A. Kwessies in die omgewing
1. Ekonomie
1.1. Nasionale Begroting 2025
1.1.1. Die Kabinet verwelkom die 2025 Nasionale Begroting, wat poog om ʼn balans te handhaaf tussen Suid-Afrika se fiskale raamwerk en die befondsing van die prioriteite van die sewende administrasie soos verwoord deur Sy Eksellensie, President Cyril Ramaphosa, tydens die staatsrede, terwyl die impak van befondsingsvereistes op behoeftige en middelinkomstehuishoudings versag word.
1.1.2. Die toekenning van meer as R1 triljoen aan infrastruktuurontwikkeling oor die mediumtermyn-bestedingsraamwerk (MTBR), die vestiging van alternatiewe infrastruktuurfinansiering deur ʼn kredietwaarborgwerktuig en die bekendstelling van veelvuldige bodvensters op die begrotingsfasiliteit vir infrastruktuur dien as demonstrasie van die verbintenis om die ekonomie te laat groei by wyse van ʼn sterk infrastruktuurgeboude program en terselfdertyd dienslewering te verbeter.
1.1.3. Meganismes vir deelname aan die private sektor, soos aangekondig met die begroting – wat deel uitmaak van Operasie Vulindlela-gedrewe hervormings in die energie-, vervoer- en vraglogistieke sektore – dui op die regering se verbintenis tot die bespoediging van belegging in die private sektor en inklusiewe ekonomiese groei.
1.1.4. Met inagneming van die impak van die belastingverhogings maak die begroting voorsiening vir versagtingsmaatreëls teen die verhogings, insluitend:
1.1.4.1. Geen verhoging in die brandstofheffing nie.
1.1.4.2. Bo-inflasie stygings in maatskaplike toelaes, met ouderdoms- en ongeskiktheidstoelaes wat in 2025 met R130 tot R2 315 styg.
1.1.4.3. Beduidende befondsing aan die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika om passasierspoorvervoer te verbeter, wat huishoudelike inkomstebesteding aan vervoerkoste sal verminder.
1.1.5. Die belangrikste hiervan is dat die belastingverhogings volhoubaarheid van die land gaan finansier deur 11 000 onderwysers in hul klaskamers en 9 300 gesondheidswerkers in hul poste te hou, die indiensneming van 800 post-gemeenskapsdiensdokters en om ʼn bykomende 700 000 kinders (vier jaar oud) toegang tot vroeë kinderontwikkeling (VKO) te gee.
1.2. Ekonomiese groei
1.2.1. Die styging van 0,6% in die vierde kwartaal (BBP) vir 2024 dui op ʼn herstel regoor die ekonomie, synde die landbou-, finansies-, handels- en huishoudelike sektore in die laaste kwartaal van die jaar gegroei het.
1.2.2. Die landboubedryf het met 17,2% herstel, wat BBP-groei met ʼn persentasiepunt van 0,4 verhoog het. Die finansies-, eiendoms- en besigheidsdienstebedryf het vir ʼn agtste agtereenvolgende kwartaal gegroei, met finansiële tussengangers, eiendomsaktiwiteite en ander sakedienste wat die grootste positiewe bydraers tot groei was.
1.2.3. Die Kabinet is vol vertroue dat die groter fokus en tempo van lewering op ekonomiese strukturele hervormings, verbeterde dienslewering en staatskapasiteit, en verhoogde deelname van die private sektor verdere groei van die ekonomie in 2025 en daarna sal aanspoor.
1.3. Belegging
1.3.1. Die Kabinet verwelkom Microsoft South Africa se aankondiging om R5,4 miljard in kunsmatige intelligensie-infrastruktuur in die land te belê. Hierdie belegging sal Suid-Afrika se posisie as ʼn toonaangewende KI-spilpunt op die vasteland van Afrika versterk en bou voort op Microsoft South Africa se belegging van R20,4 miljard oor die afgelope drie jaar.
1.3.2. Microsoft South Africa het ook hul bydrae tot die ontwikkeling van Suid-Afrika se digitale geletterdheid aangekondig deur te betaal vir die tegniese sertifisering van 50 000 individue in digitale vaardighede met ʼn hoë aanvraag.
1.3.3. Om ons beleggingsprofiel verder op te hef, het die Indiese motorvervaardiger Mahindra ʼn memorandum van verstandhouding met Suid-Afrika se Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) onderteken om die moontlikheid te ondersoek om ʼn volskaalse voertuigmonteeraanleg in die land op te rig. Mahindra het reeds ʼn monteeraanleg van Pik Up-reeks voertuie in Durban wat deur AIH Logistics bedryf word, waar ons onlangs die produksie van hul 25 000e plaaslik-saamgestelde Pik Up-voertuie gevier het.
1.3.4. Die Kabinet herinner elke Suid-Afrikaner as direkte aandeelhouer in South Africa Incorporated (SA Inc.) aan hul gevestigde belang om ons land as ʼn beleggingsbestemming in ʼn wêreldwye mededingende omgewing te bevorder. Ons moet voortgaan om met een stem te praat ter verdediging van ons nasionale belang, ons soewereiniteit en ons grondwetlike demokrasie.
2. Internasionale betrekkinge
2.1. Suid-Afrika se presidentskap van die Groep van Twintig (G20)
2.1.1. As deel van sy G20-presidentskap, het Suid-Afrika einde Februarie en tydens Maart die volgende G20-werkgroepe en taakspanvergaderings suksesvol aangebied:
2.1.1.1. Die G20-navorsings- en innovasiewerkgroep (RIWG)-vergadering, wat van 23 tot 25 Februarie 2025 by die Universiteit van die Vrystaat in Mangaung gehou is, het bespreek hoe hulle navorsing en innovasie beter kan gebruik om globale uitdagings aan te spreek en wetenskap en tegnologie te bevorder. Hulle het ook besin oor die prioriteite vir die jaar wat voorlê, naamlik:
(a) Prioriteit 1: Oop innovasie vir ontwikkeling;
(b) Prioriteit 2: Biodiversiteit vir volhoubare ontwikkeling; en
(c) Prioriteit 3: Diversiteit, billikheid, insluiting en toeganklikheid in wetenskap, tegnologie en innovasie.
2.1.1.2. Die eerste teenkorrupsiewerkgroepvergadering (te Kaapstad, 3 tot 5 Maart 2025) wat meganismes ondersoek het ter verbetering van die implementering van regsinstrumente om korrupsie te beveg. Hierdie vergadering was ʼn geleentheid vir deelnemers om die agenda vas te stel en die grondslag te lê vir toekomstige besprekings, deur dialoog en samewerking aan te moedig om teenkorrupsiestrategieë te versterk. Tydens hierdie vergadering het deelnemers die volgende verskeie sleutelprioriteite bespreek en op die volgende ooreengekom:
(a) Prioriteit 1: Versterking van die integriteit van die openbare sektor;
(b) Prioriteit 2: Verhoog bateherwinningsdoeltreffendheid;
(c) Prioriteit 3: Inklusiewe deelname; en
(d) Prioriteit 4: Beskerming van fluitjieblasers.
2.1.1.3. Die eerste landbouwerkgroepvergadering, wat virtueel op 3 en 4 Maart 2025 gehou is, het kritieke kwessies bespreek wat landboubelanghebbendes wêreldwyd raak en ooreengekom op prioriteite vir die jaar wat voorlê. Hierdie is as volg:
(a) Prioriteit 1: Bevordering van inklusiewe markdeelname en voedselsekerheid;
(b) Prioriteit 2: Bemagtiging van jeug en vroue in landbouvoedselstelsels;
(c) Prioriteit 3: Bevordering van innovasie en tegnologie-oordrag; en
(d) Prioriteit 4: Bou klimaatveerkragtigheid vir volhoubare landbou.
2.1.1.4. Die eerste toerismewerkgroepvergadering wat op 5 Maart 2025 virtueel gehou is, het beraadslaag oor hoe toerisme gebruik kan word om mense se lewens, gemeenskappe en die wêreld te verander. Hulle het ook beraadslaag oor en ooreengekom om aan vier prioriteite vir die jaar te werk, naamlik:
(a) Prioriteit 1: Mensgesentreerde KI en innovasie om reis- en toerisme-ondernemings en KMMO’s te verbeter;
(b) Prioriteit 2: Toerismefinansiering en belegging om gelykheid te verbeter en volhoubare ontwikkeling te bevorder;
(c) Prioriteit 3: Lugkonnektiwiteit vir naatlose reis; en
(d) Prioriteit 4: Verbeterde veerkragtigheid vir inklusiewe, volhoubare toerisme-ontwikkeling.
2.1.1.5. Die eerste vergadering van die werkgroep vir ramprisikovermindering wat op 5 Maart 2025 virtueel gehou is, het die versnelling van vroeë waarskuwings vir alle inisiatiewe bespreek, wat ʼn belangrike wêreldwye teiken is wat deur die Verenigde Nasies (VN) gestel is. Die implementering van die Sendai-raamwerk vir ramprisikovermindering 2015-2030 is ook versterk. Suid-Afrika beskou hierdie vergadering as ʼn belangrike internasionale forum om die agenda van ʼn gedeelde verantwoordelikheid te dryf om veerkragtigheid te bou, ons samewerking te versterk en betekenisvolle optrede te dryf wat nodig is om ʼn verhoging of verergering van risiko te voorkom. Die vergadering het ooreengekom op die volgende prioriteite:
(a) Prioriteit 1: Ongelykhede aanspreek en kwesbaarhede verminder;
(b) Prioriteit 2: Wêreldwye dekking van vroeë waarskuwingstelsels;
(c) Prioriteit 3: Rampveerkragtige infrastruktuur;
(d) Prioriteit 4: Finansiering vir ramprisikovermindering;
(e) Prioriteit 5: Rampherstel, rehabilitasie en heropbou; en
(f) Prioriteit 6: Ekosisteem-gebaseerde benaderings vir DRR/natuurgebaseerde oplossings.
2.1.1.6. Die eerste voedselsekerheidtaakspanvergadering, wat virtueel op 5 Maart 2025 gehou is, het beleide en programme bespreek om voedselsekerheid te verbeter. Deelnemers het ingestem om ʼn sterker, regverdiger en meer volhoubare voedselstelsel te bou. Hulle het hul ook daartoe verbind om sleuteluitdagings soos handelshindernisse, befondsing vir voedselproduksie en die impak van klimaatsverandering op voedselvoorsieningskettings aan te spreek. Sommige van die prioriteitsuitkomste wat bespreek is, is die volgende:
(a) Prioriteit 1: Sterker voedselsekerheidsbeleid;
(b) Prioriteit 2: Stabiele voedselpryse;
(c) Prioriteit 3: Duidelike regulasies en standaarde;
(d) Prioriteit 4: G20-aksieplan vir voedselsekerheid; en
(e) Prioriteit 5: Ministeriële goedkeuring en implementering.
2.1.1.7. Die G20-uitreikprogram wat op 7 Maart 2025 by die Universiteit van Venda in Thohoyandou gehou is, het ten doel gehad om breër openbare dialoog en deelname aan Suid-Afrika se G20-presidentskap te bevorder. Die byeenkoms is gebruik om die landsburgers aan te moedig om betrokke te raak by die verwelkoming van gaste in die land terwyl ons voortgaan om byeenkomste in verskeie dele van die land aan te bied, en om hul kultuur en erfenis te bevorder. Suid-Afrikaners is ook aangemoedig om ʼn goeie storie oor hul land te vertel.
2.1.2. Die volgende G20-werkgroepe en taakgroepvergaderings sal tot einde Maart 2025 plaasvind:
2.1.2.1 Eerste vergadering van die taakspan vir inklusiewe ekonomiese groei, industrialisasie, indiensneming en vermindering van ongelykheid: 17 Maart 2025 – virtueel.
2.1.2.2 Eerste handels- en beleggingswerkgroepvergadering: 18 tot 20 Maart 2025 – virtueel.
2.1.2.3 Tweede gesondheidswerkgroep: 26 tot 28 Maart 2025 – Durban.
2.1.2.4 Eerste werkgroepvergadering vir klimaat- en omgewingsvolhoubaarheid: 25 tot 28 Maart 2025 – virtueel.
2.1.3. Inligting oor hierdie verskillende G20-vergaderings en hul uitkomste kan verkry word op www.g20.org OR www.g20.org.za
2.2 Humanitêre hulp aan Palestina
2.2.2 Die Kabinet veroordeel Israel se weiering om humanitêre hulp in die Gasa-strook toe te laat en die land se sluiting van grensoorgange in ʼn tyd waarin die mense van Gasa onmeetbare lyding ervaar en dringend voedsel, skuiling en mediese voorraad benodig.
2.2.3 Hierdie optrede is ʼn voortsetting van Israel se gebruik van hongersnood as ʼn oorlogswapen as deel van die voortdurende veldtog wat die Internasionale Hof van Justisie as aanneemlike volksmoord teen die Palestynse volk beslis het.
2.2.4 Die Kabinet herhaal ons land se beroep op die internasionale gemeenskap om Israel aanspreeklik te hou en die veilige, deurlopende en ongehinderde lewering van humanitêre hulp aan alle gebiede van die Gaza-strook te verseker.
2. Misdaad
2.1. Verwelkoming van die Malawi-hof se uitspraak oor die uitlewering van Shepherd en Mary Bushiri
2.1.1. Die Kabinet verwelkom die beslissing van die Republiek van Malawi se hoofinwonende landdroshof dat Shepherd en Mary Bushiri aan Suid-Afrika uitgelewer word vir misdaadverhoor rakende verskeie kriminele aanklagte, insluitend verkragting, oortreding van die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste, 2002 (Wet 37 van 2002), die Bankwet, 1990 (Wet 94 van 1990), die Immigrasiewet, 2002 (Wet 13 van 2002) en die oortreding van hul borgtogvoorwaardes.
2.1.2. Hierdie uitspraak toon dat niemand van die oppergesag kan vlug nie en bevestig ook die geregtelike onafhanklikheid, internasionale samewerking en wedersydse vertroue tussen die Suid-Afrikaanse en Malawiese regsinstellings.
2.1.3. Ons is bewus daarvan dat die Bushiri’s hul voorneme aangedui het om te appelleer. Ons is egter vol vertroue dat ons ʼn sterk saak teen hulle het.
2.1.4. Suid-Afrika is gereed om met Interpol saam te werk om die oordragreëlings en logistiek te koördineer om te verseker dat die Bushiri’s na Suid-Afrika gebring word om verhoor te word.
3. Erge weer
3.1. Onlangse swaar reën het verskeie lewens geëis en honderde mense ontwortel gelaat, met huise en infrastruktuur wat ernstig beskadig is in KwaZulu-Natal.
3.2. Die impak van erge weerstoestande in KwaZulu-Natal is as ʼn nasionale ramptoestand verklaar om die provinsiale departement van korporatiewe bestuur en tradisionele sake in staat te stel om alle staatsorgane te mobiliseer om ondersteuningsmaatreëls aan te vul en die impak van die ramp op gemeenskappe te beperk.
3.3. Die regering gaan voort om vloedslagoffers van hulp te voorsien en die departement van menslike nedersettings het R100 miljoen aan KwaZulu-Natal toegeken om te help met die bestuur van die nasleep van die vloede.
3.4. Die Kabinet doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om uiters versigtig te wees wanneer daar gure weer is. Swaar reën hou ʼn risiko van plaaslike oorstromings in, veral in laagliggende gebiede, brûe en paaie.
3.5. In gevalle van swaar reën word gemeenskappe aangemoedig om oorstroomde paaie te vermy en om nuusuitsendings, radiobulletins en die amptelike sosiale mediaplatforms van die regering dop te hour vir intydse opdaterings en waarskuwings.
B. Opdatering van die kabinet
1. Beskerming en verbetering van die nasionale minimum loon (NML)
1.1. Die Kabinet het ʼn verslag van die departement van indiensneming en arbeid ontvang en in oorweging geplaas oor die vordering wat gemaak is om die NML te beskerm en te verbeter.
1.2. Die NML-wet, 2018 (Wet 9 van 2018), wat in November 2018 gepromulgeer is, het die grondslag gelê vir die vermindering van inkomste-ongelykheid en loongapings, en gaan voort om lae-inkomstewerkers in die land te beskerm.
1.3. Vanaf 1 Maart 2025 het die NML met 4% gestyg, van R27,58 tot R28,79 per uur. Hierdie verhoging het ten doel om noodsaaklike ekonomiese ondersteuning en broodnodige verligting te bied aan die ses miljoen werkers wat binne die NML-groep val.
2. Bevordering van grondslagleer
2.1. Die Kabinet het sy steun uitgespreek vir die strategiese heroriëntering van die basiese onderwyssektor na grondslagleer.
2.2. In Januarie 2025 het die departement van basiese onderwys ʼn rekordhoë matriekslaagsyfer van 87,4% aangekondig en gevier. Net ʼn maand tevore het die departement egter stelselmatige evalueringsresultate van drie verskillende studies bekendgemaak, wat toon dat byna 80% van Suid-Afrikaanse kinders teen die ouderdom van tien nie in enige taal vir begripsleer kan lees nie.
2.3. Om hierdie uitdaging op te los, het die minister van basiese onderwys ʼn strategiese heroriëntering begin wat die volgende inisiatiewe sal hê:
2.3.1. Universele toegang tot gehalte-VKO (vroeë kinderonderwys) deur die massaregistrasie van VKO-sentrums, wat sal verseker dat elke kind in VKO-sentrums ʼn subsidie ontvang; VKO-sentrums met leer- en onderrigmateriaal sal ondersteun; en ondersteuning aan praktisyns sal verskaf om onderrigkwalifikasies te verwerf. Befondsing hiervoor is in die 2025 Nasionale Begroting toegeken.
2.3.2. Hersien die norme en standaarde om onderwyserposte in grondslagfase-onderrig te verhoog.
2.3.3. Die Funza Lushaka-beurs sal heroriënteer word om beurse te prioritiseer aan studente wat in die grondslagfase wil onderrig.
2.4. Hierdie strategiese heroriëntering sal grondliggende geletterdheids- en syfervaardighede van leerders versterk en verseker dat hulle later in meer komplekse vakke soos Wiskunde, Wetenskap, Rekeningkunde en Ekonomie bekwaamheid kan verwerf.
3. Elektrisiteitsopwekking-prestasie
3.1. Die Kabinet het ʼn verslag ontvang oor die werk wat Eskom onderneem het om elektrisiteitsopwekking en stabilisering van die nasionale netwerk te verbeter om meer voorvalle van beurtkrag te voorkom.
3.2. Na die herstel van meer as 300 megawatt se opwekkingskapasiteit en die aanvulling van voldoende reserwes, is beurtkrag op Sondag, 9 Maart 2025 om 10:00 opgeskort. Steenkoolbedrywighede by die Kusile-kragstasie funksioneer op optimale vlakke nadat dit vanaf Vrydag, 7 Maart vanlyn was, is suksesvol weer in diens en die Koeberg-eenheid 2 is ook suksesvol weer terug in diens.
3.3. Die algehele opwekkingsprestasie sedert die somer van 2024 het aansienlike verbeterings en stabiliteit getoon, wat gelei het tot 98% van beurtkragvrye dae. Eskom bly optimisties vir ʼn positiewe vooruitsig vir die res van die somertydperk.
C. Kabinetsbesluite
1. Aanbieding van die water- en sanitasie-indaba
1.1. Die Kabinet het die aanbieding van die water- en sanitasie-indaba op 27 en 28 Maart 2025 te Gauteng goedgekeur.
1.2. Hierdie geleentheid dien as ʼn opvolg van die waterberaad wat in Januarie 2024 gehou is, waar alle waterdienste-owerhede byeengekom het om sleutelsektoruitdagings aan te spreek, na aanleiding van die vrystelling van die groen- en blouwaterdruppelverslae.
1.3. Die beraad het ʼn aksieplan opgestel om hierdie kwessies aan te pak en die indaba sal ʼn geleentheid bied om vordering wat gemaak is, te evalueer en verdere stappe te identifiseer waar nodig.
1.4. Die verwagte uitkomste van die indaba is konsensus oor die stand van watersekerheid in Suid-Afrika, vordering met onvolledige aksies van die 2024-waterberaad en sleutelaksies wat nodig is om watersekerheid te verbeter, asook ʼn bygewerkte (nuwe) aksieplan.
1.5. Die Kabinet erken die watersekerheidsuitdagings wat die land in die gesig staar en bevestig sy verbintenis om te verseker dat elke Suid-Afrikaner toegang tot skoon, veilige en volhoubare water- en sanitasiedienste het.
2. Die 2e, 3e en 4e tydperk landverslag oor die VN-konvensie oor die regte van persone met gestremdhede (UNCRPD)
2.1. Die Kabinet het dit goedgekeur dat die departement van vroue, jeug en persone met gestremdhede die 2e, 3e en 4e UNCRPD-periodieke verslag aan die VN voorlê. Die verslag verskaf ʼn opdatering oor die vordering wat Suid-Afrika gemaak het om die regte van persone met gestremdhede te bevorder en te beskerm.
2.2. Die Kabinet het die basislynlandverslag oor die implementering van die UNCRPD in 2013 goedgekeur en die verslag is daarna in 2014 gedeponeer.
2.3. Hierdie gekombineerde vorderingsverslag gee ʼn oorsig van die regering se prestasie in die implementering van die Witskrif oor die Regte van Persone met Gestremdhede. Dit beklemtoon beleids- en wetgewende hervormings asook maatreëls wat getref is om die regte van persone met gestremdhede te beskerm en te bevorder. Die verslag bevat pogings in onderwys, bewusmaking, gesondheid, maatskaplike dienste, toegang tot geregtigheid en indiensneming vir persone met gestremdhede. Die verslag sal op die webwerf gepubliseer word: www.gov.za
D. Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en relevante sekuriteitsklarings.
1. Mnr Neil Jansen as Adjunkdirekteur-generaal: Menslike Hulpbronbestuur en -Ontwikkeling in die departement van binnelandse sake.
2. Aanstelling van die Alexkor-raadslede
(a) Me. Dineo P. Peta (voorsitter);
(b) Me. Hilary A. Swartbooi;
(c) Adj. Prof. Trevor G. Fowler;
(d) Me. Shinduvi Zitha;
(e) Me. Bongi Ngxishe;
(f) Dr Jonty Tshipa;
(g) Mnr Nico Patrick Swart; en
(h) Mnr Freddy Raseote.
E. Komende gebeurtenisse
1. Inhuldigingsberaad vir die nasionale stelsel van innovasietransformasie
1.1 Die eerste nasionale stelsel van innovasie-transformasieberaad vind van 13 tot 14 Maart 2025 plaas om Suid-Afrika se wetenskap-, tegnologie- en innovasievermoëns te benut op ʼn wyse wat insluiting fasiliteer.
1.2 Die beraad bring wetenskaprade, hoëronderwysinstellings, staatsdepartemente, die sakesektor en georganiseerde arbeid byeen om te beraadslaag oor die huidige en toekomstige rol van die land se nasionale stelsel van innovasie. Dit sal aksies aanbeveel om die verwesenliking van inklusiewe en volhoubare sosio-ekonomiese ontwikkeling tot voordeel van alle Suid-Afrikaners te versnel.
2. 8e beraad tussen Suid-Afrika en die Europese Unie (EU)
2.1 Die 8e beraad tussen Suid-Afrika en die EU vind op 13 Maart 2025 in Kaapstad plaas en dit sal tesame gelei word deur president Cyril Ramaphosa, die president van die Europese Raad, mnr António Luís Santos da Costa, en die president van die Europese Komissie, dr Ursula von der Leyen om die sterk betrekkinge tussen Suid-Afrika en die EU verder te versterk.
2.2 Die beraad sal kwessies van handel en belegging bespreek, tesame met groter wedersydse samewerking en versterkte bilaterale betrekkinge tussen Suid-Afrika en die EU.
2.3 Die beraad sal na verwagting samewerkende benaderings ondersoek om streeks- en globale uitdagings aan te spreek, insluitend klimaatsverandering, menslike onsekerheid, vrede, veiligheid en stabiliteit, die groen oorgang en hervorming van globale bestuursinstellings.
2.4 Die beraad sal ook steun vir Suid-Afrika se G20-presidentskap en sy prioriteite herbevestig, insluitend die tema van “Solidariteit, Gelykheid en Volhoubaarheid”.
F. Boodskappe
1. Gelukwensings
Die Kabinet het hul gelukwense en welmenendheid gerig aan:
• Dylan Naidoo, die eerste swart Suid-Afrikaner wenner van die gesogte SA Ope gewen het, een van die oudste wêreldgholfkampioenskappe. Sy oorwinning het hom ʼn plek in Julie se Ope-kampioenskap by Royal Portrush verseker.
• Ncazelo Mlilo, vir haar nominasie in twee kategorieë vir die gesogte Women Changing the World-toekennings. Die toekennings gee erkenning aan vroue regoor die wêreld wat uitsonderlike werk doen om lewens te verander.
• Die Moslem-gemeenskap, wat tans hul heilige maand van Ramadan vier.
• Mnr Patrice Motsepe, met sy herverkiesing as CAF-president. Sy bydrae tot die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse en Afrika-sokker maak ons steeds trots.
2. Medelye
Die Kabinet spreek hul medelye uit met die vriende en familie van:
• Die 31 passasiers wat hul lewens verloor het in drie afsonderlike busongelukke tussen Reddersburg en Smithfield in die Vrystaat; op die N2-Noord naby Mandeni, KwaZulu-Natal; en op die R21 in Ekurhuleni, Gauteng.
• Vier laerskoolleerders wat hul lewens verloor het in ʼn padongeluk op die N12 in Daveyton in Ekurhuleni, Gauteng.
• Fluitjieblaser en geslagsaktivis Pamela Mabini wat opgestaan het vir vroue wat GGG ervaar het en verseker het dat oortreders van GGGV tot verantwoording geroep word.
• Crystal-Donna Roberts, die Suid-Afrikaanse aktrise en aanbieder wat in rolprente soos The Endless River en Krotoa gespeel het en in Arendsvlei, Swartwater en 7de Laan verskyn het.
• Dr Gomolemo Mokae, anti-apartheids- en swart bewussynsaktivis, mediese dokter en skrywer wat ʼn aktiewe voorstander van Afrikatale was. Hy het die multilinguistiese toekenning van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad ontvang vir die bevordering van die gebruik van inheemse tale in Suid-Afrikaanse literatuur.
• Mnr Athol Fugard, die wêreldbekende akteur, romanskrywer en dramaturg wat plaaslik en internasionaal erkenning ontvang het vir sy uitstaande bydraes tot die teaterwese. In 2001 is hy opgeneem in die American Theatre Hall of Fame en het in 2005 Suid-Afrika se Orde van Ikhamanga ontvang.
• Ebenhaezer Dibakwane, die bekroonde komediant, akteur en skrywer.
• Khomotso Jacob Makwetla, ʼn voorstander van swart sakebemagtiging, wat ook bygedra het tot die ontwikkeling van sokker en boks in die land.
Uitgereik deur: Regeringskommunikasie- en inligtingstelsel (GCIS)
Navrae: Me Nomonde Mnukwa – waarnemende regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485