Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 4 September 2024

A.    Kwessies in die omgewing

1.    Ekonomiese imperatiewe

  • Die Regering bly standvastig in sy strewe om: 
    • die ekonomie te laat groei;
    • werkloosheid te verminder; en
    • ‘n meer veerkragtige beleggingsklimaat te vestig.

1.1 Noemenswaardige ontwikkelings ten opsigte van ekonomies-verwante imperatiewe:

1.1.1 Groei in die bruto binnelandse produk (BBP)

  • Die Kabinet neem kennis van die effense toename in die land se ekonomiese groei met 0,4% in die tweede kwartaal van 2024, wat 'n positiewe vooruitsig vir ons algehele ekonomiese prestasie vir die jaar is. 
  • Die groei word grootliks toegeskryf aan die finansierings-, eiendoms- en sakedienstebedryf, wat elke bedryf met 1,3% toegeneem het; elke bedryf het onderskeidelik tot 0,3 van 'n persentasiepunt tot die BBP-groei bygedra. 
  • Die handel-, spysenierings- en akkommodasiebedryf, asook die vervaardigingsbedryf en die elektrisiteits-, gas- en waterbedryf het tot 0,1 van 'n persentasiepunt tot die BBP-groei bygedra. Finale huishoudelike verbruiksbesteding het tot 0,9 van 'n persentasiepunt bygedra en finale verbruik het tot 0,2 van 'n persentasiepunt tot BBP-groei bygedra. 'n Toename in die ekonomiese aktiwiteit van hierdie bedrywe is die afgelope kwartaal opgemerk. 
  • Suid-Afrika se ekonomie bly sterk en die Kabinet moedig alle sektore van die samelewing aan om steeds op hierdie momentum voort te bou. 
  • As alle sektore as ’n nasie saamstaan en op hierdie momentum voortbou, sal ons meer werkgeleenthede kan skep en die lewenstandaard van alle Suid-Afrikaners verbeter.
  • Die Kabinet het inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping vir die Sewende Administrasie geprioritiseer. Bestaande tussenkomste sal derhalwe versterk word om hierdie mikpunt te bereik.

1.1.2 Massiewe belegging in die motorsektor

  • Suid-Afrika se beleggingsaantrekkingskrag trek steeds katalitiese beleggings wat die regering se voorneme bevestig om ekonomiese groei aan te dryf en werk te skep. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van 'n vervaardigingsfasiliteit vir motorkomponente van R1,1 miljard by die Dube TradePort Spesiale Ekonomiese Sone in KwaZulu-Natal.
  • Die massiewe belegging deur Toyota Tsusho Africa (Edms.) Bpk. en Ogihara Thailand Corporation Bpk. is 'n mosie van vertroue in Suid-Afrika se posisie as 'n formidabele bestemming vir direkte buitelandse beleggings.
  • Hierdie belegging beklemtoon ook die vordering onder die rentmeesterskap van President Cyril Ramaphosa, wat hom beywer vir ’n beleggingsveldtog wat sedert 2018 meer as R1,51 triljoen in beleggingsverpligtinge gelok het.

1.1.3 Hupstoot vir Suid-Afrikaanse uitvoere

  • Die eerste versending Suid-Afrikaanse avokado's het einde Augustus 2024 in Japan aangekom; dit is 'n beduidende hupstoot vir die plaaslike avokadosektor en bevestig die positiewe impak van die Landbou- en Landbouverwerkingsmeesterplan, wat daarop gemik is om toegang tot belangrike nuwe markte vir Suid-Afrikaanse produsente uit te brei. 
  • Suid-Afrikaanse avokadokwekers kan nou aansienlik baat namate die pogings om toegang tot markte vir ons landbouprodukte te verhoog, voortduur. Indië, China en Japan verteenwoordig 'n gesamentlike markgeleentheid van meer as 2,5 miljard mense.

1.1.4 Energiesekerheid

  • Die Kabinet prys Eskom, sy direksie, bestuur en al sy werknemers wat onverpoosd gewerk het om te verseker dat Suid-Afrika hierdie somer geen beurtkrag sal hê nie, aangesien die kragvoorsiener voortgaan om meer elektrone by die netwerk te voeg deur sy opwekkingsherstelplan.
  • Eskom beoog om onbeplande verliese by kragstasies onder 13 000 megawatt te hou, terwyl werk voortgaan om die betroubaarheid van die kragopwekkingsvloot te verbeter.
  • 'n Betroubare energievoorsiening is noodsaaklik om ons ekonomie te laat groei, vertroue te bevorder en die lewensgehalte van ons burgers te verbeter.
  • Die Regering gaan voort om die Energie-aksieplan uit te voer, wat tot dusver instrumenteel was om herhaalde beurtkrag deur beplande instandhouding van Eskom se kragopwekkingsvloot te verminder.
  • Die hervorming van ons energiesektor is 'n kritieke komponent van ons pogings om 'n veilige energietoekoms vir ons mense te skep.

