tshwane om volle toegang tot water aan die gemeenskappe van Hammanskraal te verseker.

4.4 Die departement het ook die Kabinet op datum gebring oor die vordering met die ontblokking van geblokte waterprojekte en die status van munisipale skuld aan waterrade, wat ʼn ernstige risiko inhou vir watersekuriteit en die finansiële lewensvatbaarheid van hierdie rade. Die gedetailleerde inligtingsessie oor hierdie kwessies sal na afloop van die WaterCom plaasvind.

5. Elektrisiteitsverskaffing steeds sekuur beveilig en ladingsvermindering is so te sê iets van die verlede

5.1 Die Kabinet verwelkom die winter-elektrisiteitsvooruitsigte wat deur Eskom aangebied is, wat aandui dat beurtkrag onwaarskynlik sal wees tussen April en Augustus – ʼn noemenswaardige keerpunt in ons nasie se energie-reis.

5.2 Die Kabinet verwelkom ook die vordering in die aanspreek van ladingsvermindering, met 352 968 kliënte wat nie meer onderworpe is aan ladingsvermindering tydens piektye nie. Ladingsvermindering is uitgeskakel in die Noord-Kaap en in die Wes-Kaap, met die volgende vyf provinsies waarin ladingsvermindering in 2026 uitgeskakel sal word en slegs Gauteng en KZN se ladingsverminderinguitdagings wat teen 2027 uitgeskakel sal word.

C. Wetsontwerpe

1. Wysigingswetsontwerp op die Kinderwet, 2026

1.1. Die Kabinet het die inhandiging van die 2026 wysigingswetsontwerp op die Kinderwet aan die Parlement goedgekeur.

1.2. Die wysigingswetsontwerp op die Kinderwet het te doel om die gefragmenteerde vroeë kinderontwikkeling (VKO)-programme en regulasies wat volgens hoofstuk 5 onder toesig van verskillende owerhede was, vaartbelyn te maak as ʼn gekonsolideerde VKO-regulasie onder die gewysigde hoofstuk 6 van die wysigingswetsontwerp, onder die uitsluitlike verantwoordelikheid van die departement van basiese onderwys. Die wysigingswetsontwerp stel voorts ʼn enkele registrasieproses vir VKO-sentrums bekend asook ʼn enkele stel norme en standaarde vir die VKO-program.

2. Konsep-kernenergiewysigingswetsontwerp, 2025

2.1. Die Kabinet het die publikasie van die konsep-kernenergiewysigingswetsontwerp van 2025 vir openbare beraadslaging goedgekeur.

2.2. Die konsepwysigingswetsontwerp wysig die Kernenergiewet van 1999, wat ʼn wetgewende raamwerk verskaf aan Suid-Afrika se deelname aan internasionale handel in kernmateriaal en -tegnologie.

2.3. Die wysigingswetsontwerp spreek die regulatoriese gapings na aanleiding van ontwikkelinge in die globale en plaaslike kernlandskap aan deur terminologie op datum te bring, die Wet te belyn met internasionale standaarde en die oorsig van kernmateriaal, -goedere en verwante aktiwiteite regoor die waardeketting te versterk.

3. Wysigingswetsontwerp op nasionale bouregulasies en bou-standaarde, 2026

3.1. Die Kabinet het die wysigingswetsontwerp op nasionale bouregulasies en bou-standaarde, 2026 vir openbare deelname goedgekeur. Die wysigingswetsontwerp het ten doel om eenvormigheid in wetgewing onder die jurisdiksie van munisipaliteite te bevorder en om veilige boupraktyke te verseker deur deeglike bouwetenskap, goeie werkmanskap en gehalte materiale.

3.2. Die wysigingswetsontwerp is ‘n antwoord op klagtes rakende uitdagings verwant aan teenstrydige toepassing en interpretasie van die huidige Wet.

D. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike sekuriteitsklarings.

  1. Mnr. Otsile Maseng as die hoofuitvoerende beampte (HUB) van die Nasionale Kredietreguleerder.
  2. Me. Linda Seroka as die HUB van die uitvoerkredietversekeringskorporasie van Suid-Afrika.
  3. Mnr. Marcus Selepe as die HUB van die Limpopo-Olifants opvangsbestuursagentskap.
  4. Aanstelling van die direkteure op die raad van Lepelle Northern Water

a. Dr. Ndweleni Fredirick Mphephu (voorsitter en heraanstelling);

b. Mnr. Motalane Dewet Monakedi (ondervoorsitter);

c. Me. Ayesha Hamad Laher;

d. Me. Christine Morongoe Ramphele;

e. Mnr. Makone Mack Magoele;

f. Me. Tsakane Zwane;

g. Me. Stephinah Mudau;

h. Adv. Lufuno Tokyo Nevondwe;

i. Prof. Tebogo Mashifana;

j. Prof. Mabel Mphahlele-Makgwane; en

k. Mnr. Ashley Latchu.

  1. Aanstelling van die raad van die nasionale waterhulpbron-infrastruktuuragentskap

a. Mnr. Ramateu Johannes Monyokolo (voorsitter);

b. Me. Precious Nompumelelo Sibiya (ondervoorsitter);

c. Me. Barbara Schreiner;

d. Mnr. Simphiwe Khondlo;

e. Mnr. Gregory Nigel Joseph White;

f. Mnr. Nicholas van Rensburg Rabie; en

g. Me. Mankone Mabataung Ntsaba.

  1. Aanstelling van die beheerraad van die Breede-Olifants opvangsbestuursagentskap

a. Mnr. Bongani Mnisi (voorsitter);

b. Me. Marli Slabber (ondervoorsitter);

c. Me. Eurica Scholtz;

d. Mnr. Trevor Abrahams;

e. Prof. Jakobus Andries du Plessis;

f. Me. Natasha Davis-Wolmarans;

g. Mnr. Jan Pienaar;

h. Mnr. Kobus Nicolas Steenkamp;

i. Me. Hlobisile Mbali Mngadi; en

j. Me. Tswarelo Gratitude Mokoena.

  1. Aanstelling van die raad van die Staat se inligtingstegnologie-agentskap

a. Prof. Stella Bvuma (voorsitter);

b. Adv. Colin Weapond;

c. Me. Zimbini Hill;

d. Me. Siphumelele Dlungwane;

e. Mnr. Rendani Ramabulana;

f. Me. Nalini Maharaj;

g. Mnr. Protas Phili;

h. Mnr. Willie Vukela (verteenwoordiger van die departement van staatsdiens en administrasie); en

i. Mnr. William Mathebula (verteenwoordiger van die Nasionale Tesourie).

  1. Raad van die Internasionale Telekommunikasie Unie (ITU)

a) Die Kabinet het dit goedgekeur dat Suid-Afrika herkiesbaar gestel word tot die ITU in Strek D (Afrika) vir die 2027–2030-termyn. Verkiesings sal plaasvind by die ITU se gevolmagtigde konferensie vanaf 9 tot 27 November 2026. Suid-Afrika se teenwoordigheid in die ITU-raad, saam met ander Afrika-nasies, verseker ʼn sterk stem vir die komntinent in internasionale IKT-bestuur.

E. Gebeure en konferensies

9. Afrika se Reis-indaba

a) Afrika se Reis-indaba 2026 sal plaasvind van 11 tot 14 Mei 2026 by die Inkosi Albert Luthuli-konferensiesentrum (Durban ICC) in KwaZulu-Natal.

b) Die indaba sal aangebied word tydens ʼn oplewing in internasonale toerisme-aankomste. In Maart vanjaar het 911 962 besoekers op Suid-Afrikaanse bodem geland, ʼn 12.5% toename in vergelyking met dieselfde tydperk in 2025.

c) Dit volg op ʼn rekord-toerismeseisoen in 2025, met 10.5 miljoen besoekers. Van Januarie tot Maart 2026 het Suid-Afrika reeds 2 910 029 inkomende reisigers aangeteken.

d) In ʼn verwante ontwikkeling het Suid-Afrika ons status as Afrika se voorste lugvaartspilpunt gevestig na aanleiding van ʼn veiligheidsoudit deur die internasionale burgerlugvaartorganisasie, ʼn Verenigde Nasies-agentskap wat spesialiseer in lugvaart.

