Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 15 April 2015

1. Onlangse vlaag van aanvalle op buitelandse burgers

1.1 Die Kabinet veroordeel die onlangse geweld teen buitelanders ten sterkste. Die Kabinet wil in dié stadium graag sy innige meegevoel oordra aan die families van mense wat weens die geweld gesterf het en wens dié wat beseer is 'n spoedige herstel toe. Geen mate van frustrasie of woede kan hierdie aanvalle en plundery van winkels regverdig nie. Terwyl kennis geneem word van die kwessies wat deur gemeenskappe geopper word, kan geweld teenoor ander mense nooit hierdie kwessies oplos nie. Inteendeel, dit is ‘n swak weerspieëling op ons as 'n volk, en teenstrydig met die ideale en grondslag van ons demokrasie. Suid-Afrika het kolonialisme en apartheid beveg saam met mede-Afrikane om te verseker dat alle mense op ons vasteland gerespekteer word en met waardigheid behandel word.

1.2 Die uitwerking van hierdie aanvalle het verreikende gevolge op ons ekonomiese en sosiale verhoudings met die vastelenand en die res van die wêreld. Suid-Afrikaanse maatskappye wat suksesvolle ondernemings op die vasteland bedryf en wat help om ‘n bydrae tot ons inkomste en die handhawing van ons ekonomie te maak, kan dieselfde lot ly. Onlangs moes Suid-Afrikaanse kunstenaars wat vertonings buite ons landsgrense wou lewer, soos BigNuz in Zimbabwe, en Kelly Khumalo en Casper in Londen, hul konserte kanselleer as gevolg van hierdie aanvalle. Baie van ons gemeenskappe wat staatgemaak het op winkels in besit van buitelandse burgers vir hul brood en botter, is nou gestrand.

Vandag geniet ons vryheid in Suid-Afrika danksy die bydrae van verskeie  Afrikalande. Ons eie ikone, soos wyle Oliver Tambo, is byna 30 jaar lank in Zambië gehuisves en talle ander Suid-Afrikaners het ook elders in Afrika in ballingskap geleef. Mede-Aftrikalande het nie net ons mense gehuisves nie, maar het ook hulpbronne bygedra, en sommige het die hoogste prys betaal deur van hul eie burgers te verloor in die stryd wat tot demokrasie in Suid-Afrika gelei het. Suid-Afrika sal nooit daarvan afwyk om die Pan-Afrikaanse visie na te streef soos in die Afrika-unie (AU) se Agenda 2063 vervat is nie, en wat ook deur ons voorvaders Kwame Nkrumah, Nnamdi  Azikiwe, Mwalimu Julius Nyerere en Nelson Mandela nagestreef is.

President Jacob Zuma het die ministers van die Groepering vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit opdrag gegee om saam met die ministers wat gemoeid is met kleinsake-ontwikkeling, handel en nywerheid, asook maatskaplike ontwikkeling, al die betrokke partye byeen te bring om 'n oplossing te vind. Die ministers is ook gevra om die onderliggende sosio-ekonomiese toestande wat die kernoorsaak van dié aanvalle blyk te wees, te ondersoek, sodat hierdie kwessie beslissend en volledig die hoof gebied kan word. Die President het voorts ook die maatreëls wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag onderneem is om ons grense te beheer, aangekondig.

Die Kabinet doen 'n beroep op alle gemeenskappe, organisasies en individue om saam te staan in protes teen hierdie aanvalle. Suid-Afrika is nie 'n gewelddadige land nie en 'n paar individue kan dus nie toegelaat word om die hele land in sy greep te hou nie. Geweld was nog nooit 'n oplossing vir die probleme in enige samelewing nie en sal dit ook nooit in Suid-Afrika wees nie. Nie in ons naam nie!

2. Standbeelde

2.1 Die Kabinet het kennis geneem van die besluit van die Universiteit van Kaapstad se bestuur om die Rhodes-standbeeld van die kampus te verwyder. Suid-Afrika het oor die afgelope twee dekades beduidende vordering gemaak om te verseker dat ons historiese simbole die demografie van ons land en ons demokratiese bestel weerspieël. Die Kabinet erken egter dat die proses om historiese simbole en name in ons land wat aanstoot gee te verwyder, nie vinnig genoeg gevorder het nie. Die Kabinet het kennis geneem van en moedig die huidige breë debat oor transformasie in ons samelewing aan met die wete dat transformasie nie vinnig genoeg plaasgevind het nie. Ons verstaan dus die studente se frustrasies, maar moedig hulle aan om die prosedures, soos in die land se wette omskryf, te volg.
     
2.2 Die Kabinet doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om betrokke te raak by voortgesette prosesse oor erfenis en nasiebou wat deur die Departement van Kuns en Kultuur gelei word. Suid-Afrikaners word daaraan herinner dat die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne van 1999 die raadplegende prosesse uiteensit wat gevolg moet word wanneer standbeelde verwyder en/of hervestig word.

3. Zimbabwe-staatsbesoek

3.1 Die Kabinet verwelkom die suksesvolle Zimbabwe-staatsbesoek wat deur President Robert Gabriel Mugabe gelei is. Suid-Afrika en Zimbabwe het 'n lang geskiedenis van plaaslike affiliasie en kulturele bande. Die mense van Zimbabwe het 'n beduidende historiese rol gespeel met hul steun vir die vryheidstryd in Suid-Afrika.

Die besoek verhef die bilaterale verhoudinge met die vestiging van die Binasionale Kommissie, sowel as die ondertekening van drie ooreenkomste en twee memorandums van verstandhouding.

  • Die Ooreenkoms oor die Stigting van die Binasionale Kommissie verhef ons gestruktureerde bilaterale betrokkenheid tot die hoogste vlak met samesprekings deur die twee staatshoofde oor vordering wat gemaak is met die ooreengekome bilaterale samewerkingsooreenkomste.
  • Die Ooreenkoms oor Samewerking met betrekking tot Waterhulpbronbestuur en die vestiging en funksionering van die Gesamentlike Waterkommissie sal samewerking rakende waterhulpbronbeplanning, ontwikkeling en bestuur in die gees van wedersydse begrip en voordeel, verbeter. Die twee lande sal ‘n gesamentlike studie onderneem om ‘n beter begrip te vorm van hoe die waterhulpbronpotensiaal van Zimbabwe se rivierbekkens water aan die Republiek van Suid-Afrika kan voorsien; hulle sal ook gesamentlike waterprojekte ontwikkel, wat ‘n uitkring-effek sal hê in terme van werkskepping, ekonomiese transformasie en die ontwikkeling en oordrag van vaardighede.
  • Die Ooreenkoms oor Wedersydse Hulp tussen Doeane-administrasies lê die grondslag vir die vestiging van 'n eenstop-grenspos. Dit is 'n standaard internasionale model wat deur die Wêreld-doeane-organisasie bepleit word. Die doel is om die twee administrasies in staat te stel om inligting uit te ruil, mekaar met tegniese bystand te ondersteun, en om gesamentlike toesigbesoeke en ondersoeke te onderneem, asook samewerking om die doeltreffendheid van bedrywighede te verbeter.
  • Die Memorandum van Verstandhouding oor Diplomatieke Konsultasies sal 'n meganisme vir gereelde diplomatieke gesprekke oor Afrika-aangeleenthede en ander sake van wedersydse belang vestig. Die hoofdoel van hierdie memorandum is om 'n meganisme vir gereelde diplomatieke konsultasies oor kwessies soos die versterking van bilaterale verhoudinge, sekuriteit en samewerking in Afrika, te skep.
  • Die Memorandum van Verstandhouding oor Handelsamewerking is daarop gemik om 'n platform vir die twee lande te skep om oorleg te pleeg en om ervarings te deel wat ekonomiese ontwikkeling bevorder. Die partye het ooreengekom om saam te werk deur die bevordering van handel, besluite oor die hindernisse tot handel en die bou van tegniese kapasiteit in verskillende geïdentifiseerde gebiede, asook algemene ontwikkeling van vaardighede.

4. Sefako Makgatho Universiteit vir Gesondheidswetenskappe

4.1 Die Kabinet verwelkom die bekendstelling van die Sefako Makgatho Universiteit vir Gesondheidswetenskappe deur President Jacob Zuma in Ga-Rankuwa, Gauteng op 14 April 2015. Hierdie universiteit, wat die voormalige Medunsa-kampus van die Universiteit van Limpopo inkorporeer, begin sy eerste akademiese jaar in 2015 met 5 000 studente.
 
Die vestiging van die Sefako Makgatho Universiteit bied 'n uitstekende geleentheid vir die ontwikkeling en opleiding van 'n nuwe geslag professionele gesondheidswerkers, wat 'n positiewe uitwerking sal hê op die lewens en lewensbestaan van die vele Suid-Afrikaners wat steeds gemarginaliseer word deur armoede en 'n gebrek aan toegang tot gesondheidsdienste. Die Sefako Makgatho Universiteit vir Gesondheidswetenskappe is die eerste alleenstaande universiteit vir gesondheidswetenskappe wat in die land gevestig word. Die Regering sal voortgaan om in die onderwys en die ontwikkeling van vaardighede as 'n belangrike dryfveer vir ekonomiese groei en ontwikkeling te belê.

5. Imbizo-fokusweek

5.1 Die Kabinet bedank die talle Suid-Afrikaners wat na vore gekom het om aan direkte gesprekvoering met openbare verteenwoordigers deel te neem tydens die Nasionale Imbizo-fokusweek onder die tema Saam beweeg ons Suid-Afrika vorentoe. Dit is 'n aanduiding van 'n volwasse demokrasie waar burgers aktief deelneem aan inisiatiewe wat daarop gemik is om die Regering aanspreeklik te hou ooreenkomstig die Nasionale Ontwikkelingsplan. Politieke hoofde het met gemeenskappe gesprek gevoer en die uitsprake van President Jacob Zuma tydens die 2015 Staatsrede ontleed en bespreek.

5.2 Die Imbizo het ook 'n geleentheid aan politieke hoofde gebied om die Regering se planne vir die verbetering van dienslewering met gemeenskappe te deel, en om na die mense se probleme te luister. Meer as 70 Izimbizo-byeenkomste is vanaf 7 tot 12 April 2015 gehou. Die byeenkomste het op 12 April op 'n innoverende "Imbizo Lounge" uitgeloop, wat gelyktydig in drie provinsies deur drie politieke hoofde aangebied is.

6. Belangrike Kabinetsbesluite

6.1 Die Kabinet verwelkom die bevindings van ‘n navorsingprojek wat  ondesoek ingestel het na 161 091 klagtes en navrae wat aan die Presidensiële blitslyn gerig is sedert sy ontstaan in Maart 2013. Die navorsing het vasgestel wat die aard van die gevalle is wat aangemeld word, en het opkomende temas en sistemiese kwessies in die Regering geïdentifiseer. Die bevindings het ook verskeie kwessies waaroor mense klagtes het en wat algemeen in die Regering voorkom, geïdentifiseer.

Die bevindings sal departemente help om gemeenskappe se klagtes beter te verstaan, en om vas te stel watter inligting hulle nodig het. Dié ingrypings sal ons dienslewering aan gemeenskappe verbeter.

6.2 Die Kabinet het 'n vorderingsverslag oor die ontleding van die betaling aan verskaffers binne 30 dae vanaf ontvangs van 'n wettige faktuur, ontvang. Die Kabinet het kennis geneem van die vordering wat gemaak is, maar sy kommer uitgespreek oor sommige van die departemente wat steeds uitdagings in die gesig staar. 

'n Vergelykende ontleding van die nasionale departemente tussen Januarie en Oktober 2013 en Januarie tot Oktober 2014 het 'n verbetering van 39% op die gemiddelde aantal fakture wat binne 30 dae betaal word en 'n 32% verbetering op die gemiddelde aantal fakture wat ná 30 dae betaal is, getoon.

Nasionale departemente het 155 572 fakture ter waarde van R3,8 miljard wat ná 30 dae betaal is aangemeld, terwyl 62 887 fakture ter waarde van R2,1 miljard ouer as 30 dae nie betaal is nie.

Provinsiale departemente het vir die dieselfde tydperk 'n marginale verbetering van 5% in die gemiddelde aantal fakture wat binne 30 dae betaal is aangemeld. Provinsies het 241 332 fakture ter waarde van R13,4 miljard wat ná 30 dae betaal is aangemeld, en 356 079 fakture ter waare van R21,8 miljard wat ouer as 30 dae is en nie betaal is nie, aangemeld.

Dit is 'n 52% regressie in die gemiddelde aantal fakture wat ouer as 30 dae is en wat nog nie betaal is nie.

Om sukkelende departemente te help, het die Kabinet die vestiging van 'n spesiale eenheid in die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering goedgekeur om die vordering van departemente wat aanhoudend sukkel op te volg. Die eenheid sal met die Nasionale Tesourie en die Departement van Staatsdiens en Administrasie saamwerk.

Daarbenewens sal 'n nasionale blitslyn aan diensverskaffers beskikbaar gestel word om gevalle van vertraagde betaling aan te meld. Dit sal met die betrokke departemente bespreek word en terugvoer sal daaroor gegee word.

Die Kabinet neem kennis van die verslag oor die Implementeringsevaluering van die Uitvoerbemarkings- en beleggingsbystand (EMIA) se aansporingsprogram en het die bestuursreaksie en verbeteringsplan deur die Departement van Handel en Nywerheid verwelkom. Dit het deel gevorm van die 2013/14 Nasionale Evalueringplan om die doeltreffendheid van die program in die ondersteuning van die Suid-Afrikaanse vervaardigers en uitvoerders te evalueer.

EMIA het 6 766 uitvoerondernemings in al die provinsies bygestaan en het eise ter waarde van altesaam R510 miljoen van 2009/10 tot 2012/13 uitbetaal. Hierdie ondersteunde ondernemings het 24 802 werkgeleenthede geskep. Die opname van EMIA-deelnemers dui beduidende gebruik van die EMIA-aansporings deur meestal histories benadeelde individue en ondernemings in die besit van vroue, aan.

6.4 Die Kabinet het die publikasie van die konsepbeleidsdokument vir die Nasionale Dobbelwet in die Staatskoerant goedgekeur vir breër openbare konsultasie. Dit het ten doel om doeltreffendheid in die regulering van dobbel te verbeter, koördinering en samewerking met provinsies te verbeter en die Nasionale Dobbelraad te herposisioneer as 'n reguleerder om onwettige dobbelary meer doeltreffend te hanteer.

6.5 Die Kabinet het die publikasie van die konsepdrankbeleid vir breër openbare konsultasie goedgekeur. Die konsepdrankbeleid sal die doeltreffendheid van die regulering van drankhandel en die bestryding van onwettige handel verbeter. Benewens ander kwessies, sluit die voorstelle ook die sosio-ekonomiese impak van drank en ander gevolge van alkoholmisbruik in, asook transformasie in die drankbedryf.

6.6 Die Kabinet is ingelig oor die uitkomste van 'n diagnostiese evaluering van vroeëkinderontwikkeling waar gedetailleerde evaluerings vir Graad R en voedingstussenkomste vir kinders onder vyf jaar onderneem is.

Die Kabinet het die ontwikkeling van 'n geïntegreerde nasionale voedingsplan vir Suid-Afrika goedgekeur, wat voeding holisties benader, insluitend die pre-konsepsietydperk, die eerste 1 000 dae van lewe, vroeë kinderontwikkeling en Graad R. Die verbeteringsplan wat voortspruit uit die evaluering oor “Die Uitwerking van die Bekendstelling van Graad R op Leeruitkomste” beklemtoon die verbetering van die gehalte van Graad R om die uitwerking op arm kinders en in provinsies wat swak presteer, te optimaliseer. Dit sluit die opleiding en ontwikkeling van graad R-onderwysers in, asook die aanstel van mense wat in besit is van die betrokke hoër sertifikaatkwalifikasie (NKR vlak 5) vir hierdie doel.

7. Wetsontwerpe

7.1 Die Kabinet het die bekendstelling van die Wetsontwerp op Versekering, 2015 vir openbare kommentaar goedgekeur.

Die wetsontwerp is in lyn met die Nasionale Ontwikkelingsplan, dit sorg vir 'n gesonde en goed gereguleerde versekeringsektor, en bevorder finansiële stabiliteit wat volhoubare ekonomiese groei sal ondersteun deur uitvoering te gee aan hoër omsigtige standaarde wat in die lig van die finansiële krisis van 2008, ontwikkel is. Dit gee uitvoering aan 'n nuwe ekonomiese raamwerk vir die versekeringsektor.

Die Solvensie Assesserings- en Bestuursregime poog om 'n nuwe, toekomsgerigte risiko-gebaseerde benadering tot insolvensie bekend te stel deur die kapitaalvereistes aan te pas by die onderliggende risiko's van 'n versekeraar. Dit bied ook aansporings aan versekeraars om meer gesofistikeerde risikomoniterings- en bestuursgereedskap te gebruik. Hierdie maatreëls is daarop gemik om polishouers en begunstigdes beter te beskerm en by te dra tot finansiële stabiliteit.

7.2 Die Kabinet het die publikasie van die konsep Finansiële Intelligensiesentrum Wysigingswetsontwerp, 2014 vir openbare kommentaar goedgekeur. Die wysigingswetsontwerp stel wysigings aan die Wet op Finansiële Intelligensiesentrum (Wet No. 38 van 2001) voor. Dit is daarop gemik om bedreigings vir die stabiliteit van ons finansiële stelsel deur geldwassery en terrorismefinansiering die hoof te bied deur die nakoming van internasionale maatreëls en standaarde binne die Suid-Afrikaanse wetgewende raamwerk.

8. Die Kabinet se standpunt oor huidige kwessies

8.1 Die Kabinet het met kommer kennis geneem van 'n skerp toename in padsterftes gedurende die Paasnaweek; daar was 208 ongelukke, wat tot 287 sterftes gelei het, in vergelyking met verlede jaar se aantal sterftes, wat op 193 sterftes en 148 ongelukke staan.

Padveiligheid is die verantwoordelikheid van alle Suid-Afrikaners en ons padveiligheidsveldtogte kan net suksesvol wees as alle padgebruikers hul deel doen. Bestuurders moet die padveiligheidsreëls gehoorsaam, nie drink en bestuur nie, by die spoedgrens hou en tverseker dat hul voertuie padwaardig is.

8.2 Namens die Suid-Afrikaanse bevolking dra die Kabinet sy innige meegevoel oor aan die regering en die mense van die Republiek van Kenia, veral die families van die slagoffers wat op 2 April 2015 in die sinnelose aanval op Garissa Universiteitskollege gesterf het.

Saam met President Jacob Zuma veroordeel die Kabinet hierdie daad van terreur en benadruk dat Suid-Afrika Kenia ondersteun, asook die internasionale gemeenskap se pogings om vrede, stabiliteit, demokrasie en nasiebou in Somalië te bewerkstellig.

8.3 Die Kabinet wens die mense van Nigerië geluk met die uitvoer van 'n vreedsame, deursigtige, geloofwaardige, vrye en regverdige verkiesing op 28 Maart 2015, soos verklaar deur die Onafhanklike Nasionale Verkiesingskommissie van Nigerië. Namens Suid-Afrikaners, wens die Kabinet Generaal Muhammad Buhari geluk met sy verkiesing as president van die Federale Republiek van Nigerië.

8.4 Die Kabinet wens Marlene van Niekerk geluk met haar prestasie as die eerste Suid-Afrikaner wat die kortlys vir die Man Booker Internasionale Prys haal. Sy kry erkenning vir lewenslange uitstaande prestasies in fiksie, insluitende werke soos Triomf en Agaat. Sy het ook die Orde van Ikhamanga in 2011 ontvang vir "haar uitstaande intellektuele bydrae tot literêre kuns en kultuur". 

9. Toekomstige gebeure

9.1 Die Kabinet het aangekondig dat President Jacob Zuma op Donderdag 16 April 2015 vrae in die Parlement sal beantwoord.

9.2 Die Kabinet verwelkom president Jacob Zuma se staatsbesoek aan Jakarta, Indonesië van 19 tot 21 April 2015, wat die status van bilaterale verhoudinge sal hersien om te verseker dat die vyfjaar ‘Plan van Aksie’ sal realiseer, soos deur die twee lande ooreengekom in November 2014 in Pretoria.

President Jacob Zuma sal ook die Asië-Afrika spitsberaad tussen 22 en 23 April in Jakarta bywoon, wat Suid-Suid-samewerking ten opsigte van sosio-ekonomiese groei vir albei streke sal versterk.

Die besoek sal afgesluit word met die 60ste herdenking van die Bandung Konferensie van 1955 en die 10de herdenking van die Nuwe Asiatiese-Afrika Strategiese Vennootskap (NASSP) op 24 April 2015, wat in Bandung, Wes-Java sal plaasvind. Dit was op Bandung dat leiers van ons beweging, naamlik Moses Kotane en Maulvi Cachalia die beginsels van nie-rassigheid en selfbeskikking aan die wêreldagenda voorgelê het.

9.3 Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om deel te neem aan die viering van Vryheidsmaand, wat die land se derde dekade van vryheid inlei deur die bevordering van menswaardigheid en die voortsetting van 'n gemeenskaplike nasionale agenda om 'n verenigde en voorspoedige Suid-Afrika te bou.
Ons nasionale viering sal uitloop op Vryheidsdag, 27 April 2015 onder die tema: Vier die Begin van die Derde Dekade van ons Vryheid deur die Versnelling van Radikale Ekonomiese Transformasie.

Suid-Afrikaners word ook herinner aan die baie opofferings wat deur ons landgenote en vroue in die stryd teen die wrede apartheidstelsel gemaak is sodat ons almal die vryheid wat ons vandag het kan geniet.

Ter ere van Suid-Afrikaners wat tot die bevordering van ons demokrasie bygedra het, sal president Jacob Zuma op Vryheidsdag nasionale ordes toeken tydens 'n seremonie by die Uniegebou. Die Kabinet wens al die ontvangers geluk en bedank hulle vir hul bydrae.

9.4 Die Kabinet het goedgekeur dat Suid-Afrika van 7 tot 15 Junie 2015 gasheer sal wees vir die AU se 25ste Gewone Sessie by die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking en die Sandton Internasionale Konferensiesentrum in Johannesburg. Suid-Afrika het aangebied om as gasheer op te tree nadat die Republiek van Chad as gasheer onttrek het.

Die hoofdoel van die beraad is om die vordering wat gemaak is om kontinentale doelwitte te bereik, te hersien, met 'n spesifieke fokus op die 2015 tema, die Jaar van Vrouebemagtiging en - ontwikkeling Ooreenkomstig Afrika se Agenda 2063. Ander belangrike kwessies by die beraad sluit in vrede en veiligheid in Afrika, bestryding van die Ebola-virus en die sosio-ekonomiese impak daarvan op die vasteland, alternatiewe bronne van befondsing vir die AU, die aanvaarding van die Eerste Tien Jaar Implementeringsplan van die AU se Agenda 2063 en die hervorming van die Verenigde Nasies in sy 70ste bestaansjaar.

10. Aaanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klarings.

10.1 Dr Diane Cecile Parker as Adjunk Direkteur-Generaal: Universiteitsopleiding in die Department van Hoër Onderwys.

10.2 Mnr Abel Makalene Mawela, as die Nie-uitvoerende Direkteur van die Raad van die Uitvoerkrediet-versekeringskorporasie.

10.3 Mnr Tefetso Bernard Phitsane as ’n nie-uitvoerende lid van die Raad van die Passasierspoorwegagentskap van Suid-Afrika.

10.4 Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure:
a) Me Lise Keech
b) Mnr Abel Dlamini
c) Mnr Thiru Pillay
d) Mnr Zola Luxolo Fihlani
e) Me Amanda Lethukuthula Mazibuko
f) Me Noluphumzo Leonora Noxaka
g) Me Rene Aloise Kenosi (heraanstelling)
h) Mnr Alexander Van der Watt (heraanstelling) en
i) Mnr Michael Sass (heraanstelling).

10.5 Suid-Afrikaanse Raad vir Internasionale Betrekkinge (SACOIR):
a) Prof Maxi Schoeman (Akademie)
b) Prof Anthoni Van Nieuwkerk (Akademie)
c) Dr Siphamandla Zondi (Akademie)
d) Prof Shamil Jeppie (Akademie)
e) Prof Sekgothe Mokgoatsana (Akademie)
f)  Me Chichi Maponya (Besigheid)
g) Me Danisa Baloyi (Besigheid)
h) Dr Thandi Cynthia Ndlovu (Besigheid)
i) Me Nonhlanhla Mjoli-Mncube (Besigheid)
j) Mnr Billy Masetlha (Besigheid)
k) Mnr Dennis George (Arbeid)
l) Mnr Joel Mfingwana (Arbeid)
m) Dr Somadoda Fikeni (Burgerlike samelewing)
n) General Moyo Mudau (Burgerlike samelewing)
o) Mnr Aziz Pahad (Burgerlike samelewing)
p) Mnr Tshepo Mashiane (Burgerlike samelewing)
q) Amb Griffiths Mandlenkosi Memela (Burgerlike samelewing)
r) Mnr Jimmy Gotyana (Burgerlike samelewing); en
s) Mnr Kenny Morolong (Burgerlike samelewing).

10.6 Militêre Dienskommissie:
a) Me Sebina Hlapolosa
b) Prof Malegapuru William Makgoba en
c) Mnr Joseph Maselele Jongile.

10.7 Mnr Kevin Wakeford as Hoof Uitvoerende Beampte van die Krygstuigkorporasie van Suid-Afrika (Krygkor).

10.8 Professor Ntomb’fikile Mazibuko as Uitvoerende Voorsitter van die Raad van die  Reguleringsgesag vir die Private Sekuriteitsbedryf.

Navrae:
Me Phumla Williams (Waarnemende Kabinetswoordvoerder)
Sel: 083 501 0139

Share this page

Similar categories to explore