Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 23 September 2015

1. Implementering van belangrike regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet verwelkom die bekendstelling op 20 September 2015 van die sewende uitgawe van die Ontwikkelingsaanwysers (2014), wat die jongste stand van Suid-Afrika se ontwikkeling aandui. Die aanwysers skep ’n beter begrip van die impak wat regeringsbeleid en verskillende diensleweringsinisiatiewe op die land se ontwikkeling het.

Die aanwysers bevorder ook debatvoering oor die uitdagings wat ons land in die gesig staar en dien as merkers wat help om die mylpale in ons reis na sosiale verandering te definieer. Dit inspireer Suid-Afrikaners om saam te werk om die land se lang- en medium-termyndoelwitte te bereik soos verwoord in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) – Visie 2030 en die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk.

1.2. Die Kabinet verwelkom die aanstelling van 154 distrikslanddroste in verskeie landdroshowe landwyd. Van belang is dat 90 van hulle vroue is, wat 59 persent van alle aangestelde kandidate verteenwoordig. Die feit dat 141 van die landdroste swart en 13 wit is, sal die rasse- en geslagstransformasie van die laer howe aansienlik verbeter. Die jongste aanstellings volg op die aanstelling van 57 plaaslike landdroste op 2 Februarie 2015; dit bring die totale aantal landdroste wat vanjaar aangestel is, op 211 te staan, wat uniek is in ons 21 jaar van demokrasie.

1.3 Die Kabinet verwelkom die plasing van Suid-Afrika onder die boonste drie in die 2015 Oop-begrotingindeks, wat die wêreld se enigste onafhanklike, vergelykbare maatstaf van begrotingsdeursigtigheid, -deelname en -toesig is. Dit maak Suid-Afrika 'n wêredleier op die gebied van begrotingsdeursigtigheid. Sommige van die hervormings wat tussen 2010 en 2015 in die land geïmplementeer is, sluit 'n nuwe raamwerk vir strategiese planne en jaarlikse prestasieplanne in, asook die Regering se verbintenis om betrokke te raak by burgerlike samelewingsorganisasies om groter deelname aan die begrotingsproses te verseker.

1.4 Die Kabinet verwelkom die aankondiging dat Suid-Afrika as Hoofvoorsitter van die Oop-regeringsvennootskap (ORV) oorneem. Die ORV is 'n multilaterale inisiatief wat daarop gemik is om te verseker dat regerings hul daadwerklik daartoe verbind om deursigtigheid te bevorder, burgers te bemagtig, korrupsie te beveg en nuwe tegnologieë aan te wend om regeringsbestuur te versterk. Suid-Afrika, Brasilië, Indonesië, Mexiko, Noorweë, die Filippyne, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika is die stigterslede van hierdie inisiatief.

Suid-Afrika onderneem om tydens sy termyn as Hoofvoorsitter die politieke profiel van die ORV te verhoog om deelname en aanspreeklikheid op die vlak van staatshoofde te verseker. Suid-Afrika sal ook daarop fokus om die ORV in die hoofstroom van die internasionale multilaterale agenda by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering te plaas, asook by die Groep van 20 en op ander platforms.

2. Belangrike Kabinetsbesluite

2.1. Die Kabinet steun die versoek van die Statebond-sekretariaat, dat Suid-Afrika gasheer sal wees vir die tweede Statebondkonferensie oor Jeugwerk in Maart 2016. Die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering sal die konferensie saam met die Statebond-sekretariaat, die Universiteit van Suid-Afrika en die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap reël. Hierdie konferensie is 'n belegging in die ontwikkeling van Suid-Afrika se groeiende jeugbevolking, en bied 'n platform om die ontwikkeling van jeugwerkers te professionaliseer en hulle as primêre verskaffers van dienste aan die jeug te bevorder.

