Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 9 Julie 2014

1. Die Kabinet se posisie oor huidige kwessies

1.1. Die Kabinet herinner alle Suid-Afrikaners daaraan om gedurende hierdie Mandela-maand ons geliefde voormalige President Nelson Mandela te vereer en te onthou deur aktief deel te neem aan die "Skoon Suid-Afrika"-veldtog.

Tydens Nelson Mandela-dag op 18 Julie en meer algemeen gedurende die hele maand, moet Suid-Afrikaners gehoor gee an President Jacob Zuma se beroep in sy Staatsrede om minstens 67 minute daaraan te wy om Suid-Afrika skoon te maak.

Oud-president Nelson Mandela het ons geleer dat enige individu 'n positiewe impak op die gemeenskap kan hê. Ons het almal 'n verantwoordelikheid om sy lewe te eer deur die skoonmaak, die verbetering en verfraaiing van ons gemeenskappe.

1.2. Die Kabinet verwelkom die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se massiewe spoorvernuwingsprogram. As deel van hierdie program het die Minister van Vervoer die finale ontwerp van Prasa se splinternuwe, moderne en veilige pendelaartrein onthul, wat spog met die nuutste tegnologie wat die spoorwegbedryf wêreldwyd bied. Dit is nog 'n besondere mylpaal in die Regering se verbintenis om infrastruktuur te ontwikkel wat die ekonomie stimuleer en plaaslike aankope ondersteun. Die eerste Prasa-trein sal na verwagting in 2015 volstoom begin werk.

Die modernisering van die treinstelsel sal metro-spoordienste heeltemal vernuwe – 'n balangrike katalisator vir die transformasie van openbare vervoer in Suid-Afrika. Prasa sal oor die volgende 10 jaar R51 miljard spandeer om 600 top-klas treine vir die mense van Suid-Afrika aan te koop. Altesaam 580 van hierdie treine sal in Suid-Afrika vervaardig word by 'n nuwe fabriek wat in Dunnotar buite Nigel in Ekurhuleni gevestig sal word teen 'n koste van R1 miljard. Die 600 000 m2 fabriek is ontwerp om die vervaardigingsaanleg, 'n opleidingsfasiliteit en 'n volwaardige industriële park te huisves. Die projek sal 8 088 regstreekse werkgeleenthede skep, wat deel uitmaak van meer as 33 000 direkte en indirekte werkgeleenthede oor die 10-jaar tydperk, en sal 'n plaaslike inhoudvlak van meer as 65% bereik. Prasa sal altesaam 19 527 individue (ingenieurs, vakmanne, tegnici, treindrywers en, onder andere, tegnoloë) gedurende die leeftyd van die projek oplei.

Die Spoorwegvloot-vernuwingsprogram is veel meer as die verkryging van treine; dit gaan oor die drie pilare wat die bedryf tot sy eertydse glorie sal herstel, ons spoorwegingenieursektor sal laat herleef en sal bydra tot ekonomiese ontwikkeling en lokalisering.

1.3. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling deur President Jacob Zuma vandag van die motorvervaardiger First Automotive Works (FAW) Suid-Afrika se monteringsaanleg en bedryf in die COEGA Industriële Ontwikkelingsone (IDS) in die Nelson Mandela-baai Metro, Port Elizabeth, in die Oos-Kaap.

Die R600 miljoen vragmotor monteringsaanleg, geleë in Sone 2 van die Coega-IDS word gesamentlik befonds deur die China FAW Group Corporation en die China-Afrika Ontwikkelingsfonds. Dit is een van die grootste beleggings wat deur 'n Chinese maatskappy gemaak is.

Hierdie aanleg sal 'n beduidende bydrae lewer tot die nasionale doelwitte vir sosio-ekonomiese ontwikkeling soos vervat in die Nasionale Ontwikkelingsplan, die Nuwe Groeipad en die Industriële Beleid Aksieplanne.

Voordele vir Nelson Mandela-baai en die groter Oos-Kaapstreek sluit in direkte buitelandse beleggings wat op sy beurt volhoubare werkgeleenthede sal skep en geleenthede sal bied vir vaardigheidsontwikkeling en opleiding.

1.4. Die Kabinet veroordeel weer eens die diefstal van kabels van spoor-, elektriese en munisipale openbare infrastruktuur. Sulke diefstalle belemmer die gladde verloop van die land se ekonomie en in sommige gevalle stel dit mense se lewens in gevaar. Die wetstoepassingsagentskappe sal seker maak dat mense wat vir hierdie misdade in hegtenis geneem word met die volle mag van die reg sal kennis maak. Die Kabinet het ook sy verbintenis bevestig tot die vervolging van skrootmetaalmaatskappye wat uit hierdie misdaad voordeel trek.

Gemeenskappe word aangemoedig om saam met die Regering te werk deur gevalle by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aan te meld.

1.5. Die Kabinet moedig belastingbetalers aan om hul individuele belastingopgawes vir die 2014-belastingseisoen, wat op 1 Julie 2014 begin het, in te dien. Belasting stel die Regering in staat om die land se ontwikkelingsplanne te finansier. Elke belastingbetaler wat 'n akkurate belastingopgaaf indien maak 'n bydrae tot Suid-Afrika se vooruitgang.

1.6. Die Kabinet verwelkom President Jacob Zuma se ondertekening van die Wysigingswet op die Herstel van Grondregte, wat dui op die heropening van die indiening van grondeise deur mense wat die vorige sperdatum gemis het en eisers nog vyf jaar bied om grondeise in te dien.

Terwyl ongeveer 80 000 grondrestitusie-eise teen die 1998-sperdatum ingedien is, is daar na raming tot vyf keer soveel geldige gevalle wat aanhangig gemaak kan word deur slagoffers van gedwonge verskuiwings gedurende die apartheidsera.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om die boodskap van hierdie wetgewing uit te dra om te verseker dat mense wat van hulle grond ontneem is en die 1998-sperdatum gemis het, na vore sal kom om hul grondeise vanaf 1 Julie 2014 tot 30 Junie 2019 in te dien. 

1.7. Die Kabinet wens die Suid-Afrikaans gefinansierde navorsers van die Square Kilometre Array (SKA) geluk met hulle ontdekking van 'n drieledige supermassiewe swartgatstelsel. Dit is positiewe bevestiging van die vinnige ontwikkeling van dinamiese en betekenisvolle radio-astronomie in Suid-Afrika. Die ontdekking toon verder dat Suid-Afrika die wetenskaplike en tegniese kundigheid het om 'n wêreldleier in radio-astronomie te wees.

Hierdie internasionaal erkende navorsing herinner ons dat daar danksy ons suksesvolle bod unieke geleenthede vir Suid-Afrika beskikbaar is om vaardighede te ontwikkel deurdat belangstelling in wetenskap en ingenieurswese onder ons jeug gestimuleer is. Dit voorsien die land ook van 'n basis om wetenskaplikes op te lei wat sal bydra tot die bereiking van Visie 2030 van die Nasionale Ontwikkelingsplan.

Hierdie ontdekking is die begin van baie meer wat moontlik gemaak sal word met die SKA. Ons suksesvolle bod het ook baie geleenthede in die land ontsluit, in die besonder duisende werkgeleenthede in konstruksie, operasionele bedryf en instandhouding in die Noord-Kaap waar die kern van die SKA gebou word.

1.8. Die Kabinet doen 'n beroep op jong mense om nou aansoek te doen vir toelating tot tersiêre instellings in lyn met die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se Doen Nou Aansoek! veldtog.

Deur hierdie veldtog word leerders toegerus met die nodige inligting om ingeligte loopbaankeuses te maak en betyds aansoek te doen vir toelating. Dit sal ook help om die druk wat aan die begin die akademiese jaar op studente geplaas word te verlig.

Leerders word ook daaraan herinner om gebruik te maak van die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema, wat finansiële hulp bied aan akademies verdienstelike studente wat finansieel behoeftig is.

1.9. Die Kabinet verwelkom die uitkomste van die 23ste Gewone Sessie van die Afrika-unie-beraad onder die tema: "2014 Jaar van Landbou en Voedselsekuriteit in Afrika" waar President Jacob Zuma 'n hoëvlak-afvaardiging gelei het.

Van belang is die beraad se besluite oor belangrike kwessies wat verband hou met ontwikkeling, vrede en veiligheid, klimaatsverandering en die mobilisering van hulpbronne, sowel as die finalisering van die Agenda 2063 Kontinentale Raamwerk, as deel van die visie van Afrika in die volgende 50 jaar en die algemene Afrika-posisie oor die post-2015 Ontwikkelingsagenda.

1.10. Die Kabinet spreek sy meegevoel uit teenoor die familie en vriende van die ANC-Vroueliga se adjunkpresident en voormalige ANC-hoofsweep in die Nasionale Raad van Provinsies, me Nosipho Ntwanambi Dorothy. Sy laat 'n groot leemte in die voortdurende stryd om 'n regverdige en gelyke samelewing te vestig waar alle burgers gelyke vryhede, regte en geleenthede geniet.

2. Sleutel-Kabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet is ingelig oor die uitkomste van die 11de sessie van die Konferensie van die Partye (COP 11) van die Verenigde Nasies se Konvensie om Verwoestyning (UNCCD) te bestry, wat van 16 tot 27 September 2013 in Windhoek, Namibië gehou is.

Die konvensie is spesifiek gemoeid met die globale kwessies van droë, semi-droë en droë sub-humiede in die omgewing. Onder die belangrike besluite waaroor die konferensie ooreengekom het, is die verbetering van kapasiteit, effektiwiteit en doeltreffendheid van die plaaslike koördinasie-meganismes en dat die streeks-koördinasie-eenhede hul funksies doeltreffend uitvoer. Die konferensie het verder ooreengekom dat die Globale Meganisme saam met die UNCCD-sekretariaat sal verskuif van die Internasionale Fonds vir Landbou-ontwikkeling in Rome, na Bonn. Hierdie besluite sal die versterking van kapasiteit om die uitdagings van verwoestyning op die kontinent te hanteer ondersteun.

2.2. Die Kabinet het goedgekeur dat Suid-Afrika die Verbodwysiging onder die Basel-konvensie oor die Beheer van die Oorgrensbeweging van Gevaarlike Afvalstowwe en Verwydering bekragtig.

Die Basel-konvensie is 'n internasionale verdrag wat die oorgrensbeweging van gevaarlike afval reguleer, terwyl die Basel-konvensie se verbodwysiging aangeneem is om ontwikkelende lande te beskerm teen die ontvangs van ingevoerde gevaarlike afval uit ontwikkelde lande.

Bekragtiging van die verbod sal verseker dat menslike gesondheid en die omgewing vir toekomstige geslagte beskerm word, en dat sosio-ekonomiese ontwikkeling volhoubaar bevorder word.

Dit sal 'n belangrike bydrae lewer tot die vermindering van Afrika se probleme met die storting van gevaarlike afval.

3. Toekomstige gebeure

3.1. President Jacob Zuma sal 'n Suid-Afrikaanse afvaardiging na die sesde Brasilië, Rusland, Indië, China, Suid-Afrika (BRICS) -beraad lei, wat deur die Federale Republiek van Brasilië op 15 en 16 Julie 2014 onder die tema: "BRICS: Inklusiewe Groei, Volhoubare Oplossings" aangebied word.

Tydens Suid-Afrika se termyn as voorsitter van BRICS, is beduidende vooruitgang gemaak om die nuwe BRICS-meganismes wat by die vyfde BRICS-beraad van stapel gestuur is, te anker; dit wil sê die BRICS Business Council, sowel as die raad van die BRICS Think Tanks en verslae sal aan die BRICS-leiers voorgelê word oor die werk wat deur hierdie strukture onderneem is.

Die Suid-Afrikaanse Regering het die eThekwini-aksieplan, wat op die laaste BRICS-beraad in Durban, Suid-Afrika ten volle geïmplementeer is, aangeneem en sal 'n oorhandigingsverslag voorlê oor sektorale samewerking tydens sy ampstermyn as BRICS-voorsitter; die verslag beklemtoon vordering wat Suid-Afrika tydens sy termyn as voorsitter van BRICS gemaak het ten opsigte van die besluite vervat in die eThekwini-verklaring en -aksieplan.

3.2. Op Sondag 13 Julie 2014, sal die Departement van Vervoer terugvoer gee aan die gemeenskappe van Nkangala en Dr JS Moroka oor die Moloto-pad en die spoorontwikkelingsinisiatief. Die Moloto-spoorontwikkelingskorridor sal 'n geïntegreerde openbare vervoerstelsel wees met spoorvervoer as die ruggraat en ander metodes van vervoer – busse en taxi's in die besonder – wat toevoerdienste verskaf.

Die leierskap van Mpumalanga, Gauteng en Limpopo, sowel as distriks- en munisipale burgemeesters sal tydens die besoek by die Minister aansluit. Prasa, 'n openbare entiteit onder die Departement van Vervoer, sal die projek in die toekoms lei.

3.3. Volgende week sal departemente hul begrotingsredes aan die Parlement voorlê. Ministers sal hulle bestedingsplanne deur die parlementêre proses bespreek en verder met die onderskeie gemeenskappe oor hul planne vergader.

3.4. Die Kabinet dra sy beste wense oor aan ons atlete wat aan die Statebondspele, deeleneem wat vanaf 23 Julie tot 3 Augustus 2014, in Glasgow, Skotland, plaasvind en doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om hulle te ondersteun.

4. Aanstellings

4.1. Die Kabinet het kennis geneem van die aanstelling van lede van die Raad van die Nasionale Adviesraad vir Innovasie vir 'n termyn van vier jaar:
a) Adv Louisa Zondo
b) Mnr Garth Strachan (verteenwoordiger van die Departement van Handel en Nywerheid)
c) Prof Jennifer Thomson
d) Me Clare Busetti
e) Me Zanele Monnakgotla
f) Dr Azar Jammine
g) Prof Cheryl de la Rey (Voorsitter)
h) Dr Andile Ngcaba
i) Me Nonkululeko Nyembezi-Heita
j) Dr Sibusiso Sibisi
k) Prof Olive Shisana
l) Mnr Dhesigen Naidoo
m) Dr Albert Van Jaarsveld
n) Prof Glenda Gray
o) Prof Roseanne Diab
p) Dr Shadrack Moephuli
q) Mnr Kevin Nassiep
r) Mnr Sim Tshabalala
s) Dr Khotso Mokhele
t) Prof Anton Eberhard

Navrae: Phumla Williams (Waarnemede Kabinetswoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore