A. Kwessies in die omgeing
1. Ekonomie
1.1 Belegging
1.1.1 Die Kabinet het sy vertroue in die veerkragtigheid van die ekonomie uitgespreek terwyl die land steeds voortgaan om vennootskappe te versterk, sleutelsektore op te bou en nuwe beleggings te lok.
1.1.2 Die Kabinet het die bekendstelling van Suid-Afrika se R2.5-miljard Google Cloud-streek in Johannesburg, wat Suid-Afrika in Google Cloud se globale netwerk integreer, verwelkom. Dit is Google se eerste in Afrika en is 'n beduidende belegging in Suid-Afrika se tegnologie-infrastruktuur is
1.1.3 Die Kabinet doen ’n beroep op alle sektore om ons land se pad na volhoubare, inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping te versnel deur meer belegging te bevorder en die talle positiewe aspekte van ons land te beklemtoon.
1.2 Privaatsektordeelname aan spoor- en hawevrag logistieke projekte
1.2.1 Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die Versoek vir Inligting oor Privaatsektordeelname aan Spoor- en Hawevrag Logistieke Projekte. Dit is deel van kritieke hervormings om Suid-Afrika se logistieke sektor op te gradeer en by te dra tot ekonomiese groei deur verbeterde invoere.
1.2.2 Die ‘Padkaart vir die Vrag Logistieke Stelsel’ in Suid-Afrika dra by tot groter mededinging in spoor- en hawebedrywighede. Dit sal private beleggings bevorder, terwyl strategiese infrastruktuur soos spoorlyne en hawens in openbare eienaarskap sal bly.
1.3 Energie
1.3.1 Die Kabinet verwelkom die toevoeging van 800 megawatt nuwe opwekkingskapasiteit tot die nasionale netwerk nadat Eskom die Kusile-kragstasie se finale opwekkingseenheid suksesvol aanlyn gebring het. Dit sal bydra tot die stabilisering van die netwerk en om die land se toekomstige energiesekerheid te versterk.
1.4 Kwarttaalikse indiensnemingstatistieke
1.4.1 Die Kabinet verwelkom die toename in indiensneming met 12 000 poste 10.64 miljoen in die formele nie-landbousektor gedurende die vierde kwartaal van 2024. Statistieke SA se kwartaalikse indiensnemingstatistiek weerspieël indiensnemingswinste in die handel, sakedienste,vervoer en die elektrisiteitsektor.
1.4.2 Ondanks die beskeie verbetering, bly voltydse indiensneming laer as ’n jaar gelede. Die Kabinet is daartoe verbind om strukturele hervormings te versnel en programme wat op ekonomiese groei gerig is van stapel te stuur om ’n gunstige omgewing vir werkskepping te verseker.
2. Proklamasie van die Wet op Klimaatsverandering, Wet 22 van 2024
2.1 Die Kabinet verwelkom die proklamasie van die Wet op Klimaatsverandering, 2024 (Wet 22 van 2024) deur President Ramaphosa op Maandag 17 Maart 2025. Die wet maak die ontwikkeling van doeltreffende beleide oor klimaatsverandering moontlik, asook die langtermynplan vir die oorgang na ’n laekoolstof-ekonomie en -samelewing moontlik.
2.2 Die Kabinet verwelkom ook die International Partners Group (IPG), ’n koalisie van lande, insluitend die Verenigde Koninkryk; Duitsland; Frankryk en die EU, wat die finansieringsgaping wat die VSA ná sy onttrekking aan die Just Energy Transition Partnership gelaat het, sal vul.
2.3 Die totale bedrag van internasionale beloftes aan Suid-Afrika beloop nou US$12,8 miljard, wat meer as US$9 miljard van die IP insluit, tesame met bydraes van Spanje, Switserland en Kanada.
3. Internasionale betrekkinge
3.1 Samewerking tussen Suid-Afrika en Japan
3.1.1 Die Kabinet verwelkom die stewige bande tussen Suid-Afrika en Japan ná Adjunkpresident Paul Mashatile se werksbesoek aan Japan van 17 tot 19 Maart 2025. Die besoek was daarop gemik om die bestaande samewerking tussen Suid-Afrika en Japan op gebiede van wedersydse belang te versterk.
3.1.2 Gesprekke is ook met die Japanse Internasionale Samewerkingsagentskap gehou om gebiede van ekonomiese samewerking te ondersoek, asook om handels- en beleggingsgeleenthede met die Vereniging vir Afrika Ekonomiese Ontwikkeling in Japan te bespreek en samewerking met die Japanse Organisasie vir Metale en Energiesekerheid om geleenthede vir belegging in die mynbousektor uit te lig.
4. Gesondheid
4.1 Ontrekking van regulasies oor hennep- en cannabis-voedselproduksie
4.1.1 Die Kabinet verwelkom die Departement van Gesondheid se onttrekking van regulasies wat die verkoop van hennep en cannabis-voedselprodukte verbied.
4.1.2 Daar is begrip vir die moontlike negatiewe impak van die ongereguleerde verkoop van hennep- en cannabisprodukte op kinders en daarom moet daar volle raadpleging oor sodanige regulasies wees. Dit mag nie die Konstitusionele Hof se uitspraak minag nie en dit mag nie die Wet op Cannabis vir Privaat Doeleindes oortree nie.
4.1.3 Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling koördineer interdepartementele konsepregulasies vir die implementering van die Wet op Cannabis vir privaat doeleindes.
4.2 Bek-en-klouseer
4.2.1 Die Kabinet is op die hoogte gehou dat die siektebestuursgebied binne KwaZulu-Natal se grense uitgebrei word om verdere uitbrekings van bek-en-klouseer te bekamp.
4.2.2 Die uitgebreide siektebestuursgebied sluit die volgende munisipaliteite in: Big Five Hlabisa; Mtubatuba; Nongoma; Ulundi; Umhlabuyalingana; Jozini; Pongola; Abaqulusi; Mfolozi; uMhlathuze; Mthonjaneni; Nqutu; Nkandla; uMlalazi en Mandeni.
4.2.3 Geen gesplete hoefdiere (beeste, skape en bokke), hul produkte of genetiese materiaal mag van of binne die DMA verskuif word nie, tensy dit deur 'n staatsveeartsenykundige permit gemagtig is.
5. Geregtigheid, misdaadvoorkoming en sekuriteit
5.1 Misdaadvoorkoming
5.1.1 Die Kabinet verwelkom die inhegtenisneming van 12 892 verdagtes tussen 17 Maart en 23 Maart 2025 deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) as deel van Operasie Shanela.
5.1.2 Dit sluit in 1 753 gesoekte verdagtes vir ernstige en gewelddadige misdade soos moord, poging tot moord, verkragting, besigheids- en huisrooftogte. Hierbenewens is 1 794 verdagtes in hegtenis geneem vir aanranding met ernstige liggaamlike besering en 203 dwelmhandelaars is in hegtenis geneem. 'n Verdere 1 507 verdagtes is in hegtenis geneem vir die besit van dwelms en 115 verdagtes vir die besit van onwettige vuurwapens.
5.2 Voortgesette veldtogte oor verkeerde inligting en vals inligting
5.2.1 Die Kabinet neem met kommer kennis van voortgesette waninligtingsveldtogte deur Solidariet en AfriForum en hul bondgenote. Wetstoepassingsagentskappe ondersoek die oortredings van Suid-Afrikaanse wette.
5.2.2 Om verdere onakkurate inligting te voorkom, het die Suid-Afrikaanse Polisiediens met AfriForum vergader om die bewerings van wit volksmoord met verwysing na plaasmoorde uit te klaar.
5.2.3 AfriForum het tydens die vergadering erken dat die misdaadstatistiek soos deur die Minister van Polisie bekend gemaak, akkuraat is, insluitend ten opsigte van plaasmoorde.
5.2.4 Dit is algemeen bekend dat sommige van die plaasmoorde gepleeg word deur mense wat aan die boere bekend is, insluitend familielede.
5.2.5 Die Kabinet is ook bewus van die vals bewering dat daar ongeveer
72 000 wit boere is wat aangemeld het om na die VSA te verhuis in reaksie op die uitnodiging van die Amerikaanse president.
5.2.6 Volgens data van beide AgriSA en die Departement van Landbou, asook StatsSA, is daar slegs 41 000 kommersiële boere in Suid-Afrika.
5.3 Stryd teen korrupsie
5.3.1 Die Kabinet verwelkom die forum vir korrupsie teen grensbestuur en immigrasie, wat op 25 Maart 2025 bekendgestel is, as deel van pogings om korrupsie in grensbestuur en immigrasie te bekamp.
B. Opdaterings aan die Kabinet
1.1. Die Groep van Twintig- (G20) Beraad se voorbereidingsvergaderings
1.1.1 Suid-Afrika gaan voort om 'n reeks hoëvlak-G20-vergaderings aan te bied in die aanloop tot die G20-beraad in November 2025. Onlangse vergaderings is soos volg gehou:
1.1.2 Die eerste vergadering van die G20-handels- en beleggingswerkgroep het van 18 tot 20 Maart 2025 (virtueel) plaasgevind. Die bou van inklusiewe ekonomieë en die suksesse sowel as die mislukkings van die multilaterale handelstelsel oor die afgelope 30 jaar is bespreek. Dit het ook handel en inklusiewe groei, 'n responsiewe handelsagenda, groen industrialisasie en die hervorming van die Wêreldhandelsorganisasie bespreek.
1.1.3 Tydens 'n nasionale dialoog oor die betrokkenheid van die landbouwerkgroep en die G20 se vergadering van landbou se hoofwetenskaplikes, wat op 18 Maart 2025 (virtueel) gehou is, is volhoubaar in landbouvolhoubaarheid, -innovasie en -veerkragtigheid bespreek.
1.1.4 Die G20 Internasionale Finansiële Argitektuurwerkgroep het op 18 Maart in Pretoria vergader om oor Afrika se skuldkrisis te beraadslaag.
1.1.5 Suid-Afrika het op 20 Maart 2025 die voorbereidende vergadering vir die Afrika-Unie en Afrika-waterbeleggingsprogram se Waterbeleggingsberaad 2025 aangebied. Die berad is vir Augustus 2025 geskeduleer is.
1.1.1. Die G20-werkgroep vir omgewing- en klimaatvolhoubaarheid, wat op 25 Maart 2025 byeengekom het, het op die belangrikste prioriteite vir die omgewing en klimaatsverandering gefokus.
1.1.2. Die tweede vergadering van die G20-gesondheidswerkgroep is tans aan die gang tot 28 Maart 2025. Die vergadering beraadslaag oor die bevordering van billike toegang tot gesondheidsdienste.
1.1.3. Die G20 Werkgroep vir Digitale Ekonomie se taakspan oor kunsmatige intelligensie sal van van 7 tot 11 April 2025 in Gqeberha byeenkom om op digitale transformasie en inklusiewe maatskaplike en ekonomiese groei te fokus.
1.1.4. Die Kabinet het 'n assesseringsverslag ontvang oor die status en bewaring van Suid-Afrika se Wêrelderfenisgebiede in ooreenstemming met die G20 se minimum standaarde vir die voorbereiding en gasheerskap van die G20-beraad. Die Kabinet neem kennis dat sewe uit twaalf (12) van Suid-Afrika se wêrelderfenisgebiede gereed is om G20-gaste te huisves, maar 'n mate van opknapping is nodig om besoekers se ervarings te verbeter.
1.2. 8ste Beraad van Suid-Afrika en die Europese Unie (EU)
1.2.1. Die Kabinet het die versterking van die strategiese vennootskap tussen Suid-Afrika en die EU by die 8ste Suid-Afrika-EU-beraad, wat op 13 Maart 2025 in Suid-Afrika plaasgevind het, verwelkom.
1.2.2. Die EU het sy steun vir Suid-Afria se G20-presidensie en die belangrikheid van die G20 as ’n globale forum vir internasionale ekonomiese samewerking beklemtoon.
1.2.3. Die EU het ook ’n R93,5-miljard “Global Gateway”-beleggingspakket aangekondig om strategiese beleggingsprojekte in skoon en regverdige energie-oordrag, digitale en fisiese verbindingsinfrastruktuur, en die plaaslike farmaseutiese industrie te ondersteun.
2. Vorderingsverslag oor die registrasie van spaza-winkels en ander afsetpunte vir voedselhantering, en tussenkomste om siektes wat deur voedsel oordgedra word te voorkom
2.1. Die Kabinet het ’n vorderingsverslag ontvang oor die registrsise van spaza-winkels en ander afsetgebiede vir voedselhantering, asook ’n opdatering oor die werk wat gedoen word om siektes wat deur voedsel oorgedra word, te voorkom.
2.2. Die registrasieproses is voltooi, behalwe vir persone wat nuwe spaza-winkels wil oopmaak.
3. Migrasie van die begunstigdes van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) se toelaes na die nuwe Posbankkaart
3.1. Die Kabinet is op die hoogte gebring oor die migrasie van SASSA- begunstigdes na die nuwe en veilige swart Posbankkaart.
3.2. Die sperdatum vir SASSA-begunstigdes om hul goue SASSA-kaarte vir die swart Posbankkaart te ruil, is tot 30 April 2025 verleng om SASSA en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in staat te stel om die migrasie van uitstaande begunstigdes te voltooi.
C. Kabinetsbesluite
1. Fase 2 van Operasie Vulindlela
1.1. Die Kabinet het die fokuspunte van Operasie Vulindlela (OV), ’n gesamentlike inisiatief van die Presidensie en Nasionale Tesourie om strukturele hervormings te bestuur, goedgekeur.
1.2. Die fokuspunte sluit in die voltooiing van uitstaande werk op Fase 1 op die gebiede van energie, water, visums en logistieke hervormings, asook die nuwe fokuspunte, naamlik plaaslike regering, ruimtelike ongelykheid en digitale transformasie.
1.3. Die Kabinet het die OV in konsultasie met die betrokke lyndepartemente opdrag gegee om bykomende fokuspunte vir hervormings in herindustrialisering te oorweeg en om infrastruktuurbou te ontsluit, asook die olie- en gassektor en eksplorasie.
1.4. Die Kabinet neem kennis dat Suid-Afrika steeds die land met die 8ste grootste reserwes van gas is en dat die belemmerende gas-afgrond (Mosambiek se verwagte skerp afname in gasvoorsiening aan Suid-Afrika) vereis dat die land selfvoorsieningskapasiteit in gas moet bou.
1.5. Die Kabinet sal spesiale vergaderings hou om binne die volgende vier (4) weke op 'n ekonomiese groeiplan te fokus.
2. Nasionale Bestuursbeleid vir Geïntegreerde Watergehalte
2.1. Die Kabinet het die implementering van die Geïntegreerde Watergehaltebestuursbeleid goedgekeur. Die beleid is daarop gemik om watergehalte-uitdagings aan te pak soos uiteengesit in die 1997 Witskrif oor 'n Nasionale Waterbeleid vir Suid-Afrika en die Nasionale Waterwet.
2.2. Die beleid gee 'n uiteensetting van 'n stel beginsels wat die basis vir watergehaltebestuur vorm. Dit bied 'n belyning met al die toepaslike waterverwante wetgewing, en die land se wêreldwye verbintenisse tot die voorsiening en bewaring van water as 'n skaars hulpbron.
3. Die Suid-Afrikaanse Meesterplan vir Hernubare Energie (SAREM)
3.1. Die Kabinet het die implementering van die Suid-Afrikaanse Meesterplan vir Hernubare Eneregie (SAREM) goedgekeur.
3.2. Die SAREM poog om die toenemende vraag na hernubare energie en bergingstegnologieë te benut om industrialisasie en lokalisering te bevorder.
3.3. Die meesterplan fokus op son- en windenergie, litium-ioon-, battery- en vanadium-gebaseerde batterybergingstegnologieë en is ontwerp om 'n lewende dokument te wees.
3.4. Die Kabinet het opdrag gegee dat daar bykomende werk aan die Meesterplan gedoen moet word om:
3.4.1. Beleggers aan te spoor om die ontwikkeling van verskaffers van hernubare energie te finansier;
3.4.2. Die ontwikkeling van groen waterstofbrandstof om die internasionale verpligting van 5% gemengde brandstof in die lugvaart- en maritieme sektore teen 2030 na te kom.
4. Padkaart vir die Regerig se Digitale Transformasie
4.1. Die Kabinet het die Padkaart vir die Regering se Digitale Transformasie goedgekeur. Dit is gemik op die benutting van tegnologie om die staat se dienslewering en die regering se doeltreffendheid te verbeter. Kwessies wat aandag kry, sluit in: interdepartementele koördinasie, verouderde stelsels, oorvleuelende mandate en beperkte vaardighede of kapasiteit.
4.2. Dit is ontwerp om ’n mens-gesentreerde digitale regering te bied, wat die behoeftes van die mense beter verstaan, veral kwesbare groepe, deur doeltreffende en effektiewe dienslewering te verseker.
D. Wetsontwerpe
1. Konsep Wysigingswetsontwerp op die Agentskap vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Waterhulpbroninfrastruktuur (NWRIA)
1.1. Die Kabinet het die die voorlegging van die konsep NWRIA-wysigingswetsontwerp aan die Parlement goedgekeur. Die wysigings hou verband met die notering van die NWRIA as 'n Bylae 2-maatskappy in staatsbesit.
E. Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike sekerheidsklarings.
1. Mnr Fhululani Peter Netshipale as Direkteur-Generaal van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
2. Lede van die Suid-Afrikaanse Raad vir die Nie-verspreiding van Massavernietigingswapens:
(a) Me Ditebogo Kgomo (Voorsitter);
(b) Dr Kelvin Kemm;
(c) Dr Alison Lubisi;
(d) Mnr Gian Marcon;
(e) Me Kgaugelo Mogashoa;
(f) Me Elsie Monale;
(g) Mnr Sandile Ndlovu;
(h) Me Deidre Penfold;
(i) Me Lizell Reinecke;
(j) Prof Bismark M Tyobeka; en
(k) Dr Jaqueline Weyer.
3. Lede van die Suid-Afrikaanse Bosbou Maatskappy Beperk:
(a) Prof Edward Nesamvuni (Voorsitter)
(b) Mnr Neeshan Balton (heraanstelling)
(c) Me Lahlane Malema (heraanstelling)
(d) Mnr Norman Baloyi;
(e) Mnr Leo Long;
(f) Mnr Ndyebo Grootboom;
(g) Adv Nomazotsho Yvonne Memani;
(h) Mnr Zwintayo Madula;
(i) Me Sharon Mkhize; en
(j) Me Ntombifuthi Nkosi.
F. Toekomstige gebeure
1.1. Wêreld Tuberkulose (TB) -dag
1.1.1. Suid-Afrika het Wêreld TB-dag op 24 Maart 2025 gevier onder die tema: Ja! Ek en jy kan TB beëindig: verbind, belê, lewer.
1.1.2. Die Kabinet is verheug dat die voorkoms van TB in Suid-Afrika in 2023 met 57% gedaal het en sodoende die Wêreldgesondheidsorganisasie se teiken om die voorkoms van TB van 2015 tot 2025 met 50% te verminder bereik het. Ons uitgebreide antiretrovirale program het bygedra tot beter TB-uitkomste, insluitend suksesvolle behandeling en minder sterftes.
1.1.3. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om hul naaste kliniek of hospitaal te besoek vir gratis TB-sifting.
2. Water- en Sanitasie-Indaba (27–28 Maart 2025)
2.1. Die Water- en Sanitasie-Indaba 2025 word op 27 en 28 Maart 2025 by die Gallagher-landgoed gehou met die tema: Watersekerheid en
-voorsiening.
2.2. Die Indaba sal verpligtinge wat in die 2025–2029 Mediumtermyn-ontwikkelingsplan (MTOP) en Operasie Vulindlela 2.0 onderneem is, bevorder as deel van die Sewende Administrasie se omkeerstrategie vir die watersektor.
2.3. Die Indaba sal ook vordering wat met die 2024-Waterberaad se aksieplan gemaak is bespreek en besin oor die Blou-, Groen- en Geen Druppel-verslae van Desember 2023.
2.4. Vroue Ekonomiese Vergadering (WECONA)
Die WECONA, wat voorspraak maak vir die gelyke ekonomiese deelname van vroue aan die hoofstroomekonomie om die plaag van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV) te bekamp, sal op 28 Maart 2025 plaasvind.
2.5. Die nasionale inisiatief bring maatskappye, staatsdepartemente, organisasies en individue bymekaar om geleenthede te skep vir sakeondernemings in vrouebesit om aan die ekonomie deel te neem.
3. Vryheidsmaand
3.1. Suid-Afrika vier Vryheidsmaand in April om aan te sluit by Vryheidsdag wat op 27 April 2025 gevier word.
3.2. Vryheidsdag en Vryheidsmaand is betekenisvolle vierings vir ons nasie, omdat ons die stigting van 'n verenigde, nie-rassige, nie-seksistiese en demokratiese Suid-Afrika vier, asook ons verbintenis tot die waardes van menswaardigheid, nie-rassigheid en nie-seksisme, en die respek vir die oppergesag van die reg soos voorgestaan in ons Grondwet.
3.3. Vanjaar se nasionale Vryheidsdagvierings vind in Mpumalanga plaas en sluit ook die land se jaarlange viering van 30 Jaar van Vryheid en Demokrasie af.
4. Die Afrika-beraad vir Kinders (3 – 7 April 2025)
4.1. Suid-Afrika is gasheer vir die Afrika-beraad vir Kinders wat van 3 tot 7 April 2025 in Johannesburg gehou word.
4.2. Suid-Afrika is gekies as die ligging vir die komende beraad met die Nelson Mandela Kinderfonds as die hoof burgerlike samelewingsorganisasie.
4.3. Deelnemers van regoor die vasteland van Afrika sal vir die beraad bymekaarkom. Dit sal deur kinders gelei word om dialoog tussen beleidmakers en kinders te fasiliteer.
4.4. 17de Internasionale Assosiasie van Vroueregters (IAWJ) se Tweejaarlikse Konferensie
Suid-Afrika sal van 9 tot 12 April 2025 die 17de IAWJ-tweejaarlikse konferensie in Kaapstad aanbied onder die tema: "Veerkragtigheid: Vroue in Leierskap om GGGV te beëindig".
4.5. Die konferensie, wat deur die Suid-Afrikaanse afdeling van die IAWJ aangebied word, bring regters en ander regslui van regoor die wêreld bymekaar. Dit sal maniere bespreek om GGGV te beëindig deur vroueregte en -leierskap te bevorder. Gesiene regslui soos Hoofregter Mandisa Maya, sal die konferensie bywoon.
4.6. Presidensiële toesigbesoek aan die Nelson Mandelabaai-metro
President Ramaphosa sal op 15 en 16 April 2025 'n presidensiële toesigbesoek aan Gqeberha onderneem om vordering met dienslewering, asook uitdagings en geleenthede vir inklusiewe ekonomiese groei te evalueer.
4.7. Die presidensiële toesigbesoek sal deur leiers van al drie regeringsfere bygewoon word en bied 'n geleentheid vir die regering om met inwoners te kommunikeer.
4. Afrika Groen Waterstofberaad (12 – 13 Junie 2025)
4.1. Suid-Afrika sal die eerste Afrika Groen Waterstofberaad van 12 tot 13 Junie 2025 aanbied.
4.2. Die Afrika Groen Waterstofberaad het ten doel om streeksamewerking te bevorder, tegnologiedeling en kapasiteitsbou te fasiliteer en om marktoegang in die groen waterstofsektor moontlik te maak.
G. Boodsakppe
1. Gelukwense
Die Kabinet dra sy gelukwense en goeie wense oor aan:
1.1. Haar Eksellensie, President Netumbo Nandi-Ndaitwah met haar inhuldiging as President van Namibië. Sy is ook die eerste vroulike president van haar land, en het die eerste vrou ooit, naamlik die Vise-President, Haar Eksellensie Lucia Witbooi aangestel en ’n Kabinet wat deur vroue gelei word.
1.2. Suid-Afrika se span vir hul uitnemende prestasie by die 2025 Spesiale Olimpiese Winterspele in Italië en die Wêreld Binnenshuise Atletiekkampioenskap in China.
1.2.1. Tydens die Spesiale Olimpiese Wêreldwinterspele, het Suid-Afrika een goue, drie silwer en twee brons medaljes ingepalm:
a) Naledi Hlalele het ’n goue medalje vir figuurskaats verower;
b) Bianca Basson en Kenneth Mokabo het silwer medaljes vir figuurskaats verower;
c) Shane Bentley het silwer ingepalm vir kortbaan-snelskaats;
d) Tyrell Sykes het brons gewen vir figuurskaats; en
e) Shirnel Swarts het brons gewen vir kortbaan-snelskaats.
1.2.2. Die Suid-Afrikaanse span by die Wêreld Binnenshuise Atletiekkampioenskap in China, het as volg presteer:
a) Prudence Sekgodiso het 'n geskiedkundige oorwinning behaal as die eerste Suid-Afrikaanse vrou om 'n goue medalje by die Binnenshuise Wêreldatletiekkampioenskap in die 800m te wen.
b) Akani Simbine het die die bronsmedalje in die 60m-eindstryd by die Wêreldatletiek Binnenshuise Kampioenskappe gewen.
c) Cheswill Johnson het ook uitmuntend presteer in verspring vir mans en Chris van Niekerk in gewigstoot.
1.3. Die jeugdige naelloopsensasie, Bayanda Walaza, wat deur die sub-10-grens gebreek het en die wêreld se vyfde vinnigste junior 100-meter en Suid-Afrika se o.20-rekord deur 9.99 sekondes aan te teken om goud by die Gauteng-`Noord Atletiekkampioenskappe te wen.
1.4. Rassie Erasmus wat aangewys is as Afrigter van die Jaar vir 2024 by die SA Rugbytoekennings.
1.5. Springbok Cheslin Kolbe, wat as die SA Mans-rugbyspeler van die Jaar 2024 aangewys is. Hy is die eerste agterspeler sedert 2013 om hierdie titel te wen.
1.6. Nadine Roos wat vereer is as SA Vroue-rugbyspeler van die Jaar 2024, vir die tweede keer in drie jaar.
1.7. Bafana Bafana met hul top-posisie in Groep C in die kwalifiserende wedstryde vir die 2026 FIFA Wêreldbeker met 'n 2-0-triomf oor Lesotho in die stampvol Peter Mokaba-stadion in Polokwane.
1.8. Suid-Afrikaanse sangeres Tyla Laura Seethal, algemeen bekend as Tyla, wat as Wêreld Uitvoerende Kunstenaar van die Jaar aangewys is by die iHeartRadio Music Awards.
2. Meegevoel
Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die vriende en naasbestaandes van:
2.1. Me Yolanda Nyembezi, algemeen bekend as Yallunder, ’n veelsydige musikant wat gehore bekoor het met haar ryk stem en passievolle optredes.
2.2. Mnr Ashwin Trikamjee, President van die Suid-Afrikaanse Hindu Maha Sabha en Voorsitter van die Nasionale Forum vir Godsdiensleiers. Hy was ’n menseregteprokureur en was ook instrumenteel in die ontwikkeling van sokker in Suid-Afrika. As 'n anti-apartheidsaktivis het hy die Durban Sentraal-komponent van die Natalse Indiese Kongres gelei.
2.3. Die ses gemeenskapspatroleerders wat in ’n aanval by die Marry Me informele nedersetting in Soshanguve gesterf het. Die ses patroleerders wat tydens die insident beseer is, word sterkte en spoedige beterskap toegewens. Die oorledenes is Mpho Johannes Koko, Phelemon Seshoka, Katlego Motloutsi, Andries Moreteledi Tlhabane, Siliky Ngoeng, en een persoon wie se identiteit steeds onbekend is. Twee mense wat met die misdaad verbind word is in hegtenis geneem en het op Woensdag 26 Maart 2025 in die hof verskyn.
2.4. Mnr James O'Connell, die vlieënier wat gesterf het toe sy Impala Mark 1-vliegtuig neergestort het tydens sy optrede by die Weskus Lugskou by die Saldanha-vliegveld in die Wes-Kaap.
Uitgereik deur: Die Regering se Kommunikasie en Inligtingstelsel (GCIS)
Navrae: Me Nomonde Mnukwa – Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485