2.2. Die Kabinet keur die Riglyne oor Goeie Sakepraktyk vir Suid-Afrikaanse Maatskappye in Afrika goed. Hierdie riglyne is ’n vrywillige stel beginsels ooreenkomstig wette en internasionaal erkende standaarde wat verantwoordelike sake-optrede op die vasteland van Afrika  bevorder. Hulle voorsien ‘n gidsraamwerk vir Suid-Afrikaanse maatskappye om volhoubare ekonomiese ontwikkeling in Afrika te bevorder. Dit moedig Suid-Afrikaanse maatskappye ook aan om hulle betrokkenheid en praktyke met die Regering se integrasie- en ontwikkelingsdoelwitte in Afrika te belyn, en om wedersyds vertroue en voordeel vir die maatskappye en die gemeenskappe waarbinne hulle bedryf word, te bou.

2.3. Die Kabinet keur die bekragtiging van die Bylae tot die Institusionalisering van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SADU) se Spitsberaad, goed. Die beraad, wat uit die staatshoofde van elke lidland bestaan, sal politieke en strategiese rigting aan SADU voorsien. Alle SADU-lidlande moet die ooreenkoms onderteken sodat die beraad die hoogste besluitnemingsinstelling van SADU kan word.

2.4. Die Kabinet keur goed dat 'n brief van ondersteuning aan die Afrika Unie-kommissie uitgereik is vir die Vereniging van Internetdiensverskaffers in die aansoekproses om gasheer vir die Streek se Internetwisselpunt te wees. Dit dra by tot plaaslike integrasie en die bou van 'n veilige, betroubare infrastruktuurnetwerk en -dienste om aan die eise van die gevestigde inligting- en kennissamelewing te voldoen.

Dit smee sterker vennootskappe en samewerking tussen Afrika-entiteite en posisioneer Suid-Afrika ook as 'n wêreldleier in die ontwikkeling, bedryf en gebruik van Inligting- en Kommunikasietegnologie (IKT). Deur streeksverkeer plaaslike te hou sal die koste om te kommunikeer verminder; dit sal ook werkskepping, innovasie, entrepreneurskap en platforms vir elektroniese regeringsdienste bevorder, en verseker dat Afrika beheer het oor die inhoud en data.

2.5. Die Kabinet keur goed dat Suid-Afrika mede-gasheer sal wees van die tweede Ministeriële Forum vir China-Afrika Gesondheidsontwikkeling onder die tema: "Bevorder die beskikbaarheid van gesondheidsorgdiens in Afrika, verbeter China-Afrika se samewerking in openbare gesondheid in die post-Ebola era". Dié inisiatief, wat van 4 tot 6 Oktober 2015 in Kaapstad gehou word, volg op die Forum vir China-Afrika-samewerking, wat gesondheid voorop stel as 'n belangrike deel van China-Afrika-samewerking. China het onlangs onderneem om beduidende hulpbronne beskikbaar te stel om die verspreiding van Ebola in Wes-Afrika te help stuit.

3. Wetsontwerpe

3.1. Die Kabinet keur goed dat die Nasionale Wysigingswetsontwerp op Omgewingsbestuur, 2015 vir openbare kommentaar gepubliseer word. Hierdie wysigingswetsontwerp wysig die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur, 1998 (Wet 107 van 1998), asook verskeie spesifieke omgewingsbestuurswetgewing. Die wysigings versterk onder meer geïntegreerde omgewingsbestuur, nakomings- en toepassingsmaatreëls, biodiversiteit en bewaring, bestuur van luggehalte en afvalbestuur.

3.2. Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Vlugtelinge, 2015 aan die Parlement, voorgelê word. Die wysigings verhoog die doeltreffendheid en effektiewe funksionering van die asielstelsel se aansoekproses, en is deel van die breër oorsig oor die Migrasiebeleid wat onderweg is.

3.3. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op die Justisie-geadministreerde Fonds, 2015 aan die Parlement voorgelê word. Die Wetsontwerp skep 'n wetgewende raamwerk wat aanspreeklikheid sal verhoog en die Ouditeur-generaal se ouditbevindinge sal hanteer deur die verbetering van organisatoriese doeltreffendheid en die transformasie van regsdienste.

Die Wetsontwerp maak ook voorsiening vir die vestiging van 'n Justisie-geadministreerde Fonds om die bestuur, beheer, belegging en gebruik van geld uit derde party-fondse (ook genoem 'geld in trust'), soos instandhouding en borgtoggelde, te reguleer.

