Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag 07 Augustus 2024
Die eerste formele Kabinetsvergadering van die 7de administrasie het twee dae voor die viering van Nasionale Vroudag, by die Uniegebou in Pretoria plaasgevind. Ons vier die 68ste herdenking van die Vroue-optog en 70 jaar sedert die aanvaarding van die Vrouehandves, 'n verklaring van voorneme deur die Federasie van Suid-Afrikaanse Vroue, wat die regte en voorregte vir vroue deur vroue van Suid-Afrika duidelik omskryf.
Vanjaar vier ons nie net Vrouemaand nie, maar ook die toonaangewende aanstelling van regter Mandisa Maya, die eerste vroulike hoofregter van die Republiek van Suid-Afrika. Sy het ook sedert 2017 met onderskeiding as die president van die Hoër Hof van Appèl gedien en was die eerste vrou wat dié pos beklee het.
Haar aanstelling is veral betekenisvol in die konteks van die volgende gegewens deur die International Association of Women Judges: "In 1994 was daar ongeveer 165 regters, waarvan 160 wit mans was, drie was swart mans en twee was wit vroue; geen swart vroue was destyds regters nie. Vanaf Februarie 2023 is daar 253 regters, waarvan 113 vroue is; omgeskakel na persentasies is 32% swart vroue en 13% wit vroue wat altesaam op 45% vroueverteenwoordiging dui. Boonop bestaan die oorblywende 140 manlike regters uit 39% swart mans en 17% wit mans."
A. Kwessies in die omgewing
1. 2024 Olympiese Spele in Parys: Suid-Afrika se span
1.1. Die Kabinet het die Suid-Afrikaanse span gelukgewens dat hulle die land met trots by die Olimpiese Spele in Parys verteenwoordig het en die nasionale vlag hoog laat wapper het deur onder die top 30 nasies te tel wat die meeste medaljes ingepalm het.
1.2. Die Kabinet wens weereens die volgende spanlede geluk:
1.2.1. Die swemsensasie Tatjana Smith vir haar goue medalje in die 100m-borsslag vir vroue en silwermedalje in die 200m-borsslag.
1.2.2. Die Blitsbokke vir hul brondsmedalje in die sewesrugby vir mans.
1.2.3. Bergfietsryer Alan Hatherly vir sy bronsmedalje in die bergfietsry-item vir mans.
1.2.4. Akani Simbine, wat ’n nuwe nasionale rekord opgestel het toe hy die 4de plek in die mans 100m senutergende finaal verower het. Suid-Afrika tel onder een van die lande met die vinnigste mans.
1.3. Ons doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om ook die Suid-Afrikaanse span wat in die Paralimpiese Spele van 28 Augustus tot 8 September 2024 meeding, te ondersteun.
2. Ekonomie
2.1. Spoorweginfrastruktuur
2.1.1. Die Kabinet verwelkom die Passasierspoorwegagentskap van Suid-Afrika (PRASA), ’n agent van die Departement van Vervoer (DoT), se bekendstelling van die nuwe hoë-tegnologie treine op die Sentrale Spoor in Kaapstad.
2.1.2. Die roete is verleng van Nyanga- tot Mandalay-stasie. Moderne seinstelsels word vanaf Langa tot by die Mutual-spoor gebruik om die veiligheid en betroubaarheid van die spoordiens te verbeter.
2.1.3. Die moderne hoëtegnologiefunksies sluit outomatiese deure en kringtelevisie vir elke wa in om passasiersveiligheid te verbeter.
2.1.4. Die Kabinet loof ook die herstel van meer spoorlyne as deel van die regering se prioriteit om veilige, betroubare en bekostigbare openbare vervoer te verskaf.
3. UNESCO se Wêrelderfenisterreine
3.1. Die Kabinet verwelkom die jongste toevoeging van die Suid-Afrikaanse menseregte- en bevrydingstrydterreine tot die gesogte lys van UNESCO se wêrelderfenisgebiede.
3.2. Die terreine, wat Menseregte, Bevryding en Versoening: Nelson Mandela-erfenisterreine genoem word, dra nie net daartoe by om ons unieke erfenis te bewaar nie, maar verhoog ook ons land se posisie as ’n vooraanstaande toeriste-aantreklikheid vir wêrelderfenisgebiede, wat nie net toerisme nie, maar ook die ekonomie 'n hupstoot gee.
3.3. Dit sluit die Uniegebou, Constitution Hill, Liliesleaf-plaas, die Sharpeville-gedenkteken, Walter Sisulu-plein, 16 Junie 1976: Die strate van Orlando-Wes, die Universiteit van Fort Hare en die ZK Mathews-huis, Mqhekezweni, Waaihoek en Ohlange in.
3.4. Die UNESCO-wêrelderfeniskomitee het verder drie terreine in die Middelsteentydperk toegevoeg ter erkenning aan Suid-Afrika se belangrike bydrae tot kennis oor die oorsprong van moderne menslike gedrag. Dit sluit in die Diepkloof-rotsskuiling naby Elandsbaai in die Wes-Kaap; Pinnacle Point-terreinkompleks in Mosselbaai, ook in die Wes-Kaap; en Sibhudu-grot in KwaDukuza, KwaZulu-Natal.
4. Halfjaarbevolkingsberamings
4.1. Die Kabinet verwelkom die halfjaarbevolkingsberamings (MYPE) vir 2024, wat daarop dui dat Suid-Afrikaners langer leef.
4.2. Die lewensverwagting het van 53,6 jaar in 2005, tot 66,5 jaar in 2024 toegeneem. Dit kan toegeskryf word aan verskeie regeringsingrypings, insluitend die uitgebreide ontplooiing van antiretrovirale terapie, wat een van die grootste antiretrovirale terapieprogramme ter wêreld is. Ander faktore sluit die voorsiening van inentings in, asook die afname in kindersterftesyfer van 'n geskatte 57 babasterftes per 1 000 lewende geboortes in 2002 tot 22,9 per 1 000 lewende geboortes in 2024.
4.3. Suid-Afrika se bevolking oorskry nou 63 miljoen en het van Julie 2023 tot Julie 2024 met 1,33% gegroei.
4.4. Die bygewerkte bevolkingsgroeisyfers sal die regering help met beplanning en toewysing van hulpbronne terwyl die regering voordurend daarna streef om alle Suid-Afrikaners se lewens te verbeter.
5. Veiligheid en sekureitit
5.1. Die stryd teen misdaad.
5.1.1. Die Kabinet verwelkom die voortgesette sukses van wetstoepassingsagentskappe in die stryd teen misdaad; dit sluit onder meer die inhegtenisneming van lede van georganiseerde misdaadsindikate en bendes in as deel van misdaadbestryding.
5.1.2. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Operasie Shanela het tot die inhegtenisneming van 766 237 verdagtes vir verskeie misdade, gelei, waarvan 161 752 verdagtes van prioriteitsmisdade was; dit sluit onder meer moord, transitorooftogte, gewapende rooftogte, verkragting en motorkaping in.
5.1.3. Die Kabinet verwelkom die sluiting van 'n onwettige militêre opleidingskamp in Witrivier, Mpumalanga ná 'n intelligensiegedrewe multidissiplinêre wetstoepassingsoperasie wat ook tot die inhegtenisneming van 95 Libiese burgers gelei het.
5.1.4. Die Kabinet herhaal 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om met wetstoepassingsagentskappe saam te werk in die stryd teen misdaad sonder om onoordeelkundig op te tree.
5.1.5. Die Kabinet het die optrede van sommige gemeenskapsleiers wat neerkom op die bedreiging van leerders en onderwysers by hul skole veroordeel. Die Departement van Basiese Onderwys sal voortgaan om met die SAPD saam te werk om te verseker dat skole veilige ruimtes vir leer en onderrig bly.
5.2. Bedrog en korrupsie
5.2.1. Die Kabinet is tevrede met die skuldigbevinding en vonnisoplegging deur die Durbanse gespesialiseerde handelsmisdaadhof van voormalige amptenare van die Departement van Binnelandse Sake en buitelandse burgers wat skuldig bevind is aan die pleeg van bedrog en korrupsie teen die immigrasiestelsel. Die suksesvolle skuldigbevinding versterk die regering se pogings om 'n etiese, professionele en bekwame ontwikkelingstaat te bou.
B. Inligting oor nuwe verwikkelings aan die Kabinet
1.1. Watersekerheid
1.1.1. Die Kabinet is ingelig oor inisiatiewe wat in werking gestel word om watersekerheid in die land te verseker gegewe die toenemende vraag na water weens bevolkings- en ekonomiese groei, asook die feit dat 75% van die beskikbare oppervlakwaterbronne in Suid-Afrika reeds opgevang is.
1.1.2. Daar is tans 14 groot nasionale hulpbroninfrastruktuurprojekte vir oppervlakwater ter waarde van meer as R100 miljard in verskillende ontwikkelingsfases.
