A. KWESSIES IN DIE OMGEWING
1. Ekonomiese standvastigheid in aksie
1.1. Transnet Vragspoor prestasieverslag – eerste kwartaal
1.1.1. Transnet Vragspoor (TFR) het in die eerste kwartaal van die 2026/27 finansiële jaar ʼn rekordverbetering van 4.4% jaar-op-jaar behaal. TFR het die kwartaal afgesluit met ʼn voltooide 42.0 miljoen ton, in vergelyking met 40.2 miljoen ton die vorige jaar.
1.1.2. Wat veral noemenswaardig is, is dat TFR hierdie prestasie behaal het ondanks die bekendstelling van ʼn bykomende beplande instandhouding-afsluitydperk van elf dae op die ysterertsspoorlyn. Desnieteenstaande het TFR ʼn hoër volume tonnemaat vervoer, wat ʼn merkbare verbetering in operasionele doeltreffendheid en verwerkingstempo toon.
1.2. Motorbedryfbelegging
1.2.1. Die Kabinet verwelkom Toyota South Africa se R10,4-miljard belegging in die maatskappy se Prospecton-aanleg in eThekwini om die negende generasie Hilux te vervaardig. Die belegging versterk die motorvoertuigsektor, ondersteun nagenoeg 27 000 poste regoor die verskaffersnetwerk en onderhou meer as 4 300 direkte monteringsposte – met verwysing na die werknemers wat by Toyota se Prospecton-aanleg werk.
1.2.2. Dit is ’n groot groot kapitaalinspuiting, saam met die Chery-groep se onlangse aankoop en vernuwing van die voormalige Nissan-vervaardigingsaanleg in Rosslyn, Gauteng. Die Chery-groep het aangekondig dat hulle die Chery-, Jaecoo- en Jetour-handelsmerke by die Rosslyn-aanleg, wat pas aangekoop is, sal vervaardig.
1.2.3. Aanvanklike vervaardiging is geskeduleer om middel-2027 te begin, met operasionele kapasiteit wat die daaropvolgende jaar sal verhoog om ʼn jaarlikse uitset van 15 000 eenhede te bereik.
1.2.4. Die Chery-groep se aankoop verseker 692 vervaardigingsposte en sal na verwagting byna 3 000 direkte en indirekte werksgeleenthede regoor logistieke, ingenieurs-, verskaffingskettings- en ondersteuningsdienste skep.
1.2.5. Hierdie langtemynverbintenisse verstewig opwartseSuid-Afrika se posisie as ʼn robuuste vervaardigings- en streeksuitvoersentrum.
1.3. IMF se opwaaartse groeiherieening vir Suid-Afrika
1.3.1. Die Kabinet verwelkom die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se opgedateerde makro-ekonomiese vooruitskatting, wat Suid-Afrika se geprojekteerde groei in bruto binnelandse produk (BBP) opwaarts hersien het tot 1.1%. Die Kabinet neem kennis dat hierdie positiewe aanpassing ʼn stabiliserende plaaslike ekonomie weerspieël wat voortdurende veerkragtigheid aandui.
1.3.2. Hoewel die opwaartse hersiening van Suid-Afrika se ekonomiese groeivooruitskatting matig bly, weerspieël dit toenemende vertroue in die land se ekonomiese herstelpogings ondanks swakker globale groei en geopolitiese spanning in die Midde-Ooste.
1.4. Implementering van Fase 2 van die Gedigitaliseerde Vertroude Werkgewerskema (TES)
1.4.1. Die Kabinet verwelkom die amptelike bekendstelling van Fase 2 van die Gedigitaliseerde Vertroude Werkgewerskema (TES) om die prosessering van visums vir geverifieerde werkgewers te versnel sonder om nasionale sekuriteit of immigrasiebeheer in gevaar te stel. Daar word van kwalifiserende werkgewers verwag om betekenisvolle plaasllike belegging te bewys, die indiensneming van Suid-Afrikaanse burgers en permanente inwoners te prioritiseer, in plaaslike vaardigheidsontwikkeling te belê en ekonomiese sektore met prioriteit te belyn.
1.4.2. Die toegewysde aanlynportaal vir TES-aansoeke se Fase 2 – "Home Affairs @ home" – is deel van die regering se groter digitale transformasiestrategie. Hierdie digitale portaal sal uiteindelik omskep word in die land se volle Elektroniese Reismagtiging-ekostelsel (ETA).
1.4.3. Kwalifiserende wekgewers word genooi om verklarings van belangstelling tussen 20 Julie 2026 en 4 September 2026 in te dien.
2. Bou sterker streeksekonomieë (SAOG)
2.1. Suid-Afrika is gereed om die SAOG-spitsberaad aan te bied
2.1.1. Die Kabinet is verseker van Suid-Afrika se gereedheid om die 46ste Gewone Spitsberaad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se Staats- en Regeringshoofde suksevol van 16 tot 17 Augustus by Durban se Internasionale Konferensiesentrum, KwaZulu-Natal aan te bied.
2.1.2. As deel van die SAOG-spitsberaad se voorbereidingsaktiwiteite tree Suid-Afrika as gasheer op vir die 2026 SAOG-industrialisasieweek van 27 tot 31 Julie 2026 by Durban se Internasionale Konferensiesentrum. Die geleentheid sal beleidmakers, sakeleiers, beleggers, akademici, navorsers en ontwikkelingsfinansiers van regoor die streek en verder, byeenbring om nywerheidsontwikkeling te bevorder.
2.1.3. Die SAOG se Industrialisasieweek ondersteun die SAOG se industrialisasiestrategie en padkaart (2015–2063), wat op drie pilare geskoei is, naamlik industrialisasie, mededingendheid en streeksintegrasie.
2.1.4. Vanjaar se fokus sluit in die ontwikkeling van streekswaardekettings in agri-prosessering, farmaseutiese produkte, verbruikersgoedere en kritieke mineralebegunstiging, asook infrastruktuurontwikkeling in energie, vervoer, water en inligtings- en kommunikasietegnolgie (IKT).
2.2. Vermindering van transaksiekoste binne die SAOG
2.2.1. Die Kabinet het die Suid-Afrikaanse Reserwebank gelukgewens met die uitbreiding van die SAOG intydse bruto vereffening (SAOG-RTGS)-stelsel, met die insluiting van die Angolese kwanza as die tweede vereffeningsgeldeenheid, naas die Suid-Afrikaanse rand.
2.2.2. Die SADC-RTGS-stelsel het ten doel om transaksieskoste vir oorgrenshandel in die streek te verminder deur die fasilitering van plaaslike geldeenhede, wat deur die Reserwebank namens deelnemende sentrale banke in die SAOG bedryf sal word.
2.2.3. Die insluiting van die Angolese kwanza as ʼn vereffeningsgeldeenheid in die SADC-RTGS-stelsel is ʼn betekenisvolle mylpaal in die bevordering van groei in die streeksekonomie deur die vermindering van transaksiekoste.
2.3. SA-Namibië Bi-nasionale Kommissie
2.3.1. Die Kabinet verwelkom die suksesvolle afsluiting van die 4e SA-Namibië Bi-nasionale Kommissie (BNK) wat op 17 Julie 2026 in Pretoria plaasgevind het. Haar Eksellensie dr. Netumbo Nandi-Ndaitwah, President van die Republiek van Namibië, en Sy Eksellensie President Cyril Ramaphosa was medevoorsitters van die BNK.
2.3.2. Die BNK het die strategiese aard van Suid-Afrika-Namibië verhoudinge en gevorderde samewerking tussen die twee lande in prioriteitsektore herbevestig. Die verbintenis tot nouer samewerking in die eksplorasie en benutting van natuurlike hulpbronne, wat ekonomiese ontwikkeling en groei in albei lande sal ondersteun, is van besondere belang.
2.3.3. Die twee presidente het die ondertekening van sewe bilaterale ooreenkomste en instrumente van samewerking tussen hul lande verwelkom.
2.4. US$13 miljoen noodtoelae vir pogings om die Ebola-virus in Afrika te bekamp
2.4.1. Die Kabinet verwelkom die goedkeuring van US$13 miljoen in noodtoelaes deur die Afrika-ontwikkelingsbankgroep (AfDB) vir pogings om die uitbreek van die Ebola-virus in die Demokratiese Republiek die Kongo, Oeganda en Suid-Soedan te bekamp, deur nasionale noodreaksies te versterk, die verspreiding van die virus te bekamp en sterftes en siekte in gemeenskappe wat die meeste hierdeur geraak word en die weerlooste is, te verminder.
2.4.2. Hierdie befondsing is na aanleiding van beroepe deur President Ramaphosa in sy kapasiteit as die Afrika-unie se kampvegter vir pandemie-voorkoming, gereedheid en reaksie, vir sterker solidariteit in Afrika, dringende humanitêre ondersteuning en groter belegging in Afrika-geleide gesondheidsinnovering.
3. Oos, wes, tuis bes – Suid-Afrikaners wat terugkeer sal altyd welkom wees
3.1. Die Kabinet neem kennis van aantygings dat wit Suid-Afrikaners wat gekies het om hul in die Verenigde State van Amerika (VSA) te gaan hervestig onder die onwaarheid van ʼn wit volksmoord in Suid-Afrika, visums in daardie land geweier is.
3.2. Die Kabinet her weereens benadruk dat Suid-Afrikaners, ongeag hul politieke sienings, altyd welkom sal wees en ʼn tuiste in hierdie land sal hê, sonder vrees vir politieke vervolging en onderdukking in ooreenstemming met die wette van die Republiek.
3.3. Die Kabinet erken dat Suid-Afrika steeds baie sosio-ekonomiese uitdagings in die gesig staar wat alle Suid-Afrikaners raak, ongeag ras of geslag. Hierdie uitdagings moet die hoof gebied word deur ʼn gesamentlike poging deur almal in Suid-Afrika, wat die regering, politieke partye, vakbonde, die sakesektor, die burgerlike samelwing en individuele Suid-Afrikaners insluit. Die gesamentlike pogings moet erkenning gee aan die voortdurende impak van die nalatenskap van die apartheidsregering en die behoefte om die onreg van die verlede reg te stel.
3.4. Die Kabinet doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om steeds diegene te verwerp wat probeer om die vrugte van ons vryheid om te keer deur rassemobilsering, en om hulle weereens te verbind aan die doelwit om ʼn verenigde, nie-rassige en voerspoedige Suid-Afrika te bou
4. Tradisionele inisiasie in die 2026-winterseisoen
4.1. Die Kabinet spreek sy diepe besorgdheid uit oor die voortdurende lewensverlies en ander ontwrigtende gebeure wat tydens die 2026 winterseisoen se tradisionele inisiasie aangemeld is.
4.2. Die Kabinet dra sy diepe medelye oor aan die families van die 47 inisiasiekandidate wat tydens die 2026-winterseisoen se tradisionele inisiasietydperk gesterf het en wens diegene wat beseer is of steeds mediese sorg ontvang ʼn spoedige herstel toe.
4.3. Die Kabinet verwelkom ook die wetstoepassingsagentskappe se vinnige optrede om seker te maak dat diegene wat inisiasiewetgewing oortree het, verantwoordelik gehou word. Tot op hede is nagenoeg 161 strafsake geopen wat tot die inghegtenisname van 41 mense gelei het. Hierbenewens is 42 onwettige inisiasieskole gesluit en 181 inisiasiekandidate is gered, waarvan 93 gehospitaliseer is.
B. KABINETSBESLUITE
1. Geldigheidstydperk van rybewyse verleng van vyf (5) na tien (10) jaar
1.1. Die Kabinet het die verlenging van die geldigheidstydperk van rybewyse vir kodes A, A1, B en EB van vyf na tien jaar goedgekeur. Die tienjaar-hernuwingsperiode sal slegs op ligte motorvoertuie van toepassing wees. Swaar kommersiële voertuie en voertuie vir openbare vervoer sal onderhewig bly aan die bestaande twee- of vyfjaar-hernuwingsiklusse. Professionele bestuurspermittte sal ook die tweejaarlange hernuwingsiklus behou.
1.2. Hierdie verandering strook met intenasionale beste praktyk; dit verbeter administratiewe doeltreffendheid, verminder die gereeldheid vir die hernuwing van rybewyse vir motoriste en verlig diensaanvraagdruk binne die lisensiëringstelsel.
1.3. Die implementering van die verlengde geldigheidstydperk vereis wetgewende wysigings. Motoriste moet dus voortgaan om bestuurslisensies wat verval het te hernu totdat die nuwe wet in werking tree.
2. Hersiene beleid oor elektrisiteitspryse
2.1. Die Kabinet het die publikasie van die hersiene beleid oor elektrisiteitsprysevir openbare kommentaar goedgekeur. Die beleid het ten doel om die 2008 beleid oor elektrisiteitspryse op datum te bring om ontwikkelings in die elektrisiteitsvoorsieningsbedryf te weerspieël, insluitend deurlopende markhervormings wat voortspruit uit die ontbundeling van Eskom en die implementering van die Wysigingswet op Elektrisiteitsregulering, 2024.
2.2. Die beleid versterk die regulatoriese raamwerk wat elektrisiteitspryse, tariewe en heffings beheer, asook die verskaffing van tariefdeursigtigheid deur die ontbinding van tariewe oor opwekking, oordrag, verspreiding en kleinhandelsaktiwiteite; dit konsolideer dus op dié wyse die regulatoriese reëls vir die vasstelling van elektrisiteitsetariewe oor die verskillende prysraakvlakke tussen kragopwekkers, handelaars, die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika (NTCSA) en verspreiders.
2.3. Die beleid ondersteun die bekendstelling van koste-doeltreffende tariewe terwyl dit steeds kwesbare verbruikers en strategiese ekonomiese sektore beskerm.
3. Konsep-posisieskrif vir marktransformasie in die elektrisiteitsektor
3.1. Die Kabinet het die publikasie vir die konsep-posisieskrif vir marktransformasie in die elektrisiteitsektor vir openbare kommentaar goedgekeur. Die konsep-posisieskrif voorsien ʼn raamwerk om Suid-Afrika se oorgang van ʼn hoofsaaklik staatsbeheerde elektrisiteitstelsel na ʼn meer mededingende elektrisiteitsmark te lei, wat belyn is met die Wysigingswet op Elektrisiteitsregulering, 2024 en die Energie-aksieplan.
3.2. Die voorgestelde hervormings het ten doel om energiesekuriteit en -betroubaarheid te verbeter deur afhanklikheid van ʼn enkele elektrisiteitsverskaffer te verminder en groter deelname aan elektrisiteitsopwekking en -handel moontlik te maak. Die hervormings is ook daarop gemik om belegging in elektrisiteitsopwekking-, transmissie- en verspreidingsinfrastruktuur, die ondersteuning van werkskepping en ekonomiese groei, en die vermindering van elektrisiteitskoste oor die lang termyn te lok.
4. Hersiende Nasionale Padveiligheidstrategie (NRSS) 2026–2030
4.1. Die Kabinet het die hersiende nasionale padveiligheidstrategie (NRSS) 2026-2030 goedgekeur. Die hersiende strategie bou voort op die NRSS 2016-2030, wat daarop gemik is om padsterftes te verminder en belyn is met die Verenigde Nasies (VN) se Dekade van Aksie vir Padveiligheid en die Nasionale Ontwikkelingsplan.
4.2. Die hersiening is genoodsaak deur aanhoudende uitdagings, insluitend swak toepassing van verkeersreëls, kwesbaarhede vir korrupsie en gefragmenteerde uitvoering oor alle regeringsfere.
4.3. Die hersiende NRSS behels ʼn stelselwye hervormingsagenda wat op intelligensie-gedrewe verkeerswetstoepassing geskoei is, ʼn benadering van geen-verdraagsaamheid van korrupsie, digitaal-aangedrewe stelsels en versterkte beheer en koördinasie. Dit ondersteun globale padveiligheidsteikens en die sewende adminsitrasie se teiken om padsterftes teen 2029 met 45% te verminder.
5. Konsep-strategiese raamwerk vir water- en sanitasiedienste
5.1. Die Kabinet het die publikasie van die konsep strategiese raamwerk vir water- en sanitasiedienste vir openbare kommentaar vir ʼn tydperk van 60 dae goedgekeur.
5.2. Die gewysigde raamwerk stel sektorteikens, reageer op opkomende uitdagings en ontwikkelings en belyn die sektor met nasionale prioriteite en globale beste praktyk. Dit benadruk klimaatveerkragtigheid, omgewingsintegrasie, finansiële volhoubaarheid, stedelik-landelike kwesbaarheidsgapings, digitale transformasie en verbeterde sektorbeplanning en -lewering.
5.3. Die strategie is daarop gemik om sektorbestuur te versterk, beplanning en dienslewering te verbeter en die voorsiening van volhoubare, betroubare en billike water- en sanitasiedienste vir alle Suid-Afrikaners te ondersteun.
C. WETSONTWERPE
1. Wysigingswetsontwerp op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 2026
1.1. Die Kabinet het goedgekeur dat die Wysigingswetsontwerp op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture aan die Parlement voorgelê word. Die wysigingswet, algemeen bekend as die Koalisiewetsontwerp, het ten doel om ʼn duidelike wetgewingsraamwerk vir die vorm van koalisieregerings en meganismes te vestig en koalisie-verwante uitdagings in plaaslike regering te minimaliseer.
1.2. Die Kabinet het aanvanklik vroeg in 2024 die wetsontwerp vir openbare kommentaar goedgekeur. Na afloop van omvattende beraadslaging en verdere verfyning van die wetgewing, word die wetsontwerp nou aan die Parlement voorgelê vir oorweging. Die voorgestelde wysigings het ten doel om bestendige en verantwoordbare koalisieregering te bevorder, politieke onstabiliteit te verminder en ononderbroke dienslewering aan gemeenskappe te ondersteun.
2. Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake, 2026
2.1. Die Kabinet het goedgekeur dat die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake, 2026 aan die Parlement voorgelê word. Die wetsontwerp wysig die Wet op die Verkiesingskommissie, 1996; die Verkiesingswet, 1998; en die Plaaslike Regering: Munisipale Verkiesingswet, 2000, ter voorbereiding vir die 2026 plaaslike regeringsverkiesings. Die wysigings het ten doel om belyning te verseker en die raamwerk van die verkiesingswetgewing te versterk, die administrasie en bestuur van verkiesings te verbeter en die uitvoer van vrye, regverdige en geloofwaardige verkiesings te ondersteun.
3. Wetsontwerp op Sameswering, Opstoking en Aanhitsing tot ʼn Misdryf, 2026
3.1. Die Kabinet het die voorlegging van die Wetsontwerp op Sameswering, Opstoking en Aanhitsing tot ʼn Misdryf, 2026 aan die Parlement goedgekeur. Die wetsontwerp herroep die verouderde Wet op Oproerige Byeenkomste, 1956 en hervorm die regsraamwerk vir die straf van persone wat saamsweer, opstook of die pleeg van misdrywe aanhits. Dit vervang ongrondwetlike bepalings, belyn die wetgewing met die huidige grondwetlike orde en versterk terselfdertyd die regering se vermoë om gedrag wat die pleeg van misdrywe aanmoedig of fasiliteer, aan te spreek.
4. Wysigingswetsontwerp op Algemene (Mynbou-)wette, 2026
4.1. Die Kabinet het die publikasie van die Wysigingswetsontwerp op Algemene (Mynbou-)wette, 2026 vir openbare kommentaar goedgekeur. Die wetsontwerp het ten doel om die regsraamwerk te versterk om onwettige mynbedrywighede en verwante aktiwiteite die hoof te bied wat ʼn gevaar inhou vir openbare veiligheid, ekonomiese ontwikkeling en die volhoubare bestuur van die land se minerale hulpbronne. Dit stel wysigings voor aan die Wet op Diamante, 1986; die Wet op die Ontwikkeling van Mineraal- en Petroleumhulpbronne, 2002; en die Wet op Edelmetale, 2005. Die wysigings sluit in maatreëls om onwettige mynbedrywighede en verwante oortredings te kriminaliseer.
5. Wetsontwerp op die Regulering van Trusts, 2026
5.1. Die Kabinet het die publikasie van die Wetsontwerp op die Regulering van Trusts, 2026 vir openbare kommentaar goedgekeur. Die wetsontwerp het ten doel om die regsraamwerk vir trusts te moderniseer deur die verouderde Wet op die Beheer oor Trustgoed, 1988 te vervang. Dit sal verantwoordbaarheid en nakoming verskerp, die toesighoudende rol van die Meester van die Hooggeregshof verbeter en beter beskerming aan begunstigdes bied.
6. Wysigingswetsontwerp op Regspraktyk, 2026
6.1. Die Kabinet het die publikasie van die Wysigswet op Regspraktyk, 2026 vir openbare kommentaar goedgekeur. Die wetsontwerp het ten doel om die administratiewe strukture van die regsektor meer vaartbelyn te maak en om transformasie terselfdertyd te bevorder. Dit stel ook strukturele veranderings aan die Regspraktisyns-getrouheidsfonds voor om finansiële volhoubaarheid te versterk en openbare beskerming te verbeter. Die wetsontwerp stel ook wysigings aan verskeie bepalings van die Wet op die Regspraktyk, 2014 voor om die ontwikkeling en verbetering van vaardighede van regspraktisyns te ondersteun, toegang tot die regsprofessie te verbeter, toegang tot geregtigheid te bevorder en praktiese uitdagings wat na vore gekom het met die implementering van die Wet te verbeter.
7. Wysigingswetsontwerp op Algemene Finansiële Wetgewing, 2026
7.1. Die Kabinet het die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op Algemene Finansiële Wetgewing, 2026 aan die Parlement goedgekeur. Die wetsontwerp stel wysigings voor aan die die Wet op Regulering van die Finansiële Sektor, 2017 en die Wet op Openbare Verkryging, 2024.
7.2. Die wetsontwerp stel die insluiting van ʼn nuwe hoofstuk in die Wet op Regulering van die Finansiële Sektor, 2017 voor om plaaslike hervormings gemik op die verskerping van die bestuur van en regulering van amptelike finansiële maatstawwe te ondersteun. Dit stel ook wysigings aan artikel 68 van die Wet op Openbare Verkryging, 2024 voor om hervormings gemik op die verskerping van Suid-Afrika se finansiële en verkrygingsregsraamwerke, om sodoende toesig te verbeter en groter reguleringsekerheid te bevorder.
D. OPDATERINGS AAN DIE KABINET
1. Die regering se ingrypings om betroubare voorsiening van gehalte water aan alle Suid-Afrikaners te verseker
1.1 . Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die Nasionale Wateraksieplan, wat strategiese ingrypings uitstippel om betroubare voorsiening van water aan alle Suid-Afrikaners te verseker en die grondoorsake van watervoorsieningsuitdagings in die land die hoof te bied. Die plan is opgestel deur die Nasionale Waterkrisiskomitee, gelei deur President Ramaphosa in oorleg met die drie regeringsfere, insluitend die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering.
1.2 . Die Kabinet het die bekendstelling van die Nasionale Program vir die Versnelling van Watertoegang geprys. Die program is op internasionale Nelson Mandeladag op 18 Julie bekendgestel, saam met die uitrol van 67 gedesentraliseerde waterverskaffingskemas, bestaande uit boorgate en eenheidsaanlegte, om toegang tot veilige drinkwater in onbediende landelike gemeenskappe in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap uit te brei. Die 67 grondwateringrypings sal na verwagting ʼn beraamde 125 986 mense regoor die drie provinsies bevoordeel, met verdere implementeringsfases wat vir Oktober 2026 en April 2027 beplan word.
1.3 . Hierdie projekte verteenwoordig die eerste fase van die Departement van Water en Sanitasie se Nasionale Program vir die Versnelling van Watertoegang wat deur waterrade implementeer word onder die Wet op Waterdienste, 1997. Meer as R200 miljoen is aan fase 1 van die program toegeken, wat die boor van boorgate, grondwaterontwikkeling, bronbeskerming, reënwater-oes en rehabilitasie van bestaande waterinfrastruktuur insluit om toegang tot veilige drinkwater uit te brei.
1.4 . As deel van ʼn breër Openbare Beleggingsprogram vir Infrastruktuur het die regering vroeër vanjaar R156 miljard aan water- en sanitasie-infrastruktuur oor die volgende drie jaar toegeken. Hierdie belegging sal die uitbreiding en onderhoud van waterinfrastruktuur ondersteun, die betroubaarheid van voorraad verbeter en water- en sanitasie-uitdagings wat gemeenskappe beïnvloed, die hoof bied.
2. Vorderingsverslag oor die implementering van die omvattende benadering tot die bestuur van migrasie in Suid-Afrika
2.1 Die Kabinet is op die hoogte gebring oor die implementering van die omvattende benadering vir die versekering van reëlmatige migrasie in Suid-Afria, in lyn met die vyfpuntplan wat deur President Ramaphosa aangekondig is.
2.1.1 Op 23 Julie 2026 is 205 gevalle verwant aan die oortreding van immigrasie- en verwante wetgewing aangemeld en geregistreer as strafsake; ʼn toename van 103 wat in die eerste week van Julie 2026 aangemeld is.
2.1.2 Altesaam 54 mense is in hegtenis geneem, met die Vrystaat wat die hoogste getal van 174 inhegtenisnames aangemeld het, waarvan 107 sake reeds op die rol geplaas is.
2.1.3 Van1 April 2026 tot einde Junie 2026 het die howe 28 736 immigrasie-verwante sake gefinaliseer, hoofsaaklik ten opsigte van deportasies.
2.1.4 Tussen 14 Junie en 24 Julie 2026 is 68 327 ongedokumenteerde buitelandse burgers gerepatrieer deur gekoördineerde wetstoepassingsoperasies. Van hierdie 68 327 was 81% van Malawië; 16% van Zimbabwe en 3% van Mosambiek.
2.1.5 Die uitrol van die elektroniese reisigersmagtiging (ETA) en die opgegradeerde Verbeterde Bewegingsbeheerstelsel is onderweg by OR Tambo, Lanseria, King Shaka en Kaapstad internasionale lughawens.
2.1.6 Die Musina Tydelike Repatriasiesentrum sal afgeskaal word van die huidige aanhoudingskapasiteit van 20 000 mense tot 15 000 mense.
3. 26e Jaarverslag van die Kommissie vir Gelyke Indiensneming (CEE)
3.1 Die Kabinet het die Kommissie vir Gelyke Indiensneming se jaarverslag 2025/26 ontvang. Die verslag doen nasporing van transformasie in die werksplek en nakoming van die Wet op Gelyke Indiensneming, 1998.
3.2 Die 26e CEE-jaarverslag benadruk volhardende hiërargiese ongelykhede in die werkplek, met rasse- en geslagsongelykheid wat op seniorvlak in die private sektor voortduur.
3.3 Wit en Indiese bevolkingsgroepe bly oorverteenwoordig op topbestuursvlak, met onderskeidelik 57.1% en 12.2%. Op seniorbestuursvlak verteenwoordig Wit werknemers 44.1% en Indiese werknemers 12.5%. Swart en gekleurde werknemers bly gekonsenstreerd in die laer en ongeskoolde beroepsvlakke, terwyl die verteenwoordiging van werknemers met gestremdhede laag bly, teen 1.3% van die totale arbeidsmag.
3.4 Die verslag dui op ʼn toename in die verteenwoordiging van Swart werknemers in profesioneel-gekwalifiseerde-, middelvlakbestuur-, geskoolde tegniese en juniorbestuursvlakke, teen 52.0%, en ’n 3.1% verteenwoordiging van buitelandse burgers op alle vlakke. Daar is besorgdheid oor sulke verteenwoordiging in poste op geskoolde tegniese or bedrewe tegniese vlakke, wat moontlik in stryd kan wees met die Wet op Indiensnemingsdienste, 2014. Die wet bepaal dat werkgewers moet verseker dat daar nie ander persone in die Republiek is met die gepaste vaardighede om ʼn pos te vul voordat buitelandse burgers aangestel mag word nie.
3.5 Die regering sal voortgaan om van hierdie bevindinge gebruik te maak om transformasie te monitor, gelyke verteenwoordiging te bevorder en korrektiewe maatreëls regoor die arbeidsmark te lei.
4. Impak van spektrumlisensiëring op digitale infrastruktuur
4.1 Die Kabinet neem kennis van die verslag oor die impak van radiofrekwensie-spektrumlisensiëring op digitale infrastruktuur en konnektiwiteit in Suid-Afrika. Die lisensiëring van hoë-aanvraagspektrum het breëbandtoegang en netwerkprestasie verbeter, en ondersteun belegging in digitale infrastruktuur.
4.2 Die Kabinet is besorg dat die telekommunikasie-operateurs nie hul maatskaplike verpligtinge wat aan die spektrumtoewysing gekoppel is, nakom nie. Die regering het ʼn teiken gestel om 21 878 openbare instellings teen 2029 aan te sluit. Dit sluit in 16 139 skole, 4 232 gesondheidsfasiliteite, 570 biblioteke en 937 tradisionele owerhede. Teen April 2026, het telekommunikasie-operateurs slegs 5 295 openbare instellings van hulle sosiale verpligtinge aangesluit.
E. AANSTELLINGS
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike sekuriteitsklarings.
1. Mnr. Nkosikhona Sydney Mbatha as Hoofuitvoerende Beampte van die Kleinsake-ontwikkelings- en Finansieringsagentskap (Sedfa).
2. Me. Vangile Petronella Nene as Adjunkdirekteur-generaal vir professionele dienste in die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur.
3. Me. Beryl Ferguson as Voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parkeraad.
4. Aanstelling van nie-uitvoerende lede op die bestuursraad van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK)
(a) Mnr. Seiso Joel Mohai – Adjunkminister van Beplanning, Monitering en Evaluering as Voorsitter
(b) Me. Patience N.Z. Nqeto
(c) Me. Lebogang R. Mokgabudi
(d) Adv. Gatlelane Ouma Rasethaba
(e) Me. Vivien McMenamin
(f) Me. Bajabulile Swazi Tshabalala
(g) Mnr. Itani Mafune
(h) Me. Moipone Ramoipone – verteenwoordiger van die Nasionale Tesourie
Die aanstellings het ten doel om huidige bestuursuitdagings die hoof te bied. Die Minister van Finansies sal voortgaan om die hervormings by die OBK te dryf, soos aanbeveel deur die Regter Mpati-Kommissie, in oorleg met die Kabinet.
5. Aanstelling van die Raad vir Mineraaltegnologie (MINTEK) se bestuursraad
a. Dr. Thibedi Ramontja (Voorsitter) (heraanstelling)
b. Me. Azwindini Thomani (heraanstelling)
c. Dr. Takalani Madzivhandila (heraanstelling)
d. Mnr. Luvuyo Keyise
e. Dr. Faranna Boodrham
f. Dr. Palesa Ramashala
g. Me. Lerato Hilda Dikgole
h. Dr. Sandile Ncanana
i. Me. Nondumiso Ngonyama
j. Dr. Avela Majavu (heraanstelling)
k. Mnr. Kagiso Menoe (Verteenwoordiger van die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne).
F. GEBEURE EN KONFERENSIES
1. OPKOMENDE GEBEURE
1.1 . Afrika Lugvaart- en Verdedigingsuitstalling en Lugskou 2026
1.1.1 Die Kabinet het die aanbied van die 13e Afrika Lugvaart- en Verdedigingsuitstalling en Lugskou goedgekeur, onder die tema “Afrika se toegang tot verdediging- en lugvaartsamewerking”. Dit sal van 16 tot 20 September 2026 by die Waterkloof Lugmagbasis in Tshwane plaasvind.
1.1.2 Die uitstalling sal na verwagting meer as 300 uitstallers van regoor die wêreld lok, asook amptelike afgevaardigdes van meer as 50 lande en meer as 30 000 handelsbesoekers. Die geleentheid sal ook vooruitgang in die lugvaart en verdedigingsektore ten toon stel en internasionale samewerking, handel en belegging bevorder.
1.2 . Simposium oor Volhoubare Infrastruktuurontwikkeling Suid-Afrika 2026
1.2.1 Die Kabinet neem kennis dat Suid-Afrika gasheer sal wees vir die Simposium oor Volhoubare Infrastruktuurontwikkeling Suid-Afrika 2026 (SIDSSA) van 23 tot 25 Augustus 2026. Die geleentheid sal na verwagting ongeveer 700 afgevaardigdes lok.
1.2.2 Die simposium sal beleggers, finansiële instellings, beleidmakers, en ander startegiese vennote byeenbring om Suid-Afrika se agenda vir infrastruktuurbelegging te bevorder en om die vordering in die kabinet-goedgekeurde infrastruktuurplan 2050 ten toon te stel.
1.2.3 SIDSSA 2026 sal die top agt infrastruktuurprioriteitsprojekte wat in bodvenster 2 gekies is vir projekvoorbereiding en tegniese ondersteuning aankondig, die derde uitgawe van die “Construction Book” vrystel, ʼn opdatering oor die strategiese geïntegreerde projekte verskaf, sleutel beleids- en regulatoriese ontwikkelinge ten toon stel en strategiese infrastruktuurvennootskappe, gemik op die posisionering van Suid-Afrika as ʼn toonaangewende infrastruktuurontwikkelings- en finansieringspilpunt in die Afrika uitlig.
1.3 Vrouemaand: 70e herdenking van die 1956-vrouemars
1.3.1 Op 9 Augustus 2026 vier Suid-Afrika die historiese 70e herdenking van die 1956-vrouemars, waartydens meer as 20 000 vroue na die Uniegebou opgeruk het in protes teen die uitbreiding van die paswette en die Wet op Stedelike Gebiede. Hierdie mylpaalherdenking sal onder die nasionale tema: “Bemagtig vroue, bemagtig die nasie” plaasvind.
1.3.2 Die Kabinet benadruk weereens dat die heldhaftige optrede van die 1956-generasie die strukturele insluiting van vroue regoor die Parlement, regering, private sektor en maatskaplike samelewing direk bevorder het en gelyke burgerskap en grondwetlike regte in ʼn demokratiese Suid-Afrika gevestig het. Benewens die hulde wat aan die veerkragtigheid van die land se vroue gebring word, bevestig die Kabinet ook die regering se onwrikbare verbintenis om vroueregte te beskerm, te bevorder en uit te bou en om intensief daaraan te werk om geslaggebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV) uit te wis, ekonomiese uitsluiting uit die weg te ruim, en gelyke toegang tot produktiewe hulpbronne te verseker.
1.3.3 Die Kabinet benadruk dat hierdie herdenking ʼn sleutelpilaar van die groter Mylpale van die Vryheidveldtog is, onder die oorhoofse tema “Eer die verlede, lewer die toekoms.” Die regering sal regdeur Vrouemaand landwye platforms lei om die opofferings van vroue in die vryheidstryd te eer terwyl die belangrike rol wat vroue vandag speel bevestig sal word.
2 KONFERENSIES WAT AANGEBIED IS
2.1 26e Afrika-spoorkonferensie en tentoonstelling
2.1.1 Suid-Afrika het die 26e Afrika-spoorkonferensie en tentoonstelling op 7 en 8 Julie 2026 in Johannesburg aangebied.
2.1.2 Die konferensie het gefokus op die vordering wat met die herstel van die land se passasierspoordiens gemaak is, met jaarlikse pendelreise wat teen die einde van Maart 2026 100 miljoen passasierspoordienste oorskry het en 35 van die land se 40 prioriteitspoorroetes wat weer in diens is. Die regering bly verbind tot die herstel van veilige, betroubare en bekostigbare passasierspoordienste, met die doelwit om 600 miljoen passasiersreise jaarliks teen 2030 te bereik.
3 AANKONDIGINGS
3.1 Registrasie van kwalifiserende gebruiklike huwelike
3.1.1 Die Kabinet herinner alle lede van die publiek dat 31 Augustus 2026 die spertyd is om kwalifiserende gebruiklike huwelike onder die spesiale registrasietydperk soos deur die Minister van Binnelandse Sake aangekondig is, te registreer.
3.1.2 Die spesiale registrasietydperk van 1 September 2024 tot 31 Augustus 2026, is aangekondig om partye in staat te stel om die huwelikstatus van persone in gebruiklike huwelike wat nie binne die voorgeskrewe tydperk geregistreer is nie, te regulariseer. Dit sluit in gebruiklike huwelike wat gesluit is voor die Wet op die Erkenning van Gebruiklike Huwelike, 1998 in November 2000 in werking getree het, asook gebruiklike huwelike wat daarna gesluit is en nie binne die voorgeskrewe tydperk geregistreer is nie.
3.1.3 Die Kabinet doen ʼn beroep op lede van die publiek wat meer inligting oor die registrasieproses of stawende dokumente nodig het om hul naaste kantoor van die Departement van Binnelandse Sake te besoek.
3.2 Laaste kiesersregistrasienaweek
3.2.1 Die Kabinet doen ʼn beroep op alle stemgeregtigde kiesers om gebruik te maak van die laaste kiesersregistrasienaweek, wat vir 1 en 2 Augustus 2026 geskeduleer is, om te registreer vir die 2026 plaaslike regeringsverkiesings. Stemgeregtigde kiesers word aangemoedig om hierdie laaste geleentheid aan te gryp om te registreer of hul registrasiebesonderhede op datum te bring. Stemlokale sal landwyd van 08:00 tot 17:00 oop wees. Stemgeregtigde kiesers kan ook aanlyn registreer of hul besonderhede op datum bring deur die amptelike OVK se aanlyn kiesersregistrasieportaal wat 24 uur, sewe dae ʼn week beskikbaar is, by https://registertovote.elections.org.za.
3.2.2 Die Kabinet doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners, veral jongmense en kiesers wat vir die eerste keer stem, om hul demokratiese stemreg uit te oefen. Ons demokrasie is geskoei op die wil van die mense, en elkeen se stem is noodsaaklik vir die sukses van ʼn goed-funksionerende demokrasie. Deur ons stemreg uit te oefen en ʼn beter toekoms vir almal te verseker, bring ons hulde aan jare se opoffering en die stryd vir ons swaarverkrygde vryheid.
G. BOODSKAPPE
1. Medelye
Die Kabinet spreek sy diepste medelye uit met die vriende en familie van:
• Jayden Adams (Grootman), Bafana Bafana en Mamelodi Sundowns se middelveldspeler, wat die nasie verheug het met sy uitnemende spel tydens die 2026 FIFA-sokkerwêreldbeker.
• Voormalige Suid-Afrikaanse rugby o-18 stut Luqobo Makwedini, ʼn uitnemende jong sportman wat menige ondersteuner verheug het met sy harde werk en toewyding op die sportveld.
• Veteraanakteur Seputla Sebogodi, wat ʼn noemenswaardige erfenis agterlaat as een van Suid-Afrika se talentvolste en mees gerespekteerde akteurs tydens ʼn loopbaan wat oor verskeie dekades gestrek met rolle in televisie- en teateraanbiedings.
• Vryheidstrydstaatmaker Shantavothie “Shanthie” Naidoo Tweedie wie se lewenslange opoffering en toewyding bygedra het tot Suid-Afrika se reis na vryheid. As anti-apartheidsaktivis was sy dikwels in aanhouding, met inbegrip van eensame opsluiting en verbanning onder die Wet op Terrorisme, 1967. Sy het ook van 1972 tot 1991 as banneling in die Verenigde Koninkryk gewoon.
• Bettina Wyngaard, ʼn Suid-Afrikaanse prokureur, skrywer en aktivis wat bekend was vir haar Afrikaanse boeke en as kampvegter vir vroueregte.
2. Gelukwense
Die Kabinet dra gelukwense en voorspoed oor aan:
• Span Suid-Afrika wat die land se vlag hoog laat wapper en die nasie trots gemaak het by die Statebondspele in Glasgow, Skotland. Suid-Afrika het tot dusver 22 medaljes verower: ses goue medaljes, agt silwermedaljes en agt bronsmedaljes.
Goue medaljes
o Pieter Coetzé – in die mans 200m rugslag
o Pieter Coetzé– in die mans 50m rugslag
o Pieter Coetzé – in die mans 100m rugslag
o Nathan Hendrick – in die mans S13 100m vryslag
o Lara van Niekerk - in vroue 50m borsslag
o Christian Sadie – in die mans 50m vryslag S7
Silwermedaljes
o Erin Gallagher – in die vroue 50m borsslag
o Aimee Canny – in die vroue 100m borsslag
o Michael Houlie – in die mans 50m borsslag
o Nathan Hendricks – in die mans 50m vryslag S13.
o Danika Vyncke – in die vroue 50m vryslag S13.
o Aimee Canny – in die vroue 200m individuele wisselslag
o Pieter Coetzé, Michael Houlie, Erin Gallagher, Aimee Canny – in die gemengde 4x100m wisselslag-aflos
o Kaylene Corbett – in die vroue 200m borsslag
Bronsmedaljes
o Erin Gallagher – in die vroue 100m vlinderslag
o Ruard van Renen – in die mans 50m rugslag
o Ruard van Renen – in die mans 100m rugslag
o Olivia Nel – in die vroue 100m rugslag
o Aimee Canny, Rebecca Meder, Erin Gallagher, Olivia Nel – in die vroue 4x100m vryslag-aflos
o Pieter Coetzé, Guy Brooks, Ruard van Renen, Chad le Clos – in die mans 4x100m vryslag-aflos
o Pieter Coetzé, Michael Houlie, Chad le Clos, Ruard van Renen – in die mans 4x100m wisselslag-aflos.
o Chad Le Clos het die mees bekroonde mansatleet in die geskiedenis van die Statebondspele geword met 21 medaljes nadat hy Suid-Afrika gehelp het om die bronsmedalje te wen in die mans 4x100m wisselslag-aflos.
o Olivia Nel, Aimee Canny, Erin Gallagher, Rebeca Meder – in die vroue 4x100m wisselslag-aflos
• Die Springbokke wat al drie hul 2026 Nasies Kampioenskap-wedstryde gewen het en met die maksimum puntetelling bo-aan die ranglys staan.
• Die Junior Springbokke, met hul sege in die wêreldrugby o-20-kampioenskap in Tbilisi, Georgia.
• Dricus du Plessis, wat Kamaru Usman geklop het in die hoofgeveg by die Ultimate Fighting Championship (UFC)-kampioenskap se Oklahoma City-vegkaart.
• Bayanda Walaza, met sy uitnemende prestasie by die TIPOS P-T-S-byeenkoms in Slovakye, waar hy die mans 100m gewen het met ʼn persoonlike beste tyd van 9.89 sekondes, en sodoende die vierde Suid-Afrikaner geword het om onder 9.90 sekondes te nael.
• Die Suid-Afrikaanse nasionale vrouesokkerspan, Banyana Banyana, wat aan die 2026 vroue-Afrika-nasiebeker in Morokko deelneem. Ons wens hulle sterkte toe in hul tweede wedstryd teen die Ivoorkus op Vrydag 31 Julie 2026.
• Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), wat deur die Centre for World University Rankings (CWUR) 2026 as die beste universiteit in Afrika aangewys is Hierdie posisie plaas Wits ook in die boonste 1% van hoëronderwysinstellings wêreldwyd, waar hulle nommer 200 op die ranglys is uit die meer as 21 000 instellings wat wêreldwyd geassesseer is.
• Die Universiteit van Kaapstad (UCT), wat wêreldwyd die 102ste plek in die 2026 Times se Impakranglys vir Hoëronderwysvolhoubaarheid behaal het en wat nege top-100 plekke regoor die VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDGs) behaal het.
• Die 12-jarige Lubanzi Dube, die eerste swart Suid-Afrikaner wat die gesogte 2026 World Startup Forum-kampioenskap in Switserland gewen het. Labanzi het saam met 400 innoveerders van regoor die wêreld deelgeneem; hy het die eerste prys verower met sy baanbrekende innovasie, SolEase, wat ontwerp is om voet-gesondheidsuitdagings die hoof te bied. Sy prestasie het Suid-Afrika nie net in die wêreldkollig geplaas nie, maar het ook jong Afrikane geïnspireer om wetenskap, tegnologie en entrepeneurskap na te streef.
• Span Suid-Afrika, wat die vierde plek behaal het by die Wêreld-spellingkompetisie-kampioenskap in Shanghai, China, met graad 7-leerder Mbulelo Tolom wat ʼn indrukwekkende algehele sesde plek teen leerders in hoër grade behaal het.
Navrae: Die Regering se Kommunikasie- en Inligtingstelsel (GCIS)
Kontak: Me. Nomonde Mnukwa, waarnemende Direkteur-Generaal
Selfoon: 083 653 7485

