Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag 12 November 2025

A.    Kwessies in die omgewing

1.    Ekonomie
1.1.    2025 Mediumtermyn-begrotingsverklaring benadruk verbintenis tot ekonomiese groei
1.1.1.    Die Kabinet verwelkom die 2025 mediumtermyn-begrotingsverklaring (MTBV) as deel van die regering se voortgesette werk om ekonomiese groei aan te spoor, werkskepping te bevorder en die stand van lewenskoste die hoof te bied. 
1.1.2.    Die MTBV het ʼn verandering van ʼn inflasieteikenreeks na ʼn spesifieke inflasieteiken van 3% aangekondig. Die voordele van 'n lae inflasieteiken op die vlak van persoonlike inkomste sluit in die voorkoming van 'n spiraal in lewenskoste, die bevordering van prysstabiliteit (en sodoende die beskerming van koopkrag), die ondersteuning van billike inkomsteverdeling, en die beskerming van spaargeld. Op ʼn makro-ekonomiese vlak is die mikpunt om bruto kapitaalvorming te steun en geldeenheidstabiliteit te versterk, wat uiters belangrik is vir beleggersvertroue en ekonomiese groei. Die Nasionale Tesourie/Reserwebank se tegniese span wat die aanbeveling vir hierdie verandering in ons monetêre beleidsposisie gemaak het, het die nadele van hierdie verandering oorweeg, maar ter wile van stabiliteit is die Kabinet aangeraai dat dit die tans die beste benadering vir die land is. 
1.1.3.    Die MTBV bevetig ook die regering se verbintenis om noodsaaklike dienste soos gesondheid, onderwys en die beskerming van behoeftiges deur middel van maatskaplike toelaes te verbeter en om steeds belegging in openbare infrastruktuur soos energie, water en vervoer aan te dryf.

1.2.    Kwartaallikse arbeidsmagopname dui ’n toename van 248 000 werkgeleenthede in die derde kwartaal van 2025 aan
1.2.1.    Die Kabinet verwelkom Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse verslag oor die arbeidsmagopname, wat daarop dui dat 248 000 meer werksgeleethede in die derde kwartaal van 2025 geskep is. Dit het daartoe gelei dat die aantal mense wat in diens geneem is tot 17.1 miljoen toegneem het en dat die amptelike werkloosheidsyfer met 1.3 persentasiepunte tot 31.9% gedaal het.
1.2.2.    Met meer werksgeleenthede wat in konstruksie-, gemeenskaps- en maatskaplike dienste, asook handelsektore aangeteken is, is die Kabinet tevrede met die momentum in werkskepping in belangrike ekonomiese sektore. Meer werksgeleenthede in die konstruksiesektor sluit aan by die regering se prioritisering van infrastruktuurontwikkeling, wat met ʼn infrastruktuurbegroting van R1 triljoen saamval, soos in die 2025-begroting aangekondig is en in die 2025 MTBV bevestig is .

1.3.    7.6 Miljoen toeriste besoek Suid-Afrika tussen Januarie en September 2025 
1.3.1.    Die Kabinet verwelkom die 7 634 261 miljoen internasionale toeriste wat die land tussen Januarie en September besoek het; dit dui op ’n indrukwekkende toename van 1 108 222 besoekers, vergeleke met dieselfde tydperk in 2024, wat bevestig dat Suid-Afrika ʼn vername globale toeristebestemming is.
1.3.2.    Sleutelmarkte wat sterk groei en tot die toename in toerisme bygedra het is die Midde-Ooste met 58%, Europa met 29%, sleutelmarkte in Afrika met 28%, Noord-Amerika met 22% en Asië met 11%.

