Verklarig oor die Kabinetsvergadering van Donderdag 16 November 2023

A.    Kwessies in die omgewing
Ekonomiese herstel en groei

1.    Kwartaallikse Arbeidsmagopname  

1.1.    Die Kabinet verwelkom die 2023 derde kwartaal-arbeidsmagresultate, wat deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is en aandui dat die indiensnemingsyfers hoër is as die indiensnemingsvlakke voor COVID-19.
1.2.    Die Kabinet is verheug dat al die provinsies behalwe een, daartoe bygedra dat die aantal werkende mense met 399 000 toegeneem het tot altesaam 16,7 miljoen mense wat in die derde kwartaal werk gehad het, vergeleke met 16,3 miljoen in die tweede kwartaal van 2023. Beduidende bydraes tot bykomende werksgeleenthede in KwaZulu-Natal (met 152 000), Limpopo (met 70 000), Noordwes (met 61 000) en Mpumalanga, dui op die geleidelike, maar bestendige verwesenliking van die Ekonomiese Heropbou- en Herstelplan se doelwit om beter, sterker en meer inklusief te herbou.
1.3.    Die Kabinet waardeer die volgehoue en konsekwente bydrae van die volgende sektore en nywerhede:
1.3.1.1.    Die formele sektor se indiensnemingsyfer het met 287 000 toegeneem, terwyl die informele sektor met 29 000 werksgeleenthede toegeneem het;
1.3.1.2. Finansies (dit sluit besigheidsdienste in) het met 237 000 poste gestyg;
1.3.1.3. Gemeenskaps- en maatskaplike dienste het met 119 000 poste gestyg en landbou met 61 000 poste. 
1.4.    Die Kabinet het ook kennis geneem van die negatiewe uitwerking wat die elektrisiteits- en logistieke beperkings steeds op die vervaardigings-, mynbou-, vervoer- en nutsdienste-sektore het. Die Kabinet vertrou dat merkbare voortuitgang met die uitwis van beide beurtkrag en beperkings in die vragvervoer en logistieke nywerhede binnekort merkbaar sal wees.  
1.5     Die Kabinet is ook tevrede dat jeugwerkloosheid, ondanks blywende uitdagings, geleidelik afneem (’n afname van 1.9% sedert die vorige kwartaal), en dat daar ’n toename van 237 000 jeugdiges is wat werk het, wat die totaal op ses miljoen te staan bring.

2.    Beleggings

2.1    In dieselfde trajek van ’n herstellende en groeiende ekonomie, het die Kabinet die bykomende R5-miljardbelegging deur die Ford Motormaatskappy verwelkom vir ’n nuwe inprop hibride elektriese Ford Ranger, wat geoormerk is vir uitvoere na Europa, Nieu Seeland en Australië. Die maatskappy neem tans 5 200 mense in Suid-Afrika in diens. 
2.2    Die Kabinet verwelkom ook die belegging deur Procter & Gamble (P&G) in sy nuwe moderne produksielyn van Pampers Premium Care in Ekurhuleni, Gauteng. P&G se kumulatiewe belegging behels sedertdien ongeveer R900 miljoen sedert 2018 en bied tans 4 000 direkte en indirekte werksgeleenthede regdeur sy waardeketting.
2.3    Die bekendstelling van beide die Ford Motormaatskappy en P&G se projekte, dui op die waardevolle bydrae van President Cyril Ramaphosa se beleggingsinisiatiewe deur die Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie en herbevestig Suid-Afrika as ’n voorkeur-beleggingsbestemming. 

3    Toegang vir Suid-Afrika se rooivleis tot die Koningkryk van Saoedi-Arabië 

3.1    Die Kabinet het die ondertekening van die rooivleisooreenkoms met die Koningkryk van Saoedi-Arabië tydens die Saoedi-Afrika-belegginsberaad verwelkom. Hierdie ooreenkoms is 'n kritieke stap wat verseker dat Suid-Afrikaanse rooivleisprodukte toegang tot 'n belangrike mark kry, en versterk die bydrae van die landbousektor verder in beide ekonomiese groei en werkskepping. 
3.2    Die Kabinet het ministers Thoko Didiza en Ebrahim Patel geluk gewens met die werk wat gedoen is om die opening van hierdie mark vir Suid-Afrikaanse rooivleisprodukte te verseker. 

4.    Opsetlike verdraaiing van die vereistes vir landbou-uitvoere rakende Agri Swart Ekonomiese Bemagtiging (Agri-SEB) 

4.1    Die Kabinet veroordeel doelbewuste verdraaiings van die vereistes vir Agri-SEB landbou-uitvoere deur sommige afdelings van die media met die doel om rassespanning aan te wakker, en het die media daaraan herinner dat hul vryheid met verantwoordelikhede gepaard gaan.
4.2    Die Kabinet het sy waardering uitgespreek teenoor die landboubedryf, veral die SA Wyn- en Landbousakekamer, algemeen bekend as Agbiz, vir die verwerping van pogings om die land en die sektor in rassespanning te dompel deur die verdraaiings in die openbaar uit te klaar sodra dit gepubliseer is. Die bedryf se houding teenoor hierdie saak het getoon dat dit inderdaad die gees van “Stronger Together” wat deur die Springbokke uitgera is, gekoester het.

5.    Toerisme  

5.1    Die Kabinet het kennis geneem van die vennootskap wat tussen die Departement van Toerisme en Google gesluit is as 'n spelwisselaar wat sal bydra tot die bevordering van Suid-Afrika as 'n uitstekende toerismebestemming.
5.2    Die vennootskap het onder meer ten doel om die gebruik van digitale hulpmiddels te fasiliteer om toerisme-ervarings en -volhoubaarheid te verbeter, insluitend die verbintenis dat Google Maps tegnologie sal gebruik om misdaadbrandpunte te vermy.

Stryd teen teen misdaad en korrupsie

6.    Geïntegreerde stryd teen misdaaad

6.1    Die Kabinet verwelkom die ontplooiing van 3 300 lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), vanaf 28 Oktober 2023 tot 28 April 2024, om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander wetstoepassingsagentskappe te ondersteun in die hantering van onwettige mynbou in die land.
6.2    Hierdie ontplooiing bevestig die regering se verbintenis om onwettige mynbou die hoof te bied en om toestande te skep vir inklusiewe groei en transformasie van die ekonomie.
6.3    Die ministers van die groepering vir justisie, misdaadvoorkoming en sekuriteit het vordering gemaak met werk wat gedoen word om misdaad te bekamp, en die Minister van Polisie het verlede week die jongste kwartaallikse misdaadstatistieke bekend gemaak.

7    Nasionale Teenkorrupsie Adviesraad (NACAC) se nasionale dialoog

7.1    Die Kabinet verwelkom die suksesvolle aanbieding van NACAC se nasionale dialoog, wat beraadslaag het oor vordering met die implementering van die Nasionale Teenkorrupsiestrategie en aanbevelings van die Geregtelike Kommissie van Ondersoek na Bewerings van Staatskaping.
7.2    Die vordering sluit agt (8) uit 16 aanbevole stukke wetgewende hervormings in om spesifieke aanbevelings van die Staatskapingskommissie te bespreek wat nou voor die Parlement is. Hierdie wetsontwerpe is gerig op kwessies soos openbare verkryging, administratiewe hervorming, gedrag van staatsamptenare, hervorming van intelligensiedienste, geldwassery en verkiesingshervorming.
7.3    Bevriesingsbevele ter waarde van R14-miljard is aan die Batebeslagleggingseenheid toegestaan vir sake wat verband hou met staatskaping en R5,4-miljard van die winste wat onwettig verkry is, is verhaal. Daarbenewens het die Ondersoekdirektoraat 34 staatskaping- en korrupsiesake waarby 205 beskuldigdes betrokke is, hof toe geneem. 

8    Stryd teen geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord

8.1    Die Kabinet veroordeel ten sterkste die messteekaanval van 'n vroulike student van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie deur haar man. 
8.2    Die Kabinet doen 'n beroep op die samelewing om saam met die regering te werk om geslagsgebaseerde geweld uit te wis, terwyl wetstoepassingsagentskappe voortgaan om ootreders wat sulke laakbare misdade pleeg voor die gereg te bring.

9    Sterfte van kinders weens wanvoeding 

9.1    Die Kabinet het met groot kommer kennis geneem van kinders wat weens wanvoeding gesterf het soos aangemeld deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie.
9.2    Die Kabinet wil gemeenskappe graag herinner aan die regering se ondersteuningsprogramme soos kinderonderhoudstoelae, wat daarop gemik is om gesinne te help om in kinders se basiese behoeftes te voorsien. Dit is bykomend tot die omvattende Maatskaplike Bystandsprogram waardeur die regering gesonde maaltye aan kwesbare huishoudings verskaf deur die Nasionale Skoolvoedingsprogram en Gemeenskapsvoeding- en -ontwikkelingsentrums.

10    Kieserregistrasie

10.1    Die Kabinet het sy oproep aan alle stemgeregtigde burgers herhaal om tydens die kiesersregistrasienaweek van 18 tot 19 November 2023 by hul naaste stemlokaal te registreer om te kan stem; dit sluit ook kiesers in wat hul besonderhede wil bywerk.
10.2    Om kiesers te help om ID's waarvoor hulle aansoek gedoen het af te haal, of om vir tydelike identitetisdokumente aansoek te doen, het die Departement van Binnelandse Sake sy werksure met dié van die OVK tydens die kiesersregistrasienaweek in lyn gebring.
10.3    Die Kabinet het burgers ook daaraan herinner dat hulle van die aanlynkiesersregistrasiefasiliteit gebruik kan maak by https://registertovote.elections.org.za/Welcome, wat sedert Februarie 2023 beskikbaar is, om hul besonderhede te registreer of by te werk.

Infrastruktuurontwikkeling

11    Energie 

11.1    Die Minister in die Presidensie wat vir Elektrisiteit verantwoordelik is, het 'n omvattende openbare inligtingsessie gehou oor die status en vordering met die versekering van elektrisiteitsekuriteit. 

12    Watersekerheid

12.1    Die Kabinet is tevrede met berigte dat die dispute wat tot vertragings met die implementering van die Mzimvubu-damprojek gelei het, opgelos is en dat werk om die terrein voor te berei, vroeg in November begin het. Samesprekings met tradisionele leiers oor maatskaplike kwessies word intussen ook gevoer.
12.2    Die Kabinet is ingelig dat werk aan die opbou van die Clanwilliam-dam se muur om bergingskapasiteit tot 344 miljoen kubieke meter te verhoog, hervat is. Dit is tot voordeel van die inwoners van die Weskus Distriksmunisipaliteit, die Cederberg Plaaslike Munisipaliteit en die Matzikama Plaaslike Munisipaliteit.
12.3    Die Kabinet is ingelig dat die bou van die Tzaneen-dam in Junie 2023 hervat is, en dat dit na verwagting in April 2025 voltooi sal wees.
12.4    Die Kabinet is in kennis gestel dat 'n gesamentlike span van drie metropolitaanse munisipaliteite, naamlik Ekurhuleni, Joburg en Tshwane, asook Rand Water, steeds daagliks vergader om die hoofoorsake van die wateruitdagings die hoof te bied. Die kern van Gauteng se wateruitdagings is waterverliese wat veroorsaak word deur verouderde munisipale infrastruktuur en tekortkominge in waterlekkasiemonitering, asook ondoeltreffende herstelwerk. 

13    SA Connect Fase 2 

13.1    Die Kabinet het 'n bygewerkte verslag oor die implementering van die SA Connect Fase 2-projek ontvang en oorweeg. SA Connect is 'n vlagskipprogram van die regering wat poog om die digitale kloof te oorbrug deur huishoudings en regeringsinstellings te verbind en Wi-Fi-toegang aan gemeenskappe regoor die land te voorsien.
13.2    Oor vordering met Fase 2 van die projek, was die Kabinet verheug dat  1000 huishoudings met breëband gekoppel is en dat daar beplan word om 1000 gemeenskaps-Wi-Fi-brandpunte teen Desember 2023 te installeer.
13.3    Hierbenewens, het die projek ook infrastruktuur vir internetverbinding ontplooi wat huishoudings toelaat om toegang tot die internet te kry teen goedkoper tariewe. Vir R249 per maand het 'n huishouding wat inteken onbeperkte toegang tot robuuste internet, met laer datakoste so min as R5 vir een ‘gig’ per dag.
13.4    Daar word voorsien dat die projek ook sal bydra tot ekonomiese deelname deur die verskaffing van 4 505 halfgeskoolde en 169 geskoolde werksgeleenthede, en sal meer as 75 klein- tot mediumgrootte maatskappye ondersteun.
13.5    Boonop sal hoë aanvraagspektrum oor die volgende maande aan meer as 18 000 skole, 943 biblioteke, 5 731 gesondheidsfasiliteite en 8 241 stamowerhede verskaf word deur die sosiale verpligtinge aan telekommunikasiemaatskappye.
13.6    Na verwagting sal die projek oor die volgende 36 maande konnektiwiteit aan meer as vyf miljoen huishoudings en 32 000 gemeenskaps-Wi-Fi-brandpunte regoor die land kan 
13.7    lewer. 

14    Uitsaai digitale migrasie 

14.1    Die Kabinet het kennis geneem van die vordering wat gemaak word met die migrasie van analoog- na digitale uitsaaiwese. Vanaf 23 Julie 2023 is al 123 analoogsenders bo 694 Megahertz in die oorblywende vier provinsies afgeskakel, naamlik die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en Gauteng. Dit sal die spektrum wat nodig is vir mobiele breëband en ander behoeftes vir inligting- en kommunikasietegnologie, beskikbaar stel.
14.2    Die Kabinet is ingelig dat die Minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie Desember 2024 as die finale datum vir die afskakel van alle analoog-uitsaaidienste bepaal het, en dat vordering gemaak word om die vasgestelde teikendatum te haal.

15    Munisipale skoonmaak- en vergroeningsprogram  

15.1    Die Kabinet moedig Suid-Afrikaners aan om by die program aan te sluit om ons land skoon en vry van rommel te hou deur deel te neem aan die munisipale skoonmaak- en vergroeningsinisiatiewe wat regoor die land plaasvind. Die program wat reeds meer as 37 000 werksgeleenthede geskep het, is daarop gemik om die 7 251 onwettige stortingspunte in gemeenskappe regoor die land op te ruim.
15.2    Dit behels die daaglikse skoonmaak van strate, opruim van onwettige stortingsterreine, skoonmaak van kusgebiede en om parke te laat herleef. 

Die staat se kapasiteit

16    Verbeterde nasionale en provinsiale oudituitkomste (2022/23 finansiële jaar)

16.1    Die Kabinet is deur die Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika (OGSA) ingelig oor die uitkomste van die nasionale en provinsiale oudits vir die 2022/23 finansiële jaar. 
16.2    Die OGSA het die aanmoedigende tendens van voortgesette verbeterde prestasie uitgewys, wat dui op algehele verbetering in aanspreeklikheid, deursigtigheid, toereikendheid en doeltreffendheid van beheermaatreëls.
16.3    Die departemente en instellings wat ongekwalifiseerde oudits met geen bevindings behaal het nie (skoon oudits) het van 94 in die 2018/2019 finansiële jaar tot 147 gedurende die 2022/2023 finansiële jaar toegeneem, wat 'n jaar-tot-jaar verbetering aandui.
16.4    Altesaam 162 departemente en instansies het ongekwalifiseerde oudits met bevindings behaal. Dit verteenwoordig 39% van die geouditeerde instansies.
16.5    Die instellings en departemente met bevindings wat geweier is, het van 25 gedurende die 2018/2019-verslagtydperk tot vyf tydens die 2022/2023-verslagtydperk afgeneem en verteenwoordig slegs 1% van geouditeerde instellings.
16.6    Hoewel die Ouditeur-Generaal ’n geraamde R14 miljard se finansiële verliese aangedui het, toon maatreëls wat wesenlike onreëlmatighede die hoof bied ook ’n verbetering.
17.7. Hoewel daar steeds uitdagings is, word bewerings dat staatskapasiteit heeltemal ineenstort verwerp deur die uitkomste van die 2022/23 nasionale en provinsiale oudits, met onafhanklike en objektiewe assessering deur instellings soos die OGSA, wat 'n baie sterk en voortdurende verbeteringstrajek toon.

17    Internasionale betrekkinge – Staatsbesoek aan Katar

17.1    President Cyril Ramaphosa het verlede week 'n staatsbesoek aan Katar op uitnodiging van Sy Hoogheid Sheikh Tamim bin Hamad Al Thani, Amir van die Staat Katar, afgesluit. Die besoek het drie dekades van diplomatieke betrekkinge beklemtoon.
17.2    Die President het by 'n hoëvlak sakeafvaardiging aangesluit en het met verskeie sektore van Katar se sakegemeenskap gesprek gevoer met die doel om handelsbetrekkinge te verbeter.
17.3    President Ramaphosa en die Amir het ooreengekom om werkspanne saam te stel wat ondersoek sal instel na die verhoging van Katar se belegging in Suid-Afrika om by die vlak van die diplomatieke betrekkinge te pas. 

18    Geopolitieke aangeleenthede

18.1    Die Kabinet herhaal die oproep wat deur Afrika-leiers gemaak is vir 'n einde aan die oorlog in Gaza, tydens die Afrika-Saoedi-beraad in Riyadh, wat deur kroonprins Mohammed Bin Salman aangebied is. Die beraad het die teiken van burgerlikes en die oortredings van internasionale reg deur Israeliese regering veroordeel.
18.2    Die Kabinet is steeds bekommerd oor die gruweldade van die Israeliese regering teen die mense van Palestina, insluitend die doelbewuste aanvalle op die Verenigde Nasies (VN) Skool in Gaza en die slagting van honderde kinders wat by die skool skuiling gesoek het, benewens die voortgesette aanvalle op hospitaalpersoneel, pasiënte en hospitaalinfrastruktuur.
18.3    Dit is as gevolg van hierdie voortgesette gruweldade wat straffeloos deur die Israeliese regering met die ondersteuning en beskerming van magtige lande gepleeg word, dat Suid-Afrika op 17 November 2023 – saam met die Comore, Djiboeti, Bolivië en Bangladesj – die situasie in Palestina en Israel gesamentlik na die Internasionale Strafhof (ICC) verwys het.
18.4    Hoewel die Palestynse Owerheid wel die IKR gevra het om die misdade onder die hof se jurisdiksie in 2018 te ondersoek, glo Suid-Afrika die huidige gruweldade, veral in Gaza, verg hernude aandag met die volle steun van staatsowerhede. Ons ambassadeur in Den Haag het die verwysing persoonlik gelewer; dit het die IKR versoek om die pleeg van oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom en volksmoord te ondersoek met die doel om diegene wat daarvoor verantwoordelik is aanspreeklik te hou. Gegewe dat ‘n groot deel van die wêreldgemeenskap die pleeg van hierdie misdade intyds aanskou, insluitend verklarings van volksmoordvoorneme deur verskeie Israeliese leiers, verwag ons dat lasbriewe vir die inhegtenisneming vir hierdie leiers, insluitend Eerste Minister Netanyahu, binnekort uitgereik sal word.
18.5    Die ICC kon die situasie in Palestina sedert 2021 ondersoek toe die kwessie van territoriale jurisdiksie afgehandel is. Ons het egter opgemerk dat die Kantoor van die Aanklaer aangehou het om sy voete te sleep ondanks die erns van die situasie. Die huidige gruweldade sou dalk nie gepleeg gewees het as hierdie ondersoeke plaasgevind het sodra die Palestynse owerhede die eerste keer sy verwysing gemaak het nie.
18.6    Ons verwag nou dat ander state ook 'n einde aan Israel se straffeloosheid versoek het en daar is beduidende bewyse dat internasionale lasbriewe vir inhegtenisneming uitgereik sal word wanneer die Konferensie van Partye in die middel van Desember in New York vergader. Versuim om dit te doen, sal 'n aanduiding wees dat die IKR nie die wil het om op te tree nie, dat dit 'n duidelik teken is dat die globale stelsel van goeie regering ’n totale mislukking is en daar ‘n behoefte is om 'n nuwe stelsel te vestig.
18.7    Meer kinders is die afgelope maand vermoor as dié wat per jaar in alle konflikte saam vir die afgelope drie jaar vermoor is. Meer VN-personeellede is sedert die stigting van die Verenigde Nasies in Gaza vermoor. Die aantal joernaliste wat vermoor is, is verbysterend. Dit is almal mense wat gesterf het deur die optrede van die Israeliese regering, nie die land te verdedig nie, maar, blyk uit die verklarings van sy leiers om die grootste deel van Gaza van Palestyne skoon te maak en dit te beset.

18.8.    Die wêreld kan nie net terugstaan en toekyk nie, die globale gemeenskap moet opstaan om hierdie volksmoord nou te stuit.

B.    Kabinetsbesluite – insluitend dié van die Spesiale Kabinet op 9 November 2023
1.     African Peer Review Mechanism (APRM) 20ste bestaansjaarviering 

1.1.    Die Kabinet het die versoek dat Suid-Afrika die 20ste bestaansjaarvieringe van die APRM van 23 tot 30 November 2023 aanbied oorweeg en ondersteun. Suid-Afrika ondersteun die APRM se missie om die Afrika-unie (AU) se gedeelde waardes van demokratiese regering en inklusiewe ontwikkeling op die vasteland te bevorder.
1.2.    Die 20ste bestaansjaarviering sal die deelname van huidige en voormalige staats- en regeringshoofde en die AU-kommissie insluit. 

2.    Aanwending van fondse uit die Kriminele Bates Herwinningsrekening (CARA)

2.1.    Die Kabinet het goedgekeur dat fondse in die CARA-rekening gebruik word om onwettige mynbou en ander misdade te beveg.
2.2.    Die R2 172 359 word bewillig om onwettige mynbou te beveg, wat steeds 'n bedreiging vir die Suid-Afrikaanse ekonomie is. Die geld word aan die SAPD, SANW, die Departement van Binnelandse Sake en die Grensbestuursagentskap toegeken. Die SAPD sal die befondsing gebruik om voertuie, helikopters en Njalas te koop en om vir 18 maande meer as 4 000 beamptes te ontplooi.
2.3.    Onwettige mynbou en ander georganiseerde misdade kos Suid-Afrika elke jaar miljarde rande en dit beïnvloed ons posisie as 'n beleggingsbestemming.

3.    Die Just Energy Transition Implementation Plan (JET-IP) 

3.1.    Die Kabinet het die JET-IP goedgekeur, wat Suid-Afrika se oorgang na laekoolstofekonomie sal lei deur hernubare energiebronne op te skaal.
3.2.    Die JET-IP bied ‘n uiteensetting van verskeie ingrypings wat Suid-Afrika benodig, asook beleggings wat nodig is vir die oorskakeling na 'n laekoolstof- en klimaatbestande ekonomie in ooreenstemming met die Nasionale Bepaalde Bydraes wat aan die VN voorgelê is. Die Kabinet is van mening dat die JET-IP Suid-Afrika se verbintenis tot ’n regverdige oorgang in lyn met die land se energiebehoeftes bevestig.
3.3.    Die JET-IP sal gedryf word deur 'n kombinasie van hervormings in die energiesektor, soos onder meer die Mpumalanga Just Transition, nuwe-energievoertuie en groen waterstof. Die plan is verder ‘n reaksie op Suid-Afrika se verpligtinge ingevolge die Parys-ooreenkoms en die VN-raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering, sowel as die verpligtinge van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP). Die JET-IP sal Suid-Afrika in staat stel om geleidelik sy verpligtinge om koolstofvrystellings te verminder na te kom, terwyl dit terselfdertyd inklusiewe ekonomiese groei, energiesekerheid en indiensneming sal verseker.

4.    Konsep Nasionale Openbare Vervoersubisidiebeleid 

4.1.    Die Kabinet het die publikasie van die konsep Nasionale Openbare Vervoersubsidiebeleid vir openbare kommentaar goedgekeur. Die beleid stel voor dat Suid-Afrika se openbare vervoerfinansiering verskuif moet word van die subsidiëring van 'n bepaalde vervoermiddel na 'n gebruikersubsidiemodel.
4.2.    Die regering erken dat die vervoersektor in die kern van die land se ontwikkeling is, met die meerderheid huishoudings wat heeltemal afhanklik is van openbare vervoer vir mobiliteit. 

5.    Tweejaarlikse Mediumtermyn Strategiese Raamwerk (MTSR) 2019-2024 prestasievorderingsverslae 

5.1.    Die Kabinet ontvang en oorweeg die MTSR se tweejaarlikse vorderingsverslae vir die tydperk 1 April 2023 tot 30 September 2023. Die verslae vorm deel van die gekonsolideerde regeringsprioriteite vir die bereiking van die NOP-doelwitte.
5.2.    Die verslae het op die regering se sewe prioriteite, wat deur die sesde administrasie geïdentifiseer is, gefokus, naamlik: 

  • Prioriteit een: Die bou van 'n bekwame, etiese ontwikkelingstaat;
  • Prioriteit twee: Onderwysvaardighede en gesondheid;
  • Prioriteit drie: Konsolidering van die maatskaplike loon deur betroubare en gehalte basiese diens;
  • Prioriteit vier: Ruimtelike integrasie, menslike nedersettings en plaaslike regering;
  • Prioriteit vyf: Sosiale samehorigheid;
  • Prioriteit ses: Ekonomiese transformasie en werkskepping;
  • Prioriteit sewe: 'n Beter Afrika en 'n beter wêreld.

5.3.    Die Minister in die Presidensie verantwoordelik vir Beplanning, Monitering en Evaluering sal gedetailleerde inligtingsessies met die groeperings oor die Program van Aksie lei. 

C.    Wetsontwerpe

1.    Wetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Nasionale Petroleummaatskappy (SANPC) 

1.1.    Die Kabinet het die publikasie van die SANPC-wetsontwerp vir openbare kommentaar goedgekeur. Die wetsontwerp gee uitvoering aan die Kabinet se besluit om PetroSA, die Suid-Afrikaanse Gasontwikkelingsmaatskappy (iGas) en die Strategiese Brandstoffonds saam te smelt.
1.2.    Die wetsontwerp maak voorsiening vir die stigting van 'n maatskappy in staatsbesit wat sal verseker dat Suid-Afrika sinvol aan olie- en gasontwikkeling deelneem. Dit sal ook die land se sekuriteit van energievoorsiening waarborg om ekonomiese ontwikkeling en groei te ondersteun.
1.3.    Die SANPC sal toesig hou oor strategiese beplanning, koördinering en bestuur van die land se petroleumbronne, en dit sal bydra tot ontwikkeling en werkskepping. 

D.    Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verfikasie van kwalifikasies en die toepaslike uitklaring.
1.    Heraanstelling van Dr Molefi Motukuas Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) van die Raad vir Mineraaltegnologie (MINTEK) 
2.    Aanstelling van Mnr Siyabulela Koyo as HUB van Amatola Water;
3.    Heraanstelling van Me Poppy Khoza as Besturende Direkteur van die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (hernuwing van dienskontrak);
4.    Lede van die Phongolo–Umzimkhulu-opvanggebied se Bestuursagentskapsraad.
(a)    Dr Thava Kelly (Voorsitter);
(b)    Mnr Sibusiso Makhanya (Ondervoorsitter);
(c)    Me Hlengiwe Ndlovu;
(d)    Mnr Bhekumuzi Gumbi;
(e)    Dr Lembi William Mngoma;
(f)    Me Snenhlanhla Mngadi;
(g)    Prof Purshottama Reddy;
(h)    Mnr Mdandla Myeni; en
(i)    Me Nokuthula Khanyile
5.    Lede van die Vaal Oranje-opvanggebied se Bestuursagentskapraad. 
(a)    Mnr Desmond Solomon Fransman (Voorsitter);
(b)    Me Tsakane Zwane (Ondervoorsitter);
(c)    Mnr Hubert Thompson;
(d)    Me Nontuthuzelo Njeza;
(e)    Mnr Nakana Lazarous Masoka;
(f)    Me Ponatshego Lizzy Mothibi
(g)    Me Doris Liana Theresia Dondur;
(h)    Me Dichikane Rachel Mashego; en 
(i)    Mnr Louis Van Oudtshoorn.

E.   Komende gebeure  
1.    16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders (25 November tot 10 Desember)

1.1.    Dit is vanjaar die 25ste herdenking van Suid-Afrika se veldtog vir 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders. Die bekendstelling sal in Mpumalanga by die Nsikazi-stadion in Mbombela gehou word onder die tema: “Versnelling van aksies om geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord te beëindig: laat niemand agter nie”. Die sub-tema: “Veilige toegang vir vroue tot skoon water: ’n basiese mensereg”, dui op struikelblokke wat vroue ervaar met veilige toegang tot water en sanitasie.
1.2.    Suid-Afrika en die Unie van die Comore is op 27 en 28 November 2023 mede-gashere vir die 3de AU-Konferensie oor Positiewe Manlikheid in Leierskap om Geweld teen Vroue en Meisies te beëindig, onder die tema: “Konsolideer ondernemings teenoor die Afrika-Unie se Konvensie om Geweld teen vroue en meisies te beëindig.”

F.    Boodskappe
1.    Gelukwense

Die Kabinet dra sy gelukwense en goeie wense oor aan: 

  • Prof Dire Tladi, voorheen van die Universiteit van Pretoria, met sy verkiesing deur die VN as regter van die Internasionale Hof van Justisie. Prof Tladi is 'n hoogs gerespekteerde akademikus, 'n bekwame diplomaat en die eerste Suid-Afrikaner ooit wat in sy 78-jaargeskiedenis tot die Hof verkies is, die tweede regter van die Suider-Afrikastreek en die tweede jongste regter ooit wat tot die hof gekies is.
  • Die Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika (OGSA) vir sy aanstelling as eksterne ouditeur van die VN se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie. Dit is 'n herbevestiging van die bogemiddelde internasionale aansien van Suid-Afrika se instellings. Die OGSA was voorheen, meer as 10 jaar gelede, 'n eksterne ouditeur van die VN.
  • Mamelodi Sundowns dat hulle die vlag hoog laat wapper en geskiedenis gemaak het deur die eerste Afrika-voetballiga te wen. Hierdie oorwinning is nog 'n voorbeeld van die verenigende krag van sport, wat steeds nasiebou en sosiale samehorigheid bevorder.
  • Mamelodi Sundowns Vroue dat hulle die kampioene van die CAF-kampioenskapsliga vir vroue geword het deur Sporting Club Casablanca te klop. 
  • Die Proteas vir hul veerkragtigheid en veggees ondanks hul nederlaag teen Australië in die Krieket Wêreldbeker-halfeindronde, en wens Australië geluk met hulle oorwinning in die IKR 2023 Wêreldbeker.
  • Legendariese akteur en dramaturg Dr John Kani, wat as 'n ere-offisier van die Uitnemendste Orde van die Britse Ryk (OBE) bekroon is ter erkenning vir sy dienste aan drama. 'n OBE is 'n Britse riddersorde wat erkenning gee aan mense wat 'n groot impak in hul werksveld gemaak het.
  • Die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, dr Blade Nzimande, aan wie 'n ereprofessoraat deur die Beijing Jiaotong Universiteit in China toegeken is. Dit is ter erkenning van sy bydraes tot onderwys, en simboliseer die versterking van bande tussen Suid-Afrika en China.
  • Dr Kogie Naidoo, wat met die gesogte prys vir Uitstaande Vroulike Wetenskaplikes bekroon is deur die Europese en Ontwikkelende Lande Kliniese Proewe Vennootskap – 'n navorsingsprogram van die Europese Unie. 
  • Suid-Afrika se InvestSA, 'n tak van die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging (die dtic) wat 'n VN-toekenning vir beleggingsbevordering by die 8ste Wêreldbeleggingsforum ontvang het het vir die bevordering en fasilitering van 'n groot energieprojek. Die projek sluit buitelandse beleggings in vir die bou van die land se grootste hernubare energieprojek, wat na verwagting skoon energie aan 200 000 huishoudings sal verskaf.
  • Suid-Afrika wat die eerste plek behaal het op die rangorde van die GBS Wêreld Kompeterendheidsindeks, vir sy ondersteuning van oproepsentrums in die kategorie Global Customer Lifecycle Management en tweede plek in die kategorie Global Customer Service and Support Services. 

2.    Medelye 

Die Kabinet dra sy medelye oor aan die naasbestaandes en vriende van: 

  • Suid-Afrikaanse musiek-ikoon Marc Rantseli, wat deel was van die musikale duo Marc Alex, wat hy saam met sy broer Alex Rantseli gestig het.
  • Legendariese voormalige sportjoernalis en nuusredakteur Sello Rabothata. Hy is bekend vir sy liefde vir sokker, en het deel gevorm van die span wat gehelp het om die naam Bafana-Bafana vir Suid-Afrika se Nasionale Sokkerspan te skep.
  • Baie geliefde radiopersoonlikheid Irvin Sihlophe, wat sportprogramme op SAUK se Ukhozi FM geanker en vervaardig het.
  • 'n Palestyn, maar 'n Hoof van die Gift of the Givers se Gasa-kantoor, Ahmed Abbasi, wat in die voortslepende Israel-Hamas-oorlog gesterf het.

Navrae: Me Nomonde Mnukwa – Waarnemende Regeringswoordvoerder
Selfoon: 083 653 7485

Share this page

Similar categories to explore