Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag, 23 Oktober en Woensdag 6 November 2024

A.    KWESSIES IN DIE OMGEWING

1.    Veiligheid en sekuriteit
1.1.    Voedselgedraagde siektes en sterftes 
1.1.1.    Die Kabinet is ingelig oor die voedselgedraagde siektes en sterftes wat in verskeie dele van die land vermeld is, wat gelei het tot die tragiese sterftes van kinders en verskeie hospitaalopnames in Gauteng, Mpumalanga, die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Vrystaat.
1.1.2.    Die President sal die nasie toespreek oor die ingrypingsmaatreëls wat die staat tans in plek stel om die situasie te hanteer.
1.1.3.    Intussen het die departement van gesondheid die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (NICD) opdrag gegee om die bron van die vergiftiging van voedsel na te spoor en te ondersoek, en aanbevelings te maak. 
1.1.4.    Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele sake, gesteun deur die Department van Kleinsakeontwikkeling en die Interministeriële Komitee vir Rampbestuur, het die Standaard konsep-verordeninge vir township-ekonomieë in die Staatskoerant gepubliseer. Hierdie Standaard konsep-verordeninge is gerig op die mobilisering van munisipaliteite gebaseer op ʼn gedeelde agenda en reaksies gemik op inklusiewe plaaslike ekonomieë en die bestryding van onwettige handel in townships.
1.1.5.    Die Kabinet spreek hul medelye uit teenoor die familie, vriende en skoolmaats van die kinders wat hul lewens weens voedselgedraagde siektes verloor het en spreek ook hul goeie wense uit vir die genesing van die kinders wat steeds besig is om te herstel.

1.2.    Stryd teen misdaad 
1.2.1.    Die Kabinet veroordeel die sinnelose moord van Nkosikazi Thenjiwe Eunice “Nogcinile” Mtirara by die Mqhekezweni Great Place in die Oos-Kaap en spreek hul medelye uit teenoor die AmaDlomo-koninlike stam en die hele AbaThembu-koninkryk. Wetstoepassingsagentskappe sal met die oortreders afreken.
1.2.2.    Die Kabinet veroordeel ook die verkragting van vyf leerders, wie ook onder bedreiging van ʼn vuurwapen beroof is, in die Mqhekezweni-area.
1.2.3.    Die NATJOINTS is spesifiek opdrag gegee op spoedig die stygende misdaadvlakke aan te spreek, insluitend die moorde in die Oos-Kaap, en te verseker dat alle oortreders en meesterbreine mee afgereken word. 
1.2.4.    Die Kabinet spreek hul prys uit teenoor die intelligensie-gedrewe operasie, gelei deur NATJOINTS (die stryd teen onwettige mynaktiwiteite en Operasie Vala-mgodi), wat gelei het tot die inhegtenisname van meer as 1 000 onwettige myners by verlate mynskagte in Orkney in die Noordwes sedert die naweek van 2 November 2024.
1.2.5.    Die Kabinet verwelkom die volgehoue pogings om die kapasiteit van die polisie te versterk met die ontplooïng van 2 800 nuutopgeleide polisiebeamptes in verskeie polisiestasies regoor die land. ʼn Bykomende 2 000 polisiebeamptes, wat tans in opleiding is, sal in Desember gradueer en gereed wees vir ontplooïng tydens die Feestyd.
1.2.6.    Die Kabinet doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om die polisie by te staan in die stryd teen misdaad deur misdaadgevalle aan te meld by 0800 10111 en die toegewyde nasionale afpersingshulplyn by 080 091 1011 vir misdade verwant aan afpersing.

2.    Internasionale sake
2.1.    Aftelling: Suid-Afrika se presidensie van die Groep van 20 (G20)
2.1.1.    Die aftelling tot die aanvang van Suid-Afrika se presidensie van die G20 vanaf 1 Desember 2024 tot 30 November 2025 onder die tema: “Solidariteit, Gelykheid en Volhoubaarheid”,  het begin.
2.1.2.    Die leiersberaad van die G20-leiers sal in Johannesburg, Gauteng plaasvind en die IMK werk saam met ander provinsies om gasheer te speel vir die ministeriële en werkgroepsvergaderings. Ons sal die Suid-Afrika G20-program op 1 Desember 2024 van stapel stuur. 
2.1.3.    Suid-Afrika sal deelneem aan die opkomende G20- beraad op 18 en 19 November 2024 te Rio de Janeiro, Brasilië.