1.4.    Suid-Afrika se Biovac vervaardig ʼn inenting teen cholera – die eerste entstof in die geskiedenis wat in Suid-Afrika vervaardig word
1.4.1.    Die Kabinet wens Biovac en die Departemente van gesondheid en van wetenskap, tegnologie en innovering geluk met die bekendstelling van die eerste entstof ooit in die geskiedenis wat in Suid-Afrika vervaardig word. 
1.4.2.    Biovac se vermoë om die cholera-entstof in Suid-Afrika te vervaardig is ʼn aanduding van Suid-Afrika se vooruitgang in farmaseutika, wetenskap en tegnologie en dui aan dat die bedryf van entstofverpakking soos in die geval van die BNG-entstof, tot ʼn vermoë om entstof ten volle te vervaardig gegroei het. Die vennootskap tussen Biovac, die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) en die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) dui op die regering se vermoë om die land se uitdagings aan aan te pak
1.4.3.    Die Kabinet is vol vertroue dat Biovac en hul vennote in die toekoms tot die uitwissing van siektes in Suid-Afrika en Afrika sal bydra deur die vervaardiging van entstowwe wat op die Arika-vasteland se siektesprofiel fokus.

2.    G20
2.1.    Nege-dae-aftelling en gereedheid vir die G20-beraad
2.1.1.    Met nege dae tot die G20-leiersberaad op 22 en 23 November 2025 by NASREC in Johannesburg, vertrou die Kabinet dat Suid-Afrika gereed is om ʼn suksesvolle eerste G20-beraad op die Afrika-vasteland aan te bied.
2.1.2.    Die regering is ook gereed om oor vyf dae, van 18 tot 20 November 2025, die G20 se Maatskaplike Beraad by die Birchwood-hotel en OR Tambo-konferensiesentrum in Ekurhuleni aan te bied. 
2.1.3.    Sedert Suid-Afrika die G20-presidentskap oorgeneem het, het die land 130 voorbereidingsvergaderings aangebied, wat sonder voorval verloop het en as geleenthede gedien het om die diversiteit van ons provinsies en toerismebestemmings ten toon te stel. Elke provinsies het ’n kans gekry om ʼn G20-voorbereidingsgeleentheid aan te bied. 
2.1.4.    Omvattende veiligheids- en sekuriteitsplanne vir die leiers- sowel as die Maatskaplike Beraad word deur die betrokke sekuriteitstrukture bestuur en gekoördineer. Die President sal gaste op Vrydag 14 November 2025 deur informele wandelings aan die NASREC-terrein bekendstel.
2.1.5.    ʼn Mediakonferensie oor die G20 se stand van gereedheid sal op Sondag 16 November 2025 gehou word om burgers en globale belanghebbendes in die land se vertroue te neem oor inligting soos die mylpale wat behaal is sedert die aanvang van Suid-Afrika se G20-presidentskap in November 2024.

3.    Energie
3.1.    Die Kabinet verwelkom Eskom se aankondiging dat die nasionale kernreguleerder ʼn lisensieverlenging van 20 jaar aan Koeberg-eenheid 2 toegeken het, wat die eeheid in staat stel om tot 9 November 2045 operasioneel te wees. Dit is ʼn merkwaardige mylpaal wat Suid-Afrika se langtermyn-energiesekerheid versterk en op Eskom se verbintenis tot wêreldklas kernveiligheidstandaarde dui. 
3.2.    Die Kabinet verwelkom ook die Suid-Afrikaanse Nasionale Energiereguleerder (Nersa) se aankondiging dat 181 nuwe kragopwekkingsfasiliteite tydens die tweede kwartaal van die 2025/26 finansiële jaar geregistreer is.
3.3.    Hierdie fasiliteite verteenwoordig ʼn gesamentlike kapasiteit van 1401MW en ʼn beraamde beleggingswaarde van R30.78 miljard.

4.    Internasionaal
4.1.    Suid-Afrika aangestel as interim voorsitter van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) by die buitengewone beraad van SAOG-staatshoofde
4.1.1.    Die Kabinet is ingelig oor die uitkomste van die buitengewone spitsberaad van SAOG-staatshoofde en die Regering op 7 November 2025 en dat Suid-Afrika as die interim-voorsitter van die SAOG aangestel is tot Augustus 2026. 
4.1.2.    Suid-Afrika se interim-voorsitterskap van die SAOG tot Augustus 2026, sal die Madagaskar-agenda voortsit soos deur die SAOG goedgekeur, onder die vaandel “Industrialisasie, landbou-transformasie en energie-oorgang vir ʼn veerkragtige SAOG”. 
4.1.3.    Suid-Afrika is na aanleiding van Madagaskar se onttrekking as interim-voorsitter aangestel om op die stabilisering van daardie land te fokus na onlangse burgerlike protesaksies.
4.1.4.    Die SAOG wens Sy Eksellensie, prof. Arthur Peter Mutharika, president van die Republiek van Malawi; en Haar Eksellensie, dr. Samia Suluhu Hassan, president van die Verenigde Republiek van Tanzanië, geluk met hul onlangse verkiesings in hul ondeskeie lande. 
4.1.5.    Die SAOG dra hul diepste meegevoel oor aan die families in die Republiek van Madagaskar wat geliefdes verloor het tydens die protesaksies in September en, meer onlangs, in die Verenigde Republiek van Tanzanië.

4.2.    Uitlewerings: Geregtigheid in Suid-Afrika
4.2.1.    Die Kabinet is ingelig oor die vordering rakende Suid-Afrika se uitleweringsversoeke aan Botswana en Malawi. 
4.2.2.    Die Kabinet het die beginsel herbevestig dat alle persone wat van misdade in Suid-Afrika aangekla word ten volle verantwoordbaar gehou moet word volgens die reg. Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling is daartoe verbind om appèl aan te teken teen die Malawiese hofbesluit oor mnr. Bushiri.

B.    Kabinetsbesluite

1.    Wysiging van beleid oor staatsregsverteenwoordiging
1.1.    Die Kabinet het die wysiging van die Beleid oor die Staat se Regsverteenwoordiging goedgekeur. Die doel van die wysiging is om  regsverteenwoordiging vir staatsamptenare toe te laat, insluitend voormalige staatsamptenare, regsdienaars en lede van die uitvoerende raad, na aanleiding van die uitvoer van hul pligte in sulke hoedanighede. 
1.2.    Die wysiging is geldig vir staatsamptenare, regdienaars en lede van die uitvoerende raad indien hulle versoek word om die komissies van ondersoek by te staan, na aanleiding van die uitvoer van hul pligte as staatsamptenare, regsdienaars en lede van die uitvoerende raad.

2.    Suid-Afrika begin die proses om te  bie vir die 2036 of 2040 Olimpiese Spele
2.1.    Die Kabinet het Suid-Afrika se voortgesette dialoog met die IOK goedgekeur as deel van die land se voorneme om vir die 2036 of 2040 Olimpiese Spele te bie. Die voortgesette dialoog met die IOK is ʼn voorlopige en ondersoekende skakeling wat van kritieke belang is vir die bevordering van Suid-Afrika se voorneme om vir die gasheerregte van die Olimpiese en Paralimpiese Spele in 2036 of 2040 te bie. 
2.2.    Die Kabinet het volle vertroue in Suid-Afrika se gereedheid om as gasheer vir die Olimpiese Spele op te tree, gegewe die land se beskikbare infrastruktuur.

3.    Vyfde Program van Aksie teen Kinderarbeid (CLPA) in Suid-Afrika 2025 – 2029
3.1.    Die Kabinet het die vyfde CPLA goedgekeur, wat ’n nasionale raamwerk vir die stryd teen kinderarbeid is. Die CLPA is ʼn inisiatief deur die staat gemik op die versterking van wetgewing en wetstoepassing, die skep van openbare bewustheid en die koördinering van pogings saam met die burgerlike samelewing om kinders wat deur kinderarbeid geraak word, te ondersteun. Die vyfde fase bou voort op die lesse uit die verlede en beoog om geïntegreerde en geteikende ingrypings te versterk, met die klem op vroeë identifisering en breedvoerige steun vir kinders wat die risiko iloop en/of reeds daardeur geraak word.

4.    Die “stand van sorg”-instandhouding van die “pebble bed” modulêre reaktor (PBMR)
4.1.    Die Kabinet het goedgekeur dat die stand van sorg-instandhouding van die pebble bed modulêre reaktor (PBMR) gelig word om Suid-Afrika in staat te stel om die PBMR-tegnologie verder te ontwikkel.
4.2.    Die besluit sal Suid-Afrika se ambisie om deel te word van die kernbrandstofsiklus bevorder en die land in ‘n posisie plaas om ʼn rol in die ontwikkeling van klein modulêre reaktor (KMR) tegnologie te speel.
4.3.    Die Kabinet het ook die oordrag van die PBMR-maatskappy van Eskom na Necsa goedgekeur.

C.    Wetsontwerpe
1.    Wetsontwerp op Tradisionele en Khoi-San-leierskap 
1.1.    Die Kabinet het die voorlegging van die Wetsontwerp op Tradisionele Khoi-San-leierskap, 2025 aan die Parlement goedgekeur. Die wetsontwerp is in antwoord op die Grondwethof se uitspraak wat die Wet op Tradisionele en Khoi-San-leierskap van 2019 ongeldig verklaar het weens onvoldoende openbare deelname tydens die wet se voorlegging aan die Parliament. 
1.2.    In 2024 het die Kabinet die publikasie van die gewysigde Wetsontwerp vir Tradisionele en Khoi-San-leierskap, 2024 vir openbare kommentaar goedgekeur. Die gewysigde wetsontwerp bied ʼn geleentheid aan die Parlement om aan die Grondwethof se bevel te voldoen. Die Wet op Tradisionele en Khoi-San-leierskap van 2019 het die Wet op Tradisionele Leierskap en Regeringsraamwerk van 2003 vervang.

D.    Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike sekuriteitsklarings.

1.    Mnr. Mashwahle Joseph Diphofa as direkteur-generaal by die Departement van Tradisionele Sake (hernuwing van kontrak).

2.    Aanstelling van twee nie-uitvoerende direkteure van die Landbank
i.    Mnr Basil Mpumelelo Maseko, en
ii.    Me Siphumelele Balungile Dlungwane.

3.    Heraanstelling van twee nie-uitvoerende direkteure op die raad van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika
iii.    Mnr. Kenneth Willy Brown, en
iv.    Me. Dinao Modirwadi Lerutle.

4.    Aanstelling van lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Energie-ontwikkelingsinstituut (SANEDI)
i.    Mnr Sicelo Goodwill Xulu (voorsitter)
ii.    Me Nonkosi Koranteng (ondervoorsitter)
iii.    Prof. Anastassios Pouris, en
iv.    Me  Octavia Matshidiso Matloa.

E.    Opdaterings aan die Kabinet
1.    Junior Myneksplorasiefonds (JMEF) 
1.1.    Die Kabinet is op die hoogte gebring oor die werk van die JMEF, insluitend vordering met die eerste verspreiding en planne om die JMEF na ʼn onafhanklike fonds om te skakel. Die Kabinet het in 2022 goedgekeur dat die JMEF geskikte junior mynbouondernemings ondersteun in die uitvoer van eksplorasie-aktiwiteite. Ten tyde hiervan het die fonds ʼn doelwit gestel om minstens 5% van globale eksplorasie na Suid-Afrika te lok. 
1.2.    Sedert sy stigting het die fonds bestuurstrukture in plek gestel en Venster 1 geloods, wat sleutelminerale soos koper, nikkel, grafiet, litium en seldsame aardminerale teiken. Tydens hierdie venster is 119 aansoeke ontvang, wat tot R3.7 miljard in befondsing kan lei. Uit hierdie aansoeke is 46 as aanvaarbaar beskou, wat sterk dui op beleggingsbelangstelling en betekenisvolle potensiaal vir belegging.

2.    Vordering met die implementering van alternatiewe befondsingsbaan vir die modernisering en uitbreiding van die nasionale kragnetwerk 
2.1.    Die Kabinet is ingelig oor die implementering van alternatiewe befondsingsbane vir die modernisering en uitbreiding van die nasionale kragnetwerk, insluitend die vestiging van die onafhanklike  kragprojekkantoor (ITPO), as deel van die onafhanklike kragvervaardigerskantoor. In Desember 2023 het die Kabinet die ITP-program goedgekeur om deelname deur die private sektor in die die ontwikkeling, finansiering, konstruksie en bedryf van nuwe kragstrukture onder ʼn deursigtige wetgewingsraamwerk toe te laat . 
2.2.    Aansienlike vordering is reeds met die operasionalisering van alternatiewe befondsingsmodelle vir transmissie-uitbreiding gemaak, veral met betrekking tot die skep van ʼn bemagtigende omgewing vir onafhanklike kragprojekte. 
2.3.    Fase 1 van die ITP-program sal na verwagting 1 164 km se nuwe kraglyne en bykomende substasiekapasiteit ontsluit. Regeringskakeling met beleggers het bevestig dat daar sterk belangstelling in die mark is om aan Suid-
Afrika se transmissie-uitbreiding en moderniseringsprogramme deel te neem bevestig. Die bekendmaking van die konsepregulasies vir die oordrag van elektrisiteit en die ministeriële bepaling vorm deel van hierdie vordering.

3.    Verslag oor die uitkomste van Afrika se diamantverskaffersvereniging (ADPA) se bilaterale en amptelike besoek aan die Republiek van Botswana
3.1.    Die Kabinet het ʼn verslag ontvang oor die uitkomste van die werksbesoek aan Botswana, wat daarop gemik was om Botswana aan te spoor om ʼn lid te word van ADPA. 
3.2.    ADPA is gestig om samewerking tussen die lande in Afrika wat diamante vervaardig te bevorder, om wetgewingsraamwerke te laat saamwerk en hul kollektiewe invloed in die globale diamantbedryf te versterk. Ondanks Botswana se status as een van die grootste diamantvervaardigers in Afrika, het die land sedert die stigting van die vereniging in 2006 verkies om nie ʼn lid van ADPA te word nie. 
3.3.    Na afloop van Minsiter Mantashe se besoek het Botswana, in beginsel, ingestem om by ADPA aan te sluit en het versoek dat Suid-Afrika met die ADPA-sekretariaat ooreenkom om as waarnemer deel te neem. Die besoek het weer eens die strategiese vennootskap tussen Suid-Afrika en Botswana bevestig en dat die lande mekaar kan bevoordeel in terme van mynwese en die ontwikkeling van die vasteland.

4.    Ooreenkomste tussen Verspreidingsagentskappe (DDA) sluit vennootskap met Eskom
4.1.    Die Kabinet is oor die DDA ingelig en steun die implementering daarvan. Die DDA is ʼn kontrak waarvolgens Eskom as agent optree om ʼn munisipaliteit se elektrisiteitsverspreidingsfunksies oor te neem, insluitend onderhoud, herstelwerk en die invordering van inkomste. 
4.2.    Hierdie ooreenkoms is daarop gemik om kwessies soos munisipale skuld en swak dienslewering die hoof te bied, asook om betroubaarheid te vereter en munisipaliteite te help om beheer oor hul elektrisiteitsdepartemente te verkry.
4.3.    Hierdie ooreenkomste is kritiese instrumente om finansiële dissipline te herstel, invordering van inkomste te verbeter en die lewering van elektrisiteit regoor munisipaliteite te stabiliseer as deel van die Departement van Energie en Elektrisiteit se mandaat om seker te maak dat elektrisiteit op ’n betroubare, deursigtige en volhoubare wyse voorsien word.

F.    Opkomende gebeure
1.1.1    Bewustheid van Regte van Persone met Gestremdhede Die land vier die Maand vir Bewustheid van die Regte van Persone met Gestremdhede van 3 November tot 3 Desember onder die tema: “Die skep van strategiese multisektorale vennootskappe vir ʼn gestremdheidsinklusiewe samelewing.” Die maand sal op 3 Desember eindig om saam te val met die Internasionale Dag van en vir Persone met Gestremdhede. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om  bewustheid, inklusiwiteit en gelykheid te bevorder.
1.1.2    Die regering gaan voort om die implementering van die Witskrif vir die Regte van Persone met Gestremdhede te steun en herbevestig hul verbintenis om ʼn inklusiewe samelewing te bou waar alle persone met gestremdhede gelyke regte, waardigheid en betekenisvolle deelname geniet. 
1.1.3    Hoewel merkbare vordering gemaak is in die bevordering van persone met gestremdhede se regte, doen die Kabinet ʼn beroep op alle sektore van die samelewing om saam te werk om die oorblywende hindernisse uit die weg te ruim en gelyke toegang vir persone met gestremdhede te verseker.

2.    Letsema! Suid-Afrika verenig om geweld teen vroue en kinders te beëindig
2.1    In die aanloop tot die jaarlikse 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld Teen Vroue en Kinders-veldtog, wat van 25 November tot 10 Desember 2025 plaasvind onder die tema: “Letsema: Mans, vroue, seuns en dogters werk saam om ʼn einde te bring aan geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV), is die Kabinet diep besorgd dat ondanks gesamentlike pogings deur die regering, die burgerlike samelewing, sake-ondernemings en gemeenskappe om die plaag te bestry, is Suid-Afrika se GGGV-syfers steeds kommerwekkend hoog. 
2.2    In ’n daadwerklike poging om stygende GGGV-gevalle te stuit het die regering in April vanjaar die versnelligsprogram, naamlik 90-dae teen geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GGGV) geloods om vinnige en gekoördineerde optrede teen GGGV te verseker en die implementering van die nasionale plan vir GGGV te versnel. 
2.3    Die 90-dae-program, wat gelei word deur die JCPS-groep, het dringende en kragtige ingrypings bewerkstelllig om die opwaartse neiging van GGGV in die land om te keer. Hierdie ingrypings sluit in die hervestiging van die Interministeriële Komitee om samewerking met die implementering van die GGGV-nasionale strategiese plan te versekering.

3.    Nasionale Konstruksieberaad 
3.1    Die Nasionale Konstruksieberaad sal op 13 en 14 November 2025 in Gauteng gehou word. Dit word deur die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur in vennootskap met die konstruksiebedryf se ontwikkelingsraad (CIDB) aangebied.
3.2    Die beraad sal fokus op praktiese oplossings vir die versnelling van konstruksieprojekte, belyning van verkrygingstelsels, die verbetering van aanmeldingsmeganismes en die versterking van samewerking tussen die openbare en private sektor.

G.    Boodskappe
1.    Medelye

Die Kabinet dra sy medelye oor aan die vriende en familie van: 

  • Me. Ntombazana Botha, ʼn struggle-staatmaker en voormalige adjunkminister van kuns en kultuur.

2.    Gelukwense

Die Kabinet dra sy gelukgewense en voorspoed oor aan:


Me. Joyce Pitso en mnr Mosotho Moepya, wie as voltydse lede sal dien; en regter Dhaya Pillay, wie as deeltydse lid van die Verkiesingskommissie van Suid-Afrika sal dien. Mnr. Mosotho Moepya word ook geluk gewens met sy voorsitterskap van die kommissie.

  • Me. Botseetse Kgaphola, met haar verkiesing as Mej. Suid-Afrika Gestremdheid.
  • Die onder-17 nasionale sokkerspan, die Amajimbos, wie die eerste Suid-Afrikaanse span in hul ouderdomsgroep is om verder as die groepstadium in die Fifa O-17 Wêreldbeker deur te dring.
  • Die Springbokkke wat hul tweede wedstryd in die Quilter-nasiesreeks gewen het deur Frankryk 32–17 te klop.
  • Springbokkaptein Siya Kolisi met sy 100e toetswedstryd. Hy is die negende Springbok in die geskiedenis wat in 100 toetswedstryde gespeel het. Sy inspirerende lewensverhaal is ʼn voorbeeld van veerkragtigheid en vasberadenheid.
  • Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie se internasionale korrespondent Sherwin Bryce-Pease en videograaf Aaron Berbrick, wat goue status in die Ricardo Ortega Memorial Prize van die Verenigde Nasies se korrespondente-vereniging verower het.
  • Mr Dan Marokane, Eskom se groep hoof-uitvoerende beampte, wat  as die Sunday Times se besigheidsleier van die jaar 2025 aangewys is by die Sunday Times se Top-100 maatskappye-toekennings.
  • Nigerië, vir die land se uittrede uit die Financial Action Task Force (FATF) se gryslys, en só in Suid-Afrika se voetspore volg. Dit is ʼn positiewe ontwikkeling vir die Afrika-vasteland aangesien dit aan Afrika loofwaardigheid in die globale finansiële markte verleen, transaksiekostes verlaag en beleggersvertroue ʼn hupstoot gee.

Navrae: 
Mnr Sandile Nene – Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 712 2316

Share this page

Similar categories to explore