Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag 28 Mei 2025

A.    Kwessies in die omgewing
1.    Internasionaal
1.1    SA-VSA-betrekkinge
1.1.1    Die Kabinet het die herstel van strategiese verhoudings tussen Suid-Afrika (SA) en die Verenigde State (VSA) tydens President Cyril Ramaphosa se werksbesoek aan die Verenigde State van Amerika verwelkom.
1.1.2    Die SA- en VSA-spanne sal die besonderhede van die handelsooreenkoms tussen SA en die VSA finaliseer. Dit kan met veiligheid beklemtoon word dat die doelwitte wat SA vir die reis gestel het, bereik is.
1.1.3    Die Kabinet sien uit na die VSA-administrasie se voortgesette deelname aan die G20, insluitend die moontlikheid dat President Trump die G20-leiersberaad sal bywoon.

1.2    Suid-Afrika-Frankryk-betrekkinginge
1.2.1    Die Kabinet het Adjunkpresident Shipokosa Paulus Mashatile se werksbesoek, wat die betrekkinge tussen Suid-Afrika en Frankryk versterk het, verwelkom. Die Adjunkpresident en die SA-afvaardiging het ook die SA-Frankryk Beleggingskonferensie bygewoon met die doel om beleggings deur Franse maatskappye in Suid-Afrika en andersom te verbeter, sowel as om vennootskappe tussen Suid-Afrikaanse en Franse maatskappye in gesamentlike beleggings deur die Afrika-kontinentale vryhandelsgebied te vestig.

2.    Ekonomie
2.1    Nasionale Begroting
2.1.1    Die Kabinet het sy steun bevestig vir die 2025 Nasionale Begroting wat op Woensdag 21 Mei 2025 deur die Minister van Finansies ter tafel gelê is. Dit is ’n uiteensetting van die belangrikste bestedingsprioriteite oor die volgende drie jaar binne die land se fiskale koevert.
2.1.2    Die Nasionale Begroting het ons verbintenis tot fiskale dissipline gedemonstreer. Ons het gewys dat ons die ekonomie op 'n manier stuur wat na die kwesbaarstes in ons samelewing omsien, terwyl ons in ekonomiese aktiwiteit belê deur 'n belegging van R1 triljoen in infrastruktuur oor die volgende drie jaar.
2.1.3    Hierdie begroting waarin die armes se behoeftes in ag geneem word, beteken dat op elke Rand, 61 sent van gekonsolideerde, nie-rentedraende uitgawefondse aan gratis basiese dienste bestee sal word, soos elektrisiteit, water, onderwys, gesondheidsorg, bekostigbare behuising en aan maatskaplike toelaes vir mense in nood.

2.2    Simposium oor Volhoubare Infrastruktuurontwikkeling Suid-Afrika (SIDSSA) 2025
2.2.1    Die Kabinet het die suksesvolle verloop van die Simposium oor Volhoubare Infrastruktuurontwikkeling Suid-Afrika (SIDSSA) 2025, wat van 25 tot 27 Mei 2025 in Kaapstad gehou is, verwelkom. Die land se tweede uitgawe van die konstruksieboek “A Repository of Funded Infrastructure Projects” is bekendgestel vir 2025/2026.
2.2.2    Tydens die simposium is die jongste top sewe (7) prioriteite vir infrastruktuurprojekte, wat uit Bodvenster 1 voortgespruit het vir projekvoorbereiding, aangekondig. Dit versterk ons nasie se strewe daarna om infrastruktuur vir ekonomiese groei an te wend, werk te skep en volhoubare gemeenskappe te bou.
2.2.3    Die totale waarde van projekte wat tans in die land onder konstruksie is, beloop meer as R313.5 miljard, terwyl die pyplyn van ons energiesektor-infrastruktuurprojek R180 miljard se belegging in ingeslote opwekking beloop.

3.    Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit
3.1    Misdaadstatistieke
3.1.1    Die vrystelling van die misdaadstatistieke vir die vierde kwartaal van die 2024/2025-boekjaar bevestig dat misdaad in Suid-Afrika 'n maatskaplike kwessie bly wat almal raak. Hoewel die statistieke 'n afname in sommige kategorieë aangedui, insluitend moord, het kommersiële misdade, seksuele oortredings, insluitend verkragting en ander kontak seksuele oortredings, egter toegeneem.
3.1.2    Ons prys die SAPD vir die vinnige ondersoek en inhegtenisnemings in gevalle van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV). Die SAPD het reeds verdagtes in hegtenis geneem vir die moord op Olorato Mongale, 'n student van Wits Universiteit wie se liggaam gevind is nadat sy met haar vermeende moordenaar uitgegaan het. Ons betuig die regering se diepste meegevoel aan haar familie en vriende.
3.1.3    Die regering verwelkom Regter Nathan Erasmus se uitspraak in die Wes-Kaapse Hooggeregshof, wat Kelly Smith, Jacquen Appollis en Steveno van Rhyn tot lewenslange tronkstraf gevonnis het vir mensehandel, met 'n bykomende 10 jaar vir ontvoering wat verband hou met die verdwyning van die sesjarige Joshlin Smith. Hoewel hierdie vonnisoplegging 'n mate van geregtigheid bring, is dit 'n bittersoet oomblik. Ons bly vasberade in ons verbintenis om die waarheid te ontbloot en om te verseker dat wetstoepassers steeds elke moontlike leidraad opvolg om Joshlin te vind. Om kinders te beskerm is 'n nasionale prioriteit. Ons sal voortgaan om ons wette, vennootskappe en gemeenskapspogings te versterk om te verseker dat elke kind in Suid-Afrika veilig is, gewaardeer word en teen mishandeling beskerm word.
3.1.4    Die regering sal voortgaan om ons stryd teen misdaad te verskerp deur nuwe beamptes te werf en op te lei en om weer gespesialiseerde misdaadbestrydingseenhede in plek te stel. Dit sluit in dat ons wetstoepassers met moderne gereedskap en opleiding sal toerus, wat noodsaaklik is om vandag se komplekse misdaaduitdagings die hoof te bied.

3.2    Die stryd teen onwettige immigrasie
3.2.1    Die bekendstelling van Operasie Nuwe Besem is die jongste tegnologiegedrewe inisiatief deur die Departement van Binnelandse Sake. Dit is daarop gerig om onwettige immigrasie te bestry, wat die regering se verbintenis demonstreer om misdaad aan te pak en die oppergesag van die reg te handhaaf. Hierdie inisiatief gebruik tegnologie om onwettige immigrante in hegtenis te neem, skuldig te bevind en uit die land te deporteer.
3.2.2    In sy eerste fase het die operasie gelei tot die inhegtenisneming van 25 verdagtes wat onwettig grond in Distrik 6, Kaapstad, beset het. Die inisiatief gebruik biometriese tegnologie om die immigrasiestatus van verdagtes te verifieer; dit  skakel die risiko van bedrieglike dokumente uit en maake dit makliker vir die howe om sake af te handel.

4.    Bestuur
4.1    Regering van Nasionale Eenheid (RNE)
4.1.1    Vandag is presies 'n jaar sedert die nasionale en provinsiale verkiesings plaasgevind het. Die uitslae het aangedui dat geen politieke party 'n volstrekte meerderheid behaal het nie, wat heelwat onsekerheid vir Suid-Afrika en haar mense geskep het. Vandag is ons as Regering van Nasionale Eenheid (RNE) trots dat ons binne 14 dae 'n regering kon vorm; dit is 'n uitstekende prestasie gegewe die tyd wat sommige eerstewêreldlande geneem het om 'n regering in soortgelyke omstandighede te vorm.
4.1.2    Hierdie mylpaal simboliseer 'n hernieude verbintenis tot stabiliteit, samewerking en inklusiewe regering. Die geskiedkundige vennootskap, wat 10 politieke partye insluit, het gedemonstreer dat hulle die nasie eerste gestel het deur die behoeftes van Suid-Afrika en sy mense te prioritiseer. Deur opbouende dialoog en kompromie het die partye saamgewerk om dringende kwessies die hoof te bied, wat 'n gevoel van eenheid en gedeelde doelwitte bevorder het ondanks ons verskillende ideologiese oortuigings

B.    Opdaterings aan die Kabinet
1.    Voorbereidings vir die G20-beraad

1.1    Plek waar die G20-leiersberaad plaasvind
Die G20-leiersberaad sal in November 2025 by die NASREC-eksposentrum in Johannesburg plaasvind. NASREC (die Nasionale Landbou-, Sport- en Ontspanningsentrum) is in 1984 gebou tydens die hoogtepunt van apartheid. Die ligging tussen Johannesburg en die Suidwestelike Dorpsgebiede, nou eenvoudig bekend as SOWETO, het die grens van die stad verteenwoordig, met sy bewegingsbeperkings; dit was die begin van Soweto, wat as 'n reservoir van goedkoop swart arbeid gedien het. Die demokratiese regering gaan voort om die NASREC-distrik te ontwikkel om as 'n brug te dien teen die apartheidsruimtelike beplanningskloof wat die ontwikkelde en onontwikkelde Suid-Afrika geskei het, Dit bly 'n ware Suid-Afrikaanse karakterisering van twee lande in een. Vandag word ontwikkelings rondom die NASREC-distrik as 'n slimstad aangebied, wat ook Soccer City (FNB-stadion) huisves, Suid-Afrika se nasionale stadion wat baie simbolies is. Soccer City, wat die eerste sokkerwêreldbekerwedstryd op Afrika-bodem aangebied het, is onder die top 20 grootste stadions ter wêreld. Daarom dra die aanbieding van die G20-leiersberaad, soos baie ander geleenthede in die NASREC-distrik, steeds by tot NASREC as 'n simbool van ruimtelike integrasie na 'n gelyke Suid-Afrika.

1.2    G20 Sosiale Beraad
Suid-Afrika sal binnekort die plan en program vir sy G20 Sosiale Beraad onthul. Die G20 Sosiale Beraad-inisiatief is deel van die program wat uit die Brasiliaanse G20-inisiatiewe aanvaar is. Dit het 'n platform geskep vir maatskaplike bewegings en burgerlike samelewingsorganisasies wat geraak word deur geopolitieke en makro-ekonomiese besluite wat deur leiers van die magtige Groep van 20-lande geneem word.

1.3    G20-beraad – voorbereidingsvergaderings
As deel van die voortgesette inhoudvoorbereidings vir die G20-beraad en terwyl ons besluite oorweeg wat in ag geneem moet word tydens die G20-leiersberaad, is die volgene G20-vergaderings gehou: 
a)    Die tweede vergadering van die Globale Vennootskap vir Finansiële Insluiting wat in Mpumalanga gehou is, het beraadslaag oor die belangrikheid om finansiële insluiting te bevorder deur finansiële ondersteuning aan mikro-, klein en mediumgrootte ondernemings te bied, asook hoe om tegnologie ten beste te gebruik om onderbediende bevolkings in te sluit.
b)    Die W20-aanvangsvergadering, wat deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) en sy vennote in Kaapstad aangebied is, het 'n geleentheid vir verskeie taakspanne gebied om kwessies te bespreek wat vroue raak, insluitend die rol van vroue in die ekonomie, GGGV, toegang tot onderwys en gesondheidsgelykheid.
c)    Die derde vergadering van die infrastruktuurwerkgroep, wat in Mpumalanga gehou is, het gefokus op produktiewe oorgrens-infrastruktuur, die opgradering van volhoubare belegging deur gemengde finansiering en die bou van belêbare projekpyplyne.
d)    Die tweede vergadering van die G20-inisiatief oor bio-ekonomie wat in Mpumalanga gehou is, het die benutting van die bio-ekonomie om ekonomiese groei, volhoubare ontwikkeling, omgewingsbeskerming en sosiale gelykheid aan te pak, bespreek. 
e)    Die vergaderings van die G20-navorsing- en innovasiegroep en die samewerkingsgroep, wat in Mpumalanga gehou is, het die vordering wat met die tien lewerbare doelwitte in die eerste vergadering gemaak is, hersien. Die G20 se ministeriële verklaring oor navorsing en innovasie is ook bespreek.
f)    Die derde vergadering van die ontwikkelingswerkgroep wat in KwaZulu-Natal gehou is, het op dié werkgroep se prioriteite gefokus met die doel om konsensus te bereik oor die hantering van die dringende ontwikkelingsuitdagings van ons tyd. Dit het ook aandag gegee aan maniere om die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte vinniger te bereik.
g)    Die vergadering van hoof landbouwetenskaplikes (MACS) wat in Limpopo gehou is, het bruikbare strategieë bespreek oor hoe lande regoor die wêreld voedselsekerheid, volhoubare boerdery en klimaatsverandering deur innovasie en wetenskaplike samewerking kan versterk.
h)    Die G20-seminaar oor vroeë kindersorg en onderwys, het gefokus op hoe om vroeë kindersorg en onderwys in die middelpunt van die globale onderwysagenda te plaas. 
i)    Die G20-seminaar: Wedersydse Erkenning van Kwalifikasies in 'n Globale Konteks, het kwessies bespreek wat deurslaggewend is om inklusiewe en wêreldwye mededingende onderwysstelsels te vorm, soos internasionale arbeidsmigrasie, vaardigheidsmobiliteit en die ontwikkelende rol van mikro-krediete in lewenslange leer en indiensneembaarheid.
j)    Die tweede vergadering van die onderwyswerkgroep wat in Noordwes gehou is, het gehndel oor die voorsiening van gehalte- en inklusiewe onderwys vir alle leerders.

C.    Kabinetsbesluite
1.    Beleid oor Nasionale Arbeidsmagmigrasie (NLMP) 2025 Witskrif
1.1.    Die Kabinet het die Witskrif vir die Beleid oor Nasionale Arbeidsmigrasie (NLMP) 2025 vir implementering goedgekeur. Die beleid is daarop gerig om ’n raamwerk te bied wat behoorlike en ordelike beweging en indiensneming van buitelandse burgers in die land afdwing. Dit poog om 'n balans te bereik oor verskeie gebiede, insluitend die hantering van Suid-Afrikaners se verwagtinge oor werksvooruitsigte in die lig van stygende werkloosheid en die persepsie dat buitelandse burgers toegang tot die arbeidsmark beperk. 
1.2.    Die NLMP stel kwotas in op die totale aantal gedokumenteerde buitelandse burgers met werkvisums wat in belangrike ekonomiese sektore soos onder meer landbou, gasvryheid en toerisme, sowel as konstruksie, in diens geneem kan word.
1.3.    Die beleid komplementeer ander tussenkomste soos die afdwing van 'n lys van sektore waar buitelandse burgers nie sakevisums kan kry nie, en wysigings aan die Nasionale Wet op Klein Ondernemings, 1996 (Wet 102 van 1996), soos gewysig, om buitelandse burgers wat klein, medium en mikro-ondernemings stig, en handel dryf in sommige sektore van die ekonomie, te beperk.

2.    Goedkeuring van die Nasionale Beleid op Besigheidslisensiëring
2.1.    Die Beleid op Besigheidslisensiëring verteenwoordig 'n belangrike stap om lisensiëringsprosesse oor nasionale, provinsiale en munisipale vlakke, wat regulatoriese konsekwentheid en verbeterde nakoming verseker, te stroomlyn.
2.2.    Deur duidelike riglyne en 'n voorkeur-lisensiëringsregime in te stel, bevorder die beleid ekonomiese insluiting vir medium, klein en mikro-ondernemings (MSME), sowel as histories benadeelde groepe in geteikende sektore, terwyl sekere sake-aktiwiteite uitsluitlik vir Suid-Afrikaanse ondernemings gereserveer word.
2.3.    Om die stelsel te moderniseer, vestig die beleid 'n elektroniese lisensiëringsportaal, wat verouderde handmatige prosesse vervang met 'n meer doeltreffende en deursigtige digitale platform. Hierdie hervorming verminder nie net administratiewe fragmentasie nie, maar ondersteun ook 'n meer sakevriendelike omgewing, wat billike groei en breër deelname aan die ekonomie dryf.

D.    Wetsontwerpe
1.    Wysigingswetsontwerp op Indiensnemingsdienste
1.1.    Die Kabinet het die Wysigingswetsontwerp op Indiensnemingsdienste goedgekeur vir voorlegging aan die Parlement. 
1.2.    Die Wetsontwerp bied 'n beleidsraamwerk en die regsgrondslag om die indiensneming van buitelandse burgers in besighede te reguleer terwyl nasionale veiligheid en nasionale belange bevorder word. 
1.3.    Die doel van die Wetsontwerp is om voor te stel  dat arbeidsmakelaars gereguleer word om werkersuitbuiting te voorkom, soos die voorsiening van goedkoop arbeid deur ongedokumenteerde buitelandse burgers. Dit skep ook konsekwentheid tussen die bepalings van die Immigrasiewet (Wet 13 van 2002) en die Vlugtelingewet (Wet 130 van 1998).
1.4.    Die wetsontwerp stel 'n raamwerk voor wat die Minister van Indiensneming en Arbeid in staat sal stel om kwotas vir die indiensneming van buitelandse burgers vas te stel. 'n Kwota kan van toepassing wees op 'n sektor van die ekonomie, 'n beroepskategorie of 'n geografiese gebied. Die minister sal 'n kwota in 'n sektor vasstel na oorlegpleging met die Raad vir Indiensneming en oorweging van openbare kommentaar.
1.5.    Die Kabinet het die Minister van Indiensneming en Arbeid opdrag gegee om die kartering (deur konsultasies) van dit wat skaars en kritieke vaardighede uitmaak, spoedig te finaliseer om 'n binnelandse vaardigheidsbasis te ontwikkel sodat die absorpsie van meer werklose Suid-Afrikaners verbeter kan word.
1.6.    Die Kabinet het weer eens beklemtoon dat dit noodsaaklik is om die finalisering van die Witskrif oor Immigrasie te versnel sodat die administrasie van arbeidsmigrasie doetreffend bestuur kan word.

E.    Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike sekuriteitsklarings
1.    Mnr Matsobane Themba Matlou as Hoof Uitvoerende Beampte in die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskplikek Sekerheid. 
2.    Me Ogalaletseng Anastasia Gaarekwe Adjunkdirekteur-generaal ADG): Interregeringsbetrekking by die Nasionale Tesourie. 
3.    Mnr Christopher Charles Axelson as ADG: Belasting- en Finansiële Sektor by die Nasionale Tesourie. 
4.    Me Ulrike Britton as ADG: Openbare Finansies by die Nasionale Tesourie

5.    Raadslede van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF):
(a)    Me Zodwa Penelope Manase (Voorsitter) 
(b)    Mnr Edward Malomeje Thobejane (Georganiseerde Arbeid);
(c)    Me Martle Keyter (Georganiseerde Arbeid);
(d)    Mnr Malesela Moses Lekota (Georganiseerde Arbeid);
(e)    Me Zizile Lushaba-Nyawo (Georganiseerde Besigheid);
(f)    Mnr Hillary Mac Master (Georganiseerde Besigheid);
(g)    Me Beverly Jack (Georganiseerde Besigheid);
(h)    Mnr Thembinkosi Josopu (Georganiseerde Gemeenskap);
(i)    Mnr Skhumbuzo Mpanza (Georganiseerde Gemeenskap);  
(j)    Me Paulet Sesedi Pelo (Georganiseerde Gemeenskap). 
(k)    Mnr Mahuza Ngubane (Verteenwoordiger, Departement van Hoër Onderwys);
(l)    Me Ogalaletseng Anastasia Gaarekwe (Verteenwoordiger, Nasionale Tesourie); en  
(m)    Me Ntshimi Esther Tloana (Verteenwoordiger, Departement van Indiensneming en Arbeid).

6.    Lede van die Sentech Raad: 
(a)    Me Sedzani Mudau (Voorsitter);
(b)    Mnr Themba Phiri;
(c)    Mnr Mbasa Metuse;
(d)    Adv Lavandran Gopaul;
(e)    Mnr Patrick Wadula;
(f)    Mnr Peter Zimri;
(g)    Me Alexandria Procter; and 
(h)    Me Lwazikazi Nopece.

F.    Gebeure
1. Herdenking van belangrike maande en nasionale gebeure in 2025 
Die Kabinet het die temas en konsepdokumente vir die die herdenking van belangrike gebeure wat deur die loop van die volgende paar maande sal plaasvind, as volg goedgekeur:  

(a)     Jeugmaand
Die 2025 Jeugmaandprogram sal by die Hector Pieterson-gedenkteken en 
-Museum in Orlando-wes, Soweto in Gauteng plaasvind met die tema: “Vaardighede vir die veranderende wêreld – Bemagtig die jeug vir betekenisvolle ekonomiese deelname.” Die Jeumaandprogram sal fokus op ’n  oproep om tot aksie oor te gaan om jeugwerkloosheid die hoof te bied en ’n ekonomie te bou wat die land se jeug prioritiseer. Die maand sal ook gerig wees op die beskikbare leer- en werksgeleenthede in industrieë met ’n hoë-opnamekapasitiet wat in aanvraag is vir jong mense.

(b)     Vrouemaand
Die Kabinet het die tema en aktiwiteite vir die herdenking van die 2025 Vrouemaand  goedgekeur. Vanjaar word die 30ste herdenking van die Beijing-verklaring en -platform vir aksie van 1995 gedenk. Dit verteenwoordig 'n beteknisvolle besinning oor vroueregte en -bemagtiging, sowel as die strewe na geslagsgelykheid. Die 2025-program sal fokus op die implementering van proaktiewe maatreëls om GGGV te voorkom, gesonde, respekvolle gedrag en gesindhede onder mans en seuns te bevorder, en werkplekke en omgewings te skep waar vroue en meisies veilig voel. Die Kabinet het die oproep aan alle Suid-Afrikaners herhaal om om die plaag van GGGV daadwerklik te konfronteer.

(c)     16 Dae van Aktivisme teen GGGV
Die 16 Dae van Aktivisme teen GGGV sal van 25 November tot 10 Desember 2025 plaasvind met die tema: "Bemagtig verandering: oorkom, voorkom, bevorder positiewe manlikheid, en verseker veilige en inklusiewe ruimtes om GGGV te beëindig". Vanjaar se veldtog gaan voort om die oorsake van GGGV aan te pak terwyl positiewe manlikheid en geslagsgelykheid bevorder word en ekonomiese geleenthede vir vroue en kinders geskep word.

(d)     Maand vir die Bewusmaking van Getremdes se Regte
Die Kabinet het die konsep en tema vir die 2025 Maand van Bewustheid van Gestremdheidsregte, wat van 3 November tot 3 Desember gedenk word, goedgekeur. Die tema is: "Skep strategiese multisektorale vennootskappe vir 'n gestremdheidsinklusiewe samelewing". Hierdie tema beklemtoon die belangrikheid van vennootskappe om die regte en deelname van mense met gestremdhede in die samelewing te bevorder. Die maandlange aktiwiteite sal bewustheid verhoog en die vordering wat die land gemaak het beklemtoon om te verseker dat die regte van persone met gestremdhede beskerm word. Dit sal ook kinders met gestremdhede se stem bevorder en digitale geleenthede ontsluit om gestremdheidsinklusiewe werksgeleenthede te bevorder.

G.    Boodskappe
1.    Meegevoel
Die Kabinet het sy medelye aan die vriende en naasbestaandes van die volgende mense oorgedra:
a)    Mama Gertrude Ntiti Shope, wat liefdevol bekend was as MaShope. Sy was 'n staatmaker van ons bevrydingstryd en deel van die eerste groep demokraties verkose parlementslede van die 1994-Parlement. Sy was ook 'n lid van die Orde vir Verdienstelike Diens (Silwer), wat in 2003 aan haar toegeken is ter erkenning van haar uitsonderlike openbare diens. MaShope was ook 'n stigterslid van die Federasie van Suid-Afrikaanse Vroue (FEDSAW) wat vroue gemobiliseer het om teen die onregverdige, brutale en rassistiese apartheidsregime te veg. Sy is in 1991 as die eerste president van die ANC Vroueliga (ANCWL) verkies. President Ramaphosa het verklaar dat MaShope vereer word met 'n spesiale amptelike begrafnis kategorie 1 en dat Suid-Afrikaanse vlae regoor die land en in al ons stasies halfstok moet hang tot haar begrafnisdiens op Saterdag 31 Mei 2025.
b)    Me Lungi Annette Mnganga-Gcabashe wat sedert 2004 op verskeie tye 'n parlementslid was en as voorsitter van die portefeuljekomitee oor toerisme in die 7de Parlement gedien het. Sy was ook die huidige adjunkpresident van die ANCWL. Sy het teen die ongeregtighede van apartheid geveg en 'n aktiewe rol gespeel in die mobilisering van gemeenskappe vir vrede tydens die hoogtepunt van politieke geweld in KwaZulu-Natal.
c)    Bekroonde akteur, Presley Chweneyagae, wat bekend geword het vir sy uitsonderlike toneelspel in die rolprent Tsotsi, wat in 2005 die Oscar-toekenning vir beste buitelandsse rolprent gewen het. Hy het in talle rolprente en televisiedramas verskyn, en ten tyde van sy afsterwe was hy gewild in sy rol as Cobrizi in die gewilde televisiedrama The River.
d)    Veteraan-uitsaaier Darren Scott wie se stem die Suid-Afrikaanse radiobedryf vir meer as vier dekades gevorm het en in 2024 in die Radio Awards Hall of Fame opgeneem is.
e)    Gevierde voormalige Sprinkbok-vleuel Cornal Hendricks, wat tussen 2014 en 2015 12 toetse vir die Springbokke gespeel het en vyf drieë gedruk het.
f)    Charles B Rangel, voormalige en langdienende Amerikaanse kongreslid van Harlem, New York, wat in 1987 die borg was van wat bekend geword as die Rangel-wysiging; dit het die Amerikaanse belastingkode verander om buitelandse belastingkrediete te weier aan Amerikaanse maatskappye wat in apartheid Suid-Afrika belê. Hy het ook sy invloed gebruik om te help om handelsgeleenthede tussen ontwikkelende lande en die VSA te help skep deur die Caribbean Basin Initiative en die African Growth and Opportunity Act (AGOA). 
g)    Ngũgĩ wa Thiong'o, die Keniaanse skrywer wat op die ouderdom van 87 oorlede is, was 'n reus van moderne Afrika-letterkunde. Sy geskrifte dokumenteer die transformasie van Kenia van 'n koloniale onderdaan na 'n demokrasie, en sy werk inspireer steeds Afrika en die wêreld in die ontwikkeling van die Afrika-kontinent. Hy sal onthou word as een van die grootste literêre reuse van die Afrika-kontinent.

h)    Dr Dean Tshenuwani Simon Farisani, 'n voormalige lid van die Parlement, 'n voormalige LUR van Vervoer in Limpopo, 'n teoloog en pastoor van die Evangeliese Lutherse Kerk van Suider-Afrika (ELCSA). Gedurende die apartheidsera was hy een van die land se prominentste swart geestelikes wat anti-apartheidsbevrydingsteologie vanuit sy Bisdom en Devhula-Lebowakring in die destydse Transvaal verkondig het. Hy het die Swart Evangeliese Jeugorganisasie saam met Cyril Ramaphosa (Suid-Afrika se huidige president) in die vroeë 1970's gestig en was ook aktief in die swart bewussynsbeweging, veral as die president van die Konvensie van Swartmense van 1973 tot 1975. Hy is volgens Amnesty International by verskeie geleenthede as 'n gewetensgevangene in hegtenis geneem en het in die buiteland getuig oor die marteling waaraan hy deur die apartheidspolisie onderwerp is. Hy is in die vroeë 1980's verban en in ballingskap geplaas. Met sy terugkeer nadat die ANC ontban is, het hy bygedra tot die heropbou van ANC-strukture en het die Kerk gemobiliseer om die versoening van die land en gemeenskapsontwikkeling aktief te ondersteun.

2.    Gelukwense
Die Kabinet het sy gelukwense en goeie wense oorgedra aan:
a)    Die naelloopsensasie Akani Simbine, tans die vinnigste atleet ter wêreld, wat die 100m by die Atlanta City Games in 9.86 sekondes en die 100m by die Rabat Diamond League in 'n tyd van 9.95 sekondes gewen het. 
b)    Junior naelloop-sensasie Bayanda Walaza, die vinnigste in sy ouderdomskategorie ter wêreld, wat 'n nuwe Suid-Afrikaanse rekord in die mans 100 m opgestel het met 'n tyd van 9.94 sekondes by die Boris Hanzekovic-gedenkwedloop.
c)    Suid-Afrikaanse atleet, Zakithi Nene, wat tweede geëindig het in die mans 400 m met 'n stewige tyd van 44.46 sekondes by die Rabat Diamantliga.
d)    Amajita, die o.20 nasionale sokkerspan, wat geskiedenis gemaak het deur die o.20 Afrikabeker-titel vir die eerste keer te wen.
e)    Rayno Nel wat geskiedeis gemaak het as die eerste Suid-Afrikaner en Afrikaan ooit om die gesogte titel as die Wêreld se Sterkste Man te verower.

Navrae: 
|Me Nomonde Mnukwa – Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485

Share this page

Similar categories to explore