A. Kwessies in die omgewing
1. Ekonomie
1.1. Ekonomiese groei
1.1.1 Die Kabinet neem kennis van die bruto binnelandse produk (BBP) se syfers soos deur StatsSA bekend gemaak, wat daarop dui dat die ekonomie in die eerste kwartaal van 2025 met 0.1% gegroei het. Dit volg op 'n toename van 0.4% in die 4de kwartaal van 2024.
1.1.2 Die landbou-, bosbou- en visbedryf het onder meer met 15,8% gestyg, terwyl die vervoer-, bergings- en kommunikasiebedryf met 2,4% gestyg het. Hierbenewens het die handel-, spysenierings- en akkommodasiebedryf met 0,5% gestyg.
1.1.3 Die Kabinet bly bekommerd oor die agteruitgang in die vervaardigingsbedryf, veral omdat die regering die bevordering van plaaslike vervaardiging geprioritiseer het en op die finalisering van die hersiene nywerheidsbeleid wag.
1.1.4 Die regering het begrip vir die impak van die uitdagings binne die vrag- en logistiekbedryf, wat steeds die groei van die mynbedryf beïnvloed. Ons handhaaf ook 'n vlymskerp fokus op die werk van Operasie Vulindlela Fase 2 en die regering se sakevennootskap om die land se logistieke uitdagings dringend op te los.
1.1.5 As sodanig verwelkom die Kabinet die Nasionale Vergadering se goedkeuring van die 2025 Fiskale Raamwerk, wat staatsbesteding aan infrastruktuurbelegging (een triljoen rand oor die tydperk van drie jaar) sal verhoog.
1.2 Kwartaallikse Arbeidsmagopname
1.2.1 Die Kabinet het kennis geneem van mediaberigte waarin kommer uitgespreek word oor die indiensnemingsyfers in die informele sektor soos uit die kwartaallikse arbeidsmagopname blyk.
1.2.2 Die kwartaallikse arbeidsmagopname versamel op 'n kwartaallikse basis data oor die arbeidsmark-aktiwiteite van individue van 15 jaar en ouer. Verder lewer StatsSA elke vier jaar 'n omvattende verslag, wat 'n toegewyde module vir die Opname van Werkgewers en Selfstandiges (mense in eie diens) insluit. Hierdie werkersopname het ten doel om diepgaande insig in die kenmerke en bedrywighede van ondernemings in Suid-Afrika se informele sektor te verskaf.
1.2.3 Die Kabinet het die opsie van 'n kwartaallikse of jaarlikse werkersopname bespreek, maar StatsSA benodig toegang tot 'n register van informele besighede waaruit ’n verteenwoordigende steekproef getrek kan word.
1.2.4 Ons het voorheen aangekondig dat die Kabinet die Nasionale Besigheidslisensiëringsbeleid (NBLB) goedgekeur het, wat onder meer 'n gestandaardiseerde lisensiëring van informele besighede moontlik sal maak. Oor 'n tydperk van die implementering van hierdie beleid behoort die Departement van Kleinsakeontwikkeling 'n betroubare register van informele besighede te kan skep wat die arbeidsmagopname en die moontlikheid van 'n jaarlikse werkersopname sal verbeter.
2. Geregtigheid en misdaadvoorkoming
2.1 Veiligheid en sekuriteit
2.1.1 Die Kabinet neem kennis van die voortdurende debat oor misdaad in Suid-Afrika en bewerings dat daar nie 'n konkrete regeringsplan is om misdaad in Suid-Afrika te bekamp nie. Dit is ondanks die feit dat die Minister van Polisie op 23 Mei 2025 die 2024/25 Kwartaal 4 (1 Januarie – 31 Maart 2025) misdaadstatistieke vrygestel het.
2.1.2 Met die vrystelling van misdaadstatistieke het die Minister van Polisie die 7de Administrasie se polisiëringsprioriteite as volg uiteengesit: (a) ’n afname in die moordsyfer; (b) ’n afname in onwettige vuurwapens en die verskerping van beheer oor wettige vuurwapens; (c) die stryd teen GGGV; (d) aftakeling van georganiseerde misdaad, insluitend dwelmhandelsindikate, transitorooftogte, afpersing en ontvoerings, die aanpak van bendegeweld en die bekamping van korrupsie – binne die SAPD sowel as regoor die land.
2.1.3 Die 2024/25 4de kwartaalstatistieke het vordering (’n algemene afname) getoon in vergelyking met dieselfde tydperk in die vorige boekjaar. Byvoorbeeld uit die 30 hoë-misdaadpolisiestasies in terme van aanmelding, het 13 laer syfers aangeteken, en twee het geen verandering aangeteken nie.
2.1.4 Wat plaasmoorde betref, dui die misdaadstatistiek op aanvalle op kommersiële plase. Hoewel die regering in beginsel nie mense in terme van ras kategoriseer nie, dui ons na aanleiding van onlangse verkeerde inligting, die volgende syfers aan, naamlik dat die plaaseienaars wat vermoor is albei (2) swart is; dat twee (2) plaaswerkers wat slagoffers was swart is, en dat een van die vyf plaasbestuurders wat vermoor is, swart was.
2.1.5 Wat onwettige vuurwapens betref lewer Operasie Shanela steeds resultate, soos blyk uit die onlangse beslaglegging op 128 onwettige vuurwapens en 82 inhegtenisnemings.
2.1.6 Die werk van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek lewer steeds resultate wat onder meer daarop dui dat 656 verdagtes in die hof verskyn het. Dit sluit in 364 gevalle wat verband hou met ernstige georganiseerde misdade, 220 met ernstige kommersiële misdaad en 72 met ernstige korrupsie.
2.1.7 Met betrekking tot GGGV sal rondetafelbesprekings op Vrydag 13 Junie onder leiding van die Interministeriële Komittee by die Atteridgeville-gemeenskapsaal in Pretoria gehou word. Die besprekings sal op die implementering en vordering van die Nasionale Strategiese Plan fokus. Dit sal ook die doeltreffendheid van dienste wat aan GGGV-slagoffers gelewer word, evalueer en versterk.
2.1.8 Die Kabinet verwelkom die skuldbekentenis van een van die huurmoordenaars wat verantwoordelik is vir die moord op die voormalige sekretaris-generaal van die African National Congress Youth League, Sindiso Magaqa en 'n raadslid van Umzimkhulu in Julie 2017. Die Kabinet neem politieke moorde baie ernstig op omdat die slagoffers meestal diegene is wat toegewyd is aan die stryd teen korrupsie. Ons is hoopvol dat hierdie deurbraak verdere lig sal werp op ander rolspelers wat betrokke is.
2.2 Repatriasie van Suid-Afrikaners in ballingskap se oorskot
2.2.1 Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van fase 2 van die Ballingskap-repatriasieprojek, wat die herbegrafnis van Khoi- en San-voorvaders se menslike oorskot insluit. Klem sal egter gelê word op die opsporing, opgrawing en teruggee van die oorskot van vryheidsvegters wat in ballingskap gesterf het. Die inisiatief om die oorskot van Khoi en San van buite die land huis toe te bring en te herbegrawe, is ’n belangrike stap om Suid-Afrika se voorvader-erfenis akkuraat aan te teken. Die herbegrafnis van die 58 voorvaders se oorskot uit die Noord-Kaap, is in 'n gevorderde stadium en konsultasies met gemeenskappe wat hierdeur geraak word, is op dreef.
2.2.2 Hierdie inisiatief bou voort op die sukses van die repatriasie van 49 voormalige vryheidsvegters in 2024 en is 'n bewys van die regering se verbintenis om historiese ongeregtighede die hoof te bied en 'n gevoel van eenheid en genesing binne die land te bevorder. 'n Gesamentlike afvaardiging sal binnekort 'n tegniese sending na Angola, Lesotho, Zambië en Zimbabwe onderneem om navorsing, inspeksie van begraafplaasrekords en grafkartering te doen.
2.3 Viering van die stigting van die Konstitusionele Hof
2.3.1 In 2025 vier ons 25 jaar sedert die eerste sitting van die Konstitusionele Hof, wat 'n belangrike instrument in die beskerming van ons grondwetlike demokrasie is.
