Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 5 November 2014

1. Sleutelkabinetsbesluite

1.1. Die Kabinet keur die 16 Dae van Aktivisme-veldtog goed onder die tema "Sluit my in: Saam laat ons 'n nie-gewelddadige Suid-Afrika vooruitgaan".

Vanjaar (2014) is die 16de herdenking van hierdie veldtog wat daarop gemik is om bewustheid te skep vir die beskerming van vroue en kinders. Vanjaar se veldtog fokus spesifiek daarop om mans te betrek in die stryd teen geweld op vroue en kinders.

Die veldtog sal op 25 November afskop en tot 10 Desember 2014 duur. Benewens die 16 Dae van Aktivisme is daar ook 'n jaar lange program wat meet tot watter mate mense se lewens verbeter het danksy die implementering van wette en programme wat op die uitwissing van geweld teen vroue en kinders gemik is.

1.2. Die Kabinet neem kennis van die vorderingsverslag oor die ontwikkeling van 'n Model vir Burgerlike Monitering.

’n Loodsprojek fokus op die bou van die Regering se kapasiteit om as deel van sy moniteringsmeganisme menings van landsburgers aan te hoor. Die projek sal bestaande programme gebruik soos die Gemeenskapswerke-program en die Gemeenskapsontwikkelingswerkers-program om die burgerlike monitering oor die tydperk van die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk te verbeter.

Die projek fokus op die volgende belangrike sektordepartemente: die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Departement van Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling en die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid. Dit sal met  verloop van die tydperk van die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk na ander sektore uitgebrei word.

1.3. Die Kabinet het die ontplooiing van 140 lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan die Koninkryk van Lesotho vir die aanvanklike tydperk van 90 dae goedgekeur met dien verstande dat dit verleng mag word.

Onmiddellike ingryping van die SAOG in die Koninkryk van Lesotho was in Augustus 2014 nodig ná toenemende spanning en daaropvolgende agteruitgang van die politieke en veiligheidsituasie. Die SAOG-ingryping is veral daarop gemik om langtermyn politieke en sekuriteitstabiliteit te verseker.

Die SAOG-troika oor Politiek, Verdediging en Sekuriteit waarvan Suid-Afrika die voorsitter is, het die Suid-Afrikaanse Regering versoek om die implementering van die padkaart vir die Koninkryk van Lesotho te ondersteun.

Die ontplooiing van 140 SAPD-lede het op 2 September 2014 begin en sal na verwagting tot 30 November 2014 duur, indien geen verlenging vereis word nie. Suid-Afrika het die polisie in Lesotho ontplooi kragtens die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens, 1995; (Wet No. 68 van 1995) wat bepaal dat die Nasionale Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens polisielede buite landsgrense met die toestemming van die Minister kan ontplooi. Aangesien die lede onder SAOG-mandaat ontplooi word, sal daar geen Memorandum van Verstandhouding tussen Suid-Afrika en die Regering van Lesotho wees nie.

1.4. Die Kabinet keur die onderhandelingsmandaat goed vir die Suid-Afrikaanse afvaardiging om van 17 tot 21 November 2014 die Gesamentlike 10de Konferensie van Partye (KVP) van die Weense Konvensie en die 26ste Vrgadering van Partye (VVP) van die Montreal-protokol oor Stowwe wat die Osoonlaag Vernietig (COP10-MOP26) in Parys, Frankryk, by te woon.

Die Weense Konvensie en die Montreal-protokol is deur die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram gestig om die osoonlaag te beskerm. Die beskerming van die omgewing vir huidige en toekomstige geslagte is ’n prioriteit en sluit die beskerming van die osoonlaag in. Die hoofdoel is om ons te beywer vir gesonde, volhoubare bestuur van chemikalieë wat gunstig is vir die omgewing.

1.5. Die Kabinet keur die vestiging van die Raad vir die Handves vir Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging in die Vervoersektor goed om teikens te monitor en te evalueer.

