Parlementêre Openingsrede deur President Cyril Ramaphosa

Parlementêre Openingsrede deur President Cyril Ramaphosa by Kaapstadse Stadsaal, Wes-Kaap

Speaker van die Nasionale Vergadering, Sy Edelagbare Thoko Didiza,
Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Sy Edelagbare Refilwe Mtshweni-Tsipane,
Adjunk-President Paul Mashatile,
Voormalige President Thabo Mbeki,
Voormalige Adjunk-President en voormalige Speaker Baleka Mbete,
Voormalige Adjunk-President Phumzile Mlambo-Ngcuka,
Voormalige Voorsitter van die NRVP, Amos Masondo,
Hoofregter Raymond Zondo,
Adjunk-Hoofregter Mandisa Maya,
Uitvoerende Burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis,
Hoofde van instellings wat demokrasie steun,
Geagte Lid van die Orde van Ikhamanga, Dr Esther Mahlangu
Hooggeplaaste gaste en gesiene persone,
Lede van die diplomatieke korps,
Edelagbare parlementslede

Mede-Suid-Afrikaners,

Ons is hier in die Wes-Kaap bymekaar in die nadraai van hewige storms wat skade aan besighede en infrastrukture aangerig het en tienduisende mense regoor die provinsie geraak het.

Veertien mense is gedurende die wegholbrande van die afgelope dae in KwaZulu-Natal dood. Ses brandbestryders het in die uitvoering van hul pligte gesterf. Die brande het huise afgebrand en vee en weivelde verbrand.

Alle Suid-Afrikaners het medelye met die mense wat aan hierdie haglike weerstoestande blootgestel is terwyl ons aan herstel- en herbouprojekte werk.

Agbare Lede

Ek het die Speaker van die Nasionale Vergadering en die Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies gevra om hierdie gesamentlike sitting te belê vir die formele opening van die Parlement op hierdie betekenisvolle dag.

Vandag vier ons die geboorte van die stigtersvader van ons nasie en 'n wêreldwye ikoon van vrede, geregtigheid en versoening, President Nelson Rolihlahla Mandela,

Regoor ons land en regoor die wêreld gedenk miljoene mense hierdie dag deur hulle diens en solidariteit.

Hulle optrede is tekenend van 'n fundamentele waarheid: dat ons mensikheid uit die menslikheid van ander mense spruit.

Umuntu ngumuntu ngabantu. Motho ke motho ka batho.

Muthu ndi muthu nga vhangwe vhathu. Munhu yi munhu yi vanhu.

Op hierdie dag word ons daaraan herinner dat ons ’n verantwoordelikheid teenoor mekaar het en dat ons eie welsyn en geluk nie van dié van ons medemens geskei kan word nie.

Ons word daaraan herinner dat ons in ons strewe na vooruitgang en voorspoed ’n verantwoordelikheid het om seker te maak dat niemand agtegelaat word nie.

Suid-Afrikaners is ’n diverse nasie met ʼn uiteenlopende geskiedenis, ootuigings, kulture en tale.

Tog is ons een nasie met ’n gemeenskaplike roeping.

Dit is hierdie gmeenskaplike roeping wat die mense van Suid-Afrika aan hierdie Parlement en hierdie Regering opdra om te konsolideer en vooruit te gaan.
Presies 50 dae gelede het Suid-Afrikaners by die stembus oor Suid-Afrika se toekoms besluit. Voor die verkiesing het hulle hul besorgdhede, hul hoop, hul wense en hul verwagtinge uitgespreek.

Deur te stem het hulle beslis dat die leiers van ons land hulle politieke verskille opsy moet skuif en as ’n eenheid moet saamstaan om die uitdagings wat ons land in die gesig staar te oorkom.

Hulle boodskap was duidelik dat sonder eenheid, samewerking en vennootskap ons pogings om armoede, werkloosheid en ongelykheid die nek in te slaan onsuksesvol sal wees.  

Met hierdie opdrag van die nasie as riglyn, het politieke partye van regoor die politieke spektrum gekies om 'n Regering van Nasionale Eenheid te stig.

Ongekend in ons demokratiese geskiedenis, het tien politieke partye wat hier in ons Parlement verteenwoordig is, ooreengekom om 'n gemeenskaplike program saam te stel om 'n beter, gelyker en regverdiger Suid-Afrika te bou.

Hulle het ondanks hul verskille byeengekom omdat hulle verbind is tot ʼn verenigde, voorspoedige en inklusiewe nasie.

Deur 'n verklaring van voorneme het die partye 'n vaste verbintenis gesluit om die Grondwet en die oppergesag van die reg te respekteer en om aanspreeklikheid, deursigtigheid, integriteit en goeie bestuur te bevorder.

Hulle het ooreengekom op 'n minimumprogram as die basis vir die werk van die Regering van Nasionale Eenheid.

Die prioriteitsaksies wat uit hierdie minimumprogram voortspruit, het die volle steun van die onlangse Kabinet-lekgotla, wat nuut-aangestelde ministers, adjunkministers en premiers bymekaargebring het. Verteenwoordigers van plaaslike regerings, direkteure-generaal en ander sleutelbeamptes was ook teenwoordig.

Dit is hierdie prioriteitsaksies wat ons vanaand uiteensit.

Die Kabinet sal 'n verdere strategiesessie belê om oor die mediumtermyn-ontwikkelingsplan te besin, wat die prioriteite sal omskep in 'n gedetailleerde plan met ingrypings wat die regering oor die volgende vyf jaar in werking sal stel.

Die mediumtermyn-ontwikkelingsplan sal 'n goed-gedefinieerde visie en strategiese plan uiteensit met duidelike, spesifieke en meetbare doelwitte, sowel as riglyne om dit te bereik. Hierdie doelwitte sal behoorlik belyn wees met die begroting, wat die implementering van die doelwitte sal ondersteun.

Te midde hiervan bly die Nasionale Ontwikkelingsplan-Visie 2030 die bepalende bloudruk vir ons land se groei en ontwikkeling.

Ons sal ook inspirasie put uit die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte en die Afrika-unie se Agenda 2063 in die opstel van ons mediumtermynontwikkelingsplan.

Die Kabinet-lekgotla het beklemtoon dat die Regering van Nasionale Eenheid met toewyding moet saamwerk om die belange van alle Suid-Afrikaners te bevorder.

Die Kabinet het met waardering kennis geneem van die toewyding en entoesiasme waarmee die nuut-aangestelde ministers en adjunkministers, sowel as premiers hul pligte aangepak het.

Mede-Suid-Afrikaners,

Ondanks die prestasies van 30 jaar van demokrasie en die werk wat die afgelope vyf jaar gedoen is om ons ekonomie en ons samelewing te herbou, is miljoene Suid-Afrikaners steeds arm en werkloos en leef in 'n hoogs ongelyke samelewing.

Ons ekonomie het vir een en ʼn half dekades nouliks gegroei.

Die omstandighede van Suid-Afrikaners vandag vereis dat ons as die Regering van Nasionale Eenheid, asook alle vername rolspelers in ons land met uiterste dringendheid en beslissende deursettingsveremoë saam moet optree.

Die Regering van Nasionale Eenheid het onderneem om die volgende vyf jaar aan aksies te wy wat drie strategiese prioriteite sal bevorder:

Eerstens, om inklusiewe groei en werkskepping te bevorder.

Tweedens, om armoede en die hoë lewenskoste te vereminder.

Derdens, om 'n bekwame, etiese en ontwikkelende staat op te bou.

Ons het besluit om inklusiewe ekonomiese groei die brandpunt van die werk van die Regering van Nasionale Eenheid te maak en bo-aan die nasionale agenda te plaas.

Uit ons ervaring oor die afgelope 30 jaar weet ons dat ekonomiese groei tot werkskepping lei. Wanneer die ekonomie nie groei nie, word daar nie werk geskep nie en mense verloor hulle werk.

Die Regering van Nasionale Eenheid sal alles in hulle vermoë doen om by te dra tot volhoubare, vinnige ekonomiese groei en om enige struikelblok wat in die pad van groei staan, uit die weg te ruim.

Ons is oortuig daarvan dat groei inklusief moet wees. Dit moet transformerend wees.

Inklusiewe groei moet die herverdeling van rykdom en geleenthede bevorder.

Dit moet steun bied aan die bemagtiging van swart Suid-Afrikaners, vroue, en almal wat in die verlede op die kantlyn van die ekonomie moes staan.  

Dit is deel van die grondwetlike imperatief om die wanbalanse van die verlede reg te stel en die stadige ontwikkelingsproses te versnel.

Deur bemagtiging en transformasie kan ons seker maak dat die vaardighede, vermoëns, hulpbronne en energie van alle Suid-Afrikaners tot voordeel van die ekonomie aangewend word.

Ons sal aanhou om programme in werking te stel wat breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging, diensbillikheid en ondersteuning aan klein- en mediumgrootte ondernemings bevorder.

Ons sal voortgaan om die swaarverworwe regte van werkers te beskerm en te handhaaf en ons sal voortdurend daarna streef om die omstandighede waarin hulle werk en leef te verbeter.

Inklusiewe groei vereis dat ons die posisie van vroue en die jeug in die ekonomie versterk.

Inklusiewe groei vereis ook dat ons die sosiale, ekonomiese, kulturele en ander hindernisse uit die weg ruim sodat persone met gestremdhede en ander kwesbare groepe in die ekonomie ook deel daarvan kan word.

Ons sal die groei van landelike ondernemings ondersteun en ons sal in openbare infrastrukture in gebiede waar daar gebrekkige diens is belê.

Ons sal befondsing vir grondhervorming verhoog, die oordrag van staatsgrond op die voorgrond stel en ondersteuning aan hervestiging verbeter deur die institusionele kapasiteit van verantwoordelike strukture te versterk.

Ons moet ons sukkelende munisipaliteite herstel sodat ons vinnige en inklusiewe groei kan bewerkstellig.

Groei vind plaas op 'n plaaslike vlak waar mense woon en werk.

Ons munisipaliteite moet verskaffers van maatskaplike dienste sowel as fasiliteerders van inklusiewe ekonomiese groei word. Hulle moet beleggings kan lok.

Hierdie benadering kan besighede aanmoedig om uit te brei en meer werksgeleenthede in munisipale gebiede te skep. Beleggers word net gelok na gebiede met betroubare en moderne infrastruktuur.

Die vereenvoudiging en bespoediging van beplanning en regulatoriese prosesse kan dit vir besighede makliker maak om in 'n munisipaliteite te belê en te werk om sodoende meer werksgeleenthede te skep.

As die Nasionale Regering het ons 'n grondwetlike verantwoordelikheid sowel as 'n duidelike verkiesingsmandaat om munisipaliteite by te staan om hul magte en funksies doeltreffend uit te oefen.

Ons sal seker maak dat die institusionele struktuur en befondsingsmodel vir plaaslike regering geskik is vir die doel en dat munisipaliteite finansieel en operasioneel volhoubaar is.

Ons sal stelsels in plek stel om seker te maak dat bekwame en gekwalifiseerde mense in senior poste in munisipaliteite aangestel word en seker maak dat onafhanklike regulering en toesig oor die aanstellingsproses in plek is.

As 'n onmiddellike prioriteit sal ons bestuurstabiliteit in ons metro's vestig en dienslewering herstel.

Ons het reeds met hierdie werk begin.

Toe ek eThekwini vroeër vanjaar besoek het, het ek en inwoners van die stad, plaaslike sakeleiers en munisipale amptenare bymekaargekom.

Hulle het vir my gesê hulle wil saamwerk om ’n stad te bou waarop hulle weer trots kan wees.

Ons het sedertdien die eThekwini Presidensiële Werkgroep gestig om ondersteuning aan nasionale en provinsiale regerings te verbeter, ʼn ommeswaai in die metro-administrasie te verseker, die probleme met water en sanitasie reg te stel en nuwe beleggings te lok.

Ons sal dieselfde benadering volg in ander metropolitaanse stede wat ernstige uitdagings in die gesig staar sodat ons stede die bron van groei en dinamiese sentrums vir geleenthede kan word.

Oor die volgende vyf jaar sal ons saamwerk en ons kollektiewe vermoëns inspan om 'n nuwe inklusiewe groeitrajek vir Suid-Afrika te bewerkstellig deur ’n massiewe  belegging in infrastruktuur.

Belangrike projekte rakende vervoer, paaie, water, energie en menslike nedersettings is reeds landwyd van stapel gestuur.

Ons sal die skaal van infrastruktuur-investering beduidend vergroot deur 'n meer holistiese en geïntegreerde benadering om Infrastruktuur Suid-Afrika (ISA) die sentrale instelling van koördinering en beplanning maak.

Ons vereenvoudig die regulasies oor openbare-private vennootskappe om groter belegging in sosiale sowel as ekonomiese infrastruktuurontwikkeling moontlik te maak.

Ons het 'n besliste voorneme om ons land, vanaf ons grootste metro's tot ons mees afgeleë landelike gebiede, in 'n konstruksieterrein te omskep deur paaie, brûe, huise, skole, hospitale en klinieke te bou, breëbandvesel te lê en nuwe kraglyne op te rig.

Ons moet daaraan werk om 'n kultuur van instandhouding van openbare infrastruktuur te bewerkstellig met toegewyde hulpbronne en stelsels om te verseker dat dit uitgevoer word.

As die Regering van Nasionale Eenheid is ons vasbeslote om ons beleggingsgedrewenheid te verskerp en sodoende besighede aan te moedig en in staat te stel om in produktiewe kapasiteit te belê.

Hierdie beleggings sal tot verhoogde werkskepping vir werklose Suid-Afrikaners, veral jong mense lei.

Ons sal voortuitgang in arbeidsintensiewe sektore soos dienste, landbou, groen vervaardiging en toerisme aanmoedig.

Om meer werksgeleenthede vir Suid-Afrikaners te skep sal ons daarop fokus om ons minerale te verwerk sodat ons vervaardigde produkte eerder as rou kommoditeite uitvoer.

Ons sal 'n vindingryke nywerheidsbeleid volg wat op ons ekonomiese mededingendheid fokus en om besighede aan te spoor om ons uitvoere uit te brei en werk te skep.

Ons sal steeds met belanghebbendes saamwerk om meesterplanne te ontwikkel en te implementeer om belangrike nywerhede te laat groei, investering te verhoog, werk te skep en transformasie te bevorder.

Ons is oortuig daarvan dat klein besighede en die informele sektor die grootste potensiaal vir inklusiewe groei en werkskepping inhou.

Ons sal veral aandag gee aan die ondersteuning van klein- en mediumgrootte ondernemings in townships en landelike gebiede. Ons sal ekonomiese aktiwiteite na gebiede neem waar die meeste van ons mense woon sodat meer werksgeleentheded geskep kan word.

Rompslomp verswak werkskepping. Elke departement en openbare entiteit het dus opdrag gekry om onnodige regulatoriese laste te verminder wat besighede verhoed om werk te skep.

Ons erken die waarde van openbare en maatskaplike indiensneming deur onmiddellike werk- en bestaansgeleenthede te skep.

Die Presidensiële Indiensnemingstimulus, die Uitgebreide Openbarewerkeprogram en ander inisiatiewe onder die Presidensiële Jeugindiensnemingsintervensie het inkomste, werkervaring en vaardigheidsontwikkelingsgeleenthede aan baie jong werklose mense gebied.

Ons sal hierdie programme uitbrei en institusionaliseer sodat al hoe meer jongmense werksgeleenthede en vaardigheidsontwikkeling kan verkry.

Deur die Presidensiële Indiensnemingstimulus kon ons byna twee miljoen werk- en bestaansgeleenthede skep. Ons beoog om die program vir openbare werke eksponensieel uit te brei om meer werksgeleenthede te skep.

Ons sien groot potensiaal vir groei buite ons grense.

Namate ons ekonomiese diplomasie met ons grootste handelsvennote en potensiële handelsvennote versterk, sal ons die implementering van die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied hoog op die agenda plaas om ons uitvoere na die res van die vasteland te verhoog.

Ons sal dit doen as deel van ons buitelandse beleidsbenadering wat vrede, veiligheid, demokrasie en ontwikkeling oor die hele Afrika bevorder om 'n meer regverdige en inklusiewe wêreldorde te skep.

Oor die volgende vyf jaar sal ons die enorme geleentheid in hernubare energie vir inklusiewe groei aangryp.

Suid-Afrika het van die beste son- en windbronne ter wêreld.

Terwyl ons 'n regverdige oorgang na hernubare energie onderneem, moet Suid-Afrika 'n groen vervaardigingsektor skep wat gemik is op die uitvoer van groen waterstof en verwante produkte, elektriese voertuie en hernubare energiekomponente.

Ons het byvoorbeeld gesien hoe die Noord-Kaap reeds miljarde rande se investering  in hernubare energieprojekte gelok het.

Werk is op dreef om 'n Spesiale Ekonomiese Sone in Boegoebaai te vestig om belegging in groenwaterstofenergieprojekte aan te dryf.

Ons het reeds verskeie hernubare-energieprojekte wat meer as 22 500 MW se nuwe opwekkingsvermoë verteenwoordig en wat na raming sowat R400 miljard se nuwe private investering werd is. Hierdie tipe beleggings sal baie werk skep.

In die afgelope week het ons gesien hoe die grootste private energieprojek ooit by die energienetwerk naby Lichtenburg in Noordwes aansluit. Meer as 390 000 sonpanele sal 256 MW by die netwerk voeg.

In die komende maande en jare sal hoe al hoe meer van hierdie projekte oor ons land vorm aanneem. Namate hierdie beleggings vrugte afwerp, sal al hoe meer werksgeleenthede ook geskep word.

Ons belegginsplan vir die land se ‘Just Energy Transition’ is daarop gemik om meer as R1.5 triljoen in 'n regverdige oorgang te belê, insluitend ondersteuning vir werkers en gemeenskappe in Mpumalanga en ander steenkoolproduserende streke.

Suid-Afrika ondergaan 'n rewolusie in hernubare energie wat na verwagting die belangrikste dryfveer van groei en werkskepping in die volgende dekades sal wees.

Ons het ook 'n unieke geleentheid om ons land as 'n beduidende speler in die digitale ekonomie te setel en werk te skep in digitale dienste.

Ons sal in digitale identiteit en betalings belê, toegang tot bekostigbare breëband uitbrei en opleiding vir die jeug in digitale vaardighede verhoog.

Terwyl ons hierdie nuwe aspekte van groei nastreef, sal ons voortgaan met die vêrreikende hervormings wat groei moontlik maak.
Ons sal terselfdertyd die tweede fase van Operasie Vulindlela, 'n regeringswye inisiatief wat noodsaaklik was om hervorming voor te staan en aan te dryf, van stapel stuur.

Die tweede fase van Operasie Vulindlela is gerig op die hervorming van die plaaslike regeringstelsel, verbeterde basiese dienslewering, en die benutting van digitale openbare infrastruktuur as 'n dryfveer vir groei en inklusiwiteit.

Dit is ook daarop gerig om die vrystelling van openbare grond vir maatskaplike behuising te versnel en ons behuisingsbeleid te hersien om mense in staat te stel om bekostigbare huise in gebiede van hul keuse te vind.

Ons sal die grootste transformasie in Suid-Afrika se elektrisiteitsbedryf in meer as ’n eeu voltooi.

Sedert die aankondiging van die Energie-aksieplan in Julie 2022, het ons beduidende vordering gemaak om die felheid van beurtkrag te verminder.

Oor die volgende vyf jaar sal die Regering op die uitbreiding en versterking van die transmissienetwerk fokus.

Om inklusiewe groei aan te dryf, het ons 'n doeltreffende vragspoornetwerk nodig om ons minerale, landbouprodukte en vervaardigde goedere na die markte te vervoer.

Deur die implementering van die Vraglogistieke Padkaart sal ons voortgaan met hervormings om Suid-Afrika se vraglogistieke stelsel te transformeer.

Deur die werk wat ons met besighede en vakbonde deur die Nasionale Logistieke Krisiskomitee doen, het ons reeds bygedra tot verbeterings in die operasionele prestasie van vragspoor en hawens.

Die welsyn van ons mense en die groei van ons ekonomie is afhanklik van die beskikbaarheid van water.

Suid-Afrika is 'n waterskaars land en ons watersekerheid word bedreig deur historiese onder-investering in grootmaatwaterbronne en verspreidingsinfrastrukture.

Ons sal dus voortgaan met institusionele hervormings in die watersektor om groter investering in grootmaatwaterinfrastruktuur en beter regulering van waterdienste oor die hele land moontlik te maak.

Net soos besighede water en elektrisiteit nodig het om te funksioneer, het 'n groeiende ekonomie vaardighede nodig.

Waar die vaardighede wat ons benodig nie onmiddellik beskikbaar is nie, moet ons mense met die toepaslike kwalifikasies en ervaring lok.

Ons sal voortgaan met die visumhervormings wat die afgelope paar jaar ingestel is om vaardighede en beleggings te lok en die toerismesektor te laat groei.

Ons sal voortgaan om ’n makro-ekonomiese beleid na te streef wat groei en ontwikkeling stabiel en volhoubaar ondersteun.
Soos baie ander nasies, moes ons geld leen om ons begrotingsvereistes te ondersteun.

Ons sal staatsfinansies bestuur met die oog op die stabilisering van skuld. Ons verbind ons daartoe om voortdurend die dienskoste van ons skuld te verminder sodat ons fondse na ander kritieke sosiale en ekonomiese behoeftes kan herlei.

Ons tweede strategiese prioriteit as die Regering van Nasionale Eenheid is om armoede en die hoë lewenskoste aan te pak.
’n Doeltreffende, geïntegreerde en omvattende armoedeverligtingstrategie is nodig om beskerming en ondersteuning aan die kwesbaarste mense in die samelewing te bied.

Selfs in 'n tyd waar baie maatskappye groot wins maak, ly miljoene Suid-Afrikaners as gevolg van stygende pryse.

As die Regering van Nasionale Eenheid sal ons daarna streef om meer noodsaaklike voedselitems van BTW vry te stel en 'n omvattende hersiening van geadministreerde pryse te onderneem, insluitend die brandstofprysformule, om produkte te identifiseer waar pryse verlaag kan word.

Bate-armoede is nie net een van die onderliggende oorsake van strawwe armoede nie, maar dit verhoog ook ons mense se lewenskoste.

Die toekenning van titelaktes vir grond en gesubsidieerde behuising voorsien mense van bates wat hulle kan gebruik om hul ekonomiese posisie te verbeter.

Inkomste-armoede is ook een van die onderliggende oorsake van armoede.

Die beste manier om armoede te hanteer, is om te verseker dat ons mense werk het. Ons het verskeie ingrypings in werking gestel om werkloses te ondersteun, veral tydens Covid-19 toe ons die Maatskaplike Verligting van Noodtoelae (SRD-toelae) ingestel het.
Die SRD-toelae het ʼn uitkoms vir miljoene werklose mense gebied.

Ons sal hierdie toelae gebruik om 'n volhoubare vorm van inkomste-ondersteuning vir werklose mense in te stel om inkomste-armoede te verlig.

Ons moet seker maak dat plaaslike regerings die behoeftigheidsbeleid behoorlik in werking stel sodat bejaardes, verswaktes en armes voldoende hulp vir die betaling van basiese dienste kan ontvang.

Dit is belangrik dat ons maatskaplike bystand saam met ander vorme van ondersteuning gebruik om armoede te verlig.
As 'n land moet ons die impak waardeer wat 'n goed-funksionerende en gehalte-onderwysstelsel op die vermindering van armoede sowel as die voortdrywing van inklusiewe ekonomiese groei het.

Ons sal dus daarop fokus om universele toegang tot vroeë kinderontwikkeling te bied, wat 'n voorvereiste vir voortgesette verbeterde leer is.

Ons sal seker maak dat skole gehalte onderrig bevorder met genoeg klaskamers, veilige en toepaslike sanitasiegeriewe, skoon water en 'n daaglikse maaltyd vir almal wat dit nodig het.

Om te verseker dat ons die vaardighede skep wat ons ekonomie nodig het, sal ons beroeps- en tegniese opleiding in skole en naskoolse instellings uitbrei en 'n probleemoplossende benadering tot vaardigheidsontwikkeling volg.

’n Belangrike taak vir die volgende vyf jaar is om die hoë lewenskoste te verminder deur te verseker dat almal in Suid-Afrika gelyke toegang tot billike, toeganklike en bekostigbare gehalte gesondheidsorg het.

Namate ons die Nasionale Gesondheidsversekering (NVG) in werking stel, sal ons klem lê op die versterking van gesondheidsorg-infrastruktuur, verbeterde opleiding van gesondheidsorgpersoneel en die gebruik van tegnologie om die bestuur gesondheidsorg te verbeter.

Hoewel daar heelwat onenigheid rondom die NGV is, word daar wyd ooreengestem dat die hulpbronne en vermoëns van beide die openbare en private sektor benut moet word om in die gesondheidsorgbehoeftes van alle Suid-Afrikaners op ’n gelyke grondslag te voorsien.

Ons is vol vertroue dat ons deur die implementering van die NGV in staat sal wees om belanghebbendes bymekaar te bring en om verskille op te los en misverstande uit te klaar.  

Met soveel mense wat ver van ekonomiese geleenthede en dienste woon, word ’n groot deel van hul inkomste op vervoer uitgegee, wat ’n styging in hul lewenskoste tot gevolg het.

Daarom is 'n onmiddellike prioriteit om die herstel van die passasierspoornetwerk regoor die land te voltooi sodat mense van afgeleë gebiede na die middestad kan reis.

Ongeveer 80 persent van pendelspoorwegroetes is nou weer in werking en byna 300 geplunderde stasies is opgeknap, wat veiliger en doeltreffender dienste aan pendelaars verskaf.

Die derde strategiese prioriteit van die Regering van Nasionale Eenheid is om 'n bekwame, etiese en ontwikkelingstaat te bou.

Ons sal voortgaan met die werk wat reeds aan die gang is om die staatsdiens te professionaliseer om sodoende te verseker dat ons mense met vaardighede, vermoëns en integriteit lok.

Ons sal voortgaan om korrupsie te beveg en onbehoorlike politieke inmenging in die administrasie van die staat te voorkom.
In hierdie administrasie sal ons die werk om die finansiële posisie en bedryfsprestasie van ons staatsondernemings (SOE's) te herstel voltooi.

Ons sal ook die implementering van 'n nuwe gesentraliseerde eienaarskapsmodel vir SOE's voltooi. Dit sal aanspreeklikheid, deursigtigheid, bestuur en toesig verbeter terwyl ondoeltreffendheid en die potensiaal vir korrupsie verminder word.

Die stigting van 'n SOE-beheermaatskappy sal ons vermoë versterk om 'n soewereine welvaartfonds te bou.

Dit is reeds suksesvol gedoen deur ander lande waar soewereine welvaartfondse kapitaal opgebou het uit die hoë prestasie van die SOE's eerder as uit die skatkis.

Om misdaad en korrupsie aan te pak, moet ons bekwame, gesofistikeerde en onafhanklike wetstoepassingsagentskappe hê wat komplekse en georganiseerde misdaad kan beveg.

Ons sal moderne tegnologie ontplooi om misdaadbekamping te bevorder. ’n Datagedrewe benadering sal gebruik word om geweldsmisdaadbrandpunte te identifiseer en die toewysing van polisiëringshulpbronne saam met voorkomingsmaatreëls te ondersteun.

Ons sal voortgaan om voorkeurmisdade soos onwettige mynbou, bendegeweld, transitorooftogte en die konstruksiemafia met gespesialiseerde polisie-eenhede te beveg.

Ons sal voortgaan om die Nasionale Strategiese Plan oor Geslagsgebaseerde Geweld (GBV) en Vrouemoord in werking te stel en om ondersteuningsdienste vir slagoffers uit te brei, soos die Thuthuzela-sorgsentrums en GBV-toonbanke in polisiestasies.

Agbare lede,

Dertig jaar gelede het President Nelson Mandela voor hierdie Huis gestaan om te besin oor die eerste 100 dae van die eerste Regering van Nasionale Eenheid.

Met erkenning aan die verskillende sienings van die diverse partye binne die regering, het hy gesê:

"Wat ons bymekaar bring, is die oorheersende verbintenis tot 'n gesamentlike nasionale poging om ons nasie te versoen en sy welsyn te verbeter."

Dieselfde kan gesê word van die Regering van Nasionale Eenheid wat gestig is deur tien partye wat in hierdie Parlement verteenwoordig is.

Ons deel 'n verpligting om ons nasie te versoen deur sosiale geregtigheid en gelyke welvaart vir almal te bevorder.

Ons is daartoe verbind om die welsyn van ons land en sy mense te verbeter deur inklusiewe groei, werkskepping en armoedevermindering.

Ons word almal deur hierdie onderneming betrek.

By geleentheid van die presidensiële inhuldiging het ek my daartoe verbind om saam te werk deur ʼn nasionale dialoog om die kritieke uitdagings wat ons nasie in die gesig staar te bespreek en eenstemmigheid te verkry oor wat ons te doen staan om ʼn beter toekoms vir hierdie wonderlike land te bou.

Regoor die samelewing het mense hul steun vir dié nasionale dialoog uitgespreek.

Hulle het gesê dit moet die lewe van alle belanghebbendes in ons land betrek; dit verteenwoordig die burgerlike samelewing, tradisionele leiers, die geloofsgebaseerde sektor, die arbeid- en sakesektor, kultuurwerkers, sportlui en ander instellings wat die diverse belange en stem van ons burgers verteenwoordig.

Na aanleiding van die voorbeeld wat deur historiese gebeure gestel is, soos die Congress of the People in 1955, die Konferensie vir ʼn Demokratiese Toekoms in 1989, en die Konvensie vir 'n Demokratiese Suid-Afrika-gesprekke in die vroeë 1990's, asook deur gebruik te maak van ons nuwe demokratiese grondwet van 1996, stel ons 'n Nasionale Dialoog met uitgebreide en inklusiewe openbare deelname in die vooruitsig.

Soos op baie ander belangrike oomblikke in ons geskiedenis, streef ons na 'n gemeenskaplike visie en 'n omvattende sosiale ooreenkoms met 'n duidelike program van aksie om ons vooruitsigte vir die land te verwesenlik.

Die Nasionale Dialoog vra dat ons moet optree as agente vir verandering, kampvegters vir inklusiewe groei, en skeppers van geleenthede.

'n Paar jaar gelede het 'n diverse groep vennote en belanghebbendes van regoor die samelewing bymekaargekom om verskeie scenario's vir ons land se toekoms te bespreek.

Dit was die Indlulamithi Scenario’s 2035.

Een van die scenario's wat beskryf is, was die ‘beskuldigingsnasie’, wat die luide Hadeda-voël as sy simbool gebruik het.

Dit beskryf 'n situasie van gebrek aan optrede, waar ons land se probleme onopgelos bly en waar almal mekaar blameer vir Suid-Afrika se euwels. Hierdie scenario was tekenend van ʼn vervallende land.

Die tweede scenario, gesimboliseer deur 'n aasvoël, het 'n ‘desperate nasie’ uitgebeeld wat deur 'n populistiese koalisie regeer word met selfverryking en neerbuigende bestuur as hoofdoelwitte.

Hierdie scenario het meegebring dat beleggingsvertroue verweer is, die groeikoers verminder het en waartydens werkloosheid, armoede en ongelykheid uiters hoog gebly het.

Hulle het ook 'n scenario beskryf wat hulle ‘die samewerkende nasie’ genoem het, gesimboliseer deur die sosiale wewervoëls.

Hierdie scenario beeld politieke partye, die staat, die private sektor en die burgerlike samelewing uit wat ná ontwrigtings en betogings bymekaarkom om gesamentlik prioriteite te identifiseer en mekaar se sterk punte te benut.

Daar is verandering in die vorm van bestuur en hervorming, wat daartoe lei dat die ekonomie groei en meer beleggings gelok word en dat werkloosheid, ongelykheid en armoede afneem.

Deur die vestiging van ’n Regering van Nasionale Eenheid en voorbereiding vir  nasionale dialoog, plaas ons onsself doelbewus op die pad na 'n ‘samewerkingsnasie’.

Ons wil graag hê dat alle Suid-Afrikaners wewervoëls moet wees. Wewers is van die mees sosiale voëls in die sin dat hulle deur samewerking komplekse strukture bou.

Ondanks al ons uitdagings, verskille en oortuigings, word Suid-Afrikaners versoek om hulle daartoe te verbind om die pad van samewerking, groei en inklusiwiteit te stap.

Vroeër vandag het ’n groep Suid-Afrikaanse bergklimmers die kruin van Kilimanjaro, wat die hoogste piek in Afrika is, bereik.

Hulle het dit gedoen ter ere van Nelson Mandela se geboorte en om die 30ste herdenking van ons vryheid te vier.

Bekend as die Trek4Mandela-ekspedisie, het ander bergklimmers uit verskeie lande regoor die wêreld by ons bergklimmers aangesluit om fondse in te samel vir sanitêre produkte en ander behoeftes, wat help om meisies op skool te hou.

Laat hul optrede ons almal inspireer.

Laat hul prestasie ons daaraan herinner dat, as 'n Suid-Afrikaanse nasie, daar geen berg is wat ons nie kan klim nie en geen piek wat ons nie kan bereik nie.

Ek sluit in af met ʼn parafrasering van Martin Luther King Junior se woorde:

Kom ons staan vanaand op met groter gereedheid.
Kom ons staan op met meer vasberadenheid.
En kom ons kyk vorentoe in hierdie kragtige dae, hierdie dae van uitdaging 
om  Suid-Afrika te maak wat dit behoort te wees.
Ons het ’n geleentheid om Suid-Afrika 'n beter nasie te maak.

Mag God Suid-Afrika seën en sy mense beskerm.

Nkosi Sikelel’ iAfrika.

Ek dank u.

Issued by
More from
More on

Share this page

Similar categories to explore