3.4. Die Kabinet keur goed dat die Wetsontwerp op die Grensbestuursagentskap (GBA), 2015 aan die Parlement voorgelê word. Die Wetsontwerp is daarop gemik om die GBA te vestig, wat veilige oorgrensreis, die fasilitering van handel, en nasionale veiligheidsimperatiewe binne die konteks van Suid-Afrika se plaaslike, Afrikaverwante en internasionale verpligtinge te balanseer. Hierdie enkele owerheid vir grenswetstoepassing bied die potensiaal vir meer koste-effektiewe dienste, verbeterde sekuriteit en beter bestuur van die grensomgewing.

4. Toekomstige gebeure

4.1. President Jacob Zuma sal ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Verenigde Nasies (VN) se 70ste Algemene Vergadering in New York, VSA lei onder die tema: “Die Verenigde Nasies op 70: die pad vorentoe vir vrede, sekuriteit en menseregte”. Die VN se Spitsberaad oor Volhoubare Ontwikkeling, word van 25 tot 27 September 2015 gehou voor die aanvang van die Algemene Vergadering, vir die goedkeuring van die Post-2015-ontwikkelingsagenda.

Die nuwe agenda vir volhoubare ontwikkeling sal dien as die wegspringplek vir optrede deur die internasionale gemeenskap en deur nasionale regerings om gedeelde welvaart en welsyn vir almal oor die volgende 15 jaar te bevorder. Op 25 September 2015, sal Sy Heiligheid Pous Francis die VN se Algemene Vergadering toespreek, en die Algemene Debat vind van 28 September tot 6 Oktober 2015 plaas. Suid-Afrika is tevrede dat die doelwitte van volhoubare ontwikkeling steeds die wêreld se aandag op die stryd teen armoede, ongelykheid en volhoubare ontwikkeling sal vestig.

4.2. Die Department van Vervoer sal die Vervoermaand-veldtog van 1 tot 31 Oktober 2015 van stapel stuur onder die tema "Saam beweeg ons Suid-Afrika vorentoe". Vervoermaand word jaarliks gehou as 'n fokusmaand wat daarop gemik is om bewustheid te skep van infrastruktuurprojekte met groot sosio-ekonomiese gevolge vir vervoer, soos pad-, lugvaart-, maritieme, spoor- en openbare vervoer. Sleutelprojekte sluit in die amptelike opening van padinfrastruktuurontwikkelings soos die R71 Moria-projek (verbetering van wisselaarveiligheid); die Umgeni-wisselaar en die Denneysville-Sasolburgpad in die Vrystaat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap Beperk, in samewerking met die provinsiale departemente van paaie en vervoer.

Vervoermaand sal ook gebruik word om bewustheid te verhoog van die 365-dae-padveiligheidsveldtog, wat deur die departement gelei word en in samewerking met  die vervoerentiteite wat 'n padveiligheidsmandaat het, die private sektor en nie-winsgewende organisasies geïmplementeer word. Die Padvervoer-bestuurskorporasie sal 24-uurskofte vir verkeersbeamptes in werking stel om padsterftes te bekamp. Die Regering het ook 'n kwalifikasie vir verkeersbeamptes ontwikkel ooreenkomstig die Nasionale Kwalifikasieraamwerk (NKR) 4 tot 6 NKR om die verkeersberoepe verder te professionaliseer.

Die Padongelukkefonds (POF) sal voortgaan om ná-ongeluksorg en verwante bystand aan die slagoffers van padongelukke en hul naasbestaandes wat geraak word, te bied, en om ook na gemeenskappe uit te reik deur die POF-op-die-pad-veldtog.

4.3. Suid-Afrika sal vir die eerste keer gasheer wees vir die Suid-Afrikaanse Internasionale Konferensie oor Hernunbare Energie wat van van 4 tot 7 Oktober 2015 in Kaapstad gehou word onder die tema: “Energiehernuwing vir Afrika”. Die konferensie sal fokus op hernubare energie-geleenthede vir produseerders van hernubare energie in Suid-Afrika en Afrika, as die volgende beleggingsbestemming.

Suid-Afrika, deur middel van sy Verkygingsprogram vir Hernubare Energie deur Onafhanklike Kragprodusente, word een van die grootste markte vir hernubare energie. In die toekoms sal biomassa, windkrag, sonkrag en hidrokrag 11,4 gigawatt van hernubare energie tot die rooster bydra.

Die Departement van Wetenskap en Tegnologie ondersteun die land se energiebeleid deur navorsing en tegnologie-ontwikkeling in lae- en koolstofvrye tegnologie wat gekommersialiseer en geïmplementeer kan word om energiesekerheid en -toegang vir alle Suid-Afrikaners te verhoog. Verdere pogings om ons energie te diversifiseer sluit die ontwikkeling van tegnologie vir waterstof-brandstofselle in, met toepassing vir huishoudelike bystandselektrisiteit en primêre elektrisiteitsvoorsiening, elektriese voertuie – veral in die mynbou- en vermaaklikheidsektore – vir mynbouvoertuie, uitbreiding van die reikwydte van gholfkarretjies en mobiele kommunikasie-basisstasies.

Ons is nou in staat om verskillende komponente in 'n wye reeks van energie-genererende toestelle vir hierdie toepassings wat tans getoets word, te vervaardig en te integreer. Die voordeel van ons waterstof- en brandstof-seltegnologieë-program is die gebruik van platinum wat ook geleenthede skep in die motorkatalisator-omsittermark om veredeling van een van ons volopste minerale te bevorder. In dié verband, het ons ons vennootskap met die private sektor gevestig en versterk om finale toetse te doen en om verskillende komponente en volle energie-oplossings te kommersialiseer.

 4.4. Die Regering vier Maatskaplike Ontwikkelingsmaand in Oktober deur klem te lê op armoedeverligtingsprogramme en sy voetspoor uit te brei deur Projek Mikondzo om alle kwesbare Suid-Afrikaners te bereik. Sedert die bekendstelling van Projek Mikondzo in 2013, het regeringsamptenare meer as 900 wyke met hoë vlakke van armoede en werkloosheid besoek om ’n beter begrip van gemeenskappe se diverse behoeftes te kry.

As deel van die gebeure in Oktober, vier die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ook die 10de herdenking van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA), wat maatskaplike toelaes voorsien waarby 16.8 miljoen mense tans baat, en wat oor die afgelope dekade gehelp het om armoede te verminder en voedselsekerheid onder arm huishoudings te verbeter. Die departement het ook die aansoektydperk vir studiebeurse in Maatskaplike Werk oopgestel, en mense wat belangstel word aangemoedig om voor 31 Oktober 2015 aansoek te doen. Meer inligting is beskikbaar by www.dsd.gov.za.

4.5. Die Kabinet bring hulde aan al ons opvoeders op Wêreld Onderwysersdag op 5 Oktober 2015, en bedank hulle vir hul betrokkenheid, toewyding en geduld met die voorbereiding van die ontwikkelende breinkrag van die jeug en ons leerders vir die toekoms.

Die Kabinet doen ’n beroep op belangstellende jong Suid-Afrikaners om vanaf 1 Oktober 2015 aansoek te doen vir die Funza Lushaka-beursprogram, 'n meerjarige program ter bevordering van onderwys as 'n beroep. Meer inligting is beskikbaar by www.education.gov.za. Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners, veral die jeug, aan om onderwys  as 'n loopbaan van keuse te verken.

4.6. Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om ons sportsterre te eer deur hulle voor die einde van September 2015 vir die 2015 Sporttoekennings te nomineer. Meer inligting is beskikbaar by www.srsa.gov.za.

4.7. Die Departement van Sport en Ontspanning Suid-Afrika sal van 5 tot 10 Oktober 2015 Jeugkampe in al die provinsies aanbied vir  jeugdiges tussen die ouderdomme van 15 en 23 jaar. Jeugkampe is deel van ’n wyer regeringsprogram om jong mense te ontwikkel, en met die nodige waardes, vaardighhede en kennis toe te rus wat hulle kan help om verantwoordelike burgers te word.

4.8. Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om die eerste jaarlikse Nasionale Ontspanningsdag, wat op 2 Oktober 2015 plaasvind, te ondersteun. Op 10 Desember 2014, het die Kabinet verklaar dat die eerste Vrydag van Oktober elke jaar Nasionale Ontspanningsdag moet wees. Dié dag sal 'n geleentheid vir alle Suid-Afrikaners bied om aktief aan ontspanningsaktiwiteite deel te neem wat hulle gesondheid en welstand verbeter. ’n Gesonde en aktiewe burgery is 'n belangrike faktor in die verwesenliking van die Nasionale Ontwikkelingsprogram se doelwitte.

4.9. Die Kabinet wens die Protea-kriektetspan sterkte toe met hul kriekettoer na Indië van 29 September tot 7 Desember 2015, en wens die Springbokke ook sterkte toe met hul beslissende Wêreldbekerwedstryd vandag (Saterdag). Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om ons spanne te ondersteun wanneer hulle in verskeie sporttoernooie meeding. 

5. Die Kabinet se standpunt oor belangrike kwessies in die omgewing

5.1. Die Kabinet verwelkom die Regering se R22-miljoen-belegging in die verdere ontwikkeling van geriewe by Maropeng. Dit sluit ’n amfiteater met sitplek vir 500 mense in, asook die opknapping van die besoekersentrum om voorsiening te maak vir die verwagte invloei van nuwe besoekers. Dit volg op die historiese ontdekking van  Homo Naledi by die Wieg van die Mensdom Wêreld Erfenisterrein.

5.2. Die Kabinet neem kennis van onlangse ontwikkelings rondom die Jaarlikse Nasionale Assesseringstoetse (ANA) en doen ’n ernstige beroep op al die partye om saam te werk om ’n oplossing te vind wat leerders se regte eerste stel en beskerm. Die ANA is ’n beslissende instrument wat leemtes identifiseer om geteikende tussenkomste vir die ontwikkeling van leerders en onderwysers te verseker. Terwyl die Regering kennis neem van onderwysers se bekommernisse, wys hy daarop dat onderwys die belangrikste prioriteit moet wees.

5.3. Die Kabinet sluit aan by die res van die land om hulde te bring aan Tshimangadzo Samuel Benedictus Daswa, 'n 43-jarige onderwyser van Tshitanini in Limpopo, wat op 2 Februarie 1990 gesterf het vir sy sterk godsdienstige oortuigings. Dit is ook die eerste keer in die geskiedenis van die Rooms-Katolieke Kerk van Suider-Afrika dat 'n Suid-Afrikaner as 'n geseënde martelaar van Christus erken word. Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om hulde te bring aan Suid-Afrika se eerste plaaslike martelaar deur ons te verbind om in vrede en harmonie saam te leef en mekaar se grondwetlike en menseregte te respekteer.

5.4. Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan die Black Mamba Anti-Poaching Unit. Dié  Suid-Afrikaanse veldwagtergroep wat uit vroue bestaan, het die Champions of the Earth-toekenning, 'n belangrike VN-omgewingsprys gewen. Die Mambas kry erkenning vir die impak wat hulle in die stryd teen stropery gemaak het en vir hul moedige optrede. Hierdie impak blyk duidelik uit die feit dat die 26-lid-eenheid sedert sy ontstaan in 2013, gehelp het om ses stropers in hegtenis te neem, die stel van strikke met 76 persent te verminder, meer as 1 000 strikke te verwyder, en vyf stroperskampe en twee bosvleiskombuise buite werking te stel.

5.5. Die Kabinet het eervolle vermelding gemaak van die genomineerdes en wenners van die 2015 Mbokodo-toekennings, ’n vennootskap tussen die Departement van Kuns en Kultuur en die private sektor.

5.6. Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan die Hoof van die Nasionale Tesourie se Gespesialiseerde Ouditdienste, Me Zanele Mxunyelwa, wat as 2015 se Gesertifiseerde Ondersoeker van die Jaar aangewys is deur die Vereniging van Gesertifiseerde Bedrogondersoekers. Hierdie gesogte toekenning bevestig dat die Regering die stryd teen bedrog en korrupsie versnel het, wat ’n waarskuwing is aan mense wat beplan om by korrupte en bedrieglike aktiwiteite betrokke te raak om hulle daarvan te  weerhou.

5.7. Die Kabinet dra sy medelye oor aan die familie en vriende van Reggie Vandeyar, ’n politieke aktivis wat talle veldtogte gelei het, insluitend die uitdagingsveldtog, en 10 jaar op Robben-eiland deurgebring het. Hy was ’n afgevaardigde by die Congress of the People wat die Vryheidshandves goedgekeur het, en hy het saam met verskeie gemeenskappe gewerk. Hy is op 20 September 2015 ter ruste gelê tydens ’n spesiale amptelike provinsiale begrafnis.

5.8. Die Kabinet dra sy medelye oor aan die familie en vriende van wyle Mnr Wandile Dlamini wat op 21 September 2015 oorlede is. 

Mnr Dlamini, wat ook as “Quesh” bekend was, was ’n politieke aktivis en voormalige lid van Umkhonto we Sizwe. Hy was eers in Lesotho en later in Zambië in ballingskap tot die ontbanning van die ANC. Ten tye van sy dood, was hy as Algemene Bestuurder in diens van die Staatsveiligheidsagentskap. 

6. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die betrokke klaring.

6.1. SASSA:

a. Mnr Tsakeriwa Joseph Chauke as Hoof Finansiële Beampte; en
b. Mnr Abraham Sonny-Boy Mahlangu as Uitvoerende Bestuurder: Inligtings kommunikasie tegnologie.

6.2. Inligtingskommunikasietegnologie van die B-BBEE Charter Council:

6.2.1. Telekommunikasie sub-sektor

a. Mnr Lucky Mokgabudi Masilela (Suid-Afrikaanse Kommunikasieforum; en
b. Me Sarah-Jane Capazario (Vereniging van Internetdiensverskaffers).

6.2.2. Elektroniese sub-sektor

a. Mnr Raletlhogonolo Andile Tlhoaele (Suider-Afrikaanse Vereniging van Kommunikasie-kabelaanleg [Communications Cabling Association of Southern Africa]); en
b. Mnr Mduduzi Odysseus Mkhonza (Black IT Forum).

6.2.3. Inligtingstegnologie sub-sektor

a. Mnr Gavin Pieterse (Inligtingstegnologie-vereniging); en
b. Mnr Adrian Schofield (Suid-Afrikaanse Instituut vir Inligtingstegnologieberoepe [Institute of Information Technology Professionals of South     Africa]).

6.2.4. Reguleerder

a. Raadslid Katharina Pillay (Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika).

6.2.5. Vroue

a. Me Nokuzola Nelly Ehrens (Suid-Afrikaanse Kommunikasieforum).

6.2.6. Jeug

a. Me Morwesi Ramonyai (Jong Entrepreneurs Suid-Afrika).

6.2.7. Nasionale Raad vir Ekonomiese Ontwikkeling en Arbeid

a. Mnr Thulani Tshefuta

6.2.8. Federasies van vakbonde of georganiseerde arbeid 

a. Mnr Richard Charles Poulton (Vakbond vir Kommunikasiewerkers); en
b. Mnr Tshepang Lesiba (Vakbond vir Kommunikasiewerkers).

6.2.9. Uitsaai sub-sektor

a. Me Pheladi Gwangwa (Nasionale Vereniging van Uitsaaiers); en
b. Mnr Frank Awuah (Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie).

6.2.10. Regeringsverteenwoordigers

a. Me Petronella Linders – Adjunk-direkteur-generaal: Inligtingskommunikasie-tegnologie Beleid- en Strategie-ontwikkeling (Deparetment van Telekommunikasie en Posdienste)

6.3 Mnr Mlamli Booi as Hoof Uitvoerende Beampte van Sentech.

6.4 Me Rudzani Cordelia Rasikhinya as Hoof Finansiële Beampte en as ’n uitvoerende lid van die Raad van die Regering se Inligtingstegnologie-agentskap.

6.5 Me Bongani Louisa Mathebula as ’n nie-uitvoerende lid van die Raad van die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Metrologie.

6.6 Mnr Pascal Moloi as Hoof Uitvoerende Beampte van die Agentskap vir Behuisingsontwikkeling.

6.7 Mnr T Takalani as Hoof Uitvoerende Beampte van Sedibeng Water.

6.8 Prof. Edith Vries, Direkteur-generaal, Departement van Kleinsake-ontwikkeling driejaarkontrak.

Navrae:
Me Phumla Williams (Waarnemende Kabinetswoordvoerder)
Kontak: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore