A. KWESSIES IN DIE OMGEWING
1. Die Kabinet veroordeel die toename in voorvalle van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord
1.1 Die Kabinet, saam met die nasie, veroordeel geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV) en betreur die lewens van nege vroue wat wreed vermoor is in verskillende dele van die Ekurhuleni metropolitaanse munisipaliteit in Gauteng. Die getal het sedertdien tot 13 toegeneem.
1.2 Die Kabinet verwelkom die inhegtenisneming van vier verdagtes in verband met drie van die moorde. Die verdagtes is tans in aanhouding nadat borgtog tydens hul hofverskynings geweier is.
1.3 Die Kabinet ondersteun President Ramaphosa se opdrag aan die multidissiplinêre ondersoekspan onder leiding van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, om die skuldiges agter hierdie moorde so gou as moontlik in hegtenis te neem en te vervolg. Die span poog tans om verskeie persone van belang op te spoor.
1.4 Die toename in GGGV-voorvalle – veral vrouemoord, die moord op ʼn vrou deur ʼn persoon na aan haar – moet ʼn samelewing-wye poging deur mans, families, gemeenskappe en die breë samelewing aanspoor om vroue te beskerm.
1.5 Wetstoepassingsagentskappe moet terselfdertyd seker maak dat diegene wat verantwoordelik is vir die moord op vroue opgespoor word en dat hulle die volle mag van die wet in die gesig staar. Suid-Afrika se wetgewing gewysig is om te verseker dat GGGV-misdade ontoegewend hanteer moet word.
1.6 Die regering sal voortgaan om alles moontlik te doen om die veiligheid en welsyn van vroue en kinders in ons gemeenskappe te bevorder. Laat ons almal, mans en vroue, sterk standpunt teen geweld inneem en ’n rol speel om die plaag van GGGV te beëindig.
1.7 Die Kabinet doen ook ʼn beroep op enigeen met inligting oor ʼn misdryf om dit by die polisie aan te meld – skakel die Crime Stop-tolvrynommer by 086 00 10111 of die GGG-bevelsentrum se kitslyn by 0800 428 428.
2. BRICS-spitsberaad
2.1 Die Kabinet verwelkom die sukses van die 18e BRICS-spitsberaad in Nieu-Delhi, Indië, wat van 12 tot 13 September 2026 gehou is, onder die tema: “Bou vir Veerkragtigheid, Innovasie, Samewerking en Sekuriteit”. Die spitsberaad het weereens die groepering se verbintenis tot die volgende doelwitte bevestig: ʼn meer inklusiewe en verteenwoordigende internasionale stelsel en gevorderde samewerking in handel en belegging; plaaslike valuta-transaksies en grensoorskrydende betalings; infrastruktuurfinansiering deur die Nuwe Ontwikkelingsbank; digitale samewerking; volhoubare ontwikkeling; klimaatveerkragtigheid en voedselsekerheid.
2.2 Die uitkomste van die spitsberaad is van merkbare belang vir Suid-Afrika, synde dit die land se doelwitte ondersteun om industrialisasie te versnel, marktoegang uit te brei, belegging te lok en waardetoevoeging tot kritiese minerale te bevorder. Hierdie prioriteite kan plaaslike produksie versterk, geleenthede vir sakeondernemings en entrepreneurs skep, werkskepping bevorder en verseker dat groter waarde uit die land se natuurlike hulpbronne geput word.
3. Ekonomie
3.1 Suid-Afrikaanse kersieprodusente behaal ʼn deurbraak in die Chinese mark
3.1.1 Die Kabinet is verheug dat Suid-Afrikaanse kersieprodusente vir die eerste keer toegang tot die Chinese mark verkry het ná die ondertekening van ʼn marktoegangsprotokol tussen Suid-Afrika en China op 8 September 2026. Die protokol is tydens die 9de Sanitêre en Fitosanitêre Ministeriële Vergadering in Beijing onderteken deur die Minister van Landbou, mnr. Willie Aucamp, en ʼn verteenwoordiger van China se Algemene Administrasie van Doeane.
3.1.2 Die ooreenkoms skep geleenthede vir Suid-Afrikaanse produsente om toegang tot een van die wêreld se grootste kersiemarkte te verkry. In 2025 het China nagenoeg 586 900 ton kersies ter waarde van US$3.3 miljard (nagenoeg R52.8 miljard) ingevoer. Die opening van die mark sal na verwagting belegging in kersieproduksie ʼn hupstoot gee en ongeveer 600 nuwe werksgeleenthede skep.
