Verklaring oor die Kabinetvergadering van 22 Oktober 2014

1. Sleutelkabinetsbesluite

1.1. Die Kabinet keur die publikasie van die konsep- Nasionale Leerdervervoerbeleid vir openbare kommentaar in die Staatskoerant vir 21 dae goed.
Die beleid verbeter toegang tot gehalte-onderwys met die verskaffing van veilige, ordentlike, doeltreffende, geïntegreerde en volhoubare vervoer van leerders, veral in landelike gemeenskappe waar vervoeruitdagings toegang tot onderwys belemmer.

Die beleid fokus op ruimtelike uitdagings en die herorganisering van bedrywighede wat die gehalte van openbare vervoer raak. Dit maak ook voorsiening vir 'n geïntegreerde beplanningstelsel en eenvormige bestuurstandaarde.

Die implementering van hierdie beleid sal 'n veilige vervoeromgewing vir leerders bied deur samewerking met wetstoepassingsowerhede.

1.2. Die Kabinet keur die Voorskrif op Verpligte Ontwikkeling, Verpligte Opleidingsdae en Minimum Toelatingsvereistes tot die vlakke van Senior Bestuursdienste soos bepaal in Artikel 3 (2) van die Staatsdienswet, 1994, goed.1

Dit bevorder die ontwikkeling van vaardighede in reaksie op die Nasionale Ontwikkelingsplan se oogmerk om 'n bekwame en ontwikkelingsstaat tot voordeel van verbeterde dienslewering te bou.
                                                                    
Die voorskrif is 'n strategie in langtermyn-vaardigheidsontwikkeling wat die gehalte van menslike hulpbronne verbeter, wat noodsaaklik is vir die regering om sy mandaat uit te voer.
                                                                    
Daar sal van alle staatsdepartemente verwag word om 'n konsekwente benadering te volg om relevante en verpligte vaardigheidsontwikkeling binne die senior bestuursdiens te bevorder.

1.3. Die Kabinet stem in tot die Departement van Prestasiemonitering en -evaluering om die Konsepbesprekingsdokument oor Prestasiemonitering en -evalueringsbeginsels en -benadering aan die Portefeuljekomitee van die Parlement oor die Staatsdiens en Administrasie en Beplanningsmonitering en -evaluering voor te lê.

Die dokument doen 'n stel basiese beginsels en 'n benadering tot prestasie monitering en evaluering (M&E) aan die hand, wat bedoel is om deurlopende verbetering in die regering se prestasie en verhoogde aanspreeklikheid tot gevolg te hê. Die belangrikste doelwit is om konsensus oor die doelwitte van M&E en hoe dit geïmplementeer moet word te bou.

Dit dra by tot die implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se doel om 'n bekwame en ontwikkelingstaat te bou asook die bevordering van 'n aktiewe burgery en sterk leierskap. M&E-vaardighede vorm deel van die kernbestuursvaardighede wat nodig is vir 'n bekwame en ontwikkelingstaat.

1.4. Die Kabinet keur Suid-Afrika se onderhandelingsposisie vir die beskerming van migrerende wilde diere (CMS COP11) goed, wat in Quinto, Ecuador, van 4 tot 9 November 2014 gehou sal word.
Suid-Afrika se aktiewe deelname om die uitdagings van klimaatsverandering en bewaring van die natuur en verwante spesies die hoof te bied, is gegrond op die beginsel van volhoubare ontwikkeling en volhoubaarheid van die omgewing, en is gerig op die vereistes van artikel 24 van die Handves van Menseregte.

1.5. Die Kabinet keur die onderhandelingsmandaat, die grondslag vir Suid-Afrika se betrokkenheid by die 20ste sitting van die Konferensie van Partye tot die UNFCCC (COP 20), en die 10de konferensie van die partye goed. Dit dien as die vergadering van die partye tot die Kyoto-protokol (CMP 10) van 1 tot 12 Desember 2014, in Lima, Peru.
                                                                    
Suid-Afrika se posisie is in ooreenstemming met nasionale belang en die implikasies vir Suid-Afrika se verdere betrokkenheid in onderhandelings oor internasionale klimaatsverandering, soos uiteengesit in die Nasionale Ontwikkelingsplan.

1.6. Die Kabinet keur ’n voorlegging van die Kaapstad-ooreenkoms van 2012 goed, wat handel oor die implementering van die bepalings van die Torremolinos-protokol van 1993 met betrekking tot die Internasionale Konvensie vir die Veiligheid van Vissersbote, 1977, vir bekragtiging deur die Parlement.
                                                                    
Die Torremolinos-konvensie en die protokol van 1993 lê veiligheidstandaarde neer, soos lewensreddingstoestelle, radiokommunikasie, brandbeskerming, masjinerie en elektriese installasies, asook spesifieke vereistes vir seevaartuie vissersbote van 24 m en langer.
                                                                    
Dit bindende internasionale veiligheidsregime sal bydra tot die verbetering van veiligheidstandaarde ten einde die aantal sterftes ter see te verminder, wat wêreldwyd jaarliks op 24 000 beraam word. Suid-Afrikaanse vissersbote sal onderhewig wees aan die bepalings van die protokol wanneer hulle in die waters van ’n staat beland wat die 1993 Torremolinos-protokol onderteken het.

Dit is in ooreenstemming met Operasie Phakisa se doelwit om 'n institusionele raamwerk vir die bestuur van Suid-Afrika se oseaanruimte, die verbetering van die beskerming van Suid-Afrika se oseane, veral wat betref krities bedreigde ekostelsels, te ontwikkel en aspekte soos die vaardigheidsgaping aan te pak.
1.7. Kabinet keur Suid-Afrika se toetrede tot die Internasionale Konvensie oor Standaarde vir Opleiding, Sertifisering en die Waghou van Vissersbootbemanning, 1995 (STCW-F) goed.
                                                                    
Dit is die eerste poging om internasionaal verpligte opleidingstandaarde daar te stel vir bemanning van vissersbote van 24 m of langer. Dit sal lewens en eiendom ter see verbeter en seebesoedeling wat deur die visbedryf veroorsaak word, bekamp.
In die verlede is 'n lang seedienstydperk beskou as ’n manier om ondervinding en toepaslike vaardighede te bekom. Hierdie stelsel van indiensopleiding het egter nie gehalte-uitkomste vir bemanning se vaardighede gelewer nie.

Die nuwe stelsel is geskoei op 'n kombinasie van verminderde ervaringsopleiding met bygewerkte en meer gestruktureerde opleiding vir die verbetering van kennis. Dit sal dit vir vissers moontlik maak om oor tyd van klein vaartuie tot groot vissersbote en uiteindelik tot internasionale handelskepe te vorder.

1.8. Die Kabinet het die volgende 2015-gedenkmunte goedgekeur wat deur die Suid-Afrikaanse Muntmaatskappy ontwerp is, sodat dit in die Staatskoerant gepromulgeer kan word.
a) Die Protea-muntreeks: “Die lewe van 'n legende: NR Mandela”
b) Die Natura-muntreeks: “Nagjagters – Die rooijakkals”
c) R1-reeks goue munte: “Suid-Afrikaanse reptiele – Die Nylkrokodil"
d) R2-reeks goue munte: “UNESCO-projek: Die mens en die biosfeer”
e) Reeks silwerkrone en -tiekies: “Treine van Suid-Afrika” en
f) Die reeks sterlingsilwermunte: “Beskermde marienegebiede van Suid-Afrika”

1.9. Die Kabinet is ingelig oor die rasionalisering van landdrosdistrikte en regsgebiede van die afdelings en plaaslike setels van die Hooggeregshof van Suid-Afrika.
Die rasionalisering van die howe keer die nalatenskap van ongelykheid en ongeregtigheid om. Dit stel ’n bloudruk daar wat alle departemente , wetstoepassingsagentskappe en regsinstellings wat hierdeur geraak word, sal help om hul bedrywighede dienooreenkomstig te rig.
Voorheen gemarginaliseerde gemeenskappe in die voormalige tuislande, selfregerende state en plattelandse nedersettings sal nou baat by die uitkomste van die rasionaliseringsproses. Hulle sal teen verminderde koste toegang tot die howe hê.

Met die verskaffing van toegang tot die regstelsel is dit nodig om die ou apartheidsbeplanning van regsgebiede van howe, insluitend hul samestelling en struktuur, te transformeer. Die transformasieproses sal verseker dat daar 'n billike verdeling van howe en beter toegang tot howe is – ’n fundamentele mensereg soos vervat in artikel 34 van die Handves van Menseregte in die Grondwet.

2. Wetsontwerpe

2.1. Die Kabinet keur die bekendstelling van die Wysigingswetsontwerp op Onderhoud, 2014, in die Parlement goed.

Die wetsontwerp wysig die Wet op Onderhoud, 1998 (Wet 99 van 1998) om onderhoud en toegang tot geregtigheid vir vroue en kinders te verbeter.

Die wysigings sal die regs- en administratiewe uitdagings wat onderhoudbegunstigdes – meestal vroue en kinders – ervaar, verlig.

Dit sluit direk aan by die kerndoelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan oor ekonomiese transformasie en maatskaplike beskerming.

Sommige van die bepalings van die Wysigingswetsontwerp sluit die volgende in: voorkom dat onderhoudwanbetalers krediet verleen word terwyl hulle onderhoud verskuldig is; lê selfoonoperateurs 'n verpligting op om die kontakbesonderhede van aspirant-respondente en onderhoudwanbetalers aan onderhoudhowe te verskaf indien die hof tevrede is dat alle redelike pogings om hulle op te spoor vrugteloos was; en dwing 'n persoon teen wie 'n onderhoudsbevel gemaak is, om agterstallige onderhoud te betaal.

2.2. Die Kabinet keur die indiening van die Agrément Suid-Afrika-wetsontwerp en die Memorandum oor die Oogmerke van die Wetsontwerp aan die Parlement goed.

Die vestiging van Agrément Suid-Afrika, soos uiteengesit in die Agrément Suid-Afrika-wetsontwerp, 2014, sal help om 'n dinamiese en innoverende boubedryf op die been te bring, wat werk sal skep en uitvoering sal gee aan die regering se infrastruktuurplanne.

Die toegevoegde waarde sal wissel van navorsingsinnovering, verhoogde produksie-aktiwiteite, werkskepping en armoedeverligting.

2.3. Die Kabinet keur die bekendstelling van die Wysigingswetsontwerp op die Ouditprofessie goed.

Die Wysigingswetsontwerp stel wysigings aan die Wet op die Ouditprofessie, 2005, voor om kandidaatouditeure te reguleer en verwysings na die Maatskappyewet, 1973 by te werk, om die Wet op die Ouditprofessie in lyn met die Wet op Maatskappye 2008 (Wet No. 71 van 2008) te bring.

Die doel is om aspirantouditeure (kandidaatouditeure) voor registrasie onder die Wet op die Ouditprofessie, 2005, te bring sodat hulle gereguleer kan word deur die Onafhanklike Regulerende Raad vir Ouditeure, op dieselfde wyse waarop geregistreerde ouditeure gereguleer word en om beduidende veranderings aan te bring soos vereis deur die Maatskappyewet van 2008. Dit sal ook die publiek beskerm teen die werk wat 'n kandidaatouditeur doen.

2.4. Die Kabinet keur die bekendstelling van die Wet op die Herroeping en Wysiging van Verdedigingswetgewing, 2014, in die Parlement goed.
Die wet poog om sekere verdedigingswette wat as uitgedien en onnodig geag word te herroep en te wysig, soos deur die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie geïdentifiseer.

Die Kommissie het opdrag gekry om 'n oudit van alle Suid-Afrikaanse wetgewing te doen ten einde te adviseer oor die herroeping van uitgediende, onnodige of ongrondwetlike bepalings. Die wetsontwerp het ten doel om hierdie taak binne die verdedigingsomgewing te vervul.
Die wetsontwerp stel die herroeping van 16 verdedigingswette voor wat uitgedien is en beoog die wysiging van 'n ander wet, wat nie aan artikel 9 van die Grondwet (gelykheidsklousule) voldoen nie. Dit sal die verdedigingswette in lyn bring met die huidige grondwetlike etos deur die uitskakeling van diskriminerende bepalings van die wetboek.

3. Implementering van die belangrikste regeringsprogramme

3.1 Die Kabinet het saam met Suid-Afrikaners Mediavryheidsdag op 19 Oktober 2014 gevier toe president Jacob Zuma veteraanjoernaliste en -redakteurs uitgenooi het om saam met hom 20 jaar van persvryheid in Suid-Afrika te vier. Mediavryheidsdag is ’n viering van vryheid van uitdrukking en mediavryheid wat in ons Grondwet vervat is.
3.2 President Zuma, vergesel deur Kabinetsministers, die premier van KwaZulu-Natal en provinsiale LUR’e het op 30 September 2014 ’n suksesvolle presidensiële imbizo in die Msunduzi en uMgungundlovo munisipaliteite gehou.
As deel van volgehoue en direkte kommunikasie met gemeenskappe gaan president Jacob Zuma op 31 Oktober 2014 ’n presidensiële siyahlola in Giyani, Limpopo, hou.
3.3 Die Kabinet verwelkom die vorderingsverslag oor die implementering van die Raamwerk-ooreenkoms vir Volhoubare Mynbou, wat tydens die onlangse Mynbousektor- Nasionale Raadplegende Forum aangebied is.

Die forum weerspieël alle belanghebbendes se verbintenis tot die toekoms van mynbou in Suid-Afrika en die skepping en instandhouding van 'n billike balans tussen sosio-ekonomiese knelpunte en beleggingsdoelwitte.

Die Kabinet verwelkom belanghebbendes se herverbintenis aan die Raamwerk-ooreenkoms vir Volhoubare Mynbou en belanghebbers se pogings om blywende oplossings vir uitdagings in die bedryf te vind.

3.4 Die Kabinet verwelkom president Jacob Zuma se aankondiging oor die vordering wat gemaak is deur Operasie Phakisa om die ekonomiese potensiaal van Suid-Afrika se oseane op 'n volhoubare wyse te ontsluit.
President Jacob Zuma se plan laat  ons nader beweeg aan die verwesenliking van die voordele van die oseaanekonomie wat R177 miljard tot die bruto binnelandse produk kan bydra en meer as 1 miljoen werkgeleenthede kan skep.
Die tweede projek van Operasie Phakisa het op 13 Oktober 2014 begin en fokus op doeltreffende klinieke in ons gesondheidstelsel. Oor 'n tydperk van ses weke gaan afgevaardigdes die sektor verken en leweringsplanne ontwikkel wat by voltooiing aan die publiek bekend gemaak sal word.

3.5 Die Kabinet het die Mediumtermynbegrotingbeleidsverklaring (MTBBV) ontvang, wat 'n opsomming van die uitgawes skets waarbinne die nasionale en provinsiale begrotings voorberei word.
Die Kabinet verwelkom die maatreëls in die MTBBV om besteding in die staatsdiens te bekamp.
Die Kabinet verseker Suid-Afrikaners dat die regering, ondanks hierdie moeilike ekonomiese klimaat,  sy maatskaplike programme, belegging in infrastruktuur en aansporings sal bly finansier om belangrike nywerhede te ondersteun.

4. Kabinet se posisie oor huidige kwessies

4.1. Die Kabinet verwelkom maatreëls deur die Departement van Energie om die land se energiesekerheid te verbeter, aan die behoeftes van die ekonomie te voldoen en broodnodige werkgeleenthede te skep. Die ondertekening van die ooreenkomste oor interregeringskernkragverhoudings is 'n stap in die regte rigting om die land se energiebehoeftes te beveilig.

Die ondertekende ooreenkomste vermeerder die getal verskaffers van kernenergie waaruit ons vir ons kernverkrygingsprogram kan kies en is nog 'n mylpaal in die land se prioritisering van energiesekerheid.

Hierdie proses bring die land 'n tree nader aan die ontwikkeling van ’n meer omvattende, selfonderhoudende kernkragbedryf, naas Koeberg, wat na verwagting 9,6 GW elektrisiteit aan die nasionale netwerk sal bydra.

Die Nasionale Ontwikkelingsplan verbind die land om alle beskikbare energie-opsies te oorweeg om ons toekomstige energievoorsiening te beveilig. Die Kabinet is vol vertroue dat Suid-Afrika se energie-kombinasie – wat insluit steenkool, son, wind, water, gas en kernkrag – 'n betroubare bron van krag sal verseker om in die land se groeibehoeftes te voorsien, 'n balans tussen energie te skep en ons te help om ons teikens vir die vermindering van ons koolstofvoetspoor te bereik.
4.2. Die Kabinet verwelkom en wens alle betrokkenes geluk dat hulle die Parlement van Lesotho verlede week weer byeengeroep het ingevolge die Maseru-fasiliteringsverklaring, wat deur die adjunkpresident Cyril Ramaphosa gefasiliteer word.
4.3. Die Kabinet benadruk dit dat Suid-Afrika die nodige maatreëls in plek het om die verspreiding van ebola na die land te verhoed.
Toesighouding op alle grensposte is versterk om virale hemorragiese koors, veral ebola, te identifiseer. Die regering het ook 'n nasionale reaksiespan op die been gebring in geval van 'n uitbreking en 11 hospitale is op 'n gereedheidsgrondslag om as ebola-behandelingsentrums te dien.
Die Kabinet ondersteun die pogings van die WGO in die oprigting van ebola-behandelingsentrums en versterking van kapasiteit vir laboratoriumtoetsing, kontakopsporing, maatskaplike mobilisering, veilige begrafnisse en nie-ebola-gesondheidsorg in Wes-Afrika.
Die Kabinet doen 'n beroep op individue en maatskappye wêreldwyd om by te dra tot die Ebola-responsfonds wat gestig is om geaffekteerde lande in Wes-Afrika te help in hul stryd teen hierdie vernietigende siekte.
4.4. Die Kabinet verwelkom die inhegtenisneming van ses individue wat verbind word met kabeldiefstal wat tot wateronderbrekings in dele van Gauteng gelei het. Die verdagtes was deel van 'n sindikaat wat die polisie glo met hierdie inhegtenisnemings die nek ingeslaan het. Die Kabinet is van mening dat kabeldiefstal en verwante aktiwiteite soos die diefstal van mangatdeksels, brugrelings, kragmaste, heinings, ens neerkom op sabotasie van die land se infrastruktuur-program. Die regering sal verseker dat oortreders wat skuldig bevind word aan kabeldiefstal die maksimum straf wat deur die wet voorgeskryf word, opgelê word. Die regering neem die kwessie baie ernstig op en sal nie huiwer om op te tree om kabeldiefstal die hoof te bied nie.
4.5 Handel en Belegging Suid-Afrika (TISA), ’n afdeling van die Departement van Handel en Nywerheid, het verlede week 'n toekenning ontvang by die konferensie van die Verenigde Nasies oor Handel en Ontwikkeling se Wêreldbekerbeleggingsforum in Genève vir die bevordering van volhoubare belegging. Dit was vir die werk wat TISA gedoen het ter ondersteuning van die vestiging van Unilever se aanleg in Indonesië, Durban, wat die Minister van Handel en Nywerheid tydens Suid-Afrika se aanbieding van die COP 17 geopen het.
4.6 Die Kabinet het nuus oor die ineenstorting van die gebou in Nigerië ontvang. ’n Aparte verklaring sal hierná hieroor gelewer word.

5. Komende gebeure

5.1. President Jacob Zuma sal op 27 Oktober 2014 tydens die innovaBRICS & Beyond-konferensie in Londen die programrede lewer onder die tema "Die wêreld as een groot ontluikende mark".  
Staatshoofde en sakelui met belange in ontluikende markte sal die konferensie bywoon om belegginggeleenthede en -uitdagings te bespreek.
Die Kabinet verwelkom die innovaBRICS & Beyond-konferensie as 'n geleentheid om Suid-Afrika en ander ontluikende markte as beleggingsbestemmings vir die sakesektor van die Verenigde Koninkryk bekend te stel. 

5.2 President Zuma sal President Pierre Nkurunziza van Burundi op 4 November in Kaapstad ontvang. Die besoek sal ons bestaande sterk bilaterale verhouding met Burundi verdiep en intra-handel op die vasteland bevorder. 

5.3 Die Departement van Waterwese en Sanitasie, in vennootskap met die Afrikaministersraad oor Water (AMROW), die Waternavorsingskommissie van Suid-Afrika, die SAOG en Vroue vir Water-vennootskap, sal die Konferensie vir Geslag, Water en Ontwikkeling in Oos-Londen vanaf 3 tot 7 November 2014 hou met die tema: "Geslag, Water & Ontwikkeling - die onontginde verband".

Die agenda van die konferensie word bepaal deur AMROW se beleid en strategie om geslag in die watersektor in Afrika op die agenda te plaas. Die strategie het sewe doelwitte wat fokus op beleid, hulpbronne, strategiese navorsing, kapasiteitsbou, samewerking en monitering en evaluering met die doel om geslagsgelykheid in waterbeleid te bevorder.

5.4 Die Kabinet wens alle leerders sterkte toe ter voorbereiding van hulle jaareindeksamen. Hierdie eksamen is 'n nuttige barometer van ons onderwysstelselingrypings soos Jaarlikse Nasionale Assesserings (JNA) en die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV).

Die Kabinet verwelkom Umalusi se versekering dat die land gereed is vir die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen tussen Oktober 27 en 28 November 2014.

Alle ouers, voogde en gemeenskappe word aangemoedig om leerders te ondersteun ter voorbereiding vir hul eksamens.
Die Kabinet wens verder die matrieks van 2014 alle sukses toe met hul komende eksamens. Die Kabinet doen ’n beroep op ouers en voogde om die 2015 Beheerliggaamverkiesing 6 tot 28 Maart 2015 te ondersteun deur as kandidate te staan of deur te stem.

5.5 Die Kabinet doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om Nasionale Bewusmakingsmaand vir die Regte van Gestremdes van tussen 3 November en 3 Desember 2014 te ondersteun met die tema: "Viering van 20 jaar van die regte van mense met gestremdhede in ons demokrasie".

Sedert 1994 het ons groot vordering getoon in die bevordering van die regte en die lewegehalte van mense met gestremdhede deur wetgewing, beleid en maatskaplike ingrypings. Volgens die Twintigjaaroorsig 1994–2014 is die Kantoor vir die Status van Mense met Gestremdhede gestig, die Geïntegreerde Nasionale Gestremdheidstrategie is aanvaar en gratis gesondheidsorg, maatskaplike hulp en inklusiewe onderwys is aan mense met gestremdhede voorsien.

Die NOP poog om Suid-Afrikaners te inspireer om meer te doen om toegang tot dienste te verhoog, veral wat betref gehalteonderwys en werkgeleenthede vir mense met gestremdhede.
5.6 In die gees van Vervoermaand, doen die Kabinet 'n beroep op alle padgebruikers om versigtig op ons paaie te wees, by die snelheidsgrens te hou en seker te maak hul voertuie is padwaardig. Die regering doen 'n beroep op voetgangers om versigtig op paaie te wees en op alle padgebruikers om mekaar te respekteer.

6. Aanstellings

6.1. Die Kabinet keur om die volgende aanstellings op die Raad van die Nasionale Navorsingstigting goed:
a) Prof Mala Singh (heraanstelling)
b) Prof Mamokgethi Phakeng
c) Prof Ari Sitas
d) Adv Louisa Zondo
e) Prof Tinyiko Maluleke
f) Dr Vathiswa Papu-Zamxaka
g) Me Gail Campbell
h) Mnr Mashangu Lubisi
i) Prof Errol Tyobeka (heraanstelling)
j) Prof Sunil Maharaj (heraanstelling)
k) Dr Peter Clayton (heraanstelling)
l) Prof Loyiso Nongxa (Voorsitter)
m) Me Joanne Yawitch en
n) Prof Murray Leibbrandt (heraanstelling).

6.2. Die Kabinet keur die volgende aanstellings in die Patenteksamenraad goed:
a) Me Elena Mihail Zdravkova
b) Prof Christiena Maria van der Bank (heraanstelling)
c) Me Shanaaz Tiry (heraanstelling)
d) Me Sandra Clelland (heraanstelling) en
e) Mnr Paul Sibisi (heraanstelling).

6.3. Die Kabinet keur die aanstellings van Tribunaallede op die Maatskappytribunaal goed:
a) Prof Kasturi Moodaliyar
b) Adv Lizelle Dominique Haskins
c) Mnr Mmoledi Fairhope Malokane en
d) Mnr Peter John Veldhuizen.

6.4. Die Kabinet keur die volgende aanstellings op die Raad van die Suid-Afrikaanse Burgerlike Lugvaartowerheid goed:
a) Mnr Smunda Mokoena (Voorsitter)
b) Prof Ntombizozuko Dyani-Mhango
c) Generaal-majoor Nhlanhla Lucky Job Ngema
d) Me Lizeka Dlephu
e) Adv Roshan Dehal (heraanstelling)
f) Me Doris Dondur (heraanstelling) en
g) Mnr Mongezi India.

6.5. Die Kabinet keur die volgende aanstellings van nie-uitvoerende trustees van die Raad van die Nasionale Bemagtigingsfonds goed:
a) Mnr R Garach
b) Mnr A Raiz
c) Me Z Ntlangula
d) Me N Mosala
e) Me A Makwetla en
f) Me J Williams.

6.6. Die Kabinet keur die aanstelling van mnr Fundisile Mketeni as uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) op 'n kontrak van vyf jaar goed.

6.7. Die Kabinet verleng die kontrak van me Thuli Radebe as uitvoerende hoof van die Sentrum vir Staatsdiensinnovering (SSI) vir 'n verdere drie jaar.

6.8. Die Kabinet keur die aanstelling van me Lakela Kaunda as hoofbedryfsbeampte in die Presidensie goed.

Navrae: Mnr Donald Liphoko
Sel: 082 901 0766

Share this page

Similar categories to explore