2.2.    Internasionale Strafhof (ISH)
2.2.1.    Die Kabinet verwelkom die indiening van die versoekskrif aan die ISH, wat toon dat die regering van Israel die volksmoord-konvensie oortree het met doelbewuste oortredings en die moord van Palestyne wat in Gaza woon. 
2.2.2.    Die versoekskrif - ʼn dokument van meer as 1 300 bladsye wat gesteun word deur bewysstukke en aanhangsels - bevat bewyse van Israel se dade van volksmoord en die land se versuim om aanhitsing tot volksmoord te verhoed en diegene skuldig aan die aanhitsing en pleeg van dade van volksmoord, te straf. 
2.2.3.    Die indiening van die versoekskrif neem plaas tydens ʼn tydperk met verskerpte dodelike aanvalle op burgers in Gaza en ʼn vaste voorneme om soortgelyke verwoesting in Lebanon te saai. Die versoekskrif herinner die wêreldgemeenskap van die gruweldade wat teen die mense van Palestina gepleeg is en die behoefte aan solidariteit om die katastrofe te beëindig. Die indiening volg ook in die voetspore van die Verenigde Nasies se resolusie, wat die dade van die Israeliese regering teenoor die mense van Palestina, veroordeel.

2.3.    Bevordering van globale demokrasie 
2.3.1.    Die Kabinet het hul gelukwense gerig aan die regerings en die mense van die Republiek van Botswana, Mosambiek en die Verenigde State (VSA) na aanleiding van suksesvolle afsluiting van hul onlangse verkiesings. 
2.3.2.    Die Kabinet spreek hul prys uit teenoor die “Umbrella for Democratic Change”- koalisies in Botswana vir hul suksesvolle werk onder leiding van die aangewese president, Duma Boko, en verwelkom die vestiging van oorgangsbeplanning tussen die uitgaande administrasie en die inkomende administrasie van die aangewese president.
2.3.3.    Die Kabinet wens die aangewese president Daniel Chapo en sy party, Frelimo, geluk met hul oorwinning in die land se historiese verkiesing wat plaasgevind het 32 jaar na die ondertekening van die algemene vredesooreenkoms, wat burgeroorlog tot ʼn einde gebring het en multi-party demokrasie in Mosambiek ingestel het. Die voortdurende geweld, na aanleiding van die verkiesing, is rede tot kommer en alle ontevrede partye moet eerder van bestaande regsmiddele gebruik maak om hul griewe oor die verkiesing op te los en voort te bou op die grondslag vir demokrasie wat neergelê is in die Maputo-ooreenkoms vir vrede en nasionale versoening. 
2.3.4.    Die Kabinet het ook aangewese president Donald Trump gelukgewens na aanleiding van die VSA se verkiesings wat op 5 November 2024 plaasgevind het. Suid-Afrika sien daarna uit om nou saam met die aangewese president te werk oor die verloop van die volgende 12 maande, met president Cyril Ramaphosa se presidensie van die G20 wat op 1 Desember 2024 in werking tree.

