A. KWESSIES OOR DIE OMGEWING
1. Omvattende benadering tot migrasiebestuur in Suid-Afrika
1.1 Die kabinet spreek sy waardering uit teenoor Suid-Afrikaners wat deelgeneem het aan vreedsame protesaksies teen ongereguleerde migrasie. Die kabinet prys ook die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (NatJOINTS) vir die handhawing van orde tydens die protesaskies op 30 Junie 2026.
1.2 Die kabinet prys ook die uitstekende werk van die interministeriële komitee, onder voorsitterskap van die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, me. Mmamoloko Kubayi, met die implementering van die omvattende benadering tot migrasiebestuur wat president Cyril Ramaphosa op 7 Junie 2026 aangekondig het.
1.3 Die kabinet is op hoogte gebring van die vordering met die implementering van die vyf pilare van die omvattende benadering, insluitende die vordering wat onder die wetstoepassingspilaar gemaak is:
1.3.1 Verhoogde arbeidsinspeksies by maatskappye wat daarvan verdink word dat hulle ongedokumenteerde buitelanders in diens neem, onder leiding van die adjunkministers van indiensneming en arbeid (mnr. Jomo Sibiya), binnelandse sake (mnr. Njabulo Nzuza) en polisie (dr. Polly Boshielo).
1.3.2 Versekering van ordelike en wettige deportasies met die hervestiging van ʼn gespesialiseerde prioriteitshof vir immigrasie in Durban (wat deportasies by Sherwood in Durban fasiliteer), die immigrasiehof by die O.R. Tambo Internasionale Lughawe en die heraktivering van ʼn hof by die Lindela-repatriasiesentrum in Krugersdorp.
1.3.3 Spoedige reaksie om repatriasie-inisiatiewe deur tuislande te ondersteun ten einde gekoördineerde en waardige repatriasie te verseker. Dit het daartoe gelei dat die interministeriële komitee die spoedige oprigting van ʼn tydelike repatriasiesentrum in Musina gereël het om repatriasie onder waardige en menslike toestande te fasiliteer. In hierdie verband spreek die kabinet sy waardering uit aan nie-winsgewende organisasies soos Gift of the Givers, Ashraful Aid en die Mahlasela Foundation.
1.3.4 Sedert 7 Junie 2026 het die Grensbestuursowerheid meer ongereguleerde migrante aangekeer wat probeer het om onwettig die land binne te kom, insluitend ongedokumenteerde migrante en ongewensde persone wat toegang geweier is weens onvoldoende reisdokumente.
1.3.5 NATJOINTS het verslag gelewer oor kriminele sake wat teen oortreders aanhangig gemaak is, insluitend sake rakende openbare onrus en aanhitsing, asook die aantal verdagtes wat in hegtenis geneem is en sake wat tans voor die howe dien of aktief ondersoek word.
1.4 Op Donderdag, 2 Julie 2026 het van die lede van die interministriële komitee Limpopo-Zimbabwe-grens besoek om eerstehands kennis te neem van die omvang van die werk, wat as deel van die komitee se werkstroom vir die verbetering van grensinfrastruktuur, verrig word.
2. Bafana Bafana se uitnemende vertoning by die 2026 FIFA-wêreldbeker
2.1 Die kabinet, asook die nasie, wens Bafana Bafana hartlik geluk met hul skitterende vertoning tydens die 2026 FIFA-wêreldbeker. Die span het vir die eerste keer sedert Suid-Afrika se wêreldbekerdebuut in 1998 tot die Rondte van 32 deurgebring.
2.2 Bafana Bafana het ook indrukwekkende sokker gespeel teen Kanada in die Rondte van 32, waar hulle hartverskeurend verloor het na 'n doel in beseringstyd. Ons nasie is uiters trots op ons spelers wat gewys het dat hulle op gelyke voet kan meeding met die beste spanne in die wêreld.
2.3 Dankie, Suid-Afrika, vir jul hartlike verwelkoming van ons manne (Bafana Bafana).
B. EKONOMIE
1. Suid-Afrika toon ’n noemenswaardige verbetering op die Wêreldmededingendheidsjaarboek se ranglys
1.1 Die kabinet verwelkom Suid-Afrika se noemenswaardige sprong in internasionale mededingendheid, soos weerspieël in die 2026- Wêreld-mededingendheidsjaarboek, waarvolgens Suid-Afrika die 54ste plek beklee, vergeleke met die 64ste plek in 2025.
1.2 Die insituut vir bestuursontwikkeling (IMD) het die verslag in Junie 2026 vrygestel in vennootskap met Productivity SA en toon dat Suid-Afrika met 10 plekke opgeskuif vanaf sy vorige posisie.
1.3 Die verbeterde posisie is aangevuur deur die vordering in regeringsdoeltreffendheid, groeiende besigheidsvertroue en verbeterde infrastruktuurbestuur, wat die impak van deurlopende hervorming om die ekonomiese prestasie en bestuur te versterk, weerspieël.
2. Suid-Afrikaanse infrastruktuur-spitsberaad versterk die land se openbare beleggingsveldtog
2.1 Die Kabinet prys die suksesvolle aanbieding van die Suid-Afrikaanse infrastruktuurspitsberaad en -ekspo, wat van 9 tot 11 Junie 2026 by die Gallagher-konferensiesentrum in Johannesburg plaasgevind het. Dit het ’n belangrike platform gebied het om vennootskappe te verstewig, belegging te mobiliseer en die implementering van strategiese infratsruktuurprojekte te bespoedig.
2.2 Samesprekings het gefokus op die uitbreiding van publieke-private vennootskappe, die verbetering van logistieke netwerke en die versterking van vervoer-, water- en digitale infrastruktuur om ekonomiese groei en ontwikkeling te ondersteun. Hierdie infrastruktuurinisiatiewe gee uitvoering aan die verbintenisse wat president Cyril Ramaphosa in die 2026-Staatsrede aangekondig het. Daarin het hy 'n ambisieuse plan vir infrastruktuurgeleide groei uiteengesit, met meer as R1 triljoen vir openbare infrastruktuur oor die mediumtermyn.
C. INTERNASIONALE BETREKKINGE
1. SADU-spitsberaad: Verdiep streeksintegrasie
1.1 Die Kabinet prys die sukses van die 9de Suider-Afrikaanse Doeane-Unie (SADU) se spitsberaad vir staatshoofde en regeringshoofde wat op 26 Junie 2026 plaasgevind het.
1.2 ’n Belangrike uitkoms van die spitsberaad, in ooreenstemming met die herontwerpte SADU-benadering is dat die lidstate hul verbintenis tot SADU herbevestig het as ’n dryfveer vir streekekonomiese integrasie, nywerheids- en ekonomiese diversifisering, uitgebreide intra-streekshandel en -belegging, beleidsharmonisering en volhoubare ekonomiese ontwikkeling. Industrialisasie bly die kern van SADU se ontwikkelingsagenda.
2. Handhawing van strategiese belange met Sjina
2.1 Adjunkpresident Paul Mashatile het van 20 tot 26 Junie 2026 ʼn suksesvolle werksbesoek aan Sjina onderneem, wat daarop gemik was om ekonomiese betrekkinge verder te versterk en geleenthede vir belegging en nywerheidsamewerking uit te brei. Gedurende die besoek het hy ook ʼn bilaterale vergadering gehad met Sy Eksellensie mnr. Han Zheng, die adjunkpresident van die Volksrepubliek Sjina, om sake van wedersydse belang te bespreek en bilaterale ekonomiese bande verder te versterk.
2.2 Tydens die besoek het adjunkpresident Mashatile ook deelgeneem aan die 4de Sjina Internasionale Voorraadsketting-ekspo, waar hy Suid-Afrika se posisie as ʼn poort tot Sub-Sahara Afrika vir handel, belegging en nywerheidsamewerking beklemtoon het. Die versterkte vennootskap sal na verwagting groter belegging lok, geleenthede vir plaaslike besighede uitbrei en inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping ondersteun.
D. KABINETSBESLUITE
1. Konsepbeleid vir strategiese petroleumvoorraad
1.1 Die kabinet het die publikasie van die konsepbeleid vir strategiese petroleumvoorrade vir openbare kommentaar goedgekeur.
1.2 Die beleid het ten doel om Suid-Afrika se energiesekuriteit te versterk en die ekonomiese impak van voorraadskokke te verminder. Dit volg op ʼn omvattende studie oor die land se strategiese petroleumvoorraad wat in 2024 in opdrag van die regering onderneem is. Die studie het het areas geïdentiseer wat aandag verg, insluitende die behoefte om voorraadhoudingsreëlings te versterk en die kapasiteit van binnelandse raffinaderye te verhoog.
1.3 Die beleid beveel ’n gemengde voorraadhoudingsmodel aan waaronder die Suid-Afrikaanse nasionale petroleummaatskappy (SANPC) strategiese reserwes gelykstaande aan 60 dae se netto-invoer van beide ruolie en geraffineerde petroleumprodukte moet onderhou, met ’n gefaseerde vermeerdering tot 90 dae oor die langtermyn. Die beleid sal bydra tot die beveiliging van nasionale energiesekuriteit, die veerkragtigheid teen wêreldwye voorraadskokke verbeter en volhoubare ekonomiese groei ondersteun.
2. Geïntegreerde maatskaplike fasiliteringsraamwerk
2.1 Die kabinet het die geïntegreerde maatskaplike fasiliteringsraamwerk (ISFF) goedgekeur as ’n bindende nasionale beleidsintrument om gemeenskapsbetrokkenheid in die lewering van infrastruktuur te standaardiseer en te institusionaliseer regoor alle regeringsfere, staatsentiteite en belanghebbendes in infrastruktuurontwikkeling.
2.2 Die raamwerk het ten doel om gemeenskapsprotesaksies, ontwrigting van projekte, vandalisme, vertragings en sekuriteitsrisiko's aan te spreek deur gestruktureerde gemeenskapsbetrokkenheid deur die hele infrastruktuurprojeksiklus te bevorder en daardeur openbare vertroue, maatskaplike samehorigheid en die beskerming van infrastruktuurbeleggings te versterk.
2.3 Die ISFF bied ’n geprofessionaliseerde en gekoördineerde benadering tot maatskaplike fasilitering, insluitend akkreditasie van maatskaplike fasiliteerders, duidelike bestuursreëlings, sterker monitering en evaluering, en ʼn risikogebaseerde benadering tot die bestuur van gemeenskapsverwante risiko’s.
3. Befondsingsverslag van die ministeriële werkgroep vir wetenskap, tegnologie en innovasie
3.1 Die kabinet het die vrystelling van die befondsingsverslag van die ministeriële werkgroep vir wetenskap, tegnologie en innovasie vir openbare kommentaar goedgekeur.
3.2 Die verslag beklemtoon die behoefte dat Suid-Afrika oormatige afhanklikheid van buitelandse befondsing moet vermy en plaaslike befondsingskapasiteit moet uitbrei om sodoende bedreigings vir die land se navorsingsprogramme te versag en Suid-Afrika se wetenskaplike soewereniteit te beveilig.
4. Bekragtiging van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap - protokol oor nywerheid
4.1 Die kabinet het die inhandiging van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap- (SAOK) protokol oor nywerheid aan die parlement vir bekragtiging goedgekeur. Die protokol is ʼn wetlik bindende streeksooreenkoms, gemik op die ontwikkeling van ’n gediversifiseerde, innoverende en wêreldwye mededingende nywerheidsbasis regoor Suider-Afrika. Dit het ten doel om volhoubare en inklusiewe ekonomiese groei te bevorder.
4.2 Suid-Afrika se bekragtiging sal daartoe bydra dat die protokol in werking tree.. Dit dra by tot ’n fokus op nywerheidsontwikkeling en die ontwikkeling van die streeksekonomie, asook die oorgang van die uitvoer van grondstowwe na die uitvoer van vervaardigde produkte met hoër toegevoegde waarde.
5. Bekragtiging van die ooreenkoms oor die bewaring en volhoubare gebruik van mariene biologiese diversiteit in areas buite nasionale jurisdiksie
5.1 Die kabinet het die inhandiging van die ooreenkoms oor die bewaring en volhoubare gebruik van mariene biologiese diversiteit in areas buite nasionale jurisdiksie (BBNJ-ooreenkoms) aan die parlement vir bekragtiging goedgekeur. Die ooreenkoms, ook bekend as die Hoësee-verdrag, dien as 'n wetlik bindende instrument van die Verenigde Nasies (VN) om die bewaring en volhoubare gebruik van mariene biodiversiteit in internasionale waters te bevorder.
5.2 Suid-Afrika het ’n aktiewe rol gespeel in die onderhandeling oor die ooreenkoms onder die VN-konvensie oor die Reg van die See. Die BBNJ-ooreenkoms sal na verwagting wêreldwye oseaanbestuur versterk deur internasionale samewerking ter beskerming en volhoubare bestuur van mariene hulpbronne in internasionale waters te verbeter.
E. WETSONTWERPE
1. Wysigingswetsontwerp op Nasionale Omgewingsbestuurwetgewing, 2026
1.1 Die kabinet het die publikasie van die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Omgewingsbestuurwetgewing (NEMLA), 2026, vir openbare kommentaar goedgekeur. Die wetsontwerp het ten doel om die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur, 1998 (Wet 107 van 1998), te wysig om omgewingsnakoming en -handhawing te versterk deur omgewingsinspekteurs te bemagtig om nakomingskennisgewings uit te reik en munisipaliteite in staat te stel om kennisgewings vir omgewingsoortredings uit te reik.
1.2 Die wetsontwerp stel ook ’n administratiewe boetestelsel in Suid-Afrika se nasionale omgewingswetgewing bekend. Dit sal bestaande kriminele sanksies aanvul deur ’n alternatief te skep vir strafregtelike vervolging van minder ernstige omgewingsoortredings. Dit sal meer doeltreffende handhawing moontlik maak terwyl die vertragings en reputasierisiko’s wat met strafregtelike verrigtinge gepaardgaan, vermy word.
2. Wysigingswetsontwerp op Elektroniese Stelsels vir die Registrasie en Aantekening van Aktes
2.1 Die kabinet het die inhandiging van die Wysigingswetsontwerp op Elektroniese Stelsels vir die Registrasie en Aantekening van Aktes aan die Parlement goedgekeur. Die wetsontwerp het ten doel om die Wet op Elektroniese Stelsel vir Registrasie van Aktes (Wet 19 van 2019), Registrasie van Aktes Wet (Wet 47 van 1937) en die Wet op Deeltitels (Wet 95 van 1986) te wysig om die wetgewende raamwerk wat die registrasie- en aantekeningstelsels beheer, te moderniseer.
2.2 Die wetsontwerp bevorder die doelwitte van ’n inklusiewe ekonomie en verbeterde sekerheid van grondbesit. Die voorgestelde wysigings is grootliks tegnies van aard en het ten doel om die sekerheid van titel, oftewel sekerheid van eiendomsreg te versterk en die administrasie van grond- en eiendomsregte te verbeter tot voordeel van grondeienaars en regtehouers.
F. OPDATERINGS AAN DIE KABINET
1. 2026/27 2026/27-Nasionale Inligtingsberamings (NIB), Nasionale Intelligensieprioriteite en Nasionale Inligtingsberamings- en Implementeringsplan
1.1 Die kabinet is ingelig oor die nasionale inligtingsberamings en nasionale intelligensieprioriteite soos goedgekeur deur die Nasionale Veiligheidsraad vir 2026/27, en het die Nasionale Inligtingsberamingsimplementeringsplan in oorweging geneem.
1.2 Die kabinet neem daarvan kennis dat die nasionale intelligensiestrukture steeds vordering maak met die implementering van die nasionale inligtingsberamings.
1.3 Rakende prioriteite wat buite die mandaat van die nasionale intelligensiestrukture val, het die kabinet die nasionale inligtingsmplementeringsplan in oorweging geneem wat onder meer die volgende beklemtoon:
1.3.1 Verskerpte arbeidsinspeksies om nakoming van Suid-Afrika se arbeidswetgewing te verseker,
1.3.2 Streng regulering van plaaslike ekonomieë om deelname en eienaarskap ten gunste van burgers te verseker, in ooreenstemming met artikel 22 van die Grondwet, met die klem op die regulering van spaza-winkels en ander klein, informele besighede om betekenisvolle eienaarskap en deelname deur burgers te verseker,
1.3.3 Energie-selfgenoegsaamheid ter bevordering van energie-en voedselsekerheid, met inagneming van Suid-Afrika se natuurlike hulpbronbates, en,
1.3.4 Klimaatsverandering en veerkragtigheid, insluitend die hantering van die Super-El Niño-verskynsel.
1.4 Met verloop van tyd, en op advies van die nasionale intelligensiestrukture, sal die minister in die presidensie die 2020-2021- nasionale inligtingsberamings en -prioriteite vrystel.
2. Adviesnota van die Staatsdienskommissie oor die deelname van staatsamptenare in politieke partystudiegroepe en ander verwante aktiwiteite
2.1 Die kabinet neem kennis van die adviesnota van die Staatsdienskommissie oor die deelname van staatsamptenare aan politieke partystudiegroepe en ander verwante aktiwiteite en doen ’n beroep op die Staatsdienskommissie om meer broedvoerig oor alle meganismes te konsulteer om parlementslede te ondersteun in hul voorbereiding vir studiegroepe.
2.2 Die Suid-Afrikaanse politieke bedeling is gebaseer op ʼn stelsel van proporsionele verteenwoordiging van politieke partye en word die parlement gevolglik deur partykoukusse georganiseer. Partykoukusse organiseer hulself weer op ’n wyse wat hulle in staat stel om doeltreffend te funksioneer. Sommige partye organiseer hul koukusse in studiegroepe.
2.3 Die adviesnota neem verkeerdelik aan dat senior amptenare op instruksie van ministers of adjunkministers aan studiegroepe deelneem.
2.4 Senior amptenare word uitgenooi om aan studiegroepe deel te neem ten einde tegniese inligting te verskaf en sodoende parlementslede te bemagtig om beter toesig te hou en die uitvoerende gesag verantwoordbaar te hou.
2.5 Die kabinet het ingestem om deur die GNU-skikkingsmeganisme te werk aan die ontwikkeling van riglyne vir die deelname van senior amptenare aan studiegroepe en verwante meganismes van politieke partye.
3. Hervormings van ondernemings in staatsbesit
3.1 Die kabinet het ’n vorderingverslag ontvang oor die hervormings wat daarop gemik is om die versterking van ondernemings in staatsbesit (OSB’s) te verseker en te verseker dat hulle doelgeskik bly.
3.2 Voortdurende vordering met die implementering van die OSB-hervormingsprogramm sluit sleutelinisiatiewe in wat daarop fokus om bestuur te versterk, volhoubaarheid te verbeter en aanspreekbaarheid regoor OSB’s te verhoog. ’n Sleutelinisiatief is die Wetsontwerp op Nasionale Staatsondernemings, wat voorsiening maak vir die vestiging van ʼn gesentraliseerde entiteit om OSB-hervormings te koördineer, bestuurspraktyke en vergoedingsriglyne te standaardiseer en verbeterde prestasie regoor die OSB-portefeulje te ondersteun.
3.3 Deur middel van die OSB-prestasiemoniteringsraamwerk is die prestasie van 72 Skedule 2-, Skedule 3A- en Skedule 3B-entiteite gedurende die 2025/26-finansiële jaar geassesseer. Die assessering het verskeie bestuursuitdagings geïdentifiseer wat geteikende ingrypings benodig.
3.4 Die raamwerk bly 'n kritieke instrument vir verskerpte oorsig, bestuursverbetering en prestasieverbetering regoor OSB's deur die assessering van beplanning-, verslagdoenings- en prestasiebestuursprosesse.
3.5 Die proses van rasionalisering en herposisionering van OSB's vul hierdie hervormings aan en bou voort op die werk van die Presidensiële Raad vir Ondernemings in Staatsbesit, wat in April 2024 sy aanbevelings aan die president voorgelê het.
4. Projek vir toegang tot onderwysondersteuning en -dienste vir kinders en jongmense met gestremdhede in Suid-Afrika
4.1 Die kabinet neem kennis van twee verslae wat deur die Departement vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede opgestel is om die gaping tussen Suid-Afrika se inklusiewe onderwysbeleid en die geleefde realiteit van kinders en jongmense met gestremdhede te assesseer. Die projek is is tussen Oktober 2022 en Maart 2024 onderneem en behels ’n omvangsverslag en ’n navorsingsverslag wat bestaande onderwysondersteuningsdienste geëvalueer het en praktiese ingrypings om leer- en onderriguitkomste te verbeter, geïdentifiseer het. Die kabinet herbevestig Suid-Afrika se verbintenis om ’n enkele, inklusiewe onderwysstelsel te bou wat voorsiening maak vir die behoeftes van kinders en jongmense met gestremdhede.
4.2 Sleutelaanbevelings sluit in die hervorming van onderwyswetgewing of of die uitvaardiging van regulasies in ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse Skolewet om die reg tot gelyke, regverdige en gehalte-onderwys vir kinders en jongmense met gestremdhede af te dwing. Die verslae beveel ook aan dat hoër onderwysinstellings verpligte kursusse oor inklusiewe onderwys en die onderrig van kinders met spesiale onderwysbehoeftes instel vir studente wat vir onderwysers kwalifiseer. Hierdie twee verslae is beskikbaar op die departement se webwerf.by www.dwypd.gov.za.
5. Aanbevelings van die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK)
5.1 Die kabinet het die parlement se jaarlikse verslag oor die implementering van die aanbevelings van die WVK ontvang en in oorweging geneem. In Junie 2003 het die parlement die toekenning van herstelbetalings aan slagoffers wat deur die WVK geïdentifiseer is, goedgekeur. Dit het die finale eenmalige herstelbetaling van R30 000, mediese voordele en ander vorme van maatskaplike bystand, gedenktekens en monumente, asook gemeenskapsrehabilitasie as deel van die genesing van die wonde van die verlede, ingesluit.
5.2 Die kabinet neem kennis van die vordering met die implementering van hierdie maatreëls. Dit sluit die promulgasie van regulasies deur die President in om uitvoering te gee aan eenmalige individuele reparasies, opgrawing, herbegrawing en simboliese herbegrawing, basiese onderwysondersteuning, hoër onderwys- en opleidingsondersteuning, asook behuisingsondersteuning. Konsepregulasies oor gesondheidsorg en gemeenskapsrehabilitasie is tans in verskillende stadiums van finalisering.