10. Mylpale van die Vryheidsveldtog

a) Vanjaar vier ons ʼn reeks beslissende mylpale in Suid-Afrika se pad na demokrasie, wat herdenk sal word onder die Mylpale van Vryheid-veldtog wat in Mei 2026 by die Uniegebou bekendgestel sal word onder die tema: “Vereer die verlede. Lewer die toekoms.”

b) Hierdie mylpale sluit in die 30e herdenking van die aanvaarding van die Grondwet, die 50e herdenking van die 1976 jeugopstande, die 70e herdenking van die anti-pasboekveldtog en die 60e herdenking van die geforseerde verskuiwings uit Distrik Ses.

c) Saam weerspieël hierdie baanbrekende oomblikke die lang pad wat gestap en soms gestrompel is in die strewe na demokrasie en vryheid, en terselfdertyd herinner dit ons dat – ten spyte van betekenisvolle vooruitgang – die pad verder gestap moet word deur elke nuwe generasie.

11. Suid-Afrika se 2de internasionale spesiale ekonomiese sones (SES) infrastruktuur- en beleggingskonferensie

a) Die Kabinet het die aanbieding van die 2de internasionale SES infrastruktuur- en beleggingskonferensie op 16 en 17 Julie 2026 in KwaZulu-Natal goedgekeur.

b) Die konferensie sal hooggeplaaste plaaslike en internasionale beleggers byeenbring en dien as platform waar idees en innoverende oplossings voorgestel word om lewendige spesiale ekonomiese sones te fasiliteer en te bou asook om belegging in Suid-Afrika te verseker.

c) Suid-Afrika het twaalf aangewese SES’e met nege wat tans operasioneel is. Die operasionele SES’e behels 224 operasionele beleggers met ʼn beraamde kumulatiewe beleggingswaarde van R31.7 miljard and 28 821 werke wat geskep is.

12. Kinderbeskermingsmaand

a) Kinderbeskermingsmaand word jaarliks gevier om bewustheid te skep oor kinderregte en die noodsaaklikheid daarvan om kinders te beskerm teen kwaad en leed. Tydens hierdie maand sal staatsdepartemente asook kinderbeskermingsdienste en verskeie burgerlike maatskaplike organisasies pogings verskerp om alle sektore van die samelewing te mobiliseer om kinders te beveilig, voortdurende maatskaplike euwels aan te spreek en areas wat gefokusde ontwikkeling en ingryping benodig, te versterk.

b) Die Kabinet doen ʼn beroep op alle lede van die samelewing om saam te werk om die regte van kinders te beskerm, hul welstand te prioritiseer en hul holistiese ontwikkeling te ondersteun.

13. Afrika-maand

a) Suid-Afrika sal saam met die res van die kontinent Afrika-maand en Afrika-dag op 25 Mei 2026 vier. Die maand bied ʼn geleentheid om eenheid te bevorder, streekintegrasie te verdiep en ʼn gedeelde Afrika-lotsbestemming te bevestig. Die tydperk ontlok oordenking en die viering van ons ryke identiteit, erfenis en kulturele uitdrukking. Afrika-maand en Afrika-dag doen ook ʼn beroep op alle mense van Afrika om saam te werk om die ontwikkeling en vooruitgang van die kontinent te bevorder.

b) Terwyl ons Afrika-maand vier, gee ons erkenning aan alles wat ons bereik het en terselfdertyd ʼn blik te werp oor die vordering wat gemaak is om die visie van die Afrika-unie Agenda 2063 te realiseer vir ʼn verenigde en voorspoedige Afrika.

14. Sokker-Vrydae

a) Die Kabinet doen ʼn beroep op die nasie om Bafana Bafana te steun in hul deelname aan die 2026 FIFA-wêreldbeker deur die groen en goud op Vrydae te dra om die nasionale gees en trots op te bou.

F. Aankondigings

1. Nasionale presidensiële MKMO en ko-operasie-toekennings

1.1 Die departement van kleinsakeontwikkeling het die nasionale presidensiële MKMO en ko-operasie-toekennings hersien om ʼn provinsiale been en sektor-spesifieke kategorieë in te sluit om sodoende erkenning, insluiting en impak te verbeter.