3    Handelsaangeleenthede 
3.1    Uitkomste van die staatsbesoek en deelname aan die forum vir Sjina-Afrika-samewerking (FOCAC)
3.1.1    Die Kabinet is ingelig oor die uitkomste van die onlangse suksesvolle staatsbesoek aan die Volksrepubliek Sjina en die FOCAC- vergadering vanaf 2 tot 6 September 2024 te Beijing, Sjina. Die Kabinet neem kennis van die volgende sleuteluitkomste vir Suid-Afrika:
3.1.2    ʼn Ooreenkoms om handelstrukture te verander na meer waarde-toegevoegde produkte, veral ʼn ooreenkoms om ʼn lys van 100 toegevoegde-waarde produkte vanuit Suid-Afrika wat Sjina sal oorweeg om in te voer, uit te ruil. 
3.1.3    Daarbenewens het Suid-Afrika die samewerking van Sjina rakende drie waardekettings verwant aan dekarbonisering, digitalisering, vervoer en logistieke verseker. Hierdie samewerking sal die weg uitlê om belegging in elektriese voertuie, batteryvervaardiging, hernubare energie-storing asook in geïdentifiseerde spesiale ekonomiese sones en nywerheidsontwikkelingsones te bevorder. 
3.1.4    Sjinese beleggers van sleutelbelang, vanuit beide Shenzhen en Beijing, het hul belangstelling uitgespreek om óf hul beleggings uit te brei, óf in sogenaamde “groenveld”-beleggings in Suid-Afrika. 
3.1.5    Tydens die sakeforum is ses memorandums van verstandhouding onderteken, gemik op groter samewerking tussen Sjinese entiteite en finansiële ontwikkelingsinstansies met betrekking tot die bevordering van nywerheidsontwikkeling in Suid-Afrika, tegnologiese samewerking om die dekarbonisering van sleutelsektore in Suid-Afrika te bespoedig, en beleggings in die hernubare energiesektor. 
3.1.6    Die ooreenkomste is op beide staatsektor- en private sektorvlak onderteken en sal bydra tot die versnelling van beleggings ter bevordering van groen- en laekoolstoftransformasie en innovering in nywerheidsaktiwiteite, asook die beleggings in spesiale ekonomiese sones en nywerheidsparke te lok.

4    Ekonomie
4.1    Mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring (MTBBV)
4.1.1    Die Kabinet verwelkom die 2024 MTBBV, wat uitvoering gee aan die regering van nasionale eenheid se verbintenisse om spoedige, inklusiewe en volhoubare ekonomiese groei na te streef en ʼn meer geregtige en billike samelewing te skep deur armoede, ongelykheid en werkloosheid aan te spreek.
4.1.2    Die stabiliteit in openbare finansies, danksy die verstandige bestuur van staatsbesteding en -skuld, beteken dat ons land terselfdetyd ekonomiese groei kan stimuleer en steeds verseker dat die mees weerloses in die samelewing gesteun word deur maatskaplike hulpprogramme.
4.1.3    Die Kabinet ondersteun die vier pilare om die ekonomie op te bou deur middel van makro-ekonomiese stabiliteit, die implementering van strukturele hervorming, die bou van staatskapasiteit en ʼn toename in openbare infrastruktuurbelegging. Die land is ook op dreef om verwyder te word van die Financial Action Task Force (FATF) se gryslys, siende dat 16 van die 22 aksie-items reeds aangespreek is ter afwagting van die FATF se evaluering en heroorweging in 2025. 
4.1.4    Die MTBBV is deel van ons nasie se oop en verantwoordbare begrotingsiklus wat voorsiening maak vir die medium- tot langtermyn finansiële beplanning van ons land se finansies. Dit stel ook Suid-Afrikaners in staat om staatsdepartemente en -entiteite verantwoordbaar te hou vir hul besteding en, met betrekking tot oorsese beleggers, staan die MTBBV borg vir ons land se ekonomiese rigting.

4.2    Toerisme
4.2.1    Die afskop van die land se somertoerisme-veldtog moedig Suid-Afrikaners en besoekers van regoor die wêreld aan om die land se versteekte toerisme-juwele regoor ons nege provinsies te verken.
4.2.2    Die “Gimme Summer – Sho’t Left”-veldtog sal die lig skyn op plaaslike toerisme-aanbiedinge om meer Suid-Afrikaners in staat te stel om ons land se versteekte toerisme-besienswaardighede te verken, ervaar en geniet. 
4.2.3    Ter versterking van die toerismesektor verwelkom die Kabinet die publikasie van die Trusted Tour Operator Scheme (TTOS) in die Staatskoerant. Hierdie skema sal die visum-aansoekproses vir groot groepe toeriste vanuit Sjina en Indië meer vaartbelyn maak.
4.2.4    Die TTOS-inisiatief spreek kapasiteitsbeperkinge by ons oorsese ambassades en konsulate aan en is daarop gemik om meer toeriste vanuit Sjina en Indië te lok. Hierdie lande is veranwoordelik vir onderskeidelik 1.8% en 3.9% van alle internasionale besoekers aan Suid-Afrika.
4.2.5    Toeragentskappe wat belang stel kan toegang tot die stelsel verkry by https://touroperator.dha.gov.za:8443 of toegang tot die portaal verkry by wyse van die TTOS-banier op die webwerf www.dha.gov.za.
4.2.6    Daarbenewens is die land se eVisa-stelsel nou beskikbaar in 34 lande om toeriste van daardie lande in staat te stel om aanlyn aansoek te doen vir ʼn Suid-Afrikaanse visum, sonder om ʼn ambassade of konsulaat te besoek.

5    Wateraangeleenthede
5.1    Tydelike maatreëls om drinkwater aan Hammanskraal te verskaf
5.1.1    Die Kabinet is ingelig en beskou vordering wat gemaak is deur die Departement van Water en Sanitasie om drinkwater aan die Tshwane-metro te verskaf om die stad in staat te stel om drinkwater aan die mense van Hammanskraal te verskaf, hetsy op ʼn tydelike basis. 
5.1.2    Die voortdurende verskaffingsprobleme in Hammanskraal en omliggende omgewings het ʼn negatiewe invloed op die inwoners se lewens, insluitend belemmerings in die verskaf van gesondheidsdienste by plaaslike fasiliteite soos die Jubilee-hospitaal.
5.1.3    Die Tshwane-metro is tans besig om ʼn projek van R278 miljoen te implementeer om die voorheen-wanfunksionele Rooiwal-afvalwaterbehandelingswerke (AWBW) te herstel. 
5.1.4    Na verwagting sal die vergroting van die kapasiteit van die Rooiwal-AWBW nagenoeg R2 miljard beloop. Die Kabinet is ingelig dat die Tshwane-metro die projek sal moet befonds deur hul eie inkomste, deur geld te leen of om geld te gebruik afkomstig vanuit die stad se toelae vir die ontwikkeling van stedelike nedersettings vanaf die Departement van Menslike Nedersettings. 
5.1.5    In 2023 het die ministerie van water en sanitasie Magalies Water aangesê om dringend in te gryp in terme van die Wet op Waterdienste, 1997 (Wet 108 van 1997) en om ʼn nuwe waterbehandelingsaanleg te ontwerp en installeer by die waterraad se Klipdrift-waterbehandelingswerke naby Hammanskraal. Dit sal help om die uitdagings rondom waterverskaffing aan te spreek en langtermynoplossings te verskaf. Die bykomende waterbehandelingsaanleg sal water aan sekere reservoirs in die stad se waterverspreidingstelsel verskaf om die toevoer van skoon drinkwater aan Hammanskraal te verhoog.
5.1.6    Die staat doen ʼn beroep op die inwoners van Hammanskraal en omliggende omgewings om geduldig te bly terwyl hierdie maatreëls onderweg is. Die eerste fase sal na verwagting teen 15 November voltooi wees. Dit sal die Tshwane-metro in staat stel om drinkbare water aan sommige dele van Hammanskraal te lewer.

5.2    Munisipale skuld aan waterrade
5.2.1    Die Kabinet is op hoogte gebring oor die voordurende uitstaande munisipale skuld aan waterrade, wat aanhou styg en nie volhoubaar is nie, met ʼn totaal van R23 miljard wat teen 31 Augustus 2024 verskuldig was. Hierdie skuld is ʼn bedreiging vir die finansiële lewensvatbaarheid van die waterrade en die algehele watersektor. Water en sanitasie minister, Pemmy Majodina, het onlangs met verskeie van die munisipaliteite wat geraak word, ontmoet en verbintenisse van meeste van hierdie nie-betalende munispaliteite verkry om hul skuld te delg. 
5.2.2    Die Kabinet het voorheen die stigting van ʼn interministeriële komitee (IMK) om munisipale omkeer aan te spreek, goedgekeur. Die IMK sal ook maatreëls om munisipale verheffing van hul skuld aan waterrade aan te spreek, prioritiseer – veral dié wat dreigende bankrotskap in die oë staar.

5.3    Waterbeperkings in Gauteng
5.3.1    Die Kabinet is ingelig oor die vlak 1-waterbeperkings wat ingestel is in Gauteng weens die voortdurende wateraanvraag danksy hoë verbruik wat deur bevolkingsgroei, onwettige verbindings, waterlekkasie en misbruik van water veroorsaak word. 
5.3.2    Die gemiddelde waterverbruik in Gauteng is 279 liter per kapita per dag, vergeleke met die internasionale gemiddeld van 173 liter per kapita per dag. Alhoewel die metropolitaanse munisipaliteite in Gauteng tans onderhewig is aan vlak 1-waterbeperkings, word bittermin deur die munisipaliteite gedoen om dit af te dwing.
5.3.3    Die minister van water en sanitasie en die Gautengse premier het die munisipaliteite versoek om vlak 2-waterbeperkings in te stel, met gepaardgaande boetes indien verbruikers nie die waterbeperkings gehoorsaam nie.

5.4    Vestiging van die nasionale waterkrisiskomitee
5.4.1    Die Kabinet het die besluit gesteun deur die President om die werk wat tans deur die Adjunkpresident gelei word, te ondersteun deur die kwessies rondom water te verhef met die stigting van ʼn nasionale waterkrisiskomitee. Hierdie komitee sal ʼn wateraksieplan ontwikkel en deskundiges byeenbring om in te gryp in die landswye uitdagings rakende water in die plaaslike regeringsmilieu.

6    Maatskaplike aangeleenthede
6.1    Ondertekening van Wysigingswetsontwerp op Egskeiding
6.1.1    Die Kabinet verwelkom die historiese toekenning van 33 Moeslimhuweliksertifikate deur die departement van binnelandse sake na aanleiding van die ondertekening van die Wysigingswetsontwerp deur President Cyril Ramaphosa in Mei- maand vanjaar. Hierdie wetsontwerp wysig die Wet op Egskeiding, 1979 (Wet 70 van 1979) om Moeslimhuwelike te erken en die belange van die Moeslimvroue en -kinders te beskerm indien sulke huwelike ontbind word. 
6.1.2    Hierdie lank-agterstallige veranderinge dien as ʼn teken van ons land te verbintenis tot die beskerming van Moieslimvroue en -kinders se reg tot gelykheid, waardigheid, toegang tot geregtigheid asook die beste belange van die minderjarige kind, soos vasgelê in die Grondwet van Suid-Afrika van 1996. 
6.1.3    Dit dien ook om groter maatskaplike samehorigheid, nasiebou en ʼn gedeelde nasionale identiteit te bou, asook die eerbetoging van verskeie kulturele en geloofstradisies.

B.    KABINETSBESLUITE

1.    Besluite van die Kabinetvergadering op Woensdag, 23 Oktober 2024

1.1.    2026 plaaslike regeringsverkiesings 
1.1.1.    Die Kabinet het die skep van ʼn interministeriële komitee (IMK), wat sal toesig hou oor die voorbereidings vir die 2026/27 plaaslike regeringsverkiesings, goedgekeur. 
1.1.2.    Met die vorige plaaslike regeringsverkiesings wat op 1 November 2021 plaasgevind het, sal die volgende munisipale verkiesings tussen 2 November 2026 en 1 Februarie 2027 plaasvind. Die IMK sal byeengeroep word deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake en sal bestaan uit verskeie staatsdepartemente wat ʼn sleutelrol speel om ʼn suksesvolle verkiesing te verseker. 
1.1.3.    Die Kabinet het ook die formules vir die bepaling van die aantal raadslede in terme van artikel 20(1) van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998 (Wet 117 van 1998), bepaal en goedgekeur.
1.1.4.    Die 2026 munisipale verkiesings sal die sesde sulke verkiesings wees sedert die koms van demokrasie in 1994. Die IMK sal saam met die OVK werk om te verseker dat die aanloop tot die verkiesings glad en vreedsaam verloop.

2.    Wetsontwerpe

2.1.    Wetsontwerp op die Raamwerk vir Interregeringsverhoudinge, 2024
2.1.1.    Die Kabinet het die publikasie van die Wetsontwerp op die Raamwerk vir Interregeringsverhoudinge, 2024 vir openbare kommentaar goedgekeur. Die wetsontwerp is gemik op wysigings aan die Wet op die Raamwerk vir Interregeringsverhoudinge, 2005 (Wet 13 van 2005), om te verseker dat werk in die verskillende regeringsfere op ʼn gekoördineerde wyse plaasvind.
2.1.2.    Die wysigings sal sommige artikels van die wet wat verouderd is, regstel en verseker dat die drie regeringsfere saamwerk om dienslewering te verbeter.
2.1.3.    Hoofstuk 3 van die Grondwet vereis dat al drie regeringsfere saamwerk in wedersydse vertroue en goeie trou deur onder meer vriendskaplike verhoudings te vestig en mekaar te help en ondersteun. In hierdie verband sal die Wetsontwerp op die Raamwerk vir Interregeringsverhoudinge, 2024 die koördinering van die implementering van staatsbeleide en wetgewing fasiliteer, insluitend die versekering van samehangende regering, die doeltreffende verskaffing van dienste en die monitor en implementering van beleide. Hierdie veranderinge aan die wetgewing sal ook die streeksontwikkelingsmodel steun, wat gemik is op die verbetering en verskerping van interregerings-verhoudingstelsels.

3.    Besluite van die Kabinetvergadering op Woensdag, 6 November 2024

3.1.    16 Dae van Aktivisme teen Geslagsgebaseerde Geweld-veldtog
3.1.1.    Die Kabinet het die konsep-benadering tot die 2024 16 Dae van Aktivisme teen Geslagsgebaseerde Geweld goedgekeur, met die tema: “30 Jaar van die Bevordering van Gesamentlike Aksie om Geweld teen Vroue en Kinders te Beëindig”, wat die belangrikheid van ʼn samelewing-as-geheel benadering tot die stryd teen geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV) asook die belangrikheid van multisektorale verantwoordbaarheid beklemtoon.
3.1.2.    Vanjaar vier ons die 26ste herdenking van Suid-Afrika se deelname aan die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders-veldtog, wat op 25 November 2024 by die Royal Bafokeng-stadion in Noordwes geloods sal word.
3.1.3.    Dit steun die globale veldtog wat van 25 November (die Internasionale Dag vir die Uitwissing van Geweld teen Vroue) tot 10 Desember (Internasionale Menseregtedag) duur. Vanjaar se veldtog spreek weereens die grondoorsake van GGGV aan terwyl dit ook positiewe manlikheid en geslagsgelykheid bevorder, tesame met die skep van ekonomiese geleenthede vir vroue en kinders. 
3.1.4.    Alhoewel meer as 1 000 GGGV- oortreders tussen 1 April en 21 September 2024 vervolg en skuldig bevind is, het ons as nasie steeds baie om te verrig om hierdie plaag in die samelewing uit te wis.

3.2.    Nasionale Gestremdheidsregte-bewustheidsmaand 2024
3.2.1.    Die Kabinet het die konsep en tema vir die Nasionale Gestremdheidsregte-bewustheidsmaand 2024 en die Nasionale Dag vir Persone met Gestremdhede, wat plaasvind van 3 November tot 3 Desember, goedgekeur. Vanjaar se tema vier 30 jaar van demokrasie en die skep van ʼn inklusiewe samelewing vir persone met gestremdhede – oftewel “Celebrating 30 Years of Democracy; Creating a Disability Inclusive Society”.
3.2.2.    Die tema beklemtoon die belangrikheid daarvan om bewustheid te skep oor die uitdagings waarvoor mense met gestremdhede te staan kom, die bevordering en beskerming van hul waardigheid en die behoud van hul regte, soos vasgelê in die Grondwet.
3.2.3.    Die uitwissing van die bestaande hindernisse wat mense met gestremdhede beïnvloed sluit in om vindingryke, volhoubare en veilige omgewings te verseker en ook te besef dat nie alle gestremdhede sigbaar is nie. Die maandlange aktiwiteite sal bewustheid skep en die vordering wat die land sover gemaak het om die regte van mense met gestremdhede te beskerm, ten toon te stel.
3.2.4.    Die regering doen ʼn beroep op almal in die samelewing om saam te werk om ʼn volhoubare en gestremdheids-inklusiewe toekoms te bou.

3.3.    Beleid vir die voorkoming van en behandeling vir middelgebruikversteurings
3.3.1.    Die Kabinet het die beleid vir die voorkoming van en behandeling vir middelgebruikversteurings goedgekeur. Die beleid is daarop gemik om ʼn breedvoerige reaksieraamwerk te verskaf om die uitdagings verbonde aan alkohol- en middelmisbruik wat ons gemeenskappe in die oë staar, aan te spreek. 
3.3.2.    Die beleid vul bestaande ingrypings soos die nasionale dwelmmeesterplan, wat tussen 2013 en 2017 geïmplementeer is, aan en reageer direk op gapings soos geïdentifiseer in die Wet op die Voorkoming van en Behandeling vir Middelmisbruik, 2008 (Wet 70 van 2008).
3.3.3.    Die beleid behels gemeenskapsgebaseerde voorkomingsprogramme wat die groot uitdagings van middelmisbruik doeltreffend aanspreek. Dit steun op drie pilare: Vermindering van aanvraag – daarop gemik om die aanvang van middelmisbruik of middelafhanklikheid te voorkom; Vermindering van verskaffing – daarop gemik om toeganklikheid van middele te beperk; en Vermindering van skade – wat insluit die behandeling van middelgebruikversteurings en verwante aktiwiteite en gedrag. Die fokus is op beide die beperking van die skade aan individue en aan gemeenskappe weens middelmisbruik. Dit kan bereik word deur voorkoming, vroeë ingryping, behandeling en ander verwante maatreëls, nasorg en herintegrasiedienste. 
3.3.4.    Die beleid is beskikbaar op die webwerf van die departement van maatskaplike ontwikkeling by www.dsd.gov.za.

C.    OPDATERING AAN DIE KABINET

1.    Die stand van mynwese in Suid-Afrika 
1.1    Die Kabinet is ingelig oor die verslag oor die stand van mynwese, wat gebaseer is op ʼn studie deur Mintek. 
1.2    Die verslag verskaf volledige en op-datum inligting oor die nuutste ontwikkelinge in globale kommoditeitsmarkte, mineraalproduksieneigings in Suid-Afrika, asook die mynbedryf se bydraes tot die bruto binnelandse produk, beleggings en werkskepping. 
1.3    Die verslag dien as ʼn kritiese hulpbron om belemmerings tot die ontwikkeling van die mynsektor te identifiseer en is ʼn sleutelbydraer tot die groei van die Suid-Afrikaanse ekonomie. 
1.4    Die verslag oor die stand van mynwese sal die land se mynsektor in staat stel om hulself te posisioneer en voordeel te trek uit die oplewing in kommoditeitsaanvraag deur inligting oor verskeie kommoditeite te verskaf.

2.    Verslag oor Fase IV van die presidensiële jeugindiensnemingsinisiatief in die basiese onderwyssektor genaamd die basiese onderwysindiensnemingsinisiatief (BEEI) 
2.1    Die Kabinet is ingelig oor die prestasies van die BEEI, die grootskaalse openbare indiensnemingsingrypingaksie gemik op werklose jeugdiges tussen die ouderdomme van 18 en 35 jaar. Die ingryping spreek ook hoë vlakke van jeugwerkloosheid in Suid-Afrika aan.
2.2    Sedert hul onstaan in Desember 2020 het die BEEI ongeveer 1.1 miljoen werksgeleenthede vir jeugdiges tussen 18 en 35 geskep. Die program het ook die land gehelp om die vernietigende ekonomiese uitdagings wat deur die COVID-19-pandemie veroorsaak is, te konfronteer as deel van die regering se breë ekonomiese herstelagenda.
2.3    Die BEEI het 240 342 jeugdiges in skole geplaas as onderwysassistente en algemene skoolassistente. Die assistente verdien ʼn maandelikse toelae van meer as R4 000. Die Kabinet het ingestem tot ʼn voorstel deur die Departement van Basiese Onderwys om die basiese onderwysjeugindiensnemingsprogram te verleng tot die 2024/25 finansiële jaar.

D.    AANSTELLINGS

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike klaring.

1.    Mnr. Neville Matjie as die HUB van Brand South Africa.
2.    Aanstelling van Me. Khetha-okuhle Vincentia Rantao as ʼn nie-uitvoerende direkteur van die Landbank-raad. 
3.    Aanstelling van die bestuursliggaam van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie
(a)    Dr. September Cornelia Carol (onafhanklike voorsitter)
(b)    Me. Riefdah Ajam (georganiseerde arbeid) 
(c)    Mnr. Solly Phetoe
(d)    Mnr. Wiseman Dinwa;
(e)    Mnr. Sifiso Lukhele (georganiseerde sakelui);
(f)    Mnr. Kaizer Moyane;
(g)    Me. Siobhan Leyden;
(h)    Mnr. Unathi Ramabulana (staatsverteenwoordiger);
(i)    Mnr. Ntsoaki Mamashela; en 
(j)    Mnr. Lucky Charles Mohalaba

E.    KOMENDE GEBEURTENISSE

1.    16 Dae van Aktivisme-veldtog 
2.1    Die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders-veldtog sal op 25 November 2024 geloods word by die Royal Bafokeng-stadion in Noordwes met die tema: “30 Jaar van die Bevordering van Gesamentlike Aksie om Geweld teen Vroue en Kinders te Beëindig.”

2.    Pan-Afrika-parlement (PAP)
2.1    Die vierde gewone sessie van die sesde parlementsitting van die PAP, die kontinentale wetgewer vir verteenwoordigers van alle Akrika-state, neem plaas van 4 tot 15 November 2024. 
2.2    Tydens hierdie sessies sal volledige verslae van verskeie komitees ter tafel gelê word en aanbevelings vir geharmoniseerde beleide en wetgewing vir die kontinent sal gemaak word aan die spitsberaad vir Afrika-staats- en regeringshoofde.
2.3    Die Regering se Kommunikasie- en Inligtingstelsel (GCIS) sal die implementering van kommunikasie- en klusterplanne monitor en monitorverslae sal maandeliks aan die Kabinet beskikbaar gemaak word as deel van die verslag oor huidige sake.

F.    BOODSKAPPE
1.    Gelukwensings

Die Kabinet het hul gelukwense en welmenendheid gerig aan:

•    Ghana se minister van buitelandse sake, Shirley Ayorkor Botchwey met haar onlangse aanstelling as die volgende sekretaris-generaal van die Statebond. Me. Botchwey sal haar vierjaar-termyn as leier van die 56-nasie vereniging op 1 April 2025 begin.
•    Die groep van vyf Suid-Afrikaanse studente wat hul meestersgrade voltooi het aan die World Maritime universiteit in Swede. Hul studies is befonds deur die vervoer onderwys- en opleidingsowerheid, wat een van die sektor onderwys- en opleidingsowerhede is met ʼn mandaat om vaardigheidsontwikkeling en -opleiding te fasiliteer.
•    Banyana Banyana, die Suid-Afrikaanse nasional vrouesokkerspan, wat die eindstryd van die COSAFA-vrouekampioenskappe gehaal het. Ons nasionale span het met strafpunte teen Zambië verloor.
•    Die Suid-Afrikaanse swemmers Chad Le Clos, wie goud behaal het in die mans 200m vlinderslag, en Pieter Coetzee, wie goud behaal het in beide die 100m en 200m rugslag asook silwer in die mans 50m rugslag by die 2024 World Aquatics-swemwêreldbeker in Singapoer.

2.    Medelye

Die Kabinet spreek hul medelye uit met die vriende en familie van:

•    Prof. Noel Chabani Manganyi (84), ʼn vernaamde akademikus, geleerde, sielkundige en staatsamptenaar.

Navrae: Me. Nomonde Mnukwa – Waarnemende regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485
Datum: Woensdag, 13 November 2024
www.gcis.gov.za; www.gov.za

 

Share this page

Similar categories to explore