5.3 Daarbenewens het 17 455 van die 21 676 slagoffers wat deur die WVK geïdentifiseer is en vir eenmalige individuele reparasies aansoek gedoen het, hul R30 000-toelae ontvang. Die totale bedrag wat aan finale eenmalige individuele reparasies uitbetaal is, beloop nagenoeg R500 miljoen. Om te verseker dat alle kwalifiserende begunstigdes die steun ontvang wat hulle toekom, is ’n algemene kennisgewing op 9 Junie 2026 in die Staatskoerant gepubliseer waarin slagoffers wat deur die WVK geïdentifiseer is, of hul naasbestaandes wat nog nie om reparasies aansoek gedoen het nie, versoek word om dit te doen sodat hulle die eenmalige reparasiebetaling van R30 000 kan ontvang.
G. AANSTELLINGS
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifiëring van kwalifikasies en die verkryging van toepaslike sekuriteitsklarings.
1. Dr. Tshepo Mokoka as die groephoofuitvoerendebeampte (HUB) van die Sentrale Energiefonds.
2. Me. Lindokuhle Nzoyi as die HUB van Amatola Water.
3. Dr. Michael Masiapato as kommissaris van die Grensbestuursowerheid (verlenging van sy ampstermyn).
4. Dr. Musa Furumele as Suid-Afrikaanse hoofverteenwoordiger by die Lesotho-Hooglandwaterkommissie en me. Nelly Dineo Ndumo as 'n alternatiewe verteenwoordiger.
5. Aanstelling van die voorsitter en ’n lid van die Raad van die Nasionale Loteryekommissie:
a. Mnr. King Tembinkosi Bonakele (voorsitter); en
b. Me. Mpho Sonia Mosing
6. Aanstelling van raadslede van die Raad op Myngesondheid en -veiligheid
a. Mnr. David Msiza (voorsitter);
b. Mnr. Xolile Mbonambi (Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne);
c. Dr. Dipalesa Mokoboto (DMPR);
d. Mnr. Mthokozisi A. Zondi (DMPR);
e. Mnr. Ndivhudza Mahwasane (DMPR);
f. Me. Naledi Tsipane (NUM);
g. Me. Melanie Roy (NUMSA);
h. Mnr. Nico Van Rooyen (UASA);
i. Mnr. Johan du Toit Boning (Solidariteit);
j. Mnr. Joshua Thabang Setlhake (AMCU);
k. Mnr. Dushendra Naidoo ( Mineraleraad van Suid-Afrika);
l. Dr. Amu Modau (Vedante Resources);
m. Mnr. TW Sepetla (Harmony Gold);
n. Mnr. Ronaldt Mafoko (Overlooked Group); en
o. Me. Letisha van den Berg (ASPASA);
p. Me. Constance Kekana (alternatiewe lid);
q. Mnr. Thabo Ngwenya (alternatiewe lid);
r. Mnr. Masibulele Naki (alternatiewe lid) (NUM);
s. Mnr. Enock Manyoni (alternatiewe lid) (NUMSA)’
t. Mnr. Johnny White (alternatiewe lid) (UASA);
u. Mnr. Jacobus Johannes De Wet Blaauw (alternatiewe lid) (Solidariteit);
v. Mnr. D. Gabriel Nkosi (alternatiewe lid) (AMCU)’
w. Dr. Thuthula Balfour (alternatiewe lid) (Mineraleraad van Suid-Afrika)’
x. Mnr. Modise Ronald Mothlamme (alternatiewe lid) (Harmony Gold); en
y. Dr. Kelvin Naidoo (alternatiewe lid) (Valterra Platinum)
H. OPKOMENDE GEBEURE
1. Mandela-maand
In Julie vier Suid-Afrika Mandela-maand onder die tema: “Dit is steeds in ons hande om armoede en ongelykheid te bestry.” Die kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om gedurende Mandela-maand en op Internasionale Mandeladag op 18 Julie 2026 hul tyd, dade en optrede toe te wy aan die bou van ’n Suid-Afrika wat vir almal werk.
2. Nasionale Wetenskapmaand
2.1 Julie is Nasionale Wetenskapmaand, wat op 4 Julie 2026 by die Vaal Universiteit van Tegnologie se Wetenskap- en Tegnologiepark in Suid-Gauteng bekendgestel sal word onder die tema: "Wetenskap, tegnologie en innovasie is vir almal."
Die maandlange viering van wetenskap het ten doel om 'n wetenskaplik geletterde samelewing te bou wat onafhanklike menings oor wetenskap, tegnologie en innovasie kan vorm. Die viering beoog ook om 'n samelewing te bevorder wat vertroue in wetenskap, wetenskaplikes en wetenskaplike instellings het.
I. BOODSKAPPE
1. Medelye
Die Kabinet spreek hul diepste medelye uit met die vriende en familie van:
• Suid-Afrikaanse jazz-ikoon Abdullah Ibrahim, wat een van die mees invloedryke figure in jazz wêreldwyd was. Hy het’n merkwaardige loopbaan gehad wat oor meer as sewe dekades gestrek het. Hy sal as een van die land se mees gevierde musikante en kultuurambassadeurs onthou word.
• Twee Mosambiekse burgers en een Malawiese burger wat hul lewens verloor gedurende die vroeë dae van die protesaksies teen onwettige immigrante.
2. Gelukwense
Die Kabinet het gelukwense en voorspoed oorgedra aan:
• Minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, met haar verkiesing as adjunkvoorsitter van die werkgewersgroep en die arbeidsgroepe van die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) op 12 Junie 2026.
• Kagiso Rabada, vir ’n uitnemende seisoen gedurende die Indiese premiersliga (IPL) 2026, waar hy as die topbouler uitgestaan het en die gesogte Purple Cap gewen het.
• SA krieketspeler Temba Bavuma, wat benoem is as een van TIME100 se mees invloedryke sportspersone van 2026, ’n gesogte eerbewys wat toegeken word deur die internasionale publikasie TIME Magazine.
• Bayanda Walaza, wat die 100m vir mans by die Golden Spike-byeenkoms in Ostrava, Tsjeggië, gewen het met 'n tyd van 9,94 sekondes.
• Prudence Sekgodiso, die eerste SA-vrou om 'n goue medalje te wen by die Wêreld-binnenshuise Atletiekkampioenskappe, na aanleiding van haar historiese sege in Nanjing, China.
• Die Proteas-vrouespan, wat Suid-Afrika se vlag hoog laat wapper het in die T20-vrouewêreldbeker, waar hulle veerkragtigheid, vasberadenheid en uitnemende spel hul tot in die halfeindronde op Donderdag, 2 Julie 2026, gelei het, waar hulle ongelukkig teen Engeland verloor het.
• Die Junior Springbokke, wat Uruguay met 104–7 verslaan het in die openingswedstryd van die Wêreldrugby-o.20-kampioenskap in Georgië.
• Bradley Nkoana, wat hom nou by 'n baie eksklusiewe groep gevoeg het deur die 12de Suid-Afrikaner te word wat die 10-sekonde-grens in die 100m verbreek het.
• George Kusche en Gerda Steyn, wat onderskeidelik vanjaar se wenners van die mans- en vroueafdelings van die Comrades-marathon was. Kusche het die opwaartse resies in 'n geskiedkundige rekordtyd van 5:15:56 voltooi, terwyl Steyn haar vyfde titel verower het met 'n rekordtyd vir die opwaartse resies van 5:44:53.
Die kabinet waardeer die bydrae van Suid-Afrika se sportmanne en -vroue, wat deurentyd die nasies agter ons land verenig en ons herinner dat, swart en wit, een nasies - verenig in ons diversiteit.
Namens die kabinet uitgereik deur:
Minister in die Presidensie, Me. Khumbudzo Ntshavheni
Navrae:
Regeringskommunikasie- en inligtingstelsel (GCIS)
Kontak: Me. Nomonde Mnukwa, waarnemende direkteur-generaal
#GovZAupdates

