A. Omgewingskwessies
1. Ekonomie
1.1. Eskom se omkeerstrategie kry momentum
1.1.1. Die Kabinet verwelkom die volgehoue verbetering in Eskom se finansiële en operasionele prestasies gedurende die eerste ses maande tot einde 2025. Eskom het ʼn rekord-na-belastingwins van R243 miljard aangeteken, wat 37% hoër is as gedurende dieselfde tydperk in 2024.
1.1.2. Terselfdertyd het Eskom deurlopend elektrisiteit verskaf, met slegs vier dae van beurtkrag. Die betroubaarheid van elektrisiteitsvoorsiening is vir 2024/25 op 96% aangeteken, wat ʼn verbetering van 98% jaart-tot-datum verteenwoordig.
1.1.3. Eskom se sterk prestasie demonstreer die doeltreffendheid van die entiteit se herstelplan, wat voortvloei uit Operasie Vulindlela se struktuurhervormingsprogram, die bevoegdheid van Eskom se bestuurspan, sowel as die gefokusde leierskap van die Minister van Elektrisiteit en Energie.
1.2. Ekonomiese groei en indiensneming behou momentum
1.2.1. Die Kabinet verwelkom die positiewe momentum in die ekonomie, soos weerspieël in die derdekwartaal-BBP-syfers van Statistiek SA. Die BBP het in die periode Julie tot September met 0,5% gegroei, wat die vierde agtereenvolgende kwartaal van groei aandui. Hierdie groei is aangedryf deur sterk prestasies in die mynwese, landbou en dienste-sektore, saam met bydraes vanuit die finansiële sektor, staatsdiens en vervaardigingsektor.
1.2.2. Die BBP-groei in die derde kwartaal van 2025 het saamgeval met ʼn toename van 248 000 aanstellings en ’n afname van 360 000 werklose persone, volgens die kwartaalikse Arbeidsmagopname.
1.2.3. Die Jeugindiensnemingsinisiatief (YES), wat jongmense ondersteun om die ekonomie te betree, het intussen die mylpaal van 200 000 werke bereik. Tot op hede het YES meer as 202 558 jong Suid-Afrikaners in 12-maandlange, hoëgehalte werkservaringposte geplaas, en die inisiatief word tans deur meer as 1 900 sakevennote ondersteun.
1.2.4. Verder het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) Suid-Afrika se groeivoorspelling verhoog tot 1,3% vir 2025 en 1,4% vir 2026, teenoor vroeëre voorspellings van onderskeidelik 1,1% en 1,2%.
2. Internasionale betrekkinge
2.1.1. G20-presidentskap fokus op Afrika en die globale Suide
2.1.2. Die Kabinet sluit by President Cyril Ramaphosa aan om hul waardering uit te spreek teenoor alle Suid-Afrikaners vir die rol wat hulle gespeel het in die suksesvolle uitvoering van die G20-presidentskap, wat sy hoogtepunt bereik het tydens die onlangse G20-leierspitsberaad.
2.1.3. Gedurende Suid-Afrika se G20-presidentskap het die land konsekwent die aandag van G20-leiers op Afrika se ontwikkelingsagenda gevestig en konsensus bevorder oor betekenisvolle aksie om die uitdagings wat Suid-Afrika, Afrika en die globale Suide beperk, aan te spreek. Vir meer inligting hieroor, besoek Suid-Afrika se G20-webwerf by www.g20.org.za
2.1.4. Die Kabinet neem kennis van die standpunt wat die Verenigde State (VS) onlangs oor Suid-Afrika se deelname aan die komende G20-SHERPA-vergadering ingeneem het, asook van die voorneme om Suid-Afrika – ʼn stigterslid van die G20 – uit te sluit en deelname aan die 2026 G20-vergaderings te weier.
2.1.5. Alhoewel hierdie voornemens betreurenswaardig is, bly Suid-Afrika, as ʼn stigterslid, onwrikbaar verbind tot die G20-beginsels en die samewerkende raamwerk daarvan. Die 2025 G20-spitsberaad het duidelik die waarde van multilateralisme en samewerking duidelik aangetoon. Die Kabinet bly vol vertroue dat multilateralisme en samewerking die weg sal baan vir gedeelde welvaart vir mense regoor die wêreld.
2.2. IBSA-leiers steun globale Suide
2.2.1. Die Kabinet verwelkom die suksesvolle aanbieding van die Indië-Brasilië-Suid-Afrika- (IBSA) leiersvergadering, wat saam met die G20-leierspitsberaad plaasgevind het. Gedurende dié geleentheid het Suid-Afrika ʼn beroep gedoen op hernude Suid-Suid samewerking om inklusiewe groei aan te dryf, volhoubare ontwikkeling te bevorder en die hervorming van globale bestuursinstellings te versnel.
2.2.2. Die IBSA-nasies is goed geposisioneer om die prioriteite van die globale Suide te bevorder, insluitend die verhoging van klimaatfinansiering, die verbetering van voedsel- en gesondheidveiligheid, die ondersteuning van grondslagonderrig en die mobilisering van beleggings vir ramp-risikovermindering.
2.3. 4de Bi-Nasionale Kommissie (BNK)-vergadering met Mosambiek fokus op implementering
2.3.1. President Cyril Ramaphosa het die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die 4de Suid-Afrika-Mosambiek Bi-Nasionale Kommissie (BNK) se vergadering in Maputo, Mosambiek gelei.
2.3.2. Die 4de BNK het ooreenstemming bereik oor 99 besluite, met implementeringsraamwerke in areas wat wissel van ekonomiese samewerking en ontwikkeling, diplomatieke samewerking, veiligheid en sekuriteit, tot maatskaplike ontwikkeling.
2.3.3. President Ramaphosa en President Chapo het die ministers van beide lande opdrag gegee om konkrete vordering in die implementering van die besluite te verseker. ’n Verslag oor die vordering sal tydens die 5de BNK-vergadering in Suid-Afrika gelewer word.
2.3.4. Die twee presidente het ook die amptelike bekendstelling van Sasol se geïntegreerde koolwaterstofprossesseringsinfrastruktuur in Inhassoro Town, Inhambane, op 3 Desember 2025 gelei.
3. Veiligheid en sekuriteit
3.1. Afname in misdaadstatistieke
3.1.1. Die Kabinet verwelkom die afname in die meeste misdaadkategorieë, soos weerspieël in die onlangs vrygestelde Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vir die eerste en tweede kwartaal van die 2025/26-finansiële jaar.
3.1.2. Die statistieke vir die periode April tot September 2025 toon beduidende afnames in ernstige en geweldsmisdade, insluitend moorde. Moordsyfers het met 6,5% in die eerste kwartaal en 11,5% in die tweede kwartaal gedaal.
3.1.3. Die Kabinet loof wetstoepassingsagentskappe vir hul volgehoue, toegewyde werk teen misdaad en doen ʼn beroep op die samelewing om aktief by die stryd teen misdaad aan te sluit.
A. Kabinetsbesluite
1. Implementeringsplan om groei en inklusiwiteit aan te dryf
1.1 Die Kabinet het goedkeuring verleen aan die implementeringsplan om groei en inklusiwiteit aan te dryf, gebaseer op die prioriteite van die 7de Administrasie se Mediumtermynontwikkelingsprogram.
1.2 Die plan beoog ʼn gekoördineerde en gefokusde implementering van geprioritiseerde ingrypings wat deur verskeie inisiatiewe gelei word.
1.3 Die kernpilare van die plan is soos volg:
1.3.1 Ekonomiese hervorming om die fundamentele strukture te herstel
1.3.2 Hervorming van die Staatsdiens om ʼn regering te bou wat meetbare resultate lewer
1.3.3 Nywerheidsbeleidhervorming om nuwe groeigebiede te ontsluit.
1.4 Die gefokusde en geprioritiseerde implementering sal die plan dieselfde momentum gee as dié van die strukturele hervormingsprogram onder Operasie Vulindlela.
2. Implementeringsplan vir Suid-Afrika se Kritieke Mineralestrategie (KMS)
2.1 Die Kabinet het goedkeuring verleen aan die implementeringsplan van die KMS. Die plan bied ’n strategiese raamwerk om die geleenthede wat die mineraalwelvaart bied, optimaal te benut. Dit spruit voort uit die toenemende vraag na kritiese minerale wat benodig word vir digitale tegnologie, verdediging, gesondheidsorg, verbruikerselektronika en elektriese voertuie.
2.2 Die implementeringsplan fokus op ses kernpilare, naamlik (i) geowetenskaplike kartering en verkenning, (ii) waardetoevoeging en lokalisering, (iii) navorsing, ontwikkeling en innovasie, (iv) infrastruktuur en energieveiligheid, (v) finansiële instrumente en (vi) regulatoriese harmonisering.
Die uitvoering van die KMS sal ’n beduidende bydrae lewer tot ekonomiese groei en die skepping van werksgeleenthede.
3. Konsepontwerp van die gewysigde Witskrif oor Burgerskap, Immigrasie en Vlugtelingbeskerming (CIRP)
3.1 Die Kabinet het goedkeuring verleen vir die konsepontwerp van die gewysigde Witskrif oor CIRP, wat vir openbare konsultasie vrygestel is.
3.2 Die wysiging bou voort op die finale Witskrif oor CIRP wat in 2024 deur die Kabinet goedgekeur is. Dit bring sekere beleidsvoorstelle op datum en bied meer gedetailleerde leiding vir relevante voorstelle uit die oorspronklike dokument.
3.3 Sleutelverbeterings sluit die integrasie van aanbevelings uit Operasie Vulindlela se verslag oor visumbeleidhervorming in, asook bykomende duidelikheid om die implementering van immigrasie- en burgerskapbeleid te versterk.
3.4 Die gewysigde Witskrif beoog om ʼn samehangende en gemoderniseerde benadering tot burgerskap, immigrasie en die beskerming van vlugtelinge te verseker. Die benadering steun nasionale ontwikkeling en bevorder nasionale veiligheidsdoelwitte. Dit sluit die beginsel van ‘eerste veilige land’ in, wat vlugtelinge aanmoedig om beskerming aan te vra in die eerste land wat hulle bereik en as veilig beskou word.
4. Mediumtermynontwikkelingsplan se tweejaarlikse vorderingsverslae
4.1 Die Kabinet het die tweejaarlikse vorderingsverslae oor die implementering van die 2024 – 2029 medium-termynontwikkelingsplan vir April tot September 2025 ontvang en in oorweging geneem.
4.2 Die verslae bied ʼn oorsig van die regering se prestasie oor die sesmaande en beklemtoon nie net areas van suksels nie, maar ook terreine waar dienslewering agterweë gebly het of waar uitdagings ondervind is. Die Kabinet het oor dié bevindinge beraadslaag en die noodsaaklikheid van volgehoue fokus op implementering beklemtoon.
4.3 Verdere ingeligtingsessies sal deur die Minister van Beplanning, Monitering en Evaluering in die Presidensie aangebied word, saam met die medevoorsitters van die relevante Kabinetgroeperings.
5. Nasionale Strategie om Aksie vir Kinders te Versnel (NSAAC)
5.1 Die Kabinet het goedkeuring verleen aan die Nasionale Strategie om Aksie vir Kinders te Versnel (NSAAC). Hierdie strategie beoog om die welsyn en ontwikkeling van kinders en jeugdiges regoor Suid-Afrika te versnel.
5.2 Die strategie fokus op oorbrugging van die voedselgaping; die bevordering van taalontwikkeling en onderrig by elke jong kind; die beskerming van kinders en jeugdiges teen dwelmmiddelmisbruik; gereelde en doelgerigte monitering en verwysing van kinders met gehoor- en siggestremdhede; en die bevordering van identiteit en selfbemagtiging van kinders.
5.3 Die strategie beklemtoon samewerking en gedeelde verantwoordelikheid om te verseker dat elke kind die geleentheid kry om te floreer. Lede van die publiek kan toegang tot die strategie verkry by www.dsd.gov.za.
6. Die 5de Nasionale Plan van Aksie vir Kinders (NPAK) 2025 – 2030
6.1 Die Kabinet het goedkeuring verleen aan die 5de Nasionale Plan van Aksie vir Kinders (NPAK) 2025–2030, wat die implementering van die NSAAC verseker. Die plan dien as ’n strategiese raamwerk om die regte, behoeftes en welsyn van kinders in Suid-Afrika doelgerig aan te spreek. Dit stem ooreen met internasionale raamwerke, veral die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van die Kind, sowel as nasionale wetgewing, insluitend die Grondwet en die Kinderwet van 2005.
6.2 Die 5de NPAK bou voort op die vordering wat sedert 1996 gemaak is en bied ʼn omvattende strategieplan om kinderregte te beskerm en te bevorder, aanhoudende uitdagings te identifiseer en aan te spreek, en terselfdertyd die regering se verbintenis tot die skepping van ʼn beter toekoms vir die mees kwesbare kinders van ons land te herbevestig.
6.3 Sleutelfokusareas sluit in die bemagtiging van elke kind as ʼn aktiewe burger met regte; die versterking van stelsels en vennootskappe om holistiese kinderontwikkeling te ondersteun en te verseker; en die aanspreek van prioriteitsareas wat gesondheid, onderwys, veiligheid en inklusiwiteit bevorder.
6.4 Die NPAK weerspieël ʼn samewerkende benadering tussen die regering en sy vennote, met die doel om te verseker dat alle kinders erkenning kry, bemagtig word en ten volle kan floreer.
7. Aksieprogram om Geslagsgeweld en Vrouemoord (GGGV) aan te spreek
7.1 Die Kabinet het goedkeuring verleen aan ’n omvattende aksieprogram om geslags- en huishoudelike geweld (GGGV) aan te spreek. Die program bied ’n diensleweringsraamwerk en ’n organisatoriese struktuur wat die samelewing as geheel doelgerig mobiliseer om hierdie uitdaging te bekamp.
7.2 Die omvattende aksieprogram fokus op die implementering van vyf prioriteitsareas:
a. Voorkoming en die bevordering van maatskaplike samehorigheid: Die fokus val op die uitwissing van sosiale aanvaarding van geweld en die aanspreek van die strukturele oorsake daarvan. Mans en seuns word deur voorkomende gesprekvoering betrek skadelike norme en verwronge manlikheidsideale teen te werk en te voorkom.
b. Verbeterde beskerming, veiligheid en geregtigheid deur wetstoepassingsliggame: Die doel is om die strafregstelsel te versterk en sodoende beskerming en geregtigheid vir oorlewendes te verseker. Uitgebreide slagoffervriendelike fasiliteite en gespesialiseerde GGGV-areas by SAPD-stasies in.
c. Slagoffer- en oorlewende-gesentreerde ondersteuning: Die program streef daarna om gelyke toegang tot hoëgehalte dienste in die regs-, gesondheids- en onderwyssektore te verseker. Die klem val op die geïntegreerde ondersteuningstelsels wat waardigheid, genesing en bemagtiging prioritiseer, en verseker dat oorlewendes omvattende sorg ontvang sonder diskriminasie of onnodige vertragings.
d. Kommunikasie, belanghebbende-betrokkenheid en mobilisering: Die fokus is op die transformasie van sosiale norme op alle vlakke deur deurlopende, bewysgebaseerde boodskappe. Die program streef daarna om skadelike houdings uit te daag, geslagsgelykheid te bevorder en gemeenskappe aktief te mobiliseer om GGGV te beëindig.
e. Institusionele maatreëls: Verseker sterk bestuurs- en verantwoordbaarheidsmeganismes op alle vlakke van die samelewing. Daar word aangedring op ferm, gekoördineerde leierskap en duidelike institusionele rolle om implementering te bevorder, vordering te monitor en verantwoordbaarheid af te dwing.
7.3 Slagoffers van geweld word aangemoedig om die 24-uur hulplyn van die Geslagsgeweld Bevelsentrum te kontak by 0800 428 428 om misbruik te rapporteer en toegang tot steundienste te verkry.
8. Konsepontwerp van die Nasionale Beleidsraamwerk vir Oop Wetenskap
8.1 Die Kabinet het goedkeuring gegee aan die konsepontwerp van ’n raamwerk wat Suid-Afrika se benadering tot oop wetenskap sal rig. Oop wetenskap behels die praktyk om navorsing, data en wetenskaplike prosesse aan die publiek en die breër wetenskaplike gemeenskap beskikbaar te stel.
8.2 Die beleid beoog om deursigtigheid, samewerking en innovasie in wetenskaplike navorsing te bevorder, terwyl dit terselfdertyd nasionale prioriteite aanspreek en in ooreenstemming bring met internasionale neigings.
8.3 ʼn Sleuteldoel is om toegang tot navorsinguitsette te verbeter, insluitend bevindinge, publikasies, data en hulpmiddels sodat navorsers, beleidmakers, studente en die publiek dit effektief kan benut.
8.4 Die beleid bevorder samewerkende navorsing beide nasionaal en internasionaal, en bevorder internasionale vennootskappe deur die deel van oop data.
8.5 Deur oopheid en insluiting te bevorder, stel die raamwerk Suid-Afrika in staat om wetenskaplike navorsing en innovasie ten bate van die samelewing te bevorder.
9. Prestasieverslag: Belastingaansporingsprogram vir Navorsing en Ontwikkeling - 2022/23
9.1 Die Kabinet het goedkeuring verleen dat die prestasieverslag van die 2022/23-navorsing- en ontwikkelingsprogram (N&O) in die Parlement ter tafel gelê word.
9.2 Die regering bied belastingaansporings in gevolge artikel 11D van die Inkomstebelastingwet van 1962 om N&O-bedrywighede in die private sektor aan te moedig. Die aansporingsmeganisme maak voorsiening vir ’n 150%-belastingaftrekking op goedgekeurde bedryfsuitgawes wat aan N&O-aktiwiteite bestee word, en behoort tot die mees vrygewige N&O-aansporings wêreldwyd.
9.3 In die 2022/23-finansiële jaar het die program 188 projekaansoeke van 77 maatskappye ontvang, met ʼn totale beraamde N&O-besteding van R1,5 miljard. Die meerderheid aansoeke het van groot maatskappye met ʼn jaarlikse omset van R100 miljoen en hoër gekom.
9.4 Die meeste projekaansoeke is vanuit Gauteng ingedien, gevolg deur die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal.
10. Konsepregulasies vir nasionale navorsingsfasiliteite en - instellings
10.1 Die Kabinet het goedkeuring verleen vir die publikasie van die konsepregulasies vir publieke kommentaar. Dit sluit regulasies in vir die stigting en bestuur van nasionale navorsingsfasiliteite, asook vir die verklaring van navorsingsinstellings.
10.2 Die regulasies bied ’n raamwerk om geskikte navorsingsinstellings vir befondsing te identifiseer, ooreenstemmig, met nasionale prioriteite, en om data en oorsigte effektief te deel.
10.3 Die raamwerk poog om instellings te identifiseer wat oor ʼn openbare navorsingsmandaat, toepaslike infrastruktuur, vermoëns, kundigheid en dienste beskik om die nasionale innoveringstelsel te versterk, die nasionale navorsingsagenda te ondersteun en die mandaat van die Nasionale Navorsingstigting te vervul.
10.4 Die voorgestelde regulasies beoog ook om bestuur te versterk en te verseker dat navorsingsinstellings ʼn strategiese rol speel in die bevordering van innovering en die ondersteuning van Suid-Afrika se ontwikkelingsdoelwitte.
B. Wetsontwerpe
1. Konsepwetsontwerp op Gas, 2025
1.1. Die Kabinet het goedkeuring gegee vir die indiening van die Konsepwetsontwerp op Gas, 2025, aan die Parlement vir verdere verwerking. Die wetsontwerp herroep die Wet op Gas van 2001 en stel ’n gemoderniseerde wetgewende raamwerk bekend wat onlangse tegnologiese ontwikkelinge in die vervoer en hantering van gas weerspieël.
1.2. Die wetsontwerp spreek ook die uitdagings aan in die toepassing van die bestaande wet aan en posisioneer Suid-Afrika beter om die land se gashulpbronne en -infrastruktuur in ooreenstemming te bring met internasionale beste praktyke en nasionale energieprioriteite.
1.3. Die wetsontwerp bemagtig die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika om verspreidingstariewe te bepaal, te monitor en te reguleer, die registrasiestelsel te bestuur en toepaslike lisensietydperke vas te stel.
1.4. Verder bevat die wetsontwerp bepalings wat strategiese gesentraliseerde beplanning van nuwe gasfasiliteite ondersteun, met besondere fokus op oordrag- en hervergassingfasiliteite, wat die basis vorm vir gasinvoer en grootmaatvervoer, en sodoende nasionale energiesekuriteit versterk.
2. Wetsontwerp op Natuurwetenskaplike Professies, 2025
2.1. Die Kabinet het goedkeuring gegee vir die publikasie van die Wetsontwerp op Natuurwetenskaplike Professies, 2025, vir openbare kommentaar. Die wetsontwerp het ten doel om die Wet op Natuurwetenskaplike Professies, 2003 – wat die regulering van natuurwetenskaplike beroepe in Suid-Afrika bepaal – te moderniseer en te vervang.
2.2. Die wetsontwerp stel ʼn gemoderniseerde wetgewingsraamwerk bekend vir registrasie, regulering, etiese standaarde en die praktyksomvang van natuurwetenskaplikes. Dit poog om die bestuur van die beroepsveld te moderniseer en te verseker dat dit ooreenstem met bestaande wetenskapspraktyk en internasionale standaarde.
C. Aanstellings
Alle aanstellings is onderhewig aan die bevestiging van kwalifikasies en die vereiste sekuriteitsklarings.
1. Die Kabinet het die volgende aanstellings goedgekeur:
1.1 Mnr. Nkhumeleni Victor Vele as Direkteur-Generaal (DG) van die Departement van Toerisme (kontrakverlenging)
1.2 Mnr. Mbulelo Service Tshangana as DG van die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (kontrakverlenging)
1.3 Me. Mammetse Masemola as hoof van infrastruktuur – Suid-Afrika by die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur
1.4 Mnr. Riaan Botha as Adjunk-DG van Fasiliteitsbestuur by die Departement van Openbare werke en Infrastruktuur
2. Die Kabinet het ingestem tot die volgende aanstellings:
2.1 Mnr. Themba Ngubeni as die uitvoerende hoof van die Mzimvubu-Tsitsikamma-toeloopbestuursagentskap
2.2 Mnr. Nkhetheleni Norman Ngidi as die uitvoerende hoof van die Rolprent- en Publikasieraad
2.3 Mnr. Makgatho Mello as die besturende direkteur van die Staatsinligtingstegnologie-agentskap
3. Die Kabinet het die volgende raadaanstellings goedgekeur:
B. Direkteur van die Eskom-raad:
(i) Me. Thandeka Zondi-Mthembu
C. Lede van die raad van die Nasionale Instituut vir Radioaktiewe Afvalberging:
(ii) Me. Thuli Mokgele
(iii) Adv. Matefo Joyce Majodina.
D. Nie-uitvoerende direkteure van die raad van die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid:
(i) Adv. Vusumzi Sihawu (Voorsitter)
(ii) Mnr. Mervyn Burton (Ondervoorsitter)
(iii) Dr. Owen Peter Muller Horwood
(iv) Mnr. Sandile Keswa
(v) Dr. Natalie Skeepers
(vi) Adv. Nosipho Sobekwa
E. Lede van die raad van die Sentrale Energiefonds:
(i) Adv. Lindelwa Nobantu Nziba
(ii) Mnr. Niel Jansen
(iii) Mnr. Persely Msingathi Madokwe
F. Voltydse en deeltydse lede van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika:
(i) Me. Ria Govender (Ondervoorsitter),
(ii) Mnr. Willibrod Majola
(iii) Me. Nomfundo Maseti
G. Lede van die Maatskappytribunaal:
(i) Regter Mohammed Navsa
(ii) Regter Kathleen Satchwell
(iii) Regter Robert Nugent
(iv) Regter Boissie Henry Mbha
(v) Regter Visvanathan Ponnan
H. Lede van die Suid-Afrikaanse Raad vir Ruimtesake:
(i) Adv. Luthando Simphiwe Mkumatela (Voorsitter)
(ii) Dr. Maria Ria Nonyana-Mokabane (Ondervoorsitter en DTIC-verteenwoordiger)
(iii) Adv. Icho Kealotswe-Matlou
(iv) Mnr. Shafique Amid Dean Allie
(v) Mnr. Kebeditswe Medupe
(vi) Mnr. Sydney Linden Petzer
(vii) Mnr. Vincent Molawa Ngoetjana
(viii) Dr. Reshma Mathura
(ix) Mnr. Nhlanhla Michael Mabaso
(x) Mnr. Itumeleng Makola (DSTI-verteenwoordiger),
(xi) Dr. Sarisha Harrylal
(xii) Me. Yolanda Nxumalo
(xiii) Mnr. Flenk Mnisi (DCDT-verteenwoordiger)
(xiv) Kolonel Tamara Thomas-Herwels (DoD-verteenwoordiger)
(xv) Mnr. Levers Mabaso (DOT-verteenwoordiger).
I. Lede van die Raad vir Grondsake:
(i) Me. Lusanda Nomasongo Netshitenzhe (Voorsitter)
(ii) Me. Precious Hlengiwe Makoe (Ondervoorsitter)
(iii) Adv. Anthonie Michael Viviers
(iv) Mnr. Pierre-Jeanne Alexander Gerber
(v) Mnr. Tsietsi Hamilton Madonsela
J. Lede van die Amatola-waterraad:
(i) Dr. Gaster Sharpley (Voorsitter)
(ii) Me. Litha Charlotte Geza (Ondervoorsitter)
(iii) Me. Noxolo Phoebe Abraham
(iv) Mnr. Mxolisi Sibam
(v) Me. Siphumezile Thuthuka Songelwa
(vi) Mnr. Simnikiwe Xawuka
(vii) Me. Nomfundo Princess Douw-Jack
(viii) Mnr. Bhekuyise Henry Makedama
(ix) Me. Nondumiso Pumela Ngonyama
(x) Me. Sinovuyo Ngumbela
(xi) Mnr. Trevor Balzer
K. Lede van die Sentech-raad:
(i) Mnr. Themba Phiri (Voorsitter – res van sy ampstermyn)
(ii) Dr. Silvia Sathekge
(iii) Dr. Lebogang Mphahlele-Ntsasa
L. Lede van die Vergoedingsfonds se adviesraad:
(i) Me. Dinao Lerutla (Voorsitter)
(ii) Me. Unathi Nosipho Mdledle-Mkize
(iii) Mnr. Ernest Thabo Thipa
(iv) Me. Nolitha Pietersen
(v) Me. Milly Ruiters
(vi) Mnr. Thembinkosi Mkalipi
(vii) Mnr. Mohamed Carrim
(viii) Me. Leevendree Pillay
(ix) Mnr. Jan Mahlangu
(x) Me. Mulalo Murudi
(xi) Me. Mamokete Roseline Mokoena Hadebe
(xii) Me. Frieda Monyane Mudau
(xiii) Me. Masedi Lonkokile
(xiv) Mnr. Duncan Luvuno
(xv) Mnr. Janek Wilimiec
(xvi) Mnr. Fani Xaba
(xvii) Me. Tertia Ndlovu
(xviii) Dr. Nothando Moyo
(xix) Me. Kresantha Pillay
(xx) Mnr. Sudeshan Pillay
(xxi) Dr. Tshepo Moses Sebibe
(xxii) Mnr. Kevin Cowley
M. Aanstelling van voorsitters en rekenkundige owerhede van SETA’s:
i. Prof. Puffy Soundy (Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid vir Landbou – Agri SETA)
ii. Dr. Ntombana Sekgaphane (Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid vir Bankwese – Bank SETA)
iii. Me. Karabo Mhlongo-Mbele (Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid vir Kultuur, Kuns, Toerisme, Gasvryheid en Sport – CATHS SETA)
iv. Me. Tsakani Beatrice Nkambule (Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid vir Chemiese Nywerhede – CHIETA)
v. Dr. Olwethu Siphuka (Onderwys-, Opleidings- en Ontwikkelingspraktyke Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid – ETDP SETA)
vi. Me. Morwesi Ramonyai Thonga (Energie- en Watersektor Onderwys- en Opleidingsowerheid – EW SETA)
vii. Dr. Dala Prittish (Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid vir Finansiële Dienste – FASSET)
viii. Mnr. Siyabulela Ngcukana (Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid vir Voedsel en Drankvervaardiging – FoodBev SETA)
ix. Me. Theresa Otto (Veselverwerking en Vervaardigingsektor Onderwys en Opleidingsowerheid – FP&M SETA)
x. Dr. Nomsa Mnisi (Gesondheids- & Welsyn-Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid – HWSETA)
xi. Me. Refilwe Matenche (Onderwys- en Opleidingsowerheid vir die Versekeringsektor – InSETA)
xii. Prof. Hoosen Rasool (Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid vir Vervaardiging, Ingenieurswese en Verwante Dienste – merSETA)
xiii. Me. Emma Mphahlele (Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid vir Media, Inligting- en Kommunikasietegnologie – MICT SETA)
xiv. Dr. Nomusa Zethu Qunta (Mynwese Kwalifikasie Owerheid – MQA),
xv. Dr. Kenneth Maimela (Staatsdiens Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid – PSETA)
xvi. Mnr. Chris Setlhako (Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid vir Veiligheid en Sekuriteit – SASSETA)
xvii. Mnr. Themba Dlamini (Vervoer Onderwys- en Opleidingsowerheid – TETA)
xviii. Mnr. Thulani Tshefutha (Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid vir die Groothandel- en Kleinhandelsektor – W&RSETA)
D. Opdaterings aan die Kabinet
1. Implementering van twee groot menslike nedersettingontwikkelingsprojekte in Gauteng
1.1. Die Kabinet neem kennis van die vordering in die implementering van twee groot behuisingsprojekte in Gauteng, met die doel om sowat 68 000 huishoudings in Lufhereng (Johannesburg) en Mooikloof (Tshwane) van behuising te voorsien.
1.2. Die Lufhereng-ontwikkeling word nie net as ’n behuisingsprojek beskou nie, maar as ’n volledige geïntegreerde gemeenskap met sosiale en ekonomiese infrastruktuur, insluitend skole, kindersorgsentrums, klinieke, plekke van aanbidding, parke, besigheids- en kommersiële sentrums en ontspanningsfasiliteite. Daar word beraam dat ten minste 32 636 eenhede in Lufhereng opgerig sal word. Die Mooikloof mega-behuisingsprojek sal na beraming 50 000 eenhede lewer.
1.3. Hierdie projekte sal na verwagting beduidende werksgeleenthede tydens die konstruksiefase en daarna genereer. Terselfdertyd sal hulle die ontwikkeling van kleinsake-ondernemings en plaaslike ekonomiese groei bevorder – noodsaaklike maatremaatreëls in ’n land wat steeds met hoë werkloosheid en ongelykheid te kampe het.
2. Suid-Afrikaanse wetenskap, tegnologie en innoveringsaanwysersverslag – Bevindinge vir 2025
2.1. Die Kabinet neem kennis van die bevindinge van die 2025-verslag oor Wetenskap, Tegnologie en Innovasie, asook van die sleutelpunte. Die verslag toon dat Suid-Afrika wel ʼn stewige grondslag vir ’n nasionale wetenskap- en innoveringsprogram gelê het, maar dat die stelsel steeds verspreid en gefragmenteerd is oor die regering, akademia, nywerhede en die maatskaplike samelewing.
2.2. Hierdie gefragmenteerde stelsel, tesame met aanhoudende onderbefondsing, beperk die land se vermoë om navorsingsuitkomste in kommersiële produkte of maatskaplike innovasie om te skakel.
2.3. Die verslag doen ’n beroep op sterker integrasie tussen die regering, akademia, nywerhede en die maatskaplike samelewing om gekoördineerde beleggings in wetenskap, tegnologie en innovering aan te moedig. Dit vereis effektiewe implementeringsmeganismes wat die omskakeling van navorsingsuitkomste in konkrete ekonomiese en maatskaplike voordele moontlik maak, en sodoende Suid-Afrika se globale mededingendheid versterk.
3. Gereedheidsvlak van naskoolse onderrig en opleiding
3.1. Die Kabinet is ingelig oor die toelatingsvlakke vir die 2026 akademiese jaar in die naskoolse onderrig- en opleidingssektor. Die aansoektydperk vir die 2026-siklus het in September begin – vroeër as in vorige jare – en het op 15 November 2025 afgesluit.
3.2. Die verifikasie van data is nou ten volle geïntegreer met die Departement van Binnelandse Sake, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap, wat huishoudelike inkomste en burgerskap outomaties kontroleer. Biometriese en fisiese identifiseringsmaatreëls is ook ingestel om bedrog doeltreffend te voorkom.
3.3. Gedurende die registrasietydperk sal NSFAS voltydse teenwoordigheid by elke hoëronderwysinstelling handhaaf om instellings en studente by te staan met enige uitdagings wat verband hou met befondsing.
3.4. n Strategiekomitee, bestaande uit verteenwoordigers van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, NSFAS, hoëronderwysinstellings en studenteliggame, sal weekliks vergader om uitdagings te identifiseer en noodsaaklike ingrypings te bepaal.
3.5. NSFAS het ook hul kommunikasieprotokol opgedateer om te verseker dat studente vinniger en makliker toegang tot inligting het – hetsy aanlyn, telefonies en persoonlik.
4. Volhoubaarheid van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS)
4.1. Die Kabinet het kennis geneem van die verslag oor die status van finansiële steun aan studente en die volhoubaarheid van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS). Die Kabinet erken die sistemiese uitdagings wat die stabiliteit en geloofwaardigheid van die skema ondermyn, en ondersteun die implementering van dringende stabiliseringsmaatreëls, insluitend die versterking van bestuurs- en IT-stelsels en die verbetering van uitbetalingsmeganismes.
4.2. Die Kabinet verwelkom die vordering in konsultasies met sleutelbelanghebbendes, insluitend die regering, hoëronderwysinstellings, studenteliggame en arbeid. Daar is ooreengekom dat ’n nuwe volhoubare model vir studentebefondsing vroeg in 2026 gefinaliseer sal word, met fokus op langtermyn-bekostigbaarheid. Die model sal gerigte steun bied vir universiteit- en TVET-studente, en verbeterde doeltreffendheid in aansoek-, toewysings- en appèlaantekeningsprosesse verseker. Die Kabinet bevestig dat openbare finansiële steun sentraal bly in die bevordering van gelyke toegang tot naskoolse onderwys en opleiding.
5. Groeiplan vir toerismevennootskappe vir 2025 – 2030 bevorder inklusiewe groei en werkskepping
5.1. Die Kabinet is ingelig oor die toerismegroeiplan vir die periode 2025 – 2030. Die plan bied ’n vyfjaar-raamwerk om inklusiewe en volhoubare ekonomiese groei, gedryf deur die toerismesektor, te versnel. Dit beoog om samewerking tussen die publieke, private en gemeenskapsektore te versterk, internasionale en plaaslike toerisme te bevorder, toerismeprodukte te diversifiseer, werksgeleenthede te skep, veerkragtigheid te bou en konkrete voordele aan plaaslike gemeenskappe te bring.
5.2. Die Kabinet neem kennis dat die groeistrategie vyf strategiese doelwitte en ses prioriteitsprogramme insluit, asook ’n duidelike implementeringsplan met meetbare kernprestasie-aanwysers (KPA’s). Die uitvoering daarvan word ondersteun deur gefaseerde beleggings en verskeie befondsingsbronne.
5.3. Daar word verder kennig geneem dat die toerismegroei reeds die 2030-teikens oorskry het, insluitend die herstel van voorpandemiese toerismesyfers en die skepping van werksgeleenthede, veral vir vroue en die jeug. Die strategie fokus ook op die uitbreiding van toerisme in landelike gebiede, verbetering van infrastruktuur en die bevordering van klimaatslim praktyke.
3.2. 13de Wêreldkonferensie van Wetenskapjoernaliste
3.2.1. Die Kabinet neem kennis van en verwelkom die suksesvolle aanbieding van die 13de Wêreldkonferensie van Wetenskapjoernaliste, wat van 1 tot 5 Desember 2025 in Pretoria plaasgevind het. Die konferensie is gesamentlik aangebied deur die Departement van Wetenskap, Tegnologie en Innovering (DSTI) en die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) en het die belangrike rol van wetenskapjoernalistiek beklemtoon in die aanspreek van wêreldwye ongelykhede en die versterking van die openbare vertroue in wetenskap.
3.2.2. Die konferensie het betekenisvolle uitkomste opgelewer, waaronder verbintenisse om etiese joernalistiek te bevorder, streekskapasiteit te bou, tegnologiese innovering aan te moedig en Afrika se leiersrol in wetenskapsdiplomasie verder te versterk.
E. Komende gebeure
1. Versoeningsmaand
1.1. Suid-Afrika het Versoeningsmaand regdeur Desember herdenk, met die hoogtepunt op Versoeningsdag,16 Desember. ’n Amptelike herdenkingsgeleentheid het by die Ncome-museum in Nquthu, KwaZulu-Natal, plaasgevind.
1.2. Vanjaar se Versoeningsmaand word herdenk onder die tema “Van gedeelde geskiedenisse tot gedeelde toekomste deur nuwe paaie en innovering”, terwyl Versoeningsdag herdenk is onder die tema “Herbevestig versoening vir die komende geslagte.”
1.3. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om voort te bou op die fondasies wat oor drie dekades van demokrasie gelê is. Dit sluit die mentorskap van jongmense, die ondersteuning van inklusiewe plaaslike ondernemings en deelname aan oop en eerlike dialoog in om begrip te bevorder en gedeelde doelwitte versterk.
1.4. Versoeningsmaand herinner ons daaraan dat die vryheid en demokrasie wat ons vandag geniet, nie sonder opoffering verkry is nie, maar onlosmaaklik verbind is aan Suid-Afrika se geskiedenis van ongelykheid en ongeregtigheid. Die land se toekoms berus egter op gesamentlike pogings om te genees, te verenig en saam te innoveer.
F. Boodskappe
1. Waarskuwing teen erge weerstoestande
1.1. Die Kabinet doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om uiterste versigtigheid aan die dag te lê te midde van ontstuimige weerstoestande wat tans in verskeie dele van die land voorkom, insluitend swaar reën, donderstorms en hael. Betroubare en opgedateerde weerinligting is beskikbaar op die Suid-Afrikaanse Weerdiens se webwerf by www.weathersa.co.za
2. Medelye
Die Kabinet betuig sy diepste medelye met die vriende en familie van:
2.1. Mnr. Oupa Magashula, die voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het leiding gegee het aan die invordering van staatsbelastinginkomste tydens die uitdagende wêreldwye ekonomiese afswaai van 2008. Vroeër in sy loopbaan was hy aktief in die vakbondbeweging betrokke voordat hy na die korporatiewe sektor oorgeskakel het en later in die Staatsdiens gedien het.
2.2. Regter Leonora van den Heever, die eerste vrou wat as regter in Suid-Afrika aangestel is, het ’n baanbrekersrol vervul wat die pad gebaan het vir geslagte vroue in die regswese. Sy bly ’n blywende voorbeeld van uitnemendheid op die regsbank.
2.3. Mnr. Sunny Singh, een van Suid-Afrika se mees toegewyde vryheidsvegters, het tien jaar op Robbeneiland deurgebring. Hy het ’n beduidend bydrae gelewer tot jeugontwikkeling en het ook ’n sentrale rol in die land se oorgang na demokrasie gespeel.
2.4. Mnr. Dennis Pather, vername joernalis, skrywer en voormalige redakteur van vooraanstaande publikasies, insluitend die Daily News, het diep spore in die Suid-Afrikaanse mediabedryf getrap en sal met groot respek onthou word.
2.5. Dr. Jennifer Glennie was ’n vooraanstaande voorspraakmaker vir maatskaplike geregtigheid en het betekenisvol bygedra tot gelyke toegang tot onderwys en die bevordering van transformasie in die samelewing. Sy het ook ’n sleutelrol gespeel in die ontwikkeling en versterking van hoëronderwysbeleid en -bestuur, onder meer as lid van die Raad vir Hoëronderwys, die forum vir breër transformasie by die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) en as raadslid by die Sol Plaatje-universiteit.
2.6. Franklin Abraham Sonn was ’n onderwyser, diplomaat en sakeman wat ’n betekenisvolle rol in Suid-Afrika se oorgang na demokrasie gespeel het. Hy was Suid-Afrika se eerste ambassadeur na die Verenigde State van Amerika onder ’n demokratiese regering en het dié amp van 1995 tot 1999 beklee.
3. Gelukwense
Die Kabinet spreek gelukwense en voorspoed uit aan:
3.1. Die Springbokke wat Ierland in die Quilter-nasiereeks 2025 verslaan het en onoorwonne deur die reeks gebly het. Hulle het ook die 2025 Castle Lager-uitgaande toer toetsreeks met ’n 73–0 oorwinning teen Wallis in Cardiff afgesluit, en bly onoorwonne vir die tweede agtereenvolgende jaar.
3.2. Die Proteas wat geskiedenis gemaak het met hul eerste toetsreeksoorwinning in Indië in 25 jaar. Hierdie prestasie het Suid-Afrika se posisie op die IKR se wêreldtoetskampioenskaprangleer vir die 2025/27-seisoen versterk, waar die verdedigende kampioene tans die tweede plek beklee.
3.3. Die Matriekklas van 2025 wat hul eindeksamens suksesvol voltooi het. Die Kabinet erken die toegewyde werk van die Departement van Basiese Onderwys om die eksamens glad en sonder enige voorvalle te laat verloop. Die merkproses het amptelik begin in die aangewese sentrums, met meer as 52 000 merkers wat landswyd aangestel is.
3.4. Die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) wat op 5 Oktober 2025 sy 80ste bestaansjaar gevier het. Die afgelope agt dekades het die WNNR aan die voorpunt van wetenskaplike en tegnologiese innovasie gestaan, met plaaslike en internasionale lisensiering van tegnologieë en die ontwikkeling van oplossings wat ’n bekwame staat bevorder. Onder hierdie prestasies val asemhalingsmasjiene wat talle lewens tydens die COVID-19-pandemie gered het, inentingsertifikate wat internasionale reis moontlik gemaak het, en slim-ID-kaarte wat in samewerking met die Departement van Binnelandse Sake ontwikkel is.
3.5. Suid-Afrika wat na ’n afwesigheid van vier jaar herverkies tot die Raad van die Internasionale Maritieme Organisasie (IMO). Die herverkiesing het op 28 November 2025 tydens die 34ste sessie van die IMO in Londen plaasgevind, waar Suid-Afrika onder kategorie C vir die 2026–2027-termyn aangewys is. Die kategorie sluit lande in met spesifieke belange in maritieme vervoer en navigasie, en verseker ’n gebalanseerde verteenwoordiging van alle groot geografiese streke wêreldwyd. Suid-Afrika sal hierdie posisie gebruik om ’n konstruktiewe Afrika-perspektief in die globale maritieme bestuur te bevorder.
3.6 Die Orlando Pirates-voetbalklub, wat die 2025 Carling Black Label-beker gewen het. Die sterkte van ons plaaslike sokkerligas dra betekenisvol by tot die groei en ontwikkeling van die nasionale span, Bafana Bafana, wat Suid-Afrika by die 2026-wêreldbeker sal verteenwoordig.
4. Veiligheid as prioriteit – ʼn gedeelde verantwoordelikheid gedurende die feesseisoen
4.1. Die Kabinet wens alle Suid-Afrikaners ʼn vreugdevolle feesseisoen toe, gevul met liefde, vrede en veilige feesvieringe saam met familie en geliefdes. Ons wens die Christelike gemeenskap ʼn geseënde Kersfees toe. Die Kabinet doen ook ʼn beroep op die publiek om veiligheid gedurende dié feesseisoen op paaie, in gemeenskappe en by openbare plekke en geleenthede te priotoriseer.
4.2. Die Departement van Vervoer het ’n nuwe feesseisoenveiligheidstrategie bekendgestel om bestuurders, voetgangers en passasiers te beskerm. Agthonderd nasionale padverkeerwetstoepassingsbeamptes, ondersteun deur verskeie ander wetstoepassingsagentskappe, sal regoor die land ontplooi word om nakoming van verkeersregulasies te monitor en openbare veiligheid te handhaaf. Daarbenewens sal 558 ekstra pasopgeleide polisiebeamptes ontplooi word om die openbare veiligheid gedurende hierdie besige tydperk te verseker.
4.3. Padgebruikers word herinner om die padreëls streng na te kom, samewerking te bied tydens padblokkades en alle roekelose gedrag te vermy, insluitend bestuur onder die invloed van alkohol of dwelmmiddels, spoedoortredings en die gebruik van selfone tydens bestuur.
4.4. Ouers, versorgers en voogde word aangemoedig om te verseker dat kinders te alle tye onder toesig is en beskerm word in potensieel gevaarlike situasies. Maak seker dat veiligheidsgordels vas is tydens reis en hou altyd ’n waaksaam oog oor kinders in die openbaar om ongelukke te voorkom en te keer dat kinders verlore raak of ontvoer word.
4.5. Die publiek word ook gewaarsku om waaksaam te wees teen swendelaars en bedrieërs, wat dikwels die feesseisoen benut om niksvermoedende mense te teiken. Rapporteer dadelik enige bedrieglike aktiwiteite aan die polisie of betrokke owerhede.
4.6. Die Kabinet herinner almal daaraan dat veiligheid ’n gedeelde verantwoordelikheid is. Laat ons saamwerk om padongelukke, beserings en sterftes gedurende hierdie besige tydperk te voorkom.
Ons wens u ʼn vreugdevolle feesseisoen en ʼn voorspoedige Nuwejaar toe!
Navrae: Mnr. Sathasivan Vandayar (Waarnemende Regeringswoordvoerder)
Selfoon: 082 444 9092