3.1.3 Hierdie ontwikkeling vorm deel van breër pogings om Suid-Afrika se landbou-uitvoere uit te brei en internasionale markte te diversifiseer. Dit val ook saam met die implementering van China se nultarief-skema vir kwalifiserende Suid-Afrikaanse produkte, wat op 1 Mei 2026 in werking getree het.
4. Aftelling na die 2026 plaaslike regeringsverkiesings
4.1 Die Kabinet doen ʼn beroep op alle stemgeregtigde kiesers wie se identiteitsdokumente verlore of beskadig is om dit so gou moontlik voor die plaaslike regeringsverkiesings op 4 November 2026 te vervang. Suid-Afrikaanse burgers kan hul plaaslike kantoor van die Departement van Binnelandse Sake of enige van die meer as 450 deelnemende banke se takke besoek om aansoek te doen vir ʼn identiteitsdokument.
4.2 Aansoeke vir spesiale stemme is oop en sal op 12 Oktober 2026 om 17:00 sluit. ʼn Spesiale stem stel stemgeregtigde, geregistreerde kiesers wat nie by hul aangewese stempunte kan stem nie, in staat om hul stem vooraf uit te bring. Spesiale stemme is oop vir kiesers met gestremdhede, swanger vroue, bejaardes en persone met werkverwante verpligtinge.
4.3 Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners, veral jongmense en eerstekeerkiesers, aan om hul stemreg uit te oefen. Elke stem tel en help om ons demokrasie sterk te hou.
4.4 Die Kabinet doen ʼn beroep op politieke partye en onafhanklike kandidate wat aan die komende verkiesing deelneem om altyd die verkiesingsgedragskode te handhaaf en politieke verdraagsaamheid te beoefen.
5. Finale voorbereidings vir die 2026 Nasionale Seniorsertifikaateksamen
5.1 Die Kabinet wens alle kandidate sterkte toe met hul voorbereiding vir die 2026 Nasionale Seniorsertifikaateksamen wat op 13 Oktober 2026 begin. In hierdie pylvak fokus skole daarop om gestruktureerde hersiening te doen en bykomende akademiese ondersteuning te verleen om te verseker dat leerders voldoende voorbereid is.
5.2 Die Kabinet doen ʼn beroep op alle ouers en voogde om die vordering van die kandidate in hul sorg te monitor en ʼn ondersteunende omgewing te skep waar hulle op hul studies kan fokus. Kandidate word aangemoedig om ʼn realistiese studierooster op te stel en om leiding by onderwysers of hul medekandidate te versoek wanneer hulle onseker oor hul skoolwerk is. Indien jy of ʼn matriekleerder in jou sorg oorweldig voel, is gratis professionele hulp 24 uur per dag beskikbaar by die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG): 0800 12 13 14.
6. Gereedheid vir en hantering van strawwe weertoestande
6.1 Die regering monitor steeds strawwe weertoestande regoor die land. Klimaatsverandering dra by tot ’n toename in meer hewige weersomstandighede. Provinsiale en plaaslike owerhede moet ’n vlak van hoë gereedheid bly, paraatheid versterk en toesien dat noodreaksieplanne, waar nodig, in werking gestel word.
6.2 Gemeenskappe word aangemoedig om waarskuwings wat deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens uitgereik word, te monitor en die riglyne van rampbestuursowerhede te volg – veral in gebiede met ʼn groot risiko vir oorstromings, sterk winde, hael en ander gevaarlike omstandighede.
B. KABINETSBESLUITE
1. Finale hersiene Witskrif oor Plaaslike Regering, 2026
1.1 Die Kabinet het die hersiene Witskrif oor Plaaslike Regering, 2026 goedgekeur as ʼn gids tot die transformasie en hernuwing van die plaaslike regeringstelsel. Die hersiening van die Witskrif is onderneem in reaksie op die aanhoudende bestuurs-, institusionele, finansiële en diensleweringsuitdagings waarmee munisipaliteite gekonfronteer word.
1.2 Die Witskrif reageer op die kwessie deur implementering, verantwoordbaarheid, institusionele samehang en finansiële volhoubaarheid te versterk.
1.3 Die Kabinet het verder ook die instelling van ʼn tydgebonde oorgangsbestuursliggaam en ʼn gekoördineerde, gefaseerde implementeringsprogram vir die hele regering onderskryf – gesamentlik gelei deur die Departement van Samewerkende Regering, die Presidensie en die Nasionale Tesourie – om die implementering van die hervormings aan te dryf.
2. Skeiding van die Transnet Nasionale Hawe-owerheid (TNPA) en breër vervoer- en logistieke hervorming
2.1 Die Kabinet is op die hoogte gebring oor die implementering van vervoer- en logistieke hervormings wat daarop gemik is om die operasionele prestasie, infrastruktuurbetroubaarheid en mededingendheid van Suid-Afrika se vrag- en logistieke stelsel te verbeter.
