Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag 3 Junie 2026 en die Spesiale Kabinetsvergadering op Woensdag 13 Mei 2026

A.    Kwessies in die omgewing
1.    Toerismegroei, uitgebreide lugvervoer en toeristeveiligheidsmaatreëls
1.1    Die Kabinet verwelkom die toerismesektor se belowende prestasiewat volgens Statistieke Suid-Afrika se internasionale toerismeverslag, 989 329 toeriste-aankomste in April 2026 aangeteken het. Dit is die hoogste maandelikse jaar-tot-jaar groei wat tot nog toe aangeteken is en bevestig weereens Suid-Afrika se blywende aantrekkingskrag as globale toerisme-bestemming . 
1.2    Om hierdie momentum te handhaaf gaan die regering voort met die uitbreiding van internasionale lugroetes. LATAM Airlines het onlangs besluit om die bekendstelling van drie weeklikse direkte vlugte tussen São Paulo en Kaapstad vanaf die aanvanklike bekendstelling wat in September 2026 sou plaasvind na Julie 2026 te vervroeg. Hiebenewens sal Air Europa hul direkte vlug tussen Madrid en Johannesburg op 24 Junie 2026 bekendstel, wat konnektiwiteit met Europa sal versterk en groei regoor die toerisme- en gasvryheidsektore sal ondersteun. 
1.3    Die -toename in toeriste-aankomste volg ná die aangemelde daling in misdaadstatistieke in sleutelkategorieë en vinniger deurlooptye deur wetstoepassers om kriminele sake op te los.

2.    Uitnemende finansiële en operasionele prestasie deur Telkom
2.1    Die Kabinet het Telkom, ʼn maatskappy in meerderheidsbesit van die staat, gelukgewens met hul puik finansiële en operasionele prestasie vir die finansiële jaar wat op 31 Maart 2026 geëindig het. In hierdie tydperk het Telkom se aktiwiteite 362 KMMO’s met verkrygingsgeleenthede ter waarde van R593 miljoen ondersteun, bygedra om 74 114 werksgeleenthede te skep deur die KMMO-ontwikkelingsplan te ondersteun en om 1 524 werklose jongmense op te lei deur middel van IKT-vakleerlingskappe. Telkom het ook twee miljoen intekenare oorskry.
2.2    Die regering sal ongeveer R559 miljoen in dividende-inkomste ontvang (dividende aan ander entiteite in staatsbesit uitgesluit). Hierdie bykomende inkomste sal die regering se breër ontwikkelingsprioriteite en openbare diensleweringsverbintenisse ondersteun.
2.3    Die Kabinet het verder ook erkenning gegee aan die rol wat die maatskappy in die oorbrugging van die digitale kloof speel en die ondersteuning van inklusiewe ekonomiese ontwikkeling. Die Kabinet is vol vertroue dat Telkom, onder leiding van die groep-hoofuitvoerende beampte, mnr. Serame Taukobong en die raad van direkteure, veerkragtig sal bly te midde die huidige moeilike ekonomiese toestande.

3.    Gesamentlike stryd teen onwettige dwelmoperasies en -sindikate
3.1    Die Kabinet prys die grensbestuursowerheid, die Valke, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se K9-eenhede en alle ander wetstoepassingsagentskappe wat by die intelligensie-gedrewe onderskepping van ʼn dwelmbesending ter waarde van nagenoeg R1 miljard by die Beitgrug-grenspos betrokke was.
3.2    Die gekoördineerde operasie op 27 Mei 2026 het tot die onderskepping van ʼn trok vanuit Zimbabwe na Suid-Afrika gelei. ʼn Uitgebreide fisiese deursoek het gelei tot die ontdekking van nagenoeg 713 000 gram metakaloon, beter bekend as ABBA, wat gebruik word in die vervaardiging van Mandrax. 
3.3    Hierbenewens het die Kabinet die SAPD geprys vir die inhegtenisname van 11 verdagtes, insluitend vier Meksikaanse burgers, na aanleiding van die ontdekking van ʼn multimiljoen-rand dwelmvervaardiginglaboratorium op ʼn plaas in Swartruggens in die Noordwes-provinsie.

4.    Suid-Afrika steun die kontinentale stryd teen Ebola
4.1    Die Kabinet ondersteun die land se belofte van ʼn bydrae ter waarde van US$5 miljoen tot ʼn kontinentale gereedheids- en reaksieplan van US$319 miljoen, na aanleiding van die Ebola-uitbraak wat in die Demokratiese Republiek van die Kongo en Uganda gewoed het.
4.2    Hoewel die uitbraak deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) as ʼn openbare gesondheidsnoodtoestand van internasionale kommer verklaar is, is daar tans geen rede tot kommer in Suid-Afrika nie. Ebola is nie endemies tot Suid-Afrika nie en mens-tot-mens-oordrag geskied deur direkte kontak met die liggaamsvloeistowwe van 'n besmette, simptomatiese persoon.

5.    Suid-Afrika-Botswana bi-nasionale kommissie 
5.1    Suid-Afrika en Botswana het die 6e bi-nasionale kommissie (BNK) suksesvol afgesluit tydens President Cyril Ramaphosa se onlangse twee-dae-lange staatsbesoek aan Botswana. 
5.2    Die BNK het die sterk en historiese bilaterale verhouding tussen die twee lande herbevestig en samewerking in sleutelareas soos wetenskap, tegnologie, innovering, handel, toerisme en streeksontwikkeling bevorder. 
5.3    Die BNK het geëindig met die ondertekening van vier nuwe bilaterale instrumente wat gemik is op die bevordering van volhoubare ekonomiese groei en streeksintegrasie, bykomend tot die 28 regsinstrumente wat reeds implementeer word. 
5.4    Die vier nuwe bilaterale instrumente is as volg: ʼn memorandum van ooreenkoms oor die gesamentlike bestuur van watergehalte en akwatiese indringerspesies in die bo-Limpopo-stroomgebied; ʼn ooreenkoms oor samewerking van lugvaart-soek-en-reddingsdienste; ʼn ooreenkoms oor samewerking op die gebied van energie; en ʼn memorandum van ooreenkoms op die gebied van korrektiewe en gevangenisdienste.

6.    Kenya-staatsbesoek (inkomend)
6.1    President Ramaphosa was gasheer vir Sy Eksellensie President William Ruto van die Republiek van Kenia tydens sy staatsbesoek aan Suid-Afrika van 3 tot 5 Junie 2026, op uitnodiging van President Ramaphosa. 
6.2    Hierdie staatsbesoek bevorder handel, belegging en samewerking, met ses ooreenkomste wat by die Uniegebou in Tshwane onderteken is. 
6.3    Die volgende memorandums van ooreenkoms is onderteken: fasilitering van handel deur samewerking op die gebiede van standaardisasie, tegniese regulering, ooreenstemmingsbeoordeling, akkreditasie en metrologie; skeepvaart en maritieme samewerking; tegniese en beroepsonderwys en -opleiding; bevordering van vennootskap vir geslagsgelykheid en vrouebemagtiging; kuns, kultuur en erfenis; en sport en ontspanning.
6.4    Die staatsbesoek het ʼn besigheidsforum ingesluit bestaande uit die private sektore van Suid-Afrika en Kenia, waar deelnemers inligting en ervarings in die sake-omgewing gedeel het en geleenthede om wedersydse handel en belegging te verbeter, verken het.

7.    Adjunkpresident se werksbesoek aan Indië
7.1    Adjunkpresident Shipokosa Paulus Mashatile het ʼn werkbesoek na New Delhi in Indië onderneem.
7.2    Die besoek het samewerking in multilaterale forums soos die Verenigde Nasies, BRICS en die G20 versterk en samewerking in handel, belegging, navorsing en oordrag van tegnologie verbeter, terwyl kleinsakeondernemings ook ondersteu word. 
7.3    Die Adjunkpresident het ʼn bilaterale vergadering met vise-president CP Radhakrishnan bygewoon en ʼn hoflikheidsbesoek aan Haar Eksellensie Me. Smt. Droupadi Murmu, president van die Republiek van Indië onderneem.

B.    Kabinetsbesluite

1.    Omvattende benadering tot die bestuur van migrasie in Suid-Afrika
1.1    Die Kabinet het ʼn omvattende benadering tot migrasie in Suid-Afrika, wat deur die Interministeriële Komitee vir Migrasie ontwikkel is, ontvang en goedgekeur is. Die nasional aksieplan se landverslag oor migrasie in Suid-Afrika is ook goedgekeur. 
1.2    Die President sal die nasie oor hierdie saak toespreek.

2.    Gewysigde Nywerheidsontwikkelingstrategie
2.1    Die Kabinet het die gewysigde Nywerheidsontwikkelingstrategie (IDS) vir implementering goedgekeur.’Die strategie is by wyse van breedvoerige konsultasie ontwikkel en fokus op die hoë-impak, inklusiewe industrialisasie van Suid-Afrika se ekonomie. Die strategie is belyn met die beleidsprioriteite van die sewende administrasie en rus op drie sleutelpilare om industriële groei en transformasie aan te dryf, naamlik dekarbonisering, digitalisasie en diversifisering. 
2.2    Die IDS prioritiseer sektore wat krities tot industrialisasie is, insluitend die beskerming van strategiese nywerhede soos die staalbedryf, die outomotiewe bedryf, vervaardiging en mynwese. Dit bevorder ook uitbreiding in toekomstige groei-areas insluitend landbouverwerking, die digitale ekonomie en die groen ekonomie. Hierbenewens teiken die strategie ook sektore met sterk potensiaal vir ekonomiese groei en werkskepping, veral vir jongmense, insluitend toerisme en globale handelsdienste. 
2.3    Die IDS sal na verwagting elke jaar duisende werkgeleenthede skep, met ʼn sterk fokus op vaardigheidsontwikkeling en die voorbereiding van werklose mense vir hoë-aanvraagsektore soos hernubare energie en vervaardiging. ʼn Komitee bestaande uit ministers met die President as voorsitter, sal toesig hou oor die implementering van die strategie om gekoördineerde lewering en impak te verseker.
2.4    Die volle dokument is beskikbaar op die dtic-webwerf: www.thedtic.gov.za.

3.    Sluiting van die Gauteng-snelwegverbeteringsprojek (GFIP)
3.1    Die Kabinet keur goed dat Sanral die sluiting van die GFIP implementeer, insluitend die ordelike resolusie van die Outa-litigasie, die behandeling van enige oorblywende litigasieblootstelling en die sluiting van alle sake wat verband hou met die verhaling van historiese e-tolskuld.
3.2    Dit volg na die regering se besluit om die elektroniese tolstelsel van die GFIP, wat op 12 April 2024 in werking getree het, te staak. 
3.3    Die Kabinet neem kennis van Sanral se aanbevelings dat die skuld van padgebruikers wat nie betaal het nie, afgeskryf moet word, dat die Nasionale Tesourie hierdie skuld sal delg en dat padgebruikers wat wel tolgelde betaal het nie terugbetaal sal word nie, aangesien dit destyds die wet was.


4.    Halfjaarlikse vorderingsverslae oor die mediumtermyn strategiese raamwerk
4.1    Die Kabinet het die halfjaarlikse vorderingsverslae oor die implementering van die 2024-2029 mediumtermyn-ontwikkelingsplan (MTOP) vir die tydperk Oktober 2025 tot Maart 2026 ontvang en oorweeg. Die verslae lewer ʼn oorsig van departementele prestasie teenoor die regering se nasionale prioriteite met die klem op sleutelprestasies, vordering wat gemaak is en implementeringsuitdagings. 
4.2    Die Kabinet neem kennis van goeie vordering met die implementering van die MTOP insluitend sleutelprioriteite.
4.3    Die Minister van Beplanning, Monitering en Evaluering saam met voorsitters van die kabinetsklusters sal weldra verdere besonderhede oor die halfjaarlikse vorderingsverslae vir die tydperk Oktober 2025 tot Maart 2026 bekend maak. Die GCIS sal ook die besonderhede van die inligtingsessie bekend maak.

5.    Onttrekking van die konsepbeleid vir kunsmatige intelligensie
5.1    Die Kabinet het die onttrekking van die konsepbeleid vir kunsmatige intelligensie (AI) wat in Maart 2026 vir openbare kommentaar goedgekeur is, goedgekeur. Die onttrekking bied ’n geleentheid vir hersiening van die KI-beleid om te verseker dat die beoogde doelwitte bereik word en dat dit nasionale standaarde vir die gebruik van kunsmatige intelligensie vasgestel kan word.

C.    Wetsontwerp

1.    Wetsontwerp vir die Herroeping van Sekere pre-1994 Regswetgewing, 2026
1.1    Die Kabinet het die inhandiging van die Wetsontwerp vir die Herroeping van Sekere pre-1994 Regswetgewing, 2026 aan die Parlement vir verdere oorweging goedgekeur. Die wetsontwerp het ten doel om verouderde koloniale en apartheidsera-wetgewing wat nie meer met die waardes van die demokratiese grondwetlike orde belyn is nie en nie meer ʼn praktiese doel dien nie, te hersien en herroep. 
1.2    Sodra dit deur die Parlement gefinaliseer is, sal die wetsontwerp 149 stukke apartheidsera-regswetgewing wat van krag gebly het en steeds toegepas is, selfs in die demokratiese era, herroep. Die Departement van Geregtigheid en Konstitusionele Ontwikkeling het werk reeds aan die herroepingsproses van bykomende apartheidsera-regswetgewing.

D.    Opdaterings aan die Kabinet

1.    Aanbied van die SAOG-spitsberaad 2026
1.1    Die Kabinet is ingelig oor Suid-Afrika se voorbereidings om die 46e Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG)-spitsberaad op 16 en 17 Augustus 2026 aan te bied. Die beraad sal die begin van Suid-Afrika se 12-maande-ampstermyn as voorsitter van die SAOG aandui. ʼn Wegbreekgeleentheid vir SAOG-buitelandse ministers het van 22 tot 24 Mei by Skukuza in Mpumalanga plaasgevind, waar afgevaardigdes strategieë om samewerking regoor die streekte te versterk, bespreek het.
1.2    Tydens die wegbreeknaweek is daar oor vyf tematiese kwessies beraadslaag, naamlik finasiering; streeksintegrasie; beleggings; bestuur van openabre skuld en van plaaslike inkomstemobilisering, industrialisasie, wardekettings en handel; asook infrastruktuur, vervoer en logistiek en die vrye beweging van mense, goedere en dienste; energie, olie, gas en minerale hulpbronne; en landbou, landbou-insette, verskaffingskettings, markte en voedselsekerheid. Prioriteitsmaatreëls vir gesamentlike aksie is ook identifiseer.
1.3    Die aanbied van die SAOG-spitsberaad asook die voorsitterskap is van kritiese belang, aangesien dit Suid-Afrika in staat sal stel om strukturele ekonomiese transformasie in die streek te lei, industrialisasie aan te dryf en politieke sowel as ekonomiese integrasie regoor die streek ʼn hupstoot te gee.

2.    Die Nasionale Konvensionele Wapenbeheerkomitee (NCACC) se jaarverslag en verslag vir kwartaal 1
2.1    Die Kabinet het ʼn verslag ontvang oor die NCACC se jaarverslag asook die eerste kwartaallikse verslag van 2026 oor gemagtigde oordrag van konvensionele wapens. 
2.2    Vir die jaar geëindig Desember 2025 het die NCACC 582 ammunisie-uitvoerpermitte ter waarde van R10 miljard gemagtig, asook 197 registrasiesertifikate en 183 kontrakteringspermitte ter waarde van R41 miljard. 
2.3    In hierdié tydperk is daar altesaam 366 goedgekeurde ammunisie-uitvoerpermitte ter waarde van R269 miljoen toegestaan, terwyl 132 permitte vir dubbele gebruik ter waarde van R600 miljoen goedgekeur is. Suid-Afrika het toerusting ter waarde van R269 miljoen ingevoer.
2.4    Die verslag meld voorts dat daar in 2025 5% meer maatskappye geregistreer het as in 2024.

3    Rasionalisering van howe
3.1    Die Kabinet is ingelig oor die werk wat onderneem is met die rasionalisering van jurisdiksie-areas van die hooggeregshof se afdelings en die implementering van die onmiddelike aanbevelings van die rasionalisasiekomitee rakende die landdrosdistrikte en subdistrikte waaroor die hoof en plaaslike setels van die afdelings van die hooggeregshof jurisdiksie sal uitoefen. Dit het ten doel om toegang tot geregtigheid te verbeter deur die gefaseerde benadering tot die vermeerdering van geregtelike poste te ondersteun om kapasiteitsbeperkings die hoof te bied, en om bykomende setels in geïdentifiseerde afdelings te vestig. 
3.2    Minister Mmamoloko Kubayi sal volgende week verdere besonderhede oor hierdie saak verskaf en die GCIS sal weldra besonderhede oor die inligtingsessie verskaf.

E.    Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike sekuriteitsklarings.

1.    Mnr. Bongikhaya Dayimani as direkteur-generaal in die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling.
2.    Me. Gcobisa Joyce Soci as adjunkdirekteur-generaal (ADG) vir administrasie in die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë.
3.    Mnr. Dick Andries Sono as ADG vir digitale infrastruktuur en tegnologieë in die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë.
4.    Me. Jeanette Morwane Mmatsiate as ADG vir media en inhoud in die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë

5.    Raad van die Uitvoer-kredietversekeringskorporasie van Suid-Afrika (ECIC)
a.    Mnr. Sipho Bhanisi as verteenwoordiger van die Nasionale Tesourie

6.    Aanstelling van bykomende lede tot die Suid-Afrikaanse Raad vir die Nie-proliferasie van Wapens vir Massavernietiging 
a.    Ambassadeur Tebogo Seokolo (ondervoorsitter en verteenwoordiger van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking); en
b.    Dr. Praise Sibuyi (verteenwoordiger van die Staatsveiligheidsagentskap)

7.    Aanstelling van die raad van die Suid-Afrikaanse Poskantoor
c.    Me. Regina Sizakele Madlala (voorsitter);
d.    Me. Margarete Mosibudi Phiri (ondervoorsitter);
e.    Mnr. Vuyo Mafata;
f.    Me. Tanya van Meelis;
g.    Me. Mantombi Lekhuleni;
h.    Adv. Mthokozisi Daluxolo Xulu;
i.    Dr. Mduduzi Justice Kennedy Bophela;
j.    Mnr. Charley Fred Chain;
k.    Mnr. David Mangena; en
l.    Mnr. Khonanjalo Buthelezi.

F.    Toekomstige gebeure

1.    Bekendstelling van Lenacapavir
1.1    President Ramaphosa, gesteun deur die Minister van Gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, sal die inwerkingstelling van Lenacapavir, ʼn baanbreker-langwerkende MIV-voorkomingsinspuiting wat twee maal per jaar toegedien word, bekendstel. 
1.2    Hierdie ingryping verhoog MIV-voorkomingsopsies, veral vir mense wat sukkel om daaglikse mondelikse MIV-voorkomingspille te drink. Die bekendstelling van hierdie medikasie vorm deel van Suid-Afrika se kombinasie-MIV-voorkomingstrategie, wat gemik is op die vermindering van nuwe besmettings en die verbetering van lewensgehalte. 
1.3    Die bekendstelling sal op Vrydag 5 Junie 2026 by die Lilian Ngoyi-stadion in Secunda, Mpumalanga plaasvind.

2.    Jeugmaand
2.1    Hierdie maand vier ons die historiese 50e herdenking van die 1976-opstand in Soweto; dit is ʼn kragtige herinnering aan die geweldige opoffering van ons jongmense in die stryd vir vryheid, geregtigheid en gelykheid. 
2.2    Om die blywende nalatenskap van die jeug van 1976 te vereer, sal Jeugmaand onder die tema: RESET@50 – Die toekoms wink herdenk word. Ter viering van die mylpaal sal die regering ʼn jaarlange program bekendstel gemik op die oorbrugging tussen die historiese bevrydingstryd en hedendaagse jeugbemagtiging. Die program sal hoofsaaklik fokus op gelyke onderwys, inklusiewe ekonomiese deelname, vaardigheidsontwikkeling en aktiewe burgerskap.
2.3    Die Kabinet doen ʼn beroep op alle sektore van die samelewing om aan ingrypings wat jeugindiensneming aandryf, entrepreneurskap ʼn hupstoot gee en hoop aan jongmense terugbesorg te werk. Deur hierdie gesamentlike pogings sal die nasie voortgaan om jeugdeelname in nasiebou en ekonomiese transformasie te ondersteun.

3.    Herdenking van die vryheidsmylpale 
3.1    Op 18 Junie 2026 sal die regering die veldtog Mylpale van Vryheid by die Uniegebou in Pretoria van stapel stuur met die tema: “Vereer die verlede. Lewer die die toekoms.” 
3.2    Die Kabinet ondersteun die bekedstelling van die 70e herdenking van die Vrouemars in 1956 wat deel vorm van die nasionale Mylpale van Vryheid-veldtog se geleenthede; dit sal die begin wees van ʼn nasionale program van aktiwiteite om die historiese 1956-Vrouemars te gedenk.

4.    Gedenksirkulasiemunte 
4.1    Die Kabinet het die omgekeerde ontwerpe van die gedenksirkulasiemunte wat in 2026 deur die Reserwebank uitgereik sal word, onder die tema van onderwys, goedgekeur. Die reeks sal R2-muntstukke insluit wat die 125e herdenking van struggle-staatmaker Charlotte Maxeke se gradeplegtigheid gedenk, waar sy die eerste swart Suid-Afrikaanse vrou was om ʼn universiteitsgraad te ontvang. 
4.2    R2-gedenkmunte sal ook deur die Reserwebank uitgereik word om die 50e herdenking van die 1976 Soweto-opstand te gedenk, om die 30e herdenking van die Grondwet van Suid-Afrika te vier en om die 70e herdenking van die geskiedkundige vrouemars in 1956 na die Uniegebou te gedenk. Die R5-muntstukke sal oor dieselfde motiewe as die R2-muntstukke beskik. Hierdie herdenkings beklemtoon die rol van onderwys in die bevordering van grondwetlike waardes asook maatskaplike en ekonomiese deelname.

5.    Kiesersregistrasienaweek vir 2026 plaaslike regeringsverkiesing 
5.1    Die Kabinet herinner alle stemgeregtigde burgers om te registreer vir die opkomende plaaslike regeringsverkiesings op 4 November 2026. 
5.2    Die eerste kiesersregistrasienaweek word op Saterdag 20 Junie 2026 en Sondag 21 Junie 2026 gehou. Kiesers kan by hul naaste kiesersregistrasiepunt registreer of deur registertovote.elections.org.za te besoek, of deur hul plaaslike verkiesingskommissie se kantore tydens kantoorure te besoek.
5.3    Landsburgers word daaraan herinner dat hulle slegs kan stem waar hulle geregistreer is. Hulle  kan vasstel waar hul aangewese stemlokaal is by: maps.elections.org.za/vsfinder.
5.4    Die Kabinet doen ʼn beroep op veral jongmense om aktief aan die toekoms van hul gemeenskappe vorm te gee deur aan die verkiesings deel te neem.

6.    Sassa-kaarte
6.1    Die Kabinet doen ’n beroep alle begunstigdes van maatskaplike toelaes wat Gold-kaarte gebruik om dit so gou as moontlik met die nuwe Postbank Black-kaart voor die sperdatum van 31 Augustus 2026 te vervang,. 
6.2    Die vervangingsproses is gratis en kan voltooi word by aangewese Postbank-dienspunte by deelnemende kleinhandelafsetpunte regoor die land.

G.    Boodskappe

1.    Medelye
Die Kabinet spreek hul diepste medelye uit met die vriende en familie van:

•    Gerespekteerde joernalis, Baldwin Ndaba, wie se uitnemende loopbaan oor baie jare gestrek het. Hy sal onthou word vir sy liefde vir ons land, sy professionalisme en sy verbintenis tot die waarheid.
•    Ma Griet Margaret Messelaar, die matriarg van die Griqua-koningshuis wat op die merkwaardige ouderdom van 106 jaar oorlede is. Sy sal onthou word as ʼn kampvegter vir die Griqua-taal en -erfenis asook vir haar besondere waardigheid en wysheid. 
•    Me. Dina en mnr. Ernest Marais, die egpaar wat onlangs in die Kruger Nasionale Park vermoor is. Die Kabinet prys die SAPD en ander wetstoepassingsagentskappe vir die spoedige inhegtenisneming van die verdagtes in hierdie moorde.

2.    Gelukwense
Die Kabinet het gelukgewense en voorspoed oorgedra aan:

•    Die nasionale sokkerspan, Bafana Bafana, waar hulle die land verteenwoordig by die 2026 FIFA-wêreldbekerkampioenskap in die VSA. Die Kabinet wens die span sterkte, eenheid en sukses toe op die wêreldverhoog. Maak die nasie trots! 
•    Mamelodi Sundowns (Masandawana, Kabo Yellow) wat as 2026 CAF-kampioene bekroon is. Die span het ons nasie trots gemaak op die kontinentale verhoog en weereens hul status as ʼn reus in Afrika-sokker bevestig.
•    Orlando Pirates (die Bucaneers, Zimnyama Ngenkani) wat as die 2026 PSL-kampioene bekroon is. 
•    Ikoniese Suid-Afrikaanse DJ Black Coffee vir sy uitverkoopte optrede by Londen se 20 000-kapasiteit O2-arena; hy is die eerste DJ uit Afrika wat hierdie prestasie bereik. Black Coffee en sy generasie Suid-Afrikaanse DJs het daartoe bygedra om Suid-Afrikaanse dansmusiek aan hoofstroom-gehore regoor die wêreld bekend te stel en hy het al by ikoniese venues soos Ibiza, Coachella en Madison Square Garden gespeel.

Navrae: 
Die Regering se Kommunikasie- en Inligtingstelsel (GCIS)
Kontak: Me. Nomonde Mnukwa, waarnemende Direkteur-Generaal
Selfoon: 083 653 7485

 

Share this page

Similar categories to explore