Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 29 Maart 2017

  1. Implementering van Regeringsprogramme
    1. President Jacob Zuma sal die derde Presidensiële Beraad oor Plaaslike Regering van 6 tot 7 April 2017 lei met die tema Transformeer Munisipale Ruimtes vir Radikale Sosiale en Ekonomiese Ontwikkeling.

Die beraad sal op die bevordering van die stelsel van plaaslike regering as deel van die tweede fase van die Terugkeer na Basiese Beginsels-program fokus. Hierbenewens sal dit aandag skenk aan ruimtelike onreg en ruimtelike ontwrigting, wat steeds 'n uitwerking op die lewens van ons mense het.

Ander kwessies sluit in: die bou van sterk gemeenskappe om die uitwerking van rampe te vermy en te verminder; en die smee van hele-regeringsooreenkomste om radikale sosiale en ekonomiese transformasie op plaaslike vlak te bevorder.

“Plaaslike regering is almal se besigheid” – die Kabinet doen 'n beroep op die publiek en private rolspelers, die burgerlike samelewing en die sakegemeenskap in die algemeen om saam te staan ter bevordering van programme wat op die ondersteuning van munisipaliteite gerig is.

  1. Die 3de Konferensie oor Plaaslikeregeringtoerisme vind van 3 tot 4 April 2017 by Emperors Palace in Gauteng plaas met die tema Toerismebeplanning is almal se besigheid. Die konferensie sal op die groei van toerisme in die land fokus deur dit in te skakel by alle provinsiale en munisipale groei- en ontwikkelingstrategieë.
  2. Suid-Afrikanse Nasionale Parke (SANParks) bied op 4 April 2017 ’n Beraad vir Toerismbelegging aan, wat op 55 nuwe beleggingsgeleenthede sal fokus. Die afgelope 15 jaar, het SANParks toenmend meer transaksies met openbare-privaat-vennootskappe aangegaan wat ’n wye verskeidenheid van projekte insluit soos akkommodasie, restaurante, kleinhandel, aktiwiteite, Skukuza-lughawe en die Tafelberg-sweefspoor.
  3. President Jacob Zuma, as die voorsitter van die Komitee van Staatshoofde van die Verenigde Nasies (VN) se Hoëvlakpaneel oor Water, het die Wêreld Watedagberaad en Expo amptelik geopen. Hy het ook die VN se 17de Wêreld Waterontwikkelingsverslag bekend gestel. Dit fokus op die kritieke rol van afvalwaterbestuur wêreldwyd vir dinamiese ekonomieë, veerkragtige gemeenskappe en die instandhouding van gesonde omgewings.

Die Kabinet verwelkom die belofte deur die Hoëvlakpaneel oor Water dat hulle ten nouste met alle waterbelanghebbendes sal saamwerk om te verseker dat die waterverwante teikens van die 2030 Agenda en daarná, bereik word.

Een van die teikens van die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte is om te verseker dat almal teen 2030 toegang tot veilige water sal hê; dit maak water 'n sleutelkwessie in die stryd om uiterste armoede uit te wis. Water en sanitasie is die kern van volhoubare ontwikkeling, wat van deurslaggewende belang is vir menslike oorlewing en die omgewing.

  1. Die Regering se Nasionale Eenstop, wat deur President Zuma op 17 Maart 2017 van stapel gestuur is, is nou in bedryf en oop vir alle beleggers om sake te doen. Dit dien as 'n fokuspunt en 'n interdepartementele verrekenkantoor vir die verskaffing van 'n vaartbelynde en professionele diens aan diegene wat ondernemings in Suid-Afrika wil begion of hier wil belê. Al hierdie dienste is nou onder een dak beskikbaar.
  2. President Jacob Zuma het die reikwydte van die Inter-ministeriële Komitee oor Migrasie uitgebrei deur alle provinsiale premiers asook die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering (Salga) as lede in te sluit.

Dit sal 'n gekoördineerde fokus op alle aspekte van migrasie verseker, insluitend Suid-Afrika se migrasiebeleid, maniere waarop verskeie sektore saam met die regering kan werk om ordelike migrasie te bevorder, en die bevordering van goeie verhoudinge tussen landsburgers en vreemdelinge.

  1. Terwyl Menseregtemaand ten einde loop, bedank die Kabinet Suid-Afrikaners wat aan die viering van Menseregtedag deelgeneem het. Op dié dag bring ons hulde aan ons helde wat vir die vele regte wat ons vandag geniet, geveg het. Die 40ste herdenking van die dood van Bantu Steve Biko het ook hiermee saamgeval.

Deur hulde aan ons nasionale helde te bring, verseker ons dat die jeug en toekomstige geslagte bewus is van die bydrae wat hulle gelewer het en verstaan waarvoor hulle geveg het.   

  1. Die onrusbarende toename in die aantal rassistiese voorvalle wat onlangs plaasgevind, doen afbreuk aan die vordering wat ons as 'n demokrasie gemaak het.

Ons moet die hoë premie wat op menseregte en waardigheid in ons land geplaas word, koester.  Ons het duur betaal vir die vordering wat op dié gebied gemaak is; mense het hul lewens verloor. Ons moet nooit die opofferings wat vir ons vryheid en demokrasie gemaak is, vergeet nie. Ons moet voortgaan om 'n Suid-Afrika te bou wat almal se menseregte sal verskans, ongeag van hul klas, geslag of geografiese ligging.

  1. Die Kabinet doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om deel te neem aan Nasionale Vryheidsdag- en Vryheidsmaandvierings. Vryheidsmaand en Nasionale Vryheidsdag herdenk die aanbreek van vryheid en demokrasie in ons land; dit beklemtoon die vordering wat ons gemaak het van 'n land wat deur haat en verdeeldheid gekenmerk was, na 'n samelewing waarin 'n gemeenskaplike toekoms gebou word.

Die viering van Vryheidsmaand bevorder die Nasionale Ontwikkelingsplan as ons langtermynvisie vir vennootskappe om die Suid-Afrika wat in die Grondwet, die Handves van Menseregte en die historiese Vryheidsmanifes van 1955 verwoord word, te bereik.

  1. Die Kabinet nooi alle hoërskoolleerders om deel te neem in die 2017 SAOG opstelwedstryd vir sekondêre skole, wat oop is vir leerders in alle sekondêre skolel in die SAOG-streek.

Die onderwerp vir die 2017 opstelwedstryd vir SAOG sekondêre skole is: “Die benutting van Volhoubare Energie vir Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling.”

Die Departement van Basiese Onderwys sal bystand verleen aan leerders wat belangstel om vir die opstelkompetisie in te skryf. Drie gekeurde essays uit elke provinsie sal teen 5 Mei 2017 na die Departement van Basiese Onderwys gestuur word. Die drie nasionale wenopstelle sal op 31 Mei 2017 by die SAOG-sekretariaat ingedien word.

  1. Kabinetsbesluite
    1. Lede van die Uitvoerende Raad regoor die drie regeringsfere, sal tydens die Nasionale Imbizo Fokusweek vanaf 17 tot 23 April 2017 met Suid-Afrikaners landwyd in gesprek tree onder die tema "Saam beweeg ons Suid-Afrika vorentoe".

Die Kabinet moedig alle Suid-Afrikaners aan om aktiewe en verantwoordelike burgers te wees, regeringsleiers uit te vra oor programme wat geïmplementeer word om mense se lewens te verbeter, en hulle tot verantwoording te roep. Die program, waarvan die besonderhede op www.gov.za beskikbaar sal wees, sal deur die GCIS gekoördineer word.

  1. Die Kabinet verleen goedkeuring vir die negende jaarlikse herhaling van die Industriële Beleidaksie (IPAP) 2017/18 tot 2019/20. Dit sal aandag gee aan die belangrikste uitdagings rakende ekonomiese en industriële groei, asook rasgebaseerde armoede, ongelykheid en werkloosheid. Dit is 'n belangrike komponent van President Jacob Zuma se Negepuntplan en is belyn met die beleidsperspektief van radikale ekonomiese transformasie.

IPAP het noemenswaardige suksesse behaal op verskeie van die belangrikste gebiede: die behoud van verskeie maatskappye en werksgeleenthede, die ondersteuning van sektore wat onontbeerlik is vir Suid-Afrika se vooruitsigte op langer termyn industrialisering, die onsluiting van nuwe gebiede vir ekonomiese groei wat voortbou op ons vergelykende voordeel, en die skep van internasionaal mededingende industriële vermoëns.

Aandrywers van IPAP 2017-2020 sluit in: 'n hernude verbintenis tot radikale ekonomiese transformasie; deurlopende pogings om gedeelde en inklusiewe groei te verseker; vinnige versnelling van die Swart Nyweraarprogram, en 'n baie sterker en deurlopende fokus op arbeidintensiteit regoor die waardekettings wat die primêre sektore van die ekonomie met die vervaardiging- en dienstesektore verbind, tesame met 'n versterkte poging om uitvoere te bevorder.

  1. Die Kabinet is ingelig oor die bevindinge van die 2014/15 Nasionale Opname oor Navorsing en Eksperimentele Ontwikkeling (R&D Survey).

Suid-Afrika se Bruto Uitgawes op Navorsing en Ontwikkeling (GERD) het R29 345 miljard in 2014/15 beloop. Dit is 'n nominale styging van 14,4% vanaf R25,661 miljard in 2013/14. Dit is die vierde agtereenvolgende jaar dat GERD toeneem ná die inkrimping in 2009/10 en 2010/11. GERD as 'n persentasie van die BBP, wat 'n sleutelaanwyser van die intensiteit van navorsing en ontwikkeling in die ekonomie is, het tot 0,77% in 2014/15 gestyg.

Voldoende en toepaslike belegging in navorsing en ongtgwikkeling is noodsaaklik om die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan te bereik.

  1. Die Kabinet ondersteun die eerste tweejaarlikse verslag oor die Stand van Klimaatsveranderingwetenskap en -tegnologie in Suid-Afrika.

Die verslag, wat wyd beskikbaar gemaak sal word, bied 'n kritiese evaluering en vergelykende oorsig van wetenskaplike navorsing oor klimaatsverandering en verwante tegnologiese innovering. Dit maak agt aanbevelings vir die verbetering van die stand van klimaatsveranderingwetenskap en -tegnologie in Suid-Afrika en om die land te posisioneer as 'n kontinentale en internasionale rolspeler op die gebied van klimaatsveranderingwetenskap en -tegnologie. Dit sal gebruik word om versagting- en aanpassingstrategieë teen klimaatsverandering te versterk.

  1. Die Kabinet verleen goedkeuring vir die publikasie van die Inligtingskommunikasietegnologie (IKT) -ondersteuningstrategie vir Klein, Medium en Mikro-ondernemings (KMMO) vir openbare kommentaar. Die strategie het ten doel om strategiese ingrypings te ontwikkel om die groei van klein ondernemings in die IKT-sektor te versnel, en om ’n toename in die vlakke van opname en gebruik van IKT's deur die algemene kleinsakesektor te fasiliteer.
  2. Die Kabinet verleen goedgekeuring vir die publikasie van die Nasionale E-strategie vir openbare kommentaar.

Die e-strategie verwoord die visie vir die ontwikkeling van 'n inklusiewe inligtingsamelewing en kennis-ekonomie vir die land, wat gegrond is op die behoeftes van die mense, sakeondernemings en die openbare sektor. Dit bied 'n platform vir Suid-Afrikaners om tegnologie in hul lewens te integreer op 'n wyse wat bevorderlik is vir die samelewing as 'n geheel.

Die doel is om 'n mensgesentreerde, kennisgebaseerde samelewing te ontwikkel, wat die Suid-Afrikaanse samelewing en die ekonomie transformeer op grond van toegang tot en benutting van moderne inligtingskommunikasietegnologieë.

  1. Die Kabinet verleen goedkeuring vir die publikasie van die Nasionale e-Regering- strategie en -roeteaanwyser vir openbare kommentaar.

Hierdie strategie lei die digitale transformasie van die Staatsdiens tot 'n inklusiewe digitale samelewing, om landsburgers beter in staat stel om by die geleenthede wat deur digitale tegnologie gebied word te baat en hul lewensgehalte te verbeter.

Dit sal bydra tot die verwesenliking van die Nasionale Ontwikkelingsplan se doelwitte asook om die regering se planne en programme vir die doeltreffende voorsiening van regeringdienste 'n hupstoot te gee.

  1. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Nasionale Padveiligheidstrategie 2016-2030. Dit fokus op die uitdagings en gapings wat deur die Departement van Vervoer geïdentifiseer is in die implementering van die vorige strategieë, insluitend die 2006 Nasionale Padveiligheidstrategie.

Dit dra by tot die bereiking van die Nasionale Ontwikkelingsplan se doelwit om beserings, ongelukke, en geweld met 50% te verminder vergeleke met die 2010-vlakke. Dit reageer ook op die behoefte om 'n doeltreffende, mededingende en verantwoordbare ekonomiese infrastruktuurnetwerk te skep en ’n veilige padinfrastruktuur te verseker.

Padongelukke wat tot lewensverlies ly, het rampsoedige gevolge vir families en gemeenskappe en plaas 'n groter las op die sosiale sekerheid- en welsynstelsel.

  1. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die publikasie van die Konsep Nasionale Toerismesektorstrategie vir openbare kommentaar. Dit is Suid-Afrika se raamwerk vir die groei en ontwikkeling van toerisme.

Die strategie het ten doel om die direkte bydrae van toerisme teen 2026 te verhoog van R118 miljard tot R302 miljard deur gesamentlike beplanning, en die implementering van ooreengekome voorkeurplanne.

Implementering van die huidige Nasionale Toerismesektorstrategie het bygedra tot 'n beduidende groei in toeristegetalle, asook tot die bruto binnelandse produk en tot 'n betekenisvolle positiewe handelsbalans en werkskepping. Die volgende groeifase fokus op inklusiewe groei en transformasie in die sektor.

  1. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die Nasionale Strategiese Plan (NSP) vir die Menslike Immuniteitsgebrekvirus (MIV), Tuberkulose (TB) en Seksueel Oordraagbare Siektes (SOS'e) 2017-2022.

Suid-Afrika se reaksie op die MIV- en TB-epidemie beteken dat die gemiddelde Suid-Afrikaner nou byna 'n dekade langer lewe as in 2004. Die koers van MIV-infeksies sowel as sterftes weens TB het gedaal.

Hierdie vierde NSP is daarop gerig om groter sukses te behaal, terwyl dit nuwe strategieë om nuwe infeksies te voorkom bekend stel, en mense wat besmet is vinniger identifiseer, suksesvol behandel en versorg. Dit gee 'n uiteensetting van die strategiese raamwerk vir 'n multi-sektorale vennootskap om vordering te maak met die vermindering van siektes en sterftes wat met MIV, TB en SOS'e verband hou. Dit is belyn met die Nasionale Ontwikkelingsplan, wat erkenning gee aan die stremmende uitwerking wat MIV en TB op nasionale ontwikkeling het.

  1. Die Kabinet is ingelig oor die Ministeriële Komitee se Verlsag oor die Konsep Beleidsraamwerk vir Gestremdheid in die Naskoolse Onderwys- en Opleidingstelsel, wat aanbevelings maak vir die ontwikkeling van 'n Strategiese Gestremdheidbeleidsraamwerk.

Dit gee uitdrukking aan die Grondwet se bepaling rakende die verwydering van hindernisse tot die integrasie van kwesbare groepe in die hoofstroomsamelewing as deelnemende lede van die samelewing.

  1. Die Kabinet verleen goedkeuring vir die indiening van die Hersiene Konvensie oor die Erkenning van Studies, Sertifikate, Diplomas, Grade en ander Akademiese Kwalifikasies in Hoër Onderwys in Afrika-state aan die Parlement vir bekragtiging. Die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding sal die bekragtigde ooreenkoms by die VN se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) indien.

Hierdie hersiene konvensie het ten doel om 'n gunstige omgewing oor Afrika-state heen te skep vir die erkenning van hoëronderwyskwalifikasies soos sertifikate, diplomas, grade en ander akademiese kwalifikasies ten einde groter mobiliteit aan leerders, akademici en werkers deur die vasteland te vergemaklik.

  1. Die Kabinet verleen goedkeuring vir die publikasie van die Nasionale Beleid vir 'n Geïntegreerde Loopbaanontwikkelingstelsel vir Suid-Afrika, vir openbare kommentaar.

Die beleid maak voorsiening vir 'n bevorderlike omgewing vir die lewering van loopbaanontwikkelingsdiensdienste deur beleid, riglyne, protokolle, meganismes, strukture, gedeelde verantwoordelikhede en samewerking. Dit sal verseker dat alle landsburgers van alle ouderdomme, toegang tot gehalte loopbaaninligting en loopbaanontwikkelingsdienste deur hul lewens sal hê, om hulle in staat te stel om beter en meer ingeligte beroeps- en lewenskeuses te maak. Dit sal help om hoër vlakke van indiensneming en volhoubare ekonomiese groei in die land te verhoog en landsburgers se volle deelname aan die algehele ontwikkeling van Suid-Afrika te bevorder.

Dit is belyn met die Nasionale Ontwikkelingsplan wat aanbeveel dat ekonomiese groei en werkskepping bevorder word, werkloses gehelp word om werk te kry wat by hulle vermoëns pas, vaardigheidsontwikkeling verhoog word en die getalle van gegradueerdes moet toeneem.

  1. Die Kabinet is ingelig oor vordering wat gemaak is met die hersiening van die strafregstelsel en die modernisering van die kriminele regstelsel deur die Geïntegreerde Regstelselprogram.

Die Kabinet verleen goedkeuring aan die breë raamwerk vir die ontwikkeling van 'n geïntegreerde strafregstelsel wat aandag sal gee aan uitdagings en tekortkominge in die krimineleregstelsel-waardeketting.

Die geïntegreerde kriminele regstelsel is daarop gerig om samewerking en integrasie tussen wetstoepassingsagentskappe te bevorder ten einde die Nasionale Ontwikkelingsplan se strategiese doelwit om veiliger gemeenskappe te bou en 'n sterk teen-korrupsie kriminele regstelsel te skep, te verwesenlik. Dit dra by tot verwesentliking van die doelwit dat alle mense in Suid-Afrika veilig is en voel.

  1. Die Kabinet verleen goedgekeuring vir die vrystelling van 'n besprekingsdokument vir openbare konsultasiedoeleindes wat sal lei tot die ontwikkeling van ’n Nasionale Teen-Korrupsiestrategie, wat gebaseer is op ’n "hele-regering- en maatskaplike benadering".

Die strategie is daarop gemik om korrupsie te pak in die openbare sowel as private sektor soos geïdentifiseer in die Nasionale Ontwikkelingsplan. Die maatreëls wat ingestel is het ten doel om 'n sterk teen-korrupsiestelsel wat multi-sektorale samewerking in alle sektore bevorder, te skep.

  1. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die nuwe Witskrif oor Internasionale Migrasie. Dit is 'n beleidsraamwerk wat die omvattende hersiening van immigrasie en ander verwante wetgewing sal lei.

Die witskrif bevestig Suid-Afrika se soewereine reg om die toelating- en verblyfvoorwaardes vir buitelanders in ooreenstemming met die land se nasionale belang te bepaal. Dit bied 'n progressiewe visie vir Suid-Afrika om die voordele van goedbestuurde internasionale migrasie te maksimaliseer, en die gepaardgaande risiko's te minimaliseer. Internasionale migrasie moet aanvaar word, maar soewereiniteit, vrede en veiligheid in die land moet terselfdertyd ook beskerm word.

  1. Die Kabinet ondersteun die inburgeringseremonie wat voortaan deur die Departement van Binnelandse Sake gehou sal word en keur goed dat dit verpligtend moet wees vir persone wat burgerskap deur naturalisasie verkry het om die plegtigheid by te woon. Die Kabinet keur ook goed dat landdroshowe, onder meer, gebruik moet word vir die uitvoer van inburgeringseremonies.

Die seremonie bied 'n geleentheid om nuwe burgers op hul regte en verantwoordelikhede te wys en om 'n eed van getrouheid voor die Minister af te lê. Dit sal bydra tot maatskaplike samehorigheid deur Suid-Afrikaners aan te moedig om vreemdelinge wat Suid-Afrikaanse burgerskap verkry te verwelkom.

  1. Die Kabinet is ingelig oor die werk wat gedoen is deur die Presidensiële Kreatiewenywerhede-taakspan van Adjunkministers. Die taakspan onder leiding van die Adjunk-minister in die Presidensie, bied 'n strategiese platform vir besluitnemers in die regering, die burgerlike samelewing en die private sektor om kollektiewe optrede wat transformasie in die kreatiewe bedryf sal versnel, te bespreek. Kwessies wat aandag sal kry sluit in: rowery (“piracy”); beskerming en oortreding van kopiereg; plaaslike inhoud en uitsendings; sosiale sekerheid, insluitend gelykmaking van inkomste; organisasie in die bedryf veral rakende kunstenaars, transformasie van die sektor en vaardigheidsontwikkeling.

Die werk van die taakspan ondersteun die regering se Mzansi Golden Economy, wat werkskepping, maatskaplike gelykheid en mededingendheid bevorder en binnelandse belegging rondom aktiwiteite wat volhoubare indiensneming kan skep, mobiliseer. Deur met verskeie rolspelers in die bedryf, sowel as regeringsdepartemente, saam te werk, het die taakspan 'n aantal tussenkomste van stapel gestuur om die uitvoerendekunstebedryf deur die waardeketting heen te ontsluit en te optimaliseer. Dit sluit die voorlegging van die Wysigingswet op Kopiereg en die Wysigingswet op die Beskerming van Kunstenaars aan die Parlement in; asook meer gereelde teen-rowery strooptogte ens. 

  1. Die Kabinet verleen goedkeuring aan Suid-Afrika se hersiene aanbod aan die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se Handel- in Dienste-onderhandelinge met betrekking tot die konstruksie- en vervoersektor.

Dit bevorder binnelandse groei van voorkeursektore, insluitend uitbreiding van toegang tot markte vir die uitvoer van Suid-Afrikaanse dienste.

Die losmaak van dienste is 'n belangrike stap om die SAOG verder te integreer en by te dra tot die totstandkoming van 'n streeksmark wat die ontwikkeling van streeksmaatskappye ondersteun om dienste aan groter streeksmarkte te lewer. Dit dra by tot die Nasionale Ontwikkelingsplan se doelwitte om plaaslike ekonomiese integrasie en die ontwikkeling van die Afrika-vasteland te bevorder.

  1. Die Kabinet verleen goedkeuring vir die tertafellegging van die toetrede tot die Gewysigde Nairobi Konvensie vir die Beskerming, Bestuur en Ontwikkeling van die Mariene en Kusomgewing van die Wes-Indiese Oseaan, in die Parlement.

Dit baan die weg vir streeksamewerking, koördinering en gesamentlike optrede in die Oos- en Suider-Afrikaanse streek. Dit sal partye in staat te stel om die hulpbronne en kundigheid van 'n wye verskeidenheid van belanghebbendes en belangegroepe te benut om gesamentlike probleme rakende die kus- en mariene-omgewing op te los, insluitend kritiese nasionale en oorgrenskwessies.

Toetrede sal besoedeling bekamp en gesonde omgewingsbestuur van die kus- en marienehulpbronne verseker; dit voedselsekuriteit, gesondheid en potensiaal vir ekonomiese groei beïnvloed.

  1. Die Kabinet is ingelig oor die resultate van die 22ste sitting van die Konferensie van Partye (COP22) oor die Verenigde Nasies se Klimaatsverandering-konvensie (UNFCCC), en die 12de sitting van die Konferensie van Partye, wat as die Byeenkoms van die Partye tot die Kyoto-protokol (CMP 12) dien, wat van 7 tot 18 November 2016 in Marrakech, Marokko gehou is.

Marrakesh COP 22 was 'n belangrike oorgang vanaf jare se onderhandelinge wat tot die Parys-ooreenkoms gelei het, tot die implementering van aanpassing- en versagtingsoptrede. Die doelwitte van COP 22 is grootliks bereik in lyn met die Suid-Afrikaanse mandaat.

  1. Die Kabinet verleen goedkeuring dat die Suid-Afrikaanse onderhandelingsmandaat as 'n basis dien vir betrokkenheid by die Basel, Rotterdam en Stockholm-konvensie (COP), wat van 24 April tot 5 Mei 2017 in in Genève gehou word.

Die doel is om gesonde omgwingsbestuur van chemikalieë en afval te verseker ter wille van volhoubaarheid van die mens se gesondheid en die omgewing.

  1. Die Kabinet verleen goedkeuring vir die voorlegging van die Aanvanklike Landverslag oor die Internasionale Verdrag oor Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte aan die VN Komitee oor Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte.

Die bereiking van sosio-ekonomiese regte vorm 'n belangrike deel van die Grondwet en die Nasionale Ontwikkelingsplan. Sedert demokrasie in Suid-Afrika gevestig is, is belangrike vordering gemaak om die sosio-ekonomiese regte van mense progressief te verwesenlik. In die afgelope 18 jaar het ons demokratiese instellings gebou, die staatsdiens omskep, basiese dienslewering uitgebrei, die ekonomie gestabiliseer en ons regmatige plek in die gemeenskap van nasies gevestig. Ondanks hierdie suksesse, bly armoede, ongelykheid en werkloosheid ons grootste uitdagings.

  1. Wetsontwerpe
    1. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die bekendstelling van die Wetsontwerp op die Padongelukke-voordeleskema, 2017 in die Parlement. Die Wetsontwerp maak voorsiening vir 'n stelsel van sosiale sekerheid vir slagoffers van padongelukke deur voorsiening te maak vir 'n nuwe motorongeluk-voordeleskema bekend as die Padongelukke-voordeleskema, wat die huidige Padongelukkefonds vervang.
    2. Die Kabinet verleen goedkeuring vir die publikasie van die Wetsontwerp op die Herroeping van Overvaal Oorde Beperk, 2017 vir openbare kommentaar. Dit herroep die Wet op Overvaal Oorde Beperk, Wet 123 van 1997, wat die stigterswetgewing van Aventura was. Dit voltooi die beëindiging van Aventura.

Die Kabinet het op 22 Augustus 2001 besluit om weg te doen met Aventura-oorde, wat as nie-kernbates van die regering beskou is.

  1. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die bekendstelling van die Wysigingswetsontwerp op Verdediging, 2017 in die Parlement. Die Wysigingswetsontwerp belyn die Verdedigingswet, 2002 (Wet No 42 van 2002) met die huidige departementele organisatoriese vereistes, wat die doeltreffendheid van die Departement van Verdediging sal verbeter. Die wysigings is organisatories van aard en intern van toepassing op die Departement van Verdediging.
  2. Die Kabinet verleen goedkeuring aan die bekendstelling van die Wysigingswetsontwerp op Regspraktyk, 2017 in die Parlement.

Die Wetsontwerp wysig die Wet op Regspraktyk, 2014 (Wet 28 van 2014) ten einde praktiese en tegniese kwessies van 'n nie-omstrede aard te hanteer.

Die Wetsontwerp is ook daarop gerig om die voorskryf van jurisdiksiegebiede vir die provinsiale rade te reguleer, om voorsiening te maak dat slegs aktiewe regspraktisyns sekere handelinge mag uitvoer of sekere dienste mag lewer, om die pligte van banke ten opsigte van trustrekeninge verder te reguleer, om die duur van die Nasionale Forum op die regsberoep te reguleer, en om voorsiening te maak vir die ontbindingsdatum van die regsverenigings.

  1. Kwessies in die omgewing
    1. Die regering verwelkom die uitspraak van die Konstitusionele Hof oor die betaling van toelaes. Die Inter-ministeriële Komitee oor Omvattende Sosiale Sekerheid, onder voorsitterskap van President Jacob Zuma, het hard gewerk om te verseker dat die regering voortgaan om meer as 17 miljoen maatskaplike toelaes van April 2017 af aan begunstigdes betaal.

Begunstigdes wat maatskaplike toelaes van handelaars en banke ontvang, sal op 1 April 2017 betaal word, terwyl diegene wat SASSA-betaalpunte gebruik, vanaf 3 April 2017 betaal sal word. Begunstigdes van maatskaplike toelaes moet kennis neem van hul onderskeie betaaldae, wat op die strokies wat hulle op hul vorige betaaldatum in Maart 2017 ontvang het, verskyn. Die SASSA-inbelsentrum se tolvryenommer 0800 60 10 11 sal oop wees om begunstigdes met al hul navrae by te staan. Reëlings is getref om te verseker dat die SOCPEN-stelsel beskikbaar is vir ondersoek en verifiëring van die status van toelae-aansoeke.

Die regering se maatskaplike bystandproram is steeds 'n belangrike veiligheidsnet vir miljoene Suid-Afrikaners. Dit is die kern van die regering se armoedeverligtingsprogram en dra by om die waardigheid van ons mense te herstel. Ons is 'n omgee-regering, wat voortdurend strewe om die lewensomstandighede van arm, kwesbare en minderbevoorregte Suid-Afrikaners te verbeter.

  1. Die Kabinet bevestig dat die regte en veiligheid van alle vroue in ons samelewing beskerm moet word. Die onlangse voorvalle van seksuele aanranding van vroue, veral deur taxibestuurders is kommewekkend.

Die Kabinet prys die dapper vroue wat na vore gekom het om hierdie voorvalle aan te meld en doen 'n beroep op gemeenskappe om te help om die oortreders van geweld teen vroue en kinders op te spoor.

  1. Die Kabinet bevestig die verbintenisse wat deur President Jacob Zuma gemaak is tydens sy toespraak by die 17de Nasionale Onderwyserstoekennings, naamlik dat stappe gedoen sal word teen onderwysers wat steeds lyfstraf in skole toepas. Dit is onwettig en stappe sal gedoen word teen onderwysers wat die wet, teenstrydig met die waardigheid en persoonlike veiligheid van kinders, oortree. Die probleem van tienerswangerskappe in sommige skole, asook misdaad, soos bendegeweld, dwelms, alkohol en boelies word ook geprioritiseer.
  2. Die Kabinet het met kommer kennis geneem van toenemende voorvalle van taxigeweld in sommige dele van die land. Alle rolspelers in die taxibedryf word aangemoedig om betrokke te raak by dialoog en om oplossings te vind vir die onderliggende kwessies, sodat hulle nie pendelaars wat afhanklik is van hul dienste negatief beïnvloed nie. Die Kabinet doen 'n beroep op die vervoersektor en wetstoepassingsagentskappe om saam te werk om die herlewing van taxigeweld die hoof te bied.
  3. Die Kabinet is diep besorg oor die inbraak by die kantore van die Hoofregter waar verskeie rekenaars gesteel is. Sulke kriminele dade druis in teen die kern van ons grondwetlike demokrasie en het geen plek in ons samelewing nie.

Die Groepering vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit, gelei deur President Jacob Zuma, bevestig sy verbintenis tot die stryd teen misdaad en doen 'n beroep op gemeenskappe om verdagte aktiwiteite by die betrokke owerhede aan te meld.

  1. Die Kabinet verwelkom die Mededingingskommissie se ondersoek na bewerings van kartelgedrag in die varsproduktesektor, wat na verwagating   spoedig afgehandel sal word. Onmededingende gedrag raak die land se kwesbaarste huishoudings en ondermyn nasionale pogings om die deelname van opkomende swart boere in hierdie mark te verhoog.

Ons loof die werk wat deur die Mededingingskommissie gedoen word om die regte van verbruikers en ons gemeenskappe te beskerm en te handhaaf. 

  1. Die Departemenet van Landbou, Bosbou en Visserye het die Brasiliaanse owerheid amptelik versoek om amptelike inligting en 'n lys van instellings wat geïdentifiseer is in die uitvoer van onveilige vleis na verskeie lande, wat Suid-Afrika kan insluit, te voorsien.

Die Brasiliaanse owerheid is aangeraai om alle uitvoere van vleis deur sulke bronne te verbied totdat die probleem tot bevrediging van die Suid-Afrikaanse Veterinêre Owerheid opgelos is.

  1. President Jacob Zuma het 'n spesiale amptelike begrafnis vir wyle mnr Ahmed "Kathy" Kathrada aangekondig. Hy was een van die beskuldigdes in die Rivonia-verhoor en was ’n staatmaker van die bevrydingstryd om 'n vrye en demokratiese Suid-Afrika te verseker.

Die Kabinet dra saam met President Zuma sy innige meegevoel oor aan sy lewensmaat, die voormalige Minister van Openbare Ondernemings; me Barbara Hogan; die Kathrada-familie en sy politieke tuiste, die African National Congress, wat Oom Kathy onbaatsugtig deur sy lewe gedien het.

'n Amptelike roudiens sal gereël word en die besonderhede sal mettertyd bekend gemaak word.

  1. Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan die familie en vriende van Bloemfontein Celtic-stigter, Dr Petrus Rantlai Molemela. Sy nalatenskap van ’n voortreflike en hoogs gerespekteerde loopbaan in Suid-Afrikaanse sokker-administrasie het bygedra tot sport en ontwikkeling in die gemeenskap.
  2. Die Kabinet dra sy innige meegevoel oor aan die familie en geliefdes van die legendariese akteur en rolprentmaker mnr Joe "Sdumo" Mafela, algemeen bekend as 'Sdumo. Hy sal onthou word vir sy enorme bydrae tot ons kulturele landskap.
  1. Aanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die betrokke klaring.

  1. Direksie van die Agentskap vir Tegnologiese Innovering:
  1. Mnr Edward Christen Kieswetter (voorsitter);
  2. Dr Steven Lennon;
  3. Me Joy Sebenzile Matsebula;
  4. Mnr Thabiso Ramasike;
  5. Me Fuzlin Levy-Hassen;
  6. Me Patience Lethabo Mlengana;
  7. Mnr Mzwandile Madikizela;
  8. Dr Jan van de Loosdrecht;
  9. Dr Judy Coates, en
  10. Prof Roy Marcus.
    1. Postbank-direksie:
  1. Me Boitumelo Mothelesi;
  2. Mnr Edward Netshivhulana;
  3. Me Leonora Noluphumzo Noxaka;
  4. Mnr Ashley Cavel Seymour, en
  5. Mnr Mark Barnes.
    1. Heraanstelling van Me Nomsa Motshegare as Hoof Uitvoerende Beampte van die Nasionale Kredietreguleerder.
    2. Me Zodwa Ntuli as Kommissaris van die Kommissie vir Breed-gebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging.
    3. Maatskappyetribunaal:
  1. Adv Mohammed Alli Chicktay (Voorsitter);
  2. Me Bongekile Zulu;
  3. Me Ishara Kamini Bodasing;
  4. Mnr Lindelani Daniel Sikhitha;
  5. Prof Petrus Albertus Delport (heraanstelling);
  6. Mnr Maake Francis Kganyago (heraanstelling);
  7. Mnr Khashane Manamela (heraanstelling);
  8. Me Lucia Glass (heraanstelling);
  9. Me Khatija Tootla (heraanstelling), en
  10. Me Matshego Jacqueline Ramagaga.
    1. Kommisie vir die Nasionale Raad op Loterye:
  1. Prof Ntshengedzeni Alfred Nevhutanda;
  2. Adv William Elias Huma;
  3. Me Doris Dondur;
  4. Mnr Muthuhadini Alfred Madzivhandila;
  5. Mnr Yaswant Narotham Gordhan; en
  6. Me Zandile Nkonyane (dti-verteenwoordiger)
    1. Agentskap vir die Nasionale Loterye Verspreidingstrustfonds vir Liefdadigheid:
  1. Me Ndileka Eumera Portia Loyilane;
  2. Me Iveda V Kayser Smith;
  3. Me Chickey Silvy Mofet-Mubu, en
  4. Mnr Jeffrey Du Preez.
    1. Mnr Jeremiah Lengoasa as Hoof Uitvoerende Bampte van die Suid-Afrikaanse Weerdiens.

Navrae: Donald Liphoko

Kontak: 082 901 0766

Share this page

Similar categories to explore