Verklaring oor die Kabinetsvergadering van 15 Februarie 2017

1. Implementering van Regeringsprogramme

1.1. Die Kabinet verwelkom President Jacob Zuma se 2017-Staatsrede met die tema "Radikale Transformasie van die Ekonomie". Dit is gelewer by die halfpadmerk van hierdie vyfde administrasie se ampstermyn waartydens 2017 as die Jaar van Oliver Reginald Tambo en die jaar van die versterking van eenheid verklaar is.

President Jacob Zuma het die vordering uiteengesit wat gemaak is om die visie van 'n nasionale demokratiese samelewing te verwesenlik en die belangrikste optrede wat nodig is om vinniger 'n verenigde, nie-rassige, nie-seksistiese, demokratiese en welvarende samelewing te bereik.

Die President het besin oor die implementering van die regering se program en het konkrete aksieplanne vir doeltreffende implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan, wat die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk 2014-2019 onderskryf, aangekondig. Dit het duidelik uit die 2017-Staatsrede geblyk dat gekonsolideerde pogings deur die regering, die sakesektor en arbeid om die Negepuntplan te implementeer, reeds 'n uitwerking het. Die Kabinet benadruk die President se oproep om pogings te verskerp wat daarop gemik is om radikale ekonomiese transformasie te dryf, sowel as pogings om die implementering daarvan te versnel.

Ministers in die verskillende groeperings hou tans post-Staatsrede media-inligtingsessies om die regering se 2017/18-Program van Aksie deur te werk. Die 2017/18-Begrotingsrede sal die toekenning van hulpbronne aan die verskillende regeringsprogramme soos deur die President uitgelig, verder uitstippel.

1.2. Die uitkomste van die konferensie oor Belegging in Afrika se Mynwese wat in Kaapstad gehou is, dui op die and se mededingende voordeel op die gebied van mynbou en verwante terreine.

Die mynbousektor is steeds die hoeksteen van die Suid-Afrikaanse ekonomie; dit dra 8% tot die land se BBP by, neem ongeveer 460 000 mense in diens en verdien buitelandse valuta. Suid-Afrika is steeds 'n produktiewe en bevredigende bestemming vir beleggers in mynbou met 'n geskatte $2,5 tot $3 triljoen in nie-energie mineralereserwes steeds in plek. Die wysigings tot die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleum-hulpbronne teen Junie 2017 en die publikasie van die hersiene Mynbouhandves teen Maart 2017, dra by tot die skep van 'n bemagtigende regulerende omgewing, wat belegging, handel en ondernemingsontwikkeling op 'n billike en sosiaal verantwoordelike wyse aanmoedig.

1.3. Die konferensie is versterk deur Invest Africa wat 'n platform vir sakeleiers, beleggers en entrepreneurs bied om insig en blootstelling te kry aan inligting en geleenthede in Afrika.

1.4. Die Kabinet verwelkom die skikkingsooreenkoms wat tussen die konstruksiebedryf en die regering bereik is. Dit is ook bekend as die Voluntary Rebuilding Programme (VRP).

Hierdie ooreenkoms stel maatskappyvlak-teikens vir transformasie, hetsy deur die verkoop van 'n minimum van 40% van die aandele aan swart Suid-Afrikaners of deur vennootskappe met kleiner konstruksiemaatskappye in swart besit, om hulle te help om hul omset tot 25% van die genoteerde maatskappy-omset te verhoog oor 'n tydperk van sewe jaar.

Dit is die verreikendste sektor-ooreenkoms oor transformasie wat tot op datum met die regering gesluit is en kan help om uitvoering te gee aan die regering se visie van radikale ekonomiese transformasie. Dit is ook 'n model wat vir transformasie in ander sektore opgestel kan word.

Die Kabinet wens die ondertekenaars van die ooreenkoms geluk en doen ’n beroep op alle ander konstruksiemaatskappye in die sektor wat nie tans partye tot die ooreenkoms is nie, om hierdie voorbeeld te volg en aan te sluit by die vennootskap. Dit word gebou deur soortgelyke verbintenisse te maak en sodoende die transformasie van die sektor ’n verdere hupstoot te gee.

1.5. Die Kabinet loof alle maatskaplike vennote by die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) vir die historiese ooreenkoms oor die bekendstelling van 'n nasionale minimum loon van R20 per uur met ingang van nie later nie as Mei 2018 nie.

Die ooreenkoms oor 'n nasionale minimum loon en ander maatreëls om arbeidstabiliteit en kollektiewe bedinging te versterk, is 'n belangrike stap in die skep van 'n meer gelyke, regverdige en voorspoedige samelewing in ooreenstemming met die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP).

Die nasionale minimum loon, wat vasgestel is op 'n vlak waaronder geen werker betaal mag word nie, sal die lewens van miljoene laagbetaalde werkers aansienlik verbeter en is ’n begin om die uitdaging van loonongelykheid te pak.

Die loon is vasgestel op 'n aanvanklike vlak wat werklik 'n verskil in die lewens van gewone Suid-Afrikaners sal maak, terwyl dit enige nadelige uitwerking op indiensneming sal minimaliseer. Ondernemings wat nie kan bekostig om die nasionale minimum loon te betaal nie kan aansoek doen om tydelike vrystelling. Maatreëls sal ook oorweeg word om die swakker sektore van die ekonomie by te staan.

1.6. Die uitdaging van werkloosheid bly een van die regring se belangrikste prioriteite en alle programme en ingrypings is daarop gerig om dié situasie om te keer, veral in die moeilike ekonomiese omgewing. Die Kabinet verwelkom die toename in werksgeleenthede in die vierde kwartaal van 2016 toe 235 000 werksgeleenthede, volgens die kwartaallikse arbeidsmagopname, geskep is. Die toename is grootliks te danke aan indienseming in die land se dienstesektor, gevolg deur vervoer en vervaardiging.

Die toename in werksgeleenthede deur die kwartaal, het tot 'n effense afname in die werkloosheidsyfer tot 26,5%, gelei.

1.7. Die Kabinet bedank alle ouers, onderwysers, dosente en administrateurs vir die suksesvolle begin van die 2017 akademiese jaar. Onderwys is een van ons belangrikste prioriteite en ’n deurslaggewende faktor in die bereiking van Visie 2030 van die NOP.

1.8. Die Kabinet prys die toewyding van die Klas van 2016 en is verheug oor die toename in die prestasiekoers van 70,7% tot 72,5% in 2016. Die Kabinet wens alle leerders alles van die beste toe en sien daarna uit dat die prestasiekoers in 2017 nog verder styg.

Die Kabinet loof ook die deursettingsvermoë van die leerders wat tussen 11 Februarie en 18 Maart 2017 aanvullende matriekeksamens skryf.

1.9. As deel van die regering se pogings om die gemeenskap aan te vuur om die reg op onderwys te beskerm, sal die Departement van Prestasiemonitering en -Evaluering die Nasionale Ontwikkelingsplan se Terugskooltoe-izimbizo op 25 Februarie 2017 in al die provinsies aanbied. Onderwys is die grondslag vir alle regeringsprogramme en al die lede van die Uitvoerende Raad gaan deelneem. Lede van die gemeenskap word genooi om by lede van die Kabinet, lede van die Parlement, premiers en leiers in plaaslike regering aan te sluit wanneer hulle skole, tersiêre instellings en ander opvoedkundige sentrums besoek.

1.10. In ooreenstemming met die voorskrifte van die Vryheidsmanifes wat aanvoer dat "hoër onderwys en tegniese opleiding aan almal beskikbaar gemaak sal word met behulp van staatstoelaes en beurse, wat op grond van meriete toegeken word", befonds die regering deur middel van die Nasionale Studentehulpskema meer as 20 000 nuwe studente by 23 universiteite. Dit is bykomend tot die 107 000 terugekerende studente van 25 universiteite en 737 747 terugkerende studente van 35 tegniese en beroepsonderwys- en opleidingskolleges.

1.11. Die regering gaan voort om verskeie modelle te verken in die soeke na volhoubare oplossings vir befondsing en om geleenthede vir die armes en die middelklas beskikbaar te stel om naskoolse onderwys en opleiding voort te sit. Die Ikusasa Finansiële Bystandsprogram (ISFAP) is 'n innoverende openbare-private-vennootskap onder leiding van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding wat die studente in die "vermiste middelgroep" help.

Die projek word by ses universiteite en 'n tegniese en beroepsonderwys en -opleidingkollege geloods. Dit sal ongeveer 1 500 studente, wat in verskeie algemene vakrigtings studeer, sowel as sewe professionele kwalifikasies en een vakmankwalifikasie, vir die duur van hul studies befonds. Hulle sal ook akademiese en maatskaplike bystand, opleiding in lewensvaardighede, mentorskap en mediese ondersteuning ontvang waar nodig. Meer as R200 miljoen, wat hoofsaaklik uit die private sektor verkry sal word, sal nodig wees om die loodsprogram te laat slaag.

1.12. Die Tweede Wêreldvaardighede-kompetisie van Suid-Afrika word vanaf 13 tot 17 Februarie 2017 deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding by die Inkosi Albert Luthuli Internasionale Konferensiesentrum in Durban aangebied.  Dit vier die talent van jong ambagsmanne en tegnici en dien ook as 'n voorspraakprogram om die belangrikheid van die ambagsektor vir die land se ekonomie na vore te bring. Die wenners sal Suid-Afrika by die Internasionale Wêreld Vaardighede-kompetisie in Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate in Oktober 2017 verteenwoordig.

1.13. President Jacob Zuma se onaangekondigde besoek aan die Nyanga Polisiestasie in Kaapstad het saamgeval met die vrystelling van die 2015/16 Opname oor Slagoffers van Misdaad deur Statistieke Suid-Afrika. Deur dié suksesvolle besoek, wat deel van die Presidensiële Siyahlola-moniteringsprogram is, is eerstehandse inligting ingewin oor die werk wat gedoen word om misdaad in die gebied te bestry. Departemente in die groepering vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit gee tans aandag aan uitdagings by hierdie polisiestasie.

1.14. Die Opname oor Slagoffers van Misdaad is belangrik omdat dit die regering in die formulering van ’n beleid in die stryd teen misdaad lei. Dit is in ooreenstemming met een van die regering se prioriteite, naamlik dat alle mense in Suid-Afrika veilig moet wees en voel. Die resultate help om ook toekomstige werk wat in dié verband gedoen gaan word te lei en om die goeie nuus oor prestasies gedurende die afgelope vyf jaar by die mense se persepsies en ervarings te laat aanpas.

2. Kabinetsbesluite

2.1. Evaluering van die Doeltreffendheid van die Implementering van Omgewingsbestuur in die Mynbousektor het die Departement van Omgewingsake se bestuursreaksie en verbeteringsplan ingesluit.

Die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur, 1998 omskryf die bestuursbenadering tot die omgewing, wat oor al die sektore, insluitend die mynbousektor, geïntegreer moet word. Die doel is om te verseker dat die omgewingsimpak van mynbedrywighede doeltreffend verlig of bestuur word. Die evaluering beoordeel die toepaslikheid en doeltreffendheid van die wetgewing en die implementering daarvan om hierdie doelwit te bereik.

Die Kabinet ondersteun die ‘Een Omgewing-stelsel’ soos voorgestel in die verbeteringsplan, met 'n mandaat om bykomende vaartbelyningsmaatreëls, soos die verdere aanpassing van spesifieke omgewingsbestuurswette te oorweeg. Die Kabinet ondersteun ook samesprekings oor die sluiting van myne om beskerming van die omgewing te verseker en om sosio-ekonomiese risiko’s aan omliggende gemeenskappe te verminder.

2.2. Die 2015/16 Navorsing en Ontwikkeling-(N&O) Belastingaansporingsjaarverslag wat tans aan die Parlement voorgelê word, dui daarop dat die N&O-belastingaansporingsprogram privaatsektor N&O-belegging bevorder. Dit verbeter ekonomiese kakpasiteit om werkskepping te verhoog en sodoende ook die oordrag van kennis en vaardigheidsontwikkeling te verhoog.

Van Maart 2015 tot Februarie 2016, het die Departement van Wetenskap en Tegnologie altesaam 189 N&O-belastingaansporingsaansoeke van 147 maatskappye ontvang. Dit bring die totale aantal maatskappye wat aan die aansporingsprogram deelneem sedert sy ontstaan in November 2006, op 962 te staan. Die Nasionale Tesourie het geskat dat daar in hierdie tydperk, danksy die N&O-belastingaansporing, net meer as R6 miljard in belastinginkomste ’n uitgemaakte saak was. Oor dieselfde tydperk het die aansporing ongeveer R36,1 miljard in R&O-uitgawes ondersteun.

Van die 962 maatskappye, is 47% klein en medium ondernemings, 12% is groot ondernemings (omset van R41 tot R100 miljoen); 32% is baie groot ondernemings (R100 miljoen en hoër); en 8% het nie hul omsetgrootte bekend gemaak nie.

2.3. Die Kabinet het goedkeuring verleen vir die bekendstelling van 'n proses om die regering se begroting vir N&O-aktiwiteite te koördineer.

Die Nasionale Ontwikkelingsplan dui aan dat N&O en innovasie 'n sleuterol kan speel in die verbetering van die Suid-Afrikaanse ekonomie se mededingendheid en in die ondersteuning van sosio-ekonomiese ontwikkeling en werkskepping.

Suid-Afrika se kritieke nasionale wetenskaplike infrastruktuur is verouderd en daar is ’n dringende behoefte aan tegnologiese opgradering en modernisering om doeltreffende dienslewering te handhaaf. Hierdie soort infrastruktuur is groot en duur, en sal gekoördineerde belegging deur verskeie departemente verg.

Die voorgestelde begrotingskoördinasie sal oor die medium termyn 2016/17 en 2019/20 ingefaseer word.

2.4. Die Kabinet is ingelig oor die vordering wat gemaak is met die Square Kilometre Array- (SKA) en MeerKAT-projekte, die beplande oprigting van die saamgesmelte Suid-Afrikaanse Radio-astronomie Observatorium, en die aanbied van die Hydrogen Epoch of Re-ionisation Array- (HERA) teleskoop op die SKA-terrein.

Die SKA en MeerKAT is een van 18 strategiese infrastruktuurprojekte van die Presidensiële Infrastruktuur Koördinerende Kommissie. Hierdie mega infrastruktuurprojekte dra by tot die NOP deur hul potensiaal om ekonomiese ontwikkeling te bevorder, ekonomiese geleenthede te ontsluit en die bevordering van werkskepping.

Goeie vordering word gemaak met die voorbereidings vir SKA-1 in Suid-Afrika, insluitend die verkryging van grond en onderhandelings oor die internasionale verdrag en die verkrygingsproses. In die tien jaar van sy bestaan, het die SKA SA se Menslikekapitaal-ontwikkelingsprogram meer as 800 beurse, met uitgebreide ondersteuning aan skole in Carnarvon, toegeken.

Die MeerKAT se "eerste lig"-beeld van die radio-lug, wat met slegs 16 antennas geproduseer is, wys meer as 13003 radiosterrestelsels in die verre heelal, wat bewys dat dit die beste radioteleskoop in die Suidelike Halfrond is en, sodra dit voltooi is, die beste teleskoop van sy soort in die wêreld behoort te wees. Die volledige stel van 64 antennas sal teen Maart 2018 geïnstalleer en operasioneel wees en word met 75% plaaslike inhoud gebou om die plaaslike bedryf voor te berei vir groter deelname.

HERA is 'n aanvullende wetenskaplike eksperiment om begrip van die vorming van vroeë sterrestelsels te bevorder en word hoofsaaklik deur die National Science Foundation van die VSA in vennootskap met die Universiteit van Cambridge befonds.

Die konsep van 'n enkele radio-astronomie-observatorium, wat bekend staan as die Suid-Afrikaanse Radio-astronomie-sterrewag sal die verskillende projekte en aktiwiteite van die Suid-Afrikaanse radio-astronomielandskap konsolideer. 'n Enkele nuwe nasionale fasiliteit onder die Nasionale Navorsingstigting sal help om wetenskaplike doeltreffendheid te bevorder.

2.5. Die Witskrif oor ’n Beleid vir Nasionale Burgerlike Lugvaart, wat veiligheid, sekuriteit en omgewingsnakoming bevorder en verbeter, is goedgekeur. Dit bevorder ook Suid-Afrika se nasionale belang en vergemaklik die uitbreiding van handel en toerisme. Hierbenewens bevorder dit die ontwikkeling van ’n doeltreffende en produktiewe lugvaartnywerheid, wat plaaslik sowel as internasionaal kan meeding.

2.6. Die Kabinet keur ook die Nasionale Lughawe-ontwikkelingsplan goed wat deur die Witskrif oor Nasionale Burgelike Lugvaart-beleid ingewy is om aandag te gee aan die gapings tussen die huidige lughawenetwerk en die toekomstige gewenste toestand.

Dit sal beide algehele netwerkbeplanning en die ontwikkeling van individuele lughawens binne hul breër ruimtelike en vervoer-konteks, in oorleg met belangrike lughawebelanghebbers, lei.

Lughawe-infrastruktuur is 'n integrale deel van die Suid-Afrikaanse vervoerstelsel en dra by tot die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die land deur die fasilitering van plaaslike en internasionale toerisme en handel.

2.7. Die konsep Omvattende Maritieme Vervoerbeleid 2016, is vir openbare kommentaar goedgekeur.

Dit bied 'n nasionale raamwerk om die geïntegreerde bestuur, groei, ontwikkeling en transformasie van die maritieme sektor te lei, met die oog op die ontsluiting van die maritieme sektor se volle potensiaal en die verbetering van sy bydrae tot die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die land terwyl dit ook tot internasionale handel bydra.

Dit is in ooreenstemming met regeringsprioriteite wat verband hou met Operasie Phakisa oor die groei van die oseane-ekonomie en breër doelwitte van die NOP 2030, sowel as die Nasionale Infrastruktuurplan om ekonomiese groei te bevorder en werkskepping te stimuleer.  

3. Wetsontwerpe

3.1. Voorlegging aan die Parlement van die Konsepwetsontwerp op Mariene Ruimtelike Beplanning, 2016. Die Wetsontwerp maak voorsiening vir ’n wetlike raamwerk vir die ontwikkeling van 'n mariene ruimtelikebeplanningstelsel wat ekonomiese groei bevorder; en word moontlik gemaak deur die koördinering van beplanning in verskeie sektore.

Dit sal deeglike oseanebestuur bevorder deur te verseker dat alle sektore gesamentlik betrokke is by die bestuur en beplanning van die seeruimte. Dit sal ook konflikoplossing vergemaklik (onder die gebruikers van ruimte- en regulerende owerhede); en inligting, kennis en bestuur in Suid-Afrika se seeruimte verbeter.

Die wetsontwerp sal streef na volhoubare ontwikkeling eerder as net bewaring of beskerming van die omgewing. Dit is daarop gemik om 'n bydrae tot meer algemene maatskaplike en ekonomiese doelwitte te lewer. Dit is ook 'n belangrike inisiatief van die eerste operasie Phakisa (oseane-ekonomie) om ons ekonomiese potensiaal te ontsluit.

3.2. Voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op Landbouprodukstandaarde aan die Parlement. Die Wetsontwerp wysig die Wet op Landbouprodukstandaarde, 1990 (Wet No. 119 van 1990).

Die Wetsontwerp het ten doel om die regulatoriese raamwerk vir landbouproduksie, gesondheid en voedselveiligheid van sekere landbouprodukte te versterk. So 'n regulerende raamwerk bevorder voedselveiligheid en skep 'n gunstige omgewing vir groter en volhoubare produksie. Dit sal billike handelspraktyke en verbruikersbeskerming verbeter.

3.3. Publikasie van die Konsepwetsontwerp op Elektroniese Registrasie van Aktesstelsel, 2016, vir openbare kommentaar.

Die Wetsontwerp fasiliteer die ontwikkeling, vestiging en instandhouding van 'n elektroniese akteregistrasiestelsel. Dit sal onder meer voorsiening maak vir die doeltreffende registrasie van groot volumes aktes wat voortspruit uit die regering se grondhervormingsmaatreëls, verbeterde omkeertye vir die verskaffing van geregistreerde aktes en dokumente aan kliënte; landwye toegang tot akteregistrasiedienste; verbeterde akkuraatheid van ondersoeke en registrasie; beskikbaarheid van inligting aan die publiek; en sekuriteitsfunksies soos vertroulikheid.

Dit ondersteun ook die Nasionale Ontwikkelingsplan se oproep dat maatreëls in alle staatsdepartemente en sektore wat inligting en tegnologie bestuur ingestel moet word om te verseker dat Suid-Afrika nie 'n slagoffer van die 'digitale kloof' word nie.

4. Kwessies in die omgewing

4.1. Die Kabinet dra saam met President Jacob Zuma sy meegevoel oor aan die familie en vriende van geestelike siek pasiënte wat in Gauteng gesterf het. Die Regering en die gemeenskap in die algemeen, het 'n verantwoordelikheid om kwesbare mense te beskerm en te versorg. Die Kabinet prys die Minister van Gesondheid, dr Aaron Motsoaledi dat hy die Gesondheidombudsman aangestel het om alle oortredings deur gesondheidsinstellings en gesondheidspraktisyns te ondersoek. Die Premier van Gauteng, David Makhura, se optrede gebaseer op die verslag van die Gesondheidsombudsman, word ook verwelkom. Die Kabinet doen verder 'n beroep op premier Makhura om seker te maak dat toepaslike dissiplinêre stappe geneem word teen almal wat onbehoorlik of nalatig opgetree het.

4.2. Die Kabinet is bekommerd oor die wanordelike gedrag by die opening van die Parlement wat nie net inbreuk maak op die regte van ander in die Parlement nie, maar op die regte van alle Suid-Afrikaners. Die Parlement is een van Suid-Afrika se basiese demokratiese instellings, wat deur die Grondwet gevestig is om uitvoer te gee aan die Handves van Menseregte en rekenskap te gee aan die mense van Suid-Afrika, wat ons vertrou met die verantwoordelikheid om hulle na 'n beter lewe te lei. Lede van die Parlement, as verteenwoordigers van die mense, moet die belange van alle Suid-Afrikaners voorop stel en die rol van hierdie belangrike instelling handhaaf.

4.3. Die Kabinet is in kennis gestel oor Tropiese Sikloon Dineo, wat van vandag af, Donderdag 16 Februarie 2017, kan lei tot ernstige storms en swaar reën tot die naweek, Sondag 19 Februarie 2017. Die sikloon sal Mpumalanga, die uiterste noordelike dele van KwaZulu-Natal en Limpopo raak, en meer spesifiek die Krugerwildtuin, Enhlanzeni, Vhembe, Mopani en die Waterberg-distriksmunisipaliteite. Die oostelike dele van Limpopo kan ook hoë reënval van ongeveer 200 mm oor 'n tydperk van 24 uur, kry.

Die Nasionale Rampbestuursentrum en die Nasionale Gesamentlike Operasiesentrum, wat uit verskillende staatsdepartemente en instansies bestaan, het die situasie beoordeel en drie provinsiale gesamentlike operasiesentrums in Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal geaktiveer. Hierdie multi-sektorale eenhede sal hulp verleen indien nodig om die veiligheid van gemeenskappe te verseker en om die impak te verminder.

Die Regering doen 'n beroep op alle gemeenskappe wat geraak word om uiters versigtig te wees in afwagting van die sikloon. Gemeenskappe word ontmoedig om oorstroomde paaie, brûe en riviere oor te steek. Ons doen ook 'n beroep op ouers, versorgers en voogde om seker te maak dat kinders veilig is tydens die storms. Gemeenskappe moet saamwerk om hul mense se veiligheid te verseker. Luister asseblief na waarskuwings en inligting oor die sikloon, wat oor alle plaaslike radiostasies uitgesaai word.

4.4. Die Kabinet gee sy volle steun aan die ingryping en gemeenskapsbetrokkenheid van die regeringsafvaardiging, wat deur die Minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba, en Gauteng se LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Sizakele Nkosi-Malobane gelei word, by kwessies wat gemeenskappe in die gebied raak, veral sake rondom polisiëring en die beweerde onwettige aktiwiteite van immigrante.

Die Kabinet ondersteun die Minister se oproep van 'n “volledige staatbenadering" tot wettige kwessies wat deur gemeenskappe geopper word. Aandag sal aan hierdie kwessies gegee word deur die vestiging van 'n Grensbestuursowerheid wat sal help om die land se grense beter te bestuur, opnames te maak van alle mense wat in Suid- Afrika woon, en doeltreffende polisiëring en die nakoming van die wette en die Grondwet van die Republiek deur burgers en buitelanders te verseker.

Die Kabinet gee sy volle steun aan die sekuriteitsgroepering om toe te sien dat hierdie sake opgelos word tot bevrediging van die Suid-Afrikaanse publiek. Beter dialoog rondom polisiëring tussen gemeenskappe en die owerhede is hiervoor nodig. Die Kabinet vra ook vir verantwoordelike openbare kommentaar deur alle leiers en verteenwoordigers en dat kwessies op 'n verantwoordelike wyse hanteer moet word.

4.5. Die Kabinet veroordeel die aanvalle op ondersteuners, spelers en beamptes tydens die Absa Premierliga-wedstryd tussen Mamelodi Sundowns en Orlando Pirates op Loftus Versfeld waartydens 13 mense beseer is.

Sulke gedrag en dade van vandalisme bring die sport in oneer, plaas die land in ’n swak lig en vereis streng optrede van sokkerowerhede wat vinnig moet optree om te verseker sulke dade nie weer plaasvind nie.
 
5. Simpatie en gelukwense

5.1. Die Kabinet dra sy meegevoel oor aan familie, vriende en die rugbybroederskap ná die afsterwe van die voormalige Springbok-kaptein, Joost van der Westhuizen. President Jacob Zuma het ook verklaar dat 'n spesiale amptelike provinsiale begrafnis gehou sal word om dié Suid-Afrikaanse rugby-held te gedenk.

5.2. Die Kabinet verwelkom die verkiesing van Chad se Minister van Buitelandse Sake, Moussa Faki Mahamat, as die nuwe Voorsitter van die AU-Kommissie. Hy volg Suid-Afrika se dr Nkosazana-Dlamini Zuma op.

5.3. Die Kabinet verwelkom die aanstelling van Minister Jeff Radebe as 'n Suid-Afrikaanse Ambassadeur vir Wêreldburgers (Global Citizens). Hy sal deel uitmaak van 'n beweging van agt miljoen Wêreldburgers regdeur die wêreld. Dit is 'n netwerk van top bekendes, beleidmakers, sakeleiers, aktiviste en belanghebbendes wat daartoe verbind is om die die wêreld se grootste uitdagings die hoof te bied en om ’n einde te maak aan uiterste armoede. Hierdie werk is in lyn met die doelwitte van die NOP om armoede te beëindiging en ongelykheid te verminder. Dit is ook tot voordeel van die vasteland se ontwikkelingsraamwerk - Agenda 2063.

5.4. Die Minister van Wetenskap en Tegnologie, Naledi Pandor, word vandag deur die Amerikaanse Vereniging vir die Bevordering van Wetenskap vereer vir haar rol in wetenskapdiplomasie in Boston in die VSA.

5.5. Die Kabinet wens die wenners van die jaarlikse Ubuntu-toekennings geluk. Dit is deur die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking aangebied om Suid-Afrikaanse burgers wat 'n aktiewe rol speel om 'n positiewe beeld van Suid-Afrika internasionaal uit te dra, te vereer. Die wenners sluit in Winnie Madikizela-Mandela, Siyabulela Xuza, Pretty Yende, Esther Mahlangu, Gertrude Shope, en die Chinese ambassadeur Tian Xuejun. Sasol, die organisasie Babies Behind Bars en die Desmond Tutu MIV-stigting is ook vereer.

5.6. Die Kabinet wens die Suid-Afrikaanse sewesspan, ook bekend as die Blitsbokke, geluk met hulle oorwinning by die Sydney Rugby Sewes Wêreldreekstoernooi. Dit is hul tweede oorwinning sedert die begin van die jaar nadat hulle in Januarie die HSBC Wellington Sewes gewen het.

6. Aaanstellings

Alle aanstellings is onderhewig aan die verifikasie van kwalifikasies en die betrokke klaring.

6.1. Me Claire Busetti tot die Raad van die Nasionale Navorsingstigting.
6.2. Mnr KW Vukela as die Adjunk-direkteur-generaal: Dienslewering by die Departement van Staatsdiens en Administrasie.
6.3. Me JL Meyer as die Hoof Finansiële Beampte by die Staatsdrukkery.

Navrae:
Donald Liphoko
Kontak: 082 901 0766

Share this page

Similar categories to explore