1.1.3. Die Departement van Water en Sanitasie het 'n Kantoor vir Watervennootskappe saam met SALGA en die DBSA gestig; dit is daarop gerig om munisipaliteite te help om inisiatiewe te dryf wat alternatiewe waterbronne sal diversifiseer en ontwikkel om watersekerheid in die toekoms te verseker.
1.1.4. Die Kabinet is ook op die hoogte gebring van die vordering om watervoorsiening aan die inwoners van Giyani en Hammanskraal te verseker en om aandag te gee aan die rioolstortings in die Emfuleni-munisipaliteit.
1.1.5. Die Kabinet is voorts ingelig dat water na nege (9) dorpe onder die Groter Giyani Munisipaliteit begin vloei het; 'n verdere 15 dorpe sal teen einde Augustus 2024 water kry.
1.1.6. Die Mopani-distriksmunisipaliteit het befondsing ontvang om die Giyani-watersuiweringswerke op te knap en die kapasiteit te verhoog.
1.1.7. Die Departement in samewerking met die Stad Tshwane en Magalies Water is besig met 'n Magalies Water-projek wat teen Oktober 2024 'n alternatiewe bron van drinkwater aan Hammanskraal in die Stad Tshwane sal voorsien. Die Stad Tshwane sal intussen voortgaan om die Rooiwal-afvalwatersuiweringswerke te herstel en op te gradeer.
1.1.8. Met die toenemende uitdagings van watervoorsiening in die land, sal die Departement van Water en Sanitasie tweeweeklikse inligtingsessies hou oor vordering met die hantering van wateronsekerheid en maatreëls wat gemeenskappe moet onderneem om watersekerheid in ons waterskaars land te verseker.
1.2. Elektrisiteit
1.2.1. Die voorsiening van volhoubare elektrisiteit is nou 'n stap nader danksy die standvastige implementering van die Energie-aksieplan (EAP) wat in Julie 2022 deur President Cyril Ramaphosa aangekondig is. Die EAP se voortgesette fokus op beplande instandhouding en werk om energiesekerheid te bewerkstellig deur nuwe opwekkingskapasiteit aan boord te bring, het grootliks bygedra tot volhoubare kragvoorsiening en geen beurtkrag oor etlike maande nie. Dit is 'n belangrike instaatsteller vir ekonomiese groei en het 'n positiewe uitwerking op lewensgehalte wat burgers toelaat om ongehinderd voort te gaan met hul daaglikse aktiwiteite.
1.2.2. Eskom het einde Julie 2024 'n onbeplande vermoëverliesfaktor (UCLF) van 8 321MW aangeteken, wat 'n historiese mylpaal in die verbetering van elektrisiteitsopwekking by sy kragstasies is.
1.2.3. Die Kabinet wens Eskom geluk met hierdie belangrike mylpaal en moedig Suid-Afrikaners aan om steeds 'n energiebesparende leefstyl te handhaaf om ons nasionale netwerk te beskerm. Sodoende maak ons almal ’n bydrae om die ligte aan te hou, wat noodsaaklik is vir besigheid, nywerheid en die ekonomie
2. Handel
2.1 21ste AGOA-forum
2.1.1. Die Kabinet is ingelig oor die Suid-Afrikaanse afvaardiging se suksesvolle deelname aan die 21ste Forum van die Africa Growth and Opportunity Act (Agoa) in die Verenigde State, as 'n positiewe bevestiging van goeie bilaterale betrekkinge tussen ons land en die VSA.
2.1.2. Suid-Afrika bevorder steeds sy saak vir die hernuwing van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, wat oor 14 maande verstryk, en ondersteun oproepe deur Afrika se ministers van handel dat die Amerikaanse regering moet wegdoen met die jaarlikse oorsigte van Agoa.
2.2. SA – EU sitrusdispuut in die WHO
2.2.1. Die Kabinet is ingelig oor 'n formele dispuut wat die land met die Wêreldhandelsorganisasie teen die Europese Unie (EU) se streng en onnodige plantgesondheidsvereistes rakende Sitrus-Black Spot (CBS) en False Codling Moth (FMC) se regulasies oor die uitvoer van Suid-Afrikaanse sitrusprodukte na die EU ingestel het.
2.2.2. Suid-Afrika is die wêreld se tweede grootste uitvoerder van sitrus met 33% van die land se sitrusuitvoere wat vir die EU-mark bestem is. Suid-Afrika se bedryf verskaf direkte werk aan meer as 140 000 mense in landelike Suid-Afrika en ondersteun sodoende meer as 1,5 miljoen mense.