2. Implementering van die belangrikste Regeringsprogramme

2.1. Die Kabinet verwelkom president Jacob Zuma se Siyahlola-diensleweringsmoniteringsbesoek aan die Mopani-distrik, in Giyani, Limpopo. Danksy diensleweringsprogramme word water aan 55 nedersettings in die distrik gelewer en die Giyani Watersuiweringswerke is opgeknap om ’n bykomende 6,7 Mℓ per dag te lewer. Die program sal ook sanitasie verbeter en sodoende 'n positiewe uitwerking op die gesondheid en welsyn van die inwoners hê.

2.2. Die Kabinet verwelkom die inisiatief gelei deur Adjunkpresident Cyril Ramaphosa wat die verteenwoordigers van die Nasionale Raad oor Ekonomiese Ontwikkeling en Arbeid op 4 November 2014 byeengebring het om werkbare oplossings vir konflik in die werkplek te vind tydens die Indaba oor Arbeidsverhoudinge.

Afgevaardigdes by die indaba het die volgende verklaar: Verteenwoordigers erken die uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykheid wat die Suid-Afrikaanse ekonomie en die samelewing in die gesig staar. Ondanks uitdagings wat maatskaplike dialoog mag striem, erken die Nedlac-verteenwoordigers Nedlac as die sleutelstruktuur waaronder maatskaplike dialoog gevoer word, en is daarom die bewaarder van prosesse wat op die Indaba oor Arbeidsverhoudinge mag volg.

Die indaba se maatskaplike vennote sal die bekendstelling van 'n proses van betrokkenheid, deur middel van taakspanne, wees, wat maniere sal identifiseer om die belangrikste uitdagings wat tydens die indaba oorweeg sal word, die hoof te bied. ’n Gedetailleerde padkaart van die proses sal binne twee maande ná die indaba ontwikkel word. Beraadslagings sal in Januarie 2015 begin.

Die Kabinet is vol vertroue dat sulke verbintenisse tussen die Regering, die sakesektor, arbeid en die burgerlike samelewing tot  groter ekonomiese groei sal bydra. 

2.3.  Die Kabinet verwelkom Adjunkpresident Cyril Ramphosa se ingryping in die beweerde uitsettings op Wes-Kaapse plase. Sy vergaderings met boere en werkers in dié verband het vrugte afgewerp.

2.4. Die Kabinet verwelkom die suksesvolle ministeriële werkbesoek van 27 tot 28 Oktober 2014 aan die Verenigde Koninkryk, wat deur die Minister in die Presidensie, Jeff Radebe, gelei is. Die program, wat die innovaBRICS-konferensie en Chatham Huis in Londen ingesluit het, het die Regering en Suid-Afrikaanse sakeleiers die geleentheid gegee om Suid-Afrika as ’n belangrike sakebestemming te bevorder.

2.5. Die Kabinet verwelkom die inligtingsessie van die Ouditeur-generaal oor die oudit-uitkomste van die nasionale en provinsiale regering 2013/14 as deel van die Regering se pogings om goeie bestuur te verseker. Die Regering sal stappe doen vir regstellende aksie waar swak plekke deur die oudit uitgelig is.

3. Die Kabinet se posisie oor aktuele kwessies

3.1. Die Kabinet verwelkom die Wêreldbank se verslag (South African Economic Update se sesde verslag wat klem lê op fiskale beleid en herverdeling) wat daarop dui dat Suid-Afrika die afgelope 20 jaar heelwat vermag het. Die South Africa Economic Update, wat Dinsdag, 4 November 2014 uitgereik is, het bevind dat Suid-Afrika se fiskale beleid besig is om armoede en ongelykheid te verminder, en dat belasting en maatskaplike voordele inkomste van ryk na arm herverdeel.  Die verslag dui aan dat die fiskale beleid in Suid-Afrika progressief tot voordeel van die armes is. Die verslag dui ook aan dat hierdie fiskale beleid in 2010/11, 3,6 miljoen mense van armoede gered het.

3.2. Die Kabinet neem kennis van die uitdagings met elektrisiteit wat veroorsaak is deur tegniese en infrastruktuurprobleme in sommige van die land se kragstasies. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om elektrisiteit te bespaar aangesien die land se kragnetwerk onder geweldige druk is. Die Kabinet wil Suid-Afrikaners verseker dat alles gedoen word om dié probleme uit te stryk.

3.3. Die Kabinet neem kennis van die Kwartaallikse Arbeidsopname wat toon dat die amptelike werkloosheidsyfer in die derde kwartaal van vanjaar 25,4% beloop het. Dit is hoër as die 24,7% in dieselfde tydperk verlede jaar en beklemtoon die behoefte vir optimale ekonomiese prestasie, sodat ons die drieledige uitdaging van werkloosheid, armoede en ongelykheid die hoof kan bied.

Die Kabinet stel Suid-Afrikaners gerus dat die bekamping van werkloosheid die Regering se eerste prioriteit bly. Hoewel openbare indiensnemingsprogramme vrugte afwerp, doen die Kabinet 'n beroep op alle maatskaplike vennote om met die Regering saam te werk om kort- en langtermynoplossings vir werkloosheid te vind.

3.4. Die Kabinet verwelkom die Fitch-graderingsagentskap se verbetering van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie se gradering.

3.5. Die Kabinet betuig sy meegevoel met die Regering en die mense van die Republiek van Zambië ná die afsterwe van President Michael Chilufya Sata.

3.6. Die Kabinet betreur die dood van vier van die land se sportsterre en betuig sy meegevoel aan die familie en vriende van die professionele bokser Phindile Mwelase, Olimpiese gouemedaljewenner Mbulaeni Mulaudzi, voormalige Springbok-rugbyspeler Tinus Linee en Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa. Openbare steun vir die gedenkdienste en die opregte  betuiging van meegevoel het ons ter nagedagtenis aan ons sporthelde in ons hartseer verenig.

3.7. Die Kabinet is vol lof vir die spoedige inhegtenisneming verlede week van een van die verdagtes vir die moord op Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa en doen ’n beroep op gemeenskappe om met die polisie saam te werk om al die verdagtes aan die kaak te stel.

Die Kabinet verwelkom die nege lewenslange vonnisse wat aan Ntokozo Hadebe opgelê is vir die gruwelike misdade teen die drie jong meisies in Diepsloot, Johannesburg, asook die 315-jaar tronkstraf wat aan Mhlonishwa Elias Mathebula opgelê is vir sy skrikbewind in KwaZulu-Natal. Van 2008 tot 2013 het Mathebula 18 vroue aan die Suidkus, hoofsaaklik Umzinto, Hibberdene, Dududu en Msinsi, agtervolg en verkrag. Hulle was tussen die ouderdomme van 14 en 40.

Hierdie vonnis stuur 'n sterk boodskap uit aan misdadigers dat kriminele dade nie geduld sal word nie.

3.8. Die Kabinet verseker Suid-Afrikaners dat die Regering alles in sy vermoë doen om landsburgers veilig te hou en doen 'n beroep op gemeenskappe om die polisie by te staan om misdaad in hul gebied aan te meld.

3.9. Die Kabinet bevestig dat die gesondheids- en hawe-owerhede steeds op 'n hoë gereedheidsgrondslag is om Ebola te identifiseer en te bekamp. Tot op hede is 525 gesondheids- en laboratoriumwerkers by 13 hospitale (insluitende die 11 aangewese fasiliteite) en ongeveer 270 beamptes by nege hoërisikogrensposte ontplooi en opgelei om enige gebeurlikheid te hanteer.

3.10. Die Kabinet wens Sy Edele President Ian Khama Seretse Khama, leier van die Botswana Demokratiese Party, geluk met sy herverkiesing as President van die Republiek van Botswana, ná die suksesvolle verkiesings op 24 Oktober 2014.

3.11. Die Kabinet wens Haar Edele me Dilma Rousseff van die Arbeidersparty geluk met haar suksesvolle herverkiesing as President van die Federale Republiek van Brasilië ná die suksesvolle verkiesings op 26 Oktober 2014.

3.12. Die Kabinet wens Lesetja Kganyago sterkte toe in sy nuwe hoedanigheid as President van die Suid-Afrikaanse Reserwebank vanaf 9 November 2014. Die Kabinet  bedank ook die uittredende President me Gill Marcus vir haar goeie bestuur van die land se monetêre beleid onder moeilike ekonomiese omstandighede.

3.13. Die Kabinet wens Chad le Clos geluk as een van die twee algehele wenners van FINA (Fédération Internationale de Natation) se Wêreldbeker Swemreeks wat in Singapoer ten einde geloop het.

4. Komende gebeure

4.1.  President Jacob Zuma sal die G20-beraad van 15 tot 16 November 2014 in Brisbane, Australië, bywoon. As die enigste Afrika-land in die G20, stel Suid-Afrika se lidmaatskap hom in staat om belangrike internasionale beleid te beïnvloed wat die land se ekonomie die streek en die vasteland kan raak.

4.2.  Die SAOG-fasiliteerder en Adjunkpresident Cyril Ramaphosa sal Lesotho vanaf 5 tot 6 November besoek om vrede en veiligheid in die Koninkryk te probeer bewerkstellig. Dit volg op die onlangse ondertekening van die Maseru-fasiliteringsverklaring en die Maseru-sekerheidsakkoord, wat 'n basis neerlê vir die terugkeer van Lesotho na politieke normaliteit en die stabilisering van die veiligheidsituasie in die land.

4.3. Die Kabinet verwelkom die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se bekendstelling op 8 November 2014 van die  Mashunka- en Ngubo-brug, die Tugela Ferry-besproeiingskema en Umsinga-veilingsgeriewe in Msinga, KwaZulu-Natal. 

Die Tugela Ferry-besproeiingskema sal 1 716 kleinboere help en die uMsinga-veeveilingsterrein sal werkgeleenthede skep. Die brug oor die Tugelarivier sal die gemeenskappe van Mashunka en Ngubo beter verbind met dienste en ekonomiese geleenthede. Hierdie landelike-infrastruktuur- en ontwikkelingsprojekte strook met die Regering se doelwit om lewenslustige, billike en volhoubare landelike gemeenskappe te bou.

4.4. Die Departement van Omgewingsake, in samewerking met die Inter-regeringsorganisasie oor Klimaatsverandering, sal tussen 10 en 13 November 2014 ’n konferensie oor Suid-Afrika se nasionale optrede teen klimaatsverandering by die Gallagher-konferensiesentrum in Midrand hou met die tema: “Suid-Afrika skakel oor na 'n ekonomie van laer koolstof en ’n samelewing wat klimaatsverandering die hoof kan bied." In dié verband benadruk die Kabinet Suid-Afrika se verbintenis om ’n laer-koolstofekonomie te ontwikkel en voort te bou op die suksesse van die Durban-konferensie oor klimaatsverandering.

5. Aanstellings:

5.1. Die Kabinet neem kennis van die volgende aanstellings by die Nasionale Tesourie:

a. Mnr M Sachs – Adjunk-direkteur-generaal – Begrotingskantoor
b. Mnr AF Julies – Adjunk-direkteur-generaal – Bestuur van Bates en Laste

5.2. Die Kabinet neem kennis van die aanstelling van die volgende lede tot die Raad vir die Handves van Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging:

a) Mnr Randall Barry Howard (Voorsitter: Handvesraad)
b) Mnr Ismail Noormahomed Essa (Staatsdiens)
c) Me Fusi Makhasane (Kleinsake-organisasies)
d) Me Ntokozo Jennifer Sabelo (Maritieme Vervoerdienste)
e) Me Hlamalani Baloyi (Jeugverteenwoordiger)
f) Mnr Colgate Nangu (Versending en Klaring)
g) Me Cleo Shiceka (Spoorweë)
h) Me Sibongile Sambo (Binnelandse Lugvaart)
i) Mnr Abner Ramokgolo (Padvragvervoer)
j) Me Joy Sebenzile Matsebula (Mense met Gestremdhede)
k) Me Verlene Manuel (Buspendeldienste)
l) Mnr Herry Tshamunwe Masindi (Georganiseerde Arbeid)
m) Me Carol-Anne Cairns (Lugdienste in Buitelandse Besit)
n) Mnr Philip Taaibosch (Taxi’s)
o) Me Maria Phadi (Vroue-organisasies)
p) Mnr Stephen Sangweni (Pendelorganisasies)

Navrae:
Mnr Donald Liphoko
Sel: 082 901 0766

Share this page

Similar categories to explore