Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag 15 Oktober 2025

A.    Kwessies in die omgewing

1.    SPORT
1.1    Suid-Afrika kwalifiseer vir die 2026 FIFA-wêreldbekertoernooi
1.1.1    Die Kabinet wens die senior nasionale sokkerspan, Bafana Bafana, geluk met hul kwalifisering vir die 2026 FIFA-wêreldbekertoernooi, ʼn prestasie wat laas in 2002 behaal is (by wyse van kwalifiseringswedstryde) en in 2010 (danksy gasheernasievoorregte, toe Suid-Afrika die eerste sokkerwêreldbekertoernooi op die Afrika-vasteland aangebied het).
1.1.2    Bafana Bafana se pad na kwalifisering was ʼn prestasie in die ware Suid-Afrikaanse gees van veerkragtigheid, durf en suiwere briljantheid. Geen DNA, slegs RSA.

2.    EKONOMIE
2.1    Eskom se ommekeer met ’n wins van R16 miljard 
2.1.1    Die Kabinet verwelkom Eskom se ommekeer na winsgewendheid nadat die staatsentiteit ʼn wins van R16 miljard ná belasting  vir die finansiële jaar van einde Maart 2025 behaal het, wat ʼn sterk stelling oor Eskom se ommekeer is. 
2.1.2    Eskom se ommekeer is ’n beduidende teken van Operasie Vulindlela se strukturele hervormingsprogramme en die ferm leierskap van Eskom se uitvoerende raad, gelei deur die voorsitter, dr Mteto Nyathi; die bevoegde uitvoerende bestuurspan, gelei deur groep-HUB, mnr Dan Marokane; en die politiese leierskapsoorsigrol van die Minister van Elektrisiteit en Energie, dr. Kgosientsho Ramokgopa.
2.1.3    Hierdie mylpaal is behaal op ʼn tydstip toe die land ’n lang tydperk sonder beurtkrag aangeteken het, naamlik meer as 150 agtereenvolgende dae, wat ʼn duidelike aanduiding is dat Suid-Afrika se elektrisiteitsvoorraad besig is om te stabiliseer. Eskom prioritiseer nou die uitskakeling van lasvermindering oor die volgende 12 tot 18 maande. Lasvermindering word tans geïmplementeer om kritiese infrastruktuur te beveilig in gebiede wat deur groot energieverliese en onwettige aansluitings geraak word.
2.1.4    Die Kabinet spoor gemeenskappe aan om onwettige aansluitings, diefstal en vandalisme aan te meld deur Eskom se tolvrye misdaadlyn by 0800 112 722 te skakel of by hul naaste polisiestasie.

2.2    N1 Noord: Makhado (Limpopo) grensoorgang-busongeluk 
2.2.1    Die Kabinet dra sy medelye oor aan die regerings en die mense van Zimbabwe en Malawi met die verlies van 43 van hul burgers se lewens in ʼn busongeluk op die N1 Noord in Makhado (Limpopo) op Sondag 12 Oktober 2025. Die Kabinet wens ook die 48 mense wat in die ongeluk beseer is en in hospitale in die Vhembe-distrik van Limpopo, opgeneem is,  ʼn spoedige herstel toe.
2.2.2    Die Kabinet neem met hartseer kennis dat die ongeluk voorkom sou kon word indien padverkeersreëls nagekom en afgedwing is, en doen voorts ʼn beroep op alle padgebruikers, veral gebruikers van openbare vervoer, om die wet te gehoorsaam deur slegs van padwaardige voertuie gebruik te maak, oorlading van beide passassiers en bagasie te vermy, en veilig te bestuur. 
2.2.3    Hierbenewens spreek die Kabinet ook sy teleurstelling en onrus uit oor die emmers vol antiretrovirale (ARV) medikasie en ander voorskrifmedikasie wat in die wrak van die bus gevind is, met geen dokumentasie vir ʼn mediese vrag nie. ʼn Volskaalse ondersoek is onderweg en wetstoepassingsagentskappe benader ook hierdie ongeluk as ʼn potensiële saak van smokkelhandel van farmaseutiese produkte. Die diefstal van voorskrifmedikasie, veral ARV-middels, ondermyn ook die stryd om ʼn MIV-vrye streek te bewerkstelllig. 
2.2.4    Die Kabinet doen ʼn beroep op buitelandse gaste op Suid-Afrikaanse bodem om die land se wette na te kom en herinner hulle daaraan dat dit baie moeite geneem het om die onlangse onaangename behandeling van buitelandse burgers by plaaslike klinieke tot ʼn einde te bring. Ongelukkig help bewyse soos dié, wat die diefstal van medisyne uit staatsklinieke bevestig, nie die pogings om toestande te herstel sodat buitelandse burgers in Suid-Afrika toegang tot openbare gesondheidsorg kan kry nie. 
2.2.5    Die Kabinet spreek sy waardering uit teenoor Limpopo se provinsiale regering vir hul vinnige optrede om mediese behandeling aan die beseerdes te verskaf en om die oorledens se oorskot te herwin.

3.    GESONDHEID
3.1    Stryd teen MIV en Vigs
4.2.1    Die Kabinet is op die hoogte gebring oor die voorgestelde implementering van die MIV-voorkomingsmedikasie, Lenacapavir, wat geskeduleer is om in in Maart of April 2026 bekendgestel te word. Lenacapavir is revolusionêre langwerkende medikasie wat vir ses maande beskerming bied met slegs twee dosisse per jaar. Die aanvanklike bekendstelling sal op 23 distrikte met ’n hoë voorkoms van  gevalle in ses provinsies fokus, wat ongeveer 360 hoogpresterende openbare klinieke in hierdie gebiede sal teiken. 
4.2.2    Die implementering sal die regering se stryd teen MIV en Vigs en ons doelwit om nuwe MIV-infeksies tot onder 0.1% teen 2032 te verminder, versterk.

4.    INTERNASIONALE BETREKKINGE
4.1    VSA-regering verleen goekeuring aan die PEPFAR-oorbruggingsplan vir Suid-Afrika 
4.1.1    Die Kabinet verwelkom die goedkeuring van die PEPFAR-oorbruggingsplan ter waarde van US$115 miljoen vir Suid-Afrika, vir ʼn tydperk van ses maande van 1 Oktober 2025 tot 31 Maart 2026.
4.1.2    Die oorbruggingsplan het ten doel om ononderbroke MIV-diensverskaffing in Suid-Afrika te verseker deur MIV-/Vigs-dienskontinuïteit te ondersteun asook landspesifieke behoeftes en ‘n lewensreddende uitwerking te prioritiseer. 
4.1.3    Die Kabinet spreek sy waardering uit teenoor die VSA se regering vir hul verbintenis om die vordering in die stryd teen MIV en Vigs te ondersteun en te onderhou.

4.2    Presidensiële werksbesoeke aan Ierland en België
4.2.1    President Cyril Ramaphosa se onlangse werksbesoeke aan Ierland op 8 Oktober 2025 en België op 9 Oktober 2025 het Suid-Afrika se internasionale vennootskappe versterk en nuwe geleenthede vir handel en belegging ontsluit. 
4.2.2    Tydens sy besoek aan België het President Ramaphosa aan die Global Gateway Forum in Brussel van 9 tot 10 Oktober 2025 deelgeneem, waar ʼn €11.5 miljard (R229 miljard) Global Gateway-beleggingspakket aan Suid-Afrika bekendgemaak is deur die president van die Europese Kommissie. Die pakket is darop gerig om Europese belegging in die land met R173 miljard te verhoog by wyse van die Just Energy Transition, R24 miljard by wyse van die Just Component, R20 miljard in infrastruktuur en konnektiwiteit en R6 miljard om ’n farmaseutiese waardeketting te bou. 
4.2.3    Die Kabinet verwelkom die beleggingspakket en die impak daarvan op ekonomiese groei, werkskepping, plaaslike sakeondernemings en infrastruktuurontwikkeling.

4.3    G20 40-dae aftelling
4.3.1    Die aftelling na die spitsberaad van die G20-leiers het in alle erns begin, met nog net 40 dae voodat dit in November in Suid-Afrika gehou word. 
4.3.2    President Ramaphosa het op Vrydag 10 Oktober 2025 ʼn in-loco inspeksie by die NASREC Expo Centre onderneem om die gereedheid van die sentrum van nader te evalueer. 
4.3.3    Gauteng se provinsiale regering, gesteun deur die Presidensie, onderneem ook weeklikse vergaderings om die infrastruktuurgereedheid te assesseer asook die gapings in die struktuur wat aandag nodig het.

B.    Kabinetsbesluite

1.    Finale geïntegreerde hulpbronneplan (GHP 2025)
1.1.1    Die Kabinet het die finale konsepdokument vir die geïntegreerde hulpbronneplan (GHP 2025) goedgekeur. Die GHP is ʼn langtermynplan wat ontwerp is om die samestelling van die land se elektrisiteitshulpbronne uit te stippel, met die doel om vraag en aanbod te balanseer en terselfdertyd die omgewingsimpak en die koste van elektrisiteit te evalueer. Die finale beleid wat aan die Kabinet voorgelê is verteenwoordig ʼn belegging van R2.23 triljoen, wat Suid-Afrika se energiesamestelling vir die toekoms sal definieer. 
1.1.2    Die plan het ten doel om elektrisiteit se omgewingsvoetspoor te verklein deur globale sowel as plaaslike uitlaatgasse te verminder. Dit fokus daarop om aandag te gee aan onmiddellike kapasiteitsbeperkings en beplanning vir langtermyndoelwitte, soos byvoorbeeld om ʼn Net Zero elektrisiteitsektor teen 2050 te bereik. Die GHP 2025 is ʼn verbetering op die GHP 2023 wat deur die Kabinet goedgekeur is.

2.    Die regering se kommunikasiebeleid 2025
2.1    Die Kabinet verleen goedkeuring dat die wysigings aan die regering se 2018 kommunikasiebeleid vir die 2025-kommunikasiebeleid aangebring word.
2.2    Die nuwe beleid is in reaksie op veranderinge in die kommunikasie-omgewing en om te verseker dat die publiek goed ingelig word deur gekoördineerde regeringskommunikasie om te verseker dat dit samehangend is met tydige, akkurate en toeganklike regeringsinligting.
2.3    Die beleid, wat belyn is met die mediumtermyontwikkelingsplan 2025 – 2029, is van toepassing op al drie regeringsfere, insluitend hul agentskappe en entiteite. In die konteks van die Regering van Nasionale Eenheid, sal die beleid die samehangendheid en die lewering van boodskappe voorskryf en lei, veral rakende sake van regeringsbeleid en nasionale belang.

3.    Nasiekenmerk (nation branding) se sentrale idee en die herposisioneringstrategie vir die land
3.1    Die Kabinet het kennis geneem van die uitslae van die onlangse nasie-kenmerk se reputasiestudie wat deur BrandSA uitgevoer is. 
3.2    Die Kabinet verleen goedkeuring aan die strategie vir herposisionering van die land, wat die waarde-aanbod van Suid-Afrika se kern nasiekenmerk definieer.
3.3    Die strategie is gevestig op gekoördineerde kommunikasie, geteikende betrokkenheid van belanghebbendes en landspesifieke boodskappe, wat sal verseker dat dit oor uiteenlopende markte weerklank sal vind. 
3.4    BrandSA sal voortgaan om die strategie van stapel te stuur en te implementeer.

C.    Wetsontwerpe

1.    Wysigingswetsontwerp op Verdediging, 2025
1.1    Die Kabinet verleen goedkeuring dat die Wysigingswetsontwerp op Verdediging, 2025 aan die Parlement voorgelê word. Die hoofdoel van die wetsontwerp is om sekere klousules te wysig om te voldoen aan die Konstitusionele Hof se uitspraak in die saak tussen O’Brien N.O. v Minister van Verdediging en Militêre Veterane en Ander van 2024. 
1.2    Die saak behels die onafhanklikheid van militêre howe, veral twee militêre howe van eerste instansie, wat onder die Wet op Aanvullende Maatreëls vir Militêre Dissipline van 1999, gevestig is, asook die Hof van ʼn Militêre Regter en die hof van ʼn Senior Militêre Regter. Die wysigings sal al die grondwetlike teenstrydighede wat deur die apex-hof uitgelig is, ondersoek.

2.    Wysigingswetsontwerp op Aanvullende Maatreëls vir Militêre Dissipline, 2025
2.1    Die Kabinet verleen goedkeuring dat die Wysigingswetsontwerp op Aanvullende Maatreëls vir Militêre Dissipline, 2025 aan die Parlement voorgelê word. 
2.2    Die wysyigings is daarop gemik om aandag te gee aan sekere klousules in ooreenstemming met die Konstitusionele Hof se uitspraak in die saak tussen O’Brien N.O. v die Minister van Verdediging en Militêre Veterane en Ander van 2024. 
2.3    Die saak handel oor die onafhanklikheid van militêre howe, veral twee militêre howe van eerste instansie, gevestig kragtens die Wet op Aanvullende Maatreëls vir Militêre Dissipline van 1999, die hof van ʼn militêre regter en die hof van ʼn senior militêre regter.

3.    Onttrekking van die Wetsontwerp op die Handelskeepswet, 2023
3.1    Die Kabinet verleen goedkeuring dat die Wetsontwerp op die Handelskeepswet, 2023 uit die Parlement onttrek word om die Departement van Vervoer in staat te stel om die Nedlac-proses te finaliseer. 
3.2    Die Wetsontwerp hersien die Handelskeepswet van 1951 met die oog op die implementering van die regering se visie om die handelskeepskomponent van die seevervoersektor te laat herleef; dit is daarop gemik om die sektor se bydrae tot ekonomiese groei te verbeter.

D.    Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike sekuriteitsklarings

1.    Mnr Bongani Sayidini as hoofuitvoerende beampte van die Petroleum-Agentskap van Suid-Afrika.
2.    Me Ditebogo Barbara Kgomo as hoofuitvoerende beampte van die Nasionale Kernkragreguleerder. 
3.    Mnr Makhahlele Richard Manzini as hoofbeleggingsbeampte van die Fienansieringagentskap vir Kleinsakeondernemings.
4.    Mnr Molatlhegi Kgauwe as hoof finansiële beampte van die Finansieringsagentskap vir Kleinsakeondernemings.
5.    Me. Xoliswa Daku as ʼn raadslid van die Uitvoer-kredietversekeringskorporasie van Suid-Afrika.
6.    Mnr Christoffel Johannes Lotter om op die raad van die Hawereguleerder van Suid-Afrika te dien.
7.    Raadslede van die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika.
i.    Mnr David Nicholls (voorsitter).
ii.    Dr Vuyo Mthethwa (ondervoorsitter);
iii.    Dr Derik Wolvaart;
iv.    Dr Khensani Xivuri;
v.    Mnr Ismail Lambat;
vi.    Dr Pulane Molokwane;
vii.    Mnr Eugene Julies; en 
viii.    Me Phumelele Dlungwane

8.    Direkteure op die raad van Eskom Holdings SOC Ltd
i.    Dr Busisiwe Vilakazi;
ii.    Mnr Lwazi Goqwana;
iii.    Mnr Clive Le Roux;
iv.    Dr Andrew Barendse;
v.    Dr Dimakatso Matshoga;
vi.    Dr Kgaogelo Chiloane;
vii.    Me Sharmila Govind;
viii.    Dr Vuyo Peach;
ix.    Dr Tsakani Mthombeni;
x.    Me Bajabulile Tshabalala; en
xi.    Mnr Tshokolo Nchocho

9.    Aanstelling van bykomende interim-raadslede tot die Universele Diens- en Toegangsagentskap van Suid-Afrika
i.    Mnr Busani Ngcaweni;
ii.    Me Yolisa Kedama;
iii.    Me Carmen Cupido; en 
iv.    Me Rachel Kalidass.

10.    Direkteure tot die Raad van die Oorgrens-padvervoeragentskap (C-BRTA)
i.    Mnr Kevin van der Merwe (heraanstelling) - voorsitter;
ii.    Adv Adila Chowan (heraanstelling) ;
iii.    Me Loyiso Kula (heraanstelling) – ondervoorsitter;
iv.    Me Keitumetse Mahlangu;
v.    Me Yongama Pamla-Dhludhlu;
vi.    Dr Dineo Penelope Mathibedi;
vii.    Me Zandile Kabini;
viii.    Mnr Randall Howard; en
ix.    Mnr Dave Jackson Moswane.

E.    Opdaterings aan die Kabinet

1.    Jagersfontein Tailing Storage Facility se slikramp-ondersoekverslag
1.1    Die Kabinet is ingelig oor die bevindinge van die tegniese ondersoek in die Jagersfontein Tailing Storage Facility se fasiliteitsfout wat uiterse verwoesting in Jagersfontein in die Vrystaat gesaai het. Die Minister van Water en Sanitasie, me Pemmy Majodina, sal die verslag aan die publiek vrystel. 
1.2    Die Kabinet is tevrede dat strafregtelike verrigtinge rakende die aangeklaagdes wat op 11 September 2025 in die hof verskyn het, begin het.

2.    Suid-Afrika se olie- en gassektor 
2.1    Die Kabinet is op die hoogte gebring met die nuutste ontwikkelings in Suid-Afrika se olie- en gassektor. Die land maak beuidende vordering in die benutting van gashulpbronne vir kragopwekking sowel as brandstofverwante doeleindes; die skalieformasies in die Karookom bevat gashulpbronne van ’n geraamde meer as 200 triljoen kubieke voet. Die land wil eksplorasie in beide binnelandse en buitelandse markte versnel om die volle potensiaal van ons olie- en gashulpbronne te benut. 
2.2    Deurlopende eksplorasie en produksie sluit in die Virginia-gasprojek in die Vrystaat, die Amersfoort en Volksrust-gasprojek in Mpumalanga en die Lephalale-steenkoolbed-metaangasprojek in Limpopo. Hierdie projekte bevat aansienlike natuurlike gas- en heliumhulpbronne. Die Minister van Visserye, Bosbou en die Omgewing het die regulasies vir skaliegas gefinaliseer en dit sal voor die einde van Oktober 2025 in die Staatskoerant gepubliseer word. Hierdie regulasies sal ʼn regulatoriese raamwerk voorsien om die omgewings- en veiligheidsrisiko’s verbonde aan hidroliese breking te beheer.

3.    Situasie in die Soedan en die Adjunkpresident se werksbesoek aan Suid-Soedan
1.1    Die Kabinet verdoem die voortslepende konflik in die Soedan wat onlangs gelei het tot die dood van ʼn beraamde 60 burgerlikes, van wie 17 kinders, deur die Rapid Support Forces (RSF) op 9 Oktober 2025 in El Fasher, die hoofstad van Noord-Darfur in Soedan.
1.2    Die Kabinet het met kommer kennis geneem dat duisende burgerlikes tot op datum steeds vasgekeer is in die beleg van El Fasher; dit het die episentrum van onoordeelkundige aanvalle deur die RSF geword, wat die reeds-kritieke humanitêre krisis vererger.
1.3    Op ʼn ander front, verwelkom die Kabinet die versterking van samewerking ten opsigte van sekuriteit, intelligensie en die vestiging van ʼn gesamentlike ekonomiese komitee tussen Suid-Soedan en Soedan. Die Kabinet beskou hierdie versterking in betrekkinge as krities tot die verbetering van stabiliteit en sekuriteit in die streek. 
1.4    Omdat Suid-Afrika ʼn vredeswaarborg is, verwelkom die Kabinet die finalisering van ʼn suksesvolle werksbesoek deur Adjunkpresident Paul Mashatile aan Juba, Suid-Soedan in sy kapasiteit as presidensiële spesiale afgevaardigde na dié land. Die werksbesoek het gefokus op die heraktivering van die implementering van die 2018 Herleefde Vredesooreenkoms, wat tot stilstand gekom het.

4.    President Trump se vryheidsplan vir Israel en Palestina en die terugkeer van globale Sumud-flottielje aktiviste
1.1    Die Kabinet verwelkom die ondertekening van President Trump se Israeli/Palestynse vredesplan, wat die weg baan vir ʼn einde aan die verwoestende konflik in Gaza. Hierdie ontwikkeling is belyn met Suid-Afrika se langgevestigde verbintenis tot globale vrede, geregtigheid en vryheid vir die mense van Palestina. 
1.2    Die Kabinet doen voorts ʼn beroep op alle partye om die stappe wat onderhandel is te eer en ʼn geloofwaardige en inklusiewe politieke proses te volg wat ʼn einde sal bring aan die humanitêre krisis en verdere lewensverlies sal verhoed. 
1.3    Die Kabinet verwelkom die aanvang van fase 1 van die vredesplan met die vrylating van Israeli gyselaars in ruil vir Palestynse politieke gevangenes. 
1.4    Die Suid-Afrikaanse regering gaan voort om ʼn volskaalse einde aan die besetting van Gaza en ander Palestynse gebiede voor te staan. 
1.5    Die Kabinet verwelkom ook die veilige terugkeer van ses Suid-Afrikaanse humanitêre aktiviste wat aan die globale Sumud-flottielje deelgeneem het, ʼn missie gemik op die lewering van voedsel en medies voorraad aan Gaza. Die Kabinet doen ʼn beroep vir ʼn onmiddelike wapenstilstand, onbelemmerde humanitêre toegang en veilige ontruiming van burgerlikes uit aktiewe konfliksones.

5.    Politieke ontwikkelinge in die Republiek van Madagaskar
1.1    Die Kabinet neem met sorg kennis van die onlangse politieke onluste in die Republiek van Madagaskar, wat tot lewensverlies en die verwoesting van eiendom gelei het. 
1.2    Die Kabinet doen ʼn beroep vir kalmte en vir alle mense en rolspelers om ʼn vreedsame oplossing wat die beginsels van demokrasie en die oppergesag van die reg sal handhaaf na te treef.

F.    Toekomstige gebeure

1.    Vervoermaand
1.1    Met die viering van Vervoermaand in Oktober, erken Suid-Afrika die noodsaaklike rol wat vervoer in ons daaglike lewens speel. Met die maand nou in volle gang, benadruk hierdie jaarlikse viering die krgtigheid van ons infrastruktuur, wat lugvervoer, seevervoer, openbare vervoer en paaie insluit. 
1.2    Ons beleggings in die vervoersektor dryf ekonomiese groei en werkskepping aan. Opgraderings in spoor-, pad- en openbare vervoer transformeer Suid-Afrikaners se toegang tot werkplekke, skole en ontspanningspasies, wat meer raakpunte en geleenthede moontlik maak.
1.3    ʼn Uitstaande deel van Vervoermaand was SA Auto-week, wat van 1 tot 3 Oktober in Nelson Mandela-baai gehou is. Hierdie besondere gebeurtenis het leiers in die sektor, beleggers, oorspronklike toerustingvervaardigers en KMMO’s byeengebring. Dit het gesprekke oor versnelde belegging, vaardigheidsontwikkeling en inklusiewe industrialisering regoor die metro en die provinsie aangevuur, wat Suid-Afrika se verbintenis tot ʼn vooruitstrewende, billike toekoms vir die vervoersektor benadruk.

2.    Sewende spitsberaad oor maatskaplike geregtigheid 
2.1    President Ramaphosa sal die sewende spitsberaad vir maatskaplike geregtigheid op 17 Oktober 2025 by die Universiteit van Stellenbosch bywoon. Dit word onder die tema: “Maatskaplike Geregtigheid, Voedselsekuriteit en Vrede: Paaie na Gelykheid, Solidariteit, Volhoubaarheid en Klimaatveerkragtigheid” gehou.
2.2    Die spitsberaad sal beleidmakers, wetgewers, politieke partye, tradisionele en geloofsleiers, die burgerlike samelewing en akademia byeenbring om hoë-vlak dialoog oor voedselsekerheid as hoeksteen vir maatskaplike geregtigheid, gelykheid en volhoubare ontwikkeling te voer.
2.3    Die beraad het ten doel om vordering rakende volhoubare ontwikkelingsdoelwit 2 (Zero Honger) te versnel, asook die AU se Agenda 2063. Dit strook ook met Suid-Afrika se nasionale ontwikkelingsplan 2023, wat die uitskakeling van armoede en die vermindering van ongelykheid prioritiseer.

3.    2025 Afrika-spitsberaad
3.1    Die Afrika-spitsberaad onder leiding van die Financial Times sal tussen 21 en 22 Oktober in London gehou word met die tema: ‘Afrika in ʼn Veranderende Wêreld’.
3.2    Die beraad sal staatshoofde, ministers, sakesleiers, finansiers en innoveerders byeenbring om te verken hoe Afrika-lande verskuiwende globale alliansies kan navigeer, digitale en hernubare energieë kan benut en daaruit voordeel trek, intra-kontinentale handel kan verdiep en volhoubare beleggings lok. 
3.3    Die beraad bied ʼn platform om Afrika se stem in die globale dialoog te verdiep, vennootskappe te smee en ʼn toekoms wat diepgewortel is in veerkragtigheid en inklusiewe groei te vorm.

4.    Nasionale seniorsertifikaateksamens
4.1    Die Kabinet wens die Klas van 2025 alle sterkte toe met hul voorbereiding vir die Nasionale Seniorsertifikaateksamen wat op 21 Oktober sal begin en op 27 November 2025 eindig. 
4.2    Die regering loof die toewyding van onderwysers, ouers en voogde wie se voortgesette ondersteuning leerders toerus met die vertroue om uit te blink. 
4.3    Die Kabinet doen ʼn beroep op ouers en voogde om aktief betrokke te bly deur leerders te motiveer en aan te moedig, en ook seker te maak dat hulle ʼn tuisomgewing het wat studie en voorbereiding ondersteun en bevorder.

G.    Booskappe
1.    Medelye
Die Kabinet dra sy medelye oor aan:
Die voormalige eerste minister (2008 – 2013), van Kenia, mnr Raila Odinga, ʼn langtermyn Keniaanse politikus en parlementslid. Hy het ook van 2018 tot 2023 as die Afrika-unie se hoë verteenwoordiger vir infrastruktuurontwikkeling gedien .

Die Kabinet dra sy medelye oor aan die vriende en familie van:

  • Die voormalige minister en Suid-Afrika se ambassadeur in Frankryk, mnr Nathi Mthethwa. Hy het 15 jaar in die Kabinet gedien in die portefeuljes Sport, Kuns en Kultuur asook die Polisiediens. Hierbenewens het hy ʼn diensbare rol in Suid-Afrika se vryheidstryd gespeel. Ter erkenning van sy toewyding aan die land en sy mense het President Ramaphosa ʼn spesiale amptelike begrafnis kategorie 2 verklaar.

2.    Gelukwense
Die Kabinet dra sy gelukgewense oor aan:

  • Professor Peter Mutharika met sy verkiesingsoorwinning in die Republiek van Malawi se algemene verkiesing. Hy word alle voorspoed toegewens met die voorbereidings vir die gewigtige verantwoordelikheid wat deur die mense van Malawi aan hom toevertrou is. Suid-Afrika sien uit na voortgesette noue samewerking met prof Mutharika se administrasie; die land  sal daarna streef om die blywende bande van vriendskap en solidariteit tussen ons twee nasies te versterk.
  • Professor Priya Soma-Pillay, met haar verkiesing as Adjunkpresident van die Internasionale Federasie van Ginekologie en Verloskunde (FIGO) tydens die 2025 FIGO algemene vergadering in Kaapstad.
  • Suid-Afrika het erkenning ontvang vir die land se baanbrekerswerk in die stryd teen vetsug en nie-oordraagbare siektes, en het die VN-se inter-agentskaptaakmag-toekenning ontvang by die 10e jaarlikse vergaderring  van die Friends of the Task Force in New York. Hierdie erkenning beklemtoon Suid-Afrika se leierskap in die aanpak van vetsug en nie-oordraagbare siektes en die stel van ʼn maatstaf vir ander nasies in die stryd teen voorkombare siektes.
  • Die Openbare Beskermer van Suid-Afrika (OBSA) met die herdenking van hul 30ste bestaansjaar. Die OBSA speel ʼn deurslaggewende rol in die handhaaf van demokratiese beginsels, deursigtigheid en goeie bestuur.
  • Die Springbokke met hul opeenvolgende oorwinnings in die jaarlikse Rugbykampioenskap tussen topspanne in die suidelike halfrond. Die span het veerkragtigheid, vaardigheid en samehorigheid op die internasionale verhoog getoon. 
    •    Suid-Afrika se onder-20 sokkerspan, ook bekend as Amajita, wat die laaste16 rondtestadium van die die FIFA onder-20 Wêreldbeker in Chili gehaal het.

Navrae: 
Mnr Sandile Nene  – Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485
 

Share this page

Similar categories to explore