1.2 Die provinsiale been van die hersiene toekennings skop af in Julie en die hersiene kategorieë is as volg:

a. MKMO van die jaar in die landbousektor;

b. Finansiële dienste MKMO van die jaar;

c. MKMO van die jaar in digitale ekonomie, tegnologie en innovering;

d. Vervaardigingsektor MKMO van die jaar;

e. Groen ekonomie MKMO van die jaar;

f. Jeug-geleide MKMO van die jaar ;

g. Vroue-geleide MKMO van die jaar;

h. MKMO van die jaar onder besit van persone met gestremdhede; en

i. Koöperasie van die jaar

2. 2026 plaaslike regeringsverkiesings

2.1 President Ramaphosa het aangekondig dat die plaaslike regeringsverkiesing sal plaasvind op 4 November 2026. Die Kabinet doen ʼn beroep op alle stemgeregtigde Suid-Afrikaners om te registreer om te stem of hul inligting op datum te bring deur gebruik te maak van die amptelike OVK-aanlynportaal – https://registertovote.elections.org.za, wat 24 uur ʼn dag, sewe dae ʼn week beskikbaar is. Landsburgers kan ook hul plaaslike OVK-kantoor besoek om te registreer en diegene wat aansoek gedoen het vir IDs word herinner om dit te gaan afhaal by die departement van binnelandse sake.

2.2 Andersins kan landsburgers ook registreer tydens die nasionale kiesersregistrasienaweek op 20 en 21 Junie 2026, by dieselfde stemlokale waar hulle beoog om te gaan stem op stemdag.

H. Boodskappe

1. Medelye

Die Kabinet spreek hul diepste medelye uit met die vriende en familie van:

a. Cynthia Shange, ʼn vereerde kultuurikoon, wie ʼn enorme bydrae gelewer het tot Suid-Afrikaanse film en televisie en vele gesogte eerbewyse ontvang het, insluitend lewenslange prestasietoekennings, as erkenning vir haar blywende impak op die plaaslike vermaaklikheidsbedryf.

b. Albert Mazibuko, ʼn medestigter van die ikoniese musiekgroep Ladysmith Black Mambazo, wat vyf Grammy-toekennings ontvang het en verskyn het op Paul Simon se bekroonde 1986 Graceland-album.

c. Bekroonde Suid-Afrikaanse opera-legende, Mimi Coertse, wie een van Suid-Afrika se grootste kulturele ambassadeurs en een van die land se mees gevierde operastemme was. Sy het menige geslagte musikante, kunstenaars en jong kunstenaars inspireer en haar nalatenskap sal vir geslagte nog Suid-Afrika se musiek en kultuur beïnvloed.

d. Afgetrede Regter-president Achmat Naeem Jappie, wie oorlede is op die ouderdom van 70. Hy het gedien as Adjunkregter-president en later as Regter-president van die KwaZulu-Natal-afdeling van die Hooggeregshof. Hy het ook gedien as ʼn waarnemende regter van die Konstitusionele Hof en by die Arbeidsappèlhof.

e. Raadslid Thumeka Bikwana, lid van die burgemeesterskomitee vir korporatiewe dienste in die Chris Hani-distriksmunispaliteit, wie op 5 Mei 2026 vermoor is.

2. Gelukwense

Suid-Afrika het die wêreld se beste strande

a. Suid-Afrika bly ʼn gewilde internasionale toerisme-brandpunt, met die insluiting van twee van ons land se strande in die 2026 Global Beach Report, die gesogte globale lys wat deur die internasionale reisspesialisagentskap Travelbag uitgereik word.

b. Boulders Beach in Kaapstad is amptelik erken as die nommer een strand wêreldwyd, met die Cape of Good Hope Beach wat kort op sy hakke was in die tweede plek. Hierdie prestasie op die internasionale ranglys onderstreep die blywende internasionale aantrekkingskrag van ons natuurerfenis en die sterkte van ons toerismesektor.

Kabinet het gelukgewense en voorspoed oorgedra aan:

  • Dr. Naledi Pandor, met haar aanstellings as die Kanselier van die Nelson Mandela-universiteit. As ʼn vername aktivis, akademikus en staatsamptenaar toon dr. Pandor ʼn lewenslange toewyding tot onderwys wat gehelp het om Suid-Afrika se demokratiese en maatskaplike landskap te vorm.
  • Die Blitzbokke, wat hul eerste Hong Kong Sewes-titel verower het deur Argentina 35-7 die loef af te steek tydens die toernooi-finaal in die Kai Tak-stadion.
  • Suid-Afrika se mansaflosspanne, wat silwermedaljes gewen het in die mans 4x100m- en 4x400m- finale by die World Athletics Relays in Gaborone.

Navrae: 
Regeringskommunikasie- en inligtingstelsel (GCIS)
Kontak: Me. Nomonde Mnukwa, waarnemende Direkteur-Generaal
Selfoon: 083 653 7485
www.gcis.gov.za; www.gov.za

#GovZAUpdates

Share this page

Similar categories to explore