2.3.2 Dit is in hierdie gees dat die Kabinet met President Cyril Ramaphosa as aanbieder, die besprekings tussen die regering en die regbank onder leiding van hoofregter Mandisa Maya en hoofde van howe, verwelkom het. Die gesprekke het gefokus op die implementering van die uitstaande administratiewe maatreëls om uitvoering te kan gee aan die grondwetlike bepalings, wat sal verseker dat die regbank, soos die parlement, as 'n onafhanklike been van die staat funksioneer. Die uitvoerende gesag sowel as die regbank het ’n gedeelde verbintenis tot die bou van 'n sterker, doeltreffender regstelsel wat stewig geanker is in die waardes van ons Grondwet herbevestig.
3. Maatskaplike beskerming en menslike ontwikkeling
3.1 Uiterste weer
3.1.1 Die Kabinet betuig sy meegevoel met die naasbestaandes van diegene wat tydens oorstromings in verskeie gebiede in die Oos-Kaap gesterf het. Tot op hede het altesaam 57 mense hul lewens verloor. Verskeie gesinne is ook ontwortel en infrastruktuur is beskadig in die Oos-Kaap en in KwaZulu-Natal.
3.1.2 Die regering koördineer reddings- en ondersteuningsoperasies deur beide die nasionale en provinsiale rampbestuursentrums soos gekoördineer deur die Interministeriële Komitee oor Rampbestuur. Noodspanne is ook van Gqeberha, Oos-Londen en die Chris Hani-distrik na die rampgebiede ontplooi om plaaslike regerings te ondersteun.
3.1.3 Die Kabinet waarsku almal om oor die volgende paar dae waaksaam te wees vir die verwagte uiterste weerstoestande in die meeste dele van die land. Dit kan dalings in temperatuur, sneeu, sterk winde en swaar reën insluit.
3.1.4 Burgers word aangeraai om plaaslike weerberigte op radio, televisie en sosiale media te monitor, en om nie in onveilige toestande te reis nie. Reisigers word aangemoedig om hul reise te herskeduleer of uit te stel wanneer hulle ongunstige weerstoestande in die gesig staar.
4. Gesondheid
4.1 Nuwe Covid-19-variant in sekere streke van Asië
4.1.1 Die Kabinet verseker Suid-Afrikaners dat die land, deur die Departement van Gesondheid die verskyning van 'n nuwe Covid-19-variant, naamlik Nimbus of NB.1.8.1, noukeurig dophou. Die variant word geassosieer met 'n toename in gevalle in sekere streke van Asië.
4.1.2 Die Kabinet doen 'n beroep op alle burgers om goeie higiënepraktyke toe te pas, soos om nie onnodige mekaar se hande aan te raak nie, hul hande met seep te was, hul monde te bedek tydens hoes of nies, 'n masker te gebruik indien hulle griep het, en tuis te bly as hulle siek voel. Ons het tydens die Covid-19-pandemie gewys dat ons deur hierdie eenvoudige maatreëls die verspreiding van respiratoriese siektes kan verminder.
4.2 Bek-en-klouseer
4.2.1 Die Kabinet verwelkom die Departement van Landbou se vinnige reaksie nadat bek-en-klouseer uitgebreek het. Die provinsies wat die meeste geraak word is KwaZulu-Natal (KZN), Mpumalanga en Gauteng. Die departement het meer as 900 000 dosisse entstof bestel en verwag dat die eerste groep binnekort sal arriveer.
4.2.2 In gebiede waar daar aktiewe uitbrekings is, word alle besmette eiendomme onder kwarantyn geplaas. Geen beweging word in, uit of deur hierdie gebiede of plase toegelaat nie. Groot gebiede waar individue nie met kwarantynkennisgewings bedien kan word nie, word tot siektebestuursgebiede verklaar en dieselfde beperkings geld.
4.2.3 Hierbenewens is planne aan die gang om 'n biosekuriteitsraad te stig wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens, veeartse, wetenskaplikes, die grensbestuursowerheid en nywerheidskapteins byeen sal bring om beter op toekomstige uitbrekings te reageer en die verwante risiko's te bestuur.
4.3 Inisiasieseisoen
4.3.1 Die 2025-winterinisiasieseisoen is op hande. Die regering bly daartoe verbind om die veiligheid van ingewydes te verseker terwyl die kulturele heiligheid van die praktyk behoue bly.
4.3.2 Verskeie maatreëls word vir die 2025-inisiasieseisoen geïmplementeer, insluitend verpligte registrasie en verifikasie van inisiasieskole asook deeglike mediese sifting van alle ingewydes. Enige skool wat die wet oortree, veiligheidsregulasies verontagsaam of lewens in gevaar stel, sal sonder huiwering gesluit word.
4.3.3 Die Kabinet doen 'n beroep op ouers en voogde om ook van hulle kant af die veiligheid van hul seuns te verseker deur slegs gemagtigde inisiasieskole te gebruik. Ouers kan onwettige inisiasieskole by wetstoepassingsagentskappe of by hul naaste polisiestasie aanmeld.
5. Bestuur
5.1 Nasionale dialoog
5.1.1 Die Kabinet verwelkom president Cyril Ramaphosa se aankondiging van ’n datum vir die Nasionale Konvensie, naamlik 15 Augustus 2025. Die konvensie is deel van die proses na 'n nasionale dialoog. Dit is 'n geleentheid vir alle Suid-Afrikaners uit alle vlakke van die samelewing om uitdagings wat ons land in die gesig staar te bespreek en oplossings voor te stel wat deur die regering oorweeg moet word vir moontlike implementering.
5.1.2 President Ramaphosa het 'n interministeriële komitee aangestel wat deur adjunkpresident, Paulos Mashatile, gelei sal word om die Nasionale Konvensie sowel as die Nasionale Dialoog voor te berei, te koördineer en te fasiliteer.
5.1.3 President Ramaphosa het verder 'n groep vooraanstaande burgers aangestel wat leiding aan die regering sal gee ten opsigte van beide die Nasionale Konvensie en die Nasionale Dialoog.
5.2 Plaaslike regering-oudituitkomste
5.2.1 Die Kabinet neem kennis van die 2023/24 Algemene Verslag oor Plaaslike Regering-oudituitkomste, wat 'n paar verbeterings op die gebied van finansiële state en prestasieverslae toon.
5.2.2 Die verslag beklemtoon dat 41 munisipaliteite skoon oudits in die 2023/24-boekjaar behaal het. Dit dui ook aan dat 59 munisipaliteite hul oudituitkomste sedert 2020/21 verbeter het, terwyl slegs 40 agteruitgegaan het.
5.2.3 Die Ouditeur-generaal van Suid-Afrika het opgemerk dat daar 'n toename in onreëlmatige uitgawes was. Hierdie uitgawes oortree of is nie in ooreenstemming met die vereistes van die Wet op Openbare Bestuur en ander toepaslike wetgewing nie. Sodra dit deur die ouditeur-generaal geïdentifiseer is, beteken dit dat die entiteit versuim het om die toepaslike wette in ooreenstemming met relevante bepalings van die ouditeur-generaal na te kom.
5.2.4 Die Kabinet is bemoedig deur die ouditeur-generaal se verbintenis om nuttelose en verkwistende uitgawes voor die einde van haar ampstermyn uit te roei. Nuttelose en verkwistende uitgawes word gedefinieer as uitgawes wat tevergeefs gemaak word en dus geen voordeel en waarde vir die bepaalde entiteit ingehou het nie.
5.2.5 Deur die implementering van plaaslike regeringshervormings wat onder Operasie Vulindlela Fase 2 ingestel is, sal die regering daaraan werk om hierdie belangrike verbintenis deur die ouditeur-generaal te ondersteun en saam met entiteite te werk om voorgeskrewe prosesse te volg en onreëlmatige uitgawes te reguleer. Hierdie werk kan ook aangevul word deur die Witskrif vir Plaaslike Regering te hersien om gevalle van onreëlmatige uitgawes wat deur wetgewende leemtes veroorsaak word, uit te skakel.
5.3 Skoon stede- en dorpeveldtog
5.3.1 Die Kabinet verwelkom adjunkpresident Paulos Mashatile se bekendstelling van die skoon stede- en dorpeveldtog om gemeenskappe aan te moedig om die land se stede en dorpe skoon te hou.
5.3.2 Hoewel die veldtog in die Stad Johannesburg van stapel gestuur word, sal dit in die komende weke na stede en dorpe in ander provinsies uitgebrei word.
5.3.3 Die Kabinet doen 'n beroep op burgers om verantwoordelikheid daarvoor te neem om ons openbare ruimtes skoon en aantreklik te hou en om eienaarskap van ons omgewing te neem. Hierdie landwye inisiatief is daarop gemik om skoner, groener en meer inklusiewe stedelike ruimtes te skep.
6. Internasionale aangeleenthede
6.1 G7-beraad
6.1.1 President Cyril Ramaphosa woon die G7-leiersberaad in Kananaskis, Kanada, van 15 tot 17 Junie 2025 by.
6.1.2 Die G7-beraad het ten doel om dringende wêreldwye uitdagings die hoof te bied; dit sluit in die bevordering van inklusiewe ekonomiese groei, die bekamping van klimaatsverandering en die navigasie van die kompleksiteite van vinnig ontwikkelende tegnologieë.
6.1.3 Besprekings sal na verwagting ook op internasionale veiligheidskwessies fokus, veral op die voortslepende konflik in die Oekraïne en die versterking van wêreldwye ekonomiese stabiliteit.
6.2 Suid-Afrika-Ruslandbetrekkinge
6.2.1 Adjunkpresident, Paulos Mashatile, sal tussen 16 en 21 Junie 2025 'n werksbesoek aan die Russiese Federasie onderneem om die jarelange diplomatieke en ekonomiese bande tussen Suid-Afrika en die Russiese Federasie te versterk.
6.2.2 Die besoek bied 'n geleentheid om ekonomiese vennootskappe verder te versterk, nuwe weë vir samewerking te ondersoek en vrede in die streek te bevorder. Suid-Afrika bepleit 'n vreedsame oplossing van die Rusland/Oekraïne-konflik en speel steeds 'n rol as 'n neutrale arbiter.
B. Opdaterings aan die Kabinet
1. Implementering van die Water- en Sanitasie-indaba se uitkomste
1.1. Die Kabinet is op die hoogte gehou van planne om die uitkomste van die Water- en Sanitasie-indaba te implementeer. Die Indaba is byeengeroep om oplossings te vind vir die water- en sanitasie-uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar.
1.2. Die uitkomste bevestig die regering se verbintenis om sektorale uitdagings te oorkom en 'n volhoubare water- en sanitasiesektor te bou, wat tot die handhawing van alle Suid-Afrikaners se waardigheid en welstand bydra.
1.3. Die Kabinet verwelkom belanghebbendes se verbintenis om dienslewering in die sektor te verbeter deur middel van ingrypings oor die kort-, medium- en langtermyn met sleutelbesluite wat op die volgende fokus:
1.3.1. Alle staatsdepartemente moet binne drie maande korrekte fakture van munisipaliteite betaal en munisipaliteite moet streng kredietbeheermaatreëls op staatsdepartemente wat nie betaal nie toepas.
1.3.2. Alle waterdienste-owerhede om hul huidige fakture betyds, onmiddellik en ten volle aan die waterrade te betaal; alle waterrade om hul huidige fakture onmiddellik ten volle aan die Departement van Water en Sanitasie (DWS) te betaal, die DWS en waterrade om onmiddellik die goedgekeurde skuldafskrywingsmeganisme met kwalifiserende munisipaliteite te implementeer, en die DWS om die hersiene rouwaterprysstrategie teen 1 April 2026 te implementeer
1.3.3. Nasionale tesourie om die hersiening van die befondsingsmodel vir plaaslike regering en DWS te finaliseer om binne drie jaar 'n onafhanklike ekonomiese waterreguleerder te vestig om waterpryse regoor die waterwaardeketting te reguleer
1.3.4. Alle waterdienste-owerhede en waterdiensverskaffers wat nog nie nie-inkomste-waterprogramme het nie, om dit teen Mei 2025 in plek te hê; alle waterdienste-owerhede wat nog nie inkomste uit die verkoop van water vir die waterfunksie afgegrens het nie, om binne ses maande hul besluite in hierdie verband na hul Rade te neem; en alle waterdienste-owerhede om hul registers vir behoeftiges te hersien en die verskaffing van gratis basiese water binne twee jaar aan behoeftiges te verseker. Alle ander watergebruikers moet gefaktureer word en inkomste moet van alle ander gebruikers ingevorder word.
2. Voorbereidings vir die G20-beraad
2.1. Die Kabinet is op die hoogte gebring oor die werk wat aan die gang is met betrekking tot die land se voorbereiding om die G20-leiersberaad aan te bied, terwyl verskeie vergaderings steeds plaasvind.
2.2. Die G20-interministeriële komitee het verslag gedoen oor sommige van die beplande G20-nalatenskapprojekte en kantlyngeleenthede onder die vaandel van Suid-Afrika se G20-presidentskap. Dit sluit die toerisme-nalatenskapprojek onder leiding van die Departement van Toerisme in, sowel as geleenthede soos die Tourism Investment Summit, Tourism Hackathon en Tourism Sustainability Village.
2.3. Hierdie projekte is daarop gemik om die G20-platform te gebruik om Suid-Afrika te bevorder en te her-posisioneer as 'n voorkeurbestemming vir toerisme sowel as toerismebelegging.
2.4. Die volgende G20-vergaderings is in Suid-Afrika gehou ter voorbereiding van die G20-beraad
2.4.1. Die derde vergadering van die Digitale Ekonomiewerkgroep wat van 9 tot 11 Junie 2025 in Limpopo gehou is, het op die bevordering van 'n stel gedeelde prioriteite gefokus, wat daarop gerig is om die digitale ekonomie meer inklusief, meer aanspreeklik en meer uitvoerbaar vir volhoubare ontwikkeling te maak.
2.4.2. Die derde vergadering van die Internasionale Finansiële Argitektuurwerkgroep wat van 9 tot 10 Junie 2025 in Limpopo gehou is, het die G20-padkaart se moniterings- en verslagdoeningsraamwerk na beter, groter en doeltreffender multilaterale ontwikkelingsbanke bespreek.
2.4.3. Die G20 Provinsiale Onderwys-indaba wat op 10 Junie 2025 in KZN gehou is, het geleenthede ondersoek wat lidlande in staat sal stel om gehalte vroeë kindersorg en -onderwys te lewer, asook om bekwame leerders vir die toekoms te lewer.
2.4.4. Die U20 Sjerpa-beraad en Afrika-burgemeestersvergadering wat van 12 tot 14 Junie 2025 in Tshwane gehou is, het burgemeesters van verskillende lande byeengebring om oor prioriteite soos ekonomiese geleenthede, klimaatoptrede, sosiale gelykheid en digitale transformasie te beraadslaag.
2.4.5. Die vierde vergadering van die gesondheidswerkgroep het van 10 tot 13 Junie 2025 in Gauteng plaasgevind. Daar is beraadslaag oor geleenthede vir tegnologie-oordrag, volhoubare finansiering en regulatoriese belyning om tydige en billike toegang tot tegnologie, wat lewens kan red tydens gesondheidsnoodgevalle, te verseker.
2.4.6. Die derde taakspanvergadering oor kunsmatige intelligensie (KI), databestuur en innovasie vir volhoubare ontwikkeling, wat van 12 tot 13 Junie 2025 in Limpopo gehou is, het 'n geleentheid vir die G20-lidlande gebied om die toekoms van KI-ontwikkeling en -gebruik vir wêreldwye openbare belang te vorm.
C. Kabinetsbesluite
1. Verslag van die Interministeriële Komitee oor Voedselgedraagde Siektes
1.1. Die Kabinet het 'n verslag van die komitee oor voedselgedraagde siektes ontvang met 'n spesiale fokus op organofosfaat-plaagdoders.
1.2. Die komitee is deur die Ministeriële Adviesraad, soosdeur die Minister van Gesondheid dr Aaron Motsoaledi aangestel, ingelig oor voedselgerdraagde siektes. Die adviesraad bestaan uit kundiges uit verskeie gesondheidsdissiplines, wat leiding sal gee oor die voorkoming van uitbreking in die toekoms.
1.3. Die adviesraad het ondersoek ingestel na die beskikbaarheid en gebruik van Terbufos (algemeen bekend as Galiphirimi), 'n hoogs gevaarlike produk wat die dood van ses kinders in Naledi, Soweto veroorsaak het. Hoewel besonderhede oor blootstelling aan die kinders nog nie duidelik is nie, is die moontlikheid dat die kinders kos wat by 'n plaaslike spaza-winkel gekoop is en met Terbufos besmet was, die lewensvatbaarste verklaring is.
1.4. Die Kabinet keur goed dat die invoer van Terbufos, 'n chemiese verbinding wat as 'n organofosfaat geklassifiseer word en algemeen as 'n insekdoder en plaagdoder gebruik word, in Suid-Afrika verbied word.
1.5. Die Departement van Landbou sal die konsultasieproses oor dié verbod lei in ooreenstemming met sy 2010-plan om giftige insekdoders en plaagdoders oor 'n tydperk uit te fasseer. Die departement sal ook aandag gee aan die identifisering van veiliger alternatiewe vir Terbufos.
D. Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike sekuriteitsklarings.
1. Mnr Ndumiso Kubheka as die Hoof Uitvoerende Beampte van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap.
2. Lede van die Raad van die Korporasie vir Uitvoerkredietversekering van Suid-Afrika
a. me Delia Ndlovu (Voorsitter);
b. Mnr Willem van der Spuy;
c. mnr Andile Mabizela;
d. mnr Sisa Mayekiso;
e. Mnr Bheki Ishmael Mkhize;
f. me Philisiwe B. Mthethwa; en
g. Me Siobhain O'Mahony.
3. Lede van die Raad van die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasiestelsel
(a) Dr Tshengedzeni Demana (Voorsitter);
(b) Dr Dharmarai Naicker;
(c) Dr Pulane Elsie Molokwane;
(d) mnr Bruce Christopher Gordon;
(e) me Nolitha Ntobongwana;
(f) me Lebogang Ameliah Matlala;
(g) me Anele Zukiswa Vutha;
(h) Dr Nandi Malumbazo;
(i) me Slindile Nomathemba Ndwandwe;
(j) mnr John Mayiwane Vusumuzi Mazibuko; en
(k) Me Nomvula Pamella Mhlari.
4. Lede van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde se Raad
(a) Prof. Mzubanzi Bismark Tyobeka (Voorsitter);
(b) mnr Garfield Mario Bergstedt;
(c) mnr Mavela Alford Velamuva Dlamini;
(d) Dr Reabetswe Kgoroeadira;
(e) me Tshepiso Tinyiko Matlapeng;
(f) me Kgotatso Mohulatsi;
(g) me Deidre Penfold; en
(h) Mnr. Griffith Zabala.
E. Toekomstige gebeure
1. Groenwaterstofberaad van Afrika
1.1 Die Kabinet neem kennis dat Suid-Afrika op 12 en 13 Junie 2025 die Groenwaterstofberaad van Afrika in Kaapstad aanbied. Die beraad bring Afrika se ministers van energie, beleidmakers en beleggers bymekaar om geleenthede in groenwaterstofproduksie, -infrastruktuurontwikkeling en -uitvoerpotensiaal te ondersoek.
1.2 Die land se waterstofsektor word al hoe meer prominent as 'n hoeksteen van die land se strategie vir die oorgang na 'n laekoolstofekonomie, die skep van volhoubare werksgeleenthede en die posisionering van die land as 'n wêreldleier in groen energie.
2. Jeugmaand (2025 Nasionale Jeugdag)
2.1 Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners, veral jongmense, om Nasionale Jeugdag op 16 Junie te herdenk onder die tema ‘Vaardighede vir die veranderende wêreld, bemagtiging van die jeug vir betekenisvolle ekonomiese deelname’. Vanjaar se hoofgeleentheid sal by die Reckfarm-stadion in Tlokwe, JB Marks Plaaslike Munisipaliteit in Noordwes, gehou word. Dit sal fokus op die bevordering van onderwys en vaardigheidsontwikkeling vir die jeug, wat aan ekonomiese geleenthede gekoppel is.
2.2 Nasionale Jeugdag herdenk 'n belangrike geskiedkundige gebeurtenis toe Afrika-leerders in opstand gekom het teen die apartheidsregime se die instelling van Afrikaans as onderrigtaal.
2.3 Dit is om dié rede dat die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (BELA) aandring op die bekendstelling van inheemse taalonderrig, insluitend regoor die Wetenskap-, Tegnologie-, Ingenieurswese- en Wiskunde-vakke, sowel as ander kernvakke. Hierdie werk, wat in die 6de Administrasie begin het met die bekendstelling van inheemse tale-onderrig (isiXhosa) in die Oos-Kaap, het die Oos-Kaap se matriekuitslae noemenswaardig verbeter. Die werk word tans uitgebrei na ander provinsies. Inheemse tale sluit Afrikaans in, wat onder meer ook die taal van die Afrikane is wat deur apartheid as kleurlinge geklassifiseer is.
F. Boodskappe
1. Meegevoel
Die Kabinet betuig sy meegevoel met die vriende en familie van:
a) Die regering en mense van die Republiek van Zambië ná die afsterwe van hul voormalige President Sy Eksellensie Edgar Chagwa Lungu;
b) Bekende fotograaf, kulturele aktivis en jazz-organiseerder, Rashid Lombard. Lombard was 'n gewaardeerde lid van die Nasionale Orde van Ikhamanga (Silwer), wat in 2014 aan hom toegeken is vir sy bydrae tot kuns en kultuur en sy toewyding aan die bevordering van jazz-musiek in die land; en
c) Regterpresident van die Oos-Kaapse afdeling van die Hooggeregshof, Regter Clement Temba Sangoni, 'n hoogs intelligente regsgeleerde en 'n ferm handhawer van die onwrikbare beginsel van geregtigheid. Hy was ook 'n senior tradisionele leier van die Qokolweni-Zimbane Tradisionele Raad in Mthatha.
2. Gelukwense
Die Kabinet dra sy gelukwense en sterkte oor aan:
a) Tete Dijana wat die 2025 Comrades-marathon gewen het; dit is sy derde sege in hierdie wedloop nadat hy dit voorheen in 2022 en 2023 gewen het;
b) Gerda Steyn, wat die 2025 Comrades-marathon in die kategorie vir vroue gewen het en die eerste Suid-Afrikaanse hardloper wat hierdie uiters strawwe wedloop vier keer gewen het. Sy het dit voorheen in 2019, 2023 en 2024 gewen.
c) Suid-Afrika se Paralimpiese rolstoel-superster, Kgothatso Montjane en haar Japannese vennoot Yui Kamiji, wat die Franse Ope Rolstoeldubbelspel vir vroue vir die tweede keer gewen het;
d) Die Suid-Afrikaanse naelloper, Zakithi Nene, wat goud in die 400 m vir mans by die Kip Keino Classic in Nairobi gewen het en 'n nuwe wêreldrekord van 43,76 sekondes opgestel het;
e) Suid-Afrikaanse landskapontwerper Leon Kluge en sy span, wat goud vir Suid-Afrika gewen het by die RHS Chelsea Flower Show in Londen;
f) Die direksie en bestuur van Telkom met hul finansiële resultate; hulle het vir die eerste keer in vier jaar 'n dividend van R500 miljoen aan die regering betaal onder leiding van voorsitter Geoff Qhena en mnr Serame Taukobong, uitvoerende hoof van die groep.
Navrae:
Me Nomonde Mnukwa – Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485