Verklaring oor die Kabinetsvergadering van Woensdag

A.    Kwessies in die omgewing

1.    Ekonomie

1.1.    Nasionale spoorvragnetwerk
1.1.1.    Die Kabinet verwelkom die aankondiging deur die bestuurder van  Transnet Spoorvrag (ʼn afdeling van Transnet) oor die nuwe spooroperateurmaatskappye. Hierdie belangrike  vrag- en logistieke ontwikkeling en die implementering van Suid-Afrika se spoorbeleid, is ʼn belangrike mylpaal vir die vooruitgang van geïdentifiseerde strukturele hervormings wat van sleutelbelang is om ekonomiese ontwikkeling te ontsluit. 
1.1.2.    Die derdeparty-toegang tot die spoornetwerk sal die benutting van die netwerk verbeter en sodoende spoordoeltreffendheid verbeter; netwerkeenheidskostes verminder deur meer operateurs te betrek; inkomste verhoog wat sal bydra tot belegging in die onderhoud en modernisering van die netwerk; eksterne kostes soos vraglogistiek verminder en die mededingingsvermoë van spoorvervoer verbeter. 
1.1.3.    Die aanvanklike toewysings oor altesaam 41 roetes en ses vervoergange, is as volg:
(a)    Noordelike vervoergang: ses nuwe toetreders, 15 roetes vir die vervoer van steenkool en chroom.
(b)    Ysterertsvervoergang: een nuwe toetreder, een roete vir die vervoer van ystererts.
(c)    Kaapse vervoergang: twee nuwe toetreders, twee roetes vir die vervoer van mangaan.
(d)    Noordoos-vervoergang: ses nuwe toetreders, 16 roetes vir die vervoer van steenkool, chroom, magnetiet, brandstof, houers.
(e)    Sentrale vervoergang: een nuwe toetreder, twee roetes vir die vervoer van steenkool, vraghouers (mangaan).
(f)    Houervervoergang: vier nuwe toetreders, vyf roetes vir die vervoer van houers, steenkool en suiker.
1.1.4    Die Transnet Spoorvervoerbestuurder beraam dat die nuwe treinoperateurmaatskappye vanaf die 2026/27 finansiële jaar ʼn bykomende 20 miljoen ton vrag per jaar sal vervoer. Dit sal Transnet spoorvrag se geraamde volumes aanvul en bydra tot die regering se teiken van vragverhoging deur spoorvervoer met 250m ton per jaar teen 2029.
1.1.5    Hierdie ontwikkeling is ook deel van die vordering wat Transnet maak om ʼn meer doeltreffende onderneming te word.

1.2    Nuwe belegging in mynwese
1.2.1    Die Kabinet verwelkom die opening van die Qala Shallows-projek by West Wits Mining Bpk in die Witwatersrand-bekken, teen ʼn belegging van US$90 miljoen. Dit is Suid-Afrika se eerste ondergrondse goudmyn in 15 jaar. Hierdie belegging is ʼn teken van die hernude vertroue in die potensiaal van nuwe goudprojekte en bevestig Suid-Afrika as ʼn voorkeurbestemming vir beleggings in mynwese. Produksie wat geskeduleer is om in 2026 te begin, sal die Suid-Afrikaanse ekonomie ʼn stewige hupstoot gee met werkskepping, vaardigheidsontwikkeling en ekonomiese groei.

1.3    Ekonomiese bemagtiging van vroue
1.1.3    Die Kabinet verwelkom die strategiese openbare-private vennootskap tussen die Departement van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede en Standard Bank SA. Die vennootskap sal die bemagtiging van vroue bevorder en sluit ʼn belegging van US$10 miljoen in die African Women Impact Fund in.
1.1.4    Die African Women Impact Fund sal vroulike fondsbestuurders met sakeondernemings in Afrika ondersteun, met die doel om die befondsingsgaping van US$42-miljard wat deur vroue-entrepreneurs in Afrika ervaar word, die hoof te bied.

B.    Kabinetsbesluite 
1.    Aanbied van die 2027 Krieketwêreldbeker
1.1.    Die Kabinet is op die hoogte gebring van die Internasionale Krieketraad se besluit om die regte as gasheerland vir die 2027-krieketwêreldbeker aan Suid-Afrika toe te staan. Dit bevestig weereens Suid-Afrika se internasionale posisie as ʼn gasheerland sowel as ’n tuiste vir sport en vermaaklikheid. 
1.2.    Suid-Afrika het ʼn onberispelike geskiedenis as gasheer vir suksesvolle wêreldsportgeleenthede soos byvoorbeld die aanbied van die eerste wêreldsokkerbeker in Afrika in 2010 en die krieketwêreldbeker in 2001. Hierdie wêreldsportgeleenthede was elke keer ʼn katalis vir grootskaalse infrastruktuurontwikkeling in die land. 
1.3.    Net so sal die voorbereidings vir die 2027 krieketwêreldbeker tot die ekonomiese ontwikkeling van die landbydra deur infrastruktuuropgraderings en ’n toename in toerisme.

2.    Suid-Afrika se bod om die 2027 Formule 1 Grand Prix by Kyalami  aan te bied
2.1.    Die Kabinet het die versoek vir die aanbied van die Formule 1 Grand Prix-kampioenskap in Kyalami vir ʼn tydperk van drie jaar,  vanaf 2027, goedgekeur.
2.2.    Die bod word ten volle finansieel ondersteun deur betroubare rolspelers in die private sektor en, indien suksesvol, sal dit bydra tot werkskepping en ekonomiese ontwikkeling. 
2.3.    Die blote toestaan van ’n geleentheid vir Suid-Afrika om vir die gesogte Formule 1 Grand Prix te bie is ʼn bevestiging van Suid-Afrika se status as ʼn wêreldklas rolspeler en dui op die vertroue wat in die land gestel word.

3.    Beleidsraamwerk vir Inkubasie- en Sake-ontwikkelingsdienste 
3.1    Die Kabinet het die publikasie van die Beleidsraamwerk vir Inkubasie- en Sake-ontwikkelingsdienste goedgekeur vir openbare kommentaar. Die beleidsraamwerk, onder leiding van die Departement van Kleinsakeondernemings, is daarop gemik om regulatoriese hervorming aan kleinsakeondernemings te bied deur die rolle van verskeie belanghebbendes duidelik te omskryf en gekoördineerde pogings te bevorder.
3.2    Dit vorm deel van die breër nasionale meesterplan vir  die ontwikkeling van geïntegreerde kleinsakeondernemings. Dit is die leidende raamwerk vir alle rolspelers wat by die bevordering en groei van mikro-/makro-, klein- en medium-ondernemings (KMMO’s) betrokke is deur meetbare programme, produkte en dienste. Sleuteldoelwitte sluit in die verbetering van die gehalte en standaarde van ontwikkelingsdienste vir besighede; beter toegang tot ondersteuning vir KMMO’s, veral in townships en in die platteland; en die bevordering van innovering en entrepreneurskap.
3.1.    Die raamwerk plaas mentorskap en inkubasie as sentraal tot die ontwikkeling van KMMO’s en steun vir klein ondernemings. Besigheidsinkubators speel ʼn sleutelrol in die vroeëstadiumgroei van ondernemings deur gestruktureerde steun, hulpbronne en ʼn bevorderlike omgewing te skep om volhoubaarheid te verseker.

4.    Lugvragstrategie vir Suid-Afrika 
4.1.    Die Kabinet verleen goedkeuring aan die publikasie van die konsep-lugvragstrategie vir Suid-Afrika vir openbare  kommentaar. 
4.2.    Die strategie is daarop gemik om huidige uitdagings soos gefragmenteerde vragvervoergange en hoë intreeversperrings die hoof te bied en om mededingings- en infrastruktuurverbindings met ander markte te verbeter. Hierbenewens sal die strategie uitvoerders, invoerders en logistieke maatskappye bevoordeel deur ekonomiese groei te bevorder en globale handel te fasiliteer deur ʼn meer geïntegreerde lugvragnetwerk.

5.    Nasionale ingryping by Ditsobotla plaaslike munisipaliteit 

5.1.    Die Kabinet is op die hoogte gebring met die status van die Ditsobotla plaaslike munisipaliteit in die Noordwes-provinsie. 
5.2.    Om stabiliteit in die munisipaliteit te herstel, het die Kabinet goedgekeur dat Ditsobotla onder administrasie geplaas word volgens artikel 139(7) van die Grondwet. Hierdie ingryping word ooreenkomstig die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur van 2003 geïmplementeer.
5.3.    ʼn Herstelplan sal onder die rentmeesterskap van die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake en die Nasionale Tesourie geïmplementeer word. Die departement sal voorts ook interregeringsverhoudingstrukture koördineer om die herstel van administratiewe funksies te fasiliteer en sodoende die munisipaliteit te help om sy wetgewende mandaat te vervul. ʼn Gesamentlike operasie-taakspan sal ook op die kriminele aktiwiteite wat die munisipaliteit beleër fokus.

C.    Wetsontwerpe
1.    Wysigingswetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Geregtelike Opleidingsinstituut (SAJEI) 
1.1.    Die Kabinet het die inhandiging van die Wetsontwerp op SAJEI aan die Parlement vir verdere verwerking goedgekeur. Die hoofdoel van die wetsontwerp is om die bestaande SAJEI-wet van 2008 te wysig om die nodige herstrukturering van die instituut se bestuursmodel moontlik te maak. 
1.2.    Die wet het die instituut tot stand gebring om onderwys en opleiding aan regsamptenare te bied en sodoende die onafhanklikheid, onpartydigheid en doeltreffendheid van ons howe te verseker. Die beoogde herstrukturering behels die aanstelling van ʼn dekaan en ’n uiteensetting van die aanstelling en funksies van die instituut se direkteur.

2.    Wetsontwerp op Besigheidslisensiëring, 2025
2.1.    Die Kabinet het die publikasie van die Wetsontwerp op Besigheidslisensiëring oorweeg en goedgekeur vir openbare kommentaar. 
2.2.    Die doel van die wetsontwerp is om die Wet op Besighede van 1991 te wysig. Die wysigings is daarop gemik om ʼn meer moderne en doeltreffende raamwerk vir besigheidslisensiëring te vestig, wat ekonomiese groei en doeltreffende regulering bevorder en om Suid-Afrikaners se deelname in die informele sektor te beskerm.

D.    Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en toepaslike sekuriteitsklarings.

1.    Mnr. Burton Vincent Cambell as Adjunk Direkteur-generaal: Ontspanningsontwikkeling en Bevordering van Sport by die Departement van Sport, Kuns en Kultuur. 
2.    Me. Lorraine Naidoo as Uitvoerende Beampte vir Voorsieningskettingbestuur by die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur. 
3.    Mnr. Dennis Mqadi as die Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (SAMSA).
4.    Mnr. Shonisani Munzhedzi (verlenging van kontrak) as die HUB van die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (SANBI).
5.    Streeksuitvoerende Bestuurders van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA)
a.    Me. Mmapula Constance Pheeha (Limpopo) 
b.    Me. Karabelo Ellie Mojanaga (Noord-Kaap) 
c.    Me. Nkele Ntlhe (Vrystaat).

6.    Nie-uitvoerende direkteure op die Raad van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) SBI Beperk: 
a.    Me. Dorothy Kobe;
b.    Mnr. Stephen Boikanyo;
c.    Me. Rethabile Nkosi; 
d.    Mnr. Mpumelelo Maseko;
e.    Dr. Mongwena Maluleke (SADTU-verteenwoordiger en heraanstelling);
f.    Me. Lindiwe Motshwane (SADTU-verteenwoordiger);
g.    Mnr. Matimba Shiburi (PSA-verteenwoordiger);
h.    Me. Lerato Makwetla (GEPF-verteenwoordiger);
i.    Me. Nosiphiwo Balfour (GEPF-verteenwoordiger); en
j.    Me. Lindy Bodewig (Nasionale Tesourie-verteenwoordiger).

7.    Nie-uitvoerende direkteure op die raad van die Grond- en Landbou-ontwikkelingsbank van Suid-Afrika (LandBank):
a.    Prof. Johann Frederick Kirsten (heraanstelling);
b.    Me. Egashnee Pillay (heraanstelling);
c.    Mnr. Mabotha Arthur Moloto;
d.    Me. Phumzile Hazel Maseko;
e.    Me. Simthandile Ford;
f.    Me. TF Matlala;
g.    Mnr. Mcebisi Skwatsha; en
h.    Me. Xikongomelo Maluleke.

8.    Lede van die raad van Productivity South Africa: 
a.    Me. Zola Baba Tshefu (Voorsitter);
b.    Me. Beverly Jack (verteenwoordiger vir georganiseerde besigheid);
c.    Mnr. Gilly Dlamini (verteenwoordiger vir georganiseerde besigheid);
d.    Mnr. Godfrey M. Selematsela (verteenwoordiger vir georganiseerde besigheid);
e.    Mnr. Thabo Mmoneri (verteenwoordiger vir georganiseerde besigheid);
f.    Me. Sinah M.R. Mosehla (verteenwoordiger vir die Departement van Handel, Nywerheid en Kompetisie); en 
g.    Me. Nolukholo F.N. Sigaba (verteenwoordiger vir die Departement van Indiensneming en Arbeid).

E.    Inligting oor vordering van projekte aan die Kabinet
1.    Fase 2 van die Lesotho-hooglandwaterprojek
1.1.    Die Kabinet is op die hoogte gebring van vordering met die implementering van Fase 2 van die Lesotho-hooglandwaterprojek. Met voltooiing sal hierdie projek watersekerheid vir die Gauteng-provinsie verseker.
1.2.    Volgens die projek se bouskedule sal die werk na raming teen die einde van 2029 voltooi wees, met konstruksie wat vordering toon by die Polihali-dam sowel as die Polihali-Katse-oordragtonnel. 
1.3.    Die opvang van water in die dam sal na verwagting in 2028 begin om die Departement van Water en Sanitasie in staat te stel om toe te laat dat Rand Water meer water uit die Vaalrivierstelsel onttrek om teen 2028 water aan Gauteng se munisipaliteite te voorsien.

2.    G20
2.1.    Die Kabinet is op die hoogte gebring oor die G20-voorbereidings en verwelkom die bekendstelling deur President Cyril Ramaphosa van die G20 se deskundiges-taakmag. Die deskundiges-taakmag sal globale welvaartongelykheid en die impak daarvan op ekonomiese groei, armoede en multilateralisme ondersoek. Hierdie inisiatief, die eerste van sy soort in die G20, is belyn met Suid-Afrika se verbintenis om sy G20-presidentskap te gebruik om kwessies wat lae-inkomste lande raak, soos stygende ongelykheid en hoë skuldlas, aan te pak. Die G20 deskundiges-taakmag sal ’n verslag hieroor in November 2025 in Suid-Afrika lewer. Dit sal die eerste verslag ooit oor globale ongelykheid wees wat by ’n G20-leiersberaad aan die G20-wêreldleiers gelewer word. 
2.2.    Met die aftelling na die G20-leiersberaad, reël en fasiliteer Suid-Afrika steeds voorbereidingsvergaderings en die aanvaarding van verklarings deur verskeie taakmagte en werkstrome. Die volgende beplanningsvergaderings vir die G20-beraad het in die afgelope paar weke plaasgevind:
2.2.1.    Die sesde vergadering van die gesondheidswerkgroep waartydens die versterking van globale gesondheidstelsels en voorbereiding vir toekomstige uitdagings bespreek is, het virtueel op 1 en 2 September 2025 plaasgevind. 
2.2.2.    Die derde vergadering van taakmag 2 oor voedselsekuriteit het van 1 tot 3 September 2025 plaasgevind om die hoofuitkomste van die G20-voedselsekuriteittaakmag en die ministeriële verklaring oor globale voedselsekuriteit (wat na verwagting tydens die G20-ministeriële vergadering op 19 September 2025 in Suid-Afrika aanvaar sal word) te bespreek. 

3.    Ministeriële vergadering oor klein en mediumgrootte sakeondernemings (KMO’s) 
3.1.    Die Kabinet het ʼn verslag ontvang oor die suksesvolle globale ministeriële vergadering oor KMO’s, wat in samewerking met die internasionale handelsentrum en StartUp20, van 21 tot 24 Julie 2025 in Johannesburg plaasgevind het. Die vergadering het as ʼn noodsaaklike platform gedien vir die kweek van vennootskappe en om ʼn samewerkende agenda op te stel, wat daarop gemik is om KMO’s na ʼn meer volhoubare, inklusiewe en voorspoedige toekoms te dryf. 
3.2.    Die besprekings het sleuteltemas soos die verbetering van toegang tot finansiering, die bevordering van digitale transformasie en die fasilitering van groen-oorgang in die KMO-sektor ingesluit. Die geleentheid het 750 deelnemers vanuit 66 lande (52 ministers en adjunkministers) gelok.

4.    Uitkomste van die eerste Afrika-beraad oor belegging in water 
4.1    Die Kabinet is ingelig oor die uitkomste van die eerste Afrika-beraad oor belegging in water, wat van 13 tot 15 Augustus 2025 in Kaapstad plaasgevind het. Die beraad is amptelik deur President Cyril Ramaphosa geopen en is onder die vaandel van die Afrika-unie-beraad en die hoëvlak paneel vir waterbelegging in Afrika gereël. Die beraad het 80 finansieelhaalbare water- en sanitasieprojekte uit 38 lande, insluitend 36 van Suid-Afrika, ten toon gestel. ʼn Merkbare uitkoms was die loods van die Raad vir die Globale Vooruitsigte van Belegging in Water, ʼn G20-erfenisinisiatief oor die verhoging van waterbelegging te midde van globale diplomasie. Die beraad het ongeveer US$12 miljard in verbintenisse verseker, ʼn wesenlike sprong om Afrika se jaarlikse waterbelegginstekort van US$30 miljard te verminder. 
4.2    Die beraad is fyn belyn met ons nasionale prioriteite soos uiteengesit in die Mediumtermyn-ontwikkelingsplan, die Nasionale Ontwikkelingsplan en AU Water Vision. Die uitkomste bevestig Suid-Afrika se leierskap in die vorming van watersekerheid en infrastruktuurontwikkeling op die vasteland.

5.    Geïntegreerde Staatsdiensmaand 
5.1    Die Kabinet is op die hoogte gebring oor die implementering van die 2025-2026 regeringswye en jaarlange Geïntegreerde Staatsdiensfokusprogram. Dit sal in September 2025 van stapel gestuur word as ʼn gestruktureerde platform om professionalisme te bevorder en die publiek se vertroue te herbou. 
5.2    Die Geïntegreerde Staatsdiensfokusprogram dien as ʼn platform om erkenning te gee aan uitnemendheid in die openbare sektor en dit ten toon te stel, asook om erkenning te gee aan staatsamptenare wat die nasie met trots en onderskeiding dien. Dit word gevier onder die tema “Professionalisering van die Staatsdiens om vertroue in die regering op te bou en te herstel”.
5.3    Die program is gegrond op vyf strategiese pilare, naamlik die sigbaarheid van uitvoerende raadslede in gemeenskappe, reaksie en professionalisme en etiese optrede van staatsamptenare, vertroue, en burgerlike deelname.
5.1.    Die Kabinet steun ook die vestiging van ʼn interregerings-verhoudingsforum om die jaarlikse Geïntegreerde Staatsdiensmaand se kalenderaktiwiteite te koördineer en samewerking tussen regeringsentiteite te bevorder.

F.    Toekomstige gebeure
6.    Presidensiële besoek aan die Noordwes-provinsie
6.1.    President Cyril Ramaphosa en die Kabinet sal Rustenburg in die Noordwes-provinsie op Vrydag 12 September 2025 besoek. Die besoek is deel van die president se inisiatiewe om steun vir provinsiale regerings te versterk en om koördinasie in die ontsluiting van provinsiale groei en dienslewering te verbeter. Hierdie is die vyfde soortgelyke besoek aan ʼn provinsiale uitvoerende raad.

7.    Adjunkpresident Paul Mashatile se oorsigbesoek in die Wes-Kaap
7.1    Adjunkpresident Paul Mashatile onderneem ʼn oorsigbesoek in die Overberg-distrik van die Wes-Kaap van 4 tot 6 September 2025 om aandag te vestig op die regering se pogings om die grondhervormingsprogram te bespoedig. Die adjunkpresident sal ook ʼn skoon stede- en dorpe-veldtog in die Zwelihle-township in die Overstrand plaaslike munisipaliteit onderneem; dit is deel van die strewe na skoner, gesonder en meer volhoubare stedelike en plattelandse omgewings.

8.    Suid-Afrikaanse Beraad oor Paroolhersienings
8.1.    Die Departement van Korrektiewe Dienste sal op 22 en 23 September 2025 die Suid-Afrikaanse Beraad oor Paroolhersiening in Pretoria aanbied. 
8.2.    Die beraad vind plaas tydens Korrektiewe Week , wat op die departement se rol in die rehabilitering en gemeenskapsintegrering van oortreders sal fokus. Die beraad sal kenners, praktisyns en belanghebbendes byeenbring vir gesprekvoering oor die suksesse, uitdagings en huidige neigings in die paroolstelsel.

9.    Nasionale herdenkings 
9.1    Die volgende gebeure sal in September plaasvind: Erfenismaand, Toerismemaand, SAPD Nasionale Herdenkingsmaand en Geïntegreerde Staatsdiensmaand.
9.2    Met die viering van Erfenismaand gee Suid-Afrika erkenning aan en vier ons die ryk kultuur, erfenis en tradisies van ons uiteeenlopende nasie. Vanjaar se tema is “Herbesin ons erfenisinstellings vir ʼn nuwe era”. Adjunkpresident Paul Mashatile sal die amptelike Erfenisdagvierings, wat op 24 September 2025 in die Bridgton-stadion in Oudtshoorn in die Wes-Kaap plaasvind, lei.
9.3    Toerismemaand word onder die tema “Toerisme en volhoubare toerisme” gevier met die doel om Suid-Afrika se ryk kutluur, erfenis en reiservaringe te vier. Toerismemaand plaas die kollig op die belangrikheid van die sektor in gemeenskapsbemagtiging en werkskepping. Dit spoor Suid-Afrikaners aan om plaaslik te reis en te beproef wat ons nasie bied (#Sho’t Left).
9.1.    SAPD Nasionale Herdenkingsmaand word jaarliks op die eerste Sondag van September gevier. Dit is ’n geleentheid om die mans en vroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat hul lewens tydens die uitvoering van hul pligte verloor het en so die hoogste prys in diens van die mense van Suid-Afrika betaal het, te vereer. Die Kabinet doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om die polisie te ondersteun in hul moeilike taak om ʼn veilige en misdaadvrye Suid-Afrika te verseker.

G.    Boodskappe
1.    Medelye
Die Kabinet dra sy medelye oor aan die vriende en familie van: 

  • Voormalige voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies en oud-ambassadeur in Kenia, mnr Mninwa Johannes Mahlangu, liefdevol bekend as “MJ” en een van die eerste-generasie LP’s om in 1994 tot die Parlement verkies te word. Hy was lid van die groep wat die Grondwet opgestel het en het Suid-Afrika later internasionaal met onderskeiding gedien.
  • Tshidi Madia, bekende joernalis en uitsaaier, asook ʼn toonbeeld van integriteit en ’n stem van rede. Sy is alom geprys vir haar beginselvaste joernalisme en toewyding tot die waarheid, regverdigheid, akkuraatheid en patriotisme.
  • Legendariese aktrise en die diepe siel van Suid-Afrikaanse verhaalvertelling, Nandi Nyembe, liefdevol bekend as Mam’ Nandi, wie se loopbaan oor meer as vyf dekades gestrek het.
  • Jazz-legende “Bra” Stompie Manana, wie se trompet die hartklop van Suid-Afrika se mense gedra het vanaf die strate van Sophiatown tot verhoë regoor die wêreld en een van die bekendste trompet- en flugelhoringspelers geword het.
  • Anti-apartheidaktivis en voormalige nasionale sekuriteitsraadgewer van Nelson Mandela, mnr Neil de Beer, wat ʼn enorme bydrae tot die geskiedenis en politiek van ons land in die verskeie rolle wat hy vervul het, gemaak het.
  • Mnr Ndumiso Madlala, entrepreneur en stigter van Suid-Afrika se gewilde en eerste craft-bier in swart besit, naamlik Soweto Gold.

2.    Gelukwense
Die Kabinet dra sy gelukgewense en voorspoed oor aan:

  • Akani Simbine, wat tweede geëindig het in die mans 100m tydens die 2025 Diamond League-finaal in Zurich.
  • Jo-Ane du Plessis, wat derde geëindig het in die vroue spiesgooi by die 2025 Diamond League-finaal in Zurich.
  • Thriston Lawrence, wat die Omega Europese meestersgholftoernooi in Switserland vir die tweede keer in vier jaar gewen het.
  • Die Springbok-vrouespan, wat die kwarteindstryd van die rugby-wêreldbeker vir die eerste keer in die geskiedenis bereik het. Ons wens hulle sterkte toe met hul wedstryd teen Frankryk op Sondag 7 September 2025.
  • Die Scorpion Kings met hul uitverkoopte konsert, “Betway Presents Scorpion Kings Live With Friends”, op 29 Augustus 2025. Die konsert het ʼn rekord 50 000 aanhangers gelok.

Uitgereik deur: die Regering se Kommunikasie- en Inligtingstelsel (GCIS)
Navrae: Me. Nomonde Mnukwa – waarnemende regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485

Share this page

Similar categories to explore