1.1.5. Hervorming van ondernemings in staatsbesit (OSB)

  • In ooreenstemming met 'n onderneming wat President Ramaphosa voorheen in die Parlement gemaak het om ons OSB te herkalibreer, is die verantwoordelikheid vir al ons strategiese OSB na die verskillende lynministeries oorgedra, nadat die President die betrokke proklamasie hieroor onderteken het.
  • Hierdie stap val saam met planne om 'n gesentraliseerde aandeelhouersmodel te skep waardeur die staat poog om die vermoëns van ons OSB beter te benut om die ekonomie te laat groei, dienslewering te verbeter en die OSB met die nodige kommersiële en strategiese vaardigheid te vul.
  • Die verantwoordelikheid vir die kragvoorsiener Eskom is na die Ministerie van Energie en Elektrisiteit oorgeplaas, terwyl Transnet die Suid-Afrikaanse Lugdiens en South African Express na die Ministerie van Vervoer oorgeplaas is.
  • Die staatsbeheerde diamantmynmaatskappy Alexkor sal deur die Ministerie van Minerale en Petroleumhulpbronne bestuur word; lugvaart- en militêre tegnologiekonglomeraat Denel sal onder die Ministerie van Verdediging en Militêre Veterane val, en die Suid-Afrikaanse Bosboumaatskappy SOC Beperk, wat vir staatsbosbou verantwoordelik is, aan die Ministerie van Bosbou, Visserye en die Omgewing verslag sal doen.

1.1.6 Befondsing vir ontwikkeling

  • Die befondsing van R17,8 miljard van BRICS se Nuwe Ontwikkelingsbank (NOB) vir infrastruktuurprojekte in water en sanitasie, wat onlangs goedgekeur is, sal infrastruktuuragterstande verminder en die voorsiening van basiese dienste aan arm huishoudings verseker.
  • Die (NOB) het ook 'n ooreenkoms met Transnet aangegaan vir 'n lening van R5 miljard, wat deur die regering gewaarborg is om die vragspoorsektor te verbeter.
  • Die Kabinet spreek sy waardering uit vir dié befondsing, wat infrastruktuurontwikkeling in ons land aansienlik sal versnel en sal bydra tot die verbetering van mense se lewens.

2. Maatskaplike welstand imperatiewe

  • Die Regering streef daarna om:  
    • ’n beter Suid-Afrika vir almal te bou; en om
    • billikheid, toegang en insluiting tot dienste te verseker.

2.1 Beduidende ontwikkelings oor sosiale welstandsimperatiewe

2.1.1 Presidensiële Gesondheidsooreenkoms

  • Die soeke na gehalte en bekostigbare gesondheidsorg vir almal het 'n stap verder gevorder met die ondertekening van die tweede Presidensiële Gesondheidsooreenkoms.
  • Die gesondheidsooreenkoms is 'n raamwerk vir samewerking tussen kritieke sektore en belanghebbendes soos die regering, die sakesektor, arbeid, die burgerlike samelewing, gesondheidswerkers, vakbonde, diensgebruikers, statutêre rade, die akademie en navorsers.
  • Dit is daarop gerig om die gesondheidstelsel te versterk en dit monitor en evalueer voorbereidings vir die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering. 
  • Die gesondheidsooreenkoms onderneem om die ontwikkeling van menslike hulpbronne te versterk, terwyl toegang tot medisyne, entstowwe en gesondheidsprodukte verbeter word saam met die opgradering van infrastruktuur en die versekering van betrokkenheid by die private sektor.

3.    Stryd teen misdaad en korrupsie

  • Die Regering het zero toleransie vir misdaad, bedrog en korrupsie; en sal diegene wat die wette van ons land oortree, aanspreeklik hou.

3.1.1 Onverbiddelike stryd teen misdaad

  • Die Kabinet bly vasbeslote om te verseker dat Suid-Afrika 'n samelewing is waar alle mense veilig voel. Die onlangse inhegtenisnemings en skuldigbevinding van verdagtes wat by verskeie ernstige misdade betrokke is, is ’n aanduiding van die verbintenis om misdaad voortdurend te beveg.
  • Die toename in kontakmisdade soos blyk uit die jongste kwartaallikse misdaadstatistieke vir die eerste kwartaal van April tot Junie 2024, dui daarop dat nog meer gedoen moet word om te verseker dat elke burger veilig voel.
  • Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), gelei deur die Ministerie van Polisie, beveg aktief hierdie misdade. Onlangse operasies sluit in:
    • ’n konfrontasie met verdagtes in Milnerton, Kaapstad, wat tot sterftes en inhegtenisnemings gelei het.
    • operasies in die Oos-Kaap, met die fokus op Mthatha en Nelson Mandelabaai.
    • inhegtenisnemings in Gauteng, Mpumalanga en die Vrystaat wat verband hou met afpersingsaktiwiteite
  • Die Regering stel tans ’n volledige regeringsbenadering in werking, insluitend:
    • ondertekening van koöperatiewe ooreenkomste met provinsiale en plaaslike regerings;
    • inwerkingstelling van operasionele planne in Kaapstad en Nelson Mandelabaai, met planne om dit in alle metro's te herhaal;
    • skakeling met susterdepartemente om samewerking teen misdaad te verbeter.
  • Die Nasionale Polisiëringsbeleid sal teen die einde van Oktober 2024 voltooi en aanvaar word om aandag te gee aan kwessies soos polisiestasies en infrastruktuur wat op norme en standaarde gegrond is.
  • Die Kabinet verwelkom die ondertekening van die Samewerkingsooreenkoms om Misdaad in die Wes-Kaap te Bekamp. Dit sal samewerking en koördinering tussen alle belanghebbendes bevorder om veiligheids- en sekuriteitskwessies te hanteer. Deur gemeenskapsgedrewe inisiatiewe, die integrasie van hulpbronne en die ontwikkeling van innoverende strategieë, maak die ooreenkoms voorsiening vir 'n verenigde front tussen die SAPD, die provinsie en gemeenskappe om misdaad te bekamp en openbare veiligheid te bevorder.
  • In ooreenstemming met die verbintenisse wat President Ramaphosa tydens sy Parlementsopeningstoespraak op 18 Julie 2024 gemaak het om 'n veiliger land te bou, het ons wetstoepassingsagentskappe die stryd teen misdaad verskerp.
  • Die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI), ook bekend as die Valke, het in die eerste kwartaal van 2024/25 673 verdagtes in hegtenis geneem, waarvan 506 skuldig bevind is en 77 hofbevele toegestaan is vir die beslaglegging op bates wat met kriminele aktiwiteite verband hou. Die polisie het van 19 tot 25 Augustus 2024 ook 14 422 verdagtes in hegtenis geneem vir verskeie misdade deur Operasie Shanela. 
  • ’n Multidissiplinêre klopjagoperasie deur die polisie, metropolisie, korrektiewe dienste, binnelandse sake en ander wetstoepassingsagentskappe in ses gekaapte geboue in Durban, het tot die ontdekking van R4 miljoen se vervalste Amerikaanse dollars, beslaglegging op dwelms en drank asook 117 rondes ammunisie gelei. Meer as 150 beweerde ongedokumenteerde buitelandse burgers is ook tydens die operasie inhegtenis geneem.
  • Hierdie suksesse volg op beduidende vordering met die aftakeling van 'n transnasionale misdaadsindikaat in die land sedert die begin van die jaar. Die DPCI het 10 klandestiene dwelmlaboratoriums ontbloot en 34 mense gearresteer vir die vervaardiging, handel en besit van onwettige dwelms.
  • Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om steeds met wetstoepassingsagentskappe saam te werk deur onwettige dade by die polisie aan te meld by 10111 om misdadigers van ons strate af te hou. 
  • Die stryd teen misdaad is 'n gedeelde verantwoordelikheid en die regering sal voortgaan om enige inisiatiewe te bevorder wat alle mense in die samelewing sal mobiliseer om saam te werk vir 'n beter en veiliger Suid-Afrika.

3.1.2 Hou die korruptes aanspreeklik

  • Die Kabinet verwelkom die bewaringsbevel van R6,5 miljoen teen diegene wat betrokke is by die plundering van fondse by die Nasionale Loteryekommissie. Hierdie optrede ondersteun die implementering van die Teenkorrupsiestrategie, wat wetstoepassers byeenbring in die stryd teen korrupsie.
  • Die Kabinet verwelkom verder die uitspraak deur 'n Londense hof om die uitlewering van die Britse burger en voormalige Eskom-kontrakteur, mnr Michael Lomas, aan Suid-Afrika toe te laat waar hy korrupsieklagtes in die gesig staar. Mnr Lomas sal uitgelewer word om tereg te staan op 41 ernstige korrupsieklagte wat verband hou met die bou van die Kusile-kragstasie. Hierdie uitspraak is ook 'n mosie van vertroue in ons strafregstelsel en bevestig ons verbintenis om internasionale menseregteverpligtinge na te kom. 
  • In sy uitspraak het regter Charles Bourne gesê dat die Suid-Afrikaanse gevangenisstelsel toepaslike maatreëls het en in die saak teen mnr Lomas se  behoeftes kan voorsien.
  • Die ondertekening van 'n proklamasie deur President Ramaphosa, wat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) magtig om bewerings van korrupsie en wanadministrasie by Eskom te ondersoek, versterk pogings om diegene wat by korrupsie-aktiwiteite by dié staatsentiteit betrokke is, aanspreeklik te hou.
  • Die proklamasie sluit in bewerings van onwettige en onbehoorlike gedrag wat tussen 1 Maart 2006 en 30 Augustus 2024 plaasgevind het; nege kontrakte sal ondersoek word. Die president het ook 'n proklamasie gewysig wat die SOE magtig om verdere klagte van beweerde korrupsie by die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming te ondersoek.
  • Die Kabinet het die 15-jaar-vonnis van die voormalige Hoof van Ingenieurswese by die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika, mnr Daniel Mthimkhulu, deur die Palm Ridge-handelsmisdaadhof geloof. Hierdie vonnis is 'n beduidende oorwinning in die stryd teen korrupsie en bedrog binne die land se instellings. Dit dui verder op die regering se verbintenis om oneerlike praktyke uit te roei en aanspreeklikheid op alle vlakke te verseker.

3.1.3 Stryd teen afpersing

Die Kabinet volg 'n zero-toleransiebenadering teen afpersing

  • Suid-Afrika leer uit internasionale beste praktyke om strategieë te ontwikkel om voorvalle van afpersing beslissend te hanteer.
  • 'n Volledige samelewingsbenadering en 'n verenigde poging van die regering, wetstoepassingsagentskappe, besighede en gemeenskappe is nodig om 'n verenigde front te skep om hierdie misdaad te bekamp.
  • Afpersing benadeel nie net individue nie; dit ondermyn ons hele ekonomie. Deur hierdie misdaad te beveg, beskerm ons werksgeleenthede, moedig ons beleggings aan en ons bevorder ekonomiese groei. 
  • Ons bemagtig gemeenskappe om op te staan teen afpersing. Deur opvoeding, ondersteuningsnetwerke, en vertroulike aanmeldstelsels, maak ons dit veiliger vir mense om nee te sê vir  misdadigers.
  • Die  SAPD word toegerus met die jongste instrumente en tegnieke om afpersing te bekamp, insluitend gevorderde tegnieke vir die insamel van intelligensie, asook gespesialiseerde taakmagte, om voor te bly teen kriminele taktiek en aktiwiteite.
  • Afpersing floreer dikwels waar daar 'n gebrek aan ekonomiese geleenthede is. Die regering gee aandag aan die basiese  oorsake deur saam met ons wetstoepassingspogings in onderwys, werkskepping en gemeenskapsontwikkeling te belê.
  • Die Regering werk nou saam met internasionale vennote om intelligensie te deel, kriminele netwerke op te spoor en oortreders voor die gereg te bring.
  • Ons pogings is veral gefokus op die beskerming van kwesbare individue en besighede wat dikwels die primêre teikens van afpersing is. Niemand behoort in vrees in hul eie gemeenskap te leef nie.
  • Die Regering is verbind tot 'n volgehoue, langtermynpoging om hierdie misdaad uit te roei en blywende veiligheid en sekuriteit vir alle Suid-Afrikaners te skep.

3.1.4  Bedrieglike mediese regseise

  • Die Kabinet is geskok dat sommige gewetenlose en gierige prokureurs en advokate probeer het om miljarde rande uit die staat op bedrieglik wyse te bekom deur vals en onreëlmatige mediese regseise.
  • Hierdie oortredings is ontbloot in 'n verreikende ondersoek deur die SOE na beweerde bedrieglike mediese regseise teen die Staat sedert 2017.
  • Die voortgesette ondersoek het aan die lig gebring dat sommige regspraktisyns soms met behulp van gesondheidspraktisyns wat vir die staat werk, provinsiale departemente van gesondheid teiken, en sake wat deur die SOE afgehandel is, tot minstens R3 miljard se besparings vir verskeie Departemente van Gesondheid gelei het.

3. Bestuursimperatiewe

  • Die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) fokus op die verbetering van staatskapasiteit om belangrike regeringsdoelwitte te bereik.
  • RNE-vennote is daartoe verbind om hul kollektiewe wil in te span om die lewens van alle Suid-Afrikaners te verbeter.
  • Ons het 'n duidelike voorneme om 'n meer responsiewe benadering oor alle regeringsfere heen te bevorder – op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak

3.1 Noemenswaardige ontwikkelings oor bestuursimperatiewe

3.1.1 Verbetering van waterhulpbronbestuur

  • Pogings om die bestuur van bestaande waterbates te verbeter en watersekerheid oor die volgende dekade te verseker, is versterk toe President Ramaphosa ingestem het tot die wet op die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Nasionale Waterhulpbroninfrastruktuur SOC Bpk. Dit lei tot die stigting van ’n nuwe agentskap wat verantwoordelik sal wees vir die ontwikkeling en bestuur van nasionale waterinfrastruktuur.
  • Die Kabinet verwelkom die nuwe wetgewing as 'n kritieke stap in die hervormingsproses om belegging in die instandhouding en konstruksie van waterinfrastruktuur en die verbetering van watergehalte te verhoog.

3.1.2 Plaaslike regering oudituitkomste

  • Die Kabinet neem kennis van die Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika (OGSA) se munisipale oudituitkomste vir 2022/23 wat geleidelike verbetering in finansiële bestuur in sommige munisipaliteite toon. 
  • Daar is egter voortdurend meer werk wat gedoen moet word om nakoming in baie munisipaliteite wat steeds negatiewe oudituitkomste bereik, te verbeter.
  • Die OGSA-verslag dui aan dat net 34 van 257 metropolitaanse, distriks- en plaaslike munisipaliteite skoon oudituitkomste bereik het.
  • Op 'n positiewe noot het die aantal gediskrediteerde oudits afgeneem terwyl 45 munisipaliteite hul oudituitkomste sedert 2020/21 verbeter het en dié wat hul finansiële state betyds ingedien het, van sowat 81% in 2020/21 tot 94% in 2022/23 verbeter het. 
  • Die Kabinet is bemoedig dat die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, tesame met die OGSA, voortgaan om inisiatiewe te ondersteun en te implementeer wat daarop gemik is om die verbeterings wat in sommige munisipaliteite aangeteken is, te konsolideer. 
  • Die departement het ook voorkeur daaraan gegee om die munisipaliteite wat die swakste presteer te help deur die bevoegdheid van personeel met opleiding en vaardigheidsoordrag te verbeter, asook om regulasies oor minimum standaarde vir munisipale bestuurders en senior amptenare af te dwing.

B.    Opdaterings aan die Kabinet

(i)    Nasionale Polisieherdenkingsdag
(a)    Die Kabinet het inligting ontvang oor die Nasionale Polisieherdenkingsdag, wat op Sondag 1 September 2024 gehou is. 
(b)    Die Herdenkingsdag is daarop gemik om die vroue en mans in blou wat hul lewens in die uitvoering van hul pligte verloor het, te vereer en ook die nodige stappe te doen om hul gesinne en veral hul skoolgaande kinders te onderhou.
(c)    Die regering is ontstoke oor die 39 polisiebeamptes wat in die uitvoering van hul plig gesterf het en sal beslissend optree teenoor enigiemand wat betrokke is by moord op polisiebeamptes in die uitvoering van hul plig. 
(d)    Die Regering prioritiseer die stryd teen alle misdadigheid en sal die wette versterk wat die regering in staat stel om misdaadbekamping nog kragtiger te beveg.

(ii)    Suid-Afrika se vordering om gryslys-tekortkominge teen geldwassery aan te pak soos beoordeel deur die Finansiële Aksie-taakspan (FATS)

(a)    Sedert Suid-Afrika in Februarie 2023 op die gryslys geplaas is, het die Kabinet die vierde vorderingsverslag van die Interdepartementele Komitee oor Geldwassery en die Bekamping van die Finansiering van Terrorisme (IDC-AML/CFT) ontvang. Dit gee uitvoering aan die kabinetsbesluit van 27 September 2023 dat die IDC-AML/CFT, wat oor die vordering verslag doen, drie keer per jaar ter tafel gelê sal word.
(b)    Suid-Afrika het beduidende vordering gemaak om tegniese voldoeningstekorte die hoof te bied. Uit van die 20 tegniese voldoeningsvereistes is 15 volledig reggestel.
(c)    Vir Suid-Afrika om heeltemal van die gryslys verwyder te word, is 22 aksies geïdentifiseer as tekortkominge ten opsigte van doeltreffendheid; agt van hierdie items is volledig reggestel, wat beteken nog 14 items moet teen Februarie 2025 reggestel word. 
(d)    Die Kabinet neem kennis van die gekompliseerde aard van die kwessies wat aandag moet kry, maar bly daartoe verbind om te verseker dat pogings verskerp word om die oorblywende aksies aan te pak. Die Kabinet neem ook kennis dat Suid-Afrika se pogings beter uitkomste lewer in vergelyking met goed-ontwikkelde lande soos die Verenigde State van Amerika, wat steeds agter Suid-Afrika is.

(iii)    Cannabis-meesterplan

(a)    Die Kabinet is ingelig oor vordering met die ontwikkeling van die Cannabis-meesterplan, wat daarop gemik is om 'n raamwerk te voorsien vir die vestiging, kweek en ontwikkeling van die dagga- en hennepbedryf in Suid-Afrika en om by te dra tot ekonomiese groei, armoedeverligting en werkskepping. 
(b)    Die Meesterplan is op nege pilare gevestig, naamlik Doeltreffende  Reguleringsdienste; Volhoubare Saadvoorsieningstelsels; Navorsing en Tegnologie-ontwikkeling; Produsente-Ondersteuningstelsels; Markontwikkeling; Ondernemings- en Verskaffersontwikkeling; Vervaardiging en Produkontwikkeling; Onderwys en Opleiding; en Kommunikasie en Bewustheid
(c)    Hier volg ’n kort opsomming van vordering tot op datum:
i.    Ná die verklaring van hennep as landbougewas is altesaam een duisend eenhonderd en tien (1 110) permitte uitgereik vir hennepverbouing.
ii.    President Ramaphosa het die Wetsontwerp op Dagga (Cannabis) vir Private Doeleindes in Mei 2024 goedgekeur.
iii.    Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het die proses om die regulasies op te stel begin ter ondersteuning van die kweek van cannabis vir private doeleindes.
iv.    Die Departement van Gesondheid, deur die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte, het raadpleging oor veranderinge aan die skedules van die Wet op Medisyne en Verwante Middels, 1965 (Wet 101 van 1965) afgehandel.
v.    Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging (die DHNM) het situasie- en waardekettingontleding oor die Hennep- en Daggasektor in Suid-Afrika afgehandel; die DHNM sal binnekort met raadpleging oor die Beleid vir die Kommersialisering van Cannabis begin.
vi.    Die Landbounavorsingsraad (LNR) het twee hennepvariëteite ontwikkel en met die ondersteuning van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DLGLO) ervaar die raad tans 'n tweede seisoen van saadvermenigvuldiging om dit vir die 2025-plantseisoen beskikbaar te stel.
vii.    In Mei 2024, het die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling die Hennep Sertifiseringskema goedgekeur om die variëteitsintegriteit en gehalte van hennepvoortplantingsmateriaal te reguleer om die volhoubare saadstelsel van hennep te ondersteun.
viii.    Die DLGLO het navorsing ter waarde van R124 miljoen by die LNR laat doen, wat fokus op cannabisverbouing vir medisinale, vesel- en ander gebruike, toesig oor daggaplantsiektes, inheemse kiemplasmaversameling, en cannabis-saadstelselontwikkeling
ix.    In Gauteng, in samewerking met die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad, is 10 klein-, medium- en mikro-ondernemings vir produkontwikkeling ondersteun. Die DLGLO gaan voort om provinsies te raadpleeg oor verpligtinge tot dusver.  
x.    Om die kapasiteit van die departement te verbeter om die verbouing van hennep deur permithouers te monitor, het die LNR 'n gedetailleerde opleidingsprogram vir inspeksiedienste ontwikkel.

(iv)    Geïntegreerde Staatsdiensmaand

(a)    Die Kabinet het 'n inligtingsessie ontvang oor planne om vanjaar se Geïntegreerde Staatsdiensmaand waar te neem. 
(b)    Vanjaar se Geïntegreerde Staatsdiensmaand word gevier onder die tema: "Regering wat werk". 
(c)    Staatsdiensmaand dien as 'n herinnering aan wat dit beteken om gemeenskappe te dien en ook te kyk na die impak wat die regering het, veral rondom kwessies van dienslewering. 
(d)    Suid-Afrika vier vanjaar 30 Jaar van Demokrasie en die 27ste herdenking van die Batho Pele-Witskrif as raamwerk vir die transformasie van openbare dienslewering in Suid-Afrika.
(e)    Die Geïntegreerde staatswye program sluit Staatsdiensmaand, Erfenismaand, Toerismemaand en Boomplantmaand in.

C.    Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan verifikasie van kwalifikasie en toepaslike sekuriteitsklaring.

(a)    Me. Yolanda Batandwa Damoyi as Uitvoerende Direkteur in die Raad van die Openbare Beleggingskorporasie.

(b)    Me. Thulisile Glory Manzini as Direkteur-Generaal in die Departement van Kleinsakeontwikkeling.

(c)    Aanstelling van lede in die Raad van die Suid-Afrikaanse Diamant- en Edelmetalereguleerder  

(i)    Mnr Abiel Mngomezulu – Voorsitter;
(ii)    Dr Natalie Skeepers – Nie-uitvoerende lid;
(iii)    Me. Fungai Mushohwe – Nie-uitvoerende lid;
(iv)    Me. Faith Tumelo Mokwena – Nie-uitvoerende lid;
(v)    Dr Tshepo David Khoza – Nie-uitvoerende lid;
(vi)    Me. Leanda-Marsha Mtshali – Nie-uitvoerende lid;
(vii)    Mnr Norman Baloyi – Nie-uitvoerende lid;
(viii)    Mnr Mawethu Cawe – Nie-uitvoerende lid;
(ix)    Adv. Madikeledi Moloto –    DMHE (die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie) hooflid  verteenwoordiger;
(x)    Me. Rebone Nkambule – DMHE alternatiewe verteenwoordiger;
(xi)    Mnr Rangers  Molapo – NUM (die Nasionale Unie van Mynwerkers) hooflid verteenwoordiger;
(xii)    Mnr Dingindawo Sibeko – NUM alternatiewe verteenwoordiger;
(xiii)    Adv. Leon Johannes Pretorius – UASA hooflid;
(xiv)    Me. Nongcebo Ngcobo – SARB (die Suid-Afrikaanse Reserwebank) hooflid;
(xv)    Me. Kamolegelo Manamela – SARB alternatiewe lid;
(xvi)    Me. Nosiphiwo Mzamo –  Ex-Officio; en
(xvii)    Mnr Cecil Khoza – Ex-Officio.

(c)    Aanstelling van lede in die Raad van die Staat Diamanthandelaar 
(i)    Mnr Abbey Chikane – Voorsitter;
(ii)    Mnr Ernest Blom – Nie-uitvoerende lid;
(v)    Me. Komathie Kisten Govender – Nie-uitvoerende lid;
(vi)    Adv. Mpati Lebakeng – Nie-uitvoerende lid;
(vii)    Dr Olga Masekoa – Departementele verteenwoordiger; 
(viii)    Me. Hellen Diatile – NUM hooflid verteenwoordiger;
(ix)    Mnr Thapelo Malekutu – NUM alternatiewe lid;
(x)    Me. Adele Rossouw –      Solidariteit hooflid verteenwoordiger;
(xi)    Mnr Johan du Toit Böning – Solidariteit alternatiewe lid verteenwoordiger;
(xii)    Mnr Jacques Hugo – UASA verteenwoordiger;
(xiii)    Me. Danile Nyakale – NOK (die Nywerheidsontwikkelingskorporasie van Suid-Afrika Bpk.)  hooflidverteenwoordiger;
(xiv)    Mnr Lefu Dlamini – NOK alternatiewe verteenwoordiger;
(xv)    Me. Nosiphiwo Mzamo – Nie-uitvoerende lid (Ex-officio); en
(xvi)    Mnr Cecil Khosa – Nie-uitvoerende lid (Ex-officio).

D. Toekomstige gebeure

a)    Erfenismaand

  • In September, vier Suid-Afrika Erfenismaand onder die tema: "Vier die lewens van ons helde en heldinne wat hul lewens vir ons vryheid afgelê het".
  • Tydens hierdie maand sal die regering die Ballingskap-repatriasieprojek van stapel stuur; dit is daarop gemik om die menslike oorskot van die vryheidsvegters wat in ballingskap gesterf het, huistoe te bring en gesinne sodoende met aanvaarding te help, asook om die genesing en herstel van ons land te bewerkstelling.
  • Die inisiatief vorm deel van die Nasionale Beleid vir die Repatriasie en Restitusie van Menslike Oorskot en Erfenisvoorwerpe. Diegene wat hul lewens vir ons vryheid opgeoffer het, het die weg gebaan vir ons grondwetlike demokrasie wat gegrond is op die beginsels van menswaardigheid en gelyke regte vir almal.
  • Die Regering doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om tydens Erfenismaand groter maatskaplike samehorigheid, nasiebou en 'n gedeelde nasionale identiteit te bevorder, asook om diegene te eer wat hul lewens vir ons opgeoffer het om vryheid te verkry.

b)    Verenigde Nasies se 79e Algemene Vergadering (UNGA)

  • President Ramaphosa sal die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Algemene Debat van UNGA se 79ste sessie, wat van 24 tot 30 September 2024 in New York plaasvind, lei. 
  • Die vergadering vind vanjaar plaas onder die tema: "Eenheid in diversiteit, vir die bevordering van vrede, volhoubare ontwikkeling en menswaardigheid vir almal oral."
  • President Ramaphosa sal die Algemene Vergadering op 24 September 2024 toespreek en die huidige globale en kontinentale vredes-, veiligheids- en ontwikkelingsuitdagings bespreek.
  • Voor UNGA 79 sal die sekretaris-generaal van die VN die Toekomsberaad op 20 en 21 September 2024 by die VN se hoofkwartier aanbied. Die beraad bring wêreldleiers byeen om 'n nuwe internasionale konsensus te bewerkstellig oor hoe om 'n beter hede te lewer, terwyl dit ook die toekoms beskerm.

c)     Uitstalling en lugskou deur Afrika Lugvaart en Verdediging (AAD) 2024

  • President Ramaphosa sal die AAD-ekspo, wat van 18 tot 22 September 2024 by die lugmagbasis Waterkloof in Pretoria plaasvind, open. Vanjaar se tema is: "Verken nuwe paaie, deel oplossings, vertoon innovasie en vermoë". 
  • Die AAD is die enigste verdedigingsuitstalling wat deur Suid-Afrika op die vasteland van Afrika aangebied word en tel onder die top ses op die wêreldwye verdedigings kalender. Die doelwitte van die uitstalling is om: 
    • die nuutste tegnologie vir verdediging en lugvaart wat in Suid-Afrika en regoor die wêreld ontwikkel en vervaardig is te vertoon;
    • uitvoere wat die verdedigings- en lugvaartbedryf onderhou te bevorder en te dryf;
    • Suid-Afrika se posisie as 'n belangrike dryfveer vir innovasie en vervaardiging te bevorder en te versterk;
    • internasionale vennootskappe; besigheid-tot-besigheid- en regering-tot-regering-netwerke te fasiliteer; 
    • Suid-Afrika as 'n voorkeurbestemming vir toerisme en besigheid te bevorder. 
    • by te dra tot werkskepping.
    • 'n opvoedkundige platform te skep om loopbane en innovasie vir verdediging en lugvaart vir die jeug te bevorder.

d)    Internasionale Basketbalfederasie (FIBA) o.18 AfroBasket-toernooi

  • Suid-Afrika bied van 1 tot 14 September 2024 ’n 12-nasie o.18 basketbal Afrika-kampioenskap in Pretoria aan. Die toernooi sluit 12 manlike en 12 vroulike nasionale basketbalspanne in, wat in drie groepe verdeel is waarvan elk uit vier spanne bestaan.

e)    Ondertekening van die Implementeringsprotokol tussen die departemente van Basiese Onderwys en Sport, Kuns en Kultuur

  • Op 4 September 2024 het die Minister van Basiese Onderwys en die Minister van Sport, Kuns en Kultuur ’n protokol onderteken en van stapel gestuur om die wese van skoolsport te bevorder, en ook om die belangrikheid van komplimentêre kurrikulêre aktiwiteite in ons skole te ondersteun.  Dit is daarop gerig om leerders holisties te help ontwikkel en om kritieke vaardighede en vermoëns aan te leer wat hulle sal voorberei om suksesvolle en aktiewe burgers van die land te wees. 
  • Die protokol sluit 'n reeks samewerkende programme in, soos onder meer: sportambassadeurs; nasionale jeugkampe; inheemse spele; leesklubs; erfenis-onderwysprogramme; spelling kompetisies; die Jong Patriotte-program; liggaamlike opvoeding; ’n Nasionale Biblioteekprogram; die Suid-Afrikaanse Skolekoor Eisteddfod; en Nasionale Argiefbewustheidsweek.

E. Boodskappe

1. Gelukwense

Die Kabinet dra sy gelukwense en goeie wense oor aan:

  • Suid-Afrikaanse navorsers betrokke by die baanbrekerstudie BEAT-Tuberculosis (TB), wat die wêreld se eerste program geword het in die stryd teen middelweerstandige tuberkulose vir alle bevolkingsgroepe en wat die internasionale TB-behandelingsbeleid van die Wêreldgesondheidsorganisasie beïnvloed.
  • Warona Tsiane en Onalerona Tsiane, bekend as die Tee Sisters, vir die derde plek by die gesogte Wêreldbekerkompetisie van entrepreneurskap wat in Japan gehou is. Die Tee Sisters het ook twee toekennings vir Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte van die VN gewen, spesifiek vir doelwitte 1 (Geen Armoede) en 16 (Vrede, Geregtigheid en Sterk Instellings).
  • Ons land se atlete by die o.20 Wêreldkampioenskappe en Paralimpiese Spele, veral vir : 
    • die vinnigste tiener ter wêreld, naelloper Bayanda Walaza met ‘n goue medalje in die 100 m- en 200 m-eindstryd by die o.20-wêreldkampioenskappe. Walaza is tans besig met sy matriek by Curro Hazeldean in Pretoria.
    • Bradley Nkoana vir 'n bronsmedalje vir die 100 m-finaal by die o.20  wêreldkampioenskappe.
    • Udeme Okon vir 'n goue medalje vir die 400 m-finaal by die o.20 wêreldkampioenskappe.
    • ’n silwer medalje vir 4x400m mans aflosspan (Bryan Katoo, Sihle Mahlangu, Njabulo Mbatha, Udeme Okon) by die o.20 wêreldkampioenskappe.
    • JL van Rensburg vir 'n silwer medalje vir die mans gewigstoot by die o.20 wêreldkampioenskap-finaal.
    • Hannah van Niekerk vir 'n bronsmedalje vir die 400m hekkies by die o.20 wêreldkampioenskappe.
    • Mpumelelo Mhlongo vir 'n goue medalje en nuwe wêreldrekord vir die T44 100m vir mans by die Paralimpiese Spele in Parys.
    • Louzanne Coetzee vir 'n bronsmedalje vir die vroue T11 1500m by die Paralimpiese Spele in Parys.
  • Ronwen Williams, Bafana-Bafana en Mamelodi Sundowns se doelwagter, met sy benoeming as een van die 10 beste doelwagters ter wêreld by die Ballon d'Or-toekennings.
  • Die Springbokke, vir hulle oorwinning oor die All Blacks tydens die Castle Lager-rugbykampioenskap op Saterdag 31 Augustus 2024. 
  • Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (PRASA) en die Gautrein vir die geïntegreerde vervoerdienste wat Suid-Afrikaners in staat gestel het om na die Springbokke vs. All Blacks rugbywedstryd op Ellispark in Johannesburg te gaan kyk. Die Kabinet moedig die publiek verder aan om die PRASA-trein wat die handelsmerk: 30 jaar van vryheid en demokrasie vertoon, raak te sien en daarop te ry.

4.    Meegevoel

Die Kabinet betuig sy meegevoel met die naasbestaandes en vriende van:

  • Prof Brian O'Connell, voormalige Rektor en Vise-Kanselier van die Universiteit van die Wes-Kaap, wat van 2002 tot 2014 as Rektor gedien het.  
  • Radio- en televisiepersoonlikheid Thabiso Sikwane, 'n gesoute omroeper wat talle mense regoor die land geïnspireer het.
  • Prysdigter biskop Jessica Mbangeni, wat bekend was vir haar kragtige poëtiese vaardighede. Sy het onder meer by oudpresident Thabo Mbeki se inhuldiging in 1999 en oudpresident Nelson Mandela se konsert van 46664 opgetree. 
  • Mnr Mphakamisi Nciweni, die onderwyser van KwaZakhele Primêre Skool in die Oos-Kaap, wat op die skoolterrein deur afpersers vermoor is.

Navrae: Me Nomonde Mnukwa – Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485
 

Share this page

Similar categories to explore