2.2 Die Kabinet ondersteun die afstigting van die Transnet Nasionale Hawe-owerheid (TNPA) om as ʼn alleenstaande maatskappy, wat direk deur die staat besit word, te funksioneer.
2.3 Die Kabinet keur goed dat die TNPA die uitvoerbaarheid van ʼn minderheids-aandelevennoot van een van die land se instellings vir ontwikkelingsfinansiering (OFI’s) ondersoek.
2.4 Die beginsels waarvolgens die skeiding bewerkstellig sal word, sluit in billike vergoeding vir Transnet op grond van ʼn onafhanklik beoordeelde waardasie van die TNPA; langtermyn finansiële volhoubaarheid en ʼn billike toewysing van laste aan sowel die Transnet-groep as die TNPA; die beskerming van werknemers en kliënte; die behoud van strategiese staatseienaarskap en -beheer van nasionale hawe-infrastruktuur; en die verbetering van beleggingsvermoë en infrastruktuur-ontwikkeling.
3. Bekragtiging van die Konvensie oor die Onderdrukking van Onwettige Dade met betrekking tot Internasionale Burgerlugvaart en die Protokol Aanvullend tot die Konvensie vir die Onderdrukking van Wederregtelike Beslaglegging op Lugvaartuie
3.1 Die Kabinet keur die inhandiging van die Konvensie oor die Onderdrukking van Onwettige Dade met betrekking tot Internasionale Burgerlugvaart en die Protokol Aanvullend tot die Konvensie vir die Onderdrukking van Wederregtelike Beslaglegging op Lugvaartuie vir bekragtiging goed.
3.2 Die konvensie versterk die internasionale regsraamwerk om ontluikende bedreigings vir burgerlugvaart te beveg en verbeter globale lugvaartsekuriteit.
3.3 Die konvensie kriminaliseer onder meer ook die gebruik van burgerlugvaartuie om die dood, ernstige liggaamlike besering of beduidende skade te veroorsaak; die gebruik van vliegtuie as wapens; die vrystelling van biologiese, chemiese of kernstowwe vanuit of teen vliegtuie; en kuberaanvalle teen lugnavigasiefasiliteite.
4. Nasionale Beleidsraamwerk vir Erfenisherdenking
4.1 Die Kabinet keur die Nasionale Beleidsraamwerk vir Erfenisherdenking goed. Dit verskaf ’n raamwerk vir die beplanning, bestuur en implementering van alle erfenisgedenkprojekte regoor alle regeringsfere.
4.2 Die beleid bevorder volhoubare en kostedoeltreffende benaderings tot herdenking, terwyl dit maatskaplike samehang, nasiebou, versoening en ʼn gedeelde nasionale identiteit versterk.
4.3 Dit sal ook koördinering, verantwoordbaarheid en die langtermyn volhoubaarheid van erfenis-nalatenskapsprojekte verbeter.
5. Suid-Afrika se voorsitterskap van die Indië, Brasilië, Suid-Afrika (IBSA) Dialoogforum van 2026 tot 2027
5.1 Die Kabinet keur die prioriteite en kernuitkomste van Suid-Afrika se voorsitterskap van die IBSA Dialoogforum van 2026 tot 2027, onder die tema “Vrede, Voorspoed en Ontwikkeling”, goed.
5.2 Suid-Afrika se voorsitterskap sal fokus op die versterking van Suid-Suid-samewerking; die bevordering van handel, belegging en industriële samewerking terwyl volhoubare ontwikkeling steeds bevorder word, insluitend op die gebiede van energie, innovasie en tegnologie; en die bevordering van interpersoonlike verhoudings deur middel van sport en kultuur.
6. Staatsdeelnemerverslag aan die Afrika-komitee van Deskundiges oor die Regte en Welstand van die Kind
6.1 Die Kabinet keur die inhandiging van Suid-Afrika se staatsdeelnemerverslag aan die Afrika-komitee van Deskundiges oor die Regte en Welstand van die Kind goed.
6.2 Suid-Afrika het sy tweede periodieke verslag in Mei 2023 voorgelê en die huidige verslag moet teen die einde van September 2026 ingedien word. Die verslag skets die wetgewende, institusionele en beleidsmaatreëls wat getref is om kinders se regte te beskerm en te bevorder, asook die maatreëls wat in plek gestel is om die komitee se slotopmerkings en gevolgtrekkings in die 2023-verslag aan te spreek.
C. OPDATERINGS AAN DIE KABINET
1. Ontledingsverslag oor die geïntegreerde ontwikkelingsplanne en distriksontwikkelingsmodel se “Een Plan” vanuit ʼn geslags-, jeug en gestremde oogpunt
1.1 Die Kabinet het die ontledingsverslag oor die geïntegreerde ontwikkelingsplanne en distriksontwikkelingsmodel (DDM) se “Een Plan” vanuit ʼn geslags-, jeug en gestremde oogpunt ontvang.
1.2 Ontleding van die DDM se “Een Plan” toon dat infrastruktuurbeplanning oor die distrikte heen nie die prioriteite van vroue, die jeug en persone met gestremdhede voldoende hanteer nie, veral wanneer dit vanuit ʼn impakperspektief geëvalueer word.
1.3 Die ontleding dui ook daarop dat ingrypings wat GGGV en seksuele teistering hanteer word, onvoldoende en ongelykmatig bly tussen munisipaliteite.
1.4 Die Kabinet ondersteun die implementering van die goedgekeurde aanbevelings deur die betrokke nasionale en provinsiale departemente, met deurlopende monitering van vordering deur die Departement van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede.
2. Impak van El Niño op watersekerheid
2.1 Die Kabinet het ʼn verslag ontvang oor die moontlike impak van die verwagte 2026/27 El Niño op watersekerheid in die land en die maatreëls wat ingestel word om die gepaardgaande risiko’s te versag.
2.2 Die Kabinet neem in ag dat die verwagte El Niño-omstandighede nie net ʼn verhoogde risiko vir waterhulpbronbeskikbaarheid sal inhou nie, maar ook die landbousektor en voedselsekuriteit negatief sal beïnvloed, asook ander ekonomiese sektore wat waterintensief is, met implikasies vir die reeds hoë lewenskoste en vir Suid-Afrikaners se gesondheid.
2.3 Die regering versterk voorbereidheid vir droogte en ander veerkragtige teenmaatreëls om die nasie teen die negatiewe impak te beskerm. Die interdepartementele span van tegniese kundiges werk reeds aan ʼn geïntegreerde, gekoördineerde plan van aksie.
2.4 Die Kabinet spoor alle Suid-Afrikaners aan om water verantwoordelik te gebruik en om waterbesparingspogings wat daarop gemik is om die druk op watervoorsieningstelsels tydens die somerseisoen te verminder, te ondersteun.
D. WETSONTWERPE
1. Wetsontwerp op die Regulering van die Suid-Afrikaanse Ruimte-industrie, 2026
1.1 Die Kabinet keur die publikasie van die Wetsontwerp op Regulering van die Suid-Afrikaanse Ruimte-industrie, 2026 vir openbare kommentaar goed. Die wetsontwerp het ten doel om die verouderde Wet op Ruimte-aangeleenthede van 1993 te herroep en ʼn moderne regulatoriese raamwerk in plek te stel om Suid-Afrika se ruimtebedryf te beheer. Dit sal Suid-Afrika se onafhanklikheid van ander lande en hul ruimte-operateurs versterk deur die verkryging van die nodigste ruimte-inligting om vinnige beleidsbesluite vir regeringsingrypings te neem, terwyl dit die land se geloofwaardigheid as ʼn verantwoordelike gebruiker van die buiteruimte versterk. Dit hanteer ook leemtes in die inlywing van internasionale ruimteverdragsverpligtinge in binnelandse wetgewing.
1.2 Die voorgestelde wetgewing sal opkomende kommersiële ruimte-aktiwiteite reguleer; toesig oor die ruimtesektor versterk; voorsiening maak vir aanspreeklikheids- en versekeringsvereistes; en voldoening aan Suid-Afrika se internasionale verpligtinge verseker. Dit sal ook ʼn gunstige omgewing vir belegging, innovasie, navorsing en vaardigheidsontwikkeling skep; terwyl dit die groei van plaaslike ruimtevermoëns en kommersiële geleenthede ondersteun.
2. Wetsontwerp op Vergoeding vir Beroepsiektes in Beheerde Myne en Beheerde Werke, 2025
2.1 Die Kabinet keur die publikasie van die Wetsontwerp op Vergoeding vir Beroepsiektes in Beheerde Myne en Beheerde Werke, 2025 vir openbare kommentaar goed. Die wetsontwerp het ten doel om die verouderde Wet op Bedryfsiektes in Myne en Bedrywe van 1973 te herroep en ʼn moderne, doeltreffende en toeganklike stelsel vir die bestuur van vergoeding vir bedryfsiektes in die mynbousektor daar te stel.
2.2 Die voorgestelde wetgewing sal die identifikasie, opsporing, mediese assessering en vergoeding van huidige en voormalige mynwerkers wat met vergoedingspligtige beroepsiektes gediagnoseer is, versterk en terselfdertyd toegang tot voordele en verwante dienste vir geaffekteerde werkers en hul afhanklikes verbeter.
2.3 Die wetsontwerp maak verder voorsiening vir die stigting van die staatsbeheerde Vergoedingsowerheid vir Myne en Bedrywe wat verantwoordelik sal wees vir die administrasie van eise, vergoedingsbetalings en verwante ondersteuningsdienste, en sodoende aanspreeklikheid en dienslewering binne die vergoedingstelsel sal verbeter.
E. AANSTELLINGS
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike sekuriteitsklarings.
1. Mnr. Zane-Udien Dangor as direkteur-generaal by die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (verlenging van kontrak).
2. Dr. Sean Douglas Phillips as direkteur-generaal by die Departement van Water and Sanitasie (verlenging van kontrak).
3. Mnr. Milingoni Fhulufhelo Lloyd Nedohe as direkteur-generaal by die Regering se Kommunikasie- en inligtingstelsel (GCIS).
4. Me. Avril Halstead as die adjunkdirekteur-generaal vir bate- en lastebestuur in die Nasionale Tesourie.
5. Me. Thandazile Francisca Mnguni as die adjunkdirekteur-generaal vir die Gemeenskapswerkprogram by die Departement van Samewerkende Regering.
6. Me. Sibongile Mpofu as die adjunkdirekteur-generaal vir korporatiewe dienste by die Departement van Samewerkende Regering.
7. Dr. Nontsikelelo Ingrid Manzini-Matebula as die adjunkdirekteur-generaal vir monitering, evaluering, navorsing en koördinering by die Departement van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede.
8. Me. Tirhane Alinah Fosi as hoofuitvoerende beampte (HUB) van die Staatsdrukkery.
9. Mnr. Johannes Makgokolla Moholola as HUB van Lugverkeer- en Navigasiedienste MSB Beperk.
10. Mnr. Siphamandla Mthethwa as HUB van die Lughawemaatskappy Suid-Afrika.
11. Mnr. Waseem Carrim as HUB van die Padongelukkefonds.
12. Mnr. Alford Sifiso Nsibande as HUB van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust.
13. Heraanstelling van Eskom se raadsvoorsitter
Dr Mteto Nyati.
14. Aanstelling van lede tot die Raad vir Geowetenskappe
a. Mnr. Kelepile Dintwe (heraanstelling en voorsitter);
b. Dr. Mayshree Singh (heraanstelling);
c. Dr. Siyanda Mngadi (heraanstelling);
d. Me. Thobeka Njozela (heraanstelling);
e. Dr. Mdu Zakwe;
f. Mnr. Lindelani Mudau (verteenwoordiger van die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne);
g. Dr. Patience Gwaze (verteenwoordiger van die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing);
h. Me. Millicent Solomons; en
i. Mnr. Musa Mabuza (ex officio).
15. Aanstelling van lede tot die raad van die Afrikaanse Explorasie-mynbou en Finansies Korporasie
a. Mnr. Bernard Swanepoel (heraanstelling en voorsitter);
b. Mnr. Mzwandile Masondo (heraanstelling);
c. Me. Pamella Mhlarhi;
d. Mnr. Samuel Molefi;
e. Dr. Ntombifuthi Nxumalo;
f. Mnr. Bonga Makhanya;
g. Adv. Vhongani Masondo; en
h. Mnr. Masibulele Phesa.
16. Aanstelling van lede tot die raad van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika
a. Mnr. Bongani Nqwabana (heraanstelling);
b. Dr. Petrus Matji (heraanstelling);
c. Me. Disebo Moephuli (heraanstelling);
d. Mnr. Joel Netshitenzhe (heraanstelling);
e. Dr. Chantal Naidoo (heraanstelling);
f. Prof. Edgar Pieterse (heraanstelling);
g. Mnr. Jonathan Muthige (heraanstelling);
h. Mnr. Barry Hore (heraanstelling); en
i. Me. Mametja Moshe.
17. Aanstelling van lede tot die raad van die Nasionale Dobbelraad
a. Dr. Makgathatso Charlotte Chana Pilane-Majake (voorsitter);
b. Mnr. Kganki Matabane (adjunkvoorsitter);
c. Me. Chuma Fani;
d. Me. Zoleka Gloria Bula;
e. Me. Silochini Pillay;
f. Mnr. Milton Ntwana (verteenwoordiger van die SAPD);
g. Me. Niklasina Maria Kruger (verteenwoordiger van die Departement van Handel, Nywerheid en Kompetisie);
h. Mnr. Khayalethu Ntimbela (verteenwoordiger van die Nasionale Tesourie); en
i. Me. Sizakele Magangoe (verteenwoordiger van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling).
18. Aanstelling van lede tot die raad van die Nywerheids-Ontwikkelingskorporasie
a. Mnr. Mabotha Authur Moloto;
b. Me. Dinao Modirwadi Lerutla;
c. Me. Victoria Ngwenya;
d. Adv. Fana Joe Nalane;
e. Dr. Boitshoko Ntshabele;
f. Mnr. Kgathatso Tlhakudi;
g. Mnr. William Solomon Steenkamp; en
h. Adv. Thandi Orleyn (heraanstelling).
19. Aanstelling van lede tot die raad van Rand Water
a. Mnr. Gcinumzi Qotywa (voorsitter);
b. Me. Phindile Mbanjwa (adjunkvoorsitter);
c. Me. Ayanda Noah;
d. Mnr. Luvuyo Ntoyi;
e. Me. Lethabo Mashamaite;
f. Mnr. Oliver Josie;
g. Dr. Mosidi Makgae;
h. Dr. Rethabile Melamu;
i. Me. Ayanda Mafuleka; en
j. Me. Moleboge Bothlale Lekwane.
20. Aanstelling van lede tot die raad van die Film- en Publikasieraad
a. Prof. Siyasanga Tyali (voorsitter);
b. Me. Lungelo Dhladhla Nxele (adjunkvoorsitter);
c. Adv. Lindelwa Ndziba;
d. Me. Ditaba Lucy Maraka;
e. Me. Zandile Gail Mpungose;
f. Dr. Phosa Jan Mashangoane;
g. Me. Miriann Maartens;
h. Dr. Seithati Maria Motebang; en
i. Me. Melanie Roy
21. Aanstelling van lede van die adviesliggaam in die Departement van Kleinsakeontwikkeling
a. Prof. Vusi Gumede;
b. Dr. Jabulile Msimango-Galawe;
c. Dr. Nomfundo Mcoyi-Zondo;
d. Me. Juliet Miyabo;
e. Mnr. Sifiso Skenjana;
f. Mnr. Jacob Gcwili;
g. Mnr. John Jeffrey;
h. Haar Majesteit Dr. Kgosi Gaboilelwe;
i. Mnr. Siyabulela Xuza; en
j. Mnr. Anthony Frank Julies
22. Aanstelling van die nie-uitvoerende lede tot die direksie van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK)
a. Dr. Mugwena John Maluleke;
b. Me. Lindiwe Martha Motshwane;
c. Mnr. Reuben Mpono Maleka; en
d. Me. Bulelwa Mabasa.
F. AANGELEENTHEDE EN KONFERENSIES
1. Vervoermaand
1.1 Suid-Afrika gedenk Vervoermaand in Oktober. Die maand is daarop gemik om padveiligheidsinisiatiewe te bevorder en die ekonomiese en maatskaplike voordele van ʼn goed-geoliede vervoerstelsel te beklemtoon. Dit bied ook ʼn geleentheid om die publiek in te lig oor vordering met die herbou van die land se vervoerinfrastruktuur.
2. Kubersekuruteitmaand
2.1 Suid-Afrika sal in Oktober Bewustheidsmaand vir Kubersekuriteit vier om bewustheid te kweek en digitale veiligheid en veerkragtigheid te bevorder. Lede van die publiek word versoek om waaksaam te wees, verantwoordelike aanlyngedrag te beoefen en hul digitale geletterdheid te versterk om hulself, hul persoonlike inligting en hul toestelle teen kuberbedreigings te beskerm.
3. 136ste Lidmaatskapvergadering van die Open Geospatial Consortium
3.1 Suid-Afrika sal van 12 tot 15 Oktober gasheer wees vir die 136ste Lidmaatskapvergadering van die Open Geospatial Consortium (OGC) in Kaapstad. Dit sal die eerste keer wees dat hierdie leidende wêreldwye gero-spektrum-geleentheid in Afrika gehou word.
3.2 Die OGC bring regeringsleiers, karteringsagentskappe, navorsers, tegnologiemaatskappye, standaardkundiges, ontwikkelaars en innoveerders van regoor Afrika en die wêreld byeen om saam te werk aan die toekoms van geo-ruimtelike tegnologie en interbedryfbaarheid.
3.3 Die aanbied van dié byeenkoms sal Suid-Afrika se posisie as ʼn leier in geo-ruimtelike inligtingsbestuur versterk, die aanvaarding van internasionale standaarde bevorder en samewerking regoor Afrika en die wêreldwye geo-ruimtelike gemeenskap verbeter.
4. 15de Verenigde Nasies-kongres oor Misdaadvoorkoming en Strafregpleging
4.1 Suid-Afrika neem deel aan die 15e Verenigde Nasies-kongres oor Misdaadvoorkoming en Strafregpleging, wat van 26 September 2026 tot 1 Oktober 2026 in die Verenigde Arabiese Emirate plaasvind.
4.2 Die kongres sal globale reaksies op ontwikkelende misdaaduitdagings ondersoek, insluitend dié wat voortspruit uit tegnologiese vooruitgang, terwyl dit internasionale samewerking en die versterking van strafregstelsels bevorder.
4.3 Die kongres bied ʼn belangrike platform vir Suid-Afrika om by te dra tot en voordeel te trek uit die ontwikkeling van internasionale reg en beleid; om nasionale ervarings en beste praktyke te deel, en die oppergesag van die reg en volhoubare ontwikkeling te bevorder.
4.4 Afrika-beraad oor Groen Waterstof 2026
5.1 Die Kabinet verwelkom die sukses van die Afrika-beraad oor Groen Waterstof 2026, wat van 15 tot 16 September in Kaapstad gehou is onder die tema: “Verskuiwing van Afrika se Groen Waterstofsektor vanaf PowerPoint na Gigawatt”. Die afgevaardigdes het vordering met die implementering van projekte, finansiering, infrastruktuur en industriële ontwikkeling in Suid-Afrika en regoor die kontinent bespreek. In Suid-Afrika vorm hierdie ontwikkelings deel van die Geïntegreerde Hulpbronplan, wat die primêre beleggingspadkaart vir elektrisiteitsvoorsiening is en op ʼn gebalanseerde, laekoolstofmengsel gerig is. Die beraad het ook ʼn opdatering oor die eerste golf van groenwaterstofprojekte gebied.
Dit sluit in die Phelan Green Group se Elektro-volhoubare Lugvaartbrandstofprojek in Saldanhabaai. Phelan het ʼn verbintenis van US$100 miljoen gemaak en konstruksie sal na verwagting in die eerste kwartaal van 2027 begin.
Ander projekte in die aanvanklike fase sluit in die Coega-groenammoniaprojek in die Oos-Kaap, wat vroeë voorbereidingswerk voltooi het; die Saldanha Waterstof-direktereduksie-ysterprojek in die Weskus, wat in die voor-haalbaarheidstadium is; Prieska Power Reserve in die Noord-Kaap, ʼn groenammoniaprojek wat tans in die ontwikkelingstadium is; Green e-Fuels Producers se groenmetanol-korridor, wat op Europese aanvraag gemik is en in die voor-haalbaarheidstadium is; en die Groen-waterstofoplossingsprojek, wat hoofsaaklik op die Suid-Afrikaanse mark gemik is en sy voorlopige ingenieursontwerp (FEED-ontwerp) voltooi het.
G. SKIETVOORVALLE WAT NÁ DIE KABINETSVERGADERING PLAASGEVIND HET
1. Skietvoorvalle in Wedela, Carltonville in die Wesrand, Gauteng
1.1 Die regering betuig sy medelye met die families en vriende van die 18 slagoffers wat in ʼn kroeg in Wedela, Carletonville aan die Wes-Rand, doodgeskiet is nadat agt onbekende gewapende rampokkers op die klante losgebrand het.
1.2 Sewentien mense is op die toneel dood en een ander persoon het later aan hul wonde beswyk. Nog 18 mense is beseer en na die hospital geneem. Vyf is in ʼn kritieke toestand.
1.3 Slegs vier van die oorledenes is geïdentifiseer en die regering doen ʼn dringende beroep op mense om kontak te maak met hul familie wat in die omgewing woon en om vermiste persone by die polisie aan te meld.
1.4 Twee voertuie is aan die brand gesteek en selfone is gesteel. Die polisie is op soek na agt verdagtes wat met hierdie skietery verbind word.
2. Die skietvoorvalle in Lwandle, Kaapstad
2.1 Die regering betuig sy meegevoel met die naasbestaandes en vriende van die 10 slagoffers wat op Saterdagaand in Lwandle, Kaapstad, doodgeskiet is, waar vyf slagoffers dadelik gesterf het en ander op pad na die hospitaal oorlede is. Multidissiplinêre ondersoekspanne is opdrag gegee om die oortreders wat hierdie afskuwelike misdade gepleeg het, voor die gereg te bring.
H. BOODSKAPPE
1. Medelye
Die Kabinet spreek hul diepste medelye uit met die vriende en familie van:
• Mnr. Enos Mafokate, ʼn internasionaal-bekroonde perderuiter en die eerste swart skouspringkampioen. Hy was ook die stigter van die perdryskool Soweto Equestrian-sentrum, en het ʼn lewenslange prestasie-toekenning by die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings ontvang.
• Die naasbestaandes en geliefdes van diegene wat in die N1-padongeluk, wat 21 lewens in die Wes-Kaap geëis het gesterf het; en die botsing op die N17-tolpad in Mpumalanga wat die lewens van agt mense geëis het.
• Mnr. Owen Ndlovu, ʼn voormalige SABC-sportaanbieder en musiekaktivis wat passievol was oor die kreatiewe bedryf, die media en sport, en ʼn kampvegter vir die regte van kunstenaars was.
• Die renjaer, Robert Wolk, een van Suid-Afrika se suksesvolste motorsportdeelnemers, met ʼn loopbaan wat oor byna drie dekades gestrek het. Hy was die SA Formula Volkswagen-kampioen in 2013, Formula 1600-kampioen in 2015, agtereenvolgende SA GTC-kampioen in 2021 en 2022 en die SA Touring Cars-kampioen in 2024.
2. Gelukwense
Die Kabinet dra hul gelukwense oor aan:
• Die Springbokke, wat die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks teen die All Blacks gewen het, asook Siya Kolisi, wat met 56 wentoetse die suksesvolste Springbokkaptein ooit geword het..
• Mamelodi Sundowns, wat die FIFA African-Asian Pacific-beker gewen het na ʼn oorwinning van 2 – 1 teen die Asiatiese kampioene, Al-Ahli.
• Mnr. Bayanda Walaza, wat die mans 100m met ʼn rekordtyd van 9.91 sekondes by die Rovereto internasionale byeenkoms gewen het. Hy was ook die wenner in die 100m-wedren by die Serbia Athletics-byeenkoms in Smederevo, Serbia.
• Mnr. Sinesipho Dambile, wat tweede geëindig het in die mans-200m-finaal by die Diamond League-finaal in Brussel.
• Mnr. Xola Magwaza, die eerste Suid-Afrikaner om ʼn heelaltitel in natuurlike liggaamsbou te verower by die internasionale Natural Bodybuilding Association/Professional Natural Bodybuilding Association se Natural Universe-heelalkompetisie vir natuurlike liggaamsbou in Singapoer.
• Kyalami Grand Prix-renbaan, wat gekies is om die gesogte Michelin 24H-reeks van 8 tot 10 Januarie 2027 aan te bied. Dit is ʼn geskiedkundige mylpaal aangesien die kampioenskap sy debuut op Afrika-bodem maak. Die geleentheid sal ʼn uitmergelende 24-uur-uithourit op die land se ikoniese renbaan in Midrand insluit.
• Die Suid-Afrikaanse vrouenetbalspan, die SPAR Proteas, vir hul tweede plek in die finaal en dus naaswenners by die 2026 Afrika-netbalbeker in Kenia.
• Die Suid-Afrikaanse mansnetbalspan, die Protea Warriors, wat hul kontinentale kroon behou het by die 2026 Afrika-netbalbeker wat in Kenia plaasgevind het.
• Die Proteas, wat Australia in die tweede internasionale eendagwedstryd by die Wanderers-stadion in Johannesburg gewen het om die driewedstrydreeks deur ʼn voorsprong van 2 – 0 te beklink.
• Die Suid-Afrikaanse bokser, Ricardo Malajika, wat die WBC Supervlieggewig Wêreldkampioenskap in Tokio, Japan gewen het.
• Suid-Afrika se span, wat ‘’n silwermedalje in lugvaaronderhoud gewen het by die Wêreldvaardigheidskompetisiie 2026 in Sjanghai, Volksrepubliek China. Die lamd is verteenwoordig deur 29 stdente wat in 27 vaardighede meegeding het teen nagenoeg 1 400 deelnemers uit meer as 90 lande.
• Suid-Afrika se nasionale onder-20 sokkerspan, Amajita, wat die COSAFA onder-20-kampioenskap gewen het en terselfdertyd kwalifiseer vir die Confederation of African Football (CAF) se onder-20 Afrika-nasiebeker.
• Bafana Bafana, die nasionale sokkerspan, met hul 2 – 1 sege teen Ekwatoriaal-Guinee.
Namens die Kabinet uitgereik deur: die Minister in die Presidensie, Me. Khumbudzo Ntshavheni
Navrae: Regeringskommunikasie- en Inligtingstelsel (GCIS)
Kontak: Me. Nomonde Mnukwa, waarnemende direkteur-generaal
Selfoon: 083 653 7485
#GovZAUpdates