2.2.3. Hoewel die maatreëls wat deur die EU ingestel is nie 'n verbod is nie, lei dit tot aansienlike koste vir die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf, wat op R2 miljard (US$110 miljoen) per jaar geraam word. Die EU het besluit om die streng maatreëls teen Suid-Afrika in te stel, terwyl dit nie vir lande met soortgelyke situasies soos Israel, geld nie.
2.3. Internasionale betrekkinge
3.1 Die Kabinet verwelkom die Internasionale Geregshof se raadgewende mening oor die regsgevolge wat voortspruit uit die beleid en praktyke van Israel in die besette Palestynse gebiede, wat eenparig bevestig het dat Israel se voortgesette teenwoordigheid in die besette Palestynse gebiede onwettig is onder internasionale reg.
3.2 Die uitspraak skep 'n bykomende wetlike verpligting vir alle state om medepligtigheid aan Israel se onwettige optrede te beëindig en om deur hul optrede respek vir die internasionale reg te toon.
3.3 Suid-Afrika was een van 49 VN-lidlande wat in Februarie 2024 'n verklaring oor die aangeleentheid aan die Internasionale Geregshof gerig het.
4. Onrus in Kenia en Nigerië
4.1 Die Kabinet het sy kommer uitgespreek oor die voortslepende onrus in Kenia en Nigerië en het alle partye aangemoedig om dringende oplossings te vind vir die lot van burgers weens die hoë lewenskoste, waarvan Suid-Afrika ook nie gespaar word nie.
5. Verenigde Koninkryk se algemene verkiesing
5.1 Die Kabinet het weer-eens die Verenigde Koninkryk se Eerste Minister Sir Keir Starmer en die Arbeidersparty geluk gewens met hulle oorwinning in die onlangse algemene verkiesing. Suid-Afrika is gereed om met die Verenigde Koninkryk se regering saam te werk om handel en samewerking te bevorder.
5.2 Die regering sal steeds ontwikkelings in ander lande wat ook vanjaar verkiesings het, dophou.
6. Suid-Afrika se kandidatuur aan multilaterale liggame
6.1 Die Kabinet onderskryf Suid-Afrika se kandidatuur aan multilaterale liggame:
6.1.1 Die kandidatuur van me Swazi Bajabulile Tshabalala vir president van die Afrika Ontwikkelingsbank (AfDB) vir die termyn 2025-2027, tydens ’n verkiesing wat in Augustus 2024 plaasvind.
6.1.2 Die kandidatuur van me Yvette van der Merwe vir president van die Organisasie vir Wingerd en Wyn (OIV) tydens ’n verkiesing wat in Oktober 2024 in Frankryk gehou sal word. Suid-Afrika het 'n bod vir herverkiesing tot die Menseregteraad vir 2026-2028.
6.1.3 Suid-Afrika versoek die herverkiesing van sy kandidaat Professor Frans Jacobus Viljoen, tot die VN se Advieskomitee vir Menseregte vir die tydperk 2025-2027, tydens ’n verkiesing wat vir Oktober 2024 in New York, VSA geskeduleer is.
6.1.4 Suid-Afrika versoek ook termyne vir die VN se Kommissie vir die Status van Vroue (CSW) in 2025 en die Kommissie vir Maatskaplike Ontwikkeling in 2025. Verkiesings vir albei liggame sal in April 2025 plaasvind.
6.1.5. Suid-Afrika sal verkiesing tot die VN se Veiligheidsraad vir ’n tweejaartermyn aanvra vir die tydperk 2031-2032, wanneer dit Suider Afrika se beurt sal wees.
7. Voorbereiding vir Suid-Afrika se presidentskap van die G20
7.1 Suid-Afrika sal die presidentskap van die G20 vanaf 1 Desember 2024 oorneem.
6.2.2. Die Kabinet is ingelig oor die voorbereidings vir Suid-Afrika se G20-presidentskap en die aanbieding van die G20-beraad in 2025.
6.2.3. ’n Interministeriële komitee sal namens die regering en Suid-Afrikaners verantoordelik wees om hierdie geleentheid te reël.
6.2.4 Suid-Afrika sal voortgaan om geleenthede aan te gryp om internasionale forums soos die G20 te lei en aan te bied aangesien dit wêreldwyd aandag vestig op die ontwikkelingsuitdagings wat Afrika en die lande van die globale Suide in die gesig staar.
C. Toekomstige gebeure
1 Vrouemaand
1.1 Nasionale Vrouedag word vanjaar op 9 Augustus 2024 gevier by die Dennis Nel Stadion op Pofadder in die Noord-Kaap met die tema: “Vier 300 jaar van demokrasie vir die ontwikkeling van vroue”.
1.2 Vanjaar se Vrouedagviering sal bestek opneem van die vordering wat gemaak is met die sosio-ekonomiese bemagtiging van vroue sedert die koms van demokrasie en prestasies van die Vrouehandves se doelwitte.
1.3 Ons nasie bring hulde aan die meer as 20 000 vroue wat op 9 Augustus 1956 na die Uniegebou opgeruk het uit protes teen die uitbreiding van paswette rakende vroue.
1.4 Die Kabinet nooi burgers om deel te wees van die geleenthede wat tydens Vrouemaand aangebied word. Dit sluit onder meer ook 'n handelsuitstalling, interaktiewe dialoë en geleenthede in wat vir vroue in uiteenlopende sektore beskikbaar is en instrumenteel is om geslagsongelykheid te beperk.
2 32ste Algemene Vergadering van die Internasionale Sterrekunde-unie (IAU)
2.1 Suid-Afrika bied vanjaar die wêreld se grootste sterrekundevergadering, naamlik die 32ste Algemene Vergadering van die Internasionale Sterrekunde-unie (IAU), in Kaapstad aan.
2.2 Die vergadering strek oor ’n tydperk van twee weke vanaf 6 Augustus 2024 en is die eerste konferensie vir die internasionale sterrekundegemeenskap wat op die vasteland van Afrika gehou word.
2.3 Dié vergadering speel 'n belangrike rol om Suid-Afrika te help om van 'n hulpbrongebaseerde ekonomie na 'n kennisgebaseerde ekonomie oor te skakel. Suid-Afrika het oor die jare vordering gemaak met sterrekunde-ontwikkeling en sterrekundeverwante aktiwiteite, wat groot wetenskaplike projekte soos die SKA en die MeerKAT ingelui het.
3 Money Smart-week Suid-Afrika
3.1 Die 2024 Money Smart-week Suid-Afrika (MSWSA) word van 26 Augustus 2024 tot 1 September 2024 aangebied met verskeie verbruikersgerigte finansiële opvoedingsprogramme en inisiatiewe.
3.2 MSWSA is 'n inisiatief van die Nasionale Verbruiker Finansiële Onderwyskomitee (NCFEC) wat daarop gerig is om Suid-Afrikaners te motiveer, te bemagtig en op te voed, en om by te dra tot meer finansieel geletterde burgers.
3.3 Aktiwiteite wat tydens die veldtog aangebied word sluit in gratis werksessies, inligtingsessies, winkelsentrum-aktiverings, uitstallings en webinaars.
C. Boodskappe
1. Gelukwense
Die Kabinet het gelukgewense en voorspoed oorgedra aan:
• Me Kholeka Gcaleka, Suid-Afrika se openbare beskermer wat verkies is tot streekspresident van die Instituut vir Internasionale Ombudsmanne.
• Dr Mugwena Maluleke, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU), wat by die 10de Wêreldkongres verkies is tot president van Education International.
• Dr John Kani, veteraanakteur, regisseur en dramaturg, wat deur sy majesteit Koning Charles III met die gewaardeerde Orde van die Britse Ryk vereer is.
2. Meegevoel
Die Kabinet het sy meegevoel uitgespreek met die afsterwe van:
• Die vyf leerders van die Morneg Gekombineerde Skool wat hul lewens verloor het toe 'n bus waarin hulle gery het teen 'n trein op die R104-pad naby Mafube Village, tussen Wonderfontein en Arnot, gebots het.
• Veteraanaktrise Connie Chiume (72) wat veral bekend was vir haar hoofrol in die plaaslike reeks Rhythm City. Sy is ook baie geprys vir haar verskyning in die Marvel-film Black Panther.
• Die regering en mense van die Federale Demokratiese Republiek van Ethiopië na aanleiding van die onlangse grondverskuiwings in Gofa, Suidwes-Ethiopië, wat tragies die lewe van minstens 250 mense geëis het.
• Vier mense wat omgekom het in 'n ongeluk tussen 'n bakkie en 'n goederetrein naby Postmasburg in die Noord-Kaap
• Mnr Robbie Venter (64), die voormalige uitvoerende hoof van Altron, wat sedert 1997 in verskeie rolle in die IKT-groep gewerk het.
• Mnr John Sidipa Mphosi (71), die voorsitter van Global Oil, 'n groep van brandstofafsetpunte.
Mag hulle in vrede rus.