A. Kwessies in die omgewing
1. Nasionale dialoog
1.1 70 Jaar van die Vryheidsmanifes
1.1.1 Sewentig jaar gelede, op 26 Junie 1955, het meer as 3 000 afgevaardigdes van verskeie rasse en sosiale agtergronde in Kliptown, Johannesburg byeengekom om die Suid-Afrika wat hulle wou hê, in die vooruitsig te stel – demokraties, nie-rassig en gegrond op die beginsels van gelykheid, maatskaplike geregtigheid, menseregte en gedeelde ekonomiese voorspoed.
1.1.2 Die Vryheidsmanifes was die gevolg van ʼn massiewe grondvlakveldtog deur verskeie anti-apartheidorganisasies en gewone landsburgers, wat onder die ANC-banier georganiseer is en verteenwoordigend van hul almal se gedeelde strewe na ʼn vrye en geregtige Suid-Afrika.
1.1.3 Die Vryheidsmanifes is die grondslagewende dokument vir post-apartheid Suid-Afrika se Grondwet en is steeds tersaaklik in die hantering van maatskaplike en ekonomiese ongelykhede wat in ons land voortduur.
1.2 Nasionale Konvensie in die aanloop tot die Nasionale Dialoog
1.2.1 Sewentig jaar nadat die Vryheidsmanifes aanvaar is en ons erken dat die uitdagings wat ons land in die gesig staar betekenisvolle werk van al ons landsburgers verg, word alle Suid-Afrikaners genooi om aan ʼn Nasionale Dialoog deel te neem, wat die toekoms wat ons vir ons land in die vooruitsig stel sal bepaal. Net soos die aanvaarding van die Vryheidsmanifes, sal die Nasionale Dialoog ʼn breedvoerige konsultasieproses op streeks- sowel as provinsiale vlak volg.
1.2.2 Die Kabinet het kennis geneem van openbare kommer oor die geraamde begroting vir die Nasionale Dialoog en beklemtoon dat die voorgestelde begroting nog nie deur die gevestigde staatsbegrotingsprosesse gegaan het nie of deur die Interministeriële Komitee (IMK) onder leiding van die adjunkpresident, Paul Mashatile oorweeg is nie. Die Kabinet is deeglik bewus van die huidige fiskale beperkings en het die IMK versoek om befondsing van die Nasionale Dialoog met omsigtigheid te finaliseer.
2. Ekonomie
2.1 Suid-Afrikaanse Meesterplan vir Hernubare Energie
2.1.1 Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die Suid-Afrikaanse Meesterplan vir Hernubare Energie (Sarem) om plaaslike vervaardiging, vaardigheidsontwikkeling en werkskepping in Suid-Afrika aan te dryf. Sarem, wat in Maart vanjaar deur die Kabinet goedgekeur is, is daarop gemik om die plaaslike aanvraag na hernubare energie te steun en nywerheidsontwikkeling aan te dryf terwyl ʼn regverdige energie-oorgang bewerkstellig word.
2.2 US$1.5 miljard Ontwikkelingsbeleid-leningsooreenkoms
2.2.1 Die Kabinet is ingelig oor die ontwikkelingsbeleid-leningsooreenkoms van US$1.5 miljard tussen die Suid-Afrikaanse regering en die Wêreldbank, wat aangewend sal word om inklusiewe groei en werkskepping te verseker. Die lening is belyn met die Nasionale Tesourie se beginsels wat deel vorm van die regering se breedvoerige pogings om strukturele hervorming te implementeer. Dit sal wurgplekke in sleutelinfrastruktuur ontsluit, veral in die energie- en vragvervoersektore.
2.2.2 Die leningsteun is op drie pilare van strukturele hervorming geanker, naamlik die verbetering van energiesekerheid, verskerping van die doeltreffendheid en mededingendheid van vragvervoerdienste en die steun van Suid-Afrika se oorgang tot ʼn lae-koolstof ekonomie, wat die staat se prioriteit van inklusiewe groei en werkskepping rugsteun.
2.3 Aankoms van entstof teen bek-en-klouseer
2.3.1 Die Kabinet verwelkom die aankoms van broodnodige entstof uit Botswana, wat die uitbreek van bek-en-klouseer in sekere dele van die land te bestry.
2.3.2 Die entstof word gratis versprei en toegedien in die gebiede wat geraak word, veral in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en plase in ander dele van die land waar die siekte geïdentifiseer is. ʼn Tweede voorraad van die entstof is reeds by Botswana se Instituut vir Entstof bestel.
3. Internasionale betrekkinge
3.1 G7-beraad
3.1.1 President Cyril Ramaphosa het die Beraad van die Groep van Sewe (G7) bygewoon en Suid-Afrika beskou die G7 as ʼn strategiese vennoot. President Ramaphosa het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om ʼn beroep te doen vir beter samewerking tussen die G7 en die G20, en om ondersteuning vir hervormings in hierdie internasionale instellings van globale regeringsbestuur, soos die VN se veiligsheidsraad en die globale finansiële stelsel te mobiliseer. Die President se deelname aan die G7 bewys dat Suid-Afrika nie ʼn anti-Westerse beleidsposisie beklee nie en dat ons gereed is om met enigeen saam te werk om Suid-Afrika se nasionale belange te bevorder en die Afrika-agenda te steun.
3.2 Werksbesoek na Rusland
3.2.1 Adjunkpresident Paul Mashatile het ʼn werksbesoek aan Rusland onderneem, waar hy ook deelgeneem het aan die 28e Sint Petersburg Internasionale Ekonomiese Forum 2025 (SPIEF ’25).
3.2.2 Die doel van die besoek was om die ekonomiese samewerking tussen die twee lande in sektore soos landbou, motorwese, energie en mynwese, asook wetenskap en tegnologie, te verbeter en te bevorder.
3.3 Konflik tussen Israel en Iran
3.3.1 Die Kabinet is diep besorg oor die verhewiging van vyandelikhede tussen Israel en die Islamitiese Republiek van Iran, wat met lugaanvalle deur die Verenigde State van Amerika (VSA) gepaardgaan. Die voortdurende aanvalle deur albei lande het reeds tot lewensverlies, beserings en skade aan eiendom gelei.
3.3.2 Die Kabinet bepleit dat vyandighede dringend afgeskaal moet word, en dat volle gehoor gegee moet word aan internasionale wetgewing deur alle partye om verdere menslike lyding te verhoed. Die Kabinet doen voorts ʼn beroep op die VSA, Israel en Iran om ruimte te skep vir konstruktiewe dialoog en aan die Verenigde Nasies die geleentheid te bied om leiding te neem met die vreedsame beëindiging van die dispuut. Dit sluit inspeksie en verifikasie van Iran se status rakende uraniumverryking asook die land se breër kernkapasiteit In.
3.3.3 Die wêreld kan nie die balkanisering van Iran bekostig deur die blote grootte van die land se bevolking, die geografiese ligging en die land se minerale hulpbronne nie. As ’n kontinent ly ons in Afrika steeds onder die nagevolge van die balkanisering van Libië; veertien jaar ná die Libiese regime-verandering lei Afrika steeds onder die verhewiging van terrorisme wat met die balkanisering van en onstabiliteit in Libië verband hou.
3.3.4 Ons het globale vrede nodig en ons moet streef na vreedsame oplossings van konflikte.
3.4 Besorgdheid oor agteruitgang in die situasie in Haïti
3.4.1 Die Kabinet is besorg oor die agteruitgang van die situasie in Haïti en beklemtoon dat ʼn multi-gefasetteerde benadering nodig is om die staatsbestuur te versterk, wetstoepassing te verbeter en ekonomiese ontwikkeling aan te moedig by wyse van streeks- en internasionale samewerking deur Haïtiese belange te prioritiseer.
3.5 Pretoriase Hooggeregshofsinterdik oor die teraardsbestelling van die voormalige president van Zambië, mnr Edgar Lungu
3.5.1 Die Kabinet neem kennis van die Pretoriase Hooggeregshof se interdik rakende die teraardebestelling van voormalige President Lungu in Suid-Afrika ná ʼn gesamentlike ooreenkoms tussen die partye.
3.5.2 Die Kabinet doen ʼn beroep op die Lungu-familie en die regering van Uganda om van hierdie geleentheid wat deur die hooggeregshof geskep is, gebruik te maak om ʼn waardige teraardsbestelling vir die ontslape president te verseker, wat met die eer wat ʼn staatspresident toekom gepaardgaan.
3.6 SAMIDRC-onttrekking uit die oostelike DRK
3.6.1 Die Kabinet is op die hoogte gebring oor die gefaseerde terugkeer van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se troepe uit die oostelike Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) na aanleiding van die SANW se besluit om die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se sending in die DRK se ingryping te beëindig.
3.6.2 Ongeveer 1 718 SANW-troepe het reeds na Suid-Afrika teruggekeer, en meer word binne die volgende paar weke verwag.
3.6.3 Die Kabinet het Suid-Afrika se volgehoue verbintenis tot ʼn vreedsame, stabiele en voorspoedige Suider-Afrikaanse streek bevestig en het die SANW-troepe se bydrae tot die herstel van vrede, sekuriteit en stabiliteit in die DRK geprys.
4. Geregtigheid en misdaadvoorkoming
4.1 Veiligheid en sekuriteit
4.1.1 Die regering verwelkom die vordering wat gemaak is in die stryd teen misdaad deur inisiatiewe soos Operasie Shanela and Operasie Vala Umgodi. Ongeveer 239 verdagtes is tussen 1 en 15 Junie 2025 landwyd inhegtenis geneem as deel van Operasie Vala Umgodi. Die verdagtes se inhegtenisname hou verband met onwettige mynverwante oortredings en verskeie ander misdade, insluitend poging tot moord, die besit van ongelisensieerde vuurwapens, die besit van ongeslypte diamante, die onwettige besit van plofstowwe en die oortreding van die Wet op Immigrasie van 2002.
4.1.2 Operasie Vala Umgodi het reeds sedert Desember 2023 tot die inhegtenisname van meer as 27 000 verdagtes gelei, asook beslaglegging op meer as 600 vuurwapens, insluitend nagebootste vuurwapens (speelgoedvuurwapens) en 16 000 rondtes ammunisie.
4.1.3 Tussen 16 en 22 Junie het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) 15 372 verdagtes in hegtenis geneem as deel van Operasie Shanela. Die belangrikste inhegtenisnemings sluit in 2 400 individue wat verbind is met ernstige en gewelddadige misdaad (moord, poging tot moord, verkragting en roof); 159 is in hegtenis geneem vir moord; 100 is in hegtenis geneem vir verkragting; 1 173 is in hegtenis geneem vir ernstige aanranding; 2 602 vir die besit van dwelms en 64 vir gekaapte of gesteelde voertuie.
4.1.4 Die Kabinet verwelkom die vonnisoplegging van twee van die vier mans wat skuldig bevind is aan die beplande sluipmoord op Nosipho “Nomdundu” Mafani van KwaNokuthula (23), wat verstandelik gestremd is. Mboneli Msila en Monde Tshemese is elk tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir sameswering tot moord en vir die moord wat hulle vir finansiële gewin gepleeg het om die uitbetaling van ’n begrafnispolis ter waarde van R600 000 te bekom.
4.1.4 Stryd teen geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV) Die Kabinet het die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling opdrag gegee om die finalisering van die Wetsontwerp op Steun vir Slagoffers te bespoedig om die stryd teen GGGV te versterk.
5 Maatskaplike en menslike ontwikkeling
5.1 Vloedherstel
5.1.1 Die Kabinet is op die hoogte gebring oor die inisiatiewe vir vloedrampherstel in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Op nasionale vlak is die Nasionale Gesamentlike Vloedkoördinasiekomitee en die IMK vir rampbestuur geaktiveer en het gereeld byeengekom om die situasie te assesseer en te besluit hoe om die provinsies wat geraak is, te steun.
5.1.2 Die Nasionale Rampbestuursentrum en die onderskeie provinsiale en munisipale rampbestuursentrums voorsien ook deurlopend verslae oor die assesserings en reaksiemaatreëls.
5.1.3 Die onmiddelike prioriteit bly steeds om noodverblyf en die nodige verligtingsvoorraad aan gemeenskappe te verskaf om die situasie te stabiliseer. Werk duur ook voort om basiese dienste soos water, sanitasie en elektrisiteit te herstel. Dit sluit identiteitsdokumente en tydelike identiteitsertifikate sodat diegene wat geraak is, toegang tot noodsaaklike dienste kan kry. ʼn Opname van die skade aan huise en infrastruktuur, asook ʼn plan vir herkonstruksie, is onderweg. Sodra dit voltooi is, sal dit die weg baan na die voorbereiding van ʼn breedvoerige rehabilitasieprogram.
5.2 Uiterste weerstoestande
5.2.1 Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het waarskuwings uitgereik dat daar vanaf Woensdag 25 Junie 2025 ʼn intense koue front oor die suid-westelike dele van Suid-Afrika verwag word.
5.2.2 Daar is ʼn moontlikheid van hewige reënval met ʼn risiko vir plaaslike vloede op Woensdag 25 en Donderdag 26 Junie 2025 oor die westelike dele van die Wes-Kaap, veral in laagliggende dele. Sterk rukwinde oor die binneland kan moontlik skade aanrig aan strukture en bome ontwortel. Voorts kan koue tot yskoue weerstoetsande verwag word gepaardgaande met moontlike sneeu oor die westelike bergreekse van die Wes-Kaap; dit kan later na die suid-westelike binneland van die Noord-Kaap versprei.
5.2.3 Sterk winde op 26 Junie 2025 met ʼn daling in dagtemperature, wat moontlik tot skade kan lei, word oor die meeste dele van die Oos-Kaap verwag.
6 Staatsbestuur
6.1 Vordering van die Presidensiële eThekwini-werksgroep
6.1.1 Die Kabinet is op die hoogte gebring oor die werksaamhede van die presidensiële eThekwini-werksgroep. Vordering is gemaak met water en sanitasie. ʼn Befondsingspakket van R378 miljoen sal aangewend word om die aansienlike waterverlies te verlig; dit gaan gepaard met ʼn 30% vermindering van agterstande in die herstel van riool- en waterstelsels.
6.1.2 Binnelandse reis na eThekwini is ook besig om te herstel, met ʼn toename van 33% jaar-op-jaar en ʼn bydrae van R17.4 miljard in ekonomiese waarde. Internasionale toerisme het met 9.8% gestyg, wat R3.3 miljard tot die eThekwini-gebied bygedra het.
B. Opdaterings aan die Kabinet
1. Vordering met die implementering van die President se reaksie op die aanbevelings van die Staatskapingskommissie
1.1 Die Kabinet is op die hoogte gebring oor die aansienlike vordering wat met die implementering van die Staatskapingskomissie se aanbevelings gemaak is. Die sleutelhoogtepunte sluit in:
1.1.1 Bate-verhaling wat verband hou met staatskaping het van R2.9 miljard in Oktober 2022 toegeneem tot R11 miljard teen Maart 2025.
1.1.2 Belangrike hervormings insluitend die uitvaardiging van agt nuwe wette rakende korrupsie, verkryging, intelligensiedienste en korporatiewe verantwoordbaarheid.
1.1.3 Strafregtelike ondersoeke en vervolgings: vier van die Staatskapinskommissie se sake is voltooi, almal met skuldigbevindings. Elf ander sake rakende 51 natuurlike persone en 27 maatskappy is tans in die hof.
1.1.4 Professionele en regulerende aksies: Die voormalige Departement van Openbare Ondernemings het 71 voormalige direkteure van ondernemings in staatsbesit na die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) verwys; dit hou verband met wanbetalingsprosedures, wat tot nege aktiewe hofsake gelei het.
1.1.5 Korporatiewe aanspreeklikheid: Die CIPC het die hersiening van 10 privatesektor-entiteite wat in die staatskapingsverslag geïmpliseer is, afgehandel. Ses ondersoeke gaan voort en agt nuwe verwysings van die spesiale ondersoekeenheid word evalueer.
1.1.6 Die Nasionale Tesourie het ʼn 10-jaar lange verbod (2022-2032) op Bain & Co geplaas waartydens hulle geen besigheid met die staat mag doen nie. Bain staan hierdie verbod tans in die hof teë.
1.1.7 Verskeie hervormings om enige toekomstige staatskaping te verhoed is onderweg. Sommiges wat reeds geïmplementeer is, sluit in:
1.1.7.1 Die vestiging van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, wat op 19 Augustus 2024 in werking getree het.
1.1.7.2 Die Nasionale Raamwerk vir die Implementering van Professionaliteit in die Openbare Sektor is in Oktober 2022 deur die Kabinet goedgekeur.
1.1.7.3 Die Nasionale Anti-korrupsie Adviesraad het navorsing oor die institusionele hervormingsaanbevelings van die Staatskapingskommissie voltooi.
2. Voorbereiding vir die G20-beraad
2.1 G20-vergaderings
Die Kabinet is op die hoogte gebring oor die werk wat onderweg is terwyl die land voorberei om gasheer te speel vir die G20 se spitsberaad vir leiers, met ʼn aantal vergaderings wat as volg voortgaan:
2.1.1 Ter voorbereiding van die Y20-spitsberaad in Suid-Afrika later vanjaar onder die vaandel van Suid-Afrika se G20-presidensie het die Y20 Suid-Afrika pre-spitsberaad – wat afgevaardigdes van G20-lidlande byeengebring het om samesprekings te begin oor beleidsposisies en die Y20-communiqué in te lig – op 18 en 19 Junie 2025 plaasgevind.
2.1.2 Die 3e vergadering van Taakmag-1: Inklusiewe Ekonomiese Groei, Industrialisasie, Indiensneming en Vermindering van Ongelykheid het op 18 en 19 Junie 2025 virtueel plaasgevind. Oorleg is gepleeg oor die ontwikkeling van raamwerke vir die belyning van makro-ekonomiese, sektorale, arbeismark-, maatskaplike beskerming en omgewingsbeleide agter die gedeelde doelwitte van werkskepping en die vermindering van ongelykhede.
2.1.3 T20 Suid-Afrika se mid-termynkonferensie het virtueel op 19 en 20 Junie 2025 plaasgevind en het die volgende evalueer: vordering rakende die vyf tematiese taakmagte, sterker samewerking tussen streke, en verbeterde beleidsopbrengste voor die aanvang van die G20-beraad vir leiers.
2.1.4 Die eerste vergadering van die G20 se bemagtigingsalliansie op 20 en 21 Junie 2025 het die G20-bemagtigingsalliansie se strategiese pilare vir vroueleierskap, steun vir entrepreneurs en volhoubare ekonomiese ontwikkkeling bespreek.
2.1.5 Die SAI20-beraad, ʼn byeenkoms van G20-lidlande se ouditeur-generaals, is op 24 en 25 Junie 2025 gehou en het sake rakende deursigtigheid en verantwoordbaarheid in die bestuur van openbare finansies bespreek.
2.2 Die Kabinet is in kennis gestel van die onlangse Sherpa Track-vergaderings, asook die koördinering en voorbereidingswerk wat tans vir die opkomende onderhandelinge tussen G20 ministeriële uitkomste-dokumente en -verklarings plaasvind. Die Kabinet is ook ingelig dat 69 van die 132 beplande amptelike G20-vergaderings reeds plaasgevind het.
2.2.1 Die 3e G20 Sherpa-vergadering word van 25 tot 27 Junie 2025 by Sun City gehou en sal na verwagting terugvoer van die Finance Track-taakmagte ontvang, die G20 se sleutelverbintenisse en doelwitte hersien en maniere bespreek om te verseker dat die G20 in staat is om globale reaksies op krisisse te koördineer.
C. Kabinetsbesluite
1. Geïntegreerde energie- en nywerheidsingryping om die mededingendheid van Suid-Afrika se ferrochroombedryf te vernuwe
1.1. Die Kabinet is op die hoogte gebring van die sosio-ekonomiese impak deur die volgehoue agteruitgang van die ferrochroombedryf en die dringende behoefte aan bedryfsingryping deur die regering om die agteruitgang te stuit.
1.2. Die Kabinet keur goed dat die Departement van Elektrisiteit en Energie ʼn regeringsbedryf-ooreenkoms finaliseer vir tarief-herbelyning ter ondersteuning van die ferrochroomsektor, asook die herstel van Suid-Afrika se industrialisasie en benefisiëringkapasiteit in hierdie sektor.
1.3. Die Kabinet keur goed dat chroom-erts onder uitvoerbeheer geplaas word, wat sal vereis dat uitvoerpermitte deur die Kommissie van Internasionale Handelsadministrasie verkry word.
1.4. Die Kabinet keur die inisiatief om uitvoerbelasting vir chroom-erts te ontwikkel goed, asook dat die regulasies van die aansporingsraamwerk vir smelterye in die spesiale ekonomiese sone uitgebrei word.
2. Vullisekonomie-meesterplan (WEMP)
2.1 Die Kabinet keur goed dat die Vullisekonomie se Meesterplan (die Waste Economy Master Plan oftewel WEMP) vir implementering gepubliseer word. Die meesterplan fokus op vullisvermindering, herwinning en herstel – veral in vermorsing van verpakking. Dit het ten doel om die bydrae van die vullisekonomie tot die land se groter ekonomie te verhoog en terselfdertyd die negatiewe omgewings- en gesondheidsimpak van chemikalieë en vullis in die omgewing te verminder.
2.2 Die meesterplan stel verskeie ingrypings voor wat ekonomiese geleenthede in die vullisekonomie-waardeketting sal ontsluit en bevorder, deur onder meer die uitbreiding van uitvoere en werkskepping. Ongeveer 60 000 informele werksgeleenthede word reeds landwyd gesteun deur vullisinsamelaarws se deelname in vullisinsameling, sortering en die herwinning van bruikbare vullis soos papier, plastiek en glas. Na verwagting sal die bykomende werksgeleenthede wat geskep word, vroue, jeugdiges en mense met gestremdhede bevoordeel.
D. Wetsontwerpe
1. Wysigingswetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) , 2025
1.1 Die Kabinet het die voorlegging van die SAPD se Wysigingswetsontwerp aan die Parlement goedgekeur. Die doel van die wysigingswetsontwerp is om die Polisiewet van 1995 te wysig om ʼn wetlike raamwerk vir polisiëring te skep wat sal bydra tot die doeltreffende en bekwame bestryding van misdaad. Die wysigingswetsontwerp is met die Grondwet van Suid-Afrika van 1996 belyn, asook met die Nasionale Ontwikkelingsplan 2030, die Witskrif vir Polisiëring van 2016, die Witskrif vir Veiligheid en Sekuriteit van 2016, die Beleid oor Gemeenskapspolisiëring, asook die Beleid vir ʼn Enkele Polisiediens.
E. Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike sekuriteitsklarings.
1. Adv Mikateko Joyce Maluleke as Direkteur-generaal in die Departement van Vroue, die Jeug en Mense met Gestremdhede (verlenging van kontrak vir vyf maande).
2. Mnr Brian Monakali as Hoof Uitvoerende Direkteur van die Spoorwegveiligheidsreguleerder.
3. Raad vir Lugverkeer- en Navigasiedienste
Me Doris Dondur om die vakante pos op die raad te vul.
4. Raad van Trustees van die Onafhanklike Ontwikkelingsfonds
a) Me Zimbini Hill;
b) Me Lerato Makgothatso Kumalo;
c) Prof Stella Motlhago Bvuma;
d) Mnr Wayne Stewart Manthe;
e) Dr Deenadayalen Konar;
f) Mnr Neil Jensen;
g) Me Sekadi Phayane – Shakhane;
h) Me Thobile Buhlebethu Maloka;
i) Prof Raymond Nkando; en
j) Me Bongekile Zulu.
5. Lede van die van die Korprasie vir Nywerheidsontwikkeling se direksie
a) Dr Gloria Tomatoe Serobe (voorsitter);
b) Mnr Reon Barnard;
c) Mnr Sam Bhembe;
d) Me Tanya Reeva Cohen;
e) Me Ayanda Dlodlo;
f) Dr Nomusa Dube-Ncube;
g) Dr Keitumetse Mothibeli; en
h) Dr Sydney Mufamadi.
Gebeure en toekomstige gebeure
6.1 Jeugindiensneming
6.1.1 Met die afsluiting van Jeugmaandvieringe, beaam die Kabinet President Ramaphosa se beroep op besighede en ander entiteite in die openbare sektor om SAYouth.mobi te gebruik om meer geleenthede aan die jeug te bied om te studeer en ʼn inkomste te verdien.
6.1.2 Meer as 4.7 miljoen jongmense is tans op hierdie platform en op die Departement van Indiensneming en Arbeid se Indiensnemingsdatabasis geregistreer. Deur middel van hierdie platforms kry jongmense toegang tot meer as 1.6 miljoen geleenthede om ʼn inkomste te verdien.
6.1.3 Die Kabinet doen ʼn beroep op besighede om jongmense ʼn hupstoot te gee deur werksgeleenthede te verskaf en te belê in onderwys en vaardigheidsontwikkeling.
F. Boodskappe
1. Meegevoel
Die Kabinet betuig sy meegevoel met die vriende en familie van:
a) Mnr Sinethemba Mpambane, Adjunk-visekanselier van die Walter Sisulu-universiteit, wat doodgeskiet is in sy voertuig by die universiteit se Nkululekweni-fasiliteit.
b) Legendariese sportkommentator en aanbieder, Phumlani Msibi, wie bekend was vir sy ikoniese kenmerkvraag “thoughts please” tydens sy post-sokkerwedstrydonderhoude.
c) Trompetspeler en flugelhoringkunstenaar, Fezile “Feya” Faku; hy het ʼn roemryke loopbaan gehad wat oor vyf kontinente gestrek het en het met legendes soos Abdullah Ibrahim en Bheki Mseleku meegewerk.
2. Gelukwense
Die Kabinet dra sy gelukwense en sterkte oor aan:
a) Die Proteas, wat teen Australië gewen het in die internasionale toetswedstrydkampioenskap se finaal en daardeur die gesogte IKR wêreldtoetskampioentitel ontvang het. Hul manjifieke sege teen alle verwagtinge in het vreugde aan ons nasie gebring en weereens die mag van sport om mense te verenig en maatskaplike eenheid en nasiebou te bewerkstellig, bewys.
b) Laura Seethal, beter bekend as Tyla, wat as gasheer opgetree het vir die 2025 Nickelodeon Kids’ Choice Awards en ook die eerste Afrika-kunstenaar is om met die louere weg te stap as die Favourite Global Music Star by hierdie toekenningseremonie, wat in die VSA gehou is.
c) Veteraan-aktrise Leleti Khumalo en rolprentvervaardiger Anant Singh, wat die gesogte Golden Nymph-toekenning in die Special Creation-kategorie vir die rolprent Don’t Give Up by die 64e Monte-Carlo Television Festival ingepalm het. Darrel James Roodt het die regie behartig.
d) Die wêreld se binnenshuise kampioen, Prudence Sekgodiso, wat op 15 Junie 2025 die derde plek in die vroue-800m by die Diamond Leagues-reeks in Stokholm, Swede verower het. Sy het op 24 Junie 2025 ʼn nuwe persoonlike beste tyd in die vroue 800m by die Ostrava Golden Spike-kompetisie in die Tsjeggiese Republiek opgestel.
Terwyl ons die 70e herdenking van die Vryheidsmanifes vier, wil ons elke Suid-Afrikaner daaraan herinner dat ‘Suid-Afrika aan almal hier woon – wit en swart’ – behoort – Vryheidsmanifes
Navrae: Me Nomonde Mnukwa – Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485