A. Kwessies in die omgewing
1. Ekonomie
1.1 SAID vorder ʼn rekordbedrag van R2 triljoen in netto inkomste in
1.1.1 Die Kabinet het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), onder Kommissaris Edward Kieswetter, geprys vir die invordering van net meer as R2 triljoen in netto inkomste; ʼn rekordmylpaal wat bereik is in die kortste tydperk sedert die R1 triljoen netto inkomste invorderingsmylpaal bereik is.
1.1.2 Die verbeterde belastinginvordering is ʼn hupstoot vir fiskale kapasiteit en standvastigheid deurdat dit die regering se afhanklikheid op skuld verminder en meer fiskale ruimte skep om die begroting te finansier.
1.1.3 Die land pluk nou die vrugte van verbeterde belastingnakoming asook SAID se doeltreffender administratiewe funksies, wat te danke is aan harde werk en toewyding, sowel as die vordering wat gemaak is in die implementering van die Nugent-kommissie se aanbevelings.
1.1.4 Die R2 triljoen netto ingevoderde inkomste, dui ook op ekonomiese groei, wat in hierdie geval gegrond is op die ekonomiese prestasie van die mynbousektor, ʼn fundamentele steunpilaar in Suid-Afrika se ekonomie.
1.1.5 Hierdie mylpaal verteenwoordig beduidende ekonomiese groei in vegelyking met die inkomste-invordering van R114 miljard in 1994/95 en die tydsduur wat dit die SAID geneem het om die R1 triljoen-mylpaal te behaal en daarna slegs agt jaar om die R2 triljoen-kerf te bereik.
1.2 Sesde Suid-Afrika (SA) beleggingskonferensie bevestig die land as ʼn voorkeurbeleggingsbestemming
1.2.1 Suid-frika het ‘n besonder suksesvolle sesde SA-beleggingskonferensie (SAIC) op 31 Maart 2026 in Johannesburg aangebied met meer as 1 000 afgevaardigdes uit 50 land.
1.2.2 Die sesde SA-beleggingskonferensie vorm deel van die tweede siklus van die beleggingsaansporing, waarvolgens die regering na ʼn beleggingsteiken van R2 triljoen oor die volgende vyf jaar streef.
1.2.3 Die beleggingsbeloftes van R898 miljard wat 81 projekte regoor al nege provinsies behels, was ʼn beslissende stem van vertroue in Suid-Afrika as ʼn beleggingsbestemming.
1.2.4 Die beleggingsbeloftes sal na verwagting meer as 230 000 permanente werksgeleenthede skep, wat die regering se verbintenis tot inklusiewe groei en werkskepping sal ondersteun.
1.2.5 Sedert die beleggingskonferensie se ontstaan in 2018 is beleggingsbeloftes van R1.56 triljoen suksesvol gemobiliseer, wat Die Presidensie se oorspronklike teiken met R628 miljard oorskry het. Van die R1.56 triljoen in beleggingsbeloftes is 137 projekte ter waarde van R400 miljard voltooi, terwyl 84 projekte ter waarde van R417 miljard tans onder konstruksie is.
1.3 Voortdurende stygende BBP dui op ʼn bestendige, groeiende ekonomie
1.3.1 Die Kabinet verwelkom die vyf agtereenvolgende kwartale van ononderbroke ekonomiese groei wat gelei het tot ʼn jaarlikse toename in BBP van 1.1%, soos aangekondig deur StatsSA. Hierdie groei is ook gesteun deur ʼn toename van 0.4% in BBP in die laaste kwartaal van 2025.
1.3.2 Die grootste prestasie sedert 2022 is hoofsaaklik aangedryf deur die sleuteldienssektore van finansies, eiendom en sakedienste, handel, spyseniering en persoonlike dienste; dit is verder ondersteun deur positiewe bydraes van die landbou- en algemene staatsdienssektore.
1.4 Die Internasionale Bank vir Rekonstruksie en Ontwikkeling se kredietfasiliteit gee ‘n hupstoot aan kritiese infrastruktuur-ontwikkeling
1.4.1 Die Kabinet verwelkom die vestiging van ʼn kredietwaarborgfailiteit deur die Internasionale Bank vir Rekonstruksie en Ontwikkeling, ter waarde van $350 miljoen (nagenoeg R5.6 miljard).
1.4.2.Die kredietwaarborgfasiliteit sal aanvanklik daarop fokus om die land se elektrisiteitsinfrastruktuur uit te brei en sal later die fokus verbreed om infrastruktuurprojekte in water, vraglogistieke, onderwys en gesondheid in te sluit.
1.5 Suid-Afrika bied ’n suksesvolle LIV-gholftoernooi op Afrika-bodem aan.
1.5.1 Die Kabinet is ingenome dat Suid-Afrika weereens uitgeblink het as ’n puik geleentheidsbestemming met die suksesvolle aanbieding van die LIV-gholftoernooi in Johannesburg – die eerste keer ooit in Afrika. Top internasionale sowel as uitstekende Suid-Afrikaanse spelers het hul spelvernuf tydens die toernooi gedemonstreer.
1.5.2 Meer as 100 000 mense het hierdie gesogte toernooi bygewoon, wat aansienlike ekonomiese en sosio-ekonomiese voordele, insluitend ʼn toename in toerisme meegebring het. Van die besoekers wat die toernooi bygewoon het, het byvoorbeeld hul besoek verleng om die land se diverse toerisme-aanloklikhede te verken, insluitend safari-bestemmings, kusstreke, wynlande en stede.
1.5.3 Meer LIV-gholftoernooie word beplan vir 2027 en 2028, met moontlike verdere geleenthede in 2029 en 2030. Kaartjies vir die 2027 Suid-Afrika LIV Golftoernooi is reeds beskikbaar.
1.6 Versagting van die VSA-Israel-Iran-oorlog se impak op Suid-Afrika
1.6.1 Die Kabinet doen saam met President Cyril Ramaphosa ʼn 1.6.2beroep op ʼn onmiddellike wapenstilstand in die VSA-Israel-Iran-oorlog, wat tans die Midde-Ooste en die wêreld negatief raak.
1.6.2 Die Kabinet word op die hoogte gehou van plaaslike brandstofsekuriteit, wat deur die voortgesette oorlog geraak word, en is gerusgestel dat Suid-Afrika se brandstofstelsel voldoende is vir die onmiddellike toekoms. Die Kabinet is ingelig dat Suid-Afrika slegs geraffineerde produkte vanuit die Midde-Ooste verkry.
1.6.3 Die President het ʼn ministeriële taakmag bestaande uit die minister van minerale en petroleumhulpbronne (voorsitter); finansies; vervoer; handel, nywerhede en mededinging; internasionale betrekkinge en samewerking; landbou; elektrisiteit en energie; bosbou, visserye en die omgewing; en Die Presidensie aangestel om die regering se reaksie op hierdie kwessie op ʼn holistiese wyse te koördineer en sodoende die impak op lewenskoste, brandstof en voedselsekuriteit te verlig.
1.6.4 As onmiddellike ingryping het die taakmag aanbeveel dat die brandstofheffing in die onmiddellike toekoms verminder moet word om die impak op die styging in brandstofpryse wat op Woensdag 1 April 2026 in werking getree het, te versag.
1.6.5 Ons wil Suid-Afrikaners graag gerus stel dat die brandstofvoorraad in die land stabiel is en dat die vulstasies wat tsns leeg is, bloot die gevolg is van logistieke beperkings weens paniekkoop en die opgaar van brandstof. Hierdie praktyke word gevolglik ten sterktse in Suid-Afrika afgeraai.
1.7 Lisensiëring van Postbank verseker toegang tot bekostigbare finansiële dienste aan gemeenskappe
1.7.1 Die Kabinet verwelkom die formele lisensiëring van Postbank as ʼn finansiële diensverskaffer by die finansiële sektor gedragsowerheid; dit versterk die voortdurende werk om Postbank as ʼn volhoubare handelsbank in staatsbesit te vestig.
1.7.2 Hierdie lisensie sal Postbank instaatstel om sy reeks dienste uit te brei en finansiële insluiting te bevorder om bekostigbare finansiële dienste aan finansieel-uitgeslote gemeenskappe te bied.
1.7.3 Die Kabinet prys die vordering wat gemaak is om Postbank se bevoegdheid as ʼn bankinstelling in staatsbesit te verster.
1.8 Hersteloperasies by die Ekapa Minerals-myn
1.8.1 Die Kabinet is op die hoogte gebring oor die werk wat gedoen word om die liggame van die vyf mynwerkers wat ondergronds vasgevang was weens ʼn modderstorting by die Ekapa Minerals-myn in Kimberley na die oppervlak te bring.
1.8.2 Al vyf liggame is na die oppervlak gebring. Die Kabinet dra sy diepste meegevoel oor aan die naasbestaandes, kollegas en geliefdes van die oorledenes.
1.8.3 Die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne onderneem ʼn volskaalse ondersoek na die voorval om diegene, indien daar is, wat aan nalatigheid skuldig is, tot verantwoording te roep.
2. Verbetering in die Staatsdiens
2.1 Hervorming van metro-handelsdienste sal noodsaaklike dienste in agt metro’s verbeter
2.1.1 Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die hervorming van metro-handelsdienste – ʼn vlagskip-inisiatief van Operasie Vulindlela – wat ontwerp is om die land se agt metropolitaanse munisipaliteite te help om dienslewering rakende elektrisiteit, water en afvalwater, asook vaste afval te herstel en te verbeter.
2.1.2 As deel van die program sal die Nasionale Tesourie oor die volgende ses jaar R54 miljard toeken vir prestasie-gebaseerde aansporings. Dit sal toegewyde befondsing voorsien aan metropolitaanse munisipaliteite wat meetbare en merkbare verbeteringe in die lewering van noodsaaklike dienste toon.
2.1.3 Om vir hierdie aansporings te kwalifiseer, moet die metro’s die prestasieteikens wat in hul sleutelhandelsienste uiteengesit is – water, elektrisiteit en vaste afval – soos uiteengesit in hul prestasieverbetering se aksieplanne bereik.
2.2 Oudituitkomste van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) 2024-2025
2.2.1 Die Kabinet het beraadslaag oor die Verslag oor Nasionale en Provinsiale Departemente, Openbare Entiteite en Wetgewers deur die Ouditeur-generaal van Suid-Afrika vir die 2024/25 PFMA-oudituitslae.
2.2.2 Die verslag dui op ’n effense verbetering in ongekwalifiseerde menings met geen bevindings, beter bekend as skoon oudits, wat van 142 in 2023/24 tot 151 in 2024/25 toegeneem het, terwyl onreëlmatige en verkwiste uitgawes afgeneem het in vergelyking met die vorige jaar. Nuttelose en verkwiste uitgawes het aansienlik afgeneem, van R3.54 miljard in 2023/24 tot R1.42 miljard in 2024/25.
2.2.3 Die Kabinet is besorg oor verskeie entiteite en departemente wat gestagneer het in die ongekwalifiseerde oudit met bevindingkategorieë en geen implementering van aksieplanne om hierdie bevindinge te verbeter nie. Byvoorbeeld, net 38 materiële onreëlmatighede is sedert die 2023/24-verslag opgelos en ʼn skamele R1.38 miljard in finansiële verliese is voorkom of verhaal.
2.2.4 Lede van die Kabinet sal die implementering van aksieplanne om die ouditbevindinge te ondersoek, aktief en fyn dophou en hul steun verleen aan die verantwoordbaarheidsmaatreëls, robuuste interne kontrole en voorkomingsmaatreëls van sleutelbelang tot goeie bestuur en diensverbetering wat deur die Ouditeur-generaal ingestel is.
3. Stryd teen misdaad
3.1 Stryd teen misdaad versterk deur ontplooing van die SANW om die SAPD te ondersteun
3.1.1 Die Kabinet verwelkom die ontplooiing van 2 200 lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te steun in die stryd teen onwettige mynbedrywighede en bende-aktiwiteite in die Oos-Kaap, die Vrystaat, Gauteng, Noordwes en die Wes-Kaap.
3.1.2 Lede van die SANW sal die veiligheidsmagte aanvul en sal volgens duidelike maatreëls van betrokkenheid optree. Die ontplooiing van die SANW is byna voltooi.
3.2 Ons erfenis en gebruike moet deur almal gerespekteer word, veral deur ons besoekers
3.3 Die Kabinet het sy sterkste afsku uitgespreek teen die sogenaamde kroning van ʼn Nigeriese burger as ʼn beweerde hoof in KuGompo City in die Oos-Kaap en aangedui dat dit bloot ʼn kinderagtige foefie is en geen regsmeriete dra nie.
3.4 Die Kabinet het bevestig dat die instelling, erkenning van en funksionering van enige tradisionele leierskapstruktuur streng beheer word deur die Wet op Tradisionele en Khoi-San-leierskap 2019, wat duidelike en ononderhandelbare prosedures uiteensit vir wettige erkenning.
3.5 Die Kabinet neem kennis van die Nigeriese Hoë Kommissie se verskoning oor hierdie aangeleentheid, en het die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking versoek om voort te gaan om met die Hoë Kommissie gesprek te voer rakende die onaanvaarbare gedrag van Nigeriese burgers in Suid-Afrika, wat as uiters onbetaamlike gedrag vir besoekers beskou word.
3.6 Dit is uiters kommerwekkend dat wettige griewe rakende hierdie saak tot dade van geweld en kriminaliteit gelei het. Die Kabinet herinner landsburgers daaraan dat die reg tot protes met verantwoordelikheid gepaard moet gaan en binne die beperkings van die wet vreedsaam moet plaasvind.
4. Bevordering van menseregte
4.1 Herstel van waardigheid deur grondrestitusie
4.1.1 As deel van die herstel van menswaardigheid, het President Ramaphosa 17 000 hektaar grond, wat ongeveer 2 000 begunstigdes sal bevoordeel, terugbesorg aan die St Paul, Ngunjini, Ndzimankulu/Vierkant gemeenskappe en die Lawrence-familie in KwaZulu-Natal.
4.1.2 Adjunkpresident, Paul Mashatile, het meer as 627 hektaar grond en titelaktes aan die Schulk Marhiqa-gemeenskaplike eiendomsvereniging terugbesorg. Dit sal 18 huishoudings en 86 begunstigdes in die Govan Mbeki plaaslike munisiplaiteit in Mpumalanga bevoordeel.
4.1.3 Teen Maart 2025 is altesaam 83 205 grondeise afgehandel; dit het tot die restitusie van 3.9 miljoen hektaar grond aan onteiende gemeenskappe en individue sedert 1995 gelei. Die regering het R58 miljard in grondaankope, toelaes en finansiële vergoeding belê, wat 376 976 begunstigdes landwyd ondersteun. Hierbenewens is altesaam 5.3 miljoen hektaar sedert 1995 herverdeel en die regering het post-skikkingsondersteuning versterk, die lewensvatbaarheid van plase verbeter en marktoegang uitgebrei.
4.2 Waardigheid en regte van Khoi-San herbevestig
4.2.1 Die Kabinet verwelkom die herbegrafnis van die voorouerlike oorskot van 63 Khoi- en San-mense by die Kinderlê-monument by Steinkopf in die Noord-Kaap. Dit is die oorskot van slegs ʼn klein groepie uit die duisende inheemse inwoners wie se oorskot onwettig verwyder is en in die laat-19e eeu en vroeë-20e eeu na museums in Europa geneem is.
4.2.2 Die herbegrawing vorm deel van die restitusie van die Khoi- en San-mense se regte en menswaardigheid en dien as herinnering aan die onwaardighede van die koloniale en apartheidstelsels wat inwoners van Afrika as minder-as-mens en as wesens van spot en vermaaklikheid behandel het. Die herbegrawings is ʼn verbintenis wat die regering gemaak het om diegene wat hul lewens aan die struggle en die stryd vir vryheid gegee het, te eer.
4.2.3 Die herbegrawing val saam met nog ʼn mylpaal – die insluiting van die Khoi en San se tradisionele name in die Departement van Binnelandse Sake se stelsel, wat ʼn belangrike stap is om menswaardigheid te herstel. Vir die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis kan geboortesertifikate, slim-ID’s en paspoorte nou formeel Khoi-San tradisionele name erken en opneem na aanleiding van die opgradering van die Departement se IT-stelsels.
B. Kabinetsbesluite
1. Gewysigde Witskrif op Burgerskap, Immigrasie en die Beskermring van Vlugtelinge (CIRP)
1.1 Die Kabinet het die gewysigde Witskrif op Burgerskap, Immigrasie en Vlugtelingbeskerming vir implementering goedgekeur. Die beleid stel ʼn fundamentele opknapping van Suid-Afrika se migrasie- en burgerskapraamwerk bekend. Na die aanvanklike goedkeuring deur die Kabinet in 2024 het die Departement van Binnelandse Sake op 12 Desember 2025 ʼn konsepwitskrif gepubliseer om die prioriteite van die Regering van Nasionale Eenheid te inkorporeer.
1.2 Die witskrif het ten doel om die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap, 1995, die Wet op Immigrasie, 2002 en die Wet op Vlugtelinge, 1998 te konsolideer tot ʼn enkele wet en sodoende bestaande regsweerspreking te verwyder. Sleutelverbeteringe sluit in die integrasie van aanbevelings van Operasie Vulindlela se verslag oor visumbeleidshervormings, bykomende duidelikheid en besonderhede om die implementering van immigrasie- en burgerskapbeleid te versterk en groter fokus op digitale transformasie.
1.3 Die gewysigde witskrif het ten doel om ʼn samehangende, gemoderniseerde benadering tot burgerskap, immigrasie en vlugtelingbeskerming te verseker. Dit ondersteun nasionale ontwikkeling en nasionale veiligheidsdoelwitte, insluitend die beginsel van “eerste veilige land”, wat vlugtelinge aanmoedig om beskerming te soek in die eerste land wat hulle bereik en wat as veilig beskou word.
1.4 Die Witskrif maak voorsiening vir toepaslike staatsDepartemente om die dryf van handel, bewoning en beroepe as uitsluitlik voorbehou aan Suid-Afrikaners aan te wys om uitvoering te gee aan artikel 22 van die Grondwet. Die aanwysing deur die toepaslike Departemente moet behoorlike oorweging gee aan die regte van asielsoekers om werk te soek om ʼn lewensbestaan te maak en hul menswaardigheid te behou.
2. Navorsingsverslag oor die impak van klimaatsverandering op persone met gestremdhede
2.1 Die Kabinet het die Navorsingsverslag oor die Impak van Klimaatsverandering op Persone met Gestremdhede en die publikasie daarvan goedgekeur.
2.2 Die verslag het ten doel om te verseker dat alle klimaatsaksie-, versagting- en aanpassingstrategieë persone met gestremdhede insluit.
2.3 Die studie identifiseer noemenswaardige gapings in maatreëls om persone met gestremdhede tydens rampe en rampspoedige gebeurtenisse te beskerm.
2.4 Sleutelaanbevelings sluit die hoofstroominlywing van klimaatsverandering- en rampsbestuurreaksies in; die versekering dat alle vroeë waarskuwingsmeganismes toeganklik is vir alle persone met gestremdhede; die voorsiening van toeganklike en gepaste rampreaksie-kommunikasie; prioritisering van vroue en meisies met gestremdhede asook ouer persone met gestremdhede in klimaatsveranderingsbeplanning; toenemende deelname van persone met gestremdhede in die beleidsontwikkeling rakende klimaatsverandering en -implementeringsprosesse; verbeterde en wyer insluiting van persone met gestremdhede in die hervorming en implementering van klimaatsverandering en op plaaslike vlak.
3. Verslag oor die aansoek vir nasionale ingryping in die Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit
3.1 Die Kabinet is op die hoogte gebring rakende vordering met die nasionale ingryping by die Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit. Die Kabinet het die aanstelling van ʼn kabinetsverteenwoordiger bevestig en die goedgekeurde bepalings en opdragte vir die nasionale ingryping goedgekeur.
3.2 Vordering met die ingryping sluit in:
3.2.1 Die regulering van die aanstellings van die burgemeester en die speaker en die regulering van artikel 79/80-komitees is gefinaliseer, terwyl ʼn regsassessering uitgevoer word oor die wettigheid van die aanstelling van die munisipale bestuurder.
3.2.2 Die goedkeuring van die Finansiële herstelplan deur die Minister van Finansies, wat tans deur die raad geprosesseer word.
3.2.3 Hierbenewens, word kontinuïteit in die lewering van basiese dienste verseker, ʼn water- en sanitasiediensvlakooreenkoms met die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit is gesluit en die gepaardgaande besigheidsplan is gefinaliseer. As deel van die rampsbestuur-ingryping na aanleiding van die rampe wat tussen November 2024 en Februarie 2025 plaasgevind het, is die konstruksie van 95 van die beplande 239 tydelike behuisingseenhede voltooi.
3.2.4 Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA) het ʼn oorsig van die munisipaliteit se inligtings en kommunikasie (ITK) -infrastruktuur gefinaliseer om infrastruktuur en dienslewering te herstel. Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het ʼn diensverskaffer aangestel om te help met die ontwikkeling van ʼn geïntegreerde afvalbestuursplan, terwyl die provinsiale Departement van Openbare Werke twee vragmotors beskikbaar gestel het om te help met die verwydering van afval by geïdentifiseerde onwettige stortingsterreine.
3.3 Samesprekings tussen die munisipaliteit en Eskom om ʼn ooreenkoms te sluit wat daarop gemik is om uitdagings met elektrisiteitsvoorsiening die hoof te bied, is op ʼn gevorderde stadium. Die JCPS-kluster se departemente sal voortgaan om steun te verleen deur intelligensie, misdaadvoorkoming, vervolging en sekuriteitsbestuursingrypings. Die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake en die Minister van Finansies sal voortgaan om strategiese en operasionele ondersteuning op ’n interregeringsvlak te lewer om die ingryping te steun.
4. Konsep Nasionale Ontwikkelingsplan vir Lughawens (NADP)
4.1 Die Kabinet het die publikasie van die Konsep-ontwikkelingsplan vir Nasionale Lughawens goedgekeur. Die ontwikkelingsplan is ʼn nasionale beplanningsraamwerk wat deur die Departement van Vervoer ontwikkel is om die gekoördineerde ontwikkeling, uitbreiding en langtermynvolhoubaarheid van Suid-Afrika se lughawenetwerk te lei. Dit voorsien ʼn strategiese, stelselwye benadering tot lughawe-infrastruktuurbeplanning wat belyn is met nasionale vervoer-, ekonomiese en ruimte-ontwikkelingsprioriteite.
4.2 Die ontwikkelingsplan sal verseker dat die ontwikkeling van lughawens deeglik, vraaggedrewe en geïntegreerbeplan word om ongevraagde uitbreiding te verhoed en terselfdertyd sosio-ekonomiese opbrengste uit lugvaartinfratsruktuur te maksimaliseer.
4.3 Gevolglik sal die ontwikkelingsplan ʼn geïntegreerde, strategiese netwerk van lughawens skep om ekonomiese groei, sowel as logistiek, toerisme en werkskepping te bevorder. Dit sal oorhoofse netwerkbeplanning asook die ontwikkeling van individuele lughawens wat in hul wyer ruimtelike gebruik sowel as grondgebruik geïntegreer is, lei en ondersteun. Die publiek word aangemoedig om geskrewe kommentaar oor die gepubliseerde plan te lewer by www.transport.gov.za.
5. Konsep Nasionale Meesterplan vir Spoorweë (NRMP)
5.1 Die Kabinet het die publikasie van ʼn Nasionale Meesterplan vir Spoorweg vir openbare kommentaar goedgekeur. Die meesterplan is ʼn langtermyn strategiese plan wat ontwikkel word om die herlewing, uitbreiding en modernisering van Suid-Afrika se spoorstelsel te lei.
5.2 Die meesterplan verwerk die nasionale spoorwegbeleid, wat in 2022 deur die Kabinet goedgekeur is, to ʼn praktiese en gefaseerde beleggings- en implementeringsplan vir vrag- en passassierspoorvervoer in die komende dekades. Dit het ten doel om ʼn bekostigbare, mededingende stelsel te skep deur passassier-, vrag- en hoëspoedspoorvervoer te integreer en terselfdertyd deelname deur die private sektor aan te moedig.
5.3 Suid-Afrika se spoorwegstelsel is jare lank afgetakel deur onderbelegging, afnemende prestasie, diefstal, vandalisme en operasionele ondoeltreffendheid, wat tot opeenhopings op ons paaie, hoër logistieke koste en swakker ekonomiese mededinging van die ekonomie gelei het. Die Nasionale Spoorwegmeesterplan sal hierdie uitdagings die hoof bied deur die spoorstelsel te posisioneer as die ruggraat van die nasionale vervoerstelsel en sodoende ekonomiese groei, werkskepping en klimaatsdoelwitte te ondersteun.
6. Konsepbeleid vir Township en Landelike Ekonomiese Ontwikkeling en Herlewing
6.1 Die Kabinet het die Konsepbeleid vir Township en Landelike Ekonomiese Ontwikkeling en Herlewing vir openbare kommentaar goedgekeur. Die beleid is ontwerp om plaaslike ekonomieë van verbruiksgedrewe areas na produktiewe, energieke spilpunte te omskep deur hulle in die hoofstroomekonomie te integreer. Dit het ten doel om volhoubare entrepreneurskap te bevorder, werksgeleenthede te skep en armoede te verminder deur geteikende en gekoördineerde ondersteuning.
6.2 Die beleid is op verskeie kritiese areas geskoei, naamlik (i) ontwikkeling van volhoubare township en landelike entrepreneurs; (ii) leiding vir die ontwikkeling van ʼn goed-gekoördineerde en kollektiewe ekostelselbenadering; (iii) verbetering van toegang tot ekonomiese en markgeleenthede; en (iv) vermindering van regulerende hindernisse en versperrings wat ekonomiese groei in townships en landelike gebiede smoor.
7. Konsepbeleid vir Kunsmatige Intelligensie (KI)
7.1 Die Kabinet het die publikasie van die Konsepbeleid vir Kunsmatige Intelligensie (KI) in Suid-Afrika vir openbare kommentaar goedgekeur. Die doel van die KI-beleid is om te verseker dat die voordele sowel as die risiko’s van KI gelyk regoor die samelewing en regoor geslagte versprei word. Die doel van die KI-beleid is om die regering se vermoëns om KI te reguleer en verantwoordelik in werking te stel, te versterk en terselfdertyd plaaslike innovering aan te moedig, werkskepping te ondersteun en toegang tot KI-vaardighede te verbeter.
7.2 Die beleid is rondom ses sleutelpilare gevorm, wat gemik is op die bevordering van die verantwoordelike ontwikkeling en etiese ontplooing van KI. Hierdie sleutelpilare is (i) kapasiteits- en talentontwikkeling, (ii) KI vir inklusiewe groei en werkskepping, (iii) verantwoordelike bestuur, (iv) etiese en inklusiewe KI, (v) kultuurbewaring en internasionale integrasie, en (vi) mensgesentreerde ontplooïng. Die beleid aanvaar dat ʼn gefaseerde benadering gevolg moet word, aangesien KI-ontplooing en risiko-profiele van sektor tot sektor verskil.
8. Nasionale Entrepreneurstrategie (NES) en Implementeringsplan
8.1 Die Kabinet het die NES en die implementeringsplan goedgekeur. Die doel van die strategie is om mikro-, klein en mediumsake-ondernemings (MKMO’s) te versterk en werkloosheid onder die jeug die hoof te bied. Dit is geskoei op vyf pilare: (i) verbetering van entrepreneurskaponderrig en vaardigheidsontwikkeling, (ii) fasilitering van die uitruil en innovering van tegnologie, (iii) verbetering van toegang tot finansiering en markte, (iv) regulatoriese verbetering, en (v) bevordering van bewustheid en netwerkvaardigheid. Na afloop van ʼn breedvoerige openbare konsultasieproses, gee die NES ‘n uiteensetting van maatreëls om die kultuur van entrepreneurskap in Suid-Afrika te bevorder deur ʼn omgewing te skep wat entrepreneursaktiwiteite moontlik maak en ʼn ondersteunende ekostelsel te skep waarin MKMO’s volhoubaar kan floreer.
8.2 Die NES is van sleutelbelang om MKMO’s se potensiaal te ontsluit, BBP-groei te dryf, werkskepping te bevorder en inklusiewe ekonomiese ontwikkeling te verseker. Daarbenewens het die strategie ten doel om die ekostelsel vir entrepreneursontwikkeling in die land te koördineer, insluitend aanbevelings dat entrepreneurskap in die kurrikula van die departemente van basiese onderwys en hoër onderwys geïnkorporeer word as ʼn haalbare beroepskeuse.
9. Beleidsraamwerk vir Inkubasie- en Sake-ontwikkelingsdienste (IBDS)
9.1 Die Kabinet het die IBDS-beleidsraamwerk vir implementering goedgekeur. Die beleidsraamwerk voorsien regulatoriese hervorming vir die kleinsake-ekostelsel deur klaring te gee oor die rolle van verskeie belanghebbendes en gekoördineerde en geïntegreerde ondersteuning te bevorder.
9.2 Die IBDS- beleidsraamwerk is ʼn sleutelkomponent van die nasionale geïntegreerde kleinsakeontwikkelingsmeesterplan, wat dien as die leidingraamwerk vir alle rolspelers wat by die versnelling van MKMO’s se groei betrokke is by wyse van meetbare programme, produkte en dienste.
9.3 Sleuteldoelwitte sluit in die verbetering van die gehalte en standaarde van besigheidsontwikkelingsdienste, die versekering van beter toegang tot ondersteuning vir MKMO’s - veral in townships en landelike gebiede, en die koestering van innovering en entrepreneurskap. Hierbenewens posisioneer die raamwerk kleinsakeondernemings as die primêre drywers van werkskepping en inklusiewe groei, wat met die nasionale ontwikkelingsplan belyn is.
C. Wetsontwerpe
1. Wysigingswetsontwerp op die Voorkoming van die Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond (PIE)
1.1 Die Kabinet het die publikasie van die PIE-wysigingswetsontwerp in die Staatskoerant vir openbare kommentaar goedgekeur.
1.2 Die wetsontwerp het ten doel om die PIE-wet van 1998 te wysig om onwettige grondbesetting te bestry, grondeienaars te beskerm en die aktiwiteite van georganiseerde grondsindikate in te perk.
1.3 Sleutelvoorstelle sluit in die kriminalisering van aanhitsing tot grondbesettings, uitgebreide kriteria wat deur howe in oorweging gebring moet word wanneer uitsetbevele uitgereik word en die versterking van regulasies rakende alternatiewe verblyf. Die wysigings is ook daarop gemik om dubbelsinnigheid in die huidige wetgewing uit die weg te ruim aangesien dubbelsinnigheid onsekerheid skep oor die definisies en vereistes waaraan voldoen moet word vir wettige uitsetting, desnieteenstaande die bedoeling of omstandighede van mense wat by onwettige besetting betrokke is.
2. Wetsontwerp op die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac)
2.1 Die Kabinet het goedgekeur dat die Nedlac-wetsontwerp aan die Parlement voorgelê word vir verdere prosessering. Die konsepwetsontwerp sal die Nedlac-wet (Wet 35 van 1994) herroep en stel die belyning van Nedlac se institusionele reëlings met veranderinge in die grondwetlike regsorde wat sedert 1994 plaasgevind het, voor.
2.2 Die konsepwetsontwerp maak ook voorsiening vir die minister om regulasies in plek te stel oor die toelatings- en lidmaatskapdrempels deur middel van ʼn proses wat konsultasie en openbare voorlegging insluit, om die stelsel meer deursigtig te maak. Die wetsontwerp sal deelname deur die burgerlike samelewing versterk en Nedlac bekragtig as ʼn sentrale maatskaplike dialooginstelling gemik op die bevordering van ekonomiese groei, werkskepping, maatskaplike insluiting en maatskaplike gelykheid.
3. Wysigingswetsontwerp op Algemene Wette (Bekamping van Geldwassery en Terrorismefinansiering), 2026
3.1 Die Kabinet het goedgekeur dat die wetsontwerp aan die Parlement voorgelê word. Die 2026 konsepwetsontwerp bou op vorige weergawes van die wysigingswetsontwerp op Algemene Wette (Bekamping van geldwassery en Terrorismefinansiering) en sedertdien het die Nasionale Tesourie die voorstelle uitgebrei om bykomende maatreëls verwant aan die versterking van die regsraamwerk om geldwassery en die finansiering van terrorisme te bestry.
3.2 Die wetsontwerp wysig huidige wetgewing, naamlik (i) die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum, 2001 (Wet 38 van 2001); (ii) die Wet op Organisasies Sonder Winsoogmerk, 1997 (Wet 71 van 1997); (iii) die Wet op die Beheer van Trustgoed, 1988 (Wet 57 van 1988); (iv) die Maatskappyewet, 2008 (Wet 71 van 2008) en (v) die Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor, 2017 (Wet 9 van 2017).
3.3 Hierdie wysigings het ten doel om Suid-Afrika se stelsel vir teengeldwassery en bekamping van terrorisme-finansiering te versterk in die aanloop van die land se volgende wedersydige evaluering deur die Financial Action Task Force (FATF), wat geskeduleer is om middel-2026 te begin en in Oktober 2027 afgehandel te word.
4. Wetsontwerp op Beskermde Bekendmakings, 2026
4.1 Die Kabinet het die publikasie van die Wetsontwerp op Beskermde Bekendmakings (oftewel die Fluitjieblaser-beskermingswet) vir openbare kommentaar goedgekeur. Die wetsontwerp is deel van wetgewende hervormings gemik op die versterking van die beskerming van fluitjieblasers deur middel van wysigings aan die bestaande Wet op Beskermde Bekendmakings, 2000 (Wet 26 van 2000). Dit is ook in antwoord op aanbevelings deur die staatskapingskommissie, wat ʼn beroep gedoen het op beter beskerming van beleidmakers en fluitjieblasers.
4.2 Die wetsontwerp bevat voorstelle om vergelding te kriminaliseer en psigososiale, regs- en finansiële ondersteuning aan fluitjieblasers te voorsien. Die wetsontwerp sal die definisie van “fluitjieblaser” uitbrei om kontrakteurs, konsultante en lede van die publiek in te sluit en duidelike prosedures vir vertroulike bekendmakings vas te stel.
5. Wysigingswetsontwerp op Elektroniese Kommunikasie (ECA), 2026
5.1 Die Kabinet het gooedgekeur dat die ECA-wysigingswetsontwerp aan die Parlement vorgelê word. Die wetsontwerp is daarop gerig om die Wet op Elektroniese Kommunikasie, 2005 (Wet 36 van 2005) te wysig. Die doel van die voorgestelde wysigings is om die vlak van mededinging in die telekommunikasiesektor te verhoog en pryse af te dwing. Die wysigings aan die Wet op Elektroniese Kommunikasie, 2005 het ook ten doel om ʼn bemagtigende omgewing te skep vir belegging met ʼn sleutelfokus op die verlaging van regulatoriese toetredingshindernisse en -versperrings om mededinging te verbeter en ook buigsaamheid aan die onafhanklike kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika te gee om die sektor te reguleer.
6. Wetsontwerp op die Gedrag van Finansiële Instellings (CoFi-wetsontwerp)
6.1 Die Kabinet het goedgekeur dat die CoFi-wetsontwerp aan die Parlement voorgelê word. Die wetsontwerp het ten doel om ʼn enkele, holistiese raamwerk vir die regulering van alle finansiële instellings te skep. Dit vorm deel van die regering se wyer doelwit om finansiële regulering te hervorm na ʼn “Twin Peaks”-model. Die Twin Peaks-model is ʼn regulatoriese stelsel wat finansiële oorsig in twee afsonderlike owerhede verdeel: die prudensiële owerheid vir veiligheid en gesondheid, en die finansiële sektor gedragsowerheid vir markgedrag en verbruikersbeskerming. Die stelsel skep ʼn “veiliger” sektor wat optree in die beste belang van alle verbruikers.
6.2 Die wetsontwerp sal die regverdige behandeling van kliënte verseker, transformasie verbeter en stabiliteit bevorder. Dit ondersteun ook die transformasie van die finansiële sektor en vereis finansiële instellings om beleide in plek te stel vir nakoming van die finansiële sektor-kode. Daarbenewens ondersteun die wetsontwerp markontwikkeling en mededinging deur ʼn gedifferensieerde benadering tot lisensiëring moontlik te maak om die toetrede van nuwe spelers, byvoorbeeld finansiële tegnologie, te bevorder.
D. Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike sekuriteitsklarings.
1. Mnr. Bareng B. Mthimkulu as Sekretaris van Verdediging in die Departement van Verdediging.
2. Me. Nomfundo Clementine Tshabalala as Direkteur-generaal by die Departement van bosbou, visserye en die omgewing (verlenging van kontrak).
3. Mnr. Xolile Adviser Brukwe as Adjunkdirekteur-generaal van korporatiewe ondersteuningsdienste by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
4. Mnr. Sibusiso Attwell Makhanya as die Hoofuitvoerende Beampte (HUB) van die Bestuursagentskap van die Phongola-Umzimkulu-opvanggebied.
5. Me. Lucia Lungelwa Sigasana as Streeksuitvoerende Bestuurder: Wes-Kaap in die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid.
6. Aanstelling van direkteure op die Raad van die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika (Acsa)
i. Mnr. Irvin Phenyane (voorsitter),
ii Me. Eunice Xoliswa Daku (ondervoorsitter),
iii Me. Keitumetse Stella Mahlangu,
iv Mnr. Surendra Sooklal,
v Mnr. Kurt Frayne Parker,
vi Me. Ulandi Exner,
vii Mnr. Patric Roy Mnisi, en
viii Mnr. Theunis Chamberlain.
7. Lede van die iSimangaliso-vleilandparkowerheid
i Me. Memory Thulile Sosibo (voorsitter en heraanstelling),
ii Mnr. Bongani Mzwakhe Mhlongo (heraanstelling),
iii Me. Nombuso Mlambo (heraanstelling),
iv Mnr. Sifiso Mdluli,
v Dr. Kailen Padayachee,
vi Me. Jacolette Adam,
vii Me. Hazel Thulisile Xulu,
viii Me. Zamekile Coreen Zama, en
ix Mnr. Boy Daniel Ngobeni (heraanstelling).
E. Toekomstige gebeure
1. Vryheidsmaand
1.1 Suid-Afrikaners vier in April 2026 Vryheidsmaand, met ʼn hernude gevoel van nasionale trots, 32 jaar sedert die historiese oorgang van die onderdrukkende apartheidsregime na ʼn soewereine, demokrastiese land.
1.2 Vanjaar se vieringe het spesiale betekenis met die viering van die 30e herdenking van die Suid-Afrika se Grondwet van ʼn transformerende dokument wat ons in ons demokratiese reis gelei het om ʼn samelewing te bou wat geskoei is geregtigheid en gelykheid.
1.3 Vryheidsmaand bied vir elke landsburger die geleentheid om die regte en verantwoordelikhede wat in ons Grondwet vasgelê iste bevorder deur groter maatskaplike eenheid en die voortgesette transformasie van ons nasie te koester.
2. Bring jou kant en registreer om te stem
2.1.1 Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Saterdag 20 Junie 2026 en Sondag 21 Junie 2026 as die amptelike stemregistrasienaweek aangewys.
2.1.2 Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners wat stemgeregtig is aan om te registreer om in die komende plaaslike regeringsverkiesings te stem.
2.1.3 Jy kwalifiseer om te stem indien jy ʼn Suid-Afrikaanse burger is, 18 jaar of ouer is en ʼn groen strepieskode-ID-boek, slim-ID of tydelike identiteitsertifikaat besit.
2.1.4Stemgeregtige kiesers kan ook registreer of hul besonderhede op datum bring deur die amptelike OVK-aanlynportaal by https://registertovote.elections.org.za, wat dag en nag beskikbaar is.
2.1.5 Burgers word aangeraai om waaksaam te wees en nie op verdagte skakels te klik of valse webwerwe wat die web-domein van die OVK namaak, te besoek nie.
3. Nasionale Beraad oor Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling (PEO)
3.1 Die Departement van Kleinsakeontwikkeling, in vennootskap met SALGA en die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, bied die nasionale PEO-spitsberaad by die Birchwood-hotel en konferensiesentrum in Johannesburg op 15 en 16 April 2026 aan. Die nasionale PEO-beraad sal dien as ʼn oplossingsgedrewe platform om plaaslike ekonomiese ontwikkeling op te knap, soos uiteengesit in die nuwe Konsepwitskrif vir Plaaslike Ontwikkeling onder die tema: “Herbewerkstellig Plaaslike Ekonomieë: ʼn Samewerkende Bloudruk vir die Groei van Kleinsakeondernemings en die Gemak van Sakehandel.”
3.2 President Ramaphosa sal die beraad toespreek en leiers regoor die drie regeringsfere, SALGA, ondernemings in staatsbesit, ontwikkelingsfinansieringsentiteite, die private sektor, tradisionele leiers en ʼn reeks ander PEO-belanghebbendes sal dit bywoon.
3.3 Die beraad sal dienooreenkomstig plaaslike ekonomiese ontwikkeling verskuif van beleidsvoorneme na praktiese aksie wat plaaslike institusionele bekwaamheid versterk, ruimtelike ongelykhede die hoof bied, die openbare en private sektore byeenbring rondom aandrywers van plaaslike groei en ʼn meer bemagtigende regulatoriese omgewing vir belegging en MKMO-ontwikkeling verskaf.
F. Boodskappe
1. Medelye
Die Kabinet dra sy diepste meegevoel oor aan die vriende en familie van:
• Anti-apartheidsaktivis en voormalige premier en minister van verdediging, Mosiuoa Lekota, wie sy lewe toegewy het aan die struggle vir ʼn nie-rassige, nie-seksistiese en demokratiese Suid-Afrika.
• Nicholas “Fink” Haysom, ʼn bekende menseregteprokureur wat as hoof regsadviseur vir President Nelson Mandela en later as die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal se spesiale verteenwoordiger in verskeie rolle gedien het.
• Veteraanjoernalis, hooggeagte skrywer en toegewyde struggle-staatmaker, Terry Bell, wat ʼn beginselvaste en doeltreffende rol in die stryd teen apartheid gespeel het; hy beide sy stem en sy skryfvernuf gebruik het om ongelykheid te ontbloot en demokratiese verandering in Suid-Afrika te bevorder.
2. Gelukwense
- Die Kabinet het sy gelukgewense en voorspoed oorgedra aan:
Professor Nyaweleni Tshifularo en sy mediese span, wat ʼn Siamese tweeling suksesvol geskei het ʼn baanbrekeroperasie by die Mankweng-hospitaal in landelike Limpopo. Hierdie hoogs gespesialiseerde prosedure bevestig weereens die potensiaal van Suid-Afrikaanse hospitale, insluitend dié in landelike gebiede, om ingewikkelde mediese prosedures uit te voer in die aanloop tot die uitrol van die nasionale gesondheidversekering. - Dr Keamogetswe Ramonaheng, hoof van Mediese Fisika en Radiobiologie by die Kerngeneeskundige Mediese Navorsingsentrum (NuMeRI), wat die gesogte Saul Hertz-toekenning ontvang het by die agtste Theranostics-wêreldkonferensie vir bydraes tot ternostiek, ʼn opkomende veld wat diagnostiese beeldvorming en geteikende radionukliede terapie kombineer om die uitkomste van kankerbehandeling te verbeter.
- Professor Prinola Govenden van die Universiteit van Johannesburg, aan wie ʼn gesogte Unesco-voorsitterskap vir kulturele inklusiwiteit en gelykheid in digitale media in Afrika (2026-2030) toegeken is, na afloop van ʼn uiters mededingende globale proses waartydens 135 aansoeke by die Unesco-hoofkwartier in Parys, Frankryk ingehandig is.
- Kutlwano Peta, ʼn nagraadse student vir ʼn diploma in die rekeningkundige wetenskappe, wat in 2025 gekies is as een van slegs 16 deelnemers uit meer as 1 800 aansoekers wêreldwyd vir die Institute of Singapore Chartered Accountants (ISCA) se program vir globale talent. Kutlwano, wat binnekort by die Ouditeur-Generaal vir Suid-Afrika gaan aansluit, was die enigste deelnemer vanuit Afrika.
- Suid-Afrikaanse langafstandatleet, Adriaan Wildschutt, wat geskiedenis gemaak het met sy oorwinning in die New York City-halfmaraton en sodoende die eerste Suid-Afrikaner geword het om die wêreld se premier-halfmaratonresies te wen.
- Majoor-generaal Carl Moatshe, wat aangestel is om bevel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Lugmag vanaf 1 April 2026 oor te neem en bevorder word tot die rang van luitenant-generaal. Hy volg die uittredende lugmaghoof, Luitenant-generaal Wiseman Simo Mbambo op, wie se ampstermyn geken is aan standvastige leierskap en diens aan die nasie.
- Me. Lytania Johnson, wat as HUB van First National Bank aangestel is na 25 jaar se getroue diens aan die instelling. Sy sal ook die bank se nuwe handel- en sake-eenheid lei.
- Me. Valdene Reddy, wat as HUB van die Johannesburgse Effektebeurs aangestel is en die eerste vrou van kleur is om hierdie posisie te beklee.
- Die Springboksewesspan – ons geliefde Blitzbokke – wat as 2025/26 se kampioen van die wêreldsewesreeks bekroon is en ook die New York-sewestitel verower het.
- Die Groter-Tzaneen-munisipaliteit in Mopani, Limpopo, wat as die skoonste munisipaliteit in Suid-Afrika aangewys is by geleentheid van die Nasionale Afvalbestuurtoekennings wat deur die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing aangebied is.
- Kaapstad Internasionale Lughawe, wat vir die 11e agtereenvolgende jaar by die 2026 Skytrax-wêreldlughawetoekennings in Londen, Verenigde Koninkryk erkenning ontvang het as die beste lughawe in Afrika. O.R. Tambo Internasionale Lughawe het die tweede plek verower, terwyl King Shaka Internasionale Lughawe in Durban die vierde plek behaal het en ook onder die top streekslughawens in Afrika gepryk het.
- Suid-Afrika se aanstelling tot die kommunikasiewerkgroep van die Kommissie vir die Status van Vroue se 70e sitting, wat byeengeroep is deur die Verenigde Nasies. Hierdie aanstelling bevestig weereens Suid-Afrika se leierskap in die bevordering van strategiese kommunikasie vir geslagsgelykheid en die bemagtiging van vroue.
- Musieklegende Dr Abdul Ibrahim met sy aftrede op die ouderdom van 91. As ’n held van die stryd vir vryheid, het hy musiek gebruik om die storie van die vorige rassistiese regime te vertel. Suid-Afrikaners is dank aan hom verskuldig.
3. Verantwoordelike gedrag hierdie Paasnaweek
3.1 Die Kabinet wens alle Suid-Afrikaners ʼn veilige en vreugdevolle Paaslangnaweek toe. Hierdie is ʼn tydperk waarin baie Suid-Afrikaners regoor die land reis om familie en vriende te besoek en vir geloofsredes. Dit gaan dikwels gepaard met ʼn toename in verkeer op ons paaie.
3.2 Die Kabinet doen ʼn beroep op almal op verantwoordelik te bestuur – maak seker dat jou voertuig padwaardig is voor jy wegtrek en dat almal in die voertuig, insluitend kinders, hul veiligheidsgordels vasmaak.
3.3 Ons verwelkom besoekers aan ons land en stel beide Suid-Afrikaners en besoekers gerus dat die stryd teen misdaad ʼn prioriteit vir die Suid-Afrikaanse regering is – danksy die werk van die SAPD maak ons goeie vordering in die stryd teen misdaad. Ons land doen steeds alles in ons vermoë om die veiligheid van alle besoekers te verseker.
3.4 Gewilde toerismebestemmings sal bykomende sekuriteit in plek stel. Met die naderende Paasnaweek is die grensbestuursowerheid gereed om in hierdie tydperk die bekwame, veilige en soomlose beweging van mense en goedere by Suid-Afrika se 71 toegangspunte te verseker.
3.5 Weens bek-en-klouseer (BKS) doen die Kabinet ʼn beroep op die verantwoordelike beweging van diere om verdere verspreiding van die siekte te verhoed. Ons het begrip vir ʼn groter behoefte daaraan om diere te verskuif namate ons vleisbehoeftes versadig word, maar BKS-protokol moet gehoorsaam word.
Uitgereik namens die Kabinet deur: die Minister in die Presidensie, Me. Khumbudzo Ntshavheni
Navrae: die Regring se Kommunikasie- en inligtingstelsel (GCIS)
Kontak: Me. Nomonde Mnukwa, waarnemende Direkteur-Generaal
Selfoon: 083 653 7485

