Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 10 Desember 2014

Die Kabinet wil vanuit die staanspoor enige wanopvattings regstel dat President Zuma glo geweier het om vrae in die Parlement te beantwoord. Die Kabinet neem ook kennis van die pogings deur Adjunkpresident Cyril Ramaphosa om met politieke partye in die Nasionale Vergadering in gesprek te tree ná die onlangse ontwrigting in die Parlement.

Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika bepaal dat die President aanspreeklik is teenoor die Parlement.  Die President het deurlopend sy aanspreeklikheid teenoor die Parlement nagekom. Hy het skriftelike en mondelinge vrae wat lede in die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) aan hom gerig het, beantwoord.

Die President het op 21 Augustus 2014 mondelinge vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord. Agbare lede het hom ongelukkig in die rede geval terwyl hy die derde van ses vrae wat aan hom gestel is, beantwoord het.  Dit is trouens die agbare lede wat die President onbeleefd in die rede geval het en gekeer het dat hy vrae beantwoord het. Diegene wat die President verhinder het om vrae in die Nasionale Vergadering te beantwoord, het geen rede om die feite te verdraai en skielik te beweer dat dit die President is wat nie die agbare lede se vrae wil beantwoord nie. Die Nasionale Vergadering het sedertdien die agbare lede wat die President in die rede geval het, berispe.

Die Kabinet is voorts nie bewus van enige ordelys in die Nasionale Vergadering waar die President ’n spreekbeurt gehad het om vrae te beantwoord ná die ontwrigting in die Parlement nie. ’n Mens kan dus nie sê dat die President geweier het om vrae in die Nasionale Vergadering te beantwoord nie.

Die Kabinet is bekommerd oor die ontwrigting wat die onlangse kragonderbrekings op die lewens van Suid-Afrikaners het en die invloed daarvan op huishoudings en sakeondernemings oor die land heen. Die Kabinet het ’n vyfpuntplan aanvaar om die uitdagings van kragvoorsiening in die land die hoof te bied. Die gebrek aan genoegsame kapasiteit om aan die land se energiebehoeftes te voorsien, bly ’n uitdaging en alle pogings word aangewend om die uitdaging te oorkom. Om aan die land se toekomstige energiebehoeftes te voldoen, gaan die regering ’n energiebeleid implementeer wat uit 'n kombinasie van steenkool, sonkrag, wind en kernkrag sal bestaan.

Na verwagting sal biomassa, windkrag, sonkrag en hidrokrag sowat 11,4 GW hernubare energie aan die kragnetwerk lewer. In 1994, het slegs 5 miljoen mense elektrisiteit gehad. In 2004 het die getal huishoudings na 12 miljoen opgeskiet. Dit het gebeur sonder dat nuwe kragstasies gebou is. Die styging in huishoudings met elektrisiteit moes deur die bestaande netwerk bedien word. Die Kabinet het ’n vyfpuntplan aanvaar.

Eskom gaan vandag ’n ooreenkoms met die Strategiese Brandstoffonds en die Transnet Haweowerheid sluit om bestendige dieselvoorsiening te verseker. Die fokus sal val op die verbetering van strategiese instandhouding en operasionele doeltreffendheid om te verseker dat die vlak van doeltreffendheid van 72 na 80% sal verbeter. Eskom gaan ’n omvattende finansiële plan voorlê om kontantvloei ná 2015 te bestuur. Die plan sal in Desember vanjaar aan die IMC voorgelê word. Die regering gaan die befondsing finansier.

Ander opsies vir kragopwekking in die suiker-, papier- en pulpbedrywe gaan ondersoek word om verkwiste energie van sowat 1 000 MW te ontgin. Daar is verskeie geleenthede om gas in te voer. ’n Program vir privaat kragverskaffers sal teen die einde van Januarie 2015 bekend gestel word, wat op ’n opwekkingsvermoë van 2 500 MW sal neerkom. Ons doen dus ’n beroep op die publiek om die vraag na elektrisiteit te verminder deur elektrisiteit af te skakel wanneer dit nie gebruik word nie. Teen 15 Desember 2014 verwag ons ’n mate van verligting wanneer die meeste vervaardigers en nywerhede vir die jaar sluit. ’n Span kundiges gaan saamgestel word vir die onmiddellike implementering van die vyfpuntplan. 

Die vyfpuntplan is bedoel om die las op die kragnetwerk te verlig. Die plan behels:
(I) die ingrypings wat Eskom binne die volgende 30 dae gaan doen
(II) die ontwikkeling van medeopwekkingsgeleenthede deur die uitbreiding van bestaande kontrakte met die privaat sektor
(III) versnelling van die program vir die vervanging van diesel met gas in dieselkragsentrales
(IV) bekendstelling van ’n program vir privaat kragopwekkers, en
(V) bestuur van vraag deur spesifieke ingrypings binne huishoudings, openbare en sakegeboue asook munisipaliteite, deur die installering van energiedoeltreffende energie.

Die Kabinet is bekommerd oor die prestasie van sommige staatsbeheerde maatskappye, veral die Suid-Afrikaanse Lugdiens, die Suid-Afrikaanse Poskantoor en Eskom. Hierdie staatsbeheerde maatskappye speel ’n noodsaaklike rol in die ontwikkeling van die ekonomie. Die president het adjunkpresident Cyril Ramaphosa benoem om toesig te hou oor die omkeer van drie staatsbeheerde maatskappye: die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Eskom en die Suid-Afrikaanse Poskantoor. In oorleg met relevante ministerieë, gaan die SAL van die Departement van Openbare Werke na die Nasionale Tesourie oorgedra word. Die presidensie sal die implementering van ’n omkeerstrategie fyn dophou.

1. Implementering van die belangrikste regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet verwelkom die positiewe uitkomste van die president se staatsbesoek aan die Volksrepubliek van China van 4 tot 5 Desember 2014. Dit is ’n weerspieëling van diepgaande bilaterale, handels- en beleggingsbetrekkinge tussen Suid-Afrika en China.

Suid-Afrikaanse sakeondernemings word aangemoedig om die nuwe ekonomiese geleenthede voortspruitend uit die verhouding met China te benut. Die aanvaarding van die Samewerkingsraamwerk tussen China en Suid-Afrika vir vyf tot 10 jaar verlede week is ’n versterking van die vennootskapsbande tussen die twee lande sedert die Beijing-Verklaring in 2010 tot ’n einde gekom het, en bou voort op die Omvattende Strategiese Vennootskap.

1.2. Die Kabinet is vol lof vir die Departement van Basiese Onderwys, provinsiale departemente van onderwys, skoolhoofde, onderwysers en leerders vir hul harde werk aan die einde van nog ’n besige akademiese jaar.

Die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, gaan op 5 Januarie 2015 die slaagsyfer van die 2014 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen aankondig en kandidate sal op 6 Januarie hul uitslae kry.

Die Kabinet moedig leerders aan wat vir verdere studie kwalifiseer om alle moontlike geleenthede te benut. Leerders wat nog nie toelating by hoëronderwysinstellings ontvang het teen die tyd dat hulle hul eksamenuitslae gekry het nie, kan die Sentrale Sentrum vir Aansoeke (CACH) in Januarie en Februarie skakel.

Hierdie diens hou ’n register van potensiële kandidate wat aan die minimum toelatingsvereistes van alle hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika voldoen. Die diens bied ook loopbaanvoorligting en help voornemende aansoekers met moontlike alternatiewe. Mense kan deur die inbelsentrum met die diens in verbinding tree by 0800 356 635 of deur ’n SMS met die naam en identiteitsnommer van die aansoeker aan 49200 te stuur.

1.3. Die Kabinet verwelkom die vrystelling van die 2014 jaarlikse nasionale assessering verlede week, wat op ’n verbetering in prestasie dui, behalwe in graad 9.
Die jaarlikse nasionale assessering bly ’n nuttige middel om die stand van die onderwysstelsel te bepaal en te sien waar ingrypings nodig is, soos wat nou vir graad 9-leerders in wiskunde gedoen is.

1.4. Die Kabinet bedank alle Suid-Afrikaners, die burgerlike samelewing en die media vir hul deelname aan vanjaar se 16 dae van aktivisme onder die tema: Tel my in: Saam beweeg ons 'n nie-gewelddadige Suid-Afrika vorentoe.

Die oproep aan alle Suid-Afrikaners om deel te wees, is ’n poging om die duur van gevestigde vennootskappe te bepaal deur aktivisme heeljaar op praktiese maniere te toon, sodat ons die verskrikking van geweld teen vroue en kinders kan oorkom.

1.5. Suid-Afrika sal op 16 Desember vanjaar Versoeningsdag vier onder die tema: Maatskaplike kohesie, versoening en nasionale eenheid in die 20 jaar van demokrasie by die Ncome Museum in die uMzinyathi Distriksmunisipaliteit in KwaZulu-Natal.

1.6. Die Kabinet is dankbaar vir alle Suid-Afrikaners en die internasionale gemeenskap wat op 5 Desember 2014 die afsterwe van die land se eerste demokraties verkose president, Nelson Mandela, gevier het.

Ons moet getrou bly aan Madiba se nalatenskap deur sy onwrikbare toewyding aan demokrasie, onbaatsugtigheid, versoening, diens aan die mensdom en die strewe na 'n beter lewe vir almal voort te sit. Deur hierdie waardes en toewyding aan diens van die mensdom bly ons geïnspireerd om 'n verenigde en voorspoedige nasie te bou.

2. Sleutelkabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet het die 2013/14-prestasieverslag van die program oor navorsing en ontwikkeling en belastingaansporing, wat in die Parlement ter tafel gelê is, goedgekeur.

Die Regering bied aansporings vir navorsing en ontwikkeling kragtens Artikel 11D van die Inkomstebelastingwet, 1962, ten einde navorsing en ontwikkeling in die private sektor aan te moedig. In Suid-Afrika kan ’n mens 150% aftrek van goedgekeurde operasionele uitgawes van navorsing en ontwikkeling en ons word as een van die lande beskou wat die vrygewigste belastingaansporing vir navorsing en ontwikkeling bied.

Sowat 810 maatskappye maak gebruik van die aansporing, wat reeds sedert November 2006 van krag is. Van 2005/06 tot 2012/13 het maatskappye sowat R44,1 miljard aan navorsing en ontwikkeling bestee. Die Nasionale Tesourie beraam dat net meer as R3,2 miljard in belastingaftrekkings vir navorsing en ontwikkeling geëis is. In 2013/14 het 44,2% klein en medium ondernemings (maatskappye met 'n jaarlikse omset van minder as R40 miljoen) aan die belastingaansporing vir navorsing en ontwikkeling deelgeneem.

2.2. Die Kabinet is ingelig oor die vordering van die MeerKAT-projek, die voordele wat dit vir die plaaslike gemeenskap en Suid-Afrika inhou, en die internasionale onderhandelinge met betrekking tot die aanbieding van die SKA-projek.

Bouwerk aan die MeerKAT-teleskoop – ’n baanbreker vir die uiteindelike SKA – vorder goed, en het reeds beduidende geleenthede vir die plaaslike Suid-Afrikaanse bedryf meegebring. ’n Aantal voorpunt-tegnologie-ontwikkelings word deur Suid-Afrika aangevoer, veral op die gebied van hoëprestasierekenaarwese. Plaaslike gemeenskappe in die Noord-Kaap het ook gebaat by maatskaplike-beleggingsvennootskappe.

Op  internasionale front word die gasheerooreenkoms, befondsingsmodel vir die SKA en die verkrygingsbeleid tans bespreek en gefinaliseer. Onderhandelinge is ook aan die gang oor die vestiging van 'n interregeringsverdragorganisasie.

Die Kabinet het 'n gesamentlike taakspan van die Ministers van Wetenskap en Tegnologie en Hoër Onderwys en Opleiding goedgekeur om die vereiste menslike hulpbronne te bepaal en om te verseker dat akademiese en ander navorsingsinstellings in lyn is met die ontwikkeling en behoeftes van die MeerKAT, SKA en soortgelyke projekte.

Die Kabinet het ook samewerking tussen die Ministers van Wetenskap en Tegnologie en Kleinsakeontwikkeling goedgekeur vir moontlike geleenthede deur KMO’s te bemagtig en vir hulle kapasiteit te genereer met die oog op potensiële ekonomiese impak.

2.3. Die Kabinet het Statistiek Suid-Afrika opdrag gegee om gesprekke met belanghebbendes te voer ter voorbereiding van die wysiging van die Wet op Statistieke, Wet 6 van 1999.

Gesprekke tussen staatsliggame en ander belanghebbendes is nodig om die ontwikkeling van dataversamelings te vergemaklik, wat vir die Nasionale Ontwikkelingsplan vereis word.

2.4. Die Kabinet is ingelig oor lede van die Senior Bestuursdiens (SBS) se nakoming van die Raamwerk vir Finansiële Openbaarmaking, wat deur die Parlement gemonitor word.

Van die 5 425 SBS-lede in staatsdepartemente wat finansiële openbaarmakingsvorms vir 2012/13 moes voorlê, het die Staatsdienskomissie 4 413 (81%) teen die sperdatum 31 Mei 2013 ontvang.

Die Kabinet benadruk dit dat daar ’n kultuur van geen verdraagsaamheid in die daaglikse funksionering van die staatsdiens vir nievoldoening moet wees.

2.5. Die Kabinet is ingelig oor die 2013/2014-ouditresultate van instellings wat aan die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (WOFB) en indiening van jaarverslae en finansiële state voldoen.

Daar was ’n verbetering wat betref die tydige indiening van 2013/2014-jaarverslae en finansiële state. Sowat 417 instellings wat aan die Wet op Openbare Finansiële Bestuur voldoen, moes hul jaarverslae en finansiële state teen 30 September 2014 indien. Altesaam 379 (91%) instellings het die spertyd gehaal. Dit is ’n verbetering van 7% op die vorige 353 die vorige jaar.

Die Kabinet het goedgekeur dat rekenmeesters en rekenkundige owerhede regstellende stappe aan hul uitvoerende owerhede indien om kommer oor hul ouditverslae die hoof te bied.

Die Kabinet ondersteun die behoefte aan uitvoerende owerhede om prestasie te monitor en kommer oor die ouditverslae te besweer en gereelde terugvoering daaroor te ontvang.

2.6. Die Kabinet het stappe goedgekeur om die Voorsieningskettingbestuurstelsel (VKB) te hervorm. Dit sluit in: (a) om vanaf 1 April 2015 kriteria vir die prestasie van voorsieningskettingbestuur by prestasie-ooreenkomste van rekenmeesters in te sluit;  rekenmeesters moet ’n kapasiteitsoorsig van VKB-personeel uitvoer en regstellings maak waar nodig; en (c)  rekenmeesters moet hul uitvoerende owerhede kwartaalliks inlig oor die VKB-prestasie in hul departement, munisipaliteite of entiteite.

Die Kabinet het ook goedgekeur dat die Kantoor van die Hoofverkrygingsbeampte die VKB-hervorming versnel deur die funksies in die staatsdiens te vernuwe. Die Kantoor van die Hoofverkrygingsbeampte het met ’n strategie begin om aankope te vereenvoudig, te standaardiseer en te outomatiseer.

Die Nasionale Tesourie gaan gesprekke met die Nasionale Regeringskool voer om ’n kurrikulum vir die opleiding en standaardisering van professionele kwalifikasies te ontwikkel.

2.7. Kabinet het dit goedgekeur dat die Suid-Afrikaanse Periodieke Verslag (2002–2013) oor die VN se Internasionale Konvensie teen Marteling en ander Wrede, Onmenslike Behandeling of Straf, by die VN se Menseregteraad ingedien word.

Voldoening aan en indiening van die verslag weerspieël die Regering se verbintenis tot die wêreldwye poging om menseregte te beskerm en te bevorder. Suid-Afrika voldoen volkome aan die konvensie in die sin dat marteling ’n kriminele oortreding is en dat howe nou marteling ingevolge die wet en nie net die gemenereg nie kan vervolg.

Die verslag stel Suid-Afrika in staat om sy voldoening, of gebrek daaraan, ingevolge internasionale verpligtinge te evalueer. Die stryd teen marteling is in lyn met Suid-Afrika se kernprioriteit om seker te maak dat gemeenskappe veiliger is, ingevolge die Nasionale Ontwikkelingsplan.

2.8. Die Kabinet het kennis geneem van die Witskrif oor die Polisie. Die 2014 Witskrif oor die Polisie spruit uit ’n verslag van die 1998-witskrif oor Veiligheid en Sekuriteit. Die verslag heroorweeg hoe misdaadvoorkoming in Suid-Afrika in die praktyk en begrip daarvan sedert 1994 ontwikkel het.

Die Witskrif is ’n reaksie op die Nasionale Ontwikkelingsplan se Visie 2030, waarin die behoefte aan en ’n raamwerk vir ’n professionele polisiediens met die nodige vaardighede, wat aanspreeklik is en op die gemeenskap gerig is, duidelik uiteengesit word. Daarbenewens word van die polisiediens vereis om geïntegreerd binne die strafregstelsel op te tree in die uitvoering van sy grondwetlike mandaat.

2.9. Die Kabinet het goedgekeur dat die konsepjeugbeleid vir 2014–2019 vir kommentaar beskikbaar gestel word. Die konsepbeleid is ’n voortsetting van die eerste jeugbeleid van 2009–2014. Jeugontwikkeling staan sentraal in Suid-Afrika se ontwikkelingsagenda. Trouens, die Nasionale Ontwikkelingsplan het ’n fokus op die jeug, wat gemik is op belegging in die gemeenskap.

Die beleid van 2014-2019 verseker dat die jeugbelegging werklikheid word. Die implementering van die beleid sal bewustelik die vermoë van die jeug om die ekonomie en die gemeenskap te transformeer verbeter deur op hul behoefte vir holistiese ontwikkeling te fokus, veral diegene buite die maatskaplike, politieke en ekonomiese hoofstroom.

2.10. Die Kabinet het ook die publikasie van die konsepbeleid oor die regte van gestremdes in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer. Die doel daarvan is om die Witskrif oor ’n geïntegreerde nasionale strategie vir gestremdes by te werk en die pligte soos vervat in die VN Konvensie oor die regte van persone met gestremdhede en die bepalings van die Kontinentale aksieplan vir die Afrika-dekade van mense met gestremdhede met Suid-Afrikaanse wetgewing, beleidsraamwerke en die Nasionale Ontwikkelingsplan 2030 te integreer.

2.11. Die Kabinet het die voorgestelde visie vir die Grensbestuuragentskap van Suid-Afrika as grondslag vir sakeontwikkeling en die inwerkingstelling van wetgewing, goedgekeur.

Die Kabinet het sy goedkeuring verleen vir die opstelling  van ’n loodsterrein en ’n behoorlike regsraamwerk.

’n Tweefasebenadering sal gebruik word om die agentskap te stig:

  • Oorgangsfase (Januarie 2015 tot Desember 2016) – word gebruik om konsepwetgewing en die uitvoering daarvan op te stel en om regeringsinisiatiewe in grensomgewings meer sigbaar te maak. Bestaande gesamentlike pogings by grensposte sal ook voortgesit word onder geformaliseerde veelparty-ooreenkomste om die Operasionele Koördineringskomitee oor Grensbeheer se bestuursowerheid te versterk.
  • Agentskapfase (Januarie 2017 en daarna) – behels die implementering van wetgewing om die agentskap as ’n openbare entiteit in die grensposomgewing in werking te stel en voorsiening te maak vir die uitbreiding van sy mandaat en funksies om die lug-, grond- (grenswag) en maritieme (kuswag) grensposomgewings in te sluit.
  • Die ervarings van die oorgangsfase (insluitend die loodsfase) sal die finale voorstelle beter inlig.

2.12 Die Kabinet het die hervestiging van die leidende agentskapsrol vir die Operasionele Koördineringskomitee vir Grensbeheer van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens na die Departement van Binnelandse Sake goedgekeur.

2.13 Die Kabinet is ingelig oor die resultate van ’n loodsoudit oor transformasie in ’n steekproef van die nasionale sportfederasies. Dit het aangedui tot watter mate sportliggame in Suid-Afrika oor die afgelope twee dekades verander het sedert die teikens vir transformasie in sport ingestel is. Die resultate sal deur die Departement van Sport en Ontspanning gebruik word om daadwerklike steun te bied aan dié federasies wat administratiewe bystand nodig het.

Die doel van die studie was om ’n konsep-raamwerk vir die evaluering van die transformasie in die verskillende dimensies van die transformasie-handves te vestig: prestasievlakke, demografie, toegang, vaardighede en vermoëns, beheer, gelyke indiensneming en voorkeurverkryging.

Gegrond op die lesse uit die eerste loodsstudie is daar in Maart 2014 met die tweede fase van die oudit begin. Die omvang van hierdie oudit dek al 16 prioriteit-sportsoorte.

2.14. Die Kabinet het aangekondig dat ’n jaarlikse Nasionale Dag vir Ontspanning voortaan op die eerste Vrydag van Oktober gevier sal word. Dit sal ’n geleentheid bied aan alle Suid-Afrikaners om aktief betrokke te raak by ontspanningsaktiwiteite wat hulle gesondheid en welstand sal verbeter.

’n Gesonde en aktiewe burgery is ’n belangrike faktor in die verwesenliking van die Nasionale Ontwikkelingsplan.

Om die potensiaal van ontspanning ten volle te ontgin, het die Nasionale Dag vir Ontspanning samehorigheid, gesamentlike aktiwiteite en kruis-sektorale inisiatiewe nodig. Hiervoor het die Kabinet ook die vestiging van 'n nasionale loodskomitee goedgekeur.

3. Wetsontwerpe

3.1 Die Kabinet het die publikasie van die tweede konsep van die wetsontwerp oor die Regulering van die Finansiële Sektor  en die voorlegging daarvan aan die Parlement goedgekeur, asook die uitreiking van die wetsontwerp vir ’n Beleidsraamwerk oor Markgedrag vir openbare kommentaar. Ingevolge die konsep-raamwerk sal die publiek beter ingelig wees wanneer hulle kommentaar oor die wetsontwerp lewer.

3.1.1 Die tweede konsep van die wetsontwerp vir die Regulering van die Finansiële Sektor, 2014, volg op kommentaar oor die eerste konsep wat die Kabinet in Desember 2013 goedgekeur het. Die doel van die wetsontwerp is om die finansiële sektor veiliger te maak deur die implementering van die tweepuntreguleringstelsel – 'n omvattende en volledige stelsel vir die regulering van die finansiële sektor, die prioritisering van kliënte en die beskerming van hul fondse.

Die tweepuntbenadering tot finansiële regulering onderlê 'n omvattende reguleringstelsel met twee doelwitte: (a) om die finansiële stabiliteit en gehalte van die finansiële instellings te versterk deur die skepping van ’n toegewyde owerheid wat versigtigheidsmaatreëls toepas (binne die Suid-Afrikaanse Reserwebank) en (b) om finansiële kliënte te beskerm en te verseker dat hulle regverdige behandeling by finansiële instellings kry deur die skepping van ’n toegewyde gedragskode-owerheid vir die finansiële sektor, wat ook toesig hou oor hoe finansiële dienste hul besigheid bedryf.

Die wetsontwerp sal die gedragskode-owerheid vir die finansiële sektor en die owerheid vir versigtigheidsmaatreëls voorsien van 'n verskeidenheid toesighoudende gereedskap om hul mandate te vervul.

Dit is meer as net twee reguleerders, aangesien dit 'n onderliggende en geharmoniseerde stelsel van lisensiëring, toesig, toepassing, kliënte se klagtes (insluitend bemiddeling), ’n appèl-meganisme (tribunaal) en raad en opvoeding aan verbruikers behels.

3.1.2  Die Konsep-beleidsraamwerk vir Markgedrag verseker dat kliënte billik behandel word in die finansiële sektor, wat 'n belangrike les vir Suid-Afrika is ná die 2008 finansiële krisis. Hoewel Suid-Afrika se finansiële sektor sy veerkragtigheid bewys het, het die Regering erken dat die sektor beter resultate vir finansiële kliënte en die ekonomie kan lewer.

Daar was ’n aantal bekende markgedragmislukkings in Suid-Afrika se finansiële sektor, en die Regering het ingegryp om dit die hoof te bied. Maar die voortbestaan van stelselmatige markgedraguitdagings het die behoefte aan 'n meer omvattende en holistiese benadering tot die hantering van die probleem van swak gedrag in die finansiële sektor in sy geheel beklemtoon.

3.2 Die Kabinet het die indiening van die Wysigingswetsontwerp op Planttelersregte aan die Parlement goedgekeur. Die wetsontwerp wysig die Wet op Planttelersregte, Wet 15 van 1976. Die wetsontwerp het ten doel om die beskerming van intellektuele eiendomsregte met betrekking tot nuwe plantsoorte te versterk. Sodanige beskerming dra by tot ekonomiese groei, aangesien dit 'n positiewe effek op die mededingendheid van Suid-Afrika se landbousektor het.
Van die belangrikste wysigingsvoorstelle sluit in: die uitbreiding van die beskerming van alle plantgenusse en –spesies, die hantering van gevalle van die oortreding van planttelersregte deur toepaslike boetes en strawwe, die omskrywing van die grense en die begunstigdes in die toepassing van die boer se voorregte, en magtiging aan die minister om ’n advieskomitee vir planttelersregte in te stel wat die registrateur sal adviseer oor aangeleenthede wat verband hou met die beskerming van plantverskeidenheid.

3.3 Die Kabinet keur die indiening van die wysigingswetsontwerp van die Wet op Plantverbetering aan die Parlement goed.

Plantverbetering in Suid-Afrika word deur die Plantverbeteringswet, 1976 (Wet No. 53 van 1976) gereguleer, wat verskeie keer gewysig is, die laaste keer in 1996. Die wysigings belyn die omvang en bepalings van die Wet met die Grondwet en ander verwante wetgewing in die landbousektor.

Die wetsontwerp verhoog volhoubare produksie van gewasse in Suid-Afrika deur die regulering van die gehalte van plante en saad.

Die betekenis en rol van plantverbeteringswetgewing lê in die erkenning van die belangrikheid van gehalte plantvoortplantingsmateriaal om volhoubare produksie te bevorder en deelname aan die globale mark te ondersteun deur gehaltestandaarde vir plante en sade en die tipes besighede wat met plante en sade te doen het, op te stel.

3.4 Die Kabinet het die indiening van die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Vertoondiere aan die Parlement goedgekeur.

Die wetsontwerp wysig artikel 2 en 3 van die Wet op die Beskerming van Vertoondiere, 1935 (Wet No. 24 van 1935), wat ongrondwetlik verklaar is met betrekking tot landdroshowe wat besluit oor en lisensies uitreik aan mense wat van voorneme is om diere op te lei en te vertoon en aan mense wat honde gebruik vir beskerming.

Die wetsontwerp is daarop gemik om die gebrek wat deur die Konstitusionele Hof geïdentifiseer is reg te stel deur die funksies van die uitreiking van lisensies vir vertoondiere van die geregtelike na die uitvoerende gesag oor te plaas.

Dit strook met die konteks van die Wet op Dierebeskerming, 1962 (Wet No. 71 van 1962), wat die wette met betrekking tot die voorkoming van wreedheid teenoor diere konsolideer.

4. Die Kabinet se standpunt oor aktuele sake

4.1 Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om by die stryd teen Ebola aan te sluit en deel te neem aan die Afrika-unie se SMS-veldtog vir die mobilisering van hulpbronne. Die Afrika-unie-kommissie het tot dusver meer as $20 miljoen se donasies ingesamel deur middel van sy huts-veldtog "#AfricaAgainstEbola", maar nog meer is nodig. Deur 'n SMS met die woorde stop Ebola na 40797 te SMS, kan Suid-Afrikaners R10 skenk en help om die verspreiding van Ebola te keer.

4.2. Die Kabinet wens almal 'n rustige, vreedsame feestydvakansie toe en doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om Ubuntu/Botho uit te leef deur mense wat nie na hulself kan omsien nie, te help en om deernis te toon as 'n nasie wat omgee en mekaar respekteer. Ouers moet veral in die tyd na hul kinders omsien. Slagoffers van mishandeling moet dit aan die kaak stel, mishandeling aanmeld en die 24-uur-beheersentrum 0800 428 428 skakel.

Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om alle moontlike voorsorgmaatreëls te tref tydens die komende feesseisoen, weg te bly van alkoholmisbruik en dwelms, en die vakansietyd op 'n veilige en verantwoordelike wyse te geniet. Alle Suid-Afrikaners het ’n rol te speel om voorvalle van misdaad, ongelukke en mishandeling, wat geneig is om gedurende hierdie tyd toe te neem, te bekamp.

Die Kabinet benadruk dat verkeersbeamptes ’n benadering van geen genade vir wetteloosheid op ons paaie gedurende hierdie feestyd sal volg. Ons doen ’n beroep op alle padgebruikers om by die snelheidsgrens te hou, te verseker dat hul voertuie padwaardig is, nie dronk te bestuur nie en veiligheidsgordels te dra. Voetgangers word aangemoedig om seker te maak dat hulle nie hul eie welstand of dié van motoriste in gevaar stel wanneer hulle die paaie gebruik nie.

Die Regering sal sy rol speel deur 'n reeks veldtogte te lei, soos dié ter bevordering van 'n gesonde lewenstyl en Arrive Alive in ’n poging om in vennootskap met gemeenskappe verantwoordelike en veilige gedrag te bevorder.

4.3 Die Kabinet is hartseer oor die tragiese dood van die Suid-Afrikaanse onderwyser Pierre Korkie in Jemen, asook dié van Werner Groenewald en sy twee kinders, Rode en Jean-Pierre wat in 'n aanval in Afganistan gesterf het. Die Kabinet betuig sy meegevoel aan hulle families en vriende.

4.4. Werk om die oorblywende 11 Suid-Afrikaners uit te ken wat tragies in Nigerië gesterf het toe ’n gebou ineengestort het, duur voort en die Regering verskerp pogings om te verseker dat hul oorskot sonder onnodige vertraging teruggebring word.

4.5. Die Kabinet betuig sy meegevoel aan die familie Gigaba met die verlies van hul pa, ds Jabulani Gigaba. Hy was die vader van die Minister van Binnelandse Sake, mnr Malusi Gigaba. Die Kabinet betuig ook sy meegevoel aan die familie en vriende van wyle Sisi Mabe, wat die speaker van die Vrystaatse wetgewer was.

4.6 Die Kabinet wens die nasionale sokkerspan Bafana Bafana en afrigter Efraim "Shakes" Mashaba geluk dat hulle gekwalifiseer het vir die Afrika-beker van Nasies 2015 in Ekwatoriaal-Guinee, wat op 17 Januarie 2015 begin, en doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om die nasionale span te ondersteun wanneer hulle ons vlag hoog hou.

4.7. Die Kabinet het kennis geneem van die bekendstelling van die Jeugbrigade van Menslike Nedersettings op 1 tot 2 Desember 2014 deur die Departement van Menslike Nedersettings, die Departement van Kleinsake-ontwikkeling en die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) by die Jeugberaad van Nasionale Menslike Nedersettings.

Die beraad het oor die bemagtigingsprogramme van die departemente beraadslaag met die doel om jongmense te betrek by die lewering van huise. Aan die einde van die beraad het alle belanghebbendes die Nasionale Menslike Nedersettings se Jeugooreenkoms onderteken wat dien as 'n verklaring van voorneme vir die skepping van 'n holistiese en geïntegreerde benadering tot die lewering van menslike nedersettings deur jeugmobilisering, -ontwikkeling en
 -deelname in die vorm van die Jeugbrigades van Nasionale Menslike Nedersettings. Die doel is om jongmense te mobiliseer om betrokke te raak by die teiken van 1,5 miljoen behuisingsgeleenthede en om in die volgende vyf jaar omtrent 10 000 jeugbrigades te werf en op te lei.

5.  Toekomstige gebeure

5.1. Op 12 Desember 2014 het die President van Suid-Soedan, Sy Eksellensie Salva Kiir Mayardit 'n amptelike besoek aan Suid-Afrika gebring, waar President Jacob Zuma in Kaapstad die gasheer was.

6. Aanstellings

Die Kabinet het die volgende aanstellings goedgekeur onderhewig aan die bevestiging van kwalifikasies en die betrokke klarings:

6.1 Tot die Raad van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad:
a)    Dr Ramatsemela Masango (voorsitter)
b)    Prof Thokozani Majozi
c)    Prof Mamokgethi Phakeng
d)    Dr Philip Hugh Goyns
e)    Dr Ayanda Noah
f)    Dr Antonio Llobell
g)    Me Phindile Baleni
h)    Adv Ghandi Badela
i)    Me Mokgadi Maseko en
j)    Mnr Joel Netshitenzhe.

6.2 Tot die Lugdienstelisensiëringsraad:
a)    Dr  Malindi Neluheni (voorsitter);
b)    Me Kenosi Selane (visevoorsitter;)
c)    Adv Frans Johannes van der Westhuizen;
d)    Mnr Bheki Innocent Dladla; en
e)    Me Sibongile Rejoyce Sambo.

6.3 Tot die direksie van Internasionale Lugdienste:
a)    Adv Phetole Patrick Sekhule (voorsitter);
b)    Dr Xolani David Gwala (visevoorsitter);
c)    Me Deshnee Govender;
d)    Adv Lufuno Tokyo Nevondwe; en
e)    Me Fulufhelo Velda Mphuti.

6.4 Tot die Raad van die Landbank en Landbou-ontwikkelingsbank:
a)    Prof Abdus Salam Mohammad Karaan (heraanstelling);
b)    Me Susan Ann Lund (heraanstelling);
c)    Mnr Mabotha  Arthur Moloto (voorsitter);
d)    Me Njabulo Zwane; en
e)    Me Dudu Hlatshwayo.

6.5 Tot die Raad van die Transnet SOC Bpk (nie-uitvoerende direkteure):
a)    Me Linda Carol Mabaso (voorsitter);
b)    Mnr Stanley David Shane;
c)    Mnr Mogokare Richard Seleke;
d)    Dr Gideon Mahlalela;
e)    Me Potso Elizabeth Bridgette Mathekga;
f)    Me Zainul Abedeen Nagdee;
g)    Mnr Vusi Matthew Nkonyane;
h)    Mnr Peter George Williame;
i)    Mnr Brett Gerard Stagman;
j)    Me Yasmin Forbes (heraanstelling); en
k)    Me Nazmeera Moola (heraanstelling).

6.6 Tot die Raad van Eskom SOC Bpk ( nie-uitvoerende direkteure):
a)    Mnr Zola Andile Tsotsi (heraanstelling en voorsitter);
b)    Me Chwayita Mabude (heraanstelling);
c)    Mnr Norman Tinyiko Baloyi;
d)    Dr Pathmanathan Naidoo;
e)    Me Venete Jarlene Klein;
f)    Me Nazia Carrim;
g)    Mnr Romeo Kumalo;
h)    Mnr Mark Vivian Pamensky;
i)    Mnr Zethembe Wilfred Khoza;
j)    Dr Baldwin Sipho Ngubane; en
k)    Me Devapushpum Viroshini Naidoo.

6.7 Geoff Qhena is heraangestel as die uitvoerende hoof van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK). Die res van die NOK-raadslede sal binne die volgende paar dae deur Minister Patel aangekondig word.

6.8  Staatsdiens/Ander aanstellings:
a) Aanstelling van die uitvoerende hoof van die Landbank, mnr TP Nchocho met ingang van 1 Januarie 2015 op 'n vyfjaarkontrak tot 31 Desember 2019.
b) Aanstelling van die uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), dr Daniel Mmushi Matjila met onmiddellike effek, vir 'n tydperk van vyf jaar tot 30 November 2019.
c) Heraanstelling van mnr Murray Michell, direkteur van die Finansiële Intelligensiesentrum (FIS) vir 'n verdere tydperk van twee jaar, van 1 Januarie 2015 tot 31 Desember 2016.
d) Verlenging van die kontrak van die direkteur-generaal van die Departement van Binnelandse Sake, mnr Mkuseli Apleni vir 'n verdere tydperk van vyf jaar, vanaf 1 April 2015 tot 31 Maart in 2020.
e) Aanstelling van die hoofbedryfsbeampte van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, mnr Punte Charles Thibela.
f)  Aanstelling van die finansiële hoof van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Rendani Sadiki.
Ten slotte

Die Kabinet wens almal ’n gelukkige feestyd toe – laat ons almal energiek terugkeer in 2015 en kollektief seker maak dat ons die Regering se mandaat uitvoer. Saam kan ons Suid-Afrika vorentoe beweeg.

Navrae: Mnr Donald Liphoko
Kontak: 082 901 0766

Share this page

Similar categories to explore