Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 25 Februarie 2026

A.    Kwessies in die omgewing

1.1.    SoNA 2026: Maak reg wat nodig is sodat ons saam opgehef kan word
1.2.    Die Kabinet het hul verbind tot die tydige implementering van die verbintenisse wat deur President Cyril Ramaphosa gemaak is tydens die 2026 Staatsrede en die Staatsrede-debat.
1.3.    Die 2026 Staatsrede het dit ʼn prioriteit gemaak om die sleuteluitdagings wat steeds die land in die oë staar, ten spyte van sterk vordering op ekonomiese front soos bevestig deur voortdurend-verbeterende ekonomiese aanduiders, aan te spreek. Hierdie uitdagings sluit in: (a) nasionale waterkrisis, (b) bek-en-klouseersiekte, (c) georganiseerde misdaad en verswakte strafregstelsel, (d) ʼn swak plaaslike regeringstelsel, en (e) werkloosheid. 
1.4.    Aangaande die waterkrisis gaan die President ʼn waterkrisiskomitee lei wat alle ingrypings, gemik op die oplossing van Suid-Afrika se wateruitdagings, sal konsolideer en koördineer. Die waterkrisiskomitee sal ʼn wateraksieplan finaliseer wat sal fokus op die kort-, medium- en langtermyn ingrypings wat nodig is om te verseker dat daar water in ons krane is. Om die watervoorsiening in Gauteng te stabiliseer, het die minister van water en sanitasie ʼn dringende watergebruiklisensie aan Rand Water goedgekeur om vir drie maande bykomende water uit die geïntegreerde Vaalrivierstelsel te onttrek en munisipaliteite só in staat te stel om reservoirvlakke te stabiliseer. 
1.5.    Die stryd teen georganiseerde misdaad en ʼn verswakte strafregstelsel gaan aangepak word met ʼn veelsydige strategie. Hierdie strategie sluit in die implementering van ʼn nasionale georganiseerde misdaadbestrydingsplan wat gesteun sal word deur die ontplooïng van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) in bende-geteisterde brandpunte en die reiniging van die strafregstelsel van ontsmette elemente deur die herkeuring van lede van die strafregstelsel en die metro-polisie. Hierdie herkeuring sal onder meer lewensoudits insluit. Die keuringsprogram sal aan die gesamentlike staande komitee oor intelligensie voorgelê word. Daarbenewens is ʼn toegewyde taakspan aangestel om enige bewyse van kriminaliteit teen senior lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat deur die Madlanga-kommissie geïmpliseer is, te ondersoek.

2.    2026 Nasionale Begroting (R2.67 triljoen)

2.1.    Die Kabinet verwelkom die R2.67 triljoen begroting vir 2026 wat die verbintenisse, wat deur die President tydens die Staatsrede gemaak is, sal befonds. 
2.2.    Om die stryd teen misdaad te steun, het die minister van finansies R2.7 miljard oor die mediumtermyn bestedingsraamwerk (MTBR) aan die verdedigingsbegroting toegeken om bedrywighede te verbeter en ʼn bykomende R1 miljard is aan elk die SAPD en die SAW toegeken vanuit die CARA-fonds om georganiseerde misdaad te bestry.
2.3.    Ter steuning van plaaslike regeringshervormings om dienslewering te verbeter, het die minister van finansies R27.7 miljard oor die MTBR toegeken aan prestasie-verwante hervorming van metro-handelsentiteite in elektrisiteit, water en vaste afval. Die doel van die hervorming is die afkamping van water- en elektrisiteitsinkomste om herbelegging in hierdie dienslewering te verseker voor enige kruis-subsidiëring kan plaasvind. 
2.4.    Daarbenewens het die minister die bekendstelling van die gesplete leweringsmodel vir die munisipale infrastruktuurtoelae aangekondig, waar munisipaliteite met ernstige dienslewerings- of bestuurstekortkominge oorgeskuif sal word na ʼn indirekte dienstemodel. Hierdie indirekte dienstemodel sal daartoe lei dat bekwame distriksmunisipaliteite en ander geakkrediteerde agentskappe deel sal vorm van hul dienslewering-suite.
2.5.    Die begroting bied ook belastingverligting aan huishoudings en kleinsakeondernemings deur die onttrekking van R20 miljard in belastingverhogings wat voorwaardelik in die begroting van Mei 2025 ingesluit is, die aanpassing van persoonlike inkomstebelastingkerwes en belastingkortings, ten volle belyn met inflasie, en die verhoging van die verpligte BTW-registrasiedrumpel van R1 miljoen tot R2.3 miljoen. 
2.6.    Die Kabinet herhaal hul verbintenis tot verstandige fiskale bestuur, die hervormingsagenda en spoedige implementering van ingrypings en programme wat gelei het tot die inkorting van die begrotingstekort en die bestendige ekonomiese groei wat die 2026 begroting moontlik gemaak het.

3.    Bestendige vordering in die stryd teen werkloosheid

3.1.    Die Kabinet verwelkom die vrystelling van die uitslae van kwartaal 4 van die kwartaallikse arbeidsmagopname, soos bekend gemaak deur Statistieke Suid-Afrika (Stats SA), wat toon dat werkloosheid afgeneem het met 0.5 persentasiepunte tot 31.4% in die vierde kwartaal van 2025, van 31.9% in die vorige kwartaal. 
3.2.    Die aantal werklose persone het met 172 000 afgeneem tot 7.8 miljoen persone, terwyl indiensneming toegeneem het met 44 000 in kwartaal 4 van 2025 tot 17.1 miljoen persone met werk.
3.3.    Dit merk die derde agtereenvolgende kwartaal van groei in indiensneming en dit is bemoedigend dat noodsaaklike sektore soos konstruksie, finansies en landbou hoë groeisyfers aangeteken het.

4.     Ekonomiese transformasie en vorderingsdringendheid 

4.1.1.    Die Kabinet ondersteun die President se aankondiging tydens die Staatsrede dat dit onaanvaarbaar is dat 31 jaar na die koms van demokrasie, swart Suid-Afrikaners, Kleurlinge en Indiërs steeds minder ekonomiese geleenthede as wit Suid-Afrikaners het en ook onaanvaarbaar dat vroue steeds minder as mans verdien. 
4.1.2.    Data vanaf Stats SA bevestig dat swart Suid-Afrikaanse huishoudings reële inkomstegroei van 46% ervaar het, met Kleurlinghuishoudings teen 29% en Indiërhuishoudings teen 19%. Die armoedevlak onder die swart Suid-Afrikaanse bevolking het afgeneem van 67% in 2006 tot 44% in 2023, terwyl die armoedevlak in die Kleurlinggemeenskap van 43% tot 25% afgeneem het oor dieselfde tydperk.
4.1.3.    Nieteenstaande hierdie vordering, het die Kabinet erken dat die gemiddelde inkomste van wit huishoudings vyf keer hoër bly as dié van swart huishoudings.
4.1.4.    In verband hiermee verwelkom die Kabinet die dringende hersiening van die breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtigingsraamwerk om te verseker dat dit groter transformasie en inklusiewe groei ondersteun.

4.2    Swart huishoudings nou 41% van die hoë-inkomstegroep

4.2.1    Die Kabinet gee erkenning aan die bevindinge van die Universiteit van Kaapstad se Liberty-instituut vir strategiese bemarking, gebaseer op die data van Stats SA, wat toon dat die gedeelte van swart huishoudings wat meer as R75 000 per maand verdien met meer as 41% toegeneem het in 2024, van 29% in 2012. Die aantal swart Suid-Afrikaners in middel- en hoë-inkomstekerwes, wat meer as R22 000 per maand verdien, het vervierdubbel tot meer as sewe miljoen in 2024. Algeheel het die aantal persone in daardie inkomstekerwes toegeneem van ongeveer vier miljoen tot meer as 11 miljoen tussen 2012 en 2024.
4.2.2    Toenemende swart inkomstevergoeding is besig om progressief die rasseprofiel van Suid-Afrika se hoë-inkomstekerwes te transformeer. Dit is ʼn direkte dividend van 31 jaar se demokratiese hervorming deur programme soos gelyke indiensneming en swart ekonomiese bemagtiging. Hierdie vordering is gemaak in ʼn land wat gevorm is deur geïnstitusionaliseerde ongelykheid, waar die swart meerderheid stelselmatig teen gediskrimineer is tydens koloniale en apartheid regering, en inkomste eens op ʼn persoon se ras gebaseer is, by wyse van onder meer die regering se transformasieprogramme. 
4.2.3    Die Kabinet erken ook dat hierdie vordering steeds nie proporsioneel is tot die demografiese verteenwoordiging van Suid-Afrika se bevolking nie. Swart Suid-Afrikaners domineer steeds die geledere van die behoeftiges en die werkende-behoeftiges, en miljoene leef steeds in armoede.

5.    Suid-Afrika hervat plaaslike entstofproduksie om die uitbreek van BKS te stuit en die land se siektevrye status te herstel

5.1.    Die landbounavorsingsraad se Onderstepoort-veeartsnavorsingsentrum het produksie van bek-en-klouseer (BKS) entstowwe hervat na meer as 20 jaar. Die eerste sarsie plaaslik-geproduseerde BKS-inentings is op Vrydag, 6 Februarie 2026, oorhandig. Hierdie mylpaal sal bydra tot die dringende stappe om die uitbreking van BKS te stuit, wat tans meer as 14 miljoen vee in die land teister en ongekende verwoesting saai onder die landbougemeenskap. 
5.2.    Die Kabinet is vol vertroue dat die herbou van die plaaslike entstofproduksiekapasiteit in die landbounavorsingsraad, en meer spesifiek Onderstepoort Biologiese Produkte, sal bydra tot die doelwit om Suid-Afrika se BKS-vrye status by die wêreldorganisasie vir dieregesondheid terug te win. Die Kabinet spreek hul dankbaarheid uit teenoor die landbougemeenskap, wat onvermoeid gewerk het om die pogings van die departement van landbou te steun om die huidige uitbreek van BKS te stuit.

6.    Verbeterde misdaadsyfers - ʼn aanduiding van bestendige vordering in die stryd teen misdaad

6.1.    Die SAPD het die derde kwartaal van 2025/26 misdaadstatistieke op 20 Februarie 2026 bekendgemaak met ʼn nasionale misdaadprentjie wat versigtige en bewysgebaseerde optimisme ontlok, terwyl meer werk gedoen moet word. 
6.2.    Rakende moord is die afwaartse neiging wat in kwartaal 1 van 2023/24 begin het, volgehou, met ʼn aangetekende afname van 8.7%, wat 602 minder lewens is wat verlore is, vergeleke met dieselfde tydperk laasjaar. In die afgelope twee jaar het moorde in hierdie kwartaal met 17.7% afgeneem, wat 1 359 minder moorde verteenwoordig. Dubbelsyferafnames is in vyf provinsies aangeteken: KwaZulu-Natal, Gauteng, Mpumalanga, die Vrystaat en die Noordwes. Kleiner afnames is aangeteken in die Wes-Kaap en Oos-Kaap, met klein toenames in Limpopo en die Noord-Kaap. Van die 30 polisiestasie-gebiede landswyd met die hoogste moordsyfers het slegs 15 afnames aangeteken. Dit bevestig dat alhoewel nasionale syfers verbeter, geteikende ingrypings op gemeenskapvlak noodsaaklik bly. 
6.3.    Die Kabinet is baie besorgd oor die merkbare toename in die moorde op polisiebeamptes in hierdie kwartaal. Drie-en-twintig beamptes het hul lewens verloor, met nagenoeg 80% wat vermoor is terwyl hulle van diens af was. Die nasionale kommissaris van die SAPD is belas met 'n volle assessering om hierdie lewensverlies te voorkom. 
6.4.    Totale kontakmisdaad, wat alle kategorieë van geweldsmisdaad behels, het afgeneem met 6.7%, wat verteenwoordigend is van 12 682 minder sake wat by die SAPD aangeteken is as in dieselfde kwartaal laasjaar. In die afgelope twee jaar het geweldsmisdaad afgeneem met 8.3%, oftewel 15 763 minder sake. 
6.5.    Hierdie afwaartse neiging kan onder meer toegeskryf word aan verbeterde polisiëringsoperasies.

7.    Die SOE-verslag oor visums en die departement van binnelandse sake 

7.1.    Toe President Ramaphosa op 16 Februarie 2024 die proklamasie geteken het wat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) gemagtig het om aantygings van korrupsie en bedrog in die visa-aansoekproses te ondersoek, was die doelwit om die integriteit van Suid-Afrika se amptelike dokumente en die immigrasiestelsel te beskerm.
7.2.    Die Kabinet prys die SOE vir hul werk wat die departement van binnelandse sake sal steun om bestaande gapings toe te stop en te verseker dat alle oortreders voor die gereg gebring word. 
7.3.    Die Kabinet prys ook die departement van binnelandse sake vir die vordering wat gemaak is om die land se immigrasiestelsel te versterk sedert die aanvanklike aantygings van bedrog en korrupsie vermeld is.

8.    Terugkeer van 15 van die 17 jong mans wat gelok is om by die Russiese voorste linies aan te sluit

8.1.    Die Suid-Afrikaanse regering, in noue samewerking met die Russiese regering, het die veilige terugkeer van die mans, tussen die ouderdomme van 20-39 jaar, wat gelok is om by die Russiese voorste linies aan te sluit. Dit is na aanleiding van noodroepe om hierdie 17 mans se terugkeer na Suid-Afrika te ondersteun. 
8.2.    Die Kabinet het tesame met President Cyril Ramaphosa hul dankbaarheid teenoor President Vladimir Putin uitgespreek, wie positief gereageer het tot President Ramaphosa se beroep om die terugkeerproses van Suid-Afrikaanse mans wat na die oorlogslinies tussen Rusland en die Oekraïne gelok is, te ondersteun.
8.3.    Al 17 mans is van hul kontrakte wat hulle met militêre kontrakteurs gesluit het, vrygestel. Vyftien van die mans is reeds terug in Suid-Afrika, terwyl twee steeds in Rusland is – een in ʼn hospitaal en die ander een wat tans geprosesseer word voor sy reisreëlings gefinaliseer word. 
8.4.    Ondersoeke na die omstandighede wat gelei het tot die werwing van hierdie mans en die oortreding van Suid-Afrikaanse wetgewing duur voort.

9.    Ekapa-mynongeluk

9.1.    Die minister van minerale en petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, tesame met die premier van die Noord-Kaap, Zamani Saul en die uitvoerende burgemeester van Sol Plaatje, Martha Bartlett, het die Ekapa Minerals gesamentlike mynskag in Kimberley besoek, waar ʼn modderstroomongeluk op 17 Februarie 2026 plaasgevind het. Vyf werknemers van die myn is weens die ongeluk ondergronds vasgevang. Alle werksaamhede by die myn is ondertussen gestaak terwyl ʼn intensiewe soektog voortduur. Na afloop van die reddingspoging sal die department van minerale en petroleumhulpbronne ʼn formele ondersoek loods soos bepaal deur die Wet op Mynveiligheid en -gesondheid om die oorsaak van die ongeluk te ondersoek. 
9.2.    Die departement se span, onder leiding van die hoofinspekteur van myne, is op die toneel om die reddingspogings te monitor en ondersteun. Die regering het mynmaatskappye en die Mineraleraad van Suid-Afrika geprys vir hul bystand in die reddingspoging. Daar word deurlopend met die geraakte families gekommunikeer. Die families van die geraakte werknemers is in die regering se gedagtes en gebede waar die reddingspogings voortgaan.

10.    Internasionale betrekkinge

10.1.    39e gewone sessie van die AU-vergadering

10.1.1.    President Ramaphosa het ʼn hoëvlak Suid-Afrikaanse afvaardiging gelei by die 39e gewone sessie van die AU-vergadering van 14 tot 15 Februarie 2026. Saamgeroep rakende water en sanitasie, onder die tema “Die verseker van volhoubare waterbeskikbaarheid en veilige sanitasiestelsels om die doelwitte van Agenda 2063 te bereik”, was die fokus direk belyn met Suid-Afrika se prioriteite en die Staatsrede se agenda vir plaaslike krisisse en het dit dan ook kontinentale pogings om toegang tot volhoubare water- en sanitasiedienste ondersteun.
10.1.2.    President Ramaphosa was ook die voorsitter van die AU se ad-hoc hoëvlak-komitee vir Suid-Soedan (C5) plus-spitsberaad. Die C5 speel ʼn aktiewe rol as toesighouer oor die implementering van die vernuwede ooreenkoms oor die resolusie van die konflik in die Republiek van Suid-Soedan.

10.2.    Suid-Afrika as tussentydse voorsitter van die SAOG berei voor om die 46e SAOG-spitsberaad aan te bied

10.2.1.    Suid-Afrika, as tussentydse voorsitter van die Suider-Afrika Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), het voorbereidings begin tref vir die 46e SAOG-spitsberaad in Augustus 2026 deur gasheer te speel vir sektorale vergaderings.
10.2.2.    In verband hiermee het Suid-Afrika op 23 en 24 Februarie 2026 suksesvol gasheer gespeel vir die gesamentlike sitting van die ministers van gesondheid en ander ministers verantwoordelik vir MIV/Vigs binne die SAOG, met verteenwoordigers die WHO, UNAIDS, UNDP, UNESCO, UNFPA en UNICEF wat ook die sitting bygewoon het. 
10.2.3.    Die sake onder bespreking het onder meer gesondskwessies en koördinering rakende die uitbreek van siektes behels. 
10.2.4.    Daarbenewens sal Suid-Afrika die SAOG-ministersraadsvergaderings van 12 tot 13 Maart aanbied, wat deur ministers van 15 SAOG-ledelande bygewoon sal word. Dit sal voorafgegaan word deur sittings van die staande komitee van senior amptenare.

11.3    Suid-Afrika-Sjina ekonomiese vennootskap 

11.3.1    Die Kabinet is ingelig oor die ondertekening van die Suid-Afrika-Sjina ekonomiese vennootskapsooreenkoms vir gedeelde voorspoed (CAEPA) as deel van die handelsbetrekkinge tussen die Suider-Afrika Doeane-unie (SADU) en Sjina, wat onderhandelinge oor die “vroeë-oes-ooreenkoms” ingesluit het, wat 100%-belastingvrye marktoegang vir Afrika-lande wat diplomatiese bande met Sjina het, sal ontsluit. 
11.3.2    Daarbenewens sal Suid-Afrika op 25 Maart 2026 die 13e Suid-Afrika-Sjina strategiese dialoog aanbied, wat ʼn gestruktureerde hoëvlakplatform sal verskaf vir beide lande om die implementering van hul bilaterale betrekkinge te hersien, belyn en bevorder, asook die alsydige strategiese samewerkende vennootskap sal herbevestig deur middel van gereelde diplomatieke betrokkenheid. 
11.3.3    Op 26 Maart 2026 sal Adjunkpresident Paul Mashatile die medevoorsitter wees van die 9e SA-Sjina bilaterale nasionale kommissie, wat ten doel het om strategiese bilaterale samewerking te hersien en bevorder, prioriteitsektore te belyn en politieke, ekonomiese en tegniese samewerking tussen die twee lande te verdiep.

B.    Kabinetsbesluite

1.    Vordering in die implementering van die President se antwoord op die aanbevelings van die staatskapingskommissie

1.1    Die Kabinet het die vorderingverslag van die aksies rakende die aanbevelings van die kommissie van ondersoek na bewerings van staatskaping, korrupsie en bedrog vir inhandiging aan die Parlement goedgekeur.
1.2    Teen November 2025 het die herwonne bates wat betrekking het tot die aantygings van staatskaping, korrupsie en bedrog R16.432 miljard beloop: 
- Spesiale ondersoekeenheid = R2.89 miljard,
- Batesverbeuringseenheid = R8.142 miljard, en
- Suid-Afrikaanse Inkomstediens = R5.4 miljard.
1.3    Vordering in hervormings sluit die volgende in: (i) Die Wysigingswetsontwerp op die Staatsdiens en die Wysigingswetsontwerp op Bestuur van Openbare Ondernemings, wat by die President is vir instemming; (ii) ʼn toesighoudende regter is aangestel vir die ondersoekdirektoraat teen korrupsie; (iii) Suid-Afrika is van die FATF se gryslys verwyder; (iv) die verslag van die verkiesingshervormingskonsultasiepaneel is ter tafel gelê in die Parlement; (v) die Konsepwetsontwerp op die Beskerming van Fluitjieblasers sal binnekort deur die Kabinet verwerk word, en (vi) die sentrale register van afgedankte staatsamptenare is in konsultasie vir instemmingsdoeleindes. 
1.4    Tot op hede is 57% (34 van 60) van die aksies voltooi, 18% (11 van 60) van die aksies is op koers, 23% (14 van 60) van die aksies is vertraag maar werk vorder, en slegs 2% (1 van 60) aksies vereis aandag.

2.    Beheerstrategie vir bek-en-klouseer

2.1    Die Kabinet is ingelig oor die huidige skaal en erns van bek-en-klouseer in Suid-Afrika. 
2.2    Die Kabinet het die voorstel vir die implementering van ʼn nasionale massa-inentingsprogram vir gesplete-hoefdiere as kern inperkings- en herstelmaatreëls goedgekeur.
2.3    Die inentingsprogram sal die nasionale kudde van sowat 14 miljoen beeste dek, wat ʼn beraamde 28 miljoen inentings oor die volgende 12 maande sal benodig. 
2.4    Die massa-inentingsprogram sal deur sentrale verkryging gesteun word om te verseker dat die korrekte entstof vir die toepaslike virusstam verkry word. 
2.5    Die strategie omskryf die inentingsprioritisering van die provinsies volgens die omvang van die pandemie-uitbreking. 
2.6    Die Kabinet is daarvan ingelig dat twee miljoen inentings beskikbaar is vir die afskop van die inentingsprogram.
2.7    Die Kabinet doen ʼn beroep op boere om die bewegingsbeheermaatreëls, wat in plek gestel is, toe te pas as ʼn doeltreffende maatreël om die verspreiding van bek-en-klouseer te beperk.

3.    Nasionale evalueringsbeleidsraamwerk 2025

3.1.1    Die Kabinet het die nasionale evalueringsbeleidsraamwerk 2025 goedgekeur, wat die evalueringsbeleid op datum bring en sodoende toepaslik en doelmatig te hou. 
3.1.2    Die beleidsraamwerk 2025 versterk die stel van teikens en uitkomste terwyl evalueringshersienings van jaarlikse prestasieplanne steeds in berekening gehou word en ontwikkel omvattende bestuursmeganismes vir onvoldoende prestasie en aansporingsmeganismes vir goeie prestasie.

4.    Tweede nasionale verslag oor die implementering van die nuwe stedelike agenda

4.1    Die Kabinet het die tweede verslag oor die nuwe stedelike agenda goedgekeur.
4.2    Die verslag verskaf insette oor globale verslaggewing oor die implementering van die nuwe stedelike agenda:
4.2.1    Nasionale vordering verwant aan volhoubare stedelike ontwikkeling vir sosiale en maatskaplike insluiting en die verlos van armoede.
4.2.2    Die stand van die nasie in terme van volhoubaarheid en inklusiewe stedelike welvaart.
4.2.3    Omgewingsvolhoubaarheid en veerkragtige stedelike ontwikkeling, insluitend bestuur, beplanning, finansiële raamwerke en institusionele kapasiteit.
4.3    Die Kabinet het dit ook goedgekeur dat die minister van menslike nedersettings ʼn strategie ontwikkeling om die konstruksie van informele strukture in gevaarlike gebiede, wat onderhewig is aan rampe aanspreek, insluitend medium- tot langtermynoplossongs vir tydelike residensiële eenhede (TRU’s).

5.    Die staat se strategie vir seksuele en voortplantingsgeregtigheid (SVG) vir Suid-Afrika

5.1    Die Kabinet het die strategie vir seksuele en voortplantingsgeregtigheid (SVG) vir Suid-Afrika goedgekeur.
5.2    Die strategie streef na ʼn seksuele en voortplantingsgeregtigheidsraamwerk gebasser om menseregte en geskoei op die beginsels van die Grondwet.
5.3    Die strategie se doelwit is om te verseker dat alle individue, veral vroue, die jeug en gemarginaliseerde groepe die mag en hulpbronne het om gesonde besluite oor hul liggame, hul seksualiteit en voortplanting te maak.

C.    Wetsontwerpe

1.    Wysigingswetsontwerp op Spesiale Pensioene, 2026 

1.1.    Die Kabinet het die inhandiging van die Wysigingswetsontwerp op Spesiale Pensioene aan die Parlement goedgekeur. Die wetsontwerp herroep die Wet op Spesiale Pensioene, 1996 (Wet 69 van 1996) om voorsiening te maak vir die behoud van voordele wat vasgestel is voor die verval van sekere bepalings. Dit stel mense wat vir meer as een voordeel kwalifiseer in staat om die voordeligste voordeel te ontvang, om regverdigheid en konsekwentheid te verseker in die administrasie van spesiale pensioene. 
1.2.    Die wetsontwerp maak voorsiening vir die reg van ʼn oorlewende eggenoot of begunstigde om ʼn oorlewende se enkelbedragvoordeel te ontvang waar ʼn persoon oorlede is of volgens wet as oorlede vermoed word. Die wysigings is ook ontwerp om administratiewe gapings aan te spreek en geskiktheid uit te brei, in erkenning van die opofferings wat deur individue gemaak is in die vestiging van Suid-Afrika se demokrasie.

2.     Wysigingswetsontwerp op Arbeidswetgewing, 2025

2.1.    Die Kabinet het die publikasie van die Wysigingswetsontwerp op Arbeidswetgewing vir openbare kommentaar goedgekeur. Die wetsontwerp het ten doel om Suid-Afrika se arbeidswetgewingsraamwerk te moderniseer en versterk deur die wysiging van die Wysigingswet op Arbeidsverhoudinge, Wet 8 van 2018, die Wysigingswet op Basiese Indiensneming, Wet 7 van 2028, asook wysigings van die hersienings van die Wysigingswet op Nasionale Minimum Loon, Wet 9 van 2018 en die Wet op Gelyke Indiensneming, Wet 55 van 1998. Dit is gemik op beter beskerming vir werknemers, belyning met die Grondwetlike regte tot gelykheid en waardigheid te verseker, toepassing van indiensnemingstandaarde te verbeter en dispuutresolusiemeganismes duideliker te maak.
2.2.    Die wetsontwerp bring groter beskerming aan weerlose en nie-standaardwerknemers en handhaaf terselfdertyd ʼn gepaste balans met werkgewers se operasionele vereistes. Die wetsontwerp gee uitvoering aan die Grondwet deur die bevordering van regverdige arbeidspraktyke, maatskaplike geregtigheid en ingeslote ekonomiese deelname.

3.    Wysigingswetsontwerp op Arbeidsverhoudinge, 2025

3.1.    Die Kabinet het die publikasie van die Wysigingswetsontwerp op Arbeidsverhoudinge vir openbare kommentaar goedgekeur. Die wetsontwerp het ten doel om die arbeidsverhoudingsraamwerk te moderniseer en versterk deur die instelling van duideliker reëls vir geslote-kleinhandel-stemming, die beperking van outomatiese verlenging van bedingingsraadooreenkomste tot sekere nuwe sake-ondernemings, en die regulering van befondsing en finansiële verslaggewing van bedingingsraad-, vakbond- en werkgewersorganisasies. Voorgestelde wysigings beoog om ʼn gepaste balans te handhaaf tussen groter buigbaarheid vir werkgewers en groter beskerming vir werknemers. 
3.2.    Die wetsontwerp stel maatreëls voor om die dispuutresolusieproses meer vaartbelyn te maak, inkomstelimiete in te stel vir werknemers met hoë verdienste en afleggingsprosedures te verfyn.

D.    Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike sekuriteitsklarings.

1.    Mnr. Mpumelelo Nconco as die direkteur van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA).

2.    Aanstelling van direkteure op die Raad van die Lugvervoernavigasiediens 

i.    Mnr. Zola Majavu (heraanstelling en voorsitter),
ii.    Me. Doris Dondur (heraanstelling),
iii.    Me. Zandile Matilda Kabini,
iv.    Me. Mapela Angelina Serote,
v.    Mnr. Peter Marais,
vi.    Mnr. Badisa Matshego,
vii.    Me. Boni Patricia Beauty Dibate,
viii.    Me. Teboho Nokuthula Fihla,
ix.    Mnr. Ashley Latchu, en
x.    Mnr. Mogamat Wasfie Ismail.

3.    Aanstelling van direkteure op die Raad van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral)

i.    Mnr. Potas Thamsanqa Phili (voorsitter),
ii.    Me. Refilwe Buthelezi (heraanstelling),
iii.    Dr. Ismail Vadi,
iv.    Me. Orateng Yvonne Motsoai, en
v.    Me. Rochelle Blaauw.

4.    Aanstelling van direkteure op die Raad van die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid 

(i)    Adv. Mpati Mmasechaba Lebakeng (heraanstelling en voorsitter),
(ii)    Mnr. Mankopane Daniel Tshepo Peege (heraanstelling),
(iii)    Me. Tshitshi Phewa (heraanstelling en departementele verteenwoordiger),
(iv)    Me. Lindiwe Mamashela, en
(v)    Me. Gloria Zanele Nkosi.

E.    Gebeure en Konferensies

1.    Aanbied van die Suid-Afrikaanse LIV-gholftoernooi by die Steyn City-gholfbaan: 2026 tot 2028

1.1    Die Kabinet het die aanbied van die Suid-Afrikaanse LIV-gholftoernooi wat van 19 tot 22 Maart 2026 by die Steyn City-gholfbaan in Johannesburg sal plaasvind, goedgekeur. 
1.2    Die LIV-gholfliga is ʼn professionele mansgholftoer waar die wêreld se voorste gholfspelers meeding in ʼn reeks toernooie wêreldwyd. 
1.3    Die aanbied van die LIV-gholftoernooi sal na verwagting merkbare ekonomiese en sosio-ekonomiese voordele meebring, insluitend ʼn toename in toerisme en werkskepping, terwyl dit ook sal bydra tot die bemarking en ontwikkeling van gholf in Suid-Afrika by wyse van geteikende nalatenskapprogramme. 
1.4    Die toernooi genereer na beraming tussen R500 miljoen en R800 miljoen in direkte ekonomiese impak per toernooi. 
1.5    Die LIV-gholfnalatenskapprogram is gemik op die bemagtiging van jongmense toegang, inspirasie en professionele ontwikkelingsgeleenthede wat in twee fases implementeer sal word: fase 1 in en rondom die Southern Grounds-gholfklub en die Steyn City Gauteng-akademie, en fase 2 sal die program se reikwydte uitbrei tot bykomende gemeenskappe. 
1.6    Bykomende LIV-gholftoernooi-aangeleenthede word beplan vir 2027 en 2028, met moontlike verlenging tot 2029 en 2030.

2.    Menseregtemaand 

2.1    Suid-Afrika sal Menseregtemaand in Maart herdenk onder die tema: “ʼn Erfenis van Dapperheid: Beskerm Regte, Bewaar die Mensdom.” Vanjaar herdenk 30 jaar sedert die ondertekening van die Grondwet in die wet. 
2.2    Die bekendstelling van die 30e herdenking van die aanneming en ondertekening van die Grondwet in die wet sal plaasvind op 2 Maart 2026 by die Apartheidsmuseum. Die herdenking is ʼn geleentheid vir ons almal om te herbevestig dat ons demokrasie en vryheid sterk staan. 
2.3    Die Kabinet doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om voort te gaan om die lewende uitdrukking van die nasie se kollektiewe verbintenis tot grondwetlike demokrasie, menseregte en -vryhede en die oppergesag van die gereg te vereer, en ook die bydraes van helde en heldinne tot ons vryheid en demokrasie te vereer.

3.    Aanbied van die eerste konferensie vir nasionale vervoer 

3.1.    Die Kabinet het die aanbied van die eerste nasionale vervoerkonferensie van 16 tot 18 Maart in Gallagher Estate in Johannesburg goedgekeur. 
3.2.    Die konferensie sal Suid-Afrika se vervoersektor byeenbring om uitdagings aan te spreek en oplossings te ontwikkel. Die konferensie sal na verwagting 750 afgevaardigdes vanuit Suid-Afrika, die SAOG en die breër interansionale gemeenskap lok. 
3.3.    Die konferensie het ten doel om ʼn gedeelde visie vir die rol van vervoer in Suid-Afrika se sosio-ekonomiese ontwikkeling te bou en belanghebbendes te mobiliseer onder ʼn gedeelde vervoeragenda. Dit sal ook die deel van kennis bevorder, internasionale en plaaslike navorsing benut en innoverende vervoertegnologieë en digitale oplossings om die prestasie en mededingendheid van die land se vervoerstelsel verken.

11.    Gewapende Magtedag 

11.1.    President Cyril Ramaphosa, as opperbevelhebber van die Suid-Afrikaanse weermag, het op 21 Februarie 2026 Gewapende Magtedag toegespreek in die Vhembe-distriksmunisipaliteit. 
11.2.    Gewapende Magtedag word jaarliks gevier ter nagedagtenis van die sink van die SS Mendi en alle soldate wat hul lewens opgeoffer het in diens van die Republiek, in die buiteland en op eie bodem. Dit is ʼn dag waar hulde gebring word aan die dapperheid van diegene in uniform in diens van ons land en haar mense se veiligheid.
11.3.    Die Kabinet, tesame met President Ramaphosa, bring hulde aan die lede van die Suid-Afrikaanse Naturelle-arbeidskorps wat hul lewens verloor het toe die SS Mendi op 21 Februarie 1917 tydens die Eerste Wêreldoorlog gesink het. Hul dapperheid, weerstand en eenheid in die aangesig van die dood weerklink steeds en hul dapperheid en gees inspireer ons steeds vandag.

F.    Boodskappe

1.    Medelye

Die Kabinet spreek hul diepste medelye uit aan die vriende en familie van:

1.1.    Menseregte-aktivis en anti-apartheid staatmaker, Eerwaarde dr. Jesse Louis Jackson Sr. Suid-Afrika het ʼn beginselvaste bondgenoot verloor. Eerwaarde Jackson se nagedagtenis is gebonde aan ons storie na vryheid en hy was onder diegene wat hul stemme verhef het teen apartheid op ʼn tydstip waar baie weggekyk het. In 2013 het ʼn demokratiese Suid-Afrika hom vereer met die nasionale orde van die bondgenote van O.R. Tambo, in silwer. 
1.2.    Dr. John Bolana, die vyfde biskop van die Bantu Church of Christ (Ibandla Lika Krestu LaBantu), wat ʼn beginselvaste en deernisvolle dienaar van die mense en die kerk was, in Suid-Afrika en in die SAOG-streek. Hy was ʼn fontein van kennis en ʼn bron van diepe berading vir baie mense in ons land. Hy het eenheid, waardigheid, etiese leierskap en maatskaplike eenheid deurlopend bevorder en so die respek van mense van alle gange van die samelewing verdien. 
1.3.    Hosi dr. Phylia Tinyiko N’wamitwa II, ʼn leier, ʼn baanbreker en ʼn aardsdogter wat ʼn roemryke loopbaan as onderwyser gehad het en ook ʼn gesoute politieke aktivis was. Sy was ʼn standvastige kampvegter vir vroueregte en ʼn magtige stem teen geslagsgebaseerde geweld. Mees onlangs het sy die uitnodiging aanvaar om lid te wees van die groep van vooraanstaande persone, wat toevertrou is daarmee om die nasionale dialoog te lei en adviseer. 
1.4.    Futuris, Clem Sunter, wie se “High Road, Low Road”-scenario Suid-Afrika uitgedaag het om die gevolge van sy politieke en ekonomiese keuses te konfronteer. Sy werk het aan die land ʼn raamwerk verskaf om ʼn beter toekoms te verbeeld in ʼn tydperk waar daardie toekoms ver van seker was. 
1.5.    Baanbreker en Lebanes-gebore Palestynse diplomaat en aktivis, Leila Shahid, wat geskiedenis gemaak het as Palestina se eerste vroue-ambassadeur. Deur haar uitnemende diens aan die PLO en die Palestynse-owerheid in Ierland, Nederland en Frankryk was sy een van die mees gerespekteerde stemme vir Palestynse selfbeskikking ter wêreld.

2.    Gelukwense

Kabinet het gelukgewense en voorspoed oorgedra aan:

2.1.    Die Proteas wat deur is na die super-agtfase van die IKR se mans T20-wêreldbeker wat in Indië en Sri-Lanka aangebied word. Ons wens hulle alle voorspoed toe in hul strewe om ʼn plek in die semi-finaal te bespreek. 
2.2.    Christen- en Moslemgemeenskappe, waar hulle onderskeidelik die Vastyd en Ramadan vier. Die Kabinet dra saam met President Ramaphosa hul seënwense oor.

Navrae: 
Regeringskommunikasie- en inligtingstelsel (GCIS)
Kontak: Me. Nomonde Mnukwa, waarnemende Direkteur-Generaal

Share this page